Eksodus - Exodus

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40


-Reset+

Hoofstuk 1

1 En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin:
2 Ruben, Símeon, Levi en Juda;
3 Issaskar, Sébulon en Benjamin;
4 Dan en Náftali, Gad en Aser.
5 En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was in Egipte.
6 En Josef het gesterwe, en al sy broers en daardie hele geslag.
7 Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.
8 Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie.
9 Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons.
10 Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie.
11 Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.
12 Maar hoe meer hulle verdruk is, hoe meer het hulle vermenigvuldig en hulle uitgebrei, sodat hulle bang geword het vir die kinders van Israel.
13 Daarom het die Egiptenaars die kinders van Israel met hardheid laat dien
14 en hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene en deur allerhande werk in die landerye—al dié werk wat hulle met hardheid deur hulle laat verrig het.
15 En die koning van Egipte het met die Hebreeuse vroedvroue—die een se naam was Sifra en die ander se naam Pua—gespreek
16 en gesê: As julle die Hebreeuse vroue by ‘n geboorte help, moet julle na die geboortestoel kyk: as dit ‘n seun is, maak hom dood; maar is dit ‘n dogter, laat haar lewe.
17 Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe.
18 Toe laat die koning van Egipte die vroedvroue roep, en hy sê vir hulle: Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe?
19 En die vroedvroue sê vir Farao: Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk—voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar.
20 Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. En die volk het vermenigvuldig en baie magtig geword.
21 En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk.
22 Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.




Hoofstuk 2

1 En ‘n man uit die huis van Levi het gegaan en ‘n dogter van Levi geneem.
2 En die vrou het swanger geword en ‘n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek.
3 Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ‘n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit.
4 En sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur.
5 En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om ‘n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal.
6 Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was ‘n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs.
7 Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u ‘n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog?
8 En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep.
9 Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog.
10 En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek.
11 En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het gesien hoe ‘n Egiptiese man ‘n Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan.
12 En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom in die sand begrawe.
13 Die volgende dag het hy weer uitgegaan, en daar was twee Hebreeuse manne wat met mekaar veg. Hy vra toe vir die een wat ongelyk gehad het: Waarom slaan jy jou naaste?
14 En hy antwoord: Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar omgebring het? En Moses het gevrees en gesê: Waarlik, die saak het bekend geword!
15 En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by ‘n put gesit.
16 En die priester van Mídian het sewe dogters gehad: dié het gekom om te put en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink.
17 Maar die veewagters het gekom en hulle weggedrywe. Toe staan Moses op en help hulle en laat hulle vee drink.
18 En toe hulle by hul vader Réhuel kom, sê hy: Waarom kom julle vandag so gou?
19 En hulle antwoord: ‘n Egiptiese man het ons uit die hand van die veewagters verlos; en hy het ook volop vir ons geput en die vee laat drink.
20 Daarop sê hy vir sy dogters: En waar is hy? Waarom het julle die man dan daar laat staan? Roep hom, dat hy brood kan eet.
21 En Moses het ingewillig om by die man te bly, en hy het aan Moses sy dogter Sippóra gegee.
22 En toe sy ‘n seun baar, het hy hom Gersom genoem. Want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land geword.
23 En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.
24 En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.
25 En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.




Hoofstuk 3

1 En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb.
2 Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!
3 En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie.
4 Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek.
5 En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond.
6 Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.
7 En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte.
8 Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.
9 En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk.
10 Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.
11 Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?
12 En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.
13 Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord?
14 En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.
15 Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.
16 Gaan heen en versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: Ek het terdeë ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is.
17 Daarom het Ek besluit: Ek wil julle uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
18 En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan, en julle moet vir hom sê: Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE, onse God, offer.
19 Maar Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur ‘n sterke hand nie.
20 En Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister wat Ek daarin sal doen; en daarna sal hy julle laat trek.
21 En Ek sal aan hierdie volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars; en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie,
22 maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer— en goue voorwerpe en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit, en so Egipte berowe.




Hoofstuk 4

1 Toe antwoord Moses en sê: Maar as hulle my nie glo en na my stem nie luister nie, maar sê: Die HERE het nie aan jou verskyn nie?
2 Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf.
3 En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het ‘n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug.
4 Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ‘n staf in sy hand geword—
5 sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, aan jou verskyn het.
6 En die HERE het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu!
7 En Hy sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees!
8 En as hulle jou nie glo en aan die eerste teken geen gehoor gee nie, dan sal hulle die laaste teken glo.
9 En as hulle ook hierdie twee tekens nie glo en na jou stem nie luister nie, neem dan van die Nyl se water en giet dit op die droë grond uit; dan sal die water wat jy uit die Nyl neem, op die droë grond bloed word.
10 Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie—van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.
11 En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?
12 Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.
13 Maar hy sê: Ag, Here, stuur tog deur wie U wil stuur.
14 Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hy goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart.
15 Jy moet dan met hom spreek en die woorde in sy mond lê. En Ék sal met jou mond en sy mond wees en julle leer wat julle moet doen.
16 En hy moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou ‘n mond wees en jy vir hom ‘n god wees.
17 Neem dan hierdie staf in jou hand waarmee jy die tekens moet doen.
18 Toe gaan Moses weg en kom by sy skoonvader Jetro terug, en hy sê vir hom: Laat my tog trek en na my broers teruggaan wat in Egipte is, om te sien of hulle nog lewe. En Jetro sê vir Moses: Gaan in vrede.
19 Ook het die HERE vir Moses in Mídian gesê: Gaan heen, keer terug na Egipte; want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.
20 Moses neem toe sy vrou en sy seuns en laat hulle op ‘n esel ry, terug na Egipteland. Moses het ook die staf van God in sy hand geneem.
21 En die HERE sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.
22 Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.
23 Daarom beveel Ek jou: Laat my seun trek, dat hy My kan dien. Maar jy het geweier om hom te laat trek. Kyk, Ek sal jou eersgebore seun laat sterwe.
24 En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak.
25 Toe neem Sippóra ‘n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ‘n bloedbruidegom!
26 En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! —met die oog op die besnydenis.
27 Die HERE het ook aan Aäron gesê: Loop Moses tegemoet in die woestyn. En hy het geloop en hom by die berg van God aangetref en hom gesoen.
28 Daarop vertel Moses aan Aäron al die woorde van die HERE waarmee Hy hom gestuur het, en al die tekens wat Hy hom beveel het.
29 En Moses en Aäron het vertrek en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaar laat kom;
30 en Aäron het al die woorde gespreek wat die HERE aan Moses gesê het, en die tekens gedoen voor die oë van die volk.
31 En die volk het geglo. En toe hulle hoor dat die HERE op die kinders van Israel ag gegee en hulle ellende aangesien het, het hulle in aanbidding neergebuig.




Hoofstuk 5

1 En daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ‘n fees kan hou in die woestyn.
2 Maar Farao antwoord: Wie is die HERE na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die HERE nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.
3 Toe sê hulle: Die God van die Hebreërs het ons ontmoet; laat ons tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE onse God offer, sodat Hy ons nie tref met die pes of die swaard nie.
4 Maar die koning van Egipte antwoord hulle: Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Loop na julle werk toe.
5 Verder het Farao gesê: Kyk, die volk van die land is alreeds baie; en julle wil hulle laat ophou met hulle werk?
6 Daarom het Farao dieselfde dag aan die drywers onder die volk en die opsigters bevel gegee en gesê:
7 Julle moet die volk geen strooi meer gee om bakstene te maak soos gister en eergister nie. Laat hulle self gaan en vir hulle strooi versamel.
8 Maar die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het, moet julle hulle oplê en niks daarvan verminder nie; want hulle is lui. Daarom roep hulle en sê: Laat ons gaan, laat ons offer aan onse God!
9 Laat die werk swaar druk op die manne, dat hulle daarmee besig kan wees en nie op leuenagtige woorde let nie.
10 Toe het die drywers van die volk en die opsigters uitgegaan en tot die volk gespreek en gesê: So spreek Farao: Ek gee julle geen strooi nie.
11 Loop haal self vir julle strooi waar julle dit kan kry; maar van julle werk word niks verminder nie.
12 Toe het die volk in die hele Egipteland rondgegaan om stoppels te versamel vir strooi.
13 En die drywers het aangedryf en gesê: Voltooi julle werk volgens die eis van elke dag net soos toe daar strooi was.
14 En die opsigters van die kinders van Israel wat Farao se drywers oor hulle aangestel het, het slae gekry, met die woorde: Waarom het julle gister en vandag nie soos tevore julle bepaalde werk, om stene te maak, volbring nie?
15 Daarom het die opsigters van die kinders van Israel gegaan, en hulle het geweeklaag by Farao en gesê: Waarom maak u so met u dienaars?
16 Aan u dienaars word geen strooi gegee nie, en hulle sê vir ons: Maak bakstene! En kyk, u dienaars word geslaan, maar die skuld lê by u volk.
17 Maar hy het geantwoord: Lui is julle, lui! Daarom sê julle: Laat ons gaan, laat ons aan die HERE offer.
18 Nou dan, loop werk! Maar strooi sal julle nie gegee word nie. Ewenwel moet julle die hoeveelheid bakstene aflewer.
19 Toe sien die opsigters van die kinders van Israel dat dit sleg met hulle staan, omdat daar gesê is: Julle mag jul bakstene, volgens die eis van elke dag, nie verminder nie.
20 En hulle het Moses en Aäron teëgekom, wat daar gestaan het om hulle te ontmoet as hulle van Farao af weggaan,
21 en het vir hulle gesê: Mag die HERE op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle ‘n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring.
22 Toe gaan Moses weer na die HERE en sê: Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur?
23 Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het u volk glad nie verlos nie.




Hoofstuk 6

1 (5:24) Daarop het die HERE Moses geantwoord: Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen. Want deur ‘n sterke hand sal hy hulle laat trek, ja, deur ‘n sterke hand gedwing, sal hy hulle uit sy land uitdrywe.
2 (6:1) Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE.
3 (6:2) En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.
4 (6:3) Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het;
5 (6:4) en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.
6 (6:5) Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;
7 (6:6) en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.
8 (6:7) En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as ‘n besitting gee, Ek, die HERE.
9 (6:8) Moses het toe so met die kinders van Israel gespreek, maar hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens.
10 (6:9) Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
11 (6:10) Gaan spreek met Farao, die koning van Egipte, dat hy die kinders van Israel uit sy land moet laat uittrek.
12 (6:11) Maar Moses het voor die aangesig van die HERE gespreek en gesê: As die kinders van Israel na my nie geluister het nie, hoe sal Farao dan na my luister terwyl ek onbesnede van lippe is?
13 (6:12) Daarop het die HERE met Moses en Aäron gespreek en hulle met ‘n boodskap gestuur na die kinders van Israel en na Farao, die koning van Egipte, om die kinders van Israel uit Egipteland uit te lei.
14 (6:13) Dit is die hoofde van hulle families. Die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel: Henog en Pallu, Hesron en Karmi; dit is die geslagte van Ruben.
15 (6:14) En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou; dit is die geslagte van Símeon.
16 (6:15) En dit is die name van die seuns van Levi volgens hulle afstamming: Gerson en Kehat en Merári. En die lewensjare van Levi was honderd sewe en dertig jaar.
17 (6:16) Die seuns van Gerson: Libni en Símeï volgens hulle geslagte.
18 (6:17) En die seuns van Kehat: Amram en Jishar en Hebron en Ussiël; en die lewensjare van Kehat was honderd drie en dertig jaar.
19 (6:18) En die seuns van Merári: Magli en Musi. Dit is die geslagte van Levi volgens hulle afstamming.
20 (6:19) En Amram het Jogébed, sy tante, vir hom as vrou geneem, en sy het vir hom Aäron en Moses gebaar. En die lewensjare van Amram was honderd sewe en dertig jaar.
21 (6:20) En die seuns van Jishar: Korag en Nefeg en Sigri.
22 (6:21) En die seuns van Ussiël: Mísael, Élsafan en Sitri.
23 (6:22) En Aäron het Eliséba, die dogter van Ammínadab, die suster van Nagson, vir hom as vrou geneem; en sy het vir hom gebaar: Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar.
24 (6:23) En die seuns van Korag: Assir en Élkana en Abíasaf. Dit is die geslagte van die Koragiete.
25 (6:24) En Eleásar, die seun van Aäron, het vir hom een van die dogters van Pútiël as vrou geneem; en sy het vir hom Pínehas gebaar. Dit is die familie-hoofde van die Leviete volgens hulle geslagte.
26 (6:25) Dit is Aäron en Moses aan wie die HERE gesê het: Lei die kinders van Israel uit Egipteland volgens hulle leërskare.
27 (6:26) Dit is hulle wat met Farao, die koning van Egipte, gespreek het om die kinders van Israel uit Egipte uit te lei. Dit is Moses en Aäron.
28 (6:27) Die dag toe die HERE met Moses gespreek het in Egipteland,
29 (6:28) het die HERE Moses aangespreek met die woorde: Ek is die HERE. Sê aan Farao, die koning van Egipte, alles wat Ek met jou spreek.
30 (6:29) Toe sê Moses voor die aangesig van die HERE: Ek is onbesnede van lippe! Hoe sal Farao dan na my luister?




Hoofstuk 7

1 En die HERE het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees.
2 Jy moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek.
3 En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig.
4 Maar Farao sal na julle nie luister nie; en Ek sal my hand op Egipte lê en my leërskare, my volk, die kinders van Israel, deur groot strafgerigte uit Egipteland uitlei.
5 Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die HERE is, as Ek my hand oor Egipte uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei.
6 Moses en Aäron het toe gedoen soos die HERE hulle beveel het; so het hulle gedoen.
7 En Moses was tagtig jaar en Aäron drie en tagtig jaar oud toe hulle met Farao gespreek het.
8 En die HERE het Moses en Aäron aangespreek met die woorde:
9 As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ‘n wonderteken vir julleself—dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit ‘n slang word.
10 Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die HERE hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit het ‘n slang geword.
11 Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste:
12 elkeen gooi sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle stawe verslind.
13 Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie soos die HERE gespreek het.
14 Toe sê die HERE vir Moses: Farao se hart is verhard; hy weier om die volk te laat trek.
15 Gaan môre vroeg na Farao toe—kyk, hy sal uitgaan na die water; staan dan aan die kant van die Nyl om hom te ontmoet; en neem die staf wat in ‘n slang verander het, in jou hand,
16 en sê vir hom: Die HERE, die God van die Hebreërs, het my na u gestuur met die boodskap: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien in die woestyn. Maar kyk, u het tot nou toe nie geluister nie.
17 So spreek die HERE: Hieraan sal jy weet dat Ek die HERE is. Kyk, ek sal met die staf wat in my hand is, op die water slaan wat in die Nyl is, en dit sal in bloed verander word.
18 En die visse in die Nyl sal doodgaan, sodat die Nyl sal stink. En die Egiptenaars sal vergeefs trag om die water uit die Nyl te drink.
19 Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê vir Aäron: Neem jou staf en steek jou hand uit oor die waters van die Egiptenaars, oor hulle strome, hulle kanale, hulle waterkuile en oor al hulle versamelplekke van water, sodat dit bloed word: daar sal bloed in die hele Egipteland wees, ook in hout— en in klipbakke.
20 Moses en Aäron het toe so gedoen soos die HERE beveel het—hy het die staf opgehef en die water wat in die Nyl was, geslaan voor die oë van Farao en voor die oë van sy dienaars; en al die water in die Nyl is in bloed verander.
21 En die visse wat in die Nyl was, het doodgegaan; en die Nyl het gestink, sodat die Egiptenaars die water uit die Nyl nie kon drink nie. En daar was bloed in die hele Egipteland.
22 Maar die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste, sodat Farao se hart verhard is; en hy het na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het.
23 En Farao het omgedraai en huis toe gegaan en dit ook nie ter harte geneem nie.
24 Maar al die Egiptenaars het rondom die Nyl na water gegrawe om te drink, want hulle kon van die Nyl se water nie drink nie.
25 So het dan sewe dae verbygegaan nadat die HERE die Nyl geslaan het.




