Numeri - Numbers

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Verder het die HERE met Moses gespreek in die woestyn Sinai, in die tent van samekoms, op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, en gesê:
2 Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, almal wat manlik is, hoof vir hoof;
3 van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek in Israel, dié moet julle tel volgens hulle leërafdelings, jy en Aäron.
4 En met julle saam moet daar van elke stam ‘n man wees, ‘n man wat hoof is van sy families.
5 En dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: Vir Ruben: Elísur, die seun van Sedéür;
6 vir Símeon: Selúmiël, die seun van Surísaddai;
7 vir Juda: Nagson, die seun van Ammínadab;
8 vir Issaskar: Netáneël, die seun van Suar;
9 vir Sébulon: Elíab, die seun van Helon;
10 vir die kinders van Josef: vir Efraim: Elisáma, die seun van Ammíhud; vir Manasse: Gámliël, die seun van Pedásur;
11 vir Benjamin: Abídan, die seun van Gideóni;
12 vir Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai;
13 vir Aser: Págiël, die seun van Ogran;
14 vir Gad: Éljasaf, die seun van Réhuel;
15 vir Náftali: Ahíra, die seun van Enan.
16 Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel.
17 Toe het Moses en Aäron dié manne geneem wat met hulle name aangewys was,
18 en hulle het die hele vergadering op die eerste dag van die tweede maand bymekaar laat kom; en dié het hulle afkoms opgegee volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, hoof vir hoof,
19 soos die HERE Moses beveel het. En hy het hulle getel in die woestyn Sinai.
20 En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel—hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
21 hulle geteldes van die stam van Ruben was ses en veertig duisend vyf honderd.
22 Van die seuns van Símeon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
23 hulle geteldes van die stam van Símeon was nege en vyftig duisend drie honderd.
24 Van die seuns van Gad, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
25 hulle geteldes van die stam van Gad was vyf en veertig duisend ses honderd en vyftig.
26 Van die seuns van Juda, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
27 hulle geteldes van die stam van Juda was vier en sewentig duisend ses honderd.
28 Van die seuns van Issaskar, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
29 hulle geteldes van die stam van Issaskar was vier en vyftig duisend vier honderd.
30 Van die seuns van Sébulon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
31 hulle geteldes van die stam van Sébulon was sewe en vyftig duisend vier honderd.
32 Van die seuns van Josef, van die seuns van Efraim, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
33 hulle geteldes van die stam van Efraim was veertig duisend vyf honderd;
34 van die seuns van Manasse, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
35 hulle geteldes van die stam van Manasse was twee en dertig duisend twee honderd.
36 Van die seuns van Benjamin, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
37 hulle geteldes van die stam van Benjamin was vyf en dertig duisend vier honderd.
38 Van die seuns van Dan, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
39 hulle geteldes van die stam van Dan was twee en sestig duisend sewe honderd.
40 Van die seuns van Aser, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
41 hulle geteldes van die stam van Aser was een en veertig duisend vyf honderd.
42 Van die seuns van Náftali, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek—
43 hulle geteldes van die stam van Náftali was drie en vyftig duisend vier honderd.
44 Dit is die geteldes wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het; twaalf man was dit, elkeen vir sy families.
45 So was dan al die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in Israel op kommando moet uittrek—
46 al die geteldes dan was ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig.
47 Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie.
48 Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê:
49 Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie;
50 maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan.
51 En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word.
52 En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings.
53 Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem.
54 En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.




Hoofstuk 2

1 En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2 Die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen by sy vaandel by die veldtekens van hulle families; op ‘n afstand rondom die tent van samekoms moet hulle laer opslaan.
3 En die wat aan die oostekant, teen sonop, laer opslaan, moet wees: die vaandel van die laer van Juda volgens hulle leërafdelings; en Nagson, die seun van Ammínadab, moet owerste oor die seuns van Juda wees.
4 En sy leër met hulle geteldes was vier en sewentig duisend ses honderd.
5 En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Issaskar; en Netáneël, die seun van Suar, moet owerste oor die seuns van Issaskar wees.
6 En sy leër met hulle geteldes was vier en vyftig duisend vier honderd.
7 Verder die stam van Sébulon; en Elíab, die seun van Helon, moet owerste oor die seuns van Sébulon wees.
8 En sy leër met sy geteldes was sewe en vyftig duisend vier honderd.
9 Al die geteldes in die laer van Juda was honderd ses en tagtig duisend vier honderd volgens hulle leërafdelings. Hulle moet eerste opbreek.
10 Die vaandel van die laer van Ruben volgens hulle leërafdelings moet aan die suidekant wees; en Elísur, die seun van Sedéür, moet owerste oor die seuns van Ruben wees.
11 En sy leër met sy geteldes was ses en veertig duisend vyf honderd.
12 En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Símeon; en Selúmiël, die seun van Surísaddai, moet owerste oor die seuns van Símeon wees.
13 En sy leër met hulle geteldes was nege en vyftig duisend drie honderd.
14 Verder die stam van Gad; en Éljasaf, die seun van Réhuel, moet owerste oor die seuns van Gad wees.
15 En sy leër met hulle geteldes was vyf en veertig duisend ses honderd en vyftig.
16 Al die geteldes in die laer van Ruben was honderd een en vyftig duisend vier honderd en vyftig volgens hulle leërafdelings. En hulle moet tweede opbreek.
17 Daarna moet die tent van samekoms opbreek: die laer van die Leviete, tussen die ander laers in. Soos hulle laer opslaan, so moet hulle opbreek, elkeen op sy plek volgens hulle vaandels.
18 Die vaandel van die laer van Efraim volgens hulle leërafdelings moet aan die westekant wees; en Elisáma, die seun van Ammíhud, moet owerste oor die seuns van Efraim wees.
19 En sy leër met hulle geteldes was veertig duisend vyf honderd.
20 En langs hom die stam van Manasse; en Gámliël, die seun van Pedásur, moet owerste oor die seuns van Manasse wees.
21 En sy leër met hulle geteldes was twee en dertig duisend twee honderd.
22 Verder die stam van Benjamin; en Abídan, die seun van Gideóni, moet owerste oor die seuns van Benjamin wees.
23 En sy leër met hulle geteldes was vyf en dertig duisend vier honderd.
24 Al die geteldes in die laer van Efraim was honderd en agt duisend een honderd volgens hulle leërafdelings. En hulle moet derde opbreek.
25 Die vaandel van die laer van Dan moet aan die noordekant wees volgens hulle leërafdelings: en Ahiëser, die seun van Ammísaddai, moet owerste oor die seuns van Dan wees.
26 En sy leër met hulle geteldes was twee en sestig duisend sewe honderd.
27 En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Aser; en Págiël, die seun van Ogran, moet owerste oor die seuns van Aser wees.
28 En sy leër met hulle geteldes was een en veertig duisend vyf honderd.
29 Verder die stam van Náftali; en Ahíra, die seun van Enan, moet owerste oor die seuns van Náftali wees.
30 En sy leër met hulle geteldes was drie en vyftig duisend vier honderd.
31 Al die geteldes in die laer van Dan was honderd sewe en vyftig duisend ses honderd. Hulle moet laaste opbreek volgens hulle vaandels.
32 Dit is die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families. Al die geteldes van die laers volgens hulle leërafdelings was ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig.
33 Maar die Leviete is onder die kinders van Israel nie getel nie, soos die HERE Moses beveel het.
34 En die kinders van Israel het gedoen net soos die HERE Moses beveel het; so het hulle laer opgeslaan volgens hulle vaandels, en so het hulle opgebreek elkeen volgens sy geslagte, by sy families.




Hoofstuk 3

1 En dit is die nakomelinge van Aäron en Moses op die dag toe die HERE met Moses op die berg Sinai gespreek het.
2 En dit is die name van die seuns van Aäron: die eersgeborene Nadab, daarna Abíhu, Eleásar en Itamar.
3 Dit is die name van die seuns van Aäron, die gesalfde priesters, wat hy aangestel het om die priesteramp te bedien.
4 Maar Nadab en Abíhu het gesterwe voor die aangesig van die HERE toe hulle vreemde vuur voor die aangesig van die HERE in die woestyn Sinai gebring het, en hulle het geen kinders gehad nie; maar Eleásar en Itamar het die priesteramp bedien voor die oë van hulle vader Aäron.
5 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
6 Laat die stam van Levi nader kom, en stel hulle voor die priester Aäron, dat hulle hom kan dien.
7 En hulle moet sy diens waarneem en die diens van die hele vergadering voor die tent van samekoms, om die dienswerk van die tabernakel te verrig.
8 En hulle moet sorg vir al die gereedskap van die tent van samekoms en vir die diens van die kinders van Israel, om die dienswerk van die tabernakel te verrig.
9 En jy moet die Leviete aan Aäron en sy seuns gee; hulle is heeltemal aan hom gegee uit die kinders van Israel.
10 Maar Aäron en sy seuns moet jy aanstel, dat hulle hul priesteramp kan waarneem; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word.
11 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
12 Kyk, Ek self het die Leviete geneem onder die kinders van Israel uit in die plek van al die eersgeborenes wat die moederskoot open, uit die kinders van Israel, dat die Leviete myne kan wees.
13 Want al die eersgeborenes is myne: op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig, mense sowel as diere; hulle moet myne wees. Ek is die HERE.
14 En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai en gesê:
15 Tel die seuns van Levi volgens hulle families, volgens hulle geslagte; almal wat manlik is, van ‘n maand oud en daarbo—dié moet jy tel.
16 En Moses het hulle volgens die bevel van die HERE getel soos dit hom beveel is.
17 En dit was die seuns van Levi volgens hulle name: Gerson en Kehat en Merári.
18 En dit is die name van die seuns van Gerson volgens hulle geslagte: Libni en Símeï.
19 En die seuns van Kehat volgens hulle geslagte: Amram en Jishar, Hebron en Ussiël.
20 En die seuns van Merári volgens hulle geslagte: Magli en Musi. Dit is die geslagte van die Leviete volgens hulle families.
21 Aan Gerson behoort die geslag van die Libniete en die geslag van die Simeïete. Dit is die geslagte van die Gersoniete.
22 Hulle geteldes volgens die getal van almal wat manlik was, van ‘n maand oud en daarbo—húlle geteldes was sewe duisend vyf honderd.
23 Die geslagte van die Gersoniete moet laer opslaan agter die tabernakel aan die westekant.
24 En owerste oor die familie van die Gersoniete moet Éljasaf, die seun van Lael, wees.
25 En die seuns van Gerson moet by die tent van samekoms versorg: die tabernakel en die tent, sy dekkleed en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms;
26 en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en sy lyne—alles wat by sy bediening behoort.
27 En aan Kehat het behoort die geslag van die Amramiete en die geslag van die Jishariete en die geslag van die Hebroniete en die geslag van die Ussiëliete. Dit is die geslagte van die Kehatiete.
28 Volgens die getal van almal wat manlik is, van ‘n maand oud en daarbo, was daar agt duisend ses honderd wat die diens van die heiligdom waargeneem het.
29 Die geslagte van die seuns van Kehat moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, aan die suidekant.
30 En owerste oor die familie vir die geslagte van die Kehatiete moet wees Elísafan, die seun van Ussiël.
31 En hulle moet versorg: die ark en die tafel en die kandelaar en die altare en die gereedskap van die heiligdom waarmee hulle diens doen, en die voorhangsel en alles wat by die bediening daarvan behoort.
32 En die hoof van die owerstes van Levi moet wees Eleásar, die seun van Aäron, die priester, die opsigter oor die wat die diens van die heiligdom waarneem.
33 Aan Merári het behoort die geslag van die Magliete en die geslag van die Musiete. Dit is die geslagte van Merári.
34 En hulle geteldes volgens die getal van almal wat manlik is, van ‘n maand oud en daarbo, was ses duisend twee honderd.
35 En die owerste van die familie vir die geslagte van Merári moet wees Súriël, die seun van Abihail; hulle moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, aan die noordekant.
36 En die toesig van die seuns van Merári—wat hulle te besorg het—moet wees oor die style van die tabernakel en sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke en al die gereedskap sowel as die hele diens wat daarby behoort;
37 en die pilare van die voorhof rondom en hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne.
38 En die wat voor die tabernakel laer opslaan, aan die oostekant, voor die tent van samekoms, teen sonop, moet wees Moses en Aäron met sy seuns wat die diens van die heiligdom waarneem, naamlik die diens vir die kinders van Israel; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word.
39 Al die geteldes van die Leviete wat Moses en Aäron volgens die bevel van die HERE, volgens hulle geslagte getel het, almal wat manlik was, van ‘n maand oud en daarbo, was twee en twintig duisend.
40 En die HERE het aan Moses gesê: Tel al die manlike eersgeborenes van die kinders van Israel, van ‘n maand oud en daarbo, en neem die getal van hulle name op.
41 En jy moet vir My—Ek is die HERE—die Leviete neem in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel, en die vee van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die vee van die kinders van Israel.
42 En Moses het, soos die HERE hom beveel het, al die eersgeborenes onder die kinders van Israel getel.
43 En al die manlike eersgeborenes volgens die getal name, van ‘n maand oud en daarbo, volgens hulle geteldes, was twee en twintig duisend twee honderd drie en sewentig.
44 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
45 Neem die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel, en die vee van die Leviete in die plek van hulle vee, sodat die Leviete myne kan wees. Ek is die HERE.
46 Wat aangaan die loskoping van die twee honderd drie en sewentig wat oor is bo die Leviete, uit die eersgeborenes van die kinders van Israel,
47 moet jy per hoof vyf sikkels neem; volgens die sikkel van die heiligdom moet jy dit neem; die sikkel is twintig gera.
48 En jy moet die geld as losprys van die wat onder hulle oor is, aan Aäron en sy seuns gee.
49 Daarop het Moses die loskoopgeld geneem van die wat oor was bo die wat deur die Leviete losgekoop was;
50 van die eersgeborenes van die kinders van Israel het hy die geld geneem, duisend drie honderd vyf en sestig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom.
51 En Moses het die loskoopgeld aan Aäron en sy seuns gegee volgens die bevel van die HERE, soos die HERE Moses beveel het.




Hoofstuk 4

1 En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2 Neem die volle getal van die seuns van Kehat op, onder die seuns van Levi uit, volgens hulle geslagte, volgens hulle families,
3 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om werk by die tent van samekoms te verrig.
4 Dit sal die dienswerk van die seuns van Kehat by die tent van samekoms wees, naamlik die hoogheilige dinge.
5 By die opbreek van die laer moet Aäron en sy seuns kom en die voorhangsel tot bedekking afneem en daarmee die ark van die Getuienis bedek.
6 En hulle moet ‘n dekkleed van robbevelle daarop sit en ‘n doek, heeltemal van pers stof, daar bo-oor uitsprei en sy draaghoute insteek.
7 Hulle moet ook oor die toonbroodtafel ‘n pers doek uitsprei en daarop neersit die skottels en die rookpanne en die bekers en die drankofferkanne; ook moet die altyd-blywende brood daarop wees.
8 Daarna moet hulle ‘n skarlaken doek daaroor uitsprei en dit met ‘n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek.
9 Dan moet hulle ‘n pers doek neem en die kandelaar tot verligting bedek, met sy lampe en sy snuiters en sy bakkies en al sy oliekanne waarmee hulle daarby diens doen.
10 En hulle moet dit met al sy gereedskap op ‘n dekkleed van robbevelle neerlê en dit op die draagbaar sit.
11 En oor die goue altaar moet hulle ‘n pers doek uitsprei en dit met ‘n dekkleed van robbevelle toemaak en sy draaghoute insteek.
12 Hulle moet ook al die gereedskap neem waarmee hulle diens in die heiligdom doen, en dit op ‘n pers doek neerlê en met ‘n dekkleed van robbevelle toemaak en dit op die draagbaar sit.
13 En hulle moet die as van die altaar verwyder en daar ‘n purper doek oor uitsprei.
14 En hulle moet al sy gereedskap daarop neersit waarmee hulle daarby diens doen: die vuurpanne, die vurke en die skoppe en die komme, al die gereedskap van die altaar; en hulle moet daar ‘n dekkleed van robbevelle oor uitsprei en sy draaghoute insteek.
15 En eers nadat Aäron en sy seuns, by die opbreek van die laer, klaar is met die toemaak van die heiligdom en van al die gereedskap van die heiligdom, moet die seuns van Kehat kom om te dra; maar hulle mag nie aan die heilige dinge raak nie, sodat hulle nie sterwe nie. Hierdie dinge is dit wat die seuns van Kehat moet dra van die tent van samekoms.
16 En die toesig van Eleásar, die seun van die priester Aäron, gaan oor die olie vir die kandelaar en die reukwerk van speserye en die voortdurende spysoffer en die salfolie; die toesig oor die hele tabernakel en oor alles wat daarin is: die heiligdom en bybehorende gereedskap.
17 En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
18 Sorg dat die stam van die geslagte van die Kehatiete nie onder die Leviete uitgeroei word nie.
19 Maar doen vir hulle dit, sodat hulle lewe en nie sterwe nie as hulle na die hoogheilige dinge aankom: Aäron en sy seuns moet ingaan en hulle aanstel elkeen oor sy dienswerk en oor wat hy moet dra.
20 Maar hulle moet nie inkom om vir ‘n oomblik die heiligdom te sien nie, sodat hulle nie sterwe nie.
21 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
22 Neem die volle getal op ook van die seuns van Gerson volgens hulle families, volgens hulle geslagte.
23 Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat verplig is om diens te doen, om dienswerk te verrig by die tent van samekoms.
24 Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer:
25 hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms
26 en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig.
27 Die hele dienswerk van die seuns van die Gersoniete—alles wat hulle moet dra en hulle hele diens—moet wees volgens die bevel van Aäron en sy seuns; en julle moet hulle al hulle drawerk aanwys om dit waar te neem.
28 Dit is die dienswerk vir die geslagte van die seuns van die Gersoniete by die tent van samekoms; en wat hulle te besorg het, moet plaasvind onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
29 Wat aangaan die seuns van Merári—dié moet jy tel volgens hulle geslagte, volgens hulle families.
30 Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig.
31 En dit is wat by hulle drawerk besorg moet word, hulle hele dienswerk by die tent van samekoms: die style van die tabernakel met sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke
32 en die pilare van die voorhof rondom met hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne—al die gereedskap sowel as alles wat by die bediening daarvan behoort. En die gereedskap wat by hulle drawerk besorg moet word, moet julle met die naam aanwys.
33 Dit is die dienswerk vir die geslagte van die seuns van Merári, hulle hele diens by die tent van samekoms onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
34 En Moses en Aäron en die owerstes van die vergadering het die seuns van die Kehatiete getel volgens hulle geslagte en volgens hulle families;
35 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die tent van samekoms.
36 En hulle geteldes was volgens hulle geslagte twee duisend sewe honderd en vyftig.
37 Dit is die geteldes van die geslagte van die Kehatiete, almal wat by die tent van samekoms gedien het, wat Moses en Aäron volgens die bevel van die HERE deur die diens van Moses getel het.
38 En die geteldes van die seuns van Gerson volgens hulle geslagte en volgens hulle families,
39 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die tent van samekoms—
40 hulle geteldes was volgens hulle geslagte, volgens hulle families, twee duisend ses honderd en dertig.
41 Dit is die geteldes van die geslagte van Gerson se seuns, almal wat by die tent van samekoms gedien het, wat Moses en Aäron volgens die bevel van die HERE getel het.
42 En die geteldes van die geslagte van Merári se seuns volgens hulle geslagte, volgens hulle families,
43 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was insake die dienswerk by die tent van samekoms—
44 hulle geteldes was volgens hulle geslagte drie duisend twee honderd.
45 Dit is die geteldes van die geslagte van Merári se seuns wat Moses en Aäron volgens die bevel van die HERE deur die diens van Moses getel het.
46 Al die getelde Leviete wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het, volgens hulle geslagte en volgens hulle families,
47 van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig was om dienswerk te verrig en die werk van vervoer by die tent van samekoms—
48 hulle geteldes was agt duisend vyf honderd en tagtig.
49 Volgens die bevel van die HERE deur tussenkoms van Moses is hulle aangewys elkeen vir sy diens en vir sy drawerk; naamlik die geteldes, soos die HERE Moses beveel het.




