1 Samuel

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Daar was ‘n sekere man uit Ramatáim, ‘n Sufiet, uit die gebergte van Efraim, en sy naam was Élkana, die seun van Jeróham, die seun van Elíhu, die seun van Tohu, die seun van Suf, ‘n Efratiet.
2 En hy het twee vroue gehad; die naam van die een was Hanna, en die naam van die tweede was Peninna; en Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie.
3 En dié man het van jaar tot jaar opgegaan uit sy stad om te aanbid en aan die HERE van die leërskare te offer in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, priesters van die HERE was.
4 En op ‘n dag het Élkana geoffer en aan sy vrou Peninna en al haar seuns en haar dogters dele van die offervleis gegee;
5 maar aan Hanna het hy ‘n dubbele deel gegee; want hy het Hanna liefgehad; maar die HERE het haar moederskoot toegesluit.
6 En haar mededingster het haar ook bitterlik geterg om haar te vertoorn, omdat die HERE haar moederskoot toegesluit het.
7 So het hy gedoen van jaar tot jaar, telkens as sy opgaan in die huis van die HERE. Só het sy haar geterg, dat sy geween het en nie wou eet nie.
8 En haar man Élkana sê vir haar: Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef? Is ek vir jou nie beter as tien seuns nie?
9 Toe staan Hanna op nadat hulle geëet en nadat hulle gedrink het in Silo, terwyl die priester Eli op die stoel sit by die deurpos van die tempel van die HERE.
10 En bitter bedroef het sy tot die HERE gebid en bitterlik geween;
11 en sy het ‘n gelofte gedoen en gesê: HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ‘n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie.
12 En toe sy lank gebid het voor die aangesig van die HERE en Eli op haar mond ag gee—
13 want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie—het Eli gedink dat sy dronk was.
14 En Eli sê vir haar: Hoe lank wil jy jou soos ‘n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg.
15 Maar Hanna antwoord en sê: Nee, my heer, ek is ‘n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort.
16 Hou tog nie u dienares vir ‘n deugniet nie, want vanweë my baie sorge en verdriet het ek tot nou toe gespreek.
17 En Eli antwoord en sê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het.
18 Daarop sê sy: Mag u dienares guns in u oë vind. Die vrou het toe daar weggegaan, en sy het geëet en haar aangesig was anders.
19 Toe het hulle die môre vroeg klaargemaak en voor die aangesig van die HERE aanbid en teruggegaan en by hulle huis in Rama gekom; en Élkana het sy vrou Hanna beken, en die HERE het aan haar gedink.
20 En by die wisseling van die jaar het Hanna, wat swanger was, ‘n seun gebaar en hom Samuel genoem; want, het sy gesê, ek het hom van die HERE gebid.
21 Toe die man Élkana dan met sy hele huisgesin opgaan om aan die HERE die jaarlikse offer en sy gelofte-offer te bring,
22 het Hanna nie opgegaan nie; maar sy het aan haar man gesê: Eers wanneer die seun gespeen is, sal ek hom bring, dat hy kan verskyn voor die aangesig van die HERE en daar vir altyd bly.
23 En haar man Élkana het aan haar gesê: Doen wat goed is in jou oë, bly totdat jy hom gespeen het; mag die HERE net sy woord bevestig. Die vrou het toe gebly en haar seun gesoog totdat sy hom gespeen het.
24 En sodra sy hom gespeen het, het sy hom met haar saam gebring, met drie bulle en ‘n efa meel en ‘n sak wyn, en sy het hom gebring in die huis van die HERE in Silo. En die seun was nog jonk.
25 En hulle het die bul geslag en die seun by Eli gebring;
26 en sy het gesê: Ag, my heer, so waar as u siel leef, my heer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die HERE te bid.
27 Om hierdie seun het ek gebid, en die HERE het my bede aan my gegee wat ek van Hom gebid het.
28 So staan ek hom dan ook af aan die HERE al die dae wat hy leef; hy is aan die HERE afgestaan. En hy het die HERE daar aanbid.




