Deuteronomium - Deuteronomy

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Dit is die woorde waarmee Moses die hele Israel toegespreek het oos van die Jordaan in die woestyn, in die Vlakte teenoor Suf, tussen Paran en Tofel en Laban en Háserot en Di-Sahab.
2 Elf dae is die pad van Horeb af na die gebergte Seïr tot by Kades-Barnéa.
3 En in die veertigste jaar, in die elfde maand, op die eerste van die maand, het Moses met die kinders van Israel gespreek net soos die HERE ten opsigte van hulle aan hom bevel gegee het;
4 nadat hy Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het, en Og, die koning van Basan, wat in Astarot gewoon het, in Edréï verslaan het.
5 Oos van die Jordaan in die land Moab het Moses onderneem om hierdie wet te verklaar deur te sê:
6 Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly.
7 Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus—die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.
8 Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle.
9 En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie.
10 Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte.
11 Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het!
12 Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra?
13 Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.
14 Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer.
15 Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme.
16 En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is.
17 Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.
18 So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen.
19 Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom.
20 Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee.
21 Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie.
22 Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom.
23 En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het.
24 En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken.
25 Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die HERE onse God aan ons sal gee, is goed.
26 Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God.
27 En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg.
28 Waarheen moet ons optrek? Ons broers het ons hart laat versmelt deur te sê: Dit is ‘n volk groter en hoër van gestalte as ons; die stede is groot en tot aan die hemel versterk; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.
29 Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie.
30 Die HERE julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het
31 en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die HERE jou God jou gedra het soos ‘n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het.
32 Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die HERE julle God nie,
33 wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ‘n plek uit te soek om julle laer op te slaan, snags in die vuur om julle te laat sien op die pad waar julle langs moes trek, en bedags in die wolk.
34 En toe die HERE die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê:
35 Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met ‘n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie—
36 behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne; hy sal dit sien, en aan hom en sy kinders sal Ek die land gee waarop hy geloop het, omdat hy volhard het om die HERE te volg.
37 Ook was die HERE toornig op my om julle ontwil, sodat Hy gesê het: Jy sal daar ook nie inkom nie.
38 Josua, die seun van Nun, wat voor jou staan—hy sal daar inkom; versterk hom, want hy sal Israel dit laat beërwe.
39 En julle kindertjies van wie julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word! en julle kinders wat vandag van geen goed of kwaad weet nie—húlle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en húlle sal dit in besit neem.
40 Maar julle, draai om en trek weg na die woestyn op pad na die Skelfsee.
41 Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die HERE gesondig; ons self sal optrek en veg net soos die HERE onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens aangord en daar nog maklik oor dink om in die gebergte op te trek,
42 het die HERE vir my gesê: Sê vir hulle: Julle mag nie optrek en veg nie—want Ek is nie in julle midde nie—dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie.
43 Maar toe ek met julle gespreek het, het julle nie geluister nie, maar julle was wederstrewig teen die bevel van die HERE en het vermetel in die gebergte opgetrek.
44 Toe het die Amoriete wat in dié gebergte gewoon het, uitgetrek julle tegemoet en julle agtervolg soos die bye maak; en hulle het julle verstrooi in Seïr tot by Horma.
45 En julle het teruggekom en voor die aangesig van die HERE geween, maar die HERE het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie.
46 So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.




Hoofstuk 2

1 Daarna het ons gedraai en weggetrek na die woestyn, op pad na die Skelfsee, soos die HERE aan my gesê het, en ons het om die gebergte Seïr getrek, baie dae lank.
2 Toe het die HERE met my gespreek en gesê:
3 Julle het lank genoeg om hierdie gebergte getrek. Draai noordwaarts weg
4 en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op;
5 begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee.
6 Voedsel moet julle van hulle vir geld koop, dat julle kan eet; en julle moet ook water van hulle vir geld koop, dat julle kan drink.
7 Want die HERE jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die HERE jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie.
8 Daarop het ons verder getrek, weg van ons broers, die kinders van Esau wat in Seïr woon, weg van die pad deur die Vlakte, weg van Elat en Éseon-Geber; ons het toe weggedraai en verder getrek op pad na die woestyn van Moab.
9 Toe het die HERE vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ‘n besitting gegee het.
10 Die Emiete het tevore daarin gewoon, ‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete.
11 Hulle word ook vir Refaïete gehou, soos die Enakiete; maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.
12 Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon; maar die kinders van Esau het hulle uit hul besitting verdrywe en voor hulle uit verdelg en in hulle plek gaan woon, net soos Israel gedoen het met die land van sy besitting wat die HERE aan hulle gegee het.
13 Maak nou klaar en trek oor die spruit Sered. Toe het ons oor die spruit Sered getrek.
14 En die dae van ons trek van Kades-Barnéa af totdat ons oor die spruit Sered gegaan het, was agt en dertig jaar—totdat die hele geslag, die krygsmanne, uit die laer omgekom het soos die HERE hulle dit gesweer het.
15 So was die hand van die HERE dan ook teen hulle om hulle uit die laer te vernietig totdat hulle omgekom het.
16 En toe al die krygsmanne heeltemal onder die volk uit weggesterf het,
17 het die HERE met my gespreek en gesê:
18 Jy trek vandag die grens van Moab by Ar oor,
19 en jy sal kom in die nabyheid van die kinders van Ammon; behandel hulle nie as vyande en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van die kinders van Ammon se land as besitting gee nie, omdat Ek dit aan die kinders van Lot as besitting gegee het.
20 Dit word ook as ‘n land van Refaïete beskou; Refaïete het tevore daarin gewoon, en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem—
21 ‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete—maar die HERE het dié voor hulle uit verdelg, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het;
22 soos Hy in die geval van die kinders van Esau gedoen het wat in Seïr woon, voor wie Hy die Horiete verdelg het, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het tot vandag toe.
23 Ook het die Kaftoriete wat uit Kaftor afkomstig was, die Awiete wat in dorpe tot by Gasa gewoon het, verdelg en in hulle plek gaan woon.
24 Maak julle klaar, breek op en trek deur die Arnonrivier. Kyk, Ek gee Sihon, die koning van Hesbon, die Amoriet, en sy land in jou hand; begin om in besit te neem, en begeef jou in die oorlog teen hom.
25 Vandag sal Ek begin om die skrik en die vrees vir jou op die volke onder die hele hemel te lê, sodat hulle, as hulle die tyding aangaande jou hoor, voor jou sal sidder en bewe van angs.
26 Toe het ek boodskappers gestuur uit die woestyn Kedémot na Sihon, die koning van Hesbon, met woorde van vrede om te sê:
27 Laat my deur jou land gaan; ek sal net padlangs trek; ek sal nie regs of links uitdraai nie.
28 Voedsel moet jy my verkoop vir geld, dat ek kan eet; en water moet jy my gee vir geld, dat ek kan drink; laat my net te voet deurtrek—
29 soos die kinders van Esau wat in Seïr woon, en die Moabiete wat in Ar woon, met my gedoen het—totdat ek deur die Jordaan trek in die land wat die HERE onse God aan ons sal gee.
30 Maar Sihon, die koning van Hesbon, wou ons nie by hom laat deurtrek nie; want die HERE jou God het sy gees verhard en sy hart verstok, dat Hy hom in jou hand kon gee soos dit vandag is.
31 En die HERE het vir my gesê: Kyk, Ek begin om Sihon en sy land aan jou oor te gee; begin om in besit te neem, om sy land in besit te neem.
32 Toe het Sihon uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Jahas.
33 En die HERE onse God het hom aan ons oorgegee, sodat ons hom en sy seuns en sy hele volk verslaan het.
34 En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem en elke stad met die banvloek getref, manne en vroue en kinders; ons het niemand laat vryraak nie.
35 Net die vee het ons vir ons geroof en die buit van die stede wat ons ingeneem het.
36 Van Aroër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, en die stad in die dal, tot by Gílead was daar vir ons geen vesting onneembaar nie—die HERE onse God het alles aan ons oorgegee.
37 Net naby die land van die kinders van Ammon het jy nie gekom nie: die hele kant van die Jabbokrivier en die stede van die gebergte en alles wat die HERE onse God verbied het.




Hoofstuk 3

1 Daarna het ons weggedraai en op pad na Basan opgetrek; en Og, die koning van Basan, het uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Edréï.
2 Toe het die HERE vir my gesê: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek gee hom en sy hele volk en sy land in jou hand; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.
3 En die HERE onse God het ook Og, die koning van Basan, en sy hele volk in ons hand gegee, sodat ons hom verslaan het, totdat daar van hom niemand oor was wat vrygeraak het nie.
4 En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem; daar was geen vesting wat ons van hulle nie afgeneem het nie: sestig stede, die hele landstreek Argob, die koninkryk van Og in Basan.
5 Al hierdie stede was versterk met hoë mure, poorte en grendels, behalwe ‘n groot menigte onbemuurde stede.
6 En ons het hulle met die banvloek getref soos ons met Sihon, die koning van Hesbon, gedoen het deur elke stad, manne, vroue en kinders met die banvloek te tref.
7 Maar al die vee en die buit van die stede het ons vir ons geroof.
8 So het ons dan in dié tyd die land uit die hand van die twee konings van die Amoriete duskant die Jordaan geneem, van die Arnonrivier af tot by die berg Hernon—
9 die Sidoniërs noem Hermon Sirjon; maar die Amoriete noem dit Senir—
10 al die stede van die gelykveld en die hele Gílead en die hele Basan tot by Salga en Edréï, stede van die koninkryk van Og in Basan.
11 Want Og, die koning van Basan, het net alleen oorgebly van die Refaïete. Is sy ledekant, ‘n ysterledekant, nie daar in Rabba van die kinders van Ammon nie? Nege el is sy lengte en vier el sy breedte, gewone elle.
12 En hierdie land het ons in dié tyd in besit geneem: van Aroër af, wat by die Arnonrivier lê, en die helfte van die gebergte van Gílead met die stede daarvan het ek aan die Rubeniete en die Gadiete gegee.
13 En die orige deel van Gílead saam met die hele Basan, die koninkryk van Og, het ek aan die halwe stam van Manasse gegee—die hele landstreek Argob. Daardie hele Basan word land van die Refaïete genoem.
14 Jaïr, die seun van Manasse, het die hele landstreek Argob tot by die grens van die Gesuriete en die Maägatiete gekry en dit, naamlik Basan, na sy naam Jaïrsdorpe genoem tot vandag toe.
15 En aan Magir het ek Gílead gegee.
16 Maar aan die Rubeniete en die Gadiete het ek van Gílead af tot by die Arnonrivier gegee, die middel van die rivier, saam met sy oewerland, en tot by die Jabbokrivier, die grens van die kinders van Ammon.
17 Daarby die Vlakte en die Jordaan, saam met sy grondgebied, van Kinnéret af tot by die See van die Vlakte, die Soutsee, onder aan die hange van Pisga teen die ooste.
18 Verder het ek in dié tyd aan julle bevel gegee en gesê: Die HERE julle God het aan julle hierdie land gegee om dit in besit te neem; gewapend moet julle voor jul broers, die kinders van Israel, oortrek—al die dapper manne.
19 Net julle vroue en julle kinders en julle vee—ek weet dat julle baie vee het—kan in julle stede bly wat ek aan julle gegee het;
20 totdat die HERE aan julle broers soos aan julle rus gee, en hulle ook die land in besit neem wat die HERE julle God aan hulle oorkant die Jordaan sal gee; dan kan julle teruggaan elkeen na sy besitting wat ek aan julle gegee het.
21 Ook het ek Josua in dié tyd beveel en gesê: Jou oë het alles gesien wat die HERE julle God aan hierdie twee konings gedoen het. So sal die HERE aan al die koninkryke doen waarheen jy oortrek.
22 Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die HERE julle God wat vir julle stry.
23 Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê:
24 Here, HERE! U het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U?
25 Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon!
26 Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie.
27 Klim op die top van Pisga en slaan jou oë op na die weste en na die noorde en na die suide en na die ooste, en bekyk dit met jou oë; want jy mag oor hierdie Jordaan nie gaan nie.
28 Gee dan bevel aan Josua, en versterk hom en bemoedig hom, want hy sal voor hierdie volk uit deurtrek, en hy sal hulle die land wat jy sal sien, laat erwe.
29 En ons het in die dal teenoor Bet-Peor gebly.