Hoofstuk 8

1 Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
2 En as jy weier om hulle te laat trek, Kyk, dan sal Ek jou hele grondgebied met paddas teister,
3 sodat die Nyl van paddas sal wemel. En hulle sal opklim en in jou huis kom en in jou slaapkamer en op jou bed; ook in die huis van jou dienaars en onder jou volk, en in jou bakoonde en in jou bakskottels.
4 En die paddas sal teen jou en teen jou volk en teen al jou dienaars opspring.
5 Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die paddas opkom oor Egipteland.
6 En Aäron het sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en daar het paddas opgekom en Egipteland oordek.
7 Maar die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste en paddas laat opkom oor Egipteland.
8 Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en gesê: Bid tot die HERE, dat Hy die paddas van my en van my volk wegneem. Dan sal ek die volk laat trek, dat hulle aan die HERE kan offer.
9 Maar Moses sê aan Farao: Aan u die eer bo my! Teen watter tyd moet ek vir u en u dienaars en vir u volk bid, dat die paddas van u en uit u huise uitgeroei word om net in die Nyl oor te bly?
10 En hy antwoord: Teen môre. Toe sê hy: Dit sal wees volgens u woord, dat u kan weet dat daar niemand is soos die HERE onse God nie.
11 En die paddas sal u en u huise en u dienaars en u volk verlaat. Net in die Nyl sal hulle oorbly.
12 Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan; en Moses het tot die HERE geroep vanweë die paddas wat Hy oor Farao beskik het.
13 En die HERE het gedoen volgens die woord van Moses: die paddas het weggesterwe uit die huise, van die plase af en uit die veld.
14 En hulle het dit by hope bymekaargemaak, en die land het gestink.
15 En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle nie geluister nie, soos die HERE gespreek het.
16 Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou staf uit en slaan die stof van die aarde, en dit sal muskiete word in die hele Egipteland.
17 En hulle het so gedoen: Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al die stof van die aarde het muskiete geword in die hele Egipteland.
18 En die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste om die muskiete voort te bring, maar hulle kon nie. So was die muskiete dan op die mense en op die vee.
19 Toe sê die towenaars vir Farao: Dit is die vinger van God! Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos die HERE gespreek het.
20 Verder het die HERE vir Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao—kyk, hy sal na die water toe uitgaan en sê vir hom: So spreek die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
21 Want as jy my volk nie laat trek nie, kyk, dan stuur Ek teen jou en teen jou dienaars en teen jou volk en teen jou huise die steekvlieë, sodat die huise van die Egiptenaars vol steekvlieë sal wees, en selfs die grond waar hulle op staan.
22 Maar Ek sal op dié dag met die land Gosen, waarin my volk woon, ‘n uitsondering maak, dat daar geen steekvlieë sal wees nie; sodat jy kan weet dat Ek die HERE is in die land.
23 En Ek sal ‘n verlossing stel tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie teken plaasvind.
24 En die HERE het so gedoen: dik swerms steekvlieë het in die huis van Farao en in die huis van sy dienaars en in die hele Egipteland gekom; die land is deur die steekvlieë verwoes.
25 Toe laat Farao Moses en Aäron roep en sê: Gaan heen, offer aan julle God in die land.
26 Maar Moses antwoord: Dit is nie reg om so te doen nie; want wat ons aan die HERE onse God offer, is ‘n gruwel vir die Egiptenaars. As ons iets wat ‘n gruwel is vir die Egiptenaars, voor hulle oë offer, sal hulle ons dan nie stenig nie?
27 Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die HERE onse God kan offer soos Hy ons sal beveel.
28 Toe sê Farao: Ek sal julle laat trek, dat julle aan die HERE julle God kan offer in die woestyn; julle moet maar net nie te ver wegtrek nie. Bid vir my.
29 En Moses antwoord: Kyk, ek gaan van u af weg en sal tot die HERE bid, dat die steekvlieë môre Farao, sy dienaars en sy volk mag verlaat. Laat Farao ons net nie langer bedrieg deur die volk nie te laat trek om aan die HERE te offer nie.
30 Toe het Moses van Farao af weggegaan en tot die HERE gebid.
31 En die HERE het gedoen volgens die woord van Moses: Hy het die steekvlieë van Farao, van sy dienaars en sy volk weggeneem. Daar het nie een oorgebly nie.
32 Maar Farao het sy hart ook hierdie keer verhard en die volk nie laat trek nie.




Hoofstuk 9

1 Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
2 Want as jy weier om hulle te laat trek en hulle nog langer vashou,
3 kyk, dan sal die hand van die HERE wees teen jou vee wat in die veld is, teen die perde, teen die esels, teen die kamele, teen die beeste en teen die kleinvee met ‘n baie swaar pes.
4 En die HERE sal ‘n onderskeid maak tussen die vee van die Israeliete en die vee van die Egiptenaars, sodat niks sal doodgaan van alles wat aan die kinders van Israel behoort nie.
5 En die HERE het ‘n bepaalde tyd gestel en gesê: Môre sal die HERE dit doen in die land.
6 En die HERE het dit die volgende dag gedoen: al die vee van die Egiptenaars het doodgegaan. Maar van die vee van die kinders van Israel is nie een dood nie.
7 Farao het toe gestuur, en kyk, van die vee van die Israeliete was daar nie een dood nie! Maar die hart van Farao was verhard, en hy het die volk nie laat trek nie.
8 Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Neem julle twee hande vol roet uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitstrooi voor die oë van Farao;
9 en dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland en aan mense en diere swere veroorsaak wat in blare uitbreek, in die hele Egipteland.
10 So het hulle dan roet uit die oond geneem en voor Farao gaan staan, en Moses het dit na die hemel uitgestrooi. Toe word dit swere wat uitbreek in blare aan mense en diere.
11 En die towenaars kon voor Moses nie staan vanweë die swere nie. Want die swere was aan die towenaars en al die Egiptenaars.
12 Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy nie na hulle geluister het nie, soos die HERE aan Moses gesê het.
13 Verder het die HERE aan Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou voor Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
14 Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur, en teen jou dienaars en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie.
15 Want anders sou Ek my hand uitgestrek en jou en jou volk met die pes getref het, en jy sou van die aarde verdelg gewees het;
16 maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.
17 Versit jy jou nog teen my volk, dat jy hulle nie wil laat trek nie?
18 Kyk, Ek sal môre omtrent sulke tyd ‘n baie swaar hael laat reën soos wat in Egipte nie gewees het van die dag af dat dit gegrond is tot nou toe nie.
19 Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie binnekant gebring is nie—op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe.
20 Hy wat die HERE se woord gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy slawe en sy vee in die huise laat vlug;
21 maar hy wat op die HERE se woord geen ag gegee het nie, het sy slawe en sy vee in die veld laat bly.
22 Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal hael wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die veld in Egipteland.
23 En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die HERE het hael op Egipteland laat reën.
24 En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan ‘n volk behoort het nie.
25 En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was, mense sowel as diere. Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al die bome van die veld verbreek.
26 Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael nie.
27 Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer sonde gedoen. Die HERE is reg, maar ek en my volk het ongelyk.
28 Bid tot die HERE, want daar is oorgenoeg donder van God en hael gewees; dan sal ek julle laat trek, en julle hoef nie langer te bly nie.
29 Toe sê Moses vir hom: So gou as ek die stad uitgaan, sal ek my hande tot die HERE uitbrei: die donder sal ophou en die hael sal nie meer wees nie; sodat u kan weet dat die aarde aan die HERE behoort.
30 Maar wat u en u dienaars betref—ek weet dat julle nog nie ontsag het vir die HERE God nie.
31 En die vlas en die gars was weggeslaan, want die gars was in die aar en die vlas in die knop.
32 Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, want hulle is later.
33 So het Moses dan uit die stad gegaan van Farao af weg en sy hande tot die HERE uitgebrei. En die donder en hael het opgehou, en die reën het nie meer op die aarde gegiet nie.
34 Toe Farao sien dat die reën en die hael en die donder ophou, het hy nog verder gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars.
35 Ja, Farao se hart was verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie, soos die HERE deur die diens van Moses gespreek het.




Hoofstuk 10

1 Verder het die HERE vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig,
2 en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die HERE is.
3 Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
4 Want as jy weier om my volk te laat trek, kyk, dan bring Ek môre sprinkane in jou grondgebied,
5 en hulle sal die oppervlakte van die land oordek, sodat ‘n mens die land nie sal kan sien nie. En hulle sal die oorblyfsel afeet van wat gered is, wat vir julle van die hael oorgebly het; en al die bome wat vir julle uit die veld opgroei, sal hulle afeet.
6 En jou huise en die huise van al jou dienaars en die huise van al die Egiptenaars sal vol van hulle wees—soos jou vaders en die vaders van jou vaders nie gesien het van die dag af dat hulle op die aarde gewees het tot vandag toe nie. Daarop het hy omgedraai en van Farao af weggegaan.
7 Toe vra Farao se dienaars vir hom: Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? Laat die manne trek, dat hulle die HERE hulle God kan dien. Weet u nog nie dat Egipte te gronde gaan nie?
8 Daarop bring hulle Moses en Aäron na Farao terug, en hy sê vir hulle: Gaan heen, dien die HERE julle God. Wie is dit eintlik wat wil gaan?
9 En Moses antwoord: Ons wil gaan met ons jong mense en ons ou mense, met ons seuns en ons dogters; met ons kleinvee en ons beeste wil ons gaan, want ons wil ‘n fees vir die HERE hou.
10 Toe sê hy vir hulle: Mag die HERE só met julle wees as wat ek julle en julle kinders sal laat trek! Pas op, want julle het ‘n verkeerde ding voor oë.
11 Nie so nie! Gaan dan, julle manne, en dien die HERE, want dít het julle verlang. En hulle het hulle van Farao af weggedrywe.
12 Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit oor Egipteland vanweë die sprinkane, dat hulle opkom oor Egipteland en al die plante van die land opeet, alles wat die hael laat oorbly het.
13 En Moses het sy staf oor Egipteland uitgesteek, en die HERE het ‘n oostewind in die land gebring, daardie hele dag en die hele nag; toe dit môre word, het die oostewind die sprinkane aangevoer:
14 die sprinkane het opgekom oor die hele Egipteland en in die hele gebied van Egipte gaan sit, ‘n baie groot menigte—tevore was daar so ‘n sprinkaanswerm nie gewees nie, en daarna sal so iets nie weer voorkom nie.
15 En hulle het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was; en hulle het al die plante van die land opgeëet en al die vrugte van die bome wat die hael laat oorbly het—daar het geen groenigheid aan die bome of plante van die veld in die hele Egipteland oorgebly nie.
16 Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen die HERE julle God en teen julle.
17 Vergeef dan tog nou net dié keer my sonde, en bid tot die HERE julle God, dat Hy net hierdie dood van my af wegneem.
18 En hy het van Farao af weggegaan en tot die HERE gebid.
19 Daarop laat die HERE die wind omslaan in ‘n baie sterk westewind; dié het die sprinkane opgetel en hulle in die Skelfsee gedrywe. Daar het nie een sprinkaan in die hele gebied van Egipte oorgebly nie.
20 Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek het nie.
21 Verder het die HERE vir Moses gesê: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal duisternis oor Egipteland kom, sodat ‘n mens die duisternis kan gryp.
22 Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar ‘n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank.
23 Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.
24 Toe het Farao Moses laat roep en gesê: Gaan heen, dien die HERE; net julle kleinvee en julle beeste moet agtergehou word. Selfs julle kinders kan met julle saamgaan.
25 Maar Moses antwoord: U moet self ook slagoffers en brandoffers met ons saam gee, dat ons dit aan die HERE onse God kan aanbied.
26 En ons vee moet ook met ons saamgaan: daar mag geen klou agterbly nie! Want daarvan moet ons neem om die HERE onse God te dien. En ons weet nie waarmee ons die HERE onse God sal dien voordat ons daar kom nie.
27 Maar die HERE het Farao se hart verhard, en hy wou hulle nie laat trek nie.
28 Maar Farao sê vir hom: Gaan weg van my af! Pas op dat jy my aangesig nie weer sien nie; want die dag as jy my aangesig sien, sal jy sterwe.
29 En Moses antwoord: U het reg gepraat. Ek sal u aangesig nie weer sien nie.




Hoofstuk 11

1 Verder het die HERE vir Moses gesê: Nog een plaag sal Ek oor Farao en oor Egipte bring. Daarna sal hy julle hiervandaan laat trek. As hy julle geheel en al laat trek, sal hy julle selfs hiervandaan wegdrywe.
2 Sê tog voor die ore van die volk dat elke man van sy naaste en elke vrou van haar naaste silwergoed en goue goed moet eis.
3 En die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars. Ook was die man Moses baie groot in Egipteland, in die oë van Farao se dienaars en in die oë van die volk.
4 Toe sê Moses: So het die HERE gespreek: Omtrent middernag trek Ek uit dwarsdeur Egipte;
5 dan sal al die eersgeborenes in Egipteland sterwe, van Farao se eersgeborene af wat op sy troon sit, tot die eersgeborene van die slavin agter die handmeul en al die eersgeborenes van die vee.
6 En daar sal ‘n groot gejammer in die hele Egipteland wees soos daar nie gewees het en soos daar nie weer sal wees nie.
7 Maar teen geeneen van die kinders van Israel sal ‘n hond sy tong verroer nie, van die mense af tot die diere toe, dat julle kan weet dat die HERE ‘n onderskeid maak tussen die Egiptenaars en die Israeliete.
8 Dan sal al hierdie dienaars van u na my toe afkom en voor my neerbuig en sê: Trek uit, jy en die hele volk wat jou volg. En daarna sal ek uittrek. Toe het hy van Farao af weggegaan in gloeiende toorn.
9 En die HERE het vir Moses gesê: Farao sal na julle nie luister nie, sodat my wonders in Egipteland baie kan word.
10 En Moses en Aäron het al hierdie wonders voor Farao gedoen. Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie uit sy land laat trek het nie.




Hoofstuk 12

1 En die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê:
2 Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.
3 Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin.
4 Maar as ‘n huisgesin te klein is vir ‘n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken.
5 Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem.
6 En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.
7 En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.
8 En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet.
9 Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed.
10 Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand.
11 En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van die HERE is dit.
12 Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE.
13 Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.
14 En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier.
15 Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word.
16 En op die eerste dag moet daar ‘n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word.
17 Onderhou dan die ongesuurde brode, want op daardie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei. Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ‘n ewige insetting hou.
18 In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, in die aand.
19 Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. Want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié siel moet uit die vergadering van Israel uitgeroei word, of hy al ‘n vreemdeling is of ‘n kind van die land.
20 Julle mag niks eet met suurdeeg in nie. In al julle woonplekke moet julle ongesuurde brode eet.
21 Moses het toe al die oudstes van Israel laat roep en aan hulle gesê: Gaan haal vir julle kleinvee vir julle families en slag die pasga.
22 En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie.
23 Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie.
24 Onderhou dan hierdie saak as ‘n insetting vir jou en jou kinders tot in ewigheid.
25 En as julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou.
26 En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar?
27 dan moet julle sê: Dit is ‘n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig.
28 En die kinders van Israel het gegaan en dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
29 En middernag het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere.
30 Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was ‘n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.
31 Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die HERE soos julle gespreek het.
32 Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het, en gaan weg en seën my ook.
33 En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou—om hulle gou uit die land uit te stuur. Want hulle het gesê: Ons is almal dood!
34 Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle mantels toegebind, op die skouers.
35 En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis;
36 en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.
37 En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent ses honderd duisend te voet, die manne buiten die kinders.
38 En ‘n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste—’n groot hoeveelheid vee.
39 En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie.
40 En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vier honderd en dertig jaar.
41 En ná verloop van vier honderd en dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.
42 Dit is ‘n nag om plegtig onderhou te word tot eer van die HERE, omdat Hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is dié nag van die HERE om plegtig onderhou te word by al die kinders van Israel in hulle geslagte.
43 Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie.
44 Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet.
45 Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie.
46 In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie.
47 Die hele vergadering van Israel moet dit hou.
48 En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie.
49 Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef.
50 En al die kinders van Israel het dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
51 En op daardie selfde dag het die HERE die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings, uit Egipteland uitgelei.