Hoofstuk 5

1 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
2 Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle uit die laer wegstuur al die melaatse mense en almal wat ‘n vloeiing het, en almal wat deur ‘n lyk onrein is.
3 Man sowel as vrou moet julle wegstuur; buitekant die laer moet julle hulle wegstuur, sodat hulle nie hul laer verontreinig waar Ek in hulle midde woon nie.
4 En die kinders van Israel het so gedoen en hulle buitekant die laer gestuur; soos die HERE met Moses gespreek het, so het die kinders van Israel gedoen.
5 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
6 Spreek met die kinders van Israel: As ‘n man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen die HERE gehandel word, en dié siel skuldig word,
7 dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het, bely; daarna moet hy wat hy skuldig is, ten volle teruggee en die vyfde deel daarvan byvoeg, en hy moet dit aan dié een gee teen wie hy hom skuldig gemaak het.
8 Maar as die man geen losser het aan wie die skuld teruggegee kan word nie, behoort die skuld wat teruggegee moet word, aan die HERE, aan die priester, behalwe die versoeningsram waarmee hy vir hom versoening doen.
9 En elke heffing van al die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle na die priester bring, moet syne wees.
10 En elkeen se heilige gawes dit moet syne wees: wat iemand aan die priester gee, moet syne wees.
11 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
12 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand se vrou afwyk en ‘n troubreuk teen hom begaan,
13 en ‘n man met haar vleeslike gemeenskap het, maar dit vir die oë van haar man verborge bly en sy nie uitgevind is nie—hoewel sy haar verontreinig het—terwyl daar geen getuie teen haar is en sy nie betrap is nie;
14 en daar kom ‘n gees van jaloersheid oor hom, sodat hy jaloers word op sy vrou terwyl sy haar inderdaad verontreinig het; of ‘n gees van jaloersheid kom oor hom, sodat hy jaloers word op sy vrou terwyl sy haar nie verontreinig het nie;
15 dan moet die man sy vrou na die priester bring, en hy moet haar offer vir haar saambring: ‘n tiende van ‘n efa garsmeel; hy moet daar geen olie op giet en geen wierook daar byvoeg nie, omdat dit ‘n spysoffer van jaloersheid is, ‘n gedenkoffer wat die ongeregtigheid in gedagtenis bring.
16 En die priester moet haar laat nader kom en haar voor die aangesig van die HERE stel.
17 En die priester moet heilige water in ‘n erdepot neem; en van die stof wat op die vloer van die tabernakel is, moet die priester neem en in die water gooi.
18 Daarna moet die priester die vrou voor die aangesig van die HERE stel en die hare van die vrou losmaak, en hy moet die gedenkoffer op haar hande sit—’n spysoffer van jaloersheid is dit; en in die hand van die priester moet daar wees die water van bitter smart wat die vloek bring.
19 En die priester moet haar besweer en aan die vrou sê: As geen man met jou gemeenskap gehad het nie, en jy, terwyl jy aan jou man toebehoort het, nie afgewyk het in onreinheid nie—wees dan vry van hierdie water van bitter smart wat die vloek bring.
20 Maar as jy, terwyl jy aan jou man toebehoort het, afgewyk en jou verontreinig het deurdat ‘n man behalwe jou eie man met jou vleeslike gemeenskap gehad het—
21 so moet dan die priester die vrou met die eed van vervloeking besweer, en die priester moet aan die vrou sê: Mag die HERE jou tot ‘n vervloeking en ‘n verwensing maak onder jou volk deurdat die HERE jou heup laat inval en jou skoot laat opswel;
22 en mag hierdie water wat die vloek bring, in jou ingewande ingaan om die skoot te laat opswel en die heup te laat inval. Dan moet die vrou sê: Amen, amen!
23 Daarna moet die priester hierdie vervloekinge op ‘n blad skrywe en dit in die water van bitter smart uitwis;
24 en hy moet die vrou laat drink die water van bitter smart wat die vloek bring, sodat die water wat die vloek bring, in haar kan ingaan tot bitter smart.
25 En die priester moet uit die hand van die vrou die spysoffer van jaloersheid neem en die spysoffer voor die aangesig van die HERE beweeg en dit na die altaar bring.
26 Die priester moet ook van die spysoffer ‘n handvol, as gedenkoffer daarvan, neem en dit op die altaar aan die brand steek; en daarna moet hy die vrou die water laat drink.
27 En as hy haar die water laat drink het, dan sal, as sy haar verontreinig en teen haar man troubreuk begaan het, die water wat die vloek bring, as bitter smart in haar ingaan, en haar skoot sal opswel en haar heup inval; en die vrou sal onder haar volk ‘n vervloeking wees.
28 Maar as die vrou haar nie verontreinig het nie, maar rein is, sal sy vry wees en swanger word.
29 Dit is die wet oor die jaloersheid: As ‘n vrou afwyk terwyl sy aan haar man toebehoort, en haar verontreinig;
30 of as oor ‘n man die gees van jaloersheid kom en hy op sy vrou jaloers word—dan moet hy die vrou voor die aangesig van die HERE stel, en die priester moet met haar handel volgens hierdie hele wet.
31 En die man sal vry wees van ongeregtigheid, maar dié vrou sal haar ongeregtigheid dra.




Hoofstuk 6

1 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As ‘n man of ‘n vrou ‘n besondere gelofte aflê, die gelofte van ‘n nasireër, om hom aan die HERE te wy,
3 moet hy hom van wyn en sterk drank onthou; wyn-asyn en asyn van sterk drank mag hy nie drink nie, ja, geen druiwesap mag hy drink nie en geen vars of gedroogde druiwe eet nie.
4 Al die dae van sy nasireërskap mag hy niks eet van alles wat van die wynstok gemaak is nie, selfs nie van die pitte en doppe nie.
5 Al die dae van die gelofte van sy nasireërskap mag geen skeermes oor sy hoof gaan nie. Totdat die dae om is dat hy hom aan die HERE toewy, moet hy heilig wees—hy moet die hare van sy hoof vry laat groei.
6 Al die dae dat hy hom aan die HERE gewy het, mag hy nie by ‘n dooie kom nie.
7 Aan sy vader of sy moeder, aan sy broer of sy suster—aan hulle mag hy hom nie verontreinig as hulle dood is nie; want die wyding van sy God is op sy hoof.
8 Al die dae van sy nasireërskap is hy heilig aan die HERE.
9 En as heeltemal onverwags iemand by hom sterwe, sodat hy sy gewyde hoof verontreinig, moet hy op die dag van sy reiniging sy hoof skeer; op die sewende dag moet hy dit skeer.
10 En op die agtste dag moet hy twee tortelduiwe of twee jong duiwe na die priester, na die ingang van die tent van samekoms, bring.
11 En die priester moet een as sondoffer en een as brandoffer berei en vir hom versoening doen vir wat hy uit oorsaak van die dooie gesondig het; so moet hy dan sy hoof op dieselfde dag heilig.
12 Daarna moet hy die dae van sy nasireërskap aan die HERE wy en ‘n jaaroud lam as skuldoffer bring; en die vorige dae moet wegval, omdat sy nasireërskap verontreinig is.
13 En dit is die wet van die nasireër: Op die dag as die dae van sy nasireërskap om is, moet hulle hom na die ingang van die tent van samekoms bring;
14 en hy moet sy offer aan die HERE bring: een jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer en een jaaroud ooilam sonder gebrek as sondoffer en een ram sonder gebrek as dankoffer
15 en ‘n mandjie ongesuurde koeke van fynmeel, koeke met olie gemeng en ongesuurde platkoeke met olie bestryk, en die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort.
16 En die priester moet dit voor die aangesig van die HERE bring en die sondoffer en brandoffer vir hom berei.
17 Hy moet ook die ram as dankoffer aan die HERE gereedmaak saam met die mandjie ongesuurde koeke; en die priester moet die spysoffer en drankoffer vir hom berei.
18 Dan moet die nasireër by die ingang van die tent van samekoms sy gewyde hoof skeer en die hare van sy gewyde hoof neem en dit op die vuur gooi wat onder die dankoffer is.
19 Verder moet die priester die gekookte blad van die ram afneem en een ongesuurde koek uit die mandjie en een ongesuurde platkoek; en hy moet hulle op die hande van die nasireër sit nadat dié sy gewyde hare afgeskeer het.
20 En die priester moet dit beweeg as beweegoffer voor die aangesig van die HERE. Dit is iets heiligs vir die priester saam met die bors van die beweegoffer en die boud van die hefoffer. En daarna mag die nasireër wyn drink.
21 Dit is die wet vir die nasireër wat sy offer aan die HERE beloof op grond van sy nasireërskap, behalwe wat hy verder kan bekostig. Volgens sy gelofte wat hy afgelê het, só moet hy doen volgens die wet van sy nasireërskap.
22 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
23 Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê:
24 Die HERE sal jou seën en jou behoed;
25 die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
26 die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
27 So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.




Hoofstuk 7

1 En op die dag toe Moses die tabernakel klaar opgerig en dit gesalf en geheilig het met al sy gereedskap, en die altaar met al sy gereedskap, en hy dit gesalf en geheilig het,
2 het die owerstes van Israel, die hoofde van hulle families, offers gebring—hulle was die owerstes van die stamme, hulle wat oor die geteldes gestaan het—
3 hulle het hul offer voor die aangesig van die HERE gebring: ses tentwaens en twaalf beeste; ‘n wa vir twee owerstes en ‘n bees vir elkeen; en hulle het dit voor die tabernakel gebring.
4 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
5 Neem dit van hulle aan, dat dit kan gebruik word om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig; en jy moet dit aan die Leviete gee, aan elkeen volgens sy dienswerk.
6 Toe het Moses die waens en die beeste geneem en dit aan die Leviete gegee:
7 twee waens en vier beeste het hy aan die seuns van Gerson gegee volgens hulle dienswerk;
8 en vier waens en agt beeste het hy aan die seuns van Merári gegee volgens hulle dienswerk, onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
9 Maar aan die seuns van Kehat het hy niks gegee nie; want die diens van die heiligdom het op hulle gerus: hulle moes dit op die skouers dra.
10 En die owerstes het die inwydingsgawe van die altaar gebring op die dag toe dit gesalf is, en die owerstes het hulle offer voor die altaar gebring.
11 En die HERE het aan Moses gesê: Elke owerste moet, elkeen op ‘n afsonderlike dag, sy offer bring vir die inwyding van die altaar.
12 En hy wat op die eerste dag sy offer gebring het, was Nagson, die seun van Ammínadab, van die stam van Juda.
13 En sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
14 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
15 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
16 een bokram as sondoffer;
17 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Nagson, die seun van Ammínadab.
18 Op die tweede dag het Netáneël, die seun van Suar, die owerste van Issaskar, aangebring—
19 hy het sy offer gebring: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
20 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
21 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
22 een bokram as sondoffer;
23 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Netáneël, die seun van Suar.
24 Op die derde dag die owerste van die kinders van Sébulon, Elíab, die seun van Helon.
25 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
26 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
27 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
28 een bokram as sondoffer;
29 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elíab, die seun van Helon.
30 Op die vierde dag die owerste van die kinders van Ruben, Elísur, die seun van Sedéür.
31 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
32 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
33 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
34 een bokram as sondoffer;
35 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elísur, die seun van Sedéür.
36 Op die vyfde dag die owerste van die kinders van Símeon, Selúmiël, die seun van Surísaddai.
37 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
38 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
39 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
40 een bokram as sondoffer;
41 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Selúmiël, die seun van Surísaddai.
42 Op die sesde dag die owerste van die kinders van Gad, Éljasaf, die seun van Réhuel.
43 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
44 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
45 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
46 een bokram as sondoffer;
47 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Éljasaf, die seun van Réhuel.
48 Op die sewende dag die owerste van die kinders van Efraim, Elisáma, die seun van Ammíhud.
49 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
50 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
51 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
52 een bokram as sondoffer;
53 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elisáma, die seun van Ammíhud.
54 Op die agtste dag die owerste van die kinders van Manasse, Gámliël, die seun van Pedásur.
55 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
56 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
57 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
58 een bokram as sondoffer;
59 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Gámliël, die seun van Pedásur.
60 Op die negende dag die owerste van die kinders van Benjamin, Abídan, die seun van Gideóni.
61 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
62 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
63 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
64 een bokram as sondoffer;
65 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Abídan, die seun van Gideóni.
66 Op die tiende dag die owerste van die kinders van Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai.
67 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
68 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
69 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
70 een bokram as sondoffer;
71 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Ahiëser, die seun van Ammísaddai.
72 Op die elfde dag die owerste van die kinders van Aser, Págiël, die seun van Ogran.
73 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
74 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
75 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
76 een bokram as sondoffer;
77 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Págiël, die seun van Ogran.
78 Op die twaalfde dag die owerste van die kinders van Náftali, Ahíra, die seun van Enan.
79 Sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer;
80 een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk;
81 een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer;
82 een bokram as sondoffer;
83 en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Ahíra, die seun van Enan.
84 Dit was die inwydingsgawe van die altaar van die kant van Israel se owerstes op die dag toe dit gesalf is: twaalf silwerskottels, twaalf silwerkomme, twaalf goue rookpanne—
85 elke skottel honderd en dertig sikkels silwer, en elke kom sewentig; al die silwer van die goed was twee duisend vier honderd volgens die sikkel van die heiligdom—
86 twaalf goue rookpanne, vol reukwerk; elke rookpan tien sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; al die goud van die rookpanne was honderd en twintig sikkels.
87 Al die beeste vir die brandoffer was twaalf bulle; die ramme twaalf, die jaaroud lammers twaalf, met hulle spysoffer; en twaalf bokramme as sondoffer.
88 En al die beeste vir die dankoffer was vier en twintig bulle; die ramme sestig, die bokramme sestig, die jaaroud lammers sestig. Dit is die inwydingsgawe van die altaar nadat dit gesalf is.
89 En as Moses in die tent van samekoms gegaan het om met Hom te spreek, het hy die stem met hom hoor spreek van die versoendeksel af wat op die ark van die Getuienis is, tussen die twee gérubs uit. So het Hy dan met hom gespreek.