Hoofstuk 2

1 Toe het Hanna gebid en gesê: My hart jubel in die HERE, my horing is hoog in die HERE; my mond is wyd oop oor my vyande, want ek verheug my in u verlossing.
2 Niemand is heilig soos die HERE nie; ja, daar is niemand buiten U, en daar is geen rots soos onse God nie.
3 Spreek nie voortdurend alte hoog nie, laat vermetele taal nie uit julle mond uitgaan nie; want die HERE is ‘n God van diepe kennis, en deur Hom word die dade beproef.
4 Die boog van die helde is verbreek; maar die wat gestruikel het, is met krag omgord.
5 Die wat versadig was, het hulle vir brood verhuur; maar die wat honger gehad het, rus. Selfs die onvrugbare het sewe gebaar, maar sy wat ryk aan kinders was, het verwelk.
6 Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom.
7 Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy.
8 Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle ‘n erestoel te laat beërwe. Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig.
9 Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die goddelose mense kom om in duisternis; want ‘n mens oorwin nie deur krag nie.
10 Die wat met die HERE twis, word verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die HERE oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.
11 Daarna het Élkana na sy huis, na Rama, gegaan, terwyl die seun by die priester Eli die HERE bly dien het.
12 Maar die seuns van Eli was deugniete; hulle het die HERE nie erken nie.
13 Die handelwyse van die priesters teenoor die volk was só: As iemand ‘n offer slag, dan kom die dienaar van die priester, net soos die vleis kook, met die drietand-vurk in sy hand,
14 en steek in die kastrol of in die pot of in die pan of in die skottel: alles wat die vurk optrek, neem die priester vir homself. So het hulle met al die Israeliete gedoen wat daar, in Silo, gekom het.
15 Selfs voordat hulle die vet aan die brand steek, kom die dienaar van die priester en sê aan die man wat offer: Gee vleis om vir die priester te braai, want hy sal nie gekookte nie, maar net rou vleis van jou neem.
16 As die man vir hom sê: Laat hulle net eers die vet aan die brand steek, neem dan vir jou soos jou siel begeer—dan sê hy: Nee, maar jy moet dit nou gee; en so nie, dan neem ek dit met geweld.
17 En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag.
18 Maar Samuel het as seun gedien voor die aangesig van die HERE, omgord met ‘n linne-skouerkleed.
19 En sy moeder was gewoond om vir hom ‘n klein manteltjie te maak wat sy van jaar tot jaar vir hom gebring het as sy met haar man opgaan om die jaarlikse offer te bring.
20 Dan seën Eli Élkana en sy vrou en sê: Mag die HERE jou ‘n nageslag gee uit hierdie vrou ter vergoeding van wat aan die HERE afgestaan is. Daarop gaan hulle na sy woonplek toe.
21 En die HERE het ag gegee op Hanna, sodat sy swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gebaar het; en die seun Samuel het groot geword by die HERE.
22 Maar Eli was baie oud, en as hy hoor alles wat sy seuns aan die hele Israel doen, en dat hulle gemeenskap hou met die vroue wat dien by die ingang van die tent van samekoms,
23 dan sê hy vir hulle: Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor?
24 Dit moenie wees nie, my seuns, want dit is geen goeie gerug wat ek hoor nie; julle maak dat die volk van die HERE oortree.
25 As mens teen mens sondig, dan beslis die owerheid oor hom, maar as ‘n mens teen die HERE sondig, wie sal dan vir hom as skeidsregter optree? Maar hulle het nie na hul vader geluister nie, want die HERE wou hulle ombring.
26 Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense.
27 En daar het ‘n man van God by Eli gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Het Ek My nie duidelik geopenbaar aan die huis van jou vader toe hulle in Egipte in die huis van Farao was nie?
28 En Ek het hom vir My as priester uitgekies uit al die stamme van Israel om op my altaar te klim om die reukwerk aan die brand te steek, om die skouerkleed te dra voor my aangesig; en Ek het aan die huis van jou vader al die vuuroffers van die kinders van Israel gegee.
29 Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel?
30 Daarom spreek die HERE, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.
31 Kyk, die dae kom dat Ek jou arm en die arm van jou vader se huis sal afkap, sodat daar geen bejaarde in jou huis sal wees nie.
32 Dan sal jy die benoudheid van my woning aanskou, in alles waarin Hy aan Israel goed sal doen; en in jou huis sal daar al die dae geen bejaarde wees nie.
33 Maar Ek sal, om jou oë te laat wegkwyn en jou siel te laat versmag, een vir jou nie uitroei van my altaar af nie; en al wat aangroei uit jou huis, sal op manlike leeftyd sterwe.
34 En dit sal vir jou die teken wees wat oor jou twee seuns, oor Hofni en Pínehas, sal kom: Op een dag sal hulle altwee sterwe.
35 En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel.
36 En almal wat in jou huis oorbly, sal kom om hulle voor hom neer te buig vir ‘n geldstukkie en ‘n broodjie, en hulle sal sê: Voeg my tog by een van die priesterordes, dat ek ‘n stukkie brood kan eet.