Hoofstuk 13

1 Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Heilig vir My al die eersgeborenes. Alles wat die moederskoot open onder die kinders van Israel, van mense en van diere, dit is myne.
3 Verder het Moses aan die volk gesê: Dink aan hierdie dag waarop julle uit Egipte, uit die slawehuis, uitgegaan het; want die HERE het julle deur ‘n sterke hand hiervandaan uitgelei; daarom mag geen gesuurde brood geëet word nie.
4 Vandag trek julle uit, in die maand Abib.
5 En as die HERE jou bring in die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Hewiete en Jebusiete, wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning, dan moet jy hierdie diens in hierdie maand onderhou.
6 Sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag is daar fees tot eer van die HERE.
7 Ongesuurde brode moet die sewe dae geëet word: by jou mag geen gesuurde brood gesien word nie, en geen suurdeeg mag by jou in jou hele grondgebied gesien word nie.
8 En jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: Dit geskied ter wille van wat die HERE aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het.
9 En dit moet vir jou as ‘n teken wees op jou hand en ‘n gedenkteken tussen jou oë, sodat die wet van die HERE in jou mond mag wees; want deur ‘n sterke hand het die HERE jou uit Egipte uitgelei.
10 Daarom moet jy hierdie insetting onderhou op die daarvoor bepaalde tyd, van jaar tot jaar.
11 En as die HERE jou in die land van die Kanaäniete bring, soos Hy aan jou en jou vaders met ‘n eed beloof het, en Hy dit aan jou gee,
12 dan moet jy alles wat die moederskoot open, aan die HERE afgee; ook elke eersteling, die aanteel van vee, wat jy sal hê—wat manlik is, behoort aan die HERE.
13 Maar elke eersteling van ‘n esel moet jy met ‘n lam loskoop. En as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Maar al die eersgeborenes van mense onder jou seuns moet jy loskoop.
14 En as jou seun jou later vra en sê: Wat beteken dit? dan moet jy hom antwoord: Die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei.
15 Want toe Farao swarigheid gemaak het om ons te laat trek, het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland gedood, van die eersgeborene van die mense af tot die eersgeborene van die diere toe. Daarom offer ek aan die HERE alles wat die moederskoot open wat manlik is; maar al die eersgeborenes van my seuns koop ek los.
16 En dit sal as ‘n teken wees op jou hand en ‘n voorhoofsband tussen jou oë; want die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei.
17 Toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte.
18 Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek.
19 En Moses het die gebeente van Josef met hom saamgeneem; want hy het die kinders van Israel plegtig laat sweer en gesê: God sal eindelik op julle ag gee; bring dan my gebeente saam met julle hiervandaan op.
20 So het hulle dan van Sukkot af weggetrek en laer opgeslaan in Etam, aan die kant van die woestyn.
21 En die HERE het voor hulle uitgetrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek.
22 Die wolkkolom het nie bedags en die vuurkolom nie snags voor die volk gewyk nie.




Hoofstuk 14

1 Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai en laer opslaan voor Pi-Hágirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle laer opslaan by die see.
3 Dan sal Farao van die kinders van Israel sê: Hulle is verdwaal in die land, die woestyn het hulle ingesluit.
4 En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. En hulle het so gedoen.
5 Toe die koning van Egipte berig ontvang dat die volk gevlug het, het die hart van Farao en van sy dienaars teenoor die volk verander, en hulle sê: Wat het ons nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie?
6 Daarop het hy sy strydwa ingespan en sy manskappe saam met hom geneem.
7 En hy het ses honderd uitgesoekte strydwaens geneem en al die ander strydwaens van Egipte, en die beste vegsmanne op elkeen daarvan.
8 En die HERE het die hart van Farao, die koning van Egipte, verhard, sodat hy die kinders van Israel agtervolg het. Maar die kinders van Israel het deur ‘n hoë hand uitgetrek.
9 En die Egiptenaars het hulle agtervolg—al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag—en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon.
10 Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep.
11 En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het?
12 Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe.
13 Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie.
14 Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.
15 Toe vra die HERE vir Moses: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek.
16 En jy, hef jou staf op en steek jou hand uit oor die see en kloof dit, sodat die kinders van Israel dwarsdeur die see op droë grond kan trek.
17 En Ek, kyk, Ek sal die hart van die Egiptenaars verhard, sodat hulle agter hulle aan gaan. En Ek wil My verheerlik aan Farao en sy hele leërmag, aan sy strydwaens en aan sy ruiters.
18 En die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is, as Ek My verheerlik aan Farao, aan sy strydwaens en aan sy ruiters.
19 En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;
20 so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.
21 Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die HERE het deur ‘n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof.
22 En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter— en aan hul linkerkant.
23 Toe het die Egiptenaars hulle gejaag en agter hulle aan getrek—al Farao se perde, sy strydwaens en sy ruiters—die see in.
24 En in die môrewaak het die HERE, in die vuur— en wolkkolom, op die leër van die Egiptenaars afgekyk en die leër van die Egiptenaars in verwarring gebring.
25 En Hy het die wiele van hulle strydwaens laat insak en hulle met moeite laat voortgaan. Toe sê die Egiptenaars: Laat ons van Israel af wegvlug, want die HERE stry vir hulle teen die Egiptenaars.
26 Daarop sê die HERE vir Moses: Steek jou hand uit oor die see, dat die waters kan terugvloei oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en oor hulle ruiters.
27 En Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die see het teen dagbreek in sy bedding teruggevloei, en die Egiptenaars het dit tegemoet gevlug. So het die HERE dan die Egiptenaars binne-in die see gestort.
28 En toe die waters terugvloei, het hulle die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, oordek. Geeneen van hulle het oorgebly nie.
29 Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek. En die waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter— en aan hul linkerkant.
30 So het die HERE Israel dan dié dag uit die hand van die Egiptenaars verlos. En Israel het die Egiptenaars dood gesien aan die kant van die see.
31 Ook het Israel die magtige daad gesien wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het. Toe het die volk die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg.




Hoofstuk 15

1 Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp.
2 Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.
3 Die HERE is ‘n krygsman; HERE is sy naam.
4 Hy het Farao se strydwaens en sy leërmag in die see gewerp. En sy beste vegsmanne het in die Skelfsee gesink.
5 Die watervloede het hulle oordek. Hulle het in die kolke gesink soos ‘n klip.
6 o HERE, u regterhand is verheerlik deur krag. U regterhand, o HERE, verpletter die vyand.
7 En in u grote hoogheid werp U diegene neer wat teen U opstaan. U stuur u toorngloed uit: dit verteer hulle soos ‘n stoppel.
8 En deur die geblaas van u neus het die waters hulle opgestapel, die strome het bly staan soos ‘n wal, die watervloede het styf geword in die hart van die see.
9 Die vyand het gesê: Ek sal agtervolg, inhaal, buit verdeel, my begeerte sal versadig word van hulle; ek sal my swaard trek, my hand sal hulle uitroei.
10 U het met u asem geblaas: die see het hulle oordek; soos lood het hulle gesink in die geweldige waters.
11 o HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?
12 U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind.
13 U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer.
14 Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder; weë het die inwoners van Filistéa aangegryp.
15 Toe is die stamhoofde van Edom verskrik, bewing het die magtiges van Moab aangegryp. Al die inwoners van Kanaän het gebewe.
16 Verskrikking en vrees het op hulle geval; deur die grootheid van u arm was hulle stom soos ‘n klip, terwyl u volk deurtrek, HERE, terwyl die volk deurtrek wat U verwerf het.
17 U bring hulle in en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, o HERE, wat U as vaste woonplek vir U berei het, die heiligdom wat u hande gestig het, o Here!
18 Die HERE sal regeer vir ewig en altoos.
19 Want Farao se perd, met sy strydwaens en sy ruiters, het in die see ingegaan, en die HERE het die waters van die see oor hulle laat terugkom. Maar die kinders van Israel het binne-in die see op droë grond getrek.
20 En Mirjam, die profetes, die suster van Aäron, het ‘n tamboeryn in haar hand geneem; en al die vroue het uitgegaan agter haar aan, met tamboeryne en in koordanse.
21 En Mirjam het hulle al singende geantwoord: Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.
22 Daarop het Moses die Israeliete laat wegtrek van die Skelfsee af, en hulle het uitgetrek na die woestyn Sur. Hulle het toe drie dae lank in die woestyn getrek en geen water gekry nie.
23 En hulle het in Mara gekom, maar kon die water van Mara nie drink nie, want dit was bitter. Daarom heet die plek Mara.
24 Toe murmureer die volk teen Moses en sê: Wat moet ons drink?
25 En hy het die HERE aangeroep, en die HERE het hom ‘n stuk hout gewys; dit het hy in die water gegooi, en die water het soet geword. Daar het Hy vir hulle ‘n insetting en verordening vasgestel en hulle daar beproef
26 en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.
27 Daarop het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was. En hulle het daar by die water laer opgeslaan.




Hoofstuk 16

1 Toe hulle van Elim af wegtrek, het die hele vergadering van die kinders van Israel in die woestyn Sin gekom, wat tussen Elim en Sinai lê, op die vyftiende dag van die tweede maand ná hulle uittog uit Egipteland.
2 En die hele vergadering van die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron in die woestyn gemurmureer.
3 En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe.
4 Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, Ek sal vir julle brood uit die hemel laat reën; dan kan die volk uitgaan en die dagmaat van elke dag insamel, sodat Ek hulle kan beproef, of hulle in my wet sal wandel of nie.
5 En op die sesde dag, as hulle berei wat hulle inbring, sal dit dubbel soveel wees as wat hulle daagliks insamel.
6 Toe sê Moses en Aäron aan al die kinders van Israel: Vanaand, dan sal julle weet dat die HERE julle uit Egipteland uitgelei het.
7 En môre vroeg, dan sal julle die heerlikheid van die HERE sien, omdat Hy julle murmureringe teen die HERE gehoor het—want wat is ons, dat julle teen ons murmureer?
8 Daarop sê Moses: Dít sal gebeur as die HERE julle in die aand vleis gee om te eet en in die môre volop brood, omdat die HERE julle murmureringe hoor wat julle teen Hom murmureer. Want wat is ons? Julle murmureringe is nie teen ons nie, maar teen die HERE.
9 Verder het Moses met Aäron gespreek: Sê aan die hele vergadering van die kinders van Israel: Kom nader voor die aangesig van die HERE, want Hy het julle murmureringe gehoor.
10 En onderwyl Aäron die hele vergadering van die kinders van Israel toespreek, draai hulle na die woestyn toe en meteens verskyn die heerlikheid van die HERE in die wolk.
11 Ook het die HERE met Moses gespreek en gesê:
12 Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor; spreek met hulle en sê: Teen die aand sal julle vleis eet en in die môre met brood versadig word; en julle sal weet dat Ek die HERE julle God is.
13 En in die aand het daar kwartels opgekom en die laer oordek. En in die môre was daar ‘n doulaag rondom die laer.
14 En nadat die doulaag opgetrek het, het daar oor die woestyn iets gelê wat fyn en korrelrig was, fyn soos ryp op die grond.
15 Toe die kinders van Israel dit sien, sê hulle vir mekaar: Wat is dit? Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Daarop sê Moses vir hulle: Dit is die brood wat die HERE julle gee om te eet.
16 Dit is die saak wat die HERE beveel het: Samel daarvan in, elkeen na sy behoefte: ‘n gomer vir elke persoon volgens julle sieletal; elkeen moet dit neem vir die wat in sy tent is.
17 En die kinders van Israel het so gedoen: hulle het ingesamel, die een baie en die ander min.
18 Maar toe hulle dit met die gomer meet, het hy wat baie ingesamel het, niks oorgehad nie; en hy wat min ingesamel het, nie te min nie. Elkeen na sy behoefte het hulle ingesamel.
19 En Moses het vir hulle gesê: Niemand moet daarvan laat oorbly tot môre toe nie.
20 Maar hulle het nie na Moses geluister nie: sommige het daarvan laat oorbly tot die môre toe. Toe kom daar wurms in en dit bederwe. Daarom het Moses baie kwaad geword vir hulle.
21 En hulle het dit môre vir môre ingesamel, elkeen na sy behoefte; en as die son warm word, smelt dit weg.
22 En op die sesde dag het hulle ‘n dubbele porsie brood ingesamel, twee gomers vir elkeen. En al die owerstes van die vergadering het gekom en dit aan Moses vertel.
23 Toe sê hy vir hulle: Dit is wat die HERE gespreek het: Môre is dit rusdag, ‘n heilige sabbat van die HERE. Wat julle wil bak, bak dit; en wat julle wil kook, kook dit; en bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die môre toe.
24 En hulle het dit gebêre tot die môre toe, soos Moses beveel het; en dit het nie bederwe nie, en daar het geen wurms in gekom nie.
25 Toe sê Moses: Eet dit vandag, want dit is vandag die sabbat van die HERE. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie.
26 Ses dae lank moet julle dit insamel, maar op die sewende dag is dit sabbat; dan sal dit daar nie wees nie.
27 En op die sewende dag het van die mense uitgegaan om in te samel, maar hulle het niks gekry nie.
28 Toe sê die HERE vir Moses: Hoe lank weier julle om my gebooie en my wette te onderhou?
29 Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie.
30 So het die volk dan op die sewende dag gerus.
31 En die huis van Israel het dit MAN genoem. En dit was wit soos koljandersaad, en dit het gesmaak soos heuningkoek.
32 Verder het Moses gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het: ‘n Gomer vol moet daarvan bewaar word vir julle geslagte, dat hulle die brood kan sien wat Ek julle in die woestyn laat eet het, toe Ek julle uit Egipteland uitgelei het.
33 Moses sê toe vir Aäron: Neem ‘n kruik en gooi ‘n gomer vol manna daarin, en sit dit voor die aangesig van die HERE neer, om dit vir julle geslagte te bewaar.
34 Soos die HERE Moses beveel het, so het Aäron dit voor die Getuienis neergesit om bewaar te word.
35 En die kinders van Israel het die manna veertig jaar lank geëet totdat hulle in ‘n bewoonde land gekom het. Die manna het hulle geëet totdat hulle by die grens van die land Kanaän gekom het.
36 En ‘n gomer is die tiende van ‘n efa.




Hoofstuk 17

1 Daarop het die hele vergadering van die kinders van Israel, volgens die bevel van die HERE, van plek tot plek uit die woestyn Sin getrek en laer opgeslaan in Ráfidim. En daar was geen water vir die volk om te drink nie.
2 Toe twis die volk met Moses en sê: Gee julle vir ons water om te drink. Maar Moses antwoord hulle: Wat twis julle met my? Waarom versoek julle die HERE?
3 Maar die volk het daar gesmag na water, en die volk het teen Moses gemurmureer en gesê: Waarom het u ons dan uit Egipte laat optrek om my en my kinders en my vee van dors te laat omkom?
4 Toe het Moses die HERE aangeroep en gesê: Wat moet ek met hierdie volk doen? Dit skeel maar min of hulle stenig my.
5 En die HERE het Moses geantwoord: Trek voor die volk uit, en neem van die oudstes van Israel met jou saam; en neem jou staf waarmee jy die Nyl geslaan het, in jou hand en gaan weg.
6 Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink. En Moses het so gedoen voor die oë van die oudstes van Israel
7 en die plek Massa en Mériba genoem vanweë die twis van die kinders van Israel en omdat hulle die HERE versoek het deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie?
8 Daarop het Amalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg.
9 En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand.
10 En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Amalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim.
11 En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Amalek die sterkste.
12 Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ‘n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder.
13 En Josua het Amalek en sy volk met die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegebring.
14 Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as ‘n aandenking in ‘n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Amalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg.
15 En Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem: Die HERE is my banier.
16 En hy het gesê: Waarlik, die hand op die troon van die HERE! Oorlog het die HERE teen Amalek van geslag tot geslag.