Hoofstuk 8

1 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met Aäron en sê vir hom: As jy die lampe opsteek, moet die sewe lampe aan die voorkant van die kandelaar lig gee.
3 En Aäron het so gedoen: aan die voorkant van die kandelaar het hy dié lampe opgesteek soos die HERE Moses beveel het.
4 En dit was die maaksel van die kandelaar: dryfwerk uit goud; selfs sy voetstuk en sy blomme was dryfwerk; volgens die beeltenis wat die HERE aan Moses getoon het, so het hy die kandelaar gemaak.
5 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
6 Neem die Leviete onder die kinders van Israel uit en reinig hulle.
7 En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ‘n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig.
8 Daarna moet hulle ‘n jong bul neem en die spysoffer wat daarby behoort: fynmeel met olie gemeng; en ‘n ander jong bul moet jy as sondoffer neem.
9 En jy moet die Leviete voor die tent van samekoms laat nader kom en die hele vergadering van die kinders van Israel versamel.
10 Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van die HERE laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die Leviete lê.
11 En Aäron moet die Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van die HERE namens die kinders van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van die HERE te verrig.
12 En die Leviete moet hulle hande op die kop van die bulle lê; en berei jy een as sondoffer en een as brandoffer vir die HERE, om vir die Leviete versoening te doen.
13 Dan moet jy die Leviete stel voor Aäron en sy seuns en hulle as beweegoffer aan die HERE beweeg.
14 En jy moet die Leviete onder die kinders van Israel uit afsonder, dat die Leviete myne kan wees.
15 En daarna moet die Leviete inkom om die tent van samekoms te bedien. So moet jy hulle dan reinig en hulle as beweegoffer beweeg.
16 Want hulle is heeltemal aan My gegee onder die kinders van Israel uit, in die plek van alles wat die moederskoot open—al die eersgeborenes uit die kinders van Israel—het Ek hulle vir My geneem.
17 Want al die eersgeborenes onder die kinders van Israel is myne, van mense en van diere; op die dag toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek hulle vir My geheilig.
18 En Ek het die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die kinders van Israel geneem
19 en die Leviete gegee—hulle is gegee aan Aäron en sy seuns onder die kinders van Israel uit om die dienswerk van die kinders van Israel in die tent van samekoms te verrig en om vir die kinders van Israel versoening te doen, sodat daar geen plaag mag wees onder die kinders van Israel as die kinders van Israel na die heiligdom aankom nie.
20 En Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel het met die Leviete gedoen net soos die HERE Moses aangaande die Leviete beveel het; so het die kinders van Israel met hulle gedoen.
21 En die Leviete het hulleself ontsondig en hulle klere gewas, en Aäron het hulle beweeg as beweegoffer voor die aangesig van die HERE; en Aäron het versoening vir hulle gedoen om hulle te reinig.
22 En daarna het die Leviete gekom om hulle dienswerk in die tent van samekoms voor Aäron en sy seuns te verrig; soos die HERE Moses aangaande die Leviete beveel het, so het hulle met hulle gedoen.
23 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
24 Dit is die saak wat die Leviete betref: Van vyf en twintig jaar oud en daarbo moet hy kom om sy plig te vervul by die dienswerk van die tent van samekoms.
25 Maar van vyftig jaar oud moet hy vry wees van diensplig en nie meer dien nie—
26 hy kan sy broers in die tent van samekoms behulpsaam wees om die diens waar te neem, maar dienswerk moet hy nie verrig nie. So moet jy met die Leviete doen insake hulle ampspligte.




Hoofstuk 9

1 En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai—in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, in die eerste maand—en gesê
2 dat die kinders van Israel die pasga op die bepaalde tyd moet hou.
3 Op die veertiende dag in hierdie maand, teen die aand, moet julle dit op die bepaalde tyd hou; volgens al sy insettinge en al sy verordeninge moet julle dit hou.
4 Toe het Moses met die kinders van Israel gespreek dat hulle die pasga moet hou.
5 En hulle het die pasga gehou op die veertiende dag van die eerste maand, teen die aand, in die woestyn Sinai; net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen.
6 En daar was manne wat deur die lyk van ‘n mens onrein geword het en op dieselfde dag die pasga nie kon hou nie. Daarom het hulle nader gekom voor Moses en Aäron op dieselfde dag,
7 en dié manne het vir hom gesê: Ons is onrein deur die lyk van ‘n mens; waarom moet ons te kort gedoen word, dat ons die offer van die HERE nie op die bepaalde tyd onder die kinders van Israel sou bring nie?
8 En Moses het vir hulle gesê: Bly staan, dat ek kan hoor wat die HERE julle sal beveel.
9 Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê:
10 Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand van julle of van julle geslagte deur ‘n lyk onrein word of op ‘n ver reis is, moet hy tog die pasga vir die HERE hou.
11 In die tweede maand, op die veertiende dag, teen die aand, moet hulle dit hou; met ongesuurde brode en bitter kruie moet hulle dit eet.
12 Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.
13 Maar die man wat rein is en nie op reis is nie en nalaat om die pasga te hou, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word; want hy het die offer van die HERE nie op die bepaalde tyd gebring nie. Dié man moet sy sonde dra.
14 En as ‘n vreemdeling by julle vertoef en die pasga vir die HERE hou, moet hy dit hou volgens die insetting van die pasga en volgens die verordening daarvan. Dit moet een insetting vir julle wees, vir die vreemdeling sowel as die kind van die land.
15 En op die dag toe hulle die tabernakel opgerig het, het die wolk die tabernakel van die tent van die Getuienis oordek, en in die aand was dit oor die tabernakel soos ‘n gedaante van vuur, tot die môre toe.
16 So was dit altyddeur: die wolk het dit oordek, en snags ‘n gedaante van vuur.
17 En so dikwels as die wolk van die tent af optrek, het die kinders van Israel daarna weggetrek; en op die plek waar die wolk rus, daar het die kinders van Israel laer opgeslaan—
18 volgens die bevel van die HERE het die kinders van Israel weggetrek en volgens die bevel van die HERE laer opgeslaan; al die dae wat die wolk oor die tabernakel gerus het, het hulle in die laer gestaan.
19 En as die wolk baie dae oor die tabernakel bly, het die kinders van Israel die diens van die HERE waargeneem en nie weggetrek nie.
20 Maar somtyds was die wolk net ‘n paar dae oor die tabernakel—volgens die bevel van die HERE het hulle laer opgeslaan, en volgens die bevel van die HERE het hulle weggetrek.
21 En somtyds was die wolk daar van die aand tot die môre—as die wolk in die môre optrek, het hulle weggetrek; of by dag of by nag—as die wolk optrek, het hulle weggetrek;
22 of ná twee dae of ‘n maand of langer—as die wolk lank oor die tabernakel bly, het die kinders van Israel in die laer gestaan en nie weggetrek nie; en as dit optrek, het hulle weggetrek.
23 Volgens die bevel van die HERE het hulle laer opgeslaan, en volgens die bevel van die HERE het hulle weggetrek. Hulle het die voorskrif van die HERE in ag geneem volgens die bevel van die HERE deur die diens van Moses.




Hoofstuk 10

1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Maak vir jou twee silwertrompette; van dryfwerk moet jy dit maak; en hulle moet vir jou dien om die vergadering byeen te roep en om die laers te laat opbreek.
3 As hulle dan daarop blaas, moet die hele vergadering by jou byeenkom by die ingang van die tent van samekoms.
4 Maar as hulle op een daarvan blaas, moet by jou byeenkom die owerstes, die stamhoofde van Israel.
5 En as julle alarm blaas, moet die laers opbreek wat aan die oostekant staan.
6 Maar as julle die tweede keer alarm blaas, moet die laers opbreek wat aan die suidekant staan. Alarm moet hulle blaas as hulle moet opbreek.
7 Maar as die vergadering byeen moet kom, moet julle blaas, maar nie alarm maak nie.
8 En die seuns van Aäron, die priesters, moet op die trompette blaas; en dié trompette moet vir julle ‘n ewige insetting in julle geslagte wees.
9 En as julle in jul land in oorlog kom teen die vyand wat met julle veg, moet julle met die trompette alarm blaas; dan sal aan julle gedink word voor die aangesig van die HERE julle God, en julle sal van jul vyande verlos word.
10 Op die dag as julle vrolik is, sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle by jul brandoffers en by jul dankoffers op die trompette blaas: hulle sal dien om julle in gedagtenis te bring voor die aangesig van julle God. Ek is die HERE julle God.
11 In die tweede jaar, in die tweede maand, op die twintigste van die maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel van die Getuienis af.
12 En die kinders van Israel het van plek tot plek weggetrek uit die woestyn Sinai, en die wolk het gaan rus in die woestyn Paran.
13 So het hulle dan die eerste keer weggetrek volgens die bevel van die HERE deur die diens van Moses.
14 En eerste het weggetrek die vaandel van die laer van Juda se kinders volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Nagson, die seun van Ammínadab.
15 En oor die afdeling van die stam van Issaskar se kinders was Netáneël, die seun van Suar.
16 En oor die afdeling van die stam van Sébulon se kinders was Elíab, die seun van Helon.
17 Toe is die tabernakel afgebreek; en die seuns van Gerson en die seuns van Merári, die draers van die tabernakel, het weggetrek.
18 Daarna het weggetrek die vaandel van die laer van Ruben volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Elísur, die seun van Sedéür.
19 En oor die afdeling van die stam van Símeon se kinders was Selúmiël, die seun van Surísaddai.
20 En oor die afdeling van die stam van Gad se kinders was Éljasaf, die seun van Réhuel.
21 Daarna het die Kehatiete, die draers van die heiligdom, weggetrek. En die ander het die tabernakel opgerig voordat hulle aangekom het.
22 Daarna het weggetrek die vaandel van die laer van Efraim se kinders volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Elisáma, die seun van Ammíhud.
23 En oor die afdeling van die stam van Manasse se kinders was Gámliël, die seun van Pedásur.
24 En oor die afdeling van die stam van Benjamin se kinders was Abídan, die seun van Gideóni.
25 Toe het weggetrek die vaandel van die laer van Dan se kinders wat, volgens hulle leërafdelings, die agterhoede vir al die leërs was; en oor sy afdeling was Ahiëser, die seun van Ammísaddai.
26 En oor die afdeling van die stam van Aser se kinders was Págiël, die seun van Ogran.
27 En oor die afdeling van die stam van Náftali se kinders was Ahíra, die seun van Enan.
28 Dit is die optogte van die kinders van Israel volgens hulle leërafdelings. En hulle het weggetrek.
29 En Moses het vir Hobab, die seun van Réhuel, die Midianiet, die swaer van Moses, gesê: Ons trek na die plek waarvan die HERE gesê het: Ek sal dit aan julle gee. Trek saam met ons en ons sal aan jou goed doen; want die HERE het oor Israel goeie dinge gespreek.
30 Maar hy het vir hom gesê: Ek sal nie saamtrek nie; maar ek sal na my land en my familie gaan.
31 Toe sê hy: Moet ons tog nie verlaat nie, juis daarom dat jy weet hoe ons laer moet opslaan in die woestyn, en jy sal vir ons as oë dien.
32 En as jy met ons saamtrek, sal ons daardie goeie wat die HERE aan ons sal doen, ook aan jou doen.
33 En hulle het van die berg van die HERE af drie dagreise ver getrek; en die verbondsark van die HERE het drie dagreise ver voor hulle uit getrek om vir hulle ‘n rusplek uit te soek.
34 En die wolk van die HERE was bedags oor hulle as hulle uit die laer wegtrek.
35 En as die ark wegtrek, het Moses gesê: Staan op, HERE, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug.
36 En as dit rus, het hy gesê: Keer terug, HERE, na die tien duisende van die duisende van Israel!




Hoofstuk 11

1 En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer.
2 Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan.
3 Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het.
4 En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet?
5 Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.
6 Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.
7 Die manna was soos koljandersaad, en dit het gelyk na balsemgom.
8 Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke.
9 En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval.
10 Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die deur van sy tent hoor ween; en die toorn van die HERE het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses.
11 En Moses sê aan die HERE: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê?
12 Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ‘n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ‘n eed beloof het?
13 Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet.
14 Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar.
15 En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.
16 Toe sê die HERE aan Moses: Bring vir My sewentig manne uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes van die volk en sy opsigters is, en bring hulle by die tent van samekoms, dat hulle daar by jou kan staan.
17 Dan sal Ek neerdaal en daar met jou spreek; en van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.
18 En aan die volk moet jy sê: Heilig julle teen môre; dan sal julle vleis eet. Want julle het voor die ore van die HERE geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? want dit was vir ons goed in Egipte. Daarom sal die HERE vir julle vleis gee, en julle sal eet.
19 Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie—
20 ‘n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die HERE wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?
21 Toe sê Moses: Ses honderd duisend te voet is die volk onder wie ek verkeer; en U het gesê: Ek sal aan hulle vleis gee, en hulle sal ‘n hele maand lank eet!
22 Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is?
23 Maar die HERE sê vir Moses: Sou die hand van die HERE te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.
24 Toe het Moses uitgegaan en die woorde van die HERE aan die volk te kenne gegee; en hy het sewentig manne uit die oudstes van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die tent laat staan.
25 Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie.
26 Maar twee manne het in die laer agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad; en die Gees het op hulle gerus—hulle het behoort by die wat opgeskrywe was, hoewel hulle nie na die tent uitgegaan het nie—en hulle het in die laer geprofeteer.
27 Toe hardloop ‘n seun en vertel dit aan Moses en sê: Eldad en Medad profeteer in die laer.
28 En Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses van sy jeug af, antwoord en sê: My heer Moses, belet hulle dit!
29 Maar Moses sê vir hom: Ywer jy vir my? Ag, as die hele volk van die HERE maar profete was, dat die HERE sy Gees oor hulle mag gee!
30 Daarop het Moses hom in die laer teruggetrek, hy en die oudstes van Israel.
31 Toe het ‘n wind wat van die HERE kom, uitgevaar en kwartels van die see af oorgedrywe en op die laer gestrooi omtrent ‘n dagreis hier en omtrent ‘n dagreis daar, rondom die laer; en hulle was omtrent twee el bokant die grond.
32 Toe het die volk opgestaan daardie hele dag en die hele nag en die hele volgende dag en die kwartels versamel. Hy wat die minste gehad het, het tien homer versamel. En hulle het dit oral vir hulle uitgesprei rondom die laer.
33 Die vleis was nog tussen hulle tande, voordat dit gekou was, toe die toorn van die HERE alreeds teen die volk ontvlam het, en die HERE het onder die volk ‘n baie groot slagting teweeggebring.
34 Daarom het hulle dié plek genoem Kibrot-Hattáäwa; want daar het hulle die volk begrawe wat so begerig was.
35 Van Kibrot-Hattáäwa af het die volk weggetrek na Háserot toe, en hulle het in Háserot gebly.




Hoofstuk 12

1 En Mirjam en Aäron het teen Moses gespreek vanweë die Kusitiese vrou wat hy geneem het; want hy het ‘n Kusitiese vrou geneem.
2 En hulle het gesê: Het die HERE dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie? En die HERE het dit gehoor.
3 Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.
4 Toe het die HERE dadelik met Moses en Aäron en Mirjam gespreek: Julle drie, kom uit na die tent van samekoms! En hulle drie het uitgekom.
5 En die HERE het in ‘n wolkkolom neergedaal en by die ingang van die tent gaan staan. Daarna het Hy Aäron en Mirjam geroep, en hulle twee het uitgekom.
6 Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ‘n gesig My aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal Ek met hom spreek.
7 So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou.
8 Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE. Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie?
9 En die toorn van die HERE het teen hulle ontvlam, en Hy het weggegaan.
10 En toe die wolk van die tent af weggetrek het, kyk, toe was Mirjam melaats, soos sneeu. En Aäron het Mirjam aangekyk en—sy was melaats!
11 Daarop sê Aäron vir Moses: Ag, my heer, lê tog nie op ons die sonde wat ons in ons dwaasheid begaan het nie.
12 Laat sy tog nie wees soos ‘n dooie van wie se vleis, as hy uit sy moeder se skoot uitgaan, die helfte verteer is nie.
13 En Moses het die HERE aangeroep en gesê: o God, maak haar tog gesond!
14 Toe sê die HERE vir Moses: As haar vader net maar in haar gesig gespuug het, sou sy nie sewe dae lank beskaamd wees nie? Laat sy sewe dae lank buitekant die laer opgesluit wees, en daarna mag sy opgeneem word.
15 En hulle het Mirjam sewe dae lank buitekant die laer opgesluit; en die volk het nie weggetrek voordat Mirjam opgeneem was nie.
16 Maar daarna het die volk van Háserot af weggetrek en in die woestyn Paran laer opgeslaan.




Hoofstuk 13

1 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
2 Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen ‘n owerste onder hulle.
3 En Moses het hulle uitgestuur uit die woestyn Paran, volgens die bevel van die HERE—hulle almal manne wat hoofde was van die kinders van Israel.
4 En dit is hulle name: Van die stam van Ruben: Sámmua, die seun van Sakkur.
5 Van die stam van Símeon: Safat, die seun van Hori.
6 Van die stam van Juda: Kaleb, die seun van Jefúnne.
7 Van die stam van Issaskar: Jígeal, die seun van Josef.
8 Van die stam van Efraim: Hoséa, die seun van Nun.
9 Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu.
10 Van die stam van Sébulon: Gáddiël, die seun van Sodi.
11 Van die stam van Josef, vir die stam van Manasse: Gaddi, die seun van Susi.
12 Van die stam van Dan: Ammíël, die seun van Gemálli.
13 Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael.
14 Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi.
15 Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi.
16 Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; En Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem.
17 En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte.
18 En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is;
19 en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings;
20 ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe.
21 En hulle het opgetrek en die land verken van die woestyn Sin af tot by Rehob, na die ingang van Hammat—
22 hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.
23 Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ‘n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ‘n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye.
24 Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het.
25 En ná verloop van veertig dae het hulle teruggekom van die land te verken.
26 En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien.
27 En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte.
28 Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.
29 Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan.
30 Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.
31 Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons.
32 So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne.
33 Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.