Hoofstuk 4

1 Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem.
2 Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.
3 Julle oë het gesien wat die HERE weens Baäl-Peor gedoen het; want al die manne wat agter Baäl-Peor aan geloop het, dié het die HERE jou God onder jou uit verdelg.
4 Julle daarenteen wat die HERE julle God aangehang het, is vandag nog almal in die lewe.
5 Kyk, ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem.
6 Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.
7 Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?
8 En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?
9 Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:
10 die dag dat jy voor die aangesig van die HERE jou God by Horeb gestaan het, toe die HERE aan my gesê het: Vergader die volk vir My, en Ek sal hulle my woorde laat hoor, dat hulle kan leer om My te vrees al die dae wat hulle op die aarde lewe, en dit aan hulle kinders kan leer.
11 Toe het julle nader gekom en onder aan die berg gaan staan; en die berg het met vuur gebrand tot in die middel van die hemel, met duisternis, wolke en wolkedonkerheid.
12 En die HERE het met julle uit die vuur gespreek; julle het ‘n stem van woorde gehoor, maar geen verskyning gesien nie—net ‘n stem was daar.
13 Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe.
14 Ook het die HERE my in dié tyd bevel gegee om julle die insettinge en verordeninge te leer, dat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem.
15 Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele—want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die HERE by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie—
16 sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld, ‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ‘n afbeelding van man of vrou,
17 ‘n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ‘n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg,
18 ‘n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ‘n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is;
19 dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie—dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het.
20 Maar die HERE het julle geneem en julle uit die yster-smeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is.
21 Ook was die HERE toornig op my om julle ontwil, en Hy het gesweer dat ek oor die Jordaan nie sal gaan en nie sal kom in die goeie land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee nie.
22 Want ek sal in hierdie land sterwe, ek sal oor die Jordaan nie gaan nie; maar julle sal oorgaan en daardie goeie land in besit neem.
23 Neem julle in ag dat julle die verbond van die HERE julle God, wat Hy met julle gesluit het, nie vergeet en vir julle geen gesnede beeld maak nie—’n gelykenis van enigiets wat die HERE jou God jou verbied het.
24 Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God.
25 As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ‘n gesnede beeld maak, ‘n gelykenis van enigiets, en doen u wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God om Hom te terg,
26 dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word.
27 En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en ‘n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe.
28 En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie.
29 Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek.
30 As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister.
31 Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.
32 Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is.
33 Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en in die lewe gebly?
34 Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het?
35 Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie.
36 Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur gehoor.
37 En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het, en Hy self jou deur sy grote krag uit Egipte uitgelei het,
38 om nasies groter en magtiger as jy voor jou uit te verdrywe en jou in te bring om hulle land aan jou as erfenis te gee soos dit vandag is—
39 daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie.
40 En jy moet sy insettinge en sy gebooie hou wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed mag gaan, en dat jy die dae mag verleng in die land wat die HERE jou God jou vir altyd sal gee.
41 Toe het Moses drie stede afgesonder oos van die Jordaan, teen sonop,
42 sodat hy wat ‘n doodslag begaan het, daarheen kon vlug, wat sy naaste sonder opset doodgeslaan het, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie; sodat hy in een van hierdie stede kan vlug en in die lewe bly.
43 Beser in die woestyn, in die landstreek van die gelykveld, vir die Rubeniete; en Ramot in Gílead vir die Gadiete; en Golan in Basan vir die Manassiete.
44 En dit is die wet wat Moses die kinders van Israel voorgehou het.
45 Dit is die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat Moses meegedeel het aan die kinders van Israel by hulle uittog uit Egipte,
46 oos van die Jordaan, in die dal teenoor Bet-Peor, in die land van Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het, wat deur Moses en die kinders van Israel verslaan is by hulle uittog uit Egipte;
47 en hulle het sy land in besit geneem en die land van Og, die koning van Basan, die twee konings van die Amoriete oos van die Jordaan, teen sonop;
48 van Aroër af, wat aan die kant van die Arnonrivier lê, tot by die berg Sion, dit is Hermon,
49 en die hele Vlakte oos van die Jordaan, teen sonop tot by die See van die Vlakte, onderaan die hange van Pisga.




Hoofstuk 5

1 En Moses het die hele Israel laat roep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die insettinge en die verordeninge wat ek vandag voor julle ore uitspreek; julle moet dit leer en dit sorgvuldig hou.
2 Die HERE onse God het by Horeb met ons ‘n verbond gesluit.
3 Met ons vaders het die HERE hierdie verbond nie gesluit nie, maar met ons self, ons wat hier vandag almal in die lewe is.
4 Van aangesig tot aangesig het die HERE op die berg uit die vuur met julle gespreek—
5 ek het in dié tyd tussen die HERE en julle gestaan om aan julle die woord van die HERE bekend te maak, want julle was bevrees vir die vuur en het nie op die berg geklim nie—en Hy het gesê:
6 Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
7 Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
8 Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.
9 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
10 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.
11 Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
12 Onderhou die sabbatdag, dat jy dit heilig soos die HERE jou God jou beveel het.
13 Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;
14 maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy.
15 En jy moet daaraan dink dat jy in Egipteland ‘n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.
16 Eer jou vader en jou moeder soos die HERE jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou God aan jou gee.
17 Jy mag nie doodslaan nie.
18 En jy mag nie egbreek nie.
19 En jy mag nie steel nie.
20 En jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
21 En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie—na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
22 Met hierdie woorde het die HERE julle hele vergadering op die berg, uit die vuur, die wolk en die wolkedonkerheid met ‘n groot stem toegespreek, en niks meer nie; en Hy het dit op twee kliptafels geskrywe en dit aan my gegee.
23 En toe julle die stem uit die duisternis hoor, terwyl die berg met vuur brand, het julle na my toe aangekom, al die hoofde van julle stamme en julle oudstes,
24 en gesê: Kyk, die HERE onse God het ons sy heerlikheid en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly.
25 Maar waarom moet ons nou sterwe? Want hierdie groot vuur sal ons verteer. As ons die stem van die HERE onse God nog langer hoor, sal ons sterwe.
26 Want wie is daar van alle vlees wat die stem van die lewende God uit die vuur hoor spreek het soos ons en in die lewe gebly het?
27 Gaan ú naderby en hoor alles wat die HERE onse God sal sê; dan kan ú ons alles meedeel wat die HERE onse God met u sal spreek, en ons sal dit hoor en doen.
28 En die HERE het die stem van julle woorde gehoor toe julle met my gespreek het. Toe sê die HERE vir my: Ek het gehoor die stem van die woorde van hierdie volk wat hulle met jou gespreek het; dit is alles goed wat hulle gespreek het.
29 Ag, as hulle maar so ‘n hart gehad het om My te vrees en al my gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan.
30 Gaan sê vir hulle: Gaan maar terug na julle tente toe.
31 Maar jy, bly hier by My staan, dat Ek jou kan meedeel al die gebooie en die insettinge en die verordeninge wat jy hulle moet leer, dat hulle dit kan doen in die land wat Ek hulle sal gee om dit in besit te neem.
32 Sorg dan dat julle doen soos die HERE julle God julle beveel het; julle mag nie regs of links afwyk nie.
33 In al die weë wat die HERE julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem.




Hoofstuk 6

1 Dit is dan die gebod, die insettinge en die verordeninge wat die HERE julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem;
2 dat jy die HERE jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te hou—jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe; en dat jou dae verleng kan word.
3 Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en dat julle baie kan vermenigvuldig soos die HERE die God van jou vaders jou beloof het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.
5 Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.
6 En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
7 en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
8 Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees.
9 En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.
10 En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee—groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie,
11 en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie—en jy eet en versadig word,
12 neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie.
13 Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.
14 Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie—
15 want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou—sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.
16 Julle mag die HERE julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie.
17 Julle moet die gebooie van die HERE julle God en sy getuienisse en sy insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou.
18 En jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die HERE, dat dit met jou goed kan gaan en jy kan inkom en in besit neem die goeie land wat die HERE aan jou vaders met ‘n eed beloof het,
19 terwyl Hy al jou vyande voor jou uit verjaag soos die HERE gespreek het.
20 As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het?
21 dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte uitgelei.
22 En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen.
23 En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met ‘n eed beloof het.
24 En die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.
25 En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.




Hoofstuk 7

1 As die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, en Hy baie nasies voor jou uit verjaag: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, sewe nasies, meer en magtiger as jy;
2 en die HERE jou God hulle aan jou oorgee, dat jy hulle verslaan, dan moet jy hulle geheel en al met die banvloek tref; jy mag geen verbond met hulle maak en hulle nie genadig wees nie.
3 Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie;
4 want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.
5 Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand.
6 Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees.
7 Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.
8 Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.
9 Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte.
10 Maar aan die wat Hom haat, aan elkeen persoonlik, vergeld Hy dit, om hom te vernietig; Hy sal met sy hater nie versuim nie, hom persoonlik sal Hy dit vergelde.
11 Hou dan die gebod en die insettinge en die verordeninge wat ek jou vandag beveel om dit te volbring.
12 En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het;
13 en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee.
14 Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal by jou geen man of vrou onvrugbaar wees nie, ook nie onder jou vee nie.
15 En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie; maar Hy sal dit lê op almal wat jou haat.
16 En jy sal al die volke verteer wat die HERE jou God aan jou oorgee; jou oog mag hulle nie verskoon nie, en jy mag hulle gode nie dien nie; want dit sal vir jou ‘n strik wees.
17 As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? —
18 wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die HERE jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het,
19 die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die HERE jou God jou uitgelei het; so sal die HERE jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is.
20 En die HERE jou God sal ook die perdebye onder hulle stuur totdat hulle omkom wat oorgebly het en wat vir jou weggekruip het.
21 Skrik nie vir hulle nie, want die HERE jou God is by jou, ‘n groot en gedugte God.
22 En die HERE jou God sal hierdie nasies so langsamerhand voor jou uit verjaag; jy mag hulle nie gou vernietig nie, dat die ongediertes nie teen jou die oorhand kry nie.
23 Maar die HERE jou God sal hulle aan jou oorgee en hulle in groot verwarring bring totdat hulle verdelg word.
24 Ook sal Hy hulle konings in jou hand gee, dat jy hulle naam onder die hemel kan laat verdwyn; niemand sal teen jou standhou totdat jy hulle verdelg het nie.
25 Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die HERE jou God ‘n gruwel.
26 En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ‘n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek.




Hoofstuk 8

1 Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het.
2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.
3 En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.
4 Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie.
5 Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig,
6 en hou die gebooie van die HERE jou God om in sy weë te wandel en Hom te vrees.
7 Want die HERE jou God bring jou in ‘n goeie land, ‘n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom;
8 ‘n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ‘n land van olieryke olyfbome en heuning;
9 ‘n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ‘n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap;
10 en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het.
11 Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie;
12 sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon,
13 en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja, alles wat jy het, vermeerder—
14 en jou hart hom dan verhef, dat jy die HERE jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het;
15 wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en skerpioene en ‘n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots laat kom het;
16 wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen—
17 en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe.
18 Maar dink aan die HERE jou God, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het, soos dit vandag is.
19 Maar as jy nogtans die HERE jou God vergeet en agter ander gode aan loop en hulle dien en voor hulle neerbuig, dan verseker ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom;
20 soos die nasies wat die HERE voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie.