Hoofstuk 18

1 Toe Jetro, die priester van Mídian, Moses se skoonvader, hoor alles wat God aan Moses en aan sy volk Israel gedoen het—dat die HERE Israel uit Egipte uitgelei het—
2 het Jetro, Moses se skoonvader, Sippóra, die vrou van Moses, geneem—nadat hy haar teruggestuur het—
3 en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling geword in ‘n vreemde land;
4 en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.)
5 En Jetro, Moses se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Moses gekom in die woestyn waar hy by die berg van God met die laer gestaan het.
6 En hy het Moses laat weet: Ek, jou skoonvader Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar.
7 Daarop gaan Moses uit, sy skoonvader tegemoet, en hy het gebuig en hom gesoen; en hulle het na mekaar se welstand gevra en in die tent ingegaan.
8 Moses vertel toe aan sy skoonvader alles wat die HERE aan Farao en aan die Egiptenaars, ter wille van Israel, gedoen het; al die moeilikheid wat hulle op die pad oorgekom het, en dat die HERE hulle verlos het.
9 En Jetro het hom verheug oor al die goeie wat die HERE aan Israel gedoen het, dat Hy hulle uit die hand van die Egiptenaars verlos het.
10 Daarop sê Jetro: Geseënd is die HERE wat julle verlos het uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van Farao, wat die volk onder die hand van die Egiptenaars uit verlos het.
11 Nou weet ek dat die HERE groter is as al die gode, naamlik in die saak waarin hulle vermetel was teen hulle.
12 Daarop het Jetro, Moses se skoonvader, ‘n brandoffer en slagoffers geneem tot eer van God. En Aäron en al die oudstes van Israel het gekom om saam met Moses se skoonvader brood te eet voor die aangesig van God.
13 En die volgende dag het Moses gesit om reg te spreek vir die volk; en die volk het voor Moses gestaan van die môre tot die aand toe.
14 En toe Moses se skoonvader sien alles wat hy vir die volk doen, sê hy: Wat is dit wat jy vir die volk doen? Waarom sit jy alleen, en die hele volk staan voor jou van die môre tot die aand toe?
15 En Moses antwoord sy skoonvader: Omdat die volk na my kom om God te raadpleeg.
16 As hulle ‘n saak het, kom hulle na my; en dan moet ek regspreek tussen die partye en die insettinge van God en sy wette bekend maak.
17 Maar Moses se skoonvader sê vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie.
18 Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie.
19 Luister nou na my; ek sal jou raad gee, en God sal met jou wees. Wat jou betref, wees jy die verteenwoordiger van die volk by God en bring jy die sake voor God,
20 en onderrig hulle in die insettinge en die wette, en maak hulle die weg bekend waarop hulle moet gaan, en die werk wat hulle moet doen.
21 Maar kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. En stel dié aan oor hulle: owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien;
22 en laat hulle voortdurend oor die volk die regspraak uitoefen: al die groot sake moet hulle na jou bring, maar in al die klein sake moet hulle self regspreek. Maak dit so ligter vir jou, en laat hulle saam met jou dra.
23 As jy dit doen en God dit jou beveel, kan jy dit uithou en sal ook al hierdie mense tevrede na hulle woonplek gaan.
24 Moses het toe geluister na sy skoonvader en alles gedoen wat hy gesê het—
25 Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel—owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien.
26 En hulle het voortdurend oor die volk die regspraak uitgeoefen: die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar in al die klein sake self reggespreek.
27 Toe het Moses sy skoonvader laat gaan, en hy het na sy land getrek.




Hoofstuk 19

1 In die derde maand ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die woestyn Sinai gekom—
2 hulle het van Ráfidim af opgebreek en in die woestyn Sinai gekom en in die woestyn laer opgeslaan. En Israel het daar teenoor die berg laer opgeslaan.
3 Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig:
4 Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.
5 As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.
6 En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.
7 En Moses het gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het.
8 Toe antwoord die hele volk eenparig en sê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen. En Moses het die woorde van die volk aan die HERE oorgebring.
9 En die HERE het met Moses gespreek: Kyk, Ek sal in ‘n dik wolk na jou toe kom, dat die volk kan hoor as Ek met jou spreek, en hulle ook vir altyd aan jóu kan glo. Want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel.
10 Verder het die HERE aan Moses gesê: Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre, en laat hulle hul klere was
11 en hulle gereed hou teen die derde dag. Want op die derde dag sal die HERE voor die oë van die hele volk op die berg Sinai afdaal.
12 Ook moet jy vir die volk ‘n grens rondom aanwys en sê: Pas op dat julle nie op die berg klim of sy voet aanraak nie. Elkeen wat die berg aanraak, moet sekerlik gedood word.
13 Geen hand mag hom aanraak nie; maar hy moet sekerlik gestenig of sekerlik met ‘n pyl geskiet word; of dit ‘n dier of ‘n mens is—hy mag nie lewe nie. As die ramshoring lang geluide blaas, mag hulle op die berg klim.
14 Toe het Moses van die berg af na die volk gegaan en die volk geheilig, en hulle het hul klere gewas.
15 En hy het aan die volk gesê: Hou julle klaar teen die derde dag; moenie naby die vrou kom nie.
16 En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ‘n swaar wolk op die berg en die geluid van ‘n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het.
17 Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg.
18 En die hele berg Sinai het gerook, omdat die HERE in ‘n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe.
19 Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord.
20 Terwyl die HERE op die berg Sinai neerdaal, op die top van die berg, het die HERE Moses na die top van die berg geroep, en Moses het opgeklim.
21 En die HERE het vir Moses gesê: Klim af, waarsku die volk, dat hulle nie na die HERE toe deurbreek om te sien en baie van hulle dan val nie.
22 En ook die priesters wat naby die HERE kom, moet hulleself heilig, sodat die HERE nie teen hulle losbreek nie.
23 Toe het Moses die HERE geantwoord: Die volk kan nie op die berg Sinai klim nie, want U het ons self gewaarsku en gesê: Baken die berg af en heilig dit.
24 Daarop sê die HERE vir hom: Gaan heen, klim af. Dan moet jy, en Aäron saam met jou, opklim; maar die priesters en die volk mag nie deurbreek om na die HERE toe op te klim nie, sodat Hy nie teen hulle losbreek nie.
25 En Moses het na die volk toe afgeklim en hulle dit aangesê.




Hoofstuk 20

1 Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê:
2 Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
3 Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
4 Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.
5 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
6 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.
7 Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
8 Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.
9 Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;
10 maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.
11 Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.
12 Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee.
13 Jy mag nie doodslaan nie.
14 Jy mag nie egbreek nie.
15 Jy mag nie steel nie.
16 Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
17 Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
18 En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op ‘n afstand bly staan.
19 En hulle het vir Moses gesê: Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons.
20 Toe antwoord Moses die volk: Wees nie bevrees nie, want God het gekom om julle te beproef en dat sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie.
21 So het die volk dan op ‘n afstand bly staan. Maar Moses het nader gegaan na die wolkedonkerheid waar God was.
22 Toe sê die HERE vir Moses: So moet jy met die kinders van Israel spreek: Julle het self gesien dat Ek met julle van die hemel af gespreek het.
23 Julle mag naas My geen silwergode maak en geen goue gode vir julle maak nie.
24 ‘n Altaar van grond moet jy vir My maak, en daarop moet jy jou brandoffers en dankoffers, jou kleinvee en beeste, offer. Op elke plek waar Ek my Naam sal laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën.
25 Maar as jy vir My ‘n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit.
26 Jy mag ook nie met trappe na my altaar opklim nie, dat jou skaamte nie daarop ontbloot word nie.




Hoofstuk 21

1 En dit is die verordeninge wat jy hulle moet voorhou:
2 As jy ‘n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan.
3 As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word.
4 As sy heer aan hom ‘n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat word.
5 Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie—
6 dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.
7 En as iemand sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie soos die slawe weggaan nie.
8 As sy haar heer nie beval nie wat haar vir homself bestem het, moet hy haar laat loskoop. Hy is nie geregtig om haar aan ‘n vreemde volk te verkoop nie, omdat hy troueloos met haar gehandel het.
9 Maar as hy haar vir sy seun bestem, moet hy met haar handel volgens die reg van die dogters;
10 as hy vir hom ‘n ander een neem, mag hy haar voedsel, haar klere en haar huweliksgemeenskap nie verminder nie.
11 En as hy hierdie drie dinge nie vir haar doen nie, kan sy verniet weggaan, sonder geld.
12 Hy wat ‘n mens slaan, dat hy sterwe, moet sekerlik gedood word.
13 Maar as hy dit daar nie op toegelê het nie, maar God dit sy hand laat ontmoet het, dan sal Ek jou ‘n plek aanwys waarheen hy kan vlug.
14 Maar as iemand moedswillig teen sy naaste handel, om hom met lis dood te maak, moet jy hom van my altaar af wegneem, om te sterwe.
15 En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word.
16 En hy wat ‘n mens steel en hom verkoop—of as hy in sy besit gevind word—dié moet sekerlik gedood word.
17 En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.
18 En as manne twis en die een die ander slaan met ‘n klip of met die vuis, sodat hy nie sterwe nie, maar bedlêend word—
19 as hy weer opstaan en buite met sy stok rondloop, moet hy wat geslaan het, ongestraf bly; net sy tydverlies moet hy vergoed en sorg dat hy heeltemal gesond word.
20 En as iemand sy slaaf of slavin met ‘n stok slaan, dat dié onder sy hand sterwe, moet dit sekerlik gewreek word.
21 Maar as hy ná een of twee dae nog lewe, moet dit nie gewreek word nie, want hy is sy eiendom.
22 En as manne met mekaar veg en ‘n swanger vrou so stamp dat haar vrug afgaan, maar daar geen ander letsel is nie, moet hy sekerlik boete betaal soos die man van die vrou hom dit oplê, en hy moet dit deur skeidsregters gee.
23 Maar is daar ‘n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe,
24 oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,
25 brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.
26 En as iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan en hy dit beskadig, moet hy hom vry laat weggaan vir sy oog.
27 En as hy die tand van sy slaaf of die tand van sy slavin uitslaan, moet hy hom vry laat weggaan vir sy tand.
28 En as ‘n bees ‘n man of ‘n vrou stoot, sodat hy sterwe, moet die bees sekerlik gestenig word; en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die baas van die bees sal ongestraf bly.
29 Maar as die bees tevore al stoterig gewees het en sy baas gewaarsku was, maar dit nie opgepas het nie, en dit ‘n man of ‘n vrou doodmaak, moet die bees gestenig word, en sy baas moet ook gedood word.
30 As aan hom losgeld opgelê word, moet hy vir die lossing van sy lewe alles gee wat hom opgelê word.
31 Of dit ‘n seun gestoot het of ‘n dogter, volgens hierdie reg moet met hom gehandel word.
32 As die bees ‘n slaaf of slavin stoot, moet hy aan hulle heer dertig sikkels silwer gee, en die bees moet gestenig word.
33 En as iemand ‘n put oopmaak, of as iemand ‘n put grawe en dit nie toemaak nie, en ‘n bees of esel val daarin,
34 moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die dier geld gee, maar die dooie dier moet syne wees.
35 En as iemand se bees die bees van ‘n ander stoot, sodat dit sterwe, moet hulle die lewendige bees verkoop en die geld daarvan verdeel; en die dooie een moet hulle ook verdeel.
36 Of as dit bekend was dat die bees tevore al stoterig gewees het, en sy baas dit nie opgepas het nie, moet hy ten volle bees vir bees vergoed; maar die dooie een moet syne wees.




Hoofstuk 22

1 As iemand ‘n bees of ‘n stuk kleinvee steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste vir ‘n bees vergoed en vier stuks kleinvee vir ‘n stuk kleinvee.
2 As ‘n dief betrap word terwyl hy inbreek, en hy word geslaan, sodat hy sterwe, sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie;
3 as die son oor hom opgegaan het, ontstaan daardeur bloedskuld. Hy moet ten volle vergoeding gee; as hy niks het nie, moet hy vir sy diefstal verkoop word.
4 As die gesteelde goed—of dit ‘n bees, ‘n esel of ‘n stuk kleinvee is—nog lewendig in sy besit gevind word, moet hy dubbel vergoeding gee.
5 As iemand ‘n stuk veld of ‘n wingerd laat afwei en sy vee vry laat loop, sodat dit in die veld van ‘n ander wei, moet hy van die beste van sy veld en die beste van sy wingerd as vergoeding gee.
6 As ‘n vuur uitbreek en die dorings vat, sodat ‘n mied of die ongesnyde graan of die veld verteer word, moet hy wat die vuur aan die brand gesteek het, ten volle vergoeding gee.
7 As iemand aan sy naaste geld of goed in bewaring gee, en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief, as hy uitgevind word, dubbel vergoeding gee.
8 As die dief nie uitgevind word nie, moet die eienaar van die huis na die owerhede gaan om te beslis of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie.
9 By alle sake van ontvreemding, of dit gaan oor ‘n bees, oor ‘n esel, oor kleinvee, oor klere of oor enigiets wat verloor is, waarvan iemand sê: Dit is myne! —moet die saak van altwee voor die owerhede kom; die een wat die owerhede skuldig verklaar, moet aan sy naaste dubbel vergoeding gee.
10 As iemand aan sy naaste ‘n esel of bees of stuk kleinvee of enige dier gee om op te pas, en dit gaan dood of kry ‘n ongeluk of word weggevoer sonder dat iemand dit sien,
11 dan moet die eed by die HERE tussen hulle twee beslis, of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie; en die eienaar moet daarmee tevrede wees, en die ander hoef geen vergoeding te gee nie.
12 Maar as dit van hom weggesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee.
13 As dit verskeur is, moet hy dit as bewys bring; wat verskeur is, hoef hy nie te vergoed nie.
14 En as iemand van sy naaste iets te leen vra, en dit kry ‘n ongeluk of gaan dood terwyl die eienaar daar nie by is nie, moet hy ten volle vergoeding gee.
15 As die eienaar daarby gewees het, hoef hy geen vergoeding te gee nie. As dit gehuur was, kom die huurgeld daarvoor.
16 As iemand ‘n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en met haar gemeenskap het, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop.
17 As haar vader beslis weier om haar aan hom te gee, moet hy geld gee volgens die huweliksprys vir jongmeisies.
18 Die towerheks mag jy nie laat lewe nie.
19 Elkeen wat met ‘n dier gemeenskap het, moet sekerlik gedood word.
20 Hy wat aan die gode offer, behalwe aan die HERE alleen, moet met die banvloek getref word.
21 Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
22 Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie.
23 As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor.
24 en my toorn sal ontvlam, en Ek sal julle met die swaard ombring, sodat julle vroue weduwees en julle kinders wese word.
25 As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ‘n skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie.
26 As jy ooit jou naaste se gewaad as pand neem, moet jy hom dit teruggee voor die son ondergaan;
27 want dit is sy enigste bedekking, dit is die bekleding vir sy vel. Waarin moet hy anders slaap? En as hy na My roep, sal Ek hoor, want Ek is genadig.
28 Jy mag God nie vloek nie, en ‘n owerste onder jou volk mag jy nie verwens nie.
29 Die offer uit jou volle opbrings en jou parskuip mag jy nie terughou nie. Die eersgeborene van jou seuns moet jy aan My gee.
30 Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee: sewe dae moet dit by sy moeder wees; op die agtste dag moet jy dit aan My gee.
31 En julle moet vir My heilige mense wees. Daarom mag julle nie vleis eet wat in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gooi.




Hoofstuk 23

1 Jy mag geen valse gerug rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om ‘n kwaadwillige getuie te wees nie.
2 Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ‘n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.
3 Ook mag jy die geringe nie voortrek in sy regsaak nie.
4 As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring.
5 As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie: jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai.
6 Jy mag die reg van jou arm mense in hulle regsaak nie verdraai nie.
7 Hou jou ver van valse sake af. En moenie die onskuldige en die wat reg het, ombring nie, want Ek sal die skuldige nie regverdig verklaar nie.
8 Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges.
9 Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.
10 En ses jaar lank moet jy jou land besaai en die opbrings daarvan insamel;
11 maar in die sewende moet jy dit ongebruik en braak laat lê, dat die arm mense van jou volk kan eet; en wat hulle laat oorbly, kan die diere van die veld opeet. So moet jy doen met jou wingerd en jou olyfbome.
12 Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep.
13 En in alles wat Ek julle gesê het, moet julle jul in ag neem. En die naam van ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.
14 Drie maal in die jaar moet jy vir My ‘n fees hou.
15 Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek—maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie;
16 verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel.
17 Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here HERE verskyn.
18 Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood offer nie. Ook mag die vet van my feesoffer nie tot die môre toe oorbly nie.
19 Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die HERE jou God bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.
20 Kyk, Ek stuur ‘n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het.
21 Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.
22 Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.
23 Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig.
24 Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan.
25 En julle moet die HERE julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.
26 Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie. Ek sal die getal van jou dae vol maak.
27 Ek sal my skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring bring. En Ek sal al jou vyande vir jou laat vlug.
28 Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe.
29 Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie.
30 Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.
31 En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe.
32 Jy mag met hulle of met hulle gode geen verbond maak nie.
33 Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou ‘n strik wees.