Hoofstuk 14

1 Toe het die hele vergadering uitgeroep—hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween.
2 En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het!
3 En waarom bring die HERE ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ‘n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie?
4 En hulle sê vir mekaar: Laat ons ‘n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.
5 Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel.
6 En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur
7 en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land.
8 As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
9 Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!
10 Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel.
11 Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?
12 Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ‘n groter en sterker nasie maak as hulle.
13 Toe het Moses aan die HERE gesê: Maar die Egiptenaars het gehoor dat U deur u krag hierdie volk onder hulle uit laat optrek het
14 en dit aan die inwoners van hierdie land gesê. Hulle het gehoor dat U, HERE, in die midde van hierdie volk is; dat U, HERE, duidelik waarneembaar verskyn; dat u wolk oor hulle staan en U in ‘n wolkkolom voor hulle uit trek bedags en in ‘n vuurkolom by nag.
15 As U nou hierdie volk soos een man ombring, dan sal die nasies wat die tyding aangaande U gehoor het, spreek en sê:
16 Omdat die HERE hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met ‘n eed beloof het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring.
17 Laat dan nou tog die krag van die HERE groot word, soos U gespreek het deur te sê:
18 Die HERE is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
19 Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het.
20 Toe sê die HERE: Ek vergewe, volgens jou woord.
21 Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word,
22 al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie,
23 hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie.
24 Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.
25 Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte—draai môre weg en trek tog die woestyn in, op pad na die Skelfsee.
26 Daarna het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê:
27 Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer.
28 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen.
29 Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.
30 Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.
31 En julle kinders waarvan julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word—dié sal Ek inbring en dié sal die land leer ken wat julle verwerp het.
32 Maar júlle lyke sal in hierdie woestyn lê.
33 En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank, en sal so die gevolge van julle hoerery dra totdat julle lyke in die woestyn verteer is.
34 Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank, en my teëstand gewaar word.
35 Ek, die HERE, het dit gespreek; waarlik, dit sal Ek aan hierdie hele bose vergadering doen wat teen My bymekaargekom het. Hulle sal in hierdie woestyn omkom en daar sterwe.
36 En die manne wat Moses gestuur het om die land te verken en wat ná hulle terugkoms die hele vergadering teen hom laat murmureer het deur ‘n slegte gerug aangaande die land te versprei,
37 die manne wat ‘n slegte gerug aangaande die land versprei het, het gesterwe deur ‘n plaag voor die aangesig van die HERE.
38 Maar van dié manne wat die land gaan verken het, het Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, in die lewe gebly.
39 En toe Moses hierdie woorde aan al die kinders van Israel gesê het, het die volk baie getreur
40 en die môre vroeg klaargemaak en op die top van die berg geklim en gesê: Hier is ons, en ons wil optrek na die plek wat die HERE gesê het, want ons het gesondig.
41 Maar Moses het gesê: Waarom oortree julle tog die bevel van die HERE, aangesien dit tog nie sal geluk nie?
42 Moenie optrek nie, want die HERE is nie in julle midde nie—anders word julle verslaan voor julle vyande.
43 Want die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, en julle sal deur die swaard val; omdat julle van die HERE afvallig geword het, daarom sal die HERE nie met julle wees nie.
44 Nogtans het hulle vermetel gehandel om op die top van die berg te klim; maar die verbondsark van die HERE en Moses het nie uit die laer gewyk nie.
45 Toe het die Amalekiete en die Kanaäniete wat in dié gebergte woonagtig was, afgekom en hulle verslaan en hulle verstrooi tot by Horma.




Hoofstuk 15

1 Daarna het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land van julle inwoning kom wat Ek aan julle gee,
3 en julle ‘n vuuroffer aan die HERE wil berei, ‘n brandoffer of slagoffer—deur ‘n besondere gelofte te volbring of as vrywillige offer of by julle feestye—om vir die HERE ‘n lieflike geur van beeste of van kleinvee te berei,
4 dan moet die een wat sy offer aan die HERE bring, as spysoffer bring ‘n tiende van ‘n efa fynmeel, gemeng met ‘n kwart-hin olie;
5 en wyn vir die drankoffer, ‘n kwart-hin, moet jy berei by die brandoffer of vir die slagoffer, vir elke lam.
6 Of vir ‘n ram moet jy as spysoffer berei twee-tiendes van ‘n efa fynmeel, met ‘n derde van ‘n hin olie gemeng.
7 En ‘n derde van ‘n hin wyn vir die drankoffer moet jy as lieflike geur aan die HERE bring.
8 En as jy ‘n jong bul as brandoffer of slagoffer berei, deur ‘n besondere gelofte te volbring of as dankoffer aan die HERE,
9 moet hy by die jong bul as spysoffer bring drie-tiendes van ‘n efa fynmeel met ‘n half-hin olie gemeng.
10 En vir die drankoffer moet jy ‘n half-hin wyn bring, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
11 So moet gedoen word by elke bees of by elke ram of by ‘n lam van die skape of van die bokke.
12 Volgens die getal wat julle berei—so moet julle doen by elkeen volgens hulle getal.
13 Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE te bring.
14 En as ‘n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en ‘n vuuroffer van lieflike geur vir die HERE berei—soos julle doen, so moet hy doen.
15 Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. ‘n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees.
16 Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef.
17 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
18 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring,
19 moet julle, as julle van die brood van die land eet, ‘n offergawe aan die HERE afgee.
20 As eersteling van julle growwe meel moet julle ‘n koek as offergawe afgee; net soos die offergawe van die dorsvloer, so moet julle dit afgee.
21 Van die eerstelinge van julle growwe meel moet julle ‘n offergawe aan die HERE gee in julle geslagte.
22 Verder, as julle jul misgaan en nie al hierdie gebooie doen wat die HERE aan Moses meegedeel het nie—
23 alles wat die HERE julle deur Moses beveel het van die dag af dat die HERE dit beveel het en verder in julle geslagte—
24 dan moet die hele vergadering, as dit buiten wete van die vergadering, in swakheid gebeur het, een jong bul berei vir ‘n brandoffer as lieflike geur aan die HERE, met die spysoffer en die drankoffer wat volgens voorskrif daarby behoort; en een bokram as sondoffer.
25 En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want ‘n swakheid was dit, en húlle het hul offer as vuuroffer aan die HERE en hul sondoffer, weens hulle swakheid, voor die aangesig van die HERE gebring.
26 Dit sal dan die hele vergadering van die kinders van Israel vergewe word, ook die vreemdeling wat onder hulle vertoef; want dit het die hele volk deur swakheid oorgekom.
27 En as ‘n enkele siel in swakheid sondig, moet dié ‘n jaaroud bokooi as sondoffer bring.
28 En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens sy sonde in swakheid voor die aangesig van die HERE begaan, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word.
29 Wat die kind van die land onder die kinders van Israel aangaan en die vreemdeling wat onder hulle vertoef—een en dieselfde wet moet vir julle geld, vir hom wat in swakheid iets doen.
30 Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit.
31 Want die woord van die HERE het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom.
32 En toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle ‘n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak.
33 En die wat hom gekry het terwyl hy hout bymekaarmaak, het hom na Moses en Aäron en na die hele vergadering gebring.
34 En hulle het hom in die gevangenis gesit, want dit was nie beslis wat met hom gedoen moes word nie.
35 Toe sê die HERE vir Moses: Die man moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom buitekant die laer stenig.
36 Toe het die hele vergadering hom buitekant die laer uitgebring en hom gestenig, dat hy gesterf het, soos die HERE Moses beveel het.
37 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
38 Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle, hulle moet vir hulle klossies maak aan die hoeke van hul klere, in hulle geslagte, en aan die hoekklossies ‘n draad van pers stof vasbind.
39 En dit sal julle as klossies dien: as julle dit sien, moet julle aan al die gebooie van die HERE dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul oë navolg waar julle agter aan hoereer nie,
40 sodat julle aan al my gebooie mag dink en dit doen, en aan julle God heilig mag wees.
41 Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle ‘n God te wees. Ek is die HERE julle God.




Hoofstuk 16

1 En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem,
2 en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam.
3 En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?
4 Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval;
5 en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.
6 Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende,
7 en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die HERE; dan sal die man wat die HERE uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi!
8 Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi!
9 Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie,
10 en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou—dat julle nou ook die priesteramp begeer?
11 Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?
12 En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie.
13 Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?
14 Ook het jy ons nie gebring in ‘n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.
15 Toe het Moses baie kwaad geword, en hy het aan die HERE gesê: Sien hulle offer nie aan nie. Ek het nie een esel van hulle geneem en nie een van hulle kwaad aangedoen nie.
16 Verder het Moses vir Korag gesê: Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die HERE is, jy en hulle en Aäron.
17 En neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op, en bring voor die aangesig van die HERE elkeen sy vuurpan, twee honderd en vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron elkeen sy vuurpan.
18 Toe het hulle elkeen sy vuurpan geneem en daar vuur op gegooi en reukwerk op gelê; en hulle het gaan staan by die ingang van die tent van samekoms, ook Moses en Aäron.
19 En Korag het die hele vergadering teen hulle bymekaar laat kom by die ingang van die tent van samekoms. Toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan die hele vergadering.
20 En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
21 Skei julle af van hierdie vergadering, en Ek sal hulle in ‘n oomblik verteer.
22 Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?
23 En die Here het met Moses gespreek en gesê:
24 Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram!
25 Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan.
26 Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.
27 En hulle het gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram; maar Datan en Abíram het uitgekom en gaan staan by die deur van hulle tente saam met hulle vroue en seuns en kindertjies.
28 Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie:
29 as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die HERE my nie gestuur nie.
30 Maar as die HERE iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die HERE verag het.
31 En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was,
32 en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.
33 So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.
34 En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir hulle geroep; want hulle het gesê: Dalk verslind die aarde ons!
35 Toe het ‘n vuur van die HERE uitgegaan en die twee honderd en vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het.
36 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
37 Sê aan Eleásar, die seun van die priester Aäron, dat hy die vuurpanne uit die brand moet wegneem en die vuur ver weg moet strooi; want hulle is heilig—
38 naamlik die vuurpanne van die wat gesondig het ten koste van hulle lewe; en daarvan moet dun plate geslaan word as ‘n oortreksel vir die altaar. Want hulle het dié voor die aangesig van die HERE gebring—daarom is hulle heilig; en hulle sal vir die kinders van Israel ‘n teken wees.
39 Toe het die priester Eleásar die kopervuurpanne geneem wat die mense wat verbrand is, gebring het, en hulle het dit plat geslaan as ‘n oortreksel vir die altaar—
40 ‘n aandenking vir die kinders van Israel, sodat ‘n onbevoegde wat nie uit die nageslag van Aäron is nie, nie sal nader kom om reukwerk voor die aangesig van die HERE aan die brand te steek nie; sodat hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos die HERE aan hom deur die diens van Moses gesê het.
41 Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die HERE gedood.
42 En terwyl die vergadering teen Moses en Aäron bymekaarkom, het hulle hul na die tent van samekoms gedraai, en meteens het die wolk dit oordek en die heerlikheid van die HERE het verskyn.
43 En toe Moses en Aäron tot voor die tent van samekoms kom,
44 het die HERE met Moses gespreek en gesê:
45 Trek julle terug uit hierdie vergadering, dat Ek hulle in ‘n oomblik kan verteer. Toe val hulle op hul aangesig,
46 en Moses sê vir Aäron: Neem die vuurpan en gooi vuur van die altaar daarin en lê reukwerk daarop, en bring dit gou na die vergadering en doen versoening vir hulle; want die toorn het van die HERE se aangesig uitgegaan, die plaag het begin!
47 Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk.
48 En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou.
49 En die wat deur die plaag gesterf het, was veertien duisend sewe honderd, buiten die wat gesterf het om Korag se ontwil.
50 Daarop gaan Aäron na Moses terug by die ingang van die tent van samekoms; en die plaag is gestuit.




Hoofstuk 17

1 Daarna het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en neem van hulle vir elke stam ‘n staf, van al hulle owerstes volgens hulle stamme, twaalf stawe; elkeen se naam moet jy skrywe op sy staf.
3 En Aäron se naam moet jy skrywe op die staf van Levi; want een staf moet daar wees vir hulle stamhoof.
4 En jy moet hulle wegsit in die tent van samekoms voor die Getuienis waar Ek met julle saamkom.
5 En die staf van die man wat Ek uitkies, sal bloei; en Ek sal die murmureringe van die kinders van Israel wat hulle teen julle murmureer, stilmaak teenoor My.
6 Daarop het Moses met die kinders van Israel gespreek; en al hulle owerstes het hom ‘n staf gegee, vir elke owerste een volgens hulle stamme, twaalf stawe. Aäron se staf was ook onder hulle stawe.
7 En Moses het die stawe voor die aangesig van die HERE in die tent van die Getuienis neergesit.
8 En toe Moses die volgende dag in die tent van die Getuienis ingaan, kyk, daar het die staf van Aäron, vir die huis van Levi, gebloei: dit het bloeisels laat uitspruit en blomme laat oopgaan en amandels laat ryp word!
9 Toe bring Moses al die stawe wat voor die aangesig van die HERE was, na al die kinders van Israel toe uit; en hulle het dit gesien en elkeen sy staf geneem.
10 Daarop het die HERE vir Moses gesê: Bring die staf van Aäron terug voor die Getuienis om dit te bewaar as teken vir die wederstrewiges, en bevry My eindelik van hulle murmureringe, dat hulle nie sterwe nie.
11 En Moses het dit gedoen; soos die HERE hom beveel het, so het hy gedoen.
12 Toe het die kinders van Israel met Moses gespreek en gesê: Kyk, ons sterwe, ons vergaan, ons almal vergaan!
13 Elkeen wat enigsins nader kom na die tabernakel van die HERE, sal sterwe. Is ons dan geheel en al daarvoor bestemd om weg te sterwe?




Hoofstuk 18

1 En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra.
2 En laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, dat hulle by jou kan aansluit en jou dien, terwyl jy en jou seuns saam met jou voor die tent van die Getuienis is.
3 En hulle moet jou diens waarneem en die diens van die hele tent; maar naby die voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, dat hulle nie sterwe, hulle sowel as julle nie.
4 Maar hulle moet by jou aansluit en die diens van die tent van samekoms waarneem: al die dienswerk van die tent; en ‘n onbevoegde mag nie na julle toe aankom nie.
5 En julle moet die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem, sodat daar verder geen toorn oor die kinders van Israel kom nie.
6 Want Ek self het julle broers, die Leviete, onder die kinders van Israel uit geneem as ‘n geskenk vir julle, mense wat aan die HERE gegee is om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig.
7 Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesteramp waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die voorhangsel is, en julle moet daar diens verrig. As ‘n dienswerk wat geskenk word, gee Ek julle die priesteramp; en die onbevoegde wat naby kom, moet gedood word.
8 Verder het die HERE met Aäron gespreek: Ek self het jou die diens van my offergawes gegee; wat betref al die heilige gawes van die kinders van Israel, aan jou gee Ek dit as aandeel en aan jou seuns as ewige insetting.
9 Van die hoogheilige gawes, met uitsondering van wat verbrand word, moet dít joue wees: al hulle offers, naamlik elke spysoffer en elke sondoffer en elke skuldoffer van hulle, wat hulle My bring—as iets hoogheiligs moet dit vir jou en jou seuns wees.
10 In ‘n hoogheilige plek moet jy dit eet; almal wat manlik is, mag dit eet; heilig moet dit vir jou wees.
11 Dit moet ook joue wees: die offergawe van hulle geskenke, van al die beweegoffers van die kinders van Israel; Ek gee dit aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ‘n ewige insetting. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.
12 Al die beste van die olie en al die beste van die mos en die koring, die eerste daarvan wat hulle aan die HERE gee, dit gee Ek aan jou.
13 Die eerstelinge van alles wat in hulle land is, wat hulle aan die HERE bring, moet joue wees. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.
14 Alles wat onder die ban is in Israel, moet joue wees.
15 Alles wat die moederskoot open—alle vlees wat hulle vir die HERE aanbring, mense en diere—moet joue wees; maar die eersgeborenes van mense moet jy sekerlik loskoop; ook moet jy die eersgeborenes van onrein diere loskoop.
16 En wat die loskoping daarvan aangaan: vanaf ‘n maand oud moet jy loskoop, volgens jou skatting, vir ‘n geldsom van vyf sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; dit is twintig gera.
17 Maar die eersgeborene van ‘n bees of die eersgeborene van ‘n skaap of die eersgeborene van ‘n bok moet jy nie loskoop nie; heilig is hulle; hulle bloed moet jy uitgooi teen die altaar en hulle vet aan die brand steek as ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
18 En hulle vleis moet joue wees; soos die bors van die beweegoffer en die regterboud moet dit joue wees.
19 Al die offergawes van die heilige dinge wat die kinders van Israel aan die HERE afgee, gee Ek aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ‘n ewige insetting. Dit is ‘n ewige soutverbond voor die aangesig van die HERE, vir jou en jou nageslag saam met jou.
20 Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.
21 En kyk, Ek gee aan die kinders van Levi al die tiendes in Israel as erfdeel vir hulle dienswerk wat hulle verrig, die dienswerk van die tent van samekoms.
22 En die kinders van Israel moet nie meer nader kom na die tent van samekoms om sonde op hulle te laai sodat hulle sterwe nie.
23 Maar die Leviete, dié moet die dienswerk by die tent van samekoms verrig, en húlle moet hul ongeregtigheid dra—’n ewige insetting in julle geslagte. En onder die kinders van Israel moet hulle geen erfdeel kry nie.
24 Want die tiendes van die kinders van Israel wat hulle aan die HERE as offergawe afgee, gee Ek aan die Leviete as erfdeel. Daarom het Ek aangaande hulle gesê: Hulle moet onder die kinders van Israel geen erfdeel kry nie.
25 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
26 Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan ‘n offergawe aan die HERE afgee, ‘n tiende van die tiende.
27 En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip.
28 Só moet julle ook ‘n offergawe aan die HERE afgee van al julle tiendes wat julle van die kinders van Israel neem, en julle moet daarvan die offergawe aan die HERE aan die priester Aäron gee.
29 Van al jul gawes moet julle die hele offergawe aan die HERE afgee, van al die beste daarvan, as die heilige gawe wat daarvan moet afgaan.
30 Jy moet dan vir hulle sê: As julle die beste daarvan afgee, sal dit vir die Leviete gereken word as opbrings van die dorsvloer en as opbrings van die parskuip.
31 En julle mag dit op enige plek eet, julle en jul huisgesin; want dit is vir julle ‘n loon vir jul dienswerk by die tent van samekoms.
32 En julle sal daarby geen sonde op julle laai as julle die beste deel daarvan afgee nie; en julle mag die heilige gawes van die kinders van Israel nie ontheilig nie, sodat julle nie sterwe nie.