Hoofstuk 9

1 Hoor, Israel, jy trek vandag deur die Jordaan om nasies in besit te gaan neem wat groter en sterker is as jy, stede wat groot en tot aan die hemel versterk is,
2 ‘n groot volk van hoë gestalte, die kinders van die Enakiete, wat jy self ken en van wie jy hoor sê het: Wie kan standhou voor die kinders van Enak?
3 Weet dan vandag dat die HERE jou God die Een is wat voor jou oortrek soos ‘n verterende vuur. Hy sal hulle vernietig en hulle voor jou onderwerp, sodat jy hulle gou kan verdrywe en tot niet maak soos die HERE jou beloof het.
4 As die HERE jou God hulle voor jou uit verjaag, moet dan nie in jou hart spreek en sê: Die HERE het my ter wille van my geregtigheid ingebring om hierdie land in besit te neem nie; want weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE hulle voor jou uit.
5 Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat die HERE vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het.
6 Weet dan dat die HERE jou God nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is ‘n hardnekkige volk.
7 Dink daaraan, vergeet nie hoe jy die HERE jou God in die woestyn vertoorn het nie; van die dag af dat jy uit Egipteland uitgetrek het, totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle wederstrewig teen die HERE.
8 Ja, by Horeb het julle die HERE vertoorn, sodat die HERE toornig was op julle om julle te verdelg.
9 Toe ek op die berg geklim het om die kliptafels te ontvang, die tafels van die verbond wat die HERE met julle gesluit het, het ek veertig dae en veertig nagte lank op die berg gebly—brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie—
10 en die HERE het my die twee kliptafels gegee wat beskrywe was met die vinger van God, en daarop al die woorde soos die HERE op die berg, uit die vuur, met julle gespreek het, op die dag van die vergadering.
11 En aan die einde van veertig dae en veertig nagte het die HERE my die twee kliptafels gegee, die tafels van die verbond,
12 en die HERE het vir my gesê: Staan op, klim hiervandaan gou af, want jou volk wat jy uit Egipte uitgelei het, het verderflik gehandel; hulle het gou afgewyk van die weg wat Ek hulle beveel het; hulle het vir hulle ‘n gegote beeld gemaak.
13 Verder het die HERE met my gespreek en gesê: Ek het hierdie volk aangesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk. ‘
14 Laat My staan dat Ek hulle verdelg en hulle naam onder die hemel uitdelg; en Ek sal jou ‘n nasie maak wat magtiger is en meer as hulle.
15 Daarop het ek omgedraai en van die berg afgeklim terwyl die berg met vuur brand, en die twee tafels van die verbond was in my twee hande.
16 Toe sien ek dat julle waarlik teen die HERE julle God gesondig het; julle het vir julle ‘n gegote kalf gemaak; julle het gou afgewyk van die weg wat die HERE julle beveel het.
17 En ek het die twee tafels gegryp en dit uit my twee hande gegooi en dit voor julle oë verbrysel.
18 Daarop het ek voor die aangesig van die HERE neergeval, soos die eerste keer, veertig dae en veertig nagte lank—brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie—vanweë al julle sonde wat julle begaan het deur te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom te terg.
19 Want ek was bang vir die toorn en die grimmigheid waarmee die HERE op julle so toornig was, dat Hy julle wou verdelg; maar die HERE het my dié keer ook verhoor.
20 Ook was die HERE baie toornig op Aäron, sodat Hy hom wou verdelg; maar ek het ook vir Aäron in dié tyd gebid.
21 En ek het julle sonde, die kalf wat julle gemaak het, geneem en dit met vuur verbrand en dit stukkend gestamp en terdeë gemaal totdat dit so fyn soos stof was; en dié stof het ek in die stroom gegooi wat van die berg afkom.
22 Ook by Tabéra en by Massa en by Kibrot-Hattáäwa het julle elke keer die HERE vertoorn.
23 En toe die HERE julle uit Kades-Barnéa gestuur het met die woorde: Trek op en neem die land in besit wat Ek julle gegee het—was julle wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God en het julle Hom nie geglo en na sy stem nie geluister nie.
24 Wederstrewig was julle teen die HERE van die dag af dat ek julle ken.
25 En ek het neergeval voor die aangesig van die HERE, die veertig dae en veertig nagte wat ek neergeval het, omdat die HERE gesê het dat Hy julle wou verdelg.
26 En ek het die HERE gebid en gesê: Here, HERE, stort u volk en u erfdeel wat U deur u grootheid verlos het, wat U uit Egipte deur ‘n sterke hand uitgelei het, nie in die verderf nie.
27 Dink aan u knegte Abraham, Isak en Jakob; kyk nie na die hardheid van hierdie volk of na hulle goddeloosheid en hulle sonde nie,
28 sodat die land waar U ons uitgelei het, nie kan sê nie: Omdat die HERE hulle nie kon bring in die land wat Hy hulle beloof het nie, en omdat Hy hulle haat, het Hy hulle uitgelei om hulle in die woestyn te laat sterwe!
29 Hulle is tog u volk en u erfdeel wat U deur u grote krag en u uitgestrekte arm uitgelei het.




Hoofstuk 10

1 In dié tyd het die HERE vir my gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die eerstes en klim op die berg na My toe; maak vir jou ook ‘n ark van hout.
2 En Ek sal op die tafels skrywe die woorde wat op die eerste tafels was, wat jy verbrysel het; en jy moet dit in die ark sit.
3 Toe het ek ‘n ark van akasiahout gemaak en twee kliptafels soos die eerstes gekap en op die berg geklim met die twee tafels in my hand.
4 En Hy het op die tafels, volgens die eerste skrif, die tien woorde geskrywe wat die HERE op die dag van die vergadering by die berg uit die vuur met julle gespreek het; en die HERE het dit aan my gegee.
5 En ek het omgedraai en van die berg afgeklim en die tafels in die ark gesit wat ek gemaak het; en dit was daar, soos die HERE my beveel het.
6 En die kinders van Israel het van Béërot Bené-Jáäkan weggetrek na Moséra toe. Daar het Aäron gesterwe, en daar is hy begrawe; en sy seun Eleásar het die priesteramp in sy plek bedien.
7 Daarvandaan het hulle weggetrek na Gudgod, en van Gudgod na Jotbat, ‘n land van waterstrome.
8 In dié tyd het die HERE die stam van Levi afgesonder om die verbondsark van die HERE te dra, om voor die aangesig van die HERE in sy diens te staan en in sy Naam te seën tot vandag toe.
9 Daarom het Levi geen deel of erfenis saam met sy broers nie; die HERE is sy erfdeel, soos die HERE jou God hom beloof het.
10 En ék het op die berg gestaan soos die vorige dae, veertig dae en veertig nagte lank; en die HERE het my ook dié keer verhoor; die HERE wou jou nie in die verderf stort nie.
11 Maar die HERE het vir my gesê: Staan op, gaan heen om voor die volk uit verder te trek, dat hulle kan inkom en die land in besit neem wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee.
12 En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel,
13 om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan?
14 Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.
15 Maar net aan jou vaders het die HERE ‘n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is.
16 Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.
17 Want die HERE julle God is die God van die gode en die HERE van die here; die grote, magtige en gedugte God wat die persoon nie aansien en geen geskenk aanneem nie;
18 wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee.
19 Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
20 Die HERE jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en by sy Naam sweer.
21 Hy is jou lof, en Hy is jou God wat hierdie groot en vreeslike dinge wat jou oë gesien het, aan jou gedoen het.
22 Sewentig siele sterk het jou vaders na Egipte afgetrek, maar nou het die HERE jou God jou gemaak soos die sterre van die hemel in menigte.




Hoofstuk 11

1 Daarom moet jy die HERE jou God liefhê en altyd sy ordening, sy insettinge sowel as sy verordeninge en sy gebooie onderhou.
2 En julle moet vandag weet dat ek nie spreek tot julle kinders wat die onderwysing van die HERE julle God nie geweet en nie gesien het nie: sy grootheid, sy sterke hand en sy uitgestrekte arm
3 en sy tekens en sy dade wat Hy in Egipte gedoen het aan Farao, die koning van Egipte, en aan sy hele land;
4 en wat Hy gedoen het aan die leër van Egipte, aan sy perde en aan sy strydwaens waaroor Hy die waters van die Skelfsee laat aanstroom het toe hulle julle agtervolg het, sodat die HERE hulle omgebring het tot vandag toe;
5 en wat Hy vir julle in die woestyn gedoen het tot julle aankoms op hierdie plek;
6 en wat Hy aan Datan en Abíram, die seuns van Elíab, die seun van Ruben, gedoen het—hoe die aarde sy mond oopgemaak en hulle saam met hul huisgesinne en hul tente en al die lewende wesens agter hulle aan, onder die hele Israel verslind het;
7 maar julle eie oë het gesien al die groot werke wat die HERE gedoen het.
8 Onderhou dan al die gebooie wat ek jou vandag beveel, dat julle sterk kan wees en inkom en die land in besit neem waarheen julle oortrek om dit in besit te neem,
9 en dat julle die dae kan verleng in die land wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle en hul nageslag te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
10 Want die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, is nie soos Egipteland waar julle uitgetrek het, wat jy met jou saad besaai en met jou voet, soos ‘n groentetuin, natgelei het nie.
11 Maar die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ‘n land van berge en laagtes wat van die reën van die hemel water drink;
12 ‘n land waar die HERE jou God voor sorg; die oë van die HERE jou God is altyddeur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar.
13 As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die HERE julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel,
14 dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel.
15 En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word.
16 Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en ander gode dien en voor hulle neerbuig,
17 en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie, en julle gou uit die goeie land omkom wat die HERE julle gee.
18 Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as ‘n teken op julle hand en laat dit as ‘n voorhoofsband tussen julle oë wees,
19 en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan;
20 en skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte,
21 sodat julle dae en die dae van julle kinders in die land wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee, kan vermenigvuldig soos die dae van die hemel bo-oor die aarde.
22 Want as julle ywerig al hierdie gebooie hou wat ek julle beveel, om dit te doen deur die HERE julle God lief te hê, in al sy weë te wandel en Hom aan te hang,
23 dan sal die HERE al hierdie nasies voor julle uit verdrywe, en julle sal groter en magtiger nasies as julle uit hulle besitting verdrywe.
24 Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn en die Líbanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees.
25 Niemand sal teen julle standhou nie; die HERE julle God sal die skrik en vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle sal loop, soos Hy julle beloof het.
26 Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor—
27 die seën as julle luister na die gebooie van die HERE julle God wat ek julle vandag beveel;
28 en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die HERE julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie.
29 As dan die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal.
30 Lê hulle nie oorkant die Jordaan, agter die pad in die weste, in die land van die Kanaäniete wat in die Vlakte woon, teenoor Gilgal, by die terpentynbome van More nie?
31 Want julle trek deur die Jordaan om die land in besit te gaan neem wat die HERE julle God aan julle sal gee; en julle sal dit in besit neem en daarin woon.
32 Onderhou dan sorgvuldiglik al die insettinge en die verordeninge wat ek julle vandag voorhou.




Hoofstuk 12

1 Dit is die insettinge en die verordeninge wat julle sorgvuldig moet hou in die land wat die HERE, die God van jou vaders, jou gegee het om dit in besit te neem al die dae wat julle op die aarde lewe.
2 Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom.
3 En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.
4 So mag julle nie doen met die HERE julle God nie;
5 maar die plek wat die HERE julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom.
6 En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte— en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee.
7 En daar moet julle voor die aangesig van die HERE julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin die HERE jou God jou geseën het.
8 Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie—elkeen net maar wat reg is in sy eie oë.
9 Want julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat die HERE jou God jou sal gee nie.
10 Maar julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die HERE julle God julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en julle sal veilig woon.
11 Dan moet julle na die plek wat die HERE julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle keurgelofte-offers wat julle die HERE sal belowe.
12 En julle moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE julle God, julle en julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slavinne en die Leviet wat in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie.
13 Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie.
14 Maar op die plek wat die HERE in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel.
15 Maar na hartelus mag jy slag en vleis eet ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou in al jou poorte gee; die onreine en die reine mag daarvan eet, soos van die gemsbok en die takbok.
16 Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond uitgooi.
17 Jy mag in jou poorte nie eet die tiendes van jou koring en jou mos en jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en al jou gelofte-offers wat jy sal belowe, en jou vrywillige offers en die offergawe van jou hand nie.
18 Maar jy moet dit eet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat die HERE jou God sal uitkies, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is; en jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God oor alles waar jy jou hand aan slaan.
19 Neem jou in ag dat jy die Leviet nie aan sy lot oorlaat solank as jy in jou land lewe nie.
20 As die HERE jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy jou beloof het, en jy sê: Ek wil vleis eet—omdat jy lus het om vleis te eet—dan mag jy na hartelus vleis eet.
21 As die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, ver van jou af is, dan mag jy van jou beeste en jou kleinvee slag wat die HERE jou gee, soos ek jou beveel het; en jy mag na hartelus in jou poorte eet.
22 Maar soos die gemsbok en die takbok geëet word, so moet jy dit eet; die onreine en die reine moet dit saam eet.
23 Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag die siel nie saam met die vleis eet nie.
24 Jy mag dit nie eet nie; op die grond moet jy dit uitgooi soos water.
25 Jy mag dit nie eet nie, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan as jy doen wat reg is in die oë van die HERE.
26 Net jou heilige gawes wat jy het, en jou gelofte-offers moet jy neem en na die plek kom wat die HERE sal uitkies;
27 en jy moet jou brandoffers, die vleis en die bloed, berei op die altaar van die HERE jou God, en die bloed van jou slagoffers moet teen die altaar van die HERE jou God uitgegiet word; maar die vleis moet jy eet.
28 Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van die HERE jou God.
29 As die HERE jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon,
30 neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? —dat ek ook so kan doen.
31 So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE ‘n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode.
32 Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.