Hoofstuk 24

1 Daarna het Hy vir Moses gesê: Klim na die HERE toe op, jy en Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel, en buig julle neer van ver af.
2 En laat Moses alleen nader kom na die HERE toe, maar hulle moet nie nader kom nie; en die volk mag nie saam met hom opklim nie.
3 Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen.
4 En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe en die môre vroeg hom klaargemaak en onder die berg ‘n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die twaalf stamme van Israel.
5 En hy het jongmanne van die kinders van Israel gestuur; dié het brandoffers geoffer en as dankoffers bulle vir die HERE geslag.
6 En Moses het die helfte van die bloed geneem en dit in komme gegooi en die helfte van die bloed teen die altaar uitgegooi.
7 En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.
8 Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die HERE met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.
9 Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel.
10 En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.
11 Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink.
12 Toe sê die HERE vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig.
13 Hierop het Moses klaargemaak en Josua, sy dienaar. En Moses het op die berg van God geklim
14 en aan die oudstes gesê: Wag hier vir ons tot ons na julle terugkom. En kyk, Aäron en Hur is by julle; wie regsake het, kan na hulle gaan.
15 Toe Moses die berg opklim, het ‘n wolk die berg oordek.
16 En die heerlikheid van die HERE het op die berg Sinai gebly, en die wolk het dit ses dae lank oordek. En op die sewende dag het Hy na Moses geroep uit die wolk.
17 En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.
18 En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte.




Hoofstuk 25

1 Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring.
3 En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper;
4 en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar;
5 en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout;
6 olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye;
7 oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas.
8 Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.
9 Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak.
10 Hulle moet dan ‘n ark van akasiahout maak. Twee en ‘n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte wees.
11 En jy moet dit oortrek met suiwer goud, van binne en van buite moet jy dit oortrek. En jy moet daaraan ‘n goue krans maak rondom.
12 En giet daarvoor vier goue ringe, en sit dit aan sy vier voete vas, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant is.
13 En maak draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.
14 En steek die draaghoute in die ringe aan weerskante van die ark om die ark daarmee te dra.
15 Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly; hulle mag daar nie uit weggeneem word nie.
16 Daarna moet jy in die ark die Getuienis sit wat Ek aan jou sal gee.
17 Maak ook ‘n versoendeksel van suiwer goud. Twee en ‘n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte wees.
18 Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel.
19 En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente.
20 En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees.
21 En sit die versoendeksel bo-op die ark; maar in die ark moet jy die Getuienis neerlê wat Ek aan jou sal gee.
22 En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel.
23 Maak ook ‘n tafel van akasiahout. Twee el moet sy lengte, en ‘n el sy breedte, anderhalf el sy hoogte wees.
24 En trek dit oor met suiwer goud, en maak daarvoor ‘n goue krans rondom.
25 Maak daarvoor ook ‘n lys van ‘n handbreed rondom; en maak ‘n goue krans vir die lys rondom.
26 En maak daar vier goue ringe voor, en sit die ringe vas aan die vier hoeke van die vier pote.
27 Naby die lys moet die ringe wees as plekke vir die draaghoute om die tafel te dra.
28 En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud; daarmee moet dan die tafel gedra word.
29 Maak ook sy skottels en sy rookpanne en sy kanne en sy bekers waarmee gegiet moet word; van suiwer goud moet jy dit maak.
30 En op die tafel moet jy altyddeur toonbrood voor my aangesig neersit.
31 Maak ook ‘n kandelaar van suiwer goud. Van dryfwerk moet die kandelaar, sy voetstuk en sy stam gemaak word; sy kelkies, sy knoppe en sy blomme moet, daarmee saam, uit een stuk wees.
32 En ses arms moet uit die sykante daarvan uitgaan: drie arms van die kandelaar uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant.
33 Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, ‘n knop en ‘n blom, en drie kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, ‘n knop en ‘n blom—so moet dit wees aan die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
34 Maar aan die kandelaar self moet vier kelkies soos amandelblomme wees, met knoppe en blomme:
35 daar moet ‘n knop wees onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en ‘n knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en ‘n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan—vir die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
36 Hulle knoppe en hulle arms moet, daarmee saam, uit een stuk wees—alles saam een stuk dryfwerk van suiwer goud.
37 Jy moet ook sewe lampe daarvoor maak, en hulle moet sy lampe opsteek en die lig daarteenoor laat val aan die voorkant.
38 Sy snuiters en sy bakkies moet van suiwer goud wees.
39 Van ‘n talent suiwer goud moet hulle dit maak—al hierdie voorwerpe.
40 En kyk dat jy dit maak volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg getoon is.




Hoofstuk 26

1 En die tabernakel moet jy van tien tentdoeke maak, van fyn dubbeldraad-linne en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk moet jy dit maak.
2 Die lengte van elke tentdoek moet agt en twintig el wees en die breedte van elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke moet een maat hê.
3 Vyf van die tentdoeke moet aanmekaargewerk wees, die een aan die ander. En weer vyf tentdoeke aanmekaar, die een aan die ander.
4 En jy moet lissies van pers stof maak aan die soom van die buitenste tentdoek van die een stel. En so moet jy dit maak aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede stel.
5 Vyftig lissies moet jy aan die een tentdoek maak, en vyftig lissies moet jy maak aan die rand van die tentdoek wat aan die tweede stel behoort. Die lissies moet die een teenoor die ander wees.
6 Jy moet ook vyftig goue hakies maak en die tentdoeke saamvoeg met die hakies, die een aan die ander, sodat die tabernakel een geheel is.
7 Ook moet jy doeke van bokhaar maak as ‘n tentseil oor die tabernakel: elf tentdoeke moet jy dit maak.
8 Die lengte van elke tentdoek moet dertig el wees en die breedte van elke tentdoek vier el: die elf tentdoeke moet een maat hê.
9 En jy moet vyf van die tentdoeke besonders aanmekaarwerk en ses van die tentdoeke besonders. En die sesde tentdoek moet jy dubbel vou, aan die voorkant van die tent.
10 En jy moet vyftig lissies maak aan die soom van die laaste tentdoek van die een stel, en vyftig lissies aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede stel.
11 Jy moet ook vyftig koperhakies maak en die hakies in die lissies steek; en jy moet die tent saamvoeg, sodat dit een geheel is.
12 En wat betref die oorhangende gedeelte aan die tentdoeke—die helfte van die tentdoek wat oorskiet, moet oorhang aan die agterkant van die tabernakel.
13 En die el wat aan weerskante oorskiet in die lengte van die tentdoeke, moet oorhang aan die sykante van die tabernakel, aan weerskante, om dit te oordek.
14 Jy moet ook vir die tent ‘n dekkleed van rooigeverfde ramsvelle maak en ‘n dekkleed van robbevelle daar bo-oor.
15 Jy moet ook vir die tabernakel die regopstaande style van akasiahout maak.
16 Die lengte van die styl moet tien el wees, en anderhalf el die breedte van elke styl.
17 Elke styl moet twee tappe hê wat met mekaar verbind is. So moet jy dit maak vir al die style van die tabernakel.
18 En die style vir die tabernakel moet jy maak: twintig style aan die suidekant, na die suide toe.
19 Jy moet ook veertig silwervoetstukke onder die twintig style maak: twee voetstukke onder die een styl vir sy twee tappe en twee voetstukke onder die ander styl vir sy twee tappe.
20 En vir die ander sykant van die tabernakel, aan die noordekant, twintig style
21 met hulle veertig silwervoetstukke: twee voetstukke onder die een styl en twee voetstukke onder die ander styl.
22 En vir die agterkant van die tabernakel, teen die weste, moet jy ses style maak.
23 Ook moet jy twee style maak vir die hoeke van die tabernakel, aan die agterkant.
24 En hulle moet van onder dubbel wees, en net so moet hulle bo dubbel wees tot by die eerste ring. So moet dit met altwee wees; hulle moet die twee hoeke vorm.
25 So moet daar dan agt style wees met hulle silwervoetstukke, sestien voetstukke: twee voetstukke onder die een styl en twee voetstukke onder die ander styl.
26 Jy moet ook dwarshoute van akasiahout maak: vyf vir die style van die een sykant van die tabernakel
27 en vyf dwarshoute vir die style van die ander sykant van die tabernakel; ook vyf dwarshoute vir die style van die agterkant van die tabernakel teen die weste.
28 En die middelste dwarshout moet in die middel van die style oordwars loop, van die een ent na die ander.
29 En jy moet die style met goud oortrek; en hulle ringe, as plekke vir die dwarshoute, moet jy van goud maak. Die dwarshoute moet jy ook met goud oortrek.
30 So moet jy dan die tabernakel oprig volgens die plan wat jou op die berg getoon is.
31 Verder moet jy ‘n voorhangsel maak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne. As kunstige werk moet jy dit maak, met gérubs.
32 En jy moet dit ophang aan vier pilare van akasiahout wat met goud oorgetrek is en ook kramme van goud het en op vier silwervoetstukke staan.
33 En jy moet die voorhangsel onder die hakies ophang; en bring die ark van die Getuienis daar, binnekant die voorhangsel. En die voorhangsel moet vir julle ‘n skeiding maak tussen die Heilige en die Allerheiligste.
34 En jy moet die versoendeksel op die ark van die Getuienis neerlê in die Allerheiligste.
35 En sit die tafel buitekant die voorhangsel, en die kandelaar teenoor die tafel aan die suidekant van die tabernakel. Maar die tafel moet jy aan die noordekant sit.
36 Jy moet ook vir die ingang van die tent ‘n bedekking maak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk.
37 En maak vir die bedekking vyf pilare van akasiahout, en trek hulle oor met goud; hulle kramme moet ook van goud wees; en jy moet daarvoor vyf kopervoetstukke giet.




Hoofstuk 27

1 Jy moet ook die altaar van akasiahout maak; vyf el moet die lengte wees en vyf el die breedte—vierkantig moet die altaar wees—en drie el sy hoogte.
2 En jy moet sy horings op die vier hoeke maak; sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees; en jy moet dit met koper oortrek.
3 En maak sy potte om die as te verwyder, ook sy skoppe en komme en vurke en vuurpanne. Al dié gereedskap moet jy van koper maak.
4 Jy moet daar ‘n traliewerk aan maak, ‘n netwerk van koper, en aan die net vier koperringe maak, aan die vier hoeke.
5 En jy moet dit onder die lys van die altaar bevestig, onderaan, sodat die net tot by die helfte van die altaar kom.
6 Jy moet ook draaghoute vir die altaar maak, draaghoute van akasiahout; en trek dit oor met koper.
7 En die draaghoute moet in die ringe gesteek word, sodat die draaghoute aan altwee kante van die altaar is as hulle dit dra.
8 Jy moet dit hol, van planke, maak. Soos dit jou op die berg getoon is, so moet hulle dit maak.
9 Jy moet ook die voorhof van die tabernakel maak. Aan die suidekant, na die suide toe, moet daar vir die voorhof behangsels wees van fyn dubbeldraad-linne; honderd el moet die lengte vir die een kant wees;
10 daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees.
11 So moet daar ook aan die noordekant, in die lengte, behangsels wees, honderd el lank; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke. Die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees.
12 En in die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet daar behangsels van vyftig el wees; daarby tien pilare en hulle tien voetstukke.
13 En die breedte van die voorhof aan die oostekant, teen sonop, vyftig el—
14 sodat daar vyftien el behangsels vir die een kant is, daarby drie pilare en hulle drie voetstukke;
15 en vir die ander kant vyftien el behangsels, daarby drie pilare en hulle drie voetstukke;
16 en vir die poort van die voorhof ‘n bedekking van twintig el, van pers, purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk; daarby vier pilare en hulle vier voetstukke.
17 Al die pilare van die voorhof moet rondom van silwerringe voorsien wees; hulle kramme moet van silwer wees en hulle voetstukke van koper.
18 Die lengte van die voorhof moet honderd el wees en die breedte vyftig by vyftig en die hoogte vyf el, van fyn dubbeldraad-linne, daarby voetstukke van koper.
19 Aangaande al die gereedskap van die tabernakel, by sy hele bewerking, en al sy penne en al die penne van die voorhof, hulle moet van koper wees.
20 En jy moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê.
21 In die tent van samekoms, buitekant die voorhangsel wat voor die Getuienis is, moet Aäron en sy seuns dit regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van die HERE. Dit sal ‘n ewige insetting wees in hulle geslagte, van die kant van die kinders van Israel.




Hoofstuk 28

1 Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien: Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron.
2 En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad.
3 Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.
4 En dit is die klere wat hulle moet maak: ‘n borstas en ‘n skouerkleed en ‘n mantel en ‘n kunstig bewerkte rok, ‘n tulband en ‘n gordel; so moet hulle dan vir Aäron, jou broer, heilige klere maak, en vir sy seuns, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.
5 En hulle moet die goud en die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne neem.
6 En hulle moet die skouerkleed maak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, as kunstige werk.
7 Dit moet twee skouerstukke hê wat aan mekaar vas is; aan die twee bo-ente moet dit saamgevoeg word.
8 En die band wat daaraan is om dit vas te bind, moet van dieselfde werk en, daarmee saam, uit een stuk wees, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
9 En jy moet twee oniksstene neem en die name van die kinders van Israel daarop graveer:
10 ses van dié name op die een steen en die ses ander name op die ander steen volgens hulle geboortes.
11 Met graveerwerk, soos op ‘n seëlsteen uitgesny word, moet jy die twee stene graveer volgens die name van die kinders van Israel. Jy moet hulle maak dat hulle vassit in kassies van goud.
12 En jy moet die twee stene op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene vir die kinders van Israel—Aäron moet hulle name op sy twee skouers dra voor die aangesig van die HERE om hulle in gedagtenis te bring.
13 Jy moet dan kassies van goud maak
14 en twee kettings van suiwer goud; gedraai soos toutjies moet jy hulle maak; en maak die kettings, soos toutjies gedraai, aan die kassies vas.
15 Jy moet ook die borstas van beslissing maak van kunstige werk; soos die werk van die skouerkleed moet jy dit maak; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en van fyn dubbeldraad-linne moet jy dit maak.
16 Vierkantig moet dit wees en dubbel gevou; ‘n span sy lengte en ‘n span sy breedte.
17 En voorsien dit van ‘n steeninvulling van vier rye stene: ‘n ry met ‘n karneool, ‘n topaas en ‘n smarag moet die eerste ry wees.
18 En die tweede ry: ‘n karbonkel, ‘n saffier en ‘n jaspis.
19 En die derde ry: ‘n hiasint, ‘n agaat en ‘n ametis.
20 En die vierde ry: ‘n chrisoliet en ‘n oniks en ‘n sardoniks. Hulle moet in goud vasgesit wees by hulle invulling.
21 En die stene moet volgens die name van die kinders van Israel twaalf wees, volgens hulle name. Soos op ‘n seëlsteen uitgesny word, so moet hulle vir twaalf stamme wees, elkeen volgens sy naam.
22 Jy moet ook by die borstas gedraaide kettings, soos toutjies gedraai, van suiwer goud maak.
23 En maak by die borstas twee goue ringe; en bevestig die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas,
24 en maak die twee goue toutjies aan die twee ringe vas, aan die bo-ente van die borstas;
25 en maak die twee ander ente van die twee toutjies vas aan die twee kassies, en bevestig dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed, aan die voorkant daarvan.
26 Jy moet ook twee goue ringe maak, en bevestig dié aan die twee onder-ente van die borstas, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.
27 En maak twee goue ringe, en bevestig dié aan die twee skouerstukke van die skouerkleed, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band van die skouerkleed.
28 En hulle moet die borstas met sy ringe aan die ringe van die skouerkleed met ‘n pers toutjie vasbind, sodat dit bo die band van die skouerkleed is en die borstas nie van die skouerkleed afskuiwe nie.
29 So moet Aäron dan die name van die kinders van Israel in die borstas van beslissing op sy hart dra as hy in die heiligdom ingaan, om hulle in gedagtenis te bring voor die aangesig van die HERE gedurigdeur.
30 Jy moet ook in die borstas van beslissing die Urim en die Tummim sit, dat hulle op die hart van Aäron kan wees as hy voor die aangesig van die HERE ingaan. So moet Aäron dan die beslissing van die kinders van Israel gedurigdeur op sy hart dra voor die aangesig van die HERE.
31 En jy moet die mantel van die skouerkleed heeltemal van pers stof maak.
32 En die opening vir die hoof moet in die middel daarvan wees. Rondom die opening moet ‘n soom van wewerswerk wees. Soos die opening van ‘n pantser moet dit daaraan wees, dat dit nie kan skeur nie.
33 En maak aan die soom daarvan granaatjies van pers en purperrooi en bloedrooi kleur, aan die soom daarvan rondom, en daar tussenin goue klokkies rondom:
34 ‘n goue klokkie en ‘n granaatjie, ‘n goue klokkie en ‘n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom.
35 En Aäron moet dit aanhê om te kan dien, sodat die geluid daarvan gehoor word as hy in die heiligdom, voor die aangesig van die HERE, ingaan en as hy daar uitgaan, dat hy nie sterwe nie.
36 Verder moet jy ‘n plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos op ‘n seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN DIE HERE.
37 En maak dit vas aan ‘n pers toutjie, sodat dit aan die tulband kan wees; aan die voorkant van die tulband moet dit wees.
38 So moet dit dan op die voorhoof van Aäron wees, sodat Aäron die skuld kan dra met betrekking tot die heilige dinge wat die kinders van Israel sal heilig—al hulle heilige gawes. En dit moet gedurigdeur op sy voorhoof wees, dat hulle voor die aangesig van die HERE welgevalle mag vind.
39 Jy moet ook die rok van fyn linne kunstig bewerk. Jy moet ook ‘n tulband van fyn linne maak, en ‘n gordel moet jy van veelkleurige werk maak.
40 En maak rokke vir die seuns van Aäron, en maak vir hulle gordels. Ook moet jy vir hulle musse maak, tot eer en tot sieraad.
41 En trek dit jou broer Aäron en sy seuns saam met hom aan. En salf hulle en stel hulle aan en heilig hulle, sodat hulle vir My die priesteramp kan bedien.
42 Maak ook vir hulle linnebroeke om die vlees van die skaamte te bedek. Dit moet van die heupe tot by die dye wees.
43 En Aäron en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die tent van samekoms gaan, of as hulle nader kom na die altaar om in die heiligdom te dien, sodat hulle geen skuld op hulle laai en sterwe nie. Dit is ‘n ewige insetting vir hom en vir sy nageslag ná hom.