Hoofstuk 19

1 Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2 Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ‘n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie.
3 En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag.
4 En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel.
5 Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand.
6 En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi.
7 Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees.
8 Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees.
9 En ‘n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op ‘n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is ‘n sondoffer.
10 En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ‘n ewige insetting wees.
11 Die een wat aan ‘n dooie, enige lyk van ‘n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees.
12 Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig—dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie.
13 Elkeen wat aan ‘n dooie raak, aan die lyk van ‘n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE, en dié siel moet uit Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees;sy onreinheid is nog aan hom.
14 Dit is die wet: As iemand in ‘n tent sterwe, sal elkeen wat in die tent kom en al wat in die tent is, sewe dae lank onrein wees.
15 Ook al die oop goed wat nie met ‘n deksel toegebind word nie, is onrein.
16 En elkeen wat in die oop veld aan iemand raak wat deur die swaard verslaan is, of aan ‘n dooie of aan ‘n mens se doodsbeen of aan ‘n graf, sal sewe dae lank onrein wees.
17 Vir die onreine moet hulle dan van die as neem van die sondoffer wat verbrand is, en daar vars water in ‘n pot op gooi;
18 en ‘n rein man moet hisop neem en dit in die water insteek en op die tent sprinkel en op al die goed en op die persone wat daar gewees het; ook op hom wat aan ‘n doodsbeen of aan een wat verslaan is, of aan ‘n dooie of aan ‘n graf geraak het.
19 En die reine moet die onreine op die derde en op die sewende dag besprinkel en hom op die sewende dag ontsondig. Dan moet hy sy klere was en hom in die water bad, en in die aand sal hy rein wees.
20 Maar as iemand onrein word en hom nie ontsondig nie, dan moet dié siel uitgeroei word uit die vergadering, want hy het die heiligdom van die HERE verontreinig: reinigingswater is op hom nie uitgegooi nie, hy is onrein.
21 En dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees. En die een wat die reinigingswater sprinkel, moet sy klere was; en die een wat aan die reinigingswater raak, sal tot die aand toe onrein wees.
22 Ja, alles waar die onreine aan raak, sal onrein wees; en die persoon wat aan hom raak, sal tot die aand toe onrein wees.




Hoofstuk 20

1 En toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe.
2 En daar was geen water vir die vergadering nie. Toe het hulle teen Moses en Aäron saamgekom.
3 En die volk het met Moses getwis, en hulle het gespreek en gesê: Ag, het ons tog maar gesterwe toe ons broers voor die aangesig van die HERE gesterf het!
4 En waarom het julle die vergadering van die HERE in hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee daar sou sterwe?
5 En waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Dit is geen plek van graan of van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.
6 Daarop gaan Moses en Aäron van die vergadering af weg na die ingang van die tent van samekoms, en hulle het op hul aangesig geval; toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan hulle.
7 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
8 Neem die staf en laat die vergadering byeenkom, jy en jou broer Aäron, en spreek julle die rots aan voor hulle oë; dan sal hy sy water gee. So moet jy dan vir hulle water uit die rots laat vloei en die vergadering en hulle vee laat drink.
9 Toe neem Moses die staf voor die aangesig van die HERE weg soos Hy hom beveel het.
10 En Moses en Aäron het die vergadering voor die rots laat byeenkom, en hy het vir hulle gesê: Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?
11 Daarop tel Moses sy hand op en hy slaan die rots twee maal met sy staf; en daar het baie water uitgekom, sodat die vergadering gedrink het en hulle vee.
12 Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.
13 Dit is die waters van Mériba waar die kinders van Israel met die HERE getwis het en Hy Hom onder hulle as die Heilige laat ken het.
14 Daarna het Moses uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het.
15 Ons vaders het na Egipte afgetrek, en ons het baie dae in Egipte gewoon, en die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel.
16 Toe het ons die HERE aangeroep, en Hy het ons stem gehoor: Hy het ‘n Engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, ‘n stad op die grens van jou grondgebied.
17 Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het.
18 Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoettrek.
19 Toe sê die kinders van Israel vir hom: Ons sal met die grootpad trek, en as ons van jou water drink, ek en my vee, gee ek die prys daarvoor. Laat my net te voet deurtrek—verder niks nie.
20 Maar hy antwoord: Jy sal nie deurtrek nie. En Edom het uitgetrek hom tegemoet met baie manskappe en met ‘n sterk hand.
21 So het Edom dan geweier om Israel toe te laat om deur sy grondgebied te trek. Daarop het Israel van hom af weggedraai.
22 En die kinders van Israel, die hele vergadering, het van Kades af weggetrek en by die berg Hor gekom.
23 En die HERE het met Moses en Aäron by die berg Hor, op die grens van die land Edom, gespreek en gesê:
24 Aäron sal by sy volksgenote versamel word, want hy mag nie kom in die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het nie, omdat julle teen my bevel wederstrewig was by die waters van Mériba.
25 Neem Aäron en sy seun Eleásar, en laat hulle op die berg Hor opklim;
26 en trek Aäron se klere uit en trek dit sy seun Eleásar aan; en Aäron sal daar by sy volksgenote versamel word en sterwe.
27 Toe het Moses gedoen soos die HERE beveel het: hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering.
28 En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleásar aangetrek. En Aäron het daar gesterwe op die top van die berg, maar Moses en Eleásar het van die berg afgeklim.
29 En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank.




Hoofstuk 21

1 Toe die Kanaäniet, die koning van Arad, wat in die Suidland gewoon het, hoor dat Israel met die pad van Atarim kom, het hy teen Israel geveg en sommige van hulle as gevangenes weggevoer.
2 Daarop het Israel aan die HERE ‘n gelofte gedoen en gesê: As U hierdie volk heeltemal in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref.
3 En die HERE het gehoor na die stem van Israel en die Kanaäniete oorgegee. En hy het hulle en hul stede met die banvloek getref en die plek Horma genoem.
4 Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword.
5 En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos.
6 Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe.
7 En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.
8 Daarop sê die HERE aan Moses: Maak vir jou ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.
9 Toe het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
10 En die kinders van Israel het weggetrek en laer opgeslaan in Obot.
11 Daarna het hulle weggetrek van Obot af en laer opgeslaan in Ijje-Haäbárim in die woestyn wat oostelik aan Moab vas lê.
12 Daarvandaan het hulle weggetrek en laer opgeslaan by die spruit Sered.
13 Daarvandaan het hulle weggetrek en laer opgeslaan oorkant die Arnon wat in die woestyn is en uit die grondgebied van die Amoriete kom; want die Arnon is die grens van Moab, tussen Moab en die Amoriete.
14 Daarom word gesê in die Boek van die Oorloë van die HERE: Waheb in Sufa en die spruite, die Arnon,
15 en die hang van die spruite wat na die streek van Ar afloop en leun teen die grondgebied van Moab.
16 En daarvandaan het hulle na Beër getrek. Dit is die put waarvan die HERE aan Moses gesê het: Laat die volk bymekaarkom, dat Ek vir hulle water kan gee.
17 Toe het Israel hierdie lied gesing: Spring op, o put! Besing hom!
18 o Put wat die vorste gegrawe het, wat die edeles van die volk gedelf het, met die septer, met hulle stawe! —En uit die woestyn uit na Mattána toe;
19 en van Mattána na Naháliël; en van Naháliël na Bamot;
20 en van Bamot na die dal wat in die veld van Moab lê, by die top van Pisga, en oor die wildernis afkyk.
21 En Israel het boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, en gesê:
22 Laat my deur jou land trek. Ons sal nie wegdraai in die lande of in die wingerde nie; ons sal die water van die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou tot ons deur jou grondgebied getrek het.
23 Maar Sihon het Israel nie toegelaat om deur sy grondgebied te trek nie; maar Sihon het al sy manskappe versamel en uitgetrek na die woestyn, Israel tegemoet; en toe hy by Jahas kom, het hy teen Israel geveg.
24 Maar Israel het hom verslaan met die skerpte van die swaard en sy land in besit geneem van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die kinders van Ammon; want die grens van die kinders van Ammon was sterk.
25 So het Israel dan al hierdie stede ingeneem, en Israel het gewoon in al die stede van die Amoriete, in Hesbon en in al sy onderhorige plekke.
26 Want Hesbon was die stad van Sihon, die koning van die Amoriete; hy het naamlik oorlog gevoer teen die vorige koning van die Moabiete en het dié se hele land tot by die Arnon uit sy hand geruk.
27 Daarom sê die spreukdigters: Kom na Hesbon toe! Laat die stad van Sihon gebou en bevestig word!
28 Want ‘n vuur het uitgegaan uit Hesbon, ‘n vlam uit die vesting van Sihon; dit het Ar van die Moabiete verteer, die bewoners van die hoogtes van Arnon.
29 Wee jou, Moab! Jy is verlore, volk van Kamos! Hy het sy seuns prysgegee as vlugtelinge, en sy dogters in gevangenskap, aan Sihon, die koning van die Amoriete.
30 Toe het ons hulle beskiet; verlore was Hesbon tot by Dibon; en ons het verwoes tot by Nofag, met vuur tot by Medéba.
31 So het Israel dan gewoon in die land van die Amoriete.
32 Daarna het Moses gestuur om Jaéser te bespied, en hulle het sy onderhorige plekke ingeneem, en hy het die Amoriete wat daar was, uit hulle besitting verdrywe.
33 Toe het hulle gedraai en in die rigting van Basan opgetrek. En Og, die koning van Basan, hy en al sy manskappe het hulle tegemoetgetrek na Edréï om te veg.
34 Daarop sê die HERE vir Moses: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek het hom en sy hele volk en sy land in jou hand gegee; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.
35 En hulle het hom verslaan en sy seuns en sy hele volk, totdat daar niemand van hom oor was wat vrygeraak het nie; en hulle het sy land in besit geneem.




Hoofstuk 22

1 Daarna het die kinders van Israel weggetrek en laer opgeslaan in die vlaktes van Moab, oos van die Jordaan van Jérigo.
2 Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete aangedoen het,
3 het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het beangs geword vanweë die kinders van Israel.
4 Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ‘n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab.
5 Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my.
6 Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.
7 Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel.
8 Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos die HERE aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly.
9 En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou?
10 En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet:
11 Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe.
12 Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.
13 Toe staan Bíleam die môre op, en hy sê aan die vorste van Balak: Gaan na julle land, want die HERE het geweier om my saam met julle te laat gaan.
14 En die vorste van Moab het klaargemaak en by Balak gekom en gesê: Bíleam het geweier om saam met ons te gaan.
15 Daarop stuur Balak nog weer vorste wat meer en aansienliker was as die ander;
16 en hulle het by Bíleam gekom en aan hom gesê: So spreek Balak, die seun van Sippor: Laat jou tog nie terughou om na my te kom nie.
17 Want ek sal jou baie hoog vereer en alles wat jy my sê, sal ek doen; daarom kom tog, vervloek hierdie volk vir my.
18 Toe antwoord Bíleam en sê aan die dienaars van Balak: Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die HERE my God nie oortree om klein of groot te doen nie.
19 Nou dan, bly julle tog ook vannag hier, dat ek mag weet wat die HERE verder aan my sal sê.
20 En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen.
21 Toe maak Bíleam die môre klaar en saal sy eselin op, en hy het weggetrek saam met die vorste van Moab.
22 Maar die toorn van God het ontvlam, omdat hy weggetrek het; en die Engel van die HERE het gaan staan in die pad as sy teëparty, terwyl hy op sy esel ry en sy twee dienaars by hom was.
23 En die esel het die Engel van die HERE in die pad sien staan, met sy ontblote swaard in sy hand; daarom het die esel uit die pad uitgedraai en die veld ingeloop. Maar Bíleam het die esel geslaan om haar na die pad te stuur.
24 Daarop gaan die Engel van die HERE in ‘n hol pad tussen die wingerde staan—’n muur duskant en ‘n muur anderkant.
25 En toe die esel die Engel van die HERE sien, druk sy haarself teen die muur en druk ook Bíleam se voet teen die muur; daarom het hy haar weer geslaan.
26 En die Engel van die HERE het weer verder gegaan en bly staan op ‘n nou plek waar geen pad was om regs of links uit te draai nie.
27 Toe die esel die Engel van die HERE sien, gaan sy onder Bíleam lê. Daarop het Bíleam baie kwaad geword en die esel met ‘n stok geslaan.
28 Maar die HERE het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het?
29 Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ‘n swaard in my hand—dan het ek jou sekerlik doodgeslaan.
30 En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee.
31 Toe open die HERE die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die HERE in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval.
32 En die Engel van die HERE vra hom: Waarom het jy jou esel nou al drie maal geslaan? Kyk, Ek self het uitgegaan as ‘n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog!
33 Maar die esel het My gesien en nou al drie maal voor My uitgedraai. As sy nie voor My uitgedraai het nie—dan het Ek jou alte seker gedood en haar laat lewe.
34 Toe antwoord Bíleam die Engel van die HERE: Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek teruggaan.
35 En die Engel van die HERE sê vir Bíleam: Gaan saam met die manne, maar net die woord wat Ek jou sê, dit moet jy spreek. So het Bíleam dan met die vorste van Balak saamgegaan.
36 Toe Balak hoor dat Bíleam kom, het hy uitgetrek hom tegemoet na Ir-Moab wat by die grens van die Arnon lê, by die uiteinde van die grondgebied.
37 En Balak sê vir Bíleam: Het ek nie herhaaldelik na jou gestuur om jou te laat roep nie? Waarom het jy nie na my gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou te vereer nie?
38 En Bíleam het Balak geantwoord: Hier het ek na jou gekom. Is ek nou wel in staat om iets te spreek? Die woord wat God in my mond lê, dit sal ek spreek.
39 Bíleam het toe saam met Balak gegaan, en hulle het by Kirjat-Husot gekom.
40 En Balak het beeste en kleinvee geoffer en daarvan aan Bíleam gestuur en aan die vorste wat by hom was.
41 En in die môre het Balak Bíleam geneem en hom op die hoogtes van Baäl laat opklim vanwaar hy die kant van die volk kon sien.




Hoofstuk 23

1 Toe sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme.
2 En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het; en Balak en Bíleam het ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.
3 Daarop sê Bíleam vir Balak: Bly by jou brandoffer staan, en ek sal heengaan; miskien sal die HERE my tegemoetkom, en wat Hy my ook al laat sien, sal ek jou bekend maak. En hy het na ‘n kaal heuwel gegaan.
4 En God het Bíleam tegemoetgekom, en hy het vir Hom gesê: Sewe altare het ek reggemaak en ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.
5 Toe lê die HERE ‘n woord in Bíleam se mond en sê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.
6 En hy het na hom teruggegaan terwyl hy daar staan by sy brandoffer, hy en al die vorste van Moab.
7 En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab—uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel.
8 Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die HERE nie verwens nie?
9 Want van die top van die rotse af sien ek hom, en van die heuwels af aanskou ek hom. Kyk, ‘n volk wat afgesonderd woon en hom nie tot die nasies reken nie.
10 Wie het die stof van Jakob getel? En wie, volgens getal, die vierde deel van Israel? Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees!
11 Toe sê Balak vir Bíleam: Wat het jy my aangedoen? Ek het jou laat haal om my vyande te vloek, en kyk, jy het net geseën!
12 En hy antwoord daarop dít: Moet ek dan nie sorgvuldig alles spreek wat die HERE in my mond lê nie?
13 Daarop sê Balak vir hom: Kom tog saam met my na ‘n ander plek vanwaar jy hom kan sien—net sy kant sal jy sien, maar heeltemal kan jy hom nie sien nie—en vervloek hom daarvandaan vir my.
14 En hy het hom saamgeneem na die Veld van die Wagte, op die top van Pisga, en sewe altare gebou en ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.
15 Toe sê hy vir Balak: Bly hier staan by jou brandoffer, en ek sal daar op ‘n ontmoeting wag.
16 En die HERE het Bíleam ontmoet en ‘n woord in sy mond gelê en gesê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek.
17 En hy het by hom gekom terwyl hy daar staan by sy brandoffer, en die vorste van Moab by hom. En Balak sê vir hom: Wat het die HERE gespreek?
18 Toe hef hy sy spreuk aan en sê: Staan op Balak, en hoor! Luister na my, seun van Sippor!
19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
20 Kyk, ek het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie.
21 ‘n Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob en sien geen onheil in Israel nie. Die HERE sy God is met hom, en die gejubel tot eer van die Koning is by hom.
22 God wat hulle uit Egipte uitgelei het, is vir hulle soos die horings van ‘n buffel.
23 Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie. Nou sal van Jakob en van Israel gesê word wat God gedoen het.
24 Kyk, ‘n volk wat opstaan soos ‘n leeuin, en soos ‘n leeu verhef hy hom. Hy gaan nie lê voordat hy roof eet en die bloed van die wat verslaan is, drink nie.
25 Toe sê Balak vir Bíleam: Jy moet hulle glad nie vloek nie, en jy moet hulle glad nie seën nie.
26 Maar Bíleam antwoord en sê vir Balak: Het ek nie dit met jou gespreek nie: Alles wat die HERE spreek, dit sal ek doen?
27 Verder sê Balak vir Bíleam: Kom tog, ek sal jou na ‘n ander plek saamneem; miskien sal dit reg wees in die oë van God dat jy hulle vir my daarvandaan vervloek.
28 Toe neem Balak Bíleam saam na die top van Peor wat oor die wildernis afkyk.
29 Daarop sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare, en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme.
30 En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het en ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.