Hoofstuk 3

1 En die seun Samuel het die HERE gedien voor Eli, en die woord van die HERE was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie.
2 In dié tyd dan terwyl Eli op sy plek lê en slaap—sy oë het al begin swak word, sodat hy nie kon sien nie—
3 toe die lamp van God nog nie doodgegaan het nie, en Samuel lê en slaap in die tempel van die HERE waar die ark van God was,
4 het die HERE na Samuel geroep; en hy het geantwoord: Hier is ek.
5 Daarop loop hy na Eli en sê: Hier is ek, want u het my geroep. Maar hy antwoord: Ek het nie geroep nie; gaan slaap maar weer. Hy het toe geloop en gaan lê.
6 Verder het die HERE Samuel weer geroep, en Samuel het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Maar hy antwoord: Ek het nie geroep nie, my seun, gaan slaap maar weer.
7 Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie.
8 En die HERE het Samuel weer geroep vir die derde maal; en hy het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Toe merk Eli dat die HERE die seun geroep het.
9 Daarom het Eli vir Samuel gesê: Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy antwoord: Spreek, HERE, want u kneg hoor. Toe het Samuel geloop en op sy plek gaan lê.
10 Toe het die HERE gekom en gaan staan en geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor.
11 Toe het die HERE aan Samuel gesê: Kyk, Ek gaan ‘n ding doen in Israel waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit.
12 Dié dag sal Ek aan Eli vervul alles wat Ek oor sy huis gespreek het, van begin tot end.
13 En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie.
14 En daarom sweer Ek aangaande die huis van Eli: Waarlik die ongeregtigheid van die huis van Eli sal tot in ewigheid nie deur slagoffer of spysoffer versoen word nie.
15 En Samuel het bly lê tot die môre toe. En hy het die deure van die huis van die HERE oopgemaak; maar Samuel was bevrees om die gesig aan Eli mee te deel.
16 En Eli het Samuel geroep en gesê: Samuel, my seun! En hy antwoord: Hier is ek.
17 Toe vra hy: Wat is die woord wat Hy met jou gespreek het? Verberg dit tog nie vir my nie. Mag God so aan jou doen en so daaraan toedoen as jy iets van al die woorde wat Hy met jou gespreek het, vir my verberg.
18 En Samuel het hom al die woorde meegedeel, en niks vir hom verberg nie. En hy het gesê: Hy is die HERE; laat Hom doen wat goed is in sy oë.
19 En Samuel het groot geword, en die HERE was met hom; en Hy het nie een van al sy woorde onvervuld laat bly nie.
20 En die hele Israel van Dan tot Berséba het erken dat Samuel betroubaar was as ‘n profeet van die HERE.
21 En die HERE het weer verskyn in Silo; want die HERE het Hom geopenbaar aan Samuel in Silo deur die woord van die HERE.