Hoofstuk 29

1 En dit is die saak wat jy vir hulle moet doen om hulle te heilig, dat hulle vir My die priesteramp kan bedien: Neem een jong bul en twee ramme wat sonder gebrek is,
2 en ongesuurde brood en ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk. Van fyn koringmeel moet jy dit maak.
3 En sit dit in een mandjie, en bring dit aan in die mandjie saam met die bul en die twee ramme.
4 Dan moet jy Aäron en sy seuns laat nader kom na die ingang van die tent van samekoms en hulle met water was.
5 En neem die klere en beklee Aäron met die rok en die mantel van die skouerkleed en die skouerkleed self en die borstas, en bind hom die band van die skouerkleed om.
6 En sit die tulband op sy hoof, en bevestig die heilige kroon aan die tulband.
7 Neem dan die salfolie en giet dit op sy hoof en salf hom.
8 Ook sy seuns moet jy laat nader kom, en laat hulle die rokke aantrek,
9 en omgord hulle met die gordel, Aäron en sy seuns, en bind vir hulle musse om, dat hulle die priesteramp kan besit as ‘n ewige insetting. So moet jy dan Aäron en sy seuns as priesters aanstel.
10 En jy moet die bul aanbring voor die tent van samekoms; en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die bul lê.
11 En slag die bul voor die aangesig van die HERE by die ingang van die tent van samekoms.
12 Dan moet jy van die bloed van die bul neem en dit met jou vinger aan die horings van die altaar stryk; en al die orige bloed moet jy aan die onderkant van die altaar uitgiet.
13 En neem al die vet wat oor die binnegoed is, en die lap aan die lewer en die twee niere en die vet wat daaraan is, en steek dit op die altaar aan die brand.
14 Maar die vleis van die bul en sy vel en sy mis moet jy buitekant die laer met vuur verbrand. Dit is ‘n sondoffer.
15 Neem dan die een ram, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;
16 daarna moet jy die ram slag en sy bloed neem en dit rondom teen die altaar uitgooi.
17 En die ram moet jy in sy stukke verdeel, en was sy binnegoed en pote en sit dit by die orige stukke en by die kop.
18 Jy moet dan die hele ram op die altaar aan die brand steek. Dit is ‘n brandoffer aan die HERE; ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer is dit aan die HERE.
19 Dan moet jy die ander ram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop lê;
20 jy moet dan die ram slag en van sy bloed neem en dit stryk aan die regteroorlel van Aäron en aan die regteroorlel van sy seuns, ook aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet. En die orige bloed moet jy rondom teen die altaar uitgooi.
21 Dan moet jy van die bloed wat aan die altaar is, neem en van die salfolie en dit sprinkel op Aäron en op sy klere sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns saam met hom, dat hy heilig kan wees en sy klere sowel as sy seuns en die klere van sy seuns saam met hom.
22 En neem van die ram die vet en die vetstert, ook die vet wat oor die binnegoed is, en die lap aan die lewer en die twee niere met die vet wat daaraan is, en die regterboud—want dit is ‘n wydingsram—
23 en een ronde brood en een oliebroodkoek en een platkoek uit die mandjie met ongesuurde koeke wat voor die aangesig van die HERE is.
24 En lê dit alles op die hande van Aäron en op die hande van sy seuns, en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE.
25 Neem dit dan uit hulle hand en steek dit op die altaar aan die brand, bo-op die brandoffer, as lieflike geur voor die aangesig van die HERE. Dit is ‘n vuuroffer aan die HERE.
26 En neem die bors van die wydingsram van Aäron en beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE; daarna moet dit jou deel wees.
27 En jy moet die bors van die beweegoffer heilig en die boud van die hefoffer, wat beweeg en gehef is van die wydingsram, wat vir Aäron en sy seuns geld.
28 En dit moet vir Aäron en sy seuns wees tot ‘n ewige insetting van die kant van die kinders van Israel, want dit is ‘n hefoffer; en dit sal ‘n hefoffer wees van die kant van die kinders van Israel, van hulle dankoffers—hulle hefoffer aan die HERE.
29 En die heilige klere van Aäron moet vir sy seuns ná hom wees, om hulle daarin te salf en as priesters aan te stel.
30 Die een van sy seuns wat in sy plek priester word, wat in die tent van samekoms sal ingaan om in die heiligdom te dien, moet dit sewe dae lank aantrek.
31 En jy moet die wydingsram neem en sy vleis in ‘n heilige plek kook.
32 Dan moet Aäron en sy seuns die ram se vleis eet en die brood wat in die mandjie is, by die ingang van die tent van samekoms.
33 En hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle as priesters aangestel en geheilig is; maar ‘n onbevoegde mag daarvan nie eet nie, want dit is heilig.
34 En as daar van die vleis van die wydingsoffer of van die brood tot die môre toe oorbly, moet jy wat oor is, met vuur verbrand; dit mag nie geëet word nie, want dit is heilig.
35 So moet jy dan met Aäron en sy seuns doen net soos Ek jou beveel het. Sewe dae lank moet hulle wyding duur.
36 Jy moet ook daagliks ‘n sondofferbul tot versoening berei en die altaar ontsondig deur daarvoor versoening te doen; en jy moet dit salf om dit te heilig.
37 Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit heilig. So sal dan die altaar hoogheilig word: elkeen wat aan die altaar raak, word heilig.
38 En dit is wat jy op die altaar moet berei: twee jaaroud lammers gereeld elke dag.
39 Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei,
40 met ‘n tiende van ‘n efa fynmeel, gemeng met ‘n kwart-hin uitgestampte olie, en as drankoffer ‘n kwart-hin wyn vir die een lam.
41 En die ander lam moet jy teen die aand berei. Jy moet dit klaarmaak volgens die môrespysoffer en volgens die drankoffer wat daarby behoort, tot ‘n lieflike geur. Dit is ‘n vuuroffer aan die HERE.
42 Dit moet ‘n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die HERE, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek.
43 En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word.
44 So sal Ek dan die tent van samekoms en die altaar heilig. Ek sal Aäron en sy seuns ook heilig om vir My die priesteramp te bedien.
45 En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees;
46 en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die HERE hulle God.




Hoofstuk 30

1 Jy moet ook ‘n altaar maak om reukwerk te brand. Van akasiahout moet jy dit maak.
2 ‘n El moet sy lengte wees en ‘n el sy breedte—vierkantig moet dit wees; en twee el sy hoogte. Sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees.
3 En jy moet dit met suiwer goud oortrek: die plaat en die sykante rondom en die horings. En maak daarvoor ‘n goue krans rondom.
4 Maak ook twee goue ringe daarvoor onderkant die krans aan weerskante; jy moet dié aan die twee sykante maak. En hulle moet dien as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra.
5 En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.
6 Sit dit dan voor die voorhangsel wat voor die ark van die Getuienis is, voor die versoendeksel wat oor die Getuienis is, waar Ek met jou sal saamkom.
7 En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek.
8 En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek as ‘n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die HERE in julle geslagte.
9 Julle mag daarop geen vreemde reukwerk of brandoffer of spysoffer bring nie. Julle mag ook geen drankoffer daarop uitgiet nie.
10 En Aäron moet een maal in die jaar aan die horings daarvan versoening doen; met die bloed van die sondoffer van versoening moet hy een maal in die jaar daarvoor versoening doen vir julle geslagte. Hoogheilig is dit aan die HERE.
11 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
12 As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie.
13 Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ‘n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom—die sikkel is twintig gera—’n halfsikkel as offergawe aan die HERE.
14 Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee.
15 Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ‘n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen.
16 Neem dan die versoeningsgeld van die kinders van Israel en bestee dit aan die bediening van die tent van samekoms, dat dit die kinders van Israel in gedagtenis kan bring voor die aangesig van die HERE, om vir julle siele versoening te doen.
17 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
18 Jy moet ook ‘n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin,
19 dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was.
20 As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur ‘n vuuroffer aan die HERE aan die brand te steek.
21 Hulle moet dan hul hande en hulle voete was, sodat hulle nie sterwe nie. En dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle geslagte.
22 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
23 En jy, neem vir jou van die beste speserye: vyf honderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig sikkels, en twee honderd en vyftig sikkels geurige kalmoes
24 en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en ‘n hin olyfolie;
25 en maak daarvan heilige salfolie, ‘n salfmengsel soos ‘n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees.
26 Daarmee moet jy dan die tent van samekoms salf en die ark van die Getuienis
27 en die tafel met al sy gereedskap en die kandelaar met sy gereedskap en die reukaltaar
28 en die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk.
29 So moet jy hulle dan heilig, dat hulle hoogheilig kan wees. Elkeen wat aan hulle raak, word heilig.
30 Jy moet ook Aäron en sy seuns salf en hulle heilig om vir My die priesteramp te bedien.
31 En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My ‘n heilige salfolie wees in julle geslagte.
32 Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees.
33 Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
34 Verder het die HERE vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en naeltjies en gálbanum—speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede,
35 en maak daar reukwerk van, ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer, heilig.
36 En vrywe ‘n gedeelte daarvan heeltemal fyn, en sit ‘n deel daarvan neer voor die Getuienis in die tent van samekoms, waar Ek met jou sal saamkom; hoogheilig moet dit vir julle wees.
37 En die reukwerk wat jy moet maak—na dieselfde voorskrif mag julle vir julle nie maak nie; as iets heiligs aan die HERE moet dit vir jou wees.
38 Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.




Hoofstuk 31

1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Kyk, Ek het Besáleël die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep;
3 en Ek het hom vervul met die Gees van God, met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk,
4 om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper,
5 en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk; om werksaam te wees in allerhande werk.
6 En kyk, Ek het hom Ohóliab bygegee, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan. En in die hart van elkeen wat kunsvaardig is, het Ek wysheid gegee, dat hulle alles wat ek jou beveel het, kan maak:
7 die tent van samekoms en die ark van die Getuienis en die versoendeksel wat daarop moet wees, en alles wat behoort by die tent,
8 en die tafel met sy gereedskap en die suiwer kandelaar met al sy gereedskap en die reukaltaar;
9 ook die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk
10 en die kunstige klere en die heilige klere van die priester Aäron en die klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien;
11 ook die salfolie en die reukwerk van speserye vir die heiligdom—net soos Ek jou beveel het, moet hulle dit maak.
12 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
13 Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig.
14 Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit.
15 Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ‘n dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word.
16 En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond.
17 Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.
18 En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God.




Hoofstuk 32

1 Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.
2 En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my.
3 Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring.
4 En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ‘n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.
5 Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE.
6 En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel.
7 Toe sê die HERE vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel.
8 En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle ‘n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.
9 Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk.
10 Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot ‘n groot nasie maak.
11 Maar Moses het die HERE sy God om genade gesmeek en gesê: Waarom, o HERE, sou u toorn ontvlam teen u volk wat U met grote krag en met ‘n sterke hand uit Egipteland uitgelei het?
12 Waarom sou die Egiptenaars spreek en sê: In kwaadwilligheid het Hy hulle uitgelei om hulle in die berge om te bring en hulle van die aardbodem af te vernietig? Wend U af van die gloed van u toorn, en laat dit U berou oor die onheil van u volk.
13 Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe.
14 Toe het dit die HERE berou oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy sy volk sou aandoen.
15 En Moses het omgedraai en van die berg afgeklim, met die twee tafels van die Getuienis in sy hand, tafels wat op altwee kante beskrywe was; hulle was op die een en op die ander kant beskrywe.
16 En die tafels was die werk van God. Die skrif was ook die skrif van God, in die tafels gegraveer.
17 En toe Josua die stem van die volk hoor hoe hulle juig, sê hy aan Moses: Daar is oorlogsgeraas in die laer.
18 Maar hy antwoord: Dit is nie die geluid van die wat sing van oorwinning nie; dit is ook nie die geluid van die wat sing van neerlaag nie: ek hoor die geluid van beurtgesang.
19 En toe hy naby die laer kom en die kalf en koordanse sien, het die toorn van Moses ontvlam, en hy het die tafels uit sy hande gegooi en hulle onder aan die berg verbrysel.
20 En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand en dit fyn gemaal. Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van Israel dit laat drink.
21 En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ‘n groot sonde oor hulle gebring het?
22 Toe antwoord Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken die volk, dat hulle deur en deur sleg is.
23 Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.
24 Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom.
25 Toe Moses sien dat die volk bandeloos was—want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders—
26 het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel.
27 En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak.
28 En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval.
29 Toe het Moses gesê: Vul vandag julle hand om te offer aan die HERE—want elkeen is teen sy seun en teen sy broer—sodat Hy vandag ‘n seën oor julle kan gee.
30 En die volgende dag het Moses aan die volk gesê: Júlle het ‘n groot sonde begaan; maar nou sal ek na die HERE opklim: miskien kan ek vir julle sonde versoening doen.
31 En Moses het na die HERE teruggegaan en gesê: Ag, hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak.
32 Nou dan, as U tog maar hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het!
33 Toe het die HERE Moses geantwoord: Wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek.
34 Maar gaan nou en lei die volk waarheen Ek jou gesê het. Kyk, my engel sal voor jou uit gaan. Maar die dag as Ek besoeking doen, dan sal Ek hulle sonde oor hulle besoek.
35 So het die HERE dan die volk getref, omdat hulle die kalf gemaak het wat Aäron vervaardig het.