Hoofstuk 24

1 Toe Bíleam sien dat dit goed was in die oë van die HERE om Israel te seën, het hy hom nie soos die vorige kere tot towery gewend nie, maar sy gesig na die woestyn gedraai.
2 Toe Bíleam sy oë opslaan en Israel sien soos hy volgens sy stamme in die laer staan, het die Gees van God op hom gekom.
3 En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek.
4 Die hoorder van die woorde van God spreek, hy wat die gesigte van die Almagtige sien, wat neerval en geopende oë het.
5 Hoe mooi is jou tente, o Jakob, jou wonings, o Israel!
6 Soos dale met waterlope wat hulle ver uitstrek, soos tuine by ‘n rivier, soos alewees wat die HERE geplant het, soos seders by die water.
7 Water vloei uit sy emmers, en sy saad is by baie waters. En laat sy koning hoër wees as Agag, en sy koninkryk hom verhef!
8 God wat hom uit Egipte uitgelei het, is vir hom soos die horings van ‘n buffel; hy sal nasies, sy vyande, verteer en hulle gebeente stukkend breek en met sy pyle verbrysel.
9 Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin: wie sal hom opjaag? Geseënd is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek!
10 Toe het Balak baie kwaad geword vir Bíleam en sy hande saamgeslaan, en Balak het aan Bíleam gesê: Ek het jou laat roep om my vyande te vloek, en kyk, jy het nou al drie maal net geseën!
11 Trek dan nou gou na jou woonplek! Ek het gesê dat ek jou hoog sal vereer; maar kyk, die HERE het jou van verering teruggehou.
12 Toe het Bíleam vir Balak gesê: Het ek nie alreeds met jou boodskappers wat jy na my gestuur het, gespreek en gesê nie:
13 Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die HERE nie oortree om goed of kwaad uit my eie hart te doen nie; wat die HERE spreek, dit sal ek spreek.
14 En nou, kyk, ek gaan na my volk toe. Kom, ek sal jou inligting gee, wat hierdie volk jou volk sal aandoen aan die einde van die dae.
15 Toe het hy sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek.
16 Die hoorder van die woorde van God spreek, en hy wat die wetenskap van die Allerhoogste ken, wat die gesigte van die Almagtige sien wat neerval en geopende oë het.
17 Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.
18 Ook sal Edom ‘n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal ‘n besitting wees, maar Israel neem toe in krag.
19 En laat daar een uit Jakob heers en die vrygeraaktes uit die stede vernietig.
20 Toe hy Amalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Amalek is die eersteling van die heidene, maar sy einde is ondergang.
21 Toe hy die Keniete sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Jou woonplek is vas, en jou nes is gebou op die rots.
22 Ewenwel sal Kain tot verwoesting wees. Hoe lank nog? Assur sal jou as gevangene wegvoer.
23 Verder het hy sy spreuk aangehef en gesê: Wee, wie sal lewe as God dít beskik?
24 En skepe kom van die kant van die Kittiërs af, en hulle verneder Assur en hulle verneder Heber; en hy is ook tot ondergang bestem.
25 Toe het Bíleam hom klaargemaak en weggetrek en na sy woonplek teruggekeer. En Balak het ook sy koers gegaan.




Hoofstuk 25

1 Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete—
2 dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode.
3 So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam.
4 Toe sê die HERE vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die oortreders op in die volle son vir die HERE, sodat die toorngloed van die HERE van Israel afgewend kan word.
5 Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het.
6 En daar het ‘n man gekom, een uit die kinders van Israel, en ‘n Midianitiese vrou na sy volksgenote gebring, voor die oë van Moses en voor die oë van die hele vergadering van die kinders van Israel, terwyl hulle ween by die ingang van die tent van samekoms.
7 Toe Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, dit sien, het hy uit die vergadering uit opgestaan en ‘n spies in sy hand geneem
8 en agter die Israelitiese man aan gegaan in die tent en hulle twee deurboor, die Israelitiese man en die vrou, in haar onderlyf. Daarna het die plaag onder die kinders van Israel opgehou.
9 En die wat deur die plaag gesterf het, was vier en twintig duisend.
10 Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê:
11 Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, het my grimmigheid van die kinders van Israel afgewend deurdat hy my ywer onder hulle geywer het, sodat Ek die kinders van Israel in my ywer nie verteer het nie.
12 Daarom spreek: Kyk, Ek sluit met hom my vredeverbond,
13 en dit sal vir hom en sy nageslag ná hom die verbond van ewige priesterskap wees, omdat hy vir sy God geywer en versoening vir die kinders van Israel gedoen het.
14 En die naam van die Israelitiese man wat verslaan is, wat saam met die Midianitiese vrou verslaan is, was Simri, die seun van Salu, owerste van ‘n familie van die Simeoniete.
15 En die naam van die Midianitiese vrou wat verslaan is, was Kosbi, die dogter van Sur. Hy was stamhoof van ‘n familie in Mídian.
16 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
17 Behandel die Midianiete as vyand en verslaan hulle,
18 want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste wat hulle teen julle bedink het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, die dogter van die vors van Mídian, hulle landgenoot, wat op die dag van die plaag weens Peor verslaan is.




Hoofstuk 26

1 En ná die plaag het die HERE met Moses en met Eleásar, die seun van die priester Aäron, gespreek en gesê:
2 Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op, van twintig jaar oud en daarbo, volgens hulle families, almal wat op kommando moet uittrek in Israel.
3 En Moses en die priester Eleásar het hulle toegespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê:
4 Laat hulle opneem van twintig jaar oud en daarbo, soos die HERE Moses beveel het. En die kinders van Israel wat uit Egipteland uitgetrek het, was:
5 Ruben, die eersgeborene van Israel; die seuns van Ruben was: van Henog die geslag van die Henogiete; van Pallu die geslag van die Palluïete;
6 van Hesron die geslag van die Hesroniete; van Karmi die geslag van die Karmiete.
7 Dit is die geslagte van die Rubeniete; en hulle geteldes was drie en veertig duisend sewe honderd en dertig.
8 En die seuns van Pallu was: Elíab;
9 en die seuns van Elíab was: Némuel en Datan en Abíram. Dit is Datan en Abíram wat na die vergadering opgeroep was, wat getwis het teen Moses en Aäron in die bende van Korag toe daar teen die HERE getwis is.
10 En die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind, saam met Korag, toe die bende gesterf het deurdat die vuur die twee honderd en vyftig man verteer het; en hulle het tot ‘n teken geword.
11 Maar die seuns van Korag het nie gesterf nie.
12 Die seuns van Símeon volgens hulle geslagte: van Némuel die geslag van die Nemueliete; van Jamin die geslag van die Jaminiete; van Jagin die geslag van die Jaginiete;
13 van Serag die geslag van die Sargiete; van Saul die geslag van die Sauliete.
14 Dit is die geslagte van die Simeoniete, twee en twintig duisend twee honderd.
15 Die seuns van Gad volgens hulle geslagte: van Sefon die geslag van die Sefoniete; van Haggi die geslag van die Haggiete; van Suni die geslag van die Suniete;
16 van Osni die geslag van die Osniete; van Eri die geslag van die Eriete;
17 van Arod die geslag van die Arodiete; van Areëli die geslag van die Areëliete.
18 Dit is die geslagte van die seuns van Gad volgens hulle geteldes, veertig duisend vyf honderd.
19 Die seuns van Juda was: Er en Onan; maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän.
20 En die seuns van Juda volgens hulle geslagte: van Sela die geslag van die Selaniete; van Peres die geslag van die Parsiete; van Serag die geslag van die Sargiete.
21 En die seuns van Peres: van Hesron die geslag van die Hesroniete; van Hamul die geslag van die Hamuliete.
22 Dit is die geslagte van Juda volgens hulle geteldes, ses en sewentig duisend vyf honderd.
23 Die seuns van Issaskar volgens hulle geslagte: van Tola die geslag van die Tolaïete; van Puwa die geslag van die Puniete;
24 van Jasub die geslag van die Jasubiete; van Simron die geslag van die Simroniete.
25 Dit is die geslagte van Issaskar volgens hulle geteldes, vier en sestig duisend drie honderd.
26 Die seuns van Sébulon volgens hulle geslagte: van Sered die geslag van die Sardiete; van Elon die geslag van die Eloniete; van Jágleël die geslag van die Jagleëliete.
27 Dit is die geslagte van die Sebuloniete volgens hulle geteldes, sestig duisend vyf honderd.
28 Die seuns van Josef volgens hulle geslagte was: Manasse en Efraim.
29 Die seuns van Manasse: van Magir die geslag van die Magiriete. En Magir was die vader van Gílead; van Gílead die geslag van die Gileadiete.
30 Dit is die seuns van Gílead: van Jeser die geslag van die Jesriete; van Helek die geslag van die Helkiete;
31 en van Asriël die geslag van die Asriëliete; en van Segem die geslag van die Sigmiete;
32 en van Semída die geslag van die Semidaïete; en van Hefer die geslag van die Hefriete.
33 Maar Selófhad, die seun van Hefer, het geen seuns gehad nie, maar net dogters. En die name van die dogters van Selófhad was: Magla en Noa, Hogla, Milka en Tirsa.
34 Dit is die geslagte van Manasse; en hulle geteldes was twee en vyftig duisend sewe honderd.
35 Dit is die seuns van Efraim volgens hulle geslagte: van Sutélag die geslag van die Sutalgiete; van Beger die geslag van die Bagriete; van Tahan die geslag van die Tahaniete.
36 En dit is die seuns van Sutélag: van Eran die geslag van die Eraniete.
37 Dit is die geslagte van die seuns van Efraim volgens hulle geteldes, twee en dertig duisend vyf honderd. Dit is die seuns van Josef volgens hulle geslagte.
38 Die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte: van Bela die geslag van die Baliete; van Asbel die geslag van die Asbeliete; van Ahíram die geslag van die Ahiramiete;
39 van Sefúfam die geslag van die Sufamiete; van Hufam die geslag van die Hufamiete.
40 En die seuns van Bela was: Ard en Naäman; van Ard die geslag van die Ardiete; van Naäman die geslag van die Naämiete.
41 Dit is die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte; en hulle geteldes was vyf en veertig duisend ses honderd.
42 Dit is die seuns van Dan volgens hulle geslagte: van Suham die geslag van die Suhamiete. Dit is die geslagte van Dan volgens hulle geslagte.
43 Al die geslagte van die Suhamiete volgens hulle geteldes was vier en sestig duisend vier honderd.
44 Die seuns van Aser volgens hulle geslagte: van Jimna die geslag van die Jimnaïete; van Jiswi die geslag van die Jiswiete; van Bería die geslag van die Beriïete;
45 van die seuns van Bería: van Heber die geslag van die Hebriete; van Málkiël die geslag van die Malkiëliete.
46 En die naam van die dogter van Aser was Serag.
47 Dit is die geslagte van die seuns van Aser volgens hulle geteldes, drie en vyftig duisend vier honderd.
48 Die seuns van Náftali volgens hulle geslagte: van Jágseël die geslag van die Jagseëliete; van Guni die geslag van die Guniete;
49 van Jeser die geslag van die Jisriete; van Sillem die geslag van die Sillemiete.
50 Dit is die geslagte van Náftali volgens hulle geslagte; en hulle geteldes was vyf en veertig duisend vier honderd.
51 Dit is die geteldes van die kinders van Israel: ses honderd en een duisend sewe honderd en dertig.
52 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
53 Vir hierdie mense moet die land as erfenis verdeel word volgens die getal name.
54 Vir die wat baie is, moet jy hulle erfdeel groot maak; en vir die wat min is, moet jy hulle erfdeel klein maak; aan elke stam moet sy erfdeel volgens sy geteldes gegee word.
55 Nogtans moet die land deur die lot verdeel word; volgens die name van hulle voorvaderlike stamme moet hulle erwe.
56 Volgens die lot moet hulle erfenis verdeel word tussen die wat baie en die wat min is.
57 En dit is die geteldes van Levi volgens hulle geslagte: van Gerson die geslag van die Gersoniete; van Kehat die geslag van die Kehatiete; van Merári die geslag van die Merariete.
58 Dit is die geslagte van Levi: die geslag van die Libniete, die geslag van die Hebroniete, die geslag van die Magliete, die geslag van die Musiete, die geslag van die Koragiete. En Kehat was die vader van Amram.
59 En die naam van Amram se vrou was Jogébed, die dogter van Levi wat vir Levi in Egipte gebore is; en vir Amram het sy gebaar: Aäron en Moses en Mirjam, hulle suster.
60 En vir Aäron is gebore: Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar.
61 En Nadab en Abíhu het gesterwe toe hulle vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring het.
62 En hulle geteldes was drie en twintig duisend, almal wat manlik was van ‘n maand oud en daarbo. Want hulle is nie getel onder die kinders van Israel nie, omdat aan hulle geen erfdeel onder die kinders van Israel gegee is nie.
63 Dit is hulle wat deur Moses en die priester Eleásar getel is, wat die kinders van Israel in die vlaktes van Moab getel het, by die Jordaan van Jérigo.
64 En onder hulle was daar niemand van die wat deur Moses en die priester Aäron getel is nie, toe hulle die kinders van Israel in die woestyn Sinai getel het.
65 Want die HERE het van hulle gesê: Sterwe sal hulle in die woestyn! En van hulle het niemand oorgebly nie buiten Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.




Hoofstuk 27

1 Daarna het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef—dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa—
2 en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die tent van samekoms, en gesê:
3 Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie.
4 Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ‘n besitting onder die broers van ons vader.
5 Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE.
6 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
7 Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ‘n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan.
8 En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan.
9 En as hy geen dogter het nie, moet julle sy erfdeel aan sy broers gee.
10 En as hy geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan die broers van sy vader gee.
11 En as sy vader geen broers het nie, moet julle sy erfdeel aan sy bloedverwant gee wat naaste aan hom is uit sy geslag, en dié moet dit in besit neem. En dit moet vir die kinders van Israel ‘n regsinsetting wees, soos die HERE Moses beveel het.
12 Daarna het die HERE aan Moses gesê: Klim op hierdie gebergte Abárim, en bekyk die land wat Ek aan die kinders van Israel gegee het.
13 En as jy dit gesien het, sal jy ook by jou volksgenote versamel word soos jou broer Aäron versamel is;
14 omdat julle in die woestyn Sin, toe die vergadering getwis het, teen my bevel wederstrewig gewees het om My by die water voor hulle oë te heilig. Dit is die water van Mériba by Kades, in die woestyn Sin.
15 Toe het Moses met die HERE gespreek en gesê:
16 Laat die HERE, die God van die geeste van alle vlees, ‘n man oor die vergadering aanstel
17 wat voor hulle uittrek en wat voor hulle intrek, en wat hulle uitlei en wat hulle inlei; sodat die vergadering van die HERE nie mag wees soos skape wat geen wagter het nie.
18 Toe sê die HERE aan Moses: Neem vir jou Josua, die seun van Nun, ‘n man in wie die Gees is; en lê hom die hand op,
19 en stel hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering, en gee hom ‘n opdrag voor hulle oë;
20 en lê op hom van jou hoogheid, sodat die hele vergadering van die kinders van Israel na hom kan luister.
21 En hy moet voor die priester Eleásar staan, dat dié vir hom die beslissing van die Urim kan vra voor die aangesig van die HERE; volgens sy uitspraak moet hulle uittrek en volgens sy uitspraak moet hulle intrek, hy en al die kinders van Israel saam met hom en die hele vergadering.
22 En Moses het gedoen soos die HERE hom beveel het: hy het Josua geneem en hom voor die priester Eleásar en voor die hele vergadering gestel,
23 en hy het hom die hande opgelê en hom ‘n opdrag gegee soos die HERE deur die diens van Moses gespreek het.




Hoofstuk 28

1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om my offer, my spys vir my vuuroffers as lieflike geur vir My, op die bepaalde tyd aan My te bring.
3 En jy moet vir hulle sê: Dit is die vuuroffer wat julle aan die HERE moet bring: twee jaaroud lammers sonder gebrek elke dag as ‘n voortdurende brandoffer.
4 Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei;
5 met ‘n tiende van ‘n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met ‘n kwart-hin uitgestampte olie.
6 Dit is die voortdurende brandoffer wat by die berg Sinai ingestel is as lieflike geur, ‘n vuuroffer aan die HERE.
7 En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees ‘n kwart-hin vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet.
8 En die ander lam moet jy teen die aand berei; met dieselfde spysoffer as in die môre en met die drankoffer wat daarby behoort, moet jy dit berei—’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
9 Maar op die sabbatdag twee jaaroud lammers sonder gebrek en twee-tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en die drankoffer wat daarby behoort.
10 Dit is die brandoffer van die sabbat op elke sabbat, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
11 En by die begin van julle maande moet julle ‘n brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
12 en drie-tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke bul, en twee tiendes fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir die een ram;
13 en een-tiende fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke lam. Dit is ‘n brandoffer, ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer aan die HERE.
14 En hulle drankoffers moet wees ‘n half-hin wyn vir ‘n bul en ‘n derde van ‘n hin vir ‘n ram en ‘n kwart-hin vir ‘n lam. Dit is die brandoffer by elke nuwemaan, vir die maande van die jaar.
15 Ook moet een bokram as sondoffer aan die HERE berei word, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
16 En in die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, is die pasga van die HERE.
17 En op die vyftiende dag van hierdie maand is dit fees; sewe dae lank moet ongesuurde brode geëet word.
18 Op die eerste dag moet daar ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
19 Maar julle moet as vuuroffer, as brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram en sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees.
20 En hulle spysoffer fynmeel met olie gemeng: drie-tiendes van ‘n efa vir ‘n bul en twee-tiendes vir ‘n ram moet julle berei.
21 Een-tiende moet jy vir elke lam van die sewe lammers berei.
22 Daarby een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen.
23 Behalwe die môrebrandoffer, wat as voortdurende brandoffer dien, moet julle dit berei.
24 Op dié manier moet julle elke dag, sewe dae lank, die vuurofferspys van lieflike geur vir die HERE berei; by die voortdurende brandoffer moet dit berei word—en die drankoffer wat daarby behoort.
25 En op die sewende dag moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
26 En op die dag van die eerstelinge, as julle ‘n nuwe spysoffer by julle fees van die weke aan die HERE bring, moet daar vir julle’n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
27 Dan moet julle ‘n brandoffer as lieflike geur aan die HERE bring: twee jong bulle, een ram, sewe jaaroud lammers;
28 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul, twee-tiendes vir die een ram,
29 een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
30 een bokram om vir julle versoening te doen.
31 Behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, moet julle dit berei—hulle moet vir julle sonder gebrek wees—en hulle drankoffers.