Hoofstuk 4

1 En die woord van Samuel het tot die hele Israel gekom. En Israel het uitgetrek vir die geveg, die Filistyne tegemoet, en hulle het laer opgeslaan by Ebenhaéser; maar die Filistyne het laer opgeslaan by Afek.
2 Toe die Filistyne hulle opstel om Israel te ontmoet, en die geveg ontwikkel, is Israel voor die Filistyne verslaan; en hulle het op die vegterrein in die veld omtrent vier duisend man doodgeslaan.
3 Terwyl die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Israel: Waarom het die HERE ons vandag voor die Filistyne verslaan? Laat ons die verbondsark van die HERE uit Silo na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand van ons vyande.
4 Daarop het die manskappe na Silo gestuur, en hulle het die verbondsark van die HERE van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan gaan haal; en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, was daar by die verbondsark van God.
5 En net toe die verbondsark van die HERE in die laer inkom, hef die hele Israel ‘n groot krygsgeskreeu aan, sodat die aarde gedreun het.
6 En die Filistyne het die geluid van die gejuig gehoor en gesê: Watter geluid van ‘n groot krygsgeskreeu is dit in die laer van die Hebreërs? Toe verneem hulle dat die ark van die HERE in die laer gekom het.
7 En die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: God het in die laer gekom! En hulle het gesê: Wee ons, want so iets het gister en eergister nie gebeur nie.
8 Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie geweldige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenaars met allerhande plae getref het in die woestyn.
9 Wees dapper en gedra julle soos manne, Filistyne, dat julle nie miskien die Hebreërs dien soos hulle julle gedien het nie; gedra julle dan soos manne, en veg.
10 Toe het die Filistyne geveg, en Israel is verslaan, sodat hulle gevlug het, elkeen na sy tente toe. En die slagting was baie groot: van Israel het daar dertig duisend voetgangers geval.
11 Die ark van God is ook geneem, en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, het gesterwe.
12 Toe het ‘n Benjaminiet van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy hoof.
13 Terwyl hy aankom, sit Eli juis en uitkyk op ‘n stoel aan die kant van die pad, want hy was besorg oor die ark van God. En die man het gekom om dit in die stad mee te deel, en die hele stad het geskreeu.
14 Toe Eli dan die geluid van die geskreeu hoor, sê hy: Wat is dit vir ‘n rumoerige geluid? En die man het gou gekom en dit aan Eli meegedeel.
15 (Eli was agt en negentig jaar oud, en sy oë het styf gestaan, sodat hy nie kon sien nie.)
16 En die man het vir Eli gesê: Dit is ek wat van die slagveld gekom het; ja, ek het vandag van die slagveld gevlug. En hy vra: Wat het daar gebeur, my seun?
17 En die boodskapper antwoord en sê: Israel het voor die Filistyne gevlug, en daar was ook ‘n groot neerlaag onder die manskappe, en u twee seuns, Hofni en Pínehas, het ook gesterwe, en die ark van God is geneem.
18 Net toe hy melding maak van die ark van God, val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar. En hy het Israel veertig jaar lank gerig.
19 En sy skoondogter, die vrou van Pínehas, was vér heen in haar swangerskap. Toe sy dan die tyding hoor dat die ark van God geneem is, en dat haar skoonvader en haar man gesterf het, het sy haar krom gebuig en gebaar, want haar barensweë het haar oorval.
20 En terwyl sy op sterwe lê, sê die vroue wat by haar staan: Wees nie bevrees nie, want jy het ‘n seun gebaar; maar sy het nie geantwoord en dit nie ter harte geneem nie,
21 maar die seuntjie Ikabod genoem en gesê: Weggevoer is die eer uit Israel—met die oog op die wegneming van die ark van God en met die oog op haar skoonvader en haar man.
22 En sy het gesê: Weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is.