Hoofstuk 33

1 Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan heen, trek hiervandaan op, jy en die volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, na die land wat Ek met ‘n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het, met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee;
2 en Ek sal ‘n engel voor jou uit stuur—en die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete verdrywe—
3 na ‘n land wat oorloop van melk en heuning; want Ek sal in jou midde nie optrek nie, omdat jy ‘n hardnekkige volk is; anders sal jy op die weg verteer word.
4 Toe die volk hierdie onheilspellende woord hoor, het hulle getreur; en niemand het sy versiersels aangesit nie.
5 Die HERE het naamlik met Moses gespreek: Sê aan die kinders van Israel: Julle is ‘n hardnekkige volk; as Ek vir een oomblik in jou midde sou optrek, sou Ek jou vernietig. Maar haal nou jou versiersels van jou af, dan sal Ek weet wat Ek met jou moet doen.
6 Toe het die kinders van Israel hulleself beroof van hul versiersels, van die berg Horeb af.
7 En Moses het elke keer ‘n tent geneem en dit vir hom buitekant die laer opgeslaan, ver van die laer af; en hy het dit genoem die tent van samekoms. En elkeen wat die HERE wou raadpleeg, het uitgegaan na die tent van samekoms wat buitekant die laer was.
8 En as Moses uitgaan na die tent, staan die hele volk op en gaan elkeen aan die ingang van sy tent staan. Dan kyk hulle Moses agterna tot hy in die tent ingegaan het.
9 En as Moses in die tent ingaan, kom die wolkkolom af en gaan by die ingang van die tent staan, en dan spreek Hy met Moses.
10 En as die hele volk die wolkkolom sien staan by die ingang van die tent, staan die hele volk op en buig, elkeen aan die ingang van sy tent.
11 Dan spreek die HERE met Moses van aangesig tot aangesig soos ‘n man met sy vriend spreek. Daarna gaan hy na die laer terug; maar sy dienaar Josua, ‘n jongman, die seun van Nun, het hom nie uit die tent verwyder nie.
12 Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind.
13 As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is.
14 En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf?
15 Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie.
16 Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.
17 Toe sê die HERE aan Moses: Ook hierdie versoek wat jy uitgespreek het, daaraan sal Ek voldoen; want jy het genade gevind in my oë, en Ek ken jou by die naam.
18 Daarop vra hy: Laat my tog u heerlikheid sien.
19 Maar Hy antwoord: Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep; maar Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.
20 Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.
21 Ook het die HERE gesê: Kyk, hier is ‘n plek by My waar jy op die rots kan gaan staan.
22 En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het.
23 En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.




Hoofstuk 34

1 Toe het die HERE aan Moses gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes; dan sal Ek op die tafels die woorde skrywe wat op die eerste tafels was, wat jy verbrysel het.
2 En hou jou gereed teen die môre, en klim in die môre op die berg Sinai en gaan daar staan by My op die top van die berg.
3 Maar niemand mag saam met jou opklim nie; laat daar ook niemand op die hele berg gesien word nie; laat ook geen kleinvee of beeste teen hierdie berg wei nie.
4 Toe het hy twee kliptafels gekap soos die eerstes, en Moses het die môre vroeg klaargemaak en op die berg Sinai geklim, soos die HERE hom beveel het, en die twee kliptafels in sy hand geneem.
5 En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die HERE uitgeroep.
6 En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou;
7 wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
8 Toe het Moses hom gou na die aarde toe gebuig en neergeval
9 en gesê: Here, as ek genade in u oë gevind het, laat dan tog die Here in ons midde trek; want dit is ‘n hardnekkige volk; maar vergewe ons ongeregtigheid en ons sonde, en neem ons aan as ‘n erfdeel.
10 Toe antwoord Hy: Kyk, Ek sluit ‘n verbond; voor jou hele volk sal Ek wonders doen soos daar op die hele aarde en onder al die nasies nie geskape is nie, sodat die hele volk onder wie jy is, die werk van die HERE kan sien. Want verskriklik is dit wat Ek aan jou gaan doen.
11 Onderhou wat Ek jou vandag beveel. Kyk, Ek verdrywe voor jou uit die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.
12 Neem jou in ag dat jy geen verbond sluit met die inwoner van die land waarin jy kom nie; sodat hy nie miskien ‘n strik by jou word nie.
13 Maar hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme afkap.
14 Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy.
15 Sluit tog nie ‘n verbond met die inwoner van die land nie! As hulle agter hulle gode aan hoereer en aan hulle gode offer, sal hy jou uitnooi, en jy sal van sy offer eet;
16 en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.
17 Jy mag vir jou geen gegote gode maak nie.
18 Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib; want in die maand Abib het jy uit Egipte uitgetrek.
19 Alles wat die moederskoot open, is myne; ook al jou vee wat manlik is, die eerstelinge van beeste en kleinvee.
20 Maar die eersteling van ‘n esel moet jy met ‘n lam loskoop; en as jy dit nie loskoop nie, moet jy sy nek breek. Al jou eersgebore seuns moet jy loskoop, en niemand mag met leë hande voor my aangesig verskyn nie.
21 Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus. In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus.
22 Die fees van die weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die koring-oes; en die fees van die insameling by die wisseling van die jaar.
23 Al jou manspersone moet drie maal in die jaar voor die aangesig van die Here HERE, die God van Israel, verskyn.
24 Want Ek sal nasies voor jou uitdrywe en jou grondgebied uitbrei, sodat niemand jou land sal begeer nie terwyl jy opgaan om te verskyn voor die aangesig van die HERE jou God, drie maal in die jaar.
25 Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood slag nie, en die offer van die paasfees mag nie tot die môre toe oorbly nie.
26 Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die HERE jou God bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.
27 Verder het die HERE vir Moses gesê: Skrywe vir jou hierdie woorde op, want volgens hierdie woorde het Ek ‘n verbond gesluit met jou en met Israel.
28 En hy was daar by die HERE veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie. En Hy het op die tafels die woorde van die verbond, die tien woorde, geskrywe.
29 En toe Moses van die berg Sinai afdaal—die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moses toe hy van die berg afdaal het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie.
30 En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom.
31 Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die owerstes in die vergadering het na hom teruggekom; en Moses het met hulle gespreek.
32 En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die HERE met hom gespreek het op die berg Sinai.
33 Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek.
34 Maar as Moses voor die aangesig van die HERE kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is,
35 sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek.




Hoofstuk 35

1 Toe het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat die HERE beveel het, om dit te doen:
2 Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heiligheid, ‘n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word.
3 Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie.
4 Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het:
5 Neem van julle besittings ‘n offergawe aan die HERE. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE: goud en silwer en koper;
6 en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar;
7 en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout;
8 en olie vir die kandelaar en speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye;
9 en oniksstene en stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas.
10 En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die HERE beveel het:
11 die tabernakel, sy tent en sy dekkleed, sy hakies en sy style, sy dwarshoute, sy pilare en sy voetstukke;
12 die ark en sy draaghoute, die versoendeksel en die voorhangsel tot bedekking;
13 die tafel met sy draaghoute en al sy gereedskap, en die toonbrode;
14 en die kandelaar tot verligting, met sy gereedskap en sy lampe, en die olie vir die kandelaar;
15 en die reukaltaar met sy draaghoute, en die salfolie en die reukwerk van speserye, en die bedekking vir die ingang van die tabernakel;
16 die brandofferaltaar met sy traliewerk van koper, sy draaghoute en al sy gereedskap; die waskom met sy voetstuk;
17 die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking van die poort van die voorhof;
18 die penne van die tabernakel en die penne van die voorhof met hulle lyne;
19 die kunstige klere om in die heiligdom te dien, die heilige klere vir die priester Aäron en die klere van sy seuns om die priesteramp te bedien.
20 Toe het die hele vergadering van die kinders van Israel van Moses af weggegaan.
21 En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die HERE gebring vir die werk aan die tent van samekoms en vir sy hele bediening en vir die heilige klere;
22 die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was; hulle het gespes en ringe en vingerringe en halssierade, allerhande goue goed, gebring. En elkeen wat ‘n offer van goud aan die HERE gewy het,
23 en elkeen wat in besit was van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle, het dit gebring.
24 Elkeen wat ‘n offergawe van silwer of koper kon aanbied, het die offergawe van die HERE gebring; en elkeen wat akasiahout besit het, wat oral by die werk kon gebruik word, het dit gebring.
25 En elke vrou wat kunsvaardig was, het met haar eie hande gespin en die spinsel gebring: die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne.
26 En al die vroue wie se hart hulle opgewek het deur kunsvaardigheid, het die bokhaar gespin.
27 En die owerstes het die oniksstene gebring en die stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas,
28 en die speserye en die olie vir die kandelaar en vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye.
29 Elke man en vrou wie se hart hulle aangedryf het om iets by te dra vir al die werk wat die HERE deur die diens van Moses beveel het om te verrig—as vrywillige offergawe aan die HERE het die kinders van Israel dit gebring.
30 Daarop het Moses aan die kinders van Israel gesê: Kyk, die HERE het Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep;
31 en Hy het hom met die Gees van God vervul, met wysheid, met verstand en met kennis en bekwaamheid vir allerhande werk;
32 en om kunstige planne uit te dink, om dié uit te voer in goud en silwer en koper,
33 en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk—om werksaam te wees in allerhande kunsarbeid.
34 Hy het dit ook in sy hart gegee om ander te onderrig, aan hom en aan Ohóliab, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan.
35 Hy het hulle vervul met kunsvaardigheid om allerhande werk te maak van ‘n ambagsman en ‘n kunstenaar en van ‘n bewerker van veelkleurige goed in pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne, en van ‘n wewer hulle wat al die werk moes verrig en kunstige planne moes uitdink.




Hoofstuk 36

1 So moet dan Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig is, in wie die HERE wysheid en verstand gegee het om met kennis al die werk tot vervaardiging van die heiligdom te verrig, dit maak net soos die HERE beveel het.
2 En Moses het Besáleël en Ohóliab geroep en elkeen wat kunsvaardig was, in wie se hart die HERE wysheid gegee het; elkeen wie se hart hom opgewek het om aan die werk te gaan om dit klaar te maak.
3 En hulle het voor die oë van Moses ontvang al die offergawes wat die kinders van Israel vir die verrigting van die werk by die vervaardiging van die heiligdom gebring het. Maar húlle het vir hom nog elke môre vrywillige offergawes gebring.
4 Toe het al die kunsvaardige manne wat met al die werk by die heiligdom besig was, man vir man, van die werk af gekom waar hulle mee besig was,
5 en hulle het met Moses gespreek en gesê: Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk waarvan die HERE die vervaardiging beveel het.
6 Daarop het Moses bevel gegee, en hulle het ‘n oproep deur die laer laat gaan en gesê: Laat geen man of vrou verder enige werksaamheid verrig in verband met die offergawe vir die heiligdom nie. Toe het die volk opgehou om te bring;
7 want die boustof was vir hulle genoeg om die hele werk tot stand te bring; ja, daar het oorgebly.
8 So het dan almal wat kunsvaardig was onder die werksmense die tabernakel uit tien tentdoeke vervaardig; uit fyn dubbeldraad-linne en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk het hy dit gemaak.
9 Die lengte van elke tentdoek was agt en twintig el en die breedte van elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke het een maat gehad.
10 En hy het vyf van die tentdoeke aanmekaargewerk, die een aan die ander; en weer vyf tentdoeke het hy aanmekaargewerk, die een aan die ander.
11 En hy het lissies van pers stof gemaak aan die soom van die buitenste tentdoek van die een stel; so het hy dit gemaak aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede stel.
12 Vyftig lissies het hy gemaak aan die een tentdoek, en vyftig lissies het hy gemaak aan die rand van die tentdoek wat aan die tweede stel behoort het. Die lissies was die een teenoor die ander.
13 Hy het ook vyftig goue hakies gemaak en die tentdoeke saamgevoeg, die een aan die ander, met die hakies, sodat die tabernakel een geheel was.
14 Verder het hy doeke van bokhaar gemaak as ‘n tentseil oor die tabernakel: elf tentdoeke het hy dit gemaak.
15 Die lengte van elke tentdoek was dertig el, en die breedte van elke tentdoek vier el: die elf tentdoeke het een maat gehad.
16 En hy het vyf van die tentdoeke besonders aanmekaargewerk en ses van die tentdoeke besonders.
17 En hy het vyftig lissies gemaak aan die soom van die laaste tentdoek van die een stel, en vyftig lissies het hy gemaak aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede stel.
18 Hy het ook vyftig koperhakies gemaak om die tent saam te voeg, sodat dit een geheel was.
19 Ook het hy vir die tent ‘n dekkleed van rooigeverfde ramsvelle gemaak en daar bo-oor ‘n dekkleed van robbevelle.
20 Hy het ook vir die tabernakel die regopstaande style van akasiahout gemaak.
21 Die lengte van die styl was tien el, en anderhalf el die breedte van elke styl.
22 Elke styl het twee tappe gehad wat met mekaar verbind was. So het hy dit gemaak vir al die style van die tabernakel.
23 En hy het die style vir die tabernakel gemaak: twintig style aan die suidekant, na die suide toe.
24 En hy het veertig silwervoetstukke onder die twintig style gemaak: twee voetstukke onder die een styl vir sy twee tappe en twee voetstukke onder die ander styl vir sy twee tappe.
25 Hy het ook vir die ander sykant van die tabernakel, aan die noordekant, twintig style gemaak
26 met hulle veertig silwervoetstukke: twee voetstukke onder die een styl en twee voetstukke onder die ander styl.
27 En vir die agterkant van die tabernakel, teen die weste, het hy ses style gemaak.
28 Ook het hy twee style vir die hoeke van die tabernakel aan die agterkant gemaak.
29 En hulle was dubbel van onder, en net so was hulle bo dubbel tot by die eerste ring. So het hy dit gemaak vir altwee, vir die twee hoeke.
30 So was daar dan agt style met hulle silwervoetstukke: sestien voetstukke; twee voetstukke onder elke styl.
31 Hy het ook dwarshoute van akasiahout gemaak: vyf vir die style van die een sykant van die tabernakel
32 en vyf dwarshoute vir die style van die ander sykant van die tabernakel; ook vyf dwarshoute vir die style van die agterkant van die tabernakel teen die weste.
33 En hy het die middelste dwarshout gemaak om oordwars te loop, in die middel van die style, van die een ent na die ander.
34 En hy het die style met goud oorgetrek; en hulle ringe, as plekke vir die dwarshoute, het hy van goud gemaak. Die dwarshoute het hy ook met goud oorgetrek.
35 Verder het hy die voorhangsel gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne; as kunstige werk het hy dit gemaak, met gérubs.
36 En hy het vier pilare van akasiahout daarvoor gemaak en dit met goud oorgetrek; hulle kramme was ook van goud; en hy het daarvoor vier silwervoetstukke gegiet.
37 Hy het ook vir die ingang van die tent ‘n bedekking gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk;
38 en die vyf pilare wat daarby behoort, met hulle kramme; en hy het hulle toppe en ringe met goud oorgetrek; en hulle vyf voetstukke was van koper.