Hoofstuk 29

1 En in die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie; dit moet vir julle ‘n dag van trompetgeklank wees.
2 Dan moet julle ‘n brandoffer as lieflike geur vir die HERE berei: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
3 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes van ‘n efa vir die bul, twee-tiendes vir die ram,
4 en een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
5 en een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen;
6 behalwe die brandoffer van die nuwemaan en die spysoffer wat daarby behoort, en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, en hulle drankoffers volgens die daarvoor geldende voorskrif—tot ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer aan die HERE.
7 En op die tiende van hierdie sewende maand moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees, en julle moet julle verootmoedig; géén werk mag julle doen nie.
8 Dan moet julle ‘n brandoffer as lieflike geur aan die HERE bring: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees;
9 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir die bul, twee-tiendes vir die een ram,
10 een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
11 een bokram as sondoffer, behalwe die sondoffer van versoening en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort—en hulle drankoffers.
12 En op die vyftiende dag van die sewende maand moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie, maar julle moet sewe dae lank vir die HERE ‘n fees vier.
13 En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE bring: dertien jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle wees;
14 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul van die dertien bulle, twee-tiendes vir elke ram van die twee ramme,
15 en een-tiende vir elke lam van die veertien lammers;
16 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
17 Daarna op die tweede dag: twaalf jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
18 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
19 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffers, en die spysoffer en drankoffers wat daarby behoort.
20 En op die derde dag: elf bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
21 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
22 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
23 Verder op die vierde dag: tien bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
24 hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
25 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
26 En op die vyfde dag: nege bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
27 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
28 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
29 Daarna op die sesde dag: agt bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
30 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
31 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
32 En op die sewende dag: sewe bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
33 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die daarvoor geldende voorskrif;
34 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
35 Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n feestyd wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
36 En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE bring: een bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
37 hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bul, die ram en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
38 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
39 Dit moet julle tot eer van die HERE op jul feestye berei, behalwe julle geloftes en julle vrywillige gawes, of dit al brandoffers is of spysoffers of drankoffers of dankoffers.
40 En Moses het aan die kinders van Israel alles gesê net soos die HERE Moses beveel het.




Hoofstuk 30

1 En Moses het met die stamhoofde van die kinders van Israel gespreek en gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het:
2 As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan.
3 Maar as ‘n vrou aan die HERE ‘n gelofte doen of haarself verbind om haar te onthou, terwyl sy in haar vader se huis is in haar jeug,
4 en haar vader van haar gelofte hoor of van die onthouding waartoe sy haarself verbind het, en haar vader swyg teenoor haar, dan sal al haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees.
5 Maar as haar vader haar terughou op die dag dat hy daarvan hoor, sal al haar geloftes en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, nie van krag wees nie; en die HERE sal haar dit vergewe, omdat haar vader haar teruggehou het.
6 Maar as sy trou terwyl haar geloftes op haar rus of iets wat onverskillig uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het,
7 en haar man daarvan hoor, op watter dag ook al, en teenoor haar swyg, dan sal haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees.
8 Maar as haar man op die dag dat hy daarvan hoor, haar terughou, dan maak hy haar gelofte tot niet wat op haar rus, en ook wat onverskillig uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het; en die HERE sal haar dit vergewe.
9 Maar die gelofte van ‘n weduwee of van ‘n vrou wat verstoot is—alles waardeur sy haarself verbind het, sal vir haar van krag wees.
10 En as sy in die huis van haar man ‘n gelofte doen of haarself met ‘n eed verbind om haar te onthou,
11 en haar man daarvan hoor en teenoor haar swyg, haar nie terughou nie, dan sal al haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees.
12 Maar as haar man die dinge uitdruklik tot niet maak op die dag dat hy daarvan hoor, sal niks van alles wat uit haar lippe uitgegaan het, van haar geloftes of van die verbintenis tot onthouding, van krag wees nie; haar man het dit tot niet gemaak, en die HERE sal haar dit vergewe.
13 Elke gelofte en elke eed van onthouding om die siel te verootmoedig—haar man kan dit van krag maak, en haar man kan dit tot niet maak.
14 Maar as haar man van dag tot dag geheel en al teenoor haar swyg, dan maak hy al haar geloftes of elke onthouding waartoe sy verbind is, van krag; hy het dit van krag gemaak, want hy het teenoor haar geswyg op die dag dat hy daarvan gehoor het.
15 Maar as hy dit uitdruklik tot niet maak nadat hy al daarvan gehoor het, dan dra hy haar ongeregtigheid.
16 Dit is die insettinge wat die HERE Moses beveel het tussen ‘n man en sy vrou, tussen ‘n vader en sy dogter terwyl sy in haar jeug in haar vader se huis is.




Hoofstuk 31

1 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
2 Neem wraak vir die kinders van Israel op die Midianiete; daarna sal jy by jou volksgenote versamel word.
3 Daarop het Moses met die volk gespreek en gesê: Laat manne uit julle midde hul vir die oorlog wapen, dat hulle teen Mídian kan trek om die wraakgerig van die HERE aan Mídian te voltrek.
4 duisend vir elke stam van al die stamme van Israel moet julle na die oorlog stuur.
5 Toe is daar uit die duisende van Israel duisend vir elke stam gelewer, twaalf duisend wat vir die oorlog gewapen was.
6 En Moses het hulle na die oorlog gestuur, duisend vir elke stam, hulle en Pínehas, die seun van die priester Eleásar, na die oorlog, met die heilige voorwerpe en die trompette by hom om alarm te blaas.
7 En hulle het oorlog toe getrek teen Mídian, soos die HERE Moses beveel het, en al die manlike persone gedood.
8 Ook het hulle die konings van Mídian gedood by die wat hulle verslaan het: Ewi en Rekem en Sur en Hur en Reba, die vyf konings van Mídian; ook het hulle Bíleam, die seun van Beor, met die swaard gedood.
9 Maar die kinders van Israel het die vroue van die Midianiete en hulle kinders as gevangenes weggevoer, en al hulle lasdiere en al hulle vee en al hulle rykdom geroof.
10 Verder, al hulle stede in hulle woonplekke en al hulle laers het hulle met vuur verbrand
11 en al die roof geneem en al die buit, mense en diere.
12 Daarna het hulle die gevangenes en die buit en die roof na Moses en die priester Eleásar en na die vergadering van die kinders van Israel gebring in die laer, in die vlaktes van Moab wat by die Jordaan van Jérigo is.
13 En toe Moses en die priester Eleásar en al die owerstes van die vergadering hulle buitekant die laer tegemoetgaan,
14 het Moses kwaad geword vir die aanvoerders van die leër, die owerstes oor duisend en die owerstes oor honderd wat van die veldtog af gekom het.
15 En Moses het vir hulle gesê: Het julle al die vroue laat lewe?
16 Kyk, hulle was, deur die raad van Bíleam, vir die kinders van Israel ‘n oorsaak van troubreuk teenoor die HERE in die saak van Peor, sodat die plaag in die vergadering van die HERE was.
17 Maak dan nou dood almal wat van die manlike geslag onder die kinders is; en maak dood elke vrou wat gemeenskap met ‘n man gehad het.
18 Maar laat al die kinders onder die vroulike persone wat geen gemeenskap met ‘n man gehad het nie, vir julle in die lewe bly.
19 En julle, slaan sewe dae lank ‘n kamp op buitekant die laer; elkeen wat ‘n mens gedood en elkeen wat aan ‘n gesneuwelde geraak het—julle moet jul op die derde dag en op die sewende dag ontsondig, julle en jul gevangenes.
20 Ook moet julle al die klere en elke ding van leer en alles wat van bokhaar gemaak is, en elke ding van hout ontsondig.
21 En die priester Eleásar het aan die krygsmanne wat na die oorlog getrek het, gesê: Dit is die wetsinsetting wat die HERE Moses beveel het.
22 Net die goud en die silwer, die koper, die yster, die tin en die lood—
23 elke ding wat in die vuur kan kom—moet julle deur die vuur laat deurgaan, en dit sal rein wees; ewenwel moet dit deur reinigingswater ontsondig word; maar alles wat nie in die vuur kan kom nie, moet julle deur die water laat deurgaan.
24 Julle moet ook jul klere op die sewende dag was; dan sal julle rein wees; en daarna mag julle in die laer kom.
25 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
26 Neem die volle getal op van wat as buit weggevoer is, van mense en van diere, jy en die priester Eleásar en die familiehoofde van die vergadering;
27 en verdeel die buit tussen die wat met die oorlog te doen gehad het, wat op kommando uitgetrek het, én die hele vergadering.
28 En hef ‘n bydrae vir die HERE van die krygsmanne wat na die oorlog uitgetrek het—een uit elke vyf honderd—van die mense en van die beeste en van die esels en van die kleinvee.
29 Van hulle helfte moet julle dit neem, en gee dit aan die priester Eleásar as ‘n offergawe aan die HERE.
30 Maar uit die helfte van die kinders van Israel moet jy een neem, uitgehaal uit elke vyftig, uit die mense, uit die beeste, uit die esels en die kleinvee, uit al die diere; en jy moet dit aan die Leviete gee wat die diens by die tabernakel van die HERE waarneem.
31 En Moses en die priester Eleásar het gedoen soos die HERE Moses beveel het.
32 En die buit, die oorskot van die roof wat die krygsmanne geneem het, was ses honderd vyf en sewentig duisend stuks kleinvee;
33 en twee en sewentig duisend beeste;
34 en een en sestig duisend esels;
35 en mensesiele, uit die vroulike persone wat geen gemeenskap met ‘n man gehad het nie, al die siele was twee en dertig duisend.
36 En die helfte, die deel van hulle wat na die oorlog uitgetrek het, was in getal drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd stuks kleinvee.
37 En die bydrae aan die HERE uit die kleinvee was ses honderd vyf en sewentig.
38 En die beeste was ses en dertig duisend, en die bydrae daarvan aan die HERE twee en sewentig.
39 En die esels was dertig duisend vyf honderd, en die bydrae daarvan aan die HERE een en sestig.
40 En mensesiele was sestien duisend, en die bydrae daarvan aan die HERE twee en dertig siele.
41 En Moses het aan die priester Eleásar die bydrae gegee wat as offergawe aan die HERE bestem was, soos die HERE Moses beveel het.
42 En uit die helfte van die kinders van Israel wat Moses van die vegsmanne afgedeel het—
43 die helfte van die vergadering uit die kleinvee was drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd;
44 en die beeste was ses en dertig duisend;
45 en die esels dertig duisend vyf honderd;
46 en mensesiele sestien duisend—
47 uit die helfte van die kinders van Israel het Moses geneem—van wat uitgehaal was, een uit elke vyftig, van mense en van diere—en hy het dit aan die Leviete gegee wat die diens by die tabernakel van die HERE waarneem, soos die HERE Moses beveel het.
48 Toe het die aanvoerders oor die duisende van die leër, die owerstes oor duisend en die owerstes oor honderd, nader gekom na Moses
49 en aan Moses gesê: U dienaars het die volle getal van die krygsmanne opgeneem wat onder ons bevel was, en daarvan word nie een vermis nie.
50 Daarom bring elkeen van ons as offer aan die HERE wat hy aan goue goed gevind het: armkettings en armbande, vingerringe, oorringe en halssierade, om versoening te doen vir ons siele voor die aangesig van die HERE.
51 Toe het Moses en die priester Eleásar die goud, allerhande kunsvoorwerpe, van hulle aangeneem.
52 En al die goud van die offergawe wat hulle aan die HERE afgegee het, was sestien duisend sewe honderd en vyftig sikkels, afkomstig van die owerstes oor duisend en die owerstes oor honderd.
53 Die krygsmanne het elkeen na welgevalle buitgemaak.
54 So het Moses en die priester Eleásar dan die goud van die owerstes oor duisend en oor honderd aangeneem en dit in die tent van samekoms gebring om die kinders van Israel voor die aangesig van die HERE in gedagtenis te bring.




Hoofstuk 32

1 En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het baie vee gehad, ‘n groot menigte. En toe hulle die land van Jaéser en die land Gílead bekyk het, vind hulle uit dat die plek ‘n plek vir vee was.
2 Daarop het die kinders van Gad en die kinders van Ruben gekom en met Moses en die priester Eleásar en met die owerstes van die vergadering gespreek en gesê:
3 Atarot en Dibon en Jaéser en Nimra en Hesbon en Eleále en Sebam en Nebo en Behon—
4 die land wat die HERE voor die vergadering van Israel uit verower het—is ‘n land vir vee, en u dienaars het vee.
5 Verder het hulle gesê: As ons genade in u oë gevind het, laat hierdie land aan u dienaars as ‘n besitting gegee word; bring ons nie oor die Jordaan nie.
6 Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly?
7 Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het?
8 So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te bekyk.
9 Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat die HERE aan hulle gegee het.
10 Daarom het die toorn van die HERE dieselfde dag ontvlam, en Hy het gesweer en gesê:
11 Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie—
12 behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van Nun; want hulle het volhard om die HERE te volg.
13 En die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat kwaad gedoen het in die oë van die HERE.
14 En kyk, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, ‘n egte kroos van sondige mense, om die toorngloed van die HERE teen Israel nog te vermeerder.
15 As julle van Hom afvallig word, sal Hy hulle nog langer in die woestyn laat bly, en julle sal hierdie hele volk te gronde laat gaan.
16 Toe kom hulle na hom toe aan en sê: Ons sal hier skaapkrale bou vir ons vee en stede vir ons kinders.
17 Maar ons self sal ons haastig wapen voor die oë van die kinders van Israel, totdat ons hulle op hul woonplek bring; en ons kinders sal in die versterkte stede bly vanweë die bewoners van die land.
18 Ons sal nie na ons huise teruggaan voordat die kinders van Israel elkeen in besit van sy erfdeel gekom het nie.
19 Want ons sal nie saam met hulle wes van die Jordaan en verder weg erwe nie, omdat ons erfdeel duskant die Jordaan, teen sonop, ons s’n geword het.
20 Toe sê Moses vir hulle: As julle dit doen, as julle jul voor die aangesig van die HERE vir die oorlog wapen
21 en elke gewapende man van julle voor die aangesig van die HERE deur die Jordaan trek, totdat Hy sy vyande voor sy aangesig uit verdrywe het
22 en die land voor die aangesig van die HERE onderwerp is, en julle daarna teruggaan, dan sal julle vrygestel wees voor die HERE en voor Israel, en hierdie land sal vir julle ‘n besitting word voor die aangesig van die HERE.
23 Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die HERE, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind.
24 Bou vir julle stede vir jul kinders en krale vir jul kleinvee, en doen wat uit julle mond uitgegaan het.
25 Toe het die kinders van Gad en die kinders van Ruben met Moses gespreek en gesê: U dienaars sal doen soos my heer beveel het.
26 Ons kinders, ons vroue, ons vee en al ons lasdiere sal daar in die stede van Gílead bly;
27 maar u dienaars, almal wat vir die oorlog gewapen is, sal voor die aangesig van die HERE na die oorlog oortrek soos my heer gespreek het.
28 Toe het Moses aangaande hulle aan die priester Eleásar en aan Josua, die seun van Nun, en aan die familiehoofde uit die stamme van die kinders van Israel bevel gegee,
29 en Moses het aan hulle gesê: As die kinders van Gad en die kinders van Ruben saam met julle deur die Jordaan trek, almal wat vir die oorlog gewapen is, voor die aangesig van die HERE, en die land voor julle uit onderwerp is, gee dan aan hulle die land Gílead as ‘n besitting.
30 Maar as hulle nie gewapend saam met julle oortrek nie, moet hulle onder julle in die land Kanaän besittings verkry.
31 En die kinders van Gad en die kinders van Ruben het geantwoord en gesê: Wat die HERE aan u dienaars gesê het, so sal ons doen.
32 Ons sal gewapend oortrek voor die aangesig van die HERE na die land Kanaän, en ons erflike besitting oos van die Jordaan sal ons s’n wees.
33 So het Moses dan aan hulle gegee, aan die kinders van Gad en die kinders van Ruben en die halwe stam van Manasse, die seun van Josef, die koninkryk van Sihon, koning van die Amoriete, en die koninkryk van Og, koning van Basan, die land volgens sy stede met die grondgebied wat daarby behoort, die stede van die land rondom.
34 En die kinders van Gad het Dibon gebou en Atarot en Aroër
35 en Aterot-Sofan en Jaéser en Jógbeha
36 en Bet-Nimra en Bet-Haran, versterkte stede en skaapkrale.
37 En die kinders van Ruben het Hesbon gebou en Eleále en Kirjataim
38 en Nebo en Baäl-Meon—met verandering van die name—en Sibma; en hulle het die stede wat hulle gebou het, name gegee.
39 En die seuns van Magir, die seun van Manasse, het na Gílead gegaan en dit verower en die Amoriete verdrywe wat daarin was.
40 En Moses het Gílead aan Magir, die seun van Manasse, gegee; en hy het daarin gewoon.
41 En Jaïr, die seun van Manasse, het gegaan en hulle tentdorpe ingeneem en dit tentdorpe van Jaïr genoem.
42 En Nobag het gegaan en Kenat en die onderhorige plekke ingeneem en dit sy naam Nobag gegee.