Hoofstuk 5

1 En die Filistyne het die ark van God geneem en dit van Ebenhaéser af na Asdod gebring.
2 Daarop het die Filistyne die ark van God geneem en dit in die huis van Dagon gebring en dit langs Dagon neergesit.
3 Toe die Asdodiete vroeg die volgende môre daarheen gaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die HERE. En hulle het Dagon geneem en hom weer op sy plek gesit.
4 Maar toe hulle die volgende môre vroeg opstaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die HERE; maar die hoof van Dagon en sy twee handpalms lê afgebreek op die drumpel: net Dagon se lyf het aan hom oorgebly.
5 Daarom trap die priesters van Dagon en almal wat in die huis van Dagon ingaan, tot vandag toe nie op die drumpel van Dagon in Asdod nie.
6 Maar die hand van die HERE was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied.
7 Toe die manne van Asdod sien dat dit so gaan, sê hulle: Die ark van die God van Israel mag nie by ons bly nie, want sy hand druk swaar op ons en op ons god Dagon.
8 Daarom het hulle al die vorste van die Filistyne by hulle byeen laat kom en gevra: Wat moet ons met die ark van die God van Israel doen? En dié het gesê: Laat die ark van die God van Israel oorgaan na Gat toe. Daarop het hulle die ark van die God van Israel oorgebring.
9 En nadat hulle dit oorgebring het, was die hand van die HERE teen die stad met ‘n baie groot verwarring, en Hy het die mense van die stad getref, van die kleinste tot die grootste, sodat geswelle aan hulle uitgebreek het.
10 Daarop stuur hulle die ark van God na Ekron. Maar toe die ark van God in Ekron kom, het die Ekroniete geskreeu en gesê: Hulle het die ark van die God van Israel na my toe oorgebring om my en my volk dood te maak.
11 Daarom het hulle al die vorste van die Filistyne byeen laat kom en gesê: Stuur die ark van die God van Israel weg, dat dit na sy plek kan teruggaan en my en my volk nie doodmaak nie. Want daar het’n dodelike verwarring in die hele stad gekom: die hand van God was daar baie swaar.
12 En die mense wat nie gesterf het nie, is met geswelle getref, sodat die hulpgeroep van die stad na die hemel opgeklim het.