Hoofstuk 13

1 As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig,
2 en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien,
3 dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.
4 Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.
5 Maar dié profeet of dié man wat as dromer optree, moet gedood word, want hy het afval verkondig van die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei en jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te drywe van die weg wat die HERE jou God jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
6 As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat jy en jou vaders nie geken het nie,
7 uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde—
8 dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie,
9 maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk.
10 En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe van die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.
11 En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so ‘n verkeerde ding by jou doen nie.
12 As jy in een van jou stede wat die HERE jou God jou gee om daar te woon, hoor sê:
13 Deugniete het by jou opgetree en die inwoners van hulle stad verlei deur te sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat julle nie geken het nie—
14 dan moet jy terdeë ondersoek en naspeur en uitvra, en as dit waarheid is, staan die saak vas, is hierdie gruwel by jou gedoen,
15 dan moet jy die inwoners van dié stad sekerlik verslaan met die skerpte van die swaard deur dit met die banvloek te tref en alles wat daarin is, ook die vee, met die skerpte van die swaard.
16 En al die buit daarvan moet jy op die stadsplein bymekaarbring en die stad en al die buit as voloffer met vuur verbrand aan die HERE jou God; en dit moet vir ewig ‘n puinhoop wees, dit mag nie weer opgebou word nie.
17 Ook mag daar niks van wat bangoed is, aan jou hand bly kleef nie, sodat die HERE Hom van die gloed van sy toorn kan afwend en aan jou barmhartigheid kan bewys en Hom oor jou ontferm en jou vermenigvuldig, soos Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het—
18 as jy luister na die stem van die HERE jou God om al sy gebooie te hou wat ek jou vandag beveel, deur te doen wat reg is in die oë van die HERE jou God.




Hoofstuk 14

1 Julle is kinders van die HERE julle God; julle mag julle ter wille van ‘n dooie nie stukkend kerwe of ‘n kaalte tussen julle oë maak nie.
2 Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God, en jou het die HERE uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is.
3 Jy mag niks eet wat ‘n gruwel is nie.
4 Dit is die diere wat julle mag eet: ‘n bees, ‘n skaap en ‘n bok;
5 ‘n takbok en ‘n gemsbok en ‘n gestippelde takbok en ‘n steenbok en ‘n ribbok en ‘n eland en ‘n klipspringer;
6 en al die diere wat gesplitste kloue het, en wel heeltemal in twee gesplitste kloue, en herkou onder die diere—dié mag julle eet.
7 Maar die volgende mag julle nie eet nie van die wat herkou en van die wat die gesplitste kloue het: die kameel en die haas en die das, want hulle herkou maar het geen gesplitste kloue nie—onrein is hulle vir julle;
8 ook die vark, want hy het gesplitste kloue, maar is geen herkouer nie—onrein is hy vir julle. Van hulle vleis mag julle nie eet en hulle aas mag julle nie aanraak nie.
9 Dit mag julle eet van alles wat in die water is: alles wat vinne en skubbe het, mag julle eet.
10 Maar alles wat geen vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie—onrein is dit vir julle.
11 Al die rein voëls mag julle eet.
12 Maar dit is wat julle uit hulle nie mag eet nie: die arend en die lammervanger en die aasvoël;
13 en die kuikendief en die valk en die gier na sy soorte;
14 en elke kraai na sy soorte;
15 en die volstruis en die naguil en die seemeeu en die kleinvalk na sy soorte;
16 en die steenuil en die steunuil en die silweruil;
17 en die pelikaan en die kleinaasvoël en die visvanger;
18 en die groot-sprinkaanvoël en die reier na sy soorte, en die hoep-hoep en die vlermuis.
19 En al die insekte met vlerke moet vir julle onrein wees; hulle mag nie geëet word nie.
20 Al die rein voëls mag julle eet.
21 Julle mag geen aas eet nie; vir die vreemdeling wat in jou poorte is, kan jy dit gee, dat hy dit eet, of jy kan dit aan ‘n uitlander verkoop; want jy is ‘n heilige volk aan die HERE jou God. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.
22 Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die land uitspruit—vertien.
23 En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees.
24 En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, as die HERE jou God jou sal seën,
25 dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die HERE jou God sal uitkies.
26 Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die HERE jou God en vrolik wees, jy en jou huis.
27 Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.
28 Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings in dié jaar en dit in jou poorte wegsit;
29 dan moet die Leviet kom—omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie—en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word, sodat die HERE jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen.




Hoofstuk 15

1 Aan die einde van sewe jaar moet jy ‘n kwytskelding laat plaasvind.
2 En dit is die saak van die kwytskelding: elke skuldeiser moet kwytskeld wat hy aan sy naaste geleen het; hy moet sy naaste en sy broer nie aanmaan nie, want tot eer van die HERE is daar ‘n kwytskelding uitgeroep.
3 Die uitlander mag jy aanmaan; maar wat jy by jou broer het, moet jou hand kwytskeld.
4 Maar daar moet geen arme by jou wees nie, want die HERE sal jou ryklik seën in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem;
5 as jy net goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al hierdie gebooie wat ek jou vandag beveel.
6 Want die HERE jou God seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie nasies sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.
7 As daar by jou ‘n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou land wat die HERE jou God jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie.
8 Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.
9 Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die sewende jaar, die jaar van kwytskelding, is naby—en jou oog dan jou arm broer skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na die HERE roep, en dit sonde in jou word.
10 Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom gee nie; want ter wille hiervan sal die HERE jou God jou seën in al jou werk en in alles waar jy jou hand aan slaan.
11 Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.
12 As jou broer, ‘n Hebreeuse man of ‘n Hebreeuse vrou, hom aan jou verkoop, moet hy jou ses jaar lank dien; maar in die sewende jaar moet jy hom as vryman van jou laat weggaan.
13 En as jy hom as vryman van jou laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande laat weggaan nie.
14 Jy moet hom ‘n behoorlike voorraad saamgee van jou kleinvee en jou dorsvloer en jou wyn pers; waarin die HERE jou God jou geseën het, daarvan moet jy aan hom gee.
15 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipteland was, en dat die HERE jou God jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak.
16 Maar as hy vir jou sê: Ek wil nie van jou weggaan nie—aangesien hy jou en jou huis liefhet, omdat dit vir hom goed was by jou—
17 dan moet jy ‘n els neem en dit deur sy oor en in die deur steek, sodat hy vir altyd jou slaaf word; en ook met jou slavin moet jy net so doen.
18 Dit moet nie hard in jou oë wees as jy hom as vry man van jou laat weggaan nie, want die dubbele loon van ‘n dagloner het hy vir jou ses jaar lank ingedien; en die HERE jou God sal jou seën in alles wat jy doen.
19 Al die eersgeborenes van die manlike geslag wat onder jou beeste en onder jou kleinvee aankom, moet jy aan die HERE jou God heilig; jy mag nie werk met die eersgeborene van jou beeste, en die eersgeborene van jou kleinvee nie skeer nie.
20 Voor die aangesig van die HERE jou God moet jy dit jaar vir jaar eet op die plek wat die HERE sal uitkies, jy en jou huis.
21 Maar as daar ‘n liggaamsgebrek aan is—lam of blind, enige lelike gebrek—dan moet jy dit nie aan die HERE jou God offer nie;
22 in jou poorte mag jy dit eet, die onreine en die reine saam, soos die gemsbok en die takbok.
23 Net die bloed mag jy nie eet nie; jy moet dit op die grond uitgooi soos water.




Hoofstuk 16

1 Onderhou die maand Abib en hou pasga vir die HERE jou God; want in die maand Abib het die HERE jou God jou in die nag uit Egipte uitgelei.
2 En jy moet vir die HERE jou God as pasga kleinvee en beeste slag, op die plek wat die HERE sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.
3 Jy mag geen gesuurde brood daarby eet nie; sewe dae lank moet jy ongesuurde brode daarby eet, brood van ellende—want baie haastig het jy uit Egipteland uitgetrek—sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit Egipteland in gedagtenis kan hou.
4 En daar mag by jou sewe dae lank geen suurdeeg in jou hele grondgebied gesien word nie; ook mag niks van die vleis wat jy die eerste dag in die aand slag, tot die môre toe oorbly nie.
5 Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat die HERE jou God aan jou gee nie.
6 Maar op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, moet jy die pasga slag, in die aand teen sononder, op die tyd van jou uittog uit Egipte.
7 Dan moet jy dit kook en eet op die plek wat die HERE jou God sal uitkies; daarna moet jy in die môre omdraai en na jou tente gaan.
8 Ses dae lank moet jy ongesuurde brode eet, en op die sewende dag is daar ‘n feestyd vir die HERE jou God; dan mag jy geen werk doen nie.
9 Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel.
10 Dan moet jy die fees van die weke hou vir die HERE jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die HERE jou God jou sal seën.
11 En jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.
12 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipte was; en jy moet hierdie insettinge sorgvuldig hou.
13 Die huttefees moet jy sewe dae lank hou as jy van jou dorsvloer en jou wynpers insameling hou.
14 En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is.
15 Sewe dae lank moet jy vir die HERE jou God fees hou op die plek wat die HERE sal uitkies; want die HERE jou God sal jou seën in al jou inkomste en in al die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees.
16 Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie;
17 elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.
18 Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ‘n regverdige regspraak.
19 Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het.
20 Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee.
21 Jy mag vir jou nie ‘n heilige boomstam—enige boom—plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie.
22 Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie.




Hoofstuk 17

1 Jy mag aan die HERE jou God geen bees of stuk kleinvee waaraan ‘n liggaamsgebrek, iets slegs, is, offer nie; want dit is vir die HERE jou God ‘n gruwel.
2 As by jou, in een van jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee, ‘n man of ‘n vrou gevind word wat doen wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God deur sy verbond te oortree,
3 en ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig, en voor die son of die maan of die hele leër van die hemel—wat Ek nie beveel het nie—
4 en dit aan jou vertel word, en jy dit hoor, dan moet jy terdeë ondersoek instel, en as dit waarheid is, staan die saak vas, is hierdie gruwel in Israel gedoen,
5 dan moet jy dié man of dié vrou wat hierdie verkeerde ding gedoen het, na jou poorte uitbring—die man of die vrou—en jy moet hulle stenig, dat hulle sterwe.
6 Op die verklaring van twee getuies of drie getuies moet die veroordeelde gedood word; hy mag nie gedood word op die verklaring van een getuie nie.
7 Die hand van die getuies moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
8 As ‘n saak vir jou te swaar is om te beslis oor manslag, oor regsaansprake en oor verwonding—regsake in jou poorte—dan moet jy klaarmaak en opgaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies;
9 en jy moet kom na die Levitiese priesters en na die regter wat daar in dié dae sal wees, en jy moet uitvra; dan sal hulle jou die geregtelike uitspraak te kenne gee.
10 En jy moet handel ooreenkomstig die uitspraak wat hulle jou te kenne sal gee, uit dié plek wat die HERE sal uitkies; en jy moet sorgvuldig doen net soos hulle jou sal leer.
11 Ooreenkomstig die wet wat hulle jou leer en volgens die regspraak wat hulle jou sê, moet jy handel; jy mag nie regs of links afwyk van die uitspraak wat hulle jou te kenne gee nie.
12 En die man wat vermetel handel, dat hy nie luister na die priester wat staan om daar die HERE jou God te dien, of na die regter nie—dié man moet sterwe. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.
13 En die hele volk sal dit hoor en vrees en nie meer vermetel handel nie.
14 As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil ‘n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is,
15 dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.
16 Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die HERE vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie.
17 Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.
18 En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet in ‘n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê;
19 en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen;
20 sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.