Hoofstuk 33

1 Dit is die trekke van die kinders van Israel wat uit Egipteland uitgetrek het volgens hulle leërafdelings, onder leiding van Moses en Aäron.
2 Volgens die bevel van die HERE het Moses die plekke opgeskrywe vanwaar hulle van plek tot plek verder getrek het; en dit is hulle plekke vanwaar hulle al verder getrek het.
3 Hulle het van Raämses af opgebreek in die eerste maand, op die vyftiende dag van die eerste maand; op die dag ná die pasga het die kinders van Israel deur ‘n hoë hand voor die oë van al die Egiptenaars uitgetrek,
4 terwyl die Egiptenaars besig was om dié te begrawe wat die HERE onder hulle verslaan het, al die eersgeborenes; ook het die HERE aan hulle gode strafgerigte voltrek.
5 Toe die kinders van Israel van Raämses af opgebreek het, het hulle laer opgeslaan in Sukkot.
6 En hulle het van Sukkot af opgebreek en laer opgeslaan in Etam wat aan die kant van die woestyn lê.
7 En hulle het van Etam af opgebreek en weggedraai na Pi-Hágirot wat oos van Baäl-Sefon lê; en hulle het laer opgeslaan voor Migdol.
8 En hulle het van Pi-Hágirot af opgebreek en dwarsdeur die see gegaan na die woestyn toe; en hulle het drie dagreise ver die woestyn van Etam ingetrek en laer opgeslaan in Mara.
9 En hulle het van Mara af opgebreek en by Elim gekom; en in Elim was twaalf waterfonteine en sewentig palmbome, en hulle het daar laer opgeslaan.
10 En hulle het van Elim af opgebreek en laer opgeslaan by die Skelfsee.
11 En hulle het van die Skelfsee af opgebreek en laer opgeslaan in die woestyn Sin.
12 En hulle het uit die woestyn Sin opgebreek en laer opgeslaan in Dofka.
13 En hulle het van Dofka af opgebreek en laer opgeslaan in Alus.
14 En hulle het van Alus af opgebreek en laer opgeslaan in Ráfidim; maar daar was geen water vir die volk om te drink nie.
15 En hulle het van Ráfidim af opgebreek en laer opgeslaan in die woestyn Sinai.
16 En hulle het uit die woestyn Sinai opgebreek en laer opgeslaan in Kibrot-Hattáäwa.
17 En hulle het van Kibrot-Hattáäwa af opgebreek en laer opgeslaan in Háserot.
18 En hulle het van Háserot af opgebreek en laer opgeslaan in Ritma.
19 En hulle het van Ritma af opgebreek en laer opgeslaan in Rimmon-Peres.
20 En hulle het van Rimmon-Peres af opgebreek en laer opgeslaan in Libna.
21 En hulle het van Libna af opgebreek en laer opgeslaan in Rissa.
22 En hulle het van Rissa af opgebreek en laer opgeslaan in Keheláta.
23 En hulle het van Keheláta af opgebreek en laer opgeslaan by die berg Sefer.
24 En hulle het van die berg Sefer af opgebreek en laer opgeslaan in Hárada.
25 En hulle het van Hárada af opgebreek en laer opgeslaan in Mákhelot.
26 En hulle het van Mákhelot af opgebreek en laer opgeslaan in Tahat.
27 En hulle het van Tahat af opgebreek en laer opgeslaan in Terag.
28 En hulle het van Terag af opgebreek en laer opgeslaan in Mitka.
29 En hulle het van Mitka af opgebreek en laer opgeslaan in Hasmóna.
30 En hulle het van Hasmóna af opgebreek en laer opgeslaan in Móserot.
31 En hulle het van Móserot af opgebreek en laer opgeslaan in Béne-Jáäkan.
32 En hulle het van Béne-Jáäkan af opgebreek en laer opgeslaan in Hor-Hággidgad.
33 En hulle het van Hor-Hággidgad af opgebreek en laer opgeslaan in Jotbáta.
34 En hulle het van Jotbáta af opgebreek en laer opgeslaan in Abróna.
35 En hulle het van Abróna af opgebreek en laer opgeslaan in Éseon-Geber.
36 En hulle het van Éseon-Geber af opgebreek en laer opgeslaan in die woestyn Sin, dit is Kades.
37 En hulle het van Kades af opgebreek en laer opgeslaan by die berg Hor, aan die kant van die land Edom.
38 Toe het die priester Aäron volgens die bevel van die HERE op die berg Hor geklim en daar gesterwe, in die veertigste jaar ná die uittog van die kinders van Israel uit Egipteland, in die vyfde maand, op die eerste van die maand.
39 En Aäron was honderd drie en twintig jaar oud toe hy op die berg Hor gesterf het.
40 En die Kanaäniet, die koning van Arad, wat in die Suidland in die land Kanaän gewoon het, het gehoor dat die kinders van Israel aankom.
41 En hulle het van die berg Hor af opgebreek en laer opgeslaan in Sálmona.
42 En hulle het van Sálmona af opgebreek en laer opgeslaan in Punon.
43 En hulle het van Punon af opgebreek en laer opgeslaan in Obot.
44 En hulle het van Obot af opgebreek en laer opgeslaan in Ijje-Haäbárim, by die grens van Moab.
45 En hulle het van Ijjim af opgebreek en laer opgeslaan in Dibon-Gad.
46 En hulle het van Dibon-Gad af opgebreek en laer opgeslaan in Almon-Diblataim.
47 En hulle het van Almon-Diblataim af opgebreek en laer opgeslaan in die gebergte Abárim, voor Nebo.
48 En hulle het van die gebergte Abárim af opgebreek en laer opgeslaan in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo.
49 En hulle het laer opgeslaan by die Jordaan van Bet-Hajésimot af tot by Abel-Hassittim, in die vlaktes van Moab.
50 En die HERE het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê:
51 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan in die land Kanaän intrek,
52 moet julle al die bewoners van die land voor julle uit verdrywe en hulle beeldhouwerk verniel; ook moet julle al hulle gegote beelde verniel en al hulle hoogtes verwoes.
53 En julle moet die land in besit neem en daarin woon; want Ek het die land aan julle gegee om dit te besit.
54 En julle moet die land deur die lot as erfdeel verwerwe, volgens julle geslagte; vir die wat baie is, moet julle hulle erfdeel groot maak, en vir die wat min is, moet jy hulle erfdeel klein maak. Waar die lot vir iemand val, moet dit sy deel wees; volgens julle vaderlike stamme moet julle dit as erfdeel verwerwe.
55 Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon.
56 En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen.




Hoofstuk 34

1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land Kanaän kom, sal dit die land wees wat aan julle as erfdeel sal val; die land Kanaän volgens sy grense.
3 Julle suidekant dan moet van die woestyn Sin af langs Edom wees; en julle suidelike grens moet aan die oostekant van die einde van die Soutsee af wees;
4 en julle grens moet suid van Skerpioennek swaai en oorloop na Sin toe, totdat dit doodloop suid van Kades-Barnéa; dan moet dit aanloop na Hasar-Addar en oor na Asmon toe.
5 Verder moet die grens swaai van Asmon af na die spruit van Egipte toe, sodat dit by die see doodloop.
6 Aangaande die westelike grens, dit moet vir julle die Groot See saam met sy gebied wees; dit moet julle westelike grens wees.
7 En dit moet julle noordelike grens wees: van die Groot See af moet julle jul grenslyn trek na die berg Hor.
8 Van die berg Hor af moet julle die grenslyn trek tot by die ingang na Hamat; en die grens moet doodloop by Sedad.
9 Dan moet die grens aanloop na Sifron toe, en dit moet doodloop by Hasar-Enan. Dit moet julle noordelike grens wees.
10 Verder moet julle as jul oostelike grens die lyn trek van Hasar-Enan af na Sefam toe.
11 En die grens moet afloop van Sefam af na Ribla toe, oos van Ajin; dan moet die grens afloop en skrams oor die hange van die meer Kinnéret gaan, aan die oostekant.
12 Verder moet die grens afloop na die Jordaan totdat dit doodloop by die Soutsee. Dit moet vir julle die land wees volgens sy grense rondom.
13 En Moses het aan die kinders van Israel bevel gegee en gesê: Dit is die land wat julle deur die lot as erfdeel sal verwerwe, wat die HERE beveel het om aan die nege stamme en aan die halwe stam te gee.
14 Want die stam van die kinders van die Rubeniete volgens hulle families en die stam van die kinders van die Gadiete volgens hulle families en die halwe stam van Manasse het al ontvang—hulle het hul erfdeel ontvang.
15 Die twee stamme en die halwe stam het hulle erfdeel aan die oostekant van die Jordaan van Jérigo, teen sonop, ontvang.
16 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
17 Dit is die name van die manne wat vir julle die land as erfenis moet verdeel: die priester Eleásar en Josua, die seun van Nun.
18 Daarby moet julle uit elke stam een owerste neem om die land as erfenis te verdeel.
19 En dit is die name van die manne: van die stam van Juda—Kaleb, die seun van Jefúnne;
20 en van die stam van Símeon se kinders—Sémuel, die seun van Ammihud;
21 van die stam van Benjamin—Elídad, die seun van Kislon;
22 en van die stam van Dan se kinders as owerste—Bukki, die seun van Jogli;
23 van die kinders van Josef: van die stam van Manasse se kinders as owerste—Hánniël, die seun van Efod;
24 en van die stam van Efraim se kinders as owerste—Kémuel, die seun van Siftan;
25 en van die stam van Sébulon se kinders as owerste—Elísafan, die seun van Parnag;
26 en van die stam van Issaskar se kinders as owerste—Páltiël, die seun van Assan;
27 en van die stam van Aser se kinders as owerste—Ahíhud, die seun van Selómi;
28 en van die stam van Náftali se kinders as owerste—Pedáel, die seun van Ammihud.
29 Dit is hulle aan wie die HERE bevel gegee het om die erfenis vir die kinders van Israel in die land Kanaän te verdeel.




Hoofstuk 35

1 En die HERE het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê:
2 Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle aan die Leviete van hulle erflike besitting stede gee om te bewoon; ook moet julle weiveld rondom die stede aan die Leviete gee.
3 En die stede moet vir hulle dien om te bewoon; maar die weiveld wat daarby behoort, moet vir hulle diere en hulle besitting en al hulle lewende hawe wees.
4 En die weiveld van die stede wat julle aan die Leviete gee, moet van die stadsmuur af buitentoe duisend el rondom wees.
5 En julle moet buitekant die stad meet: aan die oostekant twee duisend el en aan die suidekant twee duisend el en aan die westekant twee duisend el en aan die noordekant twee duisend el, en die stad in die middel. Dit moet vir hulle as weiveld van die stede dien.
6 En die stede wat julle aan die Leviete gee, moet die ses vrystede wees wat julle moet gee, dat die een wat ‘n doodslag begaan het, daarheen kan vlug; en daarby moet julle twee en veertig stede gee.
7 Al die stede wat julle aan die Leviete gee, moet wees agt en veertig stede, hulle saam met hul weiveld.
8 En wat die stede betref wat julle uit die besitting van die kinders van Israel gee—julle moet van die wat baie is, baie neem, en van die wat min is, min neem; elke stam moet van sy stede aan die Leviete gee volgens die erfdeel wat elkeen gaan kry.
9 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
10 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan na die land Kanaän trek,
11 moet julle gunstig geleë stede vir julle uitsoek; as vrystede moet hulle vir julle dien, dat die een wat ‘n doodslag begaan het, een wat per ongeluk ‘n mens doodgeslaan het, daarheen kan vlug.
12 En die stede moet vir julle as toevlug dien vanweë die bloedwreker, sodat hy wat ‘n doodslag begaan het, nie sterwe voordat hy voor die vergadering gestaan het om geoordeel te word nie.
13 En die stede wat julle gee, moet vir julle, ses in getal, as vrystede dien.
14 Drie van die stede moet julle oos van die Jordaan gee, en drie daarvan moet julle in die land Kanaän gee; vrystede moet hulle wees.
15 Vir die kinders van Israel en die vreemdeling en die bywoner onder hulle moet hierdie ses stede as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per ongeluk ‘n mens doodgeslaan het.
16 Maar as hy hom slaan met ‘n ystervoorwerp, sodat hy sterwe, dan is hy ‘n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
17 En as hy hom slaan met ‘n klip in die hand—waardeur iemand kan sterwe—en hy sterwe, dan is hy ‘n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
18 Of as hy hom slaan met ‘n houtvoorwerp in die hand—waardeur iemand kan sterwe—en hy sterwe, dan is hy ‘n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
19 Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak; as hy hom kry, moet hy hom doodmaak.
20 En as hy hom uit haat stamp of met opset na hom gooi, sodat hy sterwe,
21 of hom uit vyandskap met sy hand slaan, sodat hy sterwe, dan moet hy wat geslaan het, sekerlik gedood word; hy is ‘n moordenaar; die bloedwreker moet die moordenaar doodmaak as hy hom kry.
22 Maar as hy hom onvoorsiens, sonder vyandskap, stamp of enigiets sonder opset na hom gooi;
23 of as hy enige klip waardeur iemand kan sterwe—as hy, sonder om dit te sien, dit op hom laat val, sodat hy sterwe, terwyl hy geen vyand van hom was en sy onheil nie gesoek het nie,
24 dan moet die vergadering tussen hom wat doodgeslaan het, en die bloedwreker oordeel volgens hierdie voorskrifte.
25 En die vergadering moet hom wat ‘n doodslag begaan het, red uit die hand van die bloedwreker, en die vergadering moet hom laat teruggaan na sy vrystad waarheen hy gevlug het; en hy moet daarin bly tot die dood van die hoëpriester wat met die heilige olie gesalf is.
26 Maar as hy wat ‘n doodslag begaan het, ooit buitekant die grens van sy vrystad gaan waarheen hy moes vlug,
27 en die bloedwreker hom buitekant die grens van sy vrystad kry, en die bloedwreker hom doodslaan wat ‘n doodslag begaan het, dan sal daar vir hom geen bloedskuld wees nie.
28 Want hy moet in sy vrystad bly tot die dood van die hoëpriester; maar ná die dood van die hoëpriester mag die een wat ‘n doodslag begaan het, teruggaan na die land waar sy besitting lê.
29 En dit moet vir julle ‘n regsinsetting wees in julle geslagte, in al julle woonplekke.
30 As iemand ‘n mens doodslaan, moet die moordenaar op verklaring van getuies gedood word; maar een getuie is nie genoegsaam om iemand tot die dood te veroordeel nie.
31 Maar julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van ‘n moordenaar wat skuldig is om te sterwe nie, want hy moet sekerlik gedood word.
32 Ook mag julle geen geld aanneem om iemand vry te stel van die vlug na sy vrystad—sodat hy kan teruggaan om in die land te woon—tot op die dood van die hoëpriester nie.
33 En julle mag die land nie ontheilig waar julle in is nie; want die bloed ontheilig die land, en vir die land word geen versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, as net deur die bloed van hom wat dit vergiet het.
34 En jy mag die land waar julle in woon, nie verontreinig nie, omdat Ek daarin woon; want Ek, die HERE, woon in die midde van die kinders van Israel.




Hoofstuk 36

1 En die familiehoofde van die geslag van die kinders van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, uit die geslagte van Josef se kinders, het nader gekom en voor Moses en die owerstes, die familiehoofde van die kinders van Israel, gespreek
2 en gesê: Die HERE het aan my heer bevel gegee om die land deur die lot as erfenis aan die kinders van Israel te gee; ook het my heer van die HERE bevel ontvang om die erfdeel van ons broer Selófhad aan sy dogters te gee.
3 As hulle nou die vroue word van een van die seuns uit die ander stamme van die kinders van Israel, dan word hulle erfdeel van ons vaders se erfdeel weggeneem en gevoeg by die erfdeel van die stam waarby hulle sal behoort; so sal dan die erfdeel wat ons deur die lot aangewys is, ingekort word.
4 En as die jubeljaar vir die kinders van Israel aanbreek, dan word hulle erfdeel gevoeg by die erfdeel van die stam waarby hulle sal behoort; so sal dan hulle erfdeel van die erfdeel van ons vaders se stam weggeneem word.
5 Toe het Moses die kinders van Israel volgens die bevel van die HERE gelas en gesê: Die stam van die kinders van Josef praat reg.
6 Dit is die saak wat die HERE aangaande die dogters van Selófhad beveel het deur te sê: Laat hulle die vroue word van hom wat goed is in hulle oë; hulle moet net trou in ‘n geslag van die stam van hulle vader,
7 sodat die erfdeel van die kinders van Israel nie van stam tot stam oorgaan nie; want die kinders van Israel moet elkeen die erfdeel van die stam van sy vaders vashou.
8 En elke dogter wat ‘n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel, moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe.
9 So sal dan ‘n erfdeel nie van een stam na ‘n ander stam oorgaan nie; want die stamme van die kinders van Israel moet elkeen sy erfdeel vashou.
10 Soos die HERE Moses beveel het, so het die dogters van Selófhad gedoen:
11 Magla, Tirsa en Hogla en Milka en Noa, die dogters van Selófhad, het die vroue geword van die seuns van hulle ooms;
12 hulle het die vroue geword van manne uit die geslagte van die kinders van Manasse, die seun van Josef. So het dan hulle erfdeel gebly in die stam van die geslag van hulle vader.
13 Dit is die gebooie en die verordeninge wat die HERE deur die diens van Moses die kinders van Israel beveel het, in die vlaktes van Moab by die Jordaan van Jérigo.