Hoofstuk 6

1 En toe die ark van die HERE sewe maande lank in die land van die Filistyne was,
2 het die Filistyne die priesters en die waarsêers geroep en gesê: Wat moet ons met die ark van die HERE doen? Gee ons te kenne waarmee ons dit na sy plek kan wegstuur.
3 En hulle sê: As julle die ark van die God van Israel wegstuur, stuur dit dan nie leeg weg nie, maar gee Hom ten volle ‘n skuldoffer terug; dan sal julle gesond word, en dit sal julle bekend word waarom sy hand nie van julle wyk nie.
4 Toe vra hulle: Wat is die skuldoffer wat ons Hom moet teruggee? En hulle sê: Volgens die getal van die vorste van die Filistyne: vyf goue geswelle en vyf goue muise, want dit is een plaag oor hulle almal en oor julle vorste.
5 Maak dan beelde van julle geswelle en beelde van julle muise wat die land verniel, en gee eer aan die God van Israel; miskien sal Hy sy hand ligter maak oor julle en julle gode en julle land.
6 Waarom tog sal julle jul hart verhard soos die Egiptenaars en Farao hulle hart verhard het? Het hulle hul nie losgelaat om weg te trek toe Hy hulle sy mag laat voel het nie?
7 Neem dan nou wat nodig is en maak ‘n nuwe wa; ook twee melkkoeie waar geen juk op gekom het nie; span dan die koeie in voor die wa en keer hulle kalwers agter hulle weg huis toe.
8 Neem dan die ark van die HERE en sit dit op die wa, en die goue voorwerpe wat julle Hom as skuldoffer teruggee, moet julle in ‘n kissie langsaan neerlê; stuur dit dan weg om heen te gaan.
9 En let op: As dit in die rigting van sy eie gebied na Bet-Semes opgaan, dan het Hy ons hierdie groot onheil aangedoen; maar so nie, dan weet ons dat sy hand ons nie getref het nie: dit het toevallig oor ons gekom.
10 Die manne doen toe so: hulle het twee melkkoeie geneem en dié voor die wa gespan en hulle kalwers by die huis agtergehou.
11 En hulle het die ark van die HERE op die wa gesit en die kissie met die goue muise en die beelde van hulle geswelle.
12 En die koeie het reguit padlangs geloop in die rigting van Bet-Semes; hulle het op die een grootpad aldeur geloop en bulk sonder om regs of links uit te draai, terwyl die vorste van die Filistyne agter hulle aan gaan tot by die grens van Bet-Semes.
13 En die mense van Bet-Semes was juis besig om die koringoes af te sny in die laagte. Toe hulle dan hul oë opslaan en die ark gewaar, was hulle bly om dit te sien.
14 En die wa het by die land van Josua van Bet-Semes gekom en daar gaan staan; daar was ‘n groot klip, en hulle het die hout van die wa gekloof en die koeie as ‘n brandoffer aan die HERE geoffer.
15 En die Leviete het die ark van die HERE afgehaal met die kissie wat daarby was, waar die goue voorwerpe in was, en op die groot klip neergesit; en die manne van Bet-Semes het dieselfde dag aan die HERE brandoffers geoffer en slagoffers geslag.
16 En toe die vyf vorste van die Filistyne dit sien, het hulle dieselfde dag teruggegaan na Ekron.
17 En dit is die goue geswelle wat die Filistyne as ‘n skuldoffer aan die HERE teruggegee het: vir Asdod een, vir Gasa een, vir Askelon een, vir Gat een, vir Ekron een.
18 En die goue muise was volgens die getal van al die stede van die Filistyne wat aan die vyf vorste behoort het, van die versterkte stede sowel as van die onbemuurde dorpe. En die groot klip waar hulle die ark van die HERE op neergesit het, is tot vandag toe getuie op die stuk land van Josua, van Bet-Semes.
19 En Hy het onder die mense van Bet-Semes ‘n slagting aangerig; Hy het naamlik onder die volk sewentig man en vyftig duisend man gedood, omdat hulle die ark van die HERE bekyk het; en die volk het getreur, omdat die HERE ‘n groot slagting onder die volk aangerig het.
20 Toe sê die manne van Bet-Semes: Wie kan diens doen voor die aangesig van die HERE, hierdie heilige God? En na wie toe sal Hy optrek van ons af?
21 Daarom het hulle boodskappers gestuur na die inwoners van Kirjat-Jeárim om te sê: Die Filistyne het die ark van die HERE teruggebring; kom af, bring dit op na julle toe.




Hoofstuk 7

1 Toe het die manne van Kirjat-Jeárim gekom en die ark van die HERE gaan haal en dit in die huis van Abinádab op die heuwel gebring; en hulle het sy seun Eleásar geheilig om die ark van die HERE te bewaak.
2 En van die dag af dat die ark in Kirjat-Jeárim gebly het, het daar geruime tyd verloop—dit was twintig jaar—en die hele huis van Israel het agter die HERE aan geweeklaag.
3 Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne.
4 Daarop het die kinders van Israel die Baäls en die Astartes verwyder en die HERE alleen gedien.
5 Verder het Samuel gesê: Versamel die hele Israel by Mispa, dan sal ek tot die HERE vir julle bid.
6 Hulle kom toe bymekaar by Mispa, en hulle het water geskep en dit voor die aangesig van die HERE uitgegiet, en dié dag het hulle gevas en daar gesê: Ons het gesondig teen die HERE. En Samuel het die kinders van Israel in Mispa gerig.
7 Toe die Filistyne hoor dat die kinders van Israel by Mispa saamgekom het, het die vorste van die Filistyne teen Israel opgetrek. En die kinders van Israel het dit gehoor en bevrees geword vir die Filistyne.
8 En die kinders van Israel sê aan Samuel: Laat nie ná om die HERE onse God vir ons aan te roep nie, dat Hy ons uit die hand van die Filistyne verlos.
9 Toe het Samuel ‘n suiglam geneem en dit as ‘n brandoffer in sy geheel aan die HERE geoffer, en Samuel het die HERE aangeroep vir Israel; en die HERE het hom verhoor.
10 Want onderwyl Samuel die brandoffer bring en die Filistyne nader kom om teen Israel te veg, het die HERE dit dié dag met ‘n groot geluid laat donder oor die Filistyne, en Hy het hulle in verwarring gebring, sodat hulle verslaan is voor Israel.
11 En die manskappe van Israel het uit Mispa uitgetrek en die Filistyne agtervolg en hulle verslaan tot onderkant Bet-Kar.
12 Toe het Samuel ‘n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen, en dit Ebenhaéser genoem en gesê: Tot hiertoe het die HERE ons gehelp.
13 En die Filistyne is verneder, sodat hulle verder nie meer die gebied van Israel binnegekom het nie, en die hand van die HERE was teen die Filistyne al die dae van Samuel.
14 Ook die stede wat die Filistyne van Israel geneem het, het na Israel teruggekom, van Ekron af tot by Gat; en die gebied daarvan het Israel uit die hand van die Filistyne geruk. En daar was vrede tussen Israel en die Amoriete.
15 En Samuel was rigter oor Israel al die dae van sy lewe.
16 Hy het van jaar tot jaar rondgetrek na Bet-el en Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig.
17 Dan gaan hy na Rama terug, want daar was sy huis; en daar het hy Israel gerig en daar vir die HERE ‘n altaar gebou.