Hoofstuk 18

1 Die Levitiese priesters, die hele stam van Levi, mag geen deel of erfenis saam met Israel hê nie; van die vuuroffers van die HERE en van sy erfdeel moet hulle eet.
2 En hy mag geen erfdeel hê onder sy broers nie; die HERE is sy erfdeel soos Hy hom beloof het.
3 En dit moet die reg van die priesters wees van die kant van die volk, van die wat ‘n slagoffer bring, of dit ‘n bees of ‘n stuk kleinvee is: hulle moet aan die priester die blad en die twee kakebene en die maag gee.
4 Die eerstelinge van jou koring, jou mos en jou olie en die eerstelinge van die skeersel van jou kleinvee moet jy aan hom gee.
5 Want die HERE jou God het hom uit al jou stamme uitverkies, dat hy altyd kan staan om te dien in die Naam van die HERE, hy en sy seuns.
6 En as ‘n Leviet uit een van jou poorte kom, uit die hele Israel waar hy as vreemdeling vertoef, en hy na hartelus kom na die plek wat die HERE sal uitkies,
7 dan moet hy dien in die Naam van die HERE sy God soos al sy broers, die Leviete, wat daar voor die aangesig van die HERE staan;
8 ‘n gelyke aandeel moet hulle geniet, behalwe wat hy verkoop volgens familiebesit.
9 As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie.
10 Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie,
11 of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.
12 Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit.
13 Opreg moet jy wees met die HERE jou God.
14 Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die HERE jou God het jou nie so iets toegelaat nie.
15 ‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister—
16 net soos jy van die HERE jou God by Horeb gevra het toe jy op die dag van die vergadering gesê het: Ek kan die stem van die HERE my God nie langer hoor en hierdie groot vuur nie meer sien nie, anders sterf ek.
17 Toe het die HERE vir my gesê: Dit is goed wat hulle gespreek het.
18 ‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.
19 En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.
20 Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe.
21 En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie? —
22 as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.




Hoofstuk 19

1 As die HERE jou God die nasies uitroei wie se land die HERE jou God jou sal gee, en jy hulle uit hul besitting verdrywe en in hulle stede en in hulle huise woon,
2 dan moet jy vir jou drie stede afsonder in jou land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem.
3 Jy moet vir jou die pad regmaak en jou grondgebied wat die HERE jou God jou laat erwe, in drie dele verdeel, sodat elkeen wat ‘n doodslag begaan het, daarheen kan vlug.
4 En dit is die saak van hom wat ‘n doodslag begaan het, wat daarheen vlug, dat hy kan lewe: hy wat sy naaste sonder opset doodslaan, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie;
5 en hy wat saam met sy naaste in die bos gaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap, en die yster glip van die steel af en tref sy naaste, sodat hy sterwe—hy moet in een van hierdie stede vlug om in die lewe te bly;
6 sodat die bloedwreker hom wat ‘n doodslag begaan het, nie agtervolg as sy hart verhit is en hom inhaal—omdat die pad lank is—en hom doodslaan nie, terwyl hy die dood nie verdien het nie, omdat hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie.
7 Daarom gee ek jou bevel en sê: Drie stede moet jy vir jou afsonder.
8 En as die HERE jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het, en jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou vaders te gee
9 —as jy sorgvuldig al hierdie gebooie hou wat ek jou vandag beveel om dit te doen, om die HERE jou God lief te hê en altyd in sy weë te wandel—dan moet jy vir jou nog drie stede by hierdie drie byvoeg,
10 sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, en bloedskuld op jou kom nie.
11 Maar as iemand sy naaste vyandig is en hom voorlê en teen hom opstaan en hom lewensgevaarlik slaan, sodat hy sterwe, en hy in een van hierdie stede vlug,
12 dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal, en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee, dat hy kan sterwe.
13 Jou oog mag hom nie verskoon nie, maar jy moet die onskuldige bloed uit Israel wegdoen, dat dit met jou goed kan gaan.
14 Jou naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie.
15 Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees.
16 As ‘n kwaadwillige getuie teen iemand optree om van ‘n oortreding teen hom te getuig,
17 dan moet die twee manne wat die regsaak het, gaan staan voor die aangesig van die HERE, voor die priesters en die regters wat daar in dié dae sal wees.
18 En die regters moet terdeë ondersoek doen, en is die getuie ‘n valse getuie, het hy vals teen sy broer getuig,
19 dan moet julle met hom doen soos hy gedink het om met sy broer te doen; so moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
20 En die ander moet dit hoor en vrees en nie meer verder by jou so iets verkeerds doen nie.
21 En jou oog mag nie verskoon nie: lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet.




Hoofstuk 20

1 As jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, ‘n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die HERE jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou.
2 En as julle na die geveg kom, moet die priester nader kom en die volk toespreek;
3 en hy moet aan hulle sê: Hoor, Israel, julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie;
4 want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee.
5 Dan moet die opsigters die volk toespreek en sê: Wie is die man wat ‘n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie.
6 En wie is die man wat ‘n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie.
7 En wie is die man wat hom met ‘n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie.
8 Dan moet die opsigters verder die volk toespreek en sê: Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie.
9 En as die opsigters die volk klaar toegespreek het, moet leërowerstes aan die hoof van die volk aangestel word.
10 As jy naby ‘n stad kom om daarteen te veg, moet jy dit vrede aanbied.
11 En as dit jou ‘n antwoord van vrede gee en vir jou oopmaak, moet die hele volk wat daarin gevind word, aan jou dienspligtig wees en jou dien.
12 Maar as dit geen vrede met jou sluit nie, maar oorlog teen jou wil voer, moet jy dit beleër.
13 En die HERE jou God sal dit in jou hand gee, en jy moet al die manne daarin met die skerpte van die swaard verslaan;
14 net die vroue en die kinders en die vee en alles wat in die stad is—die hele buit moet jy vir jou roof; en jy moet die buit van jou vyande eet wat die HERE jou God jou gegee het.
15 So moet jy met al die stede maak wat baie ver van jou af is, wat nie by die stede van hierdie nasies behoort nie.
16 Maar van die stede van hierdie volke wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie.
17 Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos die HERE jou God jou beveel het;
18 sodat hulle julle nie leer om te handel volgens al hulle gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het, en julle teen die HERE julle God sondig nie.
19 As jy ‘n stad baie lank beleër deur oorlog daarteen te voer om dit te verower, moet jy sy bome nie verwoes deur die byl daarteen te swaai nie; maar jy mag daarvan eet en mag dit nie afkap nie; want is die bome van die veld dan mense, dat hulle deur jou in beleëring moet kom?
20 Net bome waarvan jy weet dat dit geen vrugtebome is nie, dié mag jy verwoes en afkap; en jy moet teen die stad wat teen jou oorlog voer, ‘n skans bou totdat dit val.




Hoofstuk 21

1 As hulle in die land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem, een vind wat dood in die veld lê, sonder dat dit bekend is wie hom gedood het,
2 dan moet jou oudstes en jou regters uitgaan en die afstand meet na die stede wat rondom die een lê wat gedood is.
3 En die stad wat die naaste lê aan hom wat gedood is—die oudstes van dié stad moet ‘n jong koei neem waarmee nie gewerk is nie, wat nie in ‘n juk getrek het nie.
4 En die oudstes van dié stad moet die koei afbring in ‘n dal met standhoudende water waarin nie gewerk of gesaai word nie; en hulle moet daar in die dal die koei se nek breek.
5 Dan moet die priesters, die seuns van Levi, aankom; want die HERE jou God het hulle uitverkies om Hom te dien en om in die Naam van die HERE te seën, en volgens hulle uitspraak moet elke saak van twis en verwonding afgehandel word.
6 En al die oudstes van dié stad wat die naaste woon aan hom wat gedood is, moet hulle hande was oor die koei waarvan die nek in die dal gebreek is;
7 en hulle moet verklaar en sê: Ons hande het hierdie bloed nie vergiet nie, en ons oë het dit nie gesien nie.
8 Doen versoening vir u volk Israel wat U, o HERE, verlos het, en laat geen onskuldige bloed op u volk Israel rus nie, en laat die bloedskuld vir hulle versoen word.
9 En jy sal die onskuldige bloed uit jou midde verwyder as jy doen wat reg is in die oë van die HERE.
10 As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer,
11 en jy onder die gevangenes ‘n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar liefkry en haar as vrou vir jou neem,
12 dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar naels knip.
13 En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en haar vader en haar moeder ‘n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan en met haar trou, en sy sal jou vrou wees.
14 En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het.
15 As ‘n man twee vroue het, een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie, en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou,
16 dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie.
17 Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.
18 As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie,
19 dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek,
20 en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard.
21 Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.
22 En as in iemand ‘n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy hom aan ‘n paal ophang,
23 dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet hom sekerlik dié dag nog begrawe; want een wat opgehang is, is deur God vervloek. En jy mag jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, nie verontreinig nie.




Hoofstuk 22

1 Jy mag die bees van jou broer of sy stuk kleinvee nie sien ronddwaal en jou vir hulle verberg nie; jy moet hulle sekerlik na jou broer terugbring.
2 En as jou broer nie naby jou is nie en jy hom nie ken nie, moet jy dit in jou huis neem, en dit moet by jou wees totdat jou broer dit soek; dan moet jy dit aan hom teruggee.
3 So moet jy ook doen met sy esel, en so moet jy doen met sy kleed, ja, so moet jy doen met alles wat van jou broer wegraak, wat hy verloor en wat jy vind; jy mag jou nie verberg nie.
4 Jy mag die esel van jou broer of sy bees nie sien val op die pad en jou vir hulle verberg nie; saam met hom moet jy hulle sekerlik ophelp.
5 ‘n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ‘n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die HERE jou God ‘n gruwel.
6 As jy op pad ‘n voëlnes kry in een of ander boom of op die grond, met klein voëltjies of eiers, terwyl die moeder op die klein voëltjies of op die eiers sit, mag jy die moeder nie saam met die kleintjies wegneem nie.
7 Jy moet die moeder sekerlik laat wegvlieg, maar die kleintjies mag jy vir jou neem, dat dit met jou goed kan gaan en jy die dae kan verleng.
8 As jy ‘n nuwe huis bou, moet jy ‘n leuning aan jou dak maak, sodat jy geen bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie.
9 Jy mag in jou wingerd nie twee soorte saad saai nie, anders verval die volle opbrings aan die heiligdom: die saad wat jy saai en die opbrings van die wingerd.
10 Jy mag nie met ‘n os en ‘n esel tegelyk ploeë nie.
11 Jy mag geen gemengde stof, wol en linne tegelyk, aantrek nie.
12 Klossies moet jy vir jou maak aan die vier hoeke van jou kleed waar jy jou mee toemaak.
13 As ‘n man ‘n vrou neem en by haar ingaan en haar dan haat
14 en haar slegte dinge nagee en ‘n slegte gerug oor haar versprei en sê: Hierdie vrou het ek geneem, en toe ek naby haar kom, het ek die maagdom nie aan haar gevind nie,
15 dan moet die vader en die moeder van die dogter die bewys van die dogter se maagdom neem en na die oudstes van die stad by die poort uitbring.
16 En die vader van die dogter moet aan die oudstes sê: Ek het my dogter aan hierdie man as vrou gegee, maar hy het haar gehaat;
17 en kyk, hy het haar slegte dinge nagegee deur te sê: Ek het aan jou dogter die maagdom nie gevind nie—maar dit is die bewys van my dogter se maagdom. En hulle moet die kledingstuk voor die oudstes van die stad uitsprei.
18 Dan moet die oudstes van dié stad die man neem en hom tugtig
19 en hom ‘n boete van honderd sikkels silwer oplê en dit aan die vader van die dogter gee, omdat hy ‘n slegte gerug oor ‘n jongmeisie van Israel versprei het. Verder moet sy sy vrou wees; hy mag haar nie verstoot solank as hy lewe nie.
20 Maar as hierdie woord waarheid is: Die maagdom is aan die dogter nie gevind nie—
21 dan moet hulle die dogter na die deur van haar vader se huis uitbring, en die manne van haar stad moet haar stenig, dat sy sterwe, omdat sy ‘n skanddaad in Israel begaan het deur in die huis van haar vader te hoereer. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
22 As ‘n man betrap word terwyl hy met ‘n getroude vrou gemeenskap het, moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.
23 As ‘n dogter, ‘n jongmeisie, aan ‘n man verloof is, en iemand kry haar in die stad en hou met haar gemeenskap,
24 dan moet julle hulle twee na die poort van dié stad uitbring en hulle stenig, dat hulle sterwe; die dogter, omdat sy in die stad nie geskreeu het nie, en die man, omdat hy die vrou van sy naaste onteer het. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
25 Maar as die man die verloofde dogter in die veld kry en die man haar aangryp en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, alleen sterwe;
26 maar aan die dogter moet jy niks doen nie: daar is in die dogter geen sonde wat die dood verdien nie; want soos wanneer ‘n man teen sy naaste opstaan en hom doodslaan, so is hierdie geval.
27 Want hy het haar in die veld gekry; die verloofde dogter het geskreeu, maar daar was niemand om haar te help nie.
28 As ‘n man ‘n dogter, ‘n jongmeisie, kry wat nie verloof is nie, en haar aangryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap,
29 dan moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, die vader van die dogter vyftig sikkels silwer gee; en sy moet sy vrou wees, omdat hy haar onteer het; hy mag haar nie verstoot solank as hy lewe nie.
30 ‘n Man mag die vrou van sy vader nie neem nie, en hy mag die kombers van sy vader nie oplig nie.