Hoofstuk 37

1 En Besáleël het die ark van akasiahout gemaak; twee en ‘n half el was sy lengte, en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte.
2 En hy het dit oorgetrek met suiwer goud, van binne en van buite; en hy het daaraan ‘n goue krans gemaak rondom.
3 En hy het daarvoor vier goue ringe gegiet, aan sy vier voete, só dat twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant was.
4 En hy het draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek;
5 en hy het die draaghoute in die ringe gesteek aan weerskante van die ark om die ark te dra.
6 Hy het ook ‘n versoendeksel van suiwer goud gemaak. Twee en ‘n half el was sy lengte, en anderhalf el sy breedte.
7 Ook het hy twee gérubs van goud gemaak. Van dryfwerk het hy hulle gemaak, aan die twee ente van die versoendeksel.
8 Een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, het hy die gérubs gemaak, aan die twee ente.
9 En die gérubs het die vlerke boontoe uitgesprei gehou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte was na mekaar toe. Die gesigte van die gérubs was op die versoendeksel gerig.
10 Hy het ook die tafel van akasiahout gemaak. Twee el was sy lengte, en ‘n el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte.
11 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek en daarvoor ‘n goue krans gemaak rondom.
12 Hy het ook daarvoor ‘n lys van ‘n handbreed gemaak rondom; en hy het ‘n goue krans vir die lys gemaak rondom.
13 Hy het ook vier goue ringe daarvoor gegiet; en hy het die ringe vasgesit aan die vier hoeke van die vier pote.
14 Naby die lys was die ringe as plekke vir die draaghoute om die tafel te dra.
15 Hy het ook die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek om die tafel te dra.
16 En hy het die gereedskap gemaak wat op die tafel moes wees: sy skottels en sy rookpanne en sy bekers en sy kanne waarmee gegiet moes word, van suiwer goud.
17 Hy het ook die kandelaar van suiwer goud gemaak. Van dryfwerk het hy die kandelaar gemaak, sy voetstuk en sy stam; sy kelkies, sy knoppe en sy blomme was, daarmee saam, uit een stuk.
18 En ses arms het uit die sykante daarvan uitgegaan: drie arms van die kandelaar uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant.
19 Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, ‘n knop en ‘n blom, en drie kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, ‘n knop en ‘n blom—so was dit aan die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
20 Maar aan die kandelaar self was vier kelkies soos amandelblomme, met knoppe en blomme:
21 daar was ‘n knop onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en ‘n knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en ‘n knop onder die derde paar arms wat daaruit uitgaan—vir die ses arms wat daaruit uitgaan.
22 Hulle knoppe en hulle arms was, daarmee saam, uit een stuk alles saam een stuk dryfwerk van suiwer goud.
23 En hy het sewe lampe daarvoor gemaak en sy snuiters en sy bakkies van suiwer goud.
24 Van ‘n talent suiwer goud het hy dit gemaak met al sy gereedskap.
25 En hy het die reukaltaar van akasiahout gemaak; ‘n el was sy lengte en ‘n el sy breedte, vierkantig, en twee el sy hoogte. Sy horings was, daarmee saam, uit een stuk.
26 En hy het dit met suiwer goud oorgetrek: die plaat, die sykante en die horings. En hy het daarvoor ‘n goue krans gemaak rondom.
27 Hy het ook twee goue ringe daarvoor gemaak, onderkant die krans aan weerskante, aan die twee sykante, as plekke vir draaghoute om dit daarmee te dra.
28 En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met goud oorgetrek.
29 Hy het ook die heilige salfolie gemaak en die suiwer reukwerk van speserye, soos ‘n salfmenger dit maak.




Hoofstuk 38

1 Hy het ook die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte, vierkantig, en drie el sy hoogte.
2 En hy het sy horings op die vier hoeke gemaak; sy horings was, daarmee saam, uit een stuk: en hy het dit met koper oorgetrek.
3 Hy het ook al die gereedskap van die altaar gemaak: die potte en die skoppe en die komme, die vurke en die vuurpanne. Al dié gereedskap het hy van koper gemaak.
4 Ook het hy vir die altaar ‘n traliewerk gemaak, ‘n netwerk van koper, onder sy lys, onderaan tot by die helfte van die altaar.
5 En hy het vier ringe aan die vier ente van die kopertraliewerk gegiet, as plekke vir die draaghoute.
6 En hy het die draaghoute van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek.
7 En hy het die draaghoute in die ringe gesteek, aan die kante van die altaar, om dit daarmee te dra; hy het dit hol, van planke, gemaak.
8 Hy het ook die koperwaskom gemaak met sy kopervoetstuk, uit die spieëls van die diensdoende vroue wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het.
9 Hy het ook die voorhof gemaak. Aan die suidekant, na die suide toe, was daar die behangsels van die voorhof, van fyn dubbeldraad-linne, honderd el lank;
10 daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer;
11 en aan die noordekant honderd el; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
12 En aan die westekant was daar behangsels, vyftig el lank; daarby tien pilare met hulle tien voetstukke; die kramme en die ringe van die pilare was van silwer.
13 En aan die oostekant, teen sonop, was daar vyftig el;
14 vyftien el behangsels vir die een kant, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke;
15 en vir die ander kant—aan weerskante van die poort van die voorhof—vyftien el behangsels, daarby drie pilare met hulle drie voetstukke.
16 Al die behangsels van die voorhof rondom was van fyn dubbeldraad-linne;
17 en die voetstukke van die pilare was van koper, en die kramme en die ringe van die pilare van silwer; en die oortreksel van hulle toppe van silwer; en hulle self, al die pilare van die voorhof, was van silwerringe voorsien.
18 En die bedekking van die poort van die voorhof was veelkleurige werk, van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne: twintig el was die lengte, en die hoogte—tewens die breedte van die stof—vyf el, net soos die behangsels van die voorhof.
19 Daarby vier pilare met hulle vier voetstukke van koper en hulle kramme van silwer, en die oortreksel van hulle toppe en hulle ringe van silwer.
20 En al die penne vir die tabernakel en die voorhof rondom was van koper.
21 Dit is die berekening van die koste van die tabernakel, van die tabernakel van die Getuienis, soos dit bereken is op bevel van Moses, deur die diens van die Leviete, onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
22 En Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, het alles gemaak wat die HERE Moses beveel het.
23 En saam met hom Ohóliab, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan, ‘n ambagsman en kunstenaar en kunswewer in pers en in purperrooi en in bloedrooi stowwe en in fyn linne.
24 Al die goud wat vir die werk gebruik is, by al die werk van die heiligdom—die goud wat as offer aangebied was, het bedra nege en twintig talente en sewe honderd en dertig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom.
25 En die silwer van die geteldes van die vergadering was honderd talente en duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom;
26 ‘n beka vir elke persoon, dit is ‘n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom, van elkeen wat oorgegaan het na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, naamlik ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig man.
27 En die honderd talente silwer het gedien om die voetstukke van die heiligdom en die voetstukke van die voorhangsel te giet; honderd voetstukke vir honderd talente, ‘n talent vir ‘n voetstuk.
28 Maar van die duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels het hy kramme vir die pilare gemaak, en hy het hulle toppe oorgetrek en hulle van ringe voorsien.
29 En die koper wat as offer aangebied was, het bedra sewentig talente en twee duisend vier honderd sikkels.
30 En hy het daaruit die voetstukke van die ingang van die tent van samekoms gemaak en die koperaltaar en sy kopertraliewerk en al die gereedskap van die altaar;
31 en die voetstukke van die voorhof rondom en die voetstukke van die poort van die voorhof en al die penne van die tabernakel, ook al die penne van die voorhof rondom.




Hoofstuk 39

1 Hulle het ook kunstige klere van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe gemaak om in die heiligdom te dien. Ook het hulle die heilige klere vir Aäron gemaak soos die HERE Moses beveel het.
2 En hy het die skouerkleed gemaak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
3 En hulle het van die goud dun plate geslaan, en hy het dit in drade gesny om dit in te werk in die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en in die fyn linne—’n kunstige werk.
4 Hulle het daar skouerstukke aan gemaak wat aan mekaar vas was; aan die twee bo-ente was dit saamgevoeg.
5 En die band wat daaraan was om dit vas te bind, was daarmee saam uit een stuk, van dieselfde werk, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, soos die HERE Moses beveel het.
6 Hulle het ook die oniksstene gemaak, vasgesit in kassies van goud, gegraveer soos op ‘n seëlsteen ingesny word, volgens die name van die kinders van Israel.
7 En hy het hulle op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene aan die kinders van Israel, soos die HERE Moses beveel het.
8 Hy het ook die borstas van kunstige werk gemaak soos die werk van die skouerkleed; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
9 Dit was vierkantig; dubbel gevou het hulle die borstas gemaak; ‘n span sy lengte en ‘n span sy breedte, dubbel gevou was dit.
10 En hulle het daarin vier rye stene ingevul: ‘n ry met ‘n karneool, ‘n topaas en ‘n smarag was die eerste ry.
11 En die tweede ry: ‘n karbonkel, ‘n saffier en ‘n jaspis.
12 En die derde ry: ‘n hiasint, ‘n agaat en ‘n ametis.
13 En die vierde ry: ‘n chrisoliet, ‘n oniks en ‘n sardoniks; hulle is in kassies van goud vasgesit by hulle invulling.
14 En die stene was volgens die name van die kinders van Israel twaalf, volgens hulle name. Soos op ‘n seëlsteen uitgesny word, was hulle vir twaalf stamme, elkeen volgens sy naam.
15 Hulle het ook by die borstas gedraaide kettings gemaak, soos toutjies gedraai, van suiwer goud;
16 en hulle het twee goue kassies en twee goue ringe gemaak, en die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas bevestig,
17 en hulle het die twee goue toutjies aan die twee ringe aan die bo-ente van die borstas vasgemaak.
18 Maar die twee ander ente van die twee toutjies het hulle aan die twee kassies vasgemaak en dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed bevestig, aan die voorkant daarvan.
19 Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dié aan die twee onder-ente van die borstas bevestig, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.
20 En hulle het twee goue ringe gemaak en dié aan die twee skouerstukke van die skouerkleed bevestig, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band van die skouerkleed.
21 En hulle het die borstas, met sy ringe, aan die ringe van die skouerkleed met ‘n pers toutjie vasgebind, sodat dit bo die band van die skouerkleed sou wees en die borstas nie van die skouerkleed kon afskuiwe nie, soos die HERE Moses beveel het.
22 En hy het die mantel van die skouerkleed van wewerswerk gemaak, heeltemal van pers stof.
23 En die opening van die mantel was in die middel daarvan soos die opening van ‘n pantser; die opening het ‘n soom rondom gehad, dat dit nie sou skeur nie.
24 En aan die soom van die mantel het hulle granaatjies gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
25 Hulle het ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies gesit, aan die soom van die mantel rondom, tussen die granaatjies in:
26 ‘n klokkie en ‘n granaatjie, ‘n klokkie en ‘n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom, vir die diens, soos die HERE Moses beveel het.
27 Hulle het ook die rokke van fyn linne gemaak, van wewerswerk, vir Aäron en sy seuns;
28 en die tulband van fyn linne en die pronkmusse van fyn linne en die linnebroeke van fyn dubbeldraad-linne;
29 en die gordel van fyn dubbeldraad-linne en van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, veelkleurige werk, soos die HERE Moses beveel het.
30 Hulle het ook die plaat van die heilige kroon van suiwer goud gemaak en daarop geskrywe met letters soos dit op ‘n seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN DIE HERE.
31 En hulle het ‘n pers toutjie daaraan vasgemaak om dit bo-op die tulband te bevestig, soos die HERE Moses beveel het.
32 So is dan al die werk aan die tabernakel van die tent van samekoms voltooi; en die kinders van Israel het dit gemaak net soos die HERE Moses beveel het; so het hulle dit gemaak.
33 En hulle het die tabernakel na Moses gebring, die tent self met alles wat daarby behoort, sy hakies, sy style, sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke,
34 en die dekkleed van rooigeverfde ramsvelle en die dekkleed van robbevelle en die voorhangsel tot bedekking;
35 die ark van die Getuienis met sy draaghoute en die versoendeksel;
36 die tafel met al sy gereedskap en die toonbrode;
37 die suiwer kandelaar met sy lampe, die lampe wat daarop gerangskik moes word, met al sy gereedskap en die olie vir die kandelaar;
38 verder die goue altaar en die salfolie en die reukwerk van speserye en die bedekking vir die ingang van die tent;
39 die koperaltaar en sy kopertraliewerk, sy draaghoute met al sy gereedskap, die waskom en sy voetstuk;
40 die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking vir die poort van die voorhof, die lyne en penne wat daarby behoort, en al die gereedskap vir die diens in die tabernakel van die tent van samekoms;
41 die kunstige klere, om in die heiligdom te dien, die heilige klere van die priester Aäron en die klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien.
42 Net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel die hele werk gemaak.
43 En Moses het die hele werk bekyk—en hulle het dit gemaak soos die HERE beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Moses hulle geseën.




Hoofstuk 40

1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Op die dag van die eerste maand, op die eerste van die maand, moet jy die tabernakel van die tent van samekoms oprig.
3 En jy moet daarin plaas die ark van die Getuienis en die ark met die voorhangsel bedek.
4 Dan moet jy die tafel inbring en daarop regsit wat daarop behoort. Jy moet ook die kandelaar inbring en sy lampe opsteek.
5 En jy moet die goue altaar vir die reukwerk voor die ark van die Getuienis neersit. Dan moet jy die bedekking van die ingang van die tabernakel ophang.
6 Jy moet ook die brandofferaltaar voor die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neersit.
7 En jy moet die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar neersit en daar water in gooi.
8 En maak die voorhof rondom, en hang die bedekking aan die poort van die voorhof op.
9 Dan moet jy die salfolie neem, en jy moet die tabernakel salf en alles wat daarin is, en dit heilig met alles wat daarby behoort; en dit sal heilig wees.
10 Jy moet ook die brandofferaltaar salf met al sy gereedskap, en jy moet die altaar heilig, en die altaar sal hoogheilig wees.
11 Salf dan die waskom en sy voetstuk, en heilig dit.
12 Jy moet ook Aäron en sy seuns laat nader kom, na die ingang van die tent van samekoms toe, en jy moet hulle met water was.
13 Trek Aäron dan die heilige klere aan; en salf hom en heilig hom, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.
14 Jy moet ook sy seuns laat nader kom en hulle die rokke aantrek.
15 Salf hulle dan, soos jy hulle vader gesalf het, dat hulle vir My die priesteramp kan bedien. En hul salwing moet vir hulle ‘n ewige priesterskap in hulle geslagte wees.
16 En Moses het gedoen net soos die HERE hom beveel het; so het hy gedoen.
17 En in die eerste maand, in die tweede jaar, op die eerste van die maand, is die tabernakel opgerig.
18 En Moses het die tabernakel opgerig: hy het sy voetstukke neergesit en sy style daarop gesit en sy dwarshoute vasgemaak en sy pilare opgerig.
19 En hy het die tentseil oor die tabernakel gespan en die dekkleed van die tent daar bo-oor getrek, soos die HERE Moses beveel het.
20 Verder het hy die Getuienis geneem en dit in die ark neergelê en die draaghoute aan die kant van die ark ingesteek, en die versoendeksel het hy bo-op die ark gesit.
21 Toe het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel tot bedekking opgehang en die ark van die Getuienis bedek, soos die HERE Moses beveel het.
22 Hy het ook die tafel in die tent van samekoms neergesit, aan die kant van die tabernakel, teen die noorde, buitekant die voorhangsel.
23 En hy het die brood daarop gerangskik voor die aangesig van die HERE, soos die HERE Moses beveel het.
24 Hy het ook die kandelaar in die tent van samekoms gesit, teenoor die tafel, aan die suidekant van die tabernakel.
25 En hy het die lampe opgesteek, voor die aangesig van die HERE, soos die HERE Moses beveel het.
26 En hy het die goue altaar in die tent van samekoms neergesit, voor die voorhangsel,
27 en reukwerk van speserye daarop aan die brand gesteek, soos die HERE Moses beveel het.
28 Hy het ook die bedekking van die ingang van die tabernakel opgehang.
29 En hy het die brandofferaltaar by die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neergesit, en hy het daarop die brandoffer en die spysoffer gebring, soos die HERE Moses beveel het.
30 Hy het ook die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar gesit, en hy het daar water in gegooi om mee te was.
31 En Moses en Aäron en sy seuns het daaruit hulle hande en voete gewas.
32 As hulle ingaan in die tent van samekoms of nader kom na die altaar, het hulle hul elke keer gewas, soos die HERE Moses beveel het.
33 Hy het ook die voorhof opgerig, rondom die tabernakel en die altaar, en die bedekking vir die poort van die voorhof opgehang. So het Moses dan die werk voltooi.
34 Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die HERE het die tabernakel vervul,
35 sodat Moses nie in die tent van samekoms kon ingaan nie, omdat die wolk daarop gerus en die heerlikheid van die HERE die tabernakel vervul het.
36 En as die wolk van die tabernakel af optrek, het die kinders van Israel elke keer weggetrek op al hulle togte;
37 maar as die wolk nie optrek nie, dan trek hulle nie weg nie, totdat dit weer optrek.
38 Want die wolk van die HERE was bedags op die tabernakel, en vuur was snags daarin, voor die oë van die hele huis van Israel, op al hulle togte.