Hoofstuk 8

1 En toe Samuel oud was, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel.
2 Die naam van sy eersgeborene was Joël, en die naam van sy tweede Abía, rigters in Berséba.
3 Maar sy seuns het nie in sy weë gewandel nie: hulle het onregverdige wins agternageloop en omkoopgeskenke aangeneem en die reg verdraai.
4 Toe kom al die oudstes van Israel bymekaar, en hulle gaan na Samuel in Rama
5 en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.
6 Maar die woord was verkeerd in die oë van Samuel toe hulle gesê het: Gee ons ‘n koning om ons te rig, en Samuel het tot die HERE gebid.
7 Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.
8 Soos al die werke wat hulle gedoen het, van dié dag af dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe, dat hulle My verlaat en ander gode gedien het—so doen hulle ook met jou.
9 Luister dan nou na hulle: jy moet hulle net ernstig waarsku en hulle die reg van die koning meedeel wat oor hulle sal regeer.
10 Samuel het toe al die woorde van die HERE oorgebring aan die volk wat ‘n koning van hom gevra het.
11 En hy het gesê: Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: Julle seuns sal hy neem en hulle vir homself aanstel by sy wa en by sy perde, dat hulle voor sy wa uit hardloop;
12 en om hulle vir homself aan te stel as owerstes oor duisend en owerstes oor vyftig, en om sy land te ploeg en om sy oes in te samel, en om sy oorlogswapens en gereedskap vir sy strydwaens te maak.
13 Ook julle dogters sal hy neem as salfmengsters en as kooksters en baksters.
14 En van julle lande en julle wingerde en julle olyfboorde sal hy die beste neem en aan sy dienaars gee.
15 En van julle saailande en julle wingerde sal hy die tiendes neem en dit aan sy hofdienaars en sy dienaars gee.
16 En julle slawe en slavinne en julle beste jongmanne en julle esels sal hy neem en vir sy werk gebruik.
17 Van julle kleinvee sal hy die tiendes neem, en self sal julle sy slawe wees.
18 En in dié dag sal julle roep vanweë jul koning wat julle vir jul verkies het, en die HERE sal julle in dié dag nie verhoor nie.
19 Maar die volk het geweier om na Samuel te luister en gesê: Nee, maar daar moet ‘n koning oor ons wees,
20 dat ons ook kan wees soos al die nasies—dat ons koning ons kan rig en voor ons uit trek en ons oorloë voer.
21 En Samuel het al die woorde van die volk aangehoor en dit voor die ore van die HERE uitgespreek.
22 Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na hulle en stel ‘n koning oor hulle aan. En Samuel het vir die manne van Israel gesê: Gaan heen, elkeen na sy stad.