Hoofstuk 23

1 Hy wat deur verbryseling vermink of van wie die manlike deel afgesny is, mag in die vergadering van die HERE nie kom nie.
2 Geen baster mag in die vergadering van die HERE kom nie; selfs sy tiende geslag mag in die vergadering van die HERE nie kom nie.
3 Geen Ammoniet of Moabiet mag in die vergadering van die HERE kom nie; selfs hulle tiende geslag mag nooit in die vergadering van die HERE kom nie;
4 omdat hulle julle, by jul uittog uit Egipte, nie met brood en water op die pad tegemoetgekom het nie; en omdat hy Bíleam, die seun van Beor, uit Petor in Mesopotámië, teen jou gehuur het om jou te vloek.
5 Maar die HERE jou God wou nie na Bíleam luister nie; maar die HERE jou God het vir jou die vloek in ‘n seën verander, omdat die HERE jou God jou liefgehad het.
6 Jy mag hulle vrede en hulle geluk solank as jy lewe, vir ewig nie soek nie.
7 Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land.
8 Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering van die HERE kom.
9 Wanneer jy as leër teen jou vyande uittrek, pas dan op vir enigiets wat verkeerd is.
10 As daar iemand by jou is wat weens ‘n voorval by nag nie rein is nie, moet hy buitekant die laer uitgaan; hy mag nie in die laer inkom nie.
11 Maar as die aand aankom, moet hy hom in die water bad; en teen sonsondergang mag hy in die laer inkom.
12 Jy moet buitekant die laer ‘n plek hê, en daarheen moet jy uitgaan.
13 En jy moet by jou gereedskap ‘n grafie hê; as jy dan buitekant gaan sit, moet jy daarmee grawe en wat van jou uitgegaan het, weer toemaak.
14 Want die HERE jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie.
15 Jy mag ‘n slaaf wat van sy heer na jou ontsnap het, nie aan sy heer oorlewer nie.
16 Hy moet by jou bly, in jou midde, in die plek wat hy in een van jou poorte uitkies, waar dit vir hom goed is; jy mag hom nie verdruk nie.
17 Daar mag geen hoer uit die dogters van Israel wees nie; en daar mag geen skandseun uit die seuns van Israel wees nie.
18 Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van die HERE jou God as enige gelofte offer bring nie; want dié altwee is vir die HERE jou God ‘n gruwel.
19 Jy mag jou broer geen rente oplê nie, rente van geld, rente van eetware, rente van enigiets wat ‘n mens teen rente uitleen nie.
20 Die uitlander mag jy rente oplê, maar jou broer mag jy geen rente oplê nie, sodat die HERE jou God jou kan seën in alles waar jy jou hand aan slaan in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
21 As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.
22 Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie.
23 Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het.
24 As jy in die wingerd van jou naaste kom, mag jy na hartelus volop druiwe eet, maar in jou tas mag jy niks steek nie.
25 As jy in die ongesnyde graan van jou naaste kom, mag jy met jou hand are afpluk; maar ‘n sekel mag jy nie swaai in die ongesnyde graan van jou naaste nie.




Hoofstuk 24

1 As ‘n man ‘n vrou neem en met haar trou, en as sy dan geen guns in sy oë vind nie, omdat hy iets skandeliks aan haar ontdek het, en hy haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur,
2 en sy uit sy huis uittrek en weggaan en ‘n ander man s’n word,
3 en dié laaste man haar haat en haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur, of as dié laaste man sterwe wat haar vir hom as vrou geneem het—
4 dan mag haar eerste man wat haar weggestuur het, haar nie weer neem, dat sy sy vrou word nadat sy onrein geword het nie; want dit is ‘n gruwel voor die aangesig van die HERE, en jy mag op die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, geen skuld laai nie.
5 As ‘n man pas getroud is, hoef hy nie op kommando uit te trek nie, en hulle moet hom in geen enkele opsig iets oplê nie; een jaar lank moet hy vry wees vir sy huis en aan sy vrou wat hy geneem het, vreugde verskaf.
6 Niemand mag die handmeul of die boonste maalklip as pand neem nie, want hy neem die lewe as pand.
7 As iemand betrap word wat ‘n persoon uit sy broers, uit die kinders van Israel, steel en hom hard behandel en hom verkoop, dan moet dié dief sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
8 Neem jou in ag by die plaag van melaatsheid om baie noukeurig te handel volgens alles wat die Levitiese priesters julle sal leer; soos ek hulle beveel het, moet julle dit sorgvuldig hou.
9 Dink aan wat die HERE jou God op die pad, by julle uittog uit Egipte, aan Mirjam gedoen het.
10 As jy aan jou naaste enigiets leen, mag jy in sy huis nie ingaan om sy pand te gaan haal nie;
11 buite moet jy bly staan, en die man aan wie jy geleen het, moet die pand vir jou buitentoe uitbring.
12 En as hy ‘n arm man is, moet jy met sy pand nie gaan slaap nie.
13 Jy moet hom sekerlik teen sonsondergang die pand teruggee, dat hy in sy kleed kan slaap en jou kan seën; en dit sal geregtigheid vir jou wees voor die aangesig van die HERE jou God.
14 Jy mag ‘n arm en behoeftige dagloner uit jou broers of uit jou vreemdelinge wat in jou land in jou poorte is, nie verdruk nie.
15 Op die dag self moet jy sy loon gee, sodat die son oor hom nie ondergaan nie—want hy is arm en sy siel verlang daarna—dat hy nie teen jou tot die HERE roep en dit sonde in jou word nie.
16 Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.
17 Jy mag die reg van vreemdeling en wees nie verdraai nie en die kleed van ‘n weduwee nie as pand neem nie.
18 Maar jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf was in Egipte en die HERE jou God jou daaruit verlos het; daarom beveel ek jou om hierdie saak te doen.
19 As jy jou oes op jou land insamel en ‘n gerf op die land vergeet, mag jy nie omdraai om dit te gaan haal nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees, dat die HERE jou God jou kan seën in al die werk van jou hande.
20 As jy jou olywe afslaan, moet jy nie agter jou in die takke rond soek nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees.
21 As jy jou wingerd oes, moet jy agter jou nie skoon afoes nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees.
22 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf was in Egipteland; daarom beveel ek jou om hierdie saak te doen.




Hoofstuk 25

1 As daar tussen manne ‘n twis is en hulle na die gereg kom en die regters hulle vonnis en die regverdige regverdig verklaar en die skuldige skuldig verklaar,
2 as dan die skuldige slae verdien, moet die regter hom laat lê en hom in sy teenwoordigheid met ‘n aantal slae laat slaan ooreenkomstig sy skuld;
3 veertig slae mag hy hom laat gee, nie meer nie, dat hy hom nie verder met baie slae bo dié laat slaan en jou broer voor jou oë veragtelik gemaak word nie.
4 Jy mag ‘n os nie muilband as hy graan dors nie.
5 As broers bymekaar woon en een van hulle sterwe sonder dat hy ‘n seun het, dan mag die vrou van die oorledene nie daarbuite ‘n vreemde man s’n word nie; haar swaer moet by haar ingaan en haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar sluit;
6 en die eersgeborene wat sy baar, moet staan op naam van sy oorlede broer, dat sy naam nie uit Israel uitgedelg word nie.
7 Maar as dit die man nie beval om sy skoonsuster te neem nie, moet sy skoonsuster na die poort opgaan na die oudstes toe, en sê: My swaer weier om sy broer se naam in Israel in stand te hou; hy wil met my die swaershuwelik nie sluit nie—
8 dan moet die oudstes van sy stad hom roep en met hom spreek; bly hy dan daarby staan en sê: Dit beval my nie om haar te neem nie—
9 dan moet sy skoonsuster voor die oë van die oudstes na hom toe nader kom en sy skoen van sy voet aftrek en in sy gesig spuug, en sy moet verklaar en sê: So moet met die man gedoen word wat die huis van sy broer nie wil bou nie.
10 En sy naam moet in Israel genoem word: Die huis van die kaalvoet.
11 As manne met mekaar veg, die een met die ander, en die een se vrou aankom om haar man te red uit die hand van die een wat hom slaan, en haar hand uitsteek en hom by die skaamdele gryp,
12 dan moet jy haar hand afkap; jou oog mag nie verskoon nie.
13 Jy mag nie twee soorte weegstene, ‘n grote en ‘n kleintjie, in jou sak hê nie.
14 Jy mag in jou huis nie twee soorte efas, ‘n grote en ‘n kleintjie, hê nie.
15 Jy moet ‘n volle en regte gewig hê; jy moet ‘n volle en regte efa hê; sodat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God jou sal gee.
16 Want almal wat hierdie dinge doen, is ‘n gruwel vir die HERE jou God—almal wat onreg doen.
17 Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het,
18 hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie.
19 As dan die HERE jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.




Hoofstuk 26

1 En as jy in die land kom wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee en jy dit in besit neem en daarin woon,
2 dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in ‘n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon,
3 en na die priester kom wat daar in dié dae sal wees, en jy moet vir hom sê: Ek verklaar vandag aan die HERE u God dat ek in die land gekom het wat die HERE aan ons vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee.
4 En die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die HERE jou God neersit.
5 Dan moet jy voor die aangesig van die HERE jou God verklaar en sê: My vader was ‘n swerwende Arameër en het na Egipte afgetrek en daar as vreemdeling vertoef met min mense; maar hy het daar ‘n groot, magtige en talryke nasie geword.
6 Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons gelê.
7 Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;
8 en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;
9 en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
10 Hier het ek dan nou die eerstelinge gebring van die vrugte van die land wat U, HERE, my gegee het. Dan moet jy dit neersit voor die aangesig van die HERE jou God en jou neerbuig voor die aangesig van die HERE jou God.
11 En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die HERE jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.
12 As jy al die tiendes van jou opbrings klaar afgesonder het in die derde jaar, die jaar van die tiendes, dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word.
13 En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God sê: Ek het die heilige goed uit die huis weggebring en dit ook aan die Leviet en die vreemdeling, die wees en die weduwee gegee, geheel en al volgens u gebod wat U my beveel het; ek het geeneen van u gebooie oortree of vergeet nie.
14 Ek het daarvan in my rou nie geëet en daarvan as ‘n onreine niks weggebring en daarvan aan ‘n dooie niks gegee nie; ek het na die stem van die HERE my God geluister; ek het gedoen net soos U my beveel het.
15 Kyk tog uit u heilige woning, uit die hemel, neer en seën u volk Israel en die land wat U ons gegee het, soos U aan ons vaders met ‘n eed beloof het, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.
16 Vandag beveel die HERE jou God jou om hierdie insettinge en verordeninge na te kom; onderhou dan en doen dit met jou hele hart en met jou hele siel.
17 Vandag het jy die HERE laat verklaar dat Hy vir jou ‘n God sal wees, en dat jy in sy weë moet wandel en sy insettinge en sy gebooie en sy verordeninge moet hou en na sy stem moet luister.
18 En die HERE het jou vandag laat verklaar dat jy vir Hom ‘n eiendomsvolk sal wees soos Hy jou beloof het, en dat jy al sy gebooie sal onderhou;
19 en dat Hy jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ‘n lof en ‘n roem en ‘n sieraad, en dat jy ‘n heilige volk aan die HERE jou God sal wees soos Hy beloof het.




Hoofstuk 27

1 En Moses het saam met die oudstes van Israel aan die volk bevel gegee en gesê: Onderhou al die gebooie wat ek julle vandag beveel.
2 En die dag as julle deur die Jordaan gaan in die land wat die HERE jou God jou sal gee, moet jy vir jou groot klippe oprig en dit met kalk bestryk.
3 En jy moet as jy oortrek daarop skrywe al die woorde van hierdie wet, sodat jy kan kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning, soos die HERE, die God van jou vaders, jou beloof het.
4 As julle dan deur die Jordaan trek, moet julle hierdie klippe waaromtrent ek julle vandag bevel gee, op die berg Ebal oprig, en jy moet dit met kalk bestryk.
5 En jy moet daar vir die HERE jou God ‘n altaar bou, ‘n altaar van klippe; jy mag geen yster daaroor swaai nie.
6 Van ongekapte klippe moet jy die altaar van die HERE jou God bou; en jy moet daarop brandoffers bring aan die HERE jou God.
7 Ook moet jy dankoffers slag en daar eet en vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God.
8 En jy moet op die klippe baie duidelik skrywe al die woorde van hierdie wet.
9 Verder het Moses en die Levitiese priesters die hele Israel toegespreek en gesê: Wees stil en luister, o Israel! Vandag het jy die volk van die HERE geword.
10 Daarom moet jy na die stem van die HERE jou God luister en sy gebooie en sy insettinge volbring wat ek jou vandag beveel.
11 En Moses het aan die volk op dié dag bevel gegee en gesê:
12 Hierdie stamme moet staan om die volk te seën op die berg Gerísim as julle deur die Jordaan getrek het: Símeon en Levi en Juda en Issaskar en Josef en Benjamin.
13 En hierdie moet staan om te vervloek op die berg Ebal: Ruben, Gad en Aser en Sébulon, Dan en Náftali.
14 En die Leviete moet verklaar en aan al die manne van Israel hardop sê:
15 Vervloek is die man wat ‘n gesnede of gegote beeld maak, ‘n gruwel vir die HERE, werk van ‘n ambagsman se hande, en dit in die geheim opstel; en die hele volk moet antwoord en sê: Amen.
16 Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder verag; en die hele volk moet sê: Amen.
17 Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê; en die hele volk moet sê: Amen.
18 Vervloek is hy wat ‘n blinde op die dwaalweg lei; en die hele volk moet sê: Amen.
19 Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai; en die hele volk moet sê: Amen.
20 Vervloek is hy wat met die vrou van sy vader gemeenskap het, want hy het die kombers van sy vader opgelig; en die hele volk moet sê: Amen.
21 Vervloek is hy wat met enige dier gemeenskap het; en die hele volk moet sê: Amen.
22 Vervloek is hy wat met sy suster, die dogter van sy vader of die dogter van sy moeder, gemeenskap het; en die hele volk moet sê: Amen.
23 Vervloek is hy wat met sy skoonmoeder gemeenskap het; en die hele volk moet sê: Amen.
24 Vervloek is hy wat sy naaste in die geheim doodslaan; en die hele volk moet sê: Amen.
25 Vervloek is hy wat ‘n omkoopgeskenk aanneem om ‘n persoon—onskuldige bloed—dood te slaan; en die hele volk moet sê: Amen.
26 Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie; en die hele volk moet sê: Amen.




Hoofstuk 28

1 As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde.
2 En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God.
3 Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld.
4 Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.
5 Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel.
6 Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang.
7 Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug.
8 Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan; en Hy sal jou seën in die land wat die HERE jou God jou sal gee.
9 Die HERE sal jou vir Hom as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die HERE jou God hou en in sy weë wandel.
10 En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees.
11 En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee.
12 Die HERE sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie.
13 En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen,
14 en jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie.
15 Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.
16 Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld.
17 Vervloek sal wees jou mandjie en jou bakskottel.
18 Vervloek sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.
19 Vervloek sal jy wees by jou ingang, en vervloek sal jy wees by jou uitgang.
20 Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen; totdat jy verdelg is en totdat jy gou tot niet gaan vanweë die boosheid van jou handelinge, dat jy My verlaat het.
21 Die HERE sal maak dat die pes jou aankleef totdat Hy jou vernietig uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
22 Die HERE sal jou swaar tref met tering en koors en vurige koors en ontsteking en droogte en brandkoring en heuningdou; en hulle sal jou vervolg totdat jy omkom.
23 En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees.
24 Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.
25 Die HERE sal maak dat jy voor jou vyande verslaan word; op een pad sal jy teen hom uittrek en op sewe paaie sal jy voor hom uit vlug—en jy sal ‘n skrikbeeld vir al die koninkryke van die aarde word.
26 En jou lyke sal as voedsel dien vir al die voëls van die hemel en vir die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.
27 Die HERE sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie.
28 Die HERE sal jou slaan met kranksinnigheid en blindheid en sinsverwarring,
29 sodat jy op die middag sal rondtas soos die blinde in die donker rondtas, en in jou weë sal jy geen voorspoed hê nie; maar jy sal altyddeur net verdruk en beroof wees sonder dat daar ‘n helper is.
30 Jy sal jou met ‘n vrou verloof, maar ‘n ander man sal haar skend; ‘n huis sal jy bou, maar daarin nie woon nie; ‘n wingerd plant, maar dit nie in gebruik neem nie.
31 Jou bees word voor jou oë geslag, maar jy sal daarvan nie eet nie; jou esel word voor jou weggeroof en sal na jou nie terugkom nie; jou kleinvee word aan jou vyande gegee sonder dat daar vir jou ‘n helper is.
32 Jou seuns en jou dogters word aan ‘n ander volk gegee, terwyl jou oë dit sien en die hele dag na hulle smag sonder dat jy daar iets aan kan doen.
33 Die vrugte van jou land en al jou werk sal ‘n volk eet wat jy nie ken nie; en jy sal altyddeur net verdruk en hard behandel word.
34 En jy sal kranksinnig wees vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien.
35 Die HERE sal jou tref met bose swere aan die knieë en aan die bene—waarvan jy nie gesond kan word nie—van jou voetsool tot jou skedel.
36 Die HERE sal jou en jou koning wat jy oor jou sal aanstel, na ‘n nasie laat gaan wat jy en jou vaders nie geken het nie; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien.
37 En jy sal ‘n voorwerp van verbasing, ‘n spreekwoord en ‘n spot wees onder al die volke waarheen die HERE jou sal wegvoer.
38 Jy sal baie saad op die land uitbring, maar min insamel; want die sprinkaan sal dit afeet.
39 Wingerde sal jy plant en bewerk maar geen wyn drink of wegbêre nie; want die wurm sal dit opeet.
40 Olyfbome sal jy hê in jou hele grondgebied, maar jy sal jou nie met olie salf nie; want jou olywe sal afval.
41 Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal vir jou nie wees nie; want hulle sal in gevangenskap gaan.
42 Al jou bome en die vrugte van jou land sal die sprinkaan in besit neem.
43 Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal laer en laer afsak.
44 Hy sal aan jou leen, maar jy sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees.
45 En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie;
46 en hulle sal by jou ‘n teken en ‘n wonder wees, en by jou nageslag tot in ewigheid.
47 Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie,
48 sal jy jou vyand wat die HERE teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ‘n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het.
49 Die HERE sal teen jou ‘n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ‘n arend vlieg—’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,
50 ‘n nasie hard van aangesig, wat ‘n grysaard nie ontsien en vir ‘n seun geen genade het nie.
51 En hulle sal die vrug van jou vee en die vrugte van jou land opeet totdat jy verdelg is; wat vir jou geen koring, mos of olie, aanteel van jou beeste of aanteel van jou kleinvee sal laat oorbly totdat hulle jou tot niet gemaak het nie.
52 En hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte totdat jou hoë en versterkte mure val waarop jy in jou hele land vertrou het; ja, hulle sal jou in benoudheid bring in al jou poorte in jou hele land wat die HERE jou God jou gegee het.
53 En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die HERE jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak.
54 Die vertroetelde en baie verwénde man by jou—sy oog sal sy broer en die vrou wat hy liefhet, en sy orige kinders wat hy nog behou het, skeef aankyk;
55 sodat hy aan geeneen van hulle iets sal gee van die vlees van sy kinders wat hy eet nie, omdat daar vir hom niks anders oorgelaat is in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak nie.
56 Die vertroetelde en verwénde vrou by jou wat van verwendheid en weekheid nooit probeer het om haar voetsool op die grond neer te sit nie—haar oog sal die man wat sy liefhet en haar seun en haar dogter skeef aankyk,
57 ook haar nageboorte wat tussen haar voete uitgaan, en haar kinders wat sy sal baar; want sy sal dit stilletjies eet by gebrek aan alles in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou in al jou poorte benoud sal maak.
58 As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die HERE jou God, te vrees nie,
59 dan sal die HERE oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes;
60 en Hy sal weer op jou bring al die kwale van Egipte waarvoor jy bang was, sodat hulle jou aanklewe.
61 Ook allerhande siektes en allerhande plae wat in die boek van hierdie wet nie geskrywe is nie, dié sal die HERE teen jou laat opkom totdat jy verdelg is.
62 En julle sal met min mense oorbly, in plaas dat julle gewees het soos die sterre van die hemel in menigte, omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE jou God nie.
63 En soos die HERE oor julle bly was om aan julle goed te doen en julle te vermenigvuldig, so sal die HERE oor julle bly wees om julle tot niet te maak en julle te verdelg; en julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
64 En die HERE sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien, wat jy en jou vaders nie geken het nie.
65 En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie, en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie; maar die HERE sal jou daar ‘n bewende hart gee en smagtende oë en ‘n kwynende siel.
66 En jou lewe sal voor jou aan ‘n draad hang, en jy sal nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie.
67 In die môre sal jy sê: Ag, was dit maar aand! En in die aand sal jy sê: Ag, was dit maar môre! —vanweë die skrik van jou hart wat jou sal aangryp, en vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien.
68 En die HERE sal jou op skepe na Egipte terugbring, op die pad waarvan ek vir jou gesê het: Jy sal dit verder nie meer sien nie; en daar sal julle aan jul vyande as slawe en slavinne verkoop word, maar daar sal geen koper wees nie.




Hoofstuk 29

1 Dit is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het.
2 En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het,
3 die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders.
4 Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie.
5 En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet.
6 Brood het julle nie geëet en wyn en sterk drank nie gedrink nie, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is.
7 En toe julle by hierdie plek kom, het Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die koning van Basan, uitgetrek ons tegemoet om te veg, maar ons het hulle verslaan
8 en hulle land ingeneem en dit as erfenis gegee aan die Rubeniete en Gadiete en aan die halwe stam van die Manassiete.
9 Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.
10 Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel;
11 julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter,
12 om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit;
13 sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het.
14 En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie,
15 maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie.
16 Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het.
17 En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien,
18 sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die HERE onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie,
19 en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel—om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!
20 Die HERE sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die HERE en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die HERE sal sy naam onder die hemel uitdelg.
21 En die HERE sal hom tot sy ongeluk van al die stamme van Israel afskei volgens al die vloeke van die verbond wat in hierdie wetboek geskrywe is.
22 En die volgende geslag, julle kinders wat ná julle opstaan, en die uitlander wat uit ‘n ver land kom, sal sê, as hulle die plae van daardie land sien en sy siektes wat die HERE daarin laat uitbreek het—
23 ook swawel en sout deurdat sy hele oppervlakte uitgebrand is, wat nie besaai word en niks laat uitspruit nie, waarin hoegenaamd geen plante opslaan nie, soos die omkering van Sodom en Gomorra, Adma en Sebóim wat die HERE in sy toorn en in sy grimmigheid omgekeer het—
24 en al die nasies sal sê: Waarom het die HERE so met hierdie land gedoen? Wat beteken hierdie groot toorngloed?
25 Dan sal hulle antwoord: Omdat hulle die verbond van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het wat Hy met hulle gesluit het toe hulle deur Hom uit Egipteland uitgelei is,
26 en hulle ander gode gaan dien en hulle daarvoor neergebuig het, gode wat aan hulle nie bekend was nie, en wat Hy hulle nie toebedeel het nie,
27 daarom het die toorn van die HERE teen daardie land ontvlam om daaroor die hele vloek te bring wat in hierdie boek geskrywe is.
28 En die HERE het hulle uit hulle land uitgeruk in toorn en in grimmigheid en in groot verbolgenheid; en Hy het hulle weggeslinger na ‘n ander land, soos dit vandag is.
29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.




Hoofstuk 30

1 En as al hierdie dinge oor jou kom, die seën en die vloek wat ek jou voorgehou het, en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die HERE jou God jou verdryf het,
2 en jy jou tot die HERE jou God bekeer en na sy stem luister net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel,
3 dan sal die HERE jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die HERE jou God jou verstrooi het.
4 Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.
5 En die HERE jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders.
6 En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.
7 En die HERE jou God sal al hierdie vloeke op jou vyande en op jou haters lê wat jou vervolg het.
8 Maar jy sal weer na die stem van die HERE luister en al sy gebooie doen wat ek jou vandag beveel.
9 En die HERE jou God sal die goeie aan jou oorvloedig gee in al die werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land; want die HERE sal weer oor jou ten goede bly wees soos Hy bly was oor jou vaders,
10 as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.
11 Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie.
12 Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
13 Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
14 Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.
15 Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk.
16 Wat ek jou vandag beveel, is om die HERE jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die HERE jou God jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
17 Maar as jou hart hom afwend en jy nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy jou voor ander gode neerbuig en hulle dien,
18 dan verkondig ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; julle sal die dae nie verleng in die land waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie.
19 Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,
20 deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee.




Hoofstuk 31

1 Daarna het Moses gegaan en die hele Israel met hierdie woorde toegespreek
2 en vir hulle gesê: Ek is vandag honderd en-twintig jaar oud; ek kan nie meer uit— en ingaan nie, en die HERE het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie gaan nie.
3 Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het.
4 En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het;
5 die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het.
6 Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.
7 Toe het Moses Josua geroep en aan hom voor die oë van die hele Israel gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal met hierdie volk in die land ingaan wat die HERE aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee; en jy sal hulle dit laat erwe.
8 En dit is die HERE wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie.
9 En Moses het hierdie wet opgeskrywe en dit gegee aan die priesters, die seuns van Levi, wat die verbondsark van die HERE gedra het, en aan al die oudstes van Israel.
10 En Moses het aan hulle bevel gegee en gesê: Aan die einde van sewe jaar, op die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding, op die huttefees,
11 as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees.
12 Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou.
13 En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.
14 En die HERE het vir Moses gesê: Kyk, jou dae kom nader dat jy moet sterwe; roep Josua, en gaan julle in die tent van samekoms staan, dat Ek aan hom bevel kan gee. Toe het Moses en Josua gegaan en in die tent van samekoms gaan staan.
15 En die HERE het in die tent in ‘n wolkkolom verskyn terwyl die wolkkolom by die ingang van die tent bly staan het.
16 Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, jy ontslaap met jou vaders, en hierdie volk sal opstaan, en hulle sal die vreemde gode van die land waarheen hulle gaan, in sy midde agternahoereer en My verlaat en my verbond verbreek wat Ek met hulle gemaak het.
17 Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom, omdat onse God nie onder ons is nie?
18 Maar Ek sal op dié dag my aangesig heeltemal verberg weens al die kwaad wat hulle gedoen het; want hulle het na ander gode afgewyk.
19 Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Israel; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My ‘n getuie teen die kinders van Israel kan wees.
20 Want Ek sal hulle inbring in die land wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het, wat oorloop van melk en heuning, en hulle sal eet en versadig en vet word; dan sal hulle afwyk na ander gode en dié dien, en hulle sal My verag en my verbond verbreek.
21 En as dan baie onheile en node oor hulle kom, dan sal hierdie lied in hulle aangesig as getuie antwoord—want dit sal uit die mond van hulle nageslag nie vergeet wees nie—want Ek ken hulle gedagtes wat hulle vandag koester voordat Ek hulle inbring in die land wat Ek met ‘n eed beloof het.
22 Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer.
23 En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n eed beloof het; en Ek sal met jou wees.
24 En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ‘n boek geskryf het tot die einde toe,
25 het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van die HERE gedra het, bevel gegee en gesê:
26 Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die HERE julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees.
27 Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen die HERE—hoeveel te meer dan ná my dood!
28 Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem.
29 Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg.
30 Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek.




Hoofstuk 32

1 Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond.
2 Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante.
3 Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God!
4 Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.
5 Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag.
6 Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?
7 Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê.
8 Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.
9 Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.
10 Hy het hom gevind in ‘n woestynland en in ‘n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak soos sy oogappel.
11 Soos ‘n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels—
12 die HERE alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde god by hom nie.
13 Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots;
14 dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.
15 Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop—jy het vet geword, dik geword, spekvet geword—en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag.
16 Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg.
17 Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie.
18 Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die God vergeet wat jou voortgebring het.
19 Toe die HERE dit sien, het Hy hulle verwerp, uit ergernis oor sy seuns en dogters.
20 En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ‘n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie.
21 Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat ‘n nie-volk is, deur ‘n dwase nasie sal Ek hulle terg.
22 Want ‘n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek.
23 Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.
24 As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers.
25 Buitekant sal die swaard beroof, en in die binnekamers die verskrikking; die jongman sowel as die jongedogter, die suigling saam met die grysaard.
26 Ek sou gesê het: Ek wil hulle wegblaas, hulle gedagtenis onder die mense uitroei—
27 as Ek nie vir die terging van die vyand bedug was nie, dat hulle teëstanders dit sou misverstaan en sê: Ons hand was hoog, en die HERE het dit alles nie gedoen nie.
28 Want ‘n nasie van verlore raadsplanne is hulle, en daar is geen verstand in hulle nie.
29 Was hulle wys, hulle sou dit insien, hulle sou op hulle einde let.
30 Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie!
31 Want hulle steenrots is nie soos ons Steenrots nie—ja, ons vyande self is skeidsregters!
32 Want hulle wingerdstok is uit die wingerdstok van Sodom en uit die wingerde van Gomorra; hulle druiwe is giftige druiwe, bitter trosse dra hulle.
33 Hulle wyn is slanggif en wrede addergif.
34 Is dit nie by My opgegaar, in my skatkamers verseël nie?
35 My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby, en wat oor hulle beskik is, kom gou.
36 Want die HERE sal aan sy volk reg verskaf, en Hy sal medelyde hê met sy knegte as Hy sien dat hulle vashouplek weg is en dit met almal sonder uitsondering gedaan is.
37 Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het,
38 wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle ‘n beskerming kan wees!
39 Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.
40 Want Ek sal my hand na die hemel ophef en sê: So waar as Ek ewig leef—
41 as Ek my glinsterende swaard skerp gemaak het en my hand na die strafgerig gryp, sal Ek wraak oefen op my teëstanders en my haters vergelde.
42 Ek sal my pyle dronk maak van bloed, en my swaard sal vlees eet: van die bloed van hom wat verslaan en gevang is, van die kop van die vyand se aanvoerders.
43 Jubel, o nasies, oor sy volk, want Hy sal die bloed van sy knegte wreek, en Hy sal wraak oefen op sy teëstanders en versoening doen vir sy land en sy volk.
44 En Moses het gekom en al die woorde van hierdie lied voor die ore van die volk gespreek, hy en Hoséa, die seun van Nun.
45 En toe Moses met al hierdie woorde die hele Israel klaar toegespreek het,
46 sê hy vir hulle: Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel om al die woorde van hierdie wet sorgvuldig te hou.
47 Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe; en deur hierdie woord sal julle die dae verleng in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.
48 Daarna het die HERE op daardie selfde dag met Moses gespreek en gesê:
49 Klim op hierdie gebergte Abárim, die berg Nebo, wat in die land Moab is, wat teenoor Jérigo lê, en aanskou die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel as besitting sal gee;
50 en sterwe op die berg waarheen jy opklim, en word versamel by jou volksgenote, soos jou broer Aäron gesterf het op die berg Hor en versamel is by sy volksgenote,
51 omdat julle onder die kinders van Israel ontrou teen My gehandel het by die twiswater van Kades, in die woestyn Sin, omdat julle My nie geheilig het onder die kinders van Israel nie.
52 Want reg voor sal jy die land sien, maar jy sal daar nie inkom, in die land wat Ek aan die kinders van Israel sal gee nie.




Hoofstuk 33

1 En dit is die seën waarmee Moses, die man van God, die kinders van Israel geseën het voor sy dood.
2 En hy het gesê: Die HERE het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tien duisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle.
3 Ja, Hy het die stamme lief. Al sy heiliges—hulle is in u hand; en hulle was gelaer by u voet; elkeen ontvang iets van u uitsprake.
4 Moses het ons die wet beveel, ‘n besitting vir die vergadering van Jakob.
5 En Hy het Koning geword in Jesúrun, toe die hoofde van die volk vergader het, die stamme van Israel almal saam.
6 Laat Ruben lewe en nie sterwe nie, en laat sy manne ‘n aantal wees.
7 En dít vir Juda, en hy het gesê: Hoor, HERE, die stem van Juda, en bring hom na sy volk toe; met sy hande het hy geveg vir hulle, en wees U vir hom ‘n hulp teenoor sy teëstanders.
8 En van Levi het hy gesê: U Tummim en u Urim is vir die man, u gunsgenoot, u wat deur U beproef is in Massa, met wie U getwis het by die waters van Mériba;
9 wat van sy vader en sy moeder gesê het: Ek sien hom nie, en sy broers nie erken het en van sy seuns niks geweet het nie; want hulle het u woord bewaar en u verbond gehou.
10 Hulle sal Jakob u verordeninge leer en Israel u wet; hulle sal reukwerk voor U neerlê en ‘n voloffer op u altaar.
11 Seën, HERE, sy krag, en laat die werk van sy hande U welgevallig wees; verpletter die lendene van die wat teen hom opstaan en hom haat, sodat hulle nie kan opstaan nie.
12 Van Benjamin het hy gesê: Die beminde van die HERE—hy sal veilig by Hom woon; Hy beskerm hom die hele dag en woon tussen sy berghange.
13 En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die HERE is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê,
14 en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane
15 en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels
16 en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het—laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers.
17 Sy eersgebore stier—heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tien duisende van Efraim, en dit is die duisende van Manasse!
18 En van Sébulon het hy gesê: Verheug jou, Sébulon, oor jou togte, en Issaskar, oor jou tente.
19 Hulle sal volke na die berg roep; daar sal hulle offers van geregtigheid offer; want hulle sal die oorvloed van die see insuig en die verborgenste skatte van die sand.
20 En van Gad het hy gesê: Geseënd is Hy wat vir Gad ruimte maak; hy gaan lê soos ‘n leeuin en verskeur die arm, ja, die hoofskedel.
21 En hy het vir hom ‘n eerstelingsaandeel uitgekies, want daar was die deel van ‘n veldheer bewaar; en hy het gekom na die hoofde van die volk, hy het die geregtigheid van die HERE uitgevoer en sy verordeninge met Israel.
22 En van Dan het hy gesê: Dan is ‘n jong leeu wat uit Basan uitspring.
23 En van Náftali het hy gesê: Náftali, versadig van geluk en vol van die seën van die HERE—neem jy see en suidland in besit!
24 En van Aser het hy gesê: Geseënd is Aser bo die seuns; laat hy die liefling van sy broers wees, en een wat sy voet in olie insteek.
25 Mag jou grendel yster en koper wees, en jou sterkte soos jou dae.
26 Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid.
27 Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg!
28 So het Israel dan veilig gaan woon, die bron van Jakob in afsondering, in ‘n land van koring en mos; ja, sy hemel laat dou afdrup.
29 Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ‘n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande julle al kruipende aan jou onderwerp; maar jy sal op hulle hoogtes stap.




Hoofstuk 34

1 Toe het Moses opgeklim uit die vlaktes van Moab na die berg Nebo, die top van Pisga wat teenoor Jérigo lê; en die HERE het hom die hele land, Gílead tot Dan toe, laat sien;
2 en die hele Náftali en die land Efraim en Manasse en die hele land Juda tot by die Westelike See;
3 en die Suidland en die Jordaanstreek, die laagte van Jérigo, die palmstad, tot by Soar.
4 En die HERE het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.
5 Toe het Moses, die kneg van die HERE, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die HERE.
6 En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.
7 En Moses was honderd en-twintig jaar oud toe hy gesterf het; sy oog was nie verswak nie, en sy krag het nie vergaan nie.
8 Toe het die kinders van Israel Moses beween in die vlaktes van Moab, dertig dae lank. En die dae van die geween, van die rou oor Moses, het ten einde gekom.
9 En Josua, die seun van Nun, was vol van die Gees van wysheid; want Moses het hom die hande opgelê. En die kinders van Israel het na hom geluister en gedoen soos die HERE Moses beveel het.
10 En soos Moses, vir wie die HERE van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie—
11 wat betref al die tekens en die wonders wat die HERE hom opgedra het om in Egipteland aan Farao en aan al sy dienaars en sy hele land te doen,
12 en wat betref die hele magsopenbaring en al die groot, skrikwekkende dade wat Moses voor die oë van die hele Israel gedoen het.