Hoofstuk 9

1 En daar was ‘n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abíël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afíag, ‘n Benjaminiet, ‘n vermoënde man.
2 En hy het ‘n seun gehad met die naam van Saul, ‘n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk.
3 En toe die eselinne van Kis, die vader van Saul, weggeraak het, sê Kis aan sy seun Saul: Neem tog een van die dienaars met jou saam en maak jou klaar, gaan soek die esels.
4 Hy het toe die gebergte van Efraim deurgegaan en die land Salísa deurgegaan, maar hulle nie gekry nie; en hulle het die land Sáälim deurgegaan, maar daar was niks nie; en hy het die land Benjamin deurgegaan, maar hulle het niks gekry nie.
5 Toe hulle in die land Suf kom, sê Saul aan die dienaar wat by hom was: Kom, laat ons teruggaan; anders sien my vader van die esels af en word oor ons besorg.
6 En hy antwoord hom: Maar kyk, in hierdie stad is ‘n man van God, en die man is geëerd: alles wat hy spreek, kom sekerlik uit; laat ons nou daarheen gaan; miskien kan hy ons inlig oor die tog wat ons onderneem het.
7 Toe vra Saul vir sy dienaar: Sê nou ons gaan—wat sal ons die man aanbied? Want die brood in ons sakke is op, en ‘n geskenk is hier nie om die man van God aan te bied nie; wat het ons?
8 En die dienaar het Saul weer geantwoord en gesê: Kyk, ek het nog ‘n kwart sikkel silwer by my; dit sal ek aan die man van God gee, dat hy ons kan inlig oor ons tog.
9 Vroeër het die mense in Israel só gesê as hulle gaan om God te raadpleeg: Kom, laat ons na die siener gaan. Want die profeet van teenswoordig het hulle vroeër siener genoem.
10 En Saul sê aan sy dienaar: Jou woord is goed; kom, laat ons gaan. Daarop gaan hulle na die stad waar die man van God was.
11 Terwyl hulle die opdraand na die stad opgaan, kom hulle meisies teë wat uitgaan om water te put, en vra vir hulle: Is die siener hier?
12 En dié antwoord hulle en sê: Daar is hy voor jou; maak nou gou, want vandag het hy in die stad gekom, omdat die volk vandag ‘n offer op die hoogte het.
13 As julle die stad ingaan, sal julle hom net aantref voordat hy opgaan na die hoogte om te eet; want die volk eet nie voordat hy kom nie, want hy seën die offer; daarna eet die genooides; gaan dan nou op, want julle sal hom nou juis aantref.
14 En hulle het opgegaan na die stad. Toe hulle op die punt was om binne-in die stad te gaan, kom Samuel meteens uit hulle tegemoet om op te gaan na die hoogte.
15 Want die HERE het dit een dag voor die koms van Saul aan Samuel geopenbaar en gesê:
16 Môre sulke tyd sal Ek ‘n man uit die land Benjamin na jou stuur wat jy moet salf as ‘n vors oor my volk Israel; en hy sal my volk verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk aangesien, omdat sy geroep na My gekom het.
17 Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom geantwoord: Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers.
18 En Saul het nader gekom na Samuel binne-in die poort en gevra: Wys my tog waar die huis van die siener is?
19 Daarop het Samuel Saul geantwoord en gesê: Ek is die siener! Gaan voor my uit op na die hoogte, dan kan julle vandag saam met my eet; en ek sal jou môre vroeg laat gaan; en alles wat in jou hart is, sal ek jou te kenne gee.
20 En wat die esels betref wat jy vandag al drie dae gelede vermis het—bekommer jou daar nie oor nie, want hulle is gevind. Maar aan wie behoort al wat begeerlik is in Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?
21 En Saul antwoord en sê: Is ek nie ‘n Benjaminiet, uit een van die kleinste van die stamme van Israel, en my geslag die geringste uit al die geslagte van die stam van Benjamin nie? Waarom spreek u dan so met my?
22 Verder het Samuel Saul en sy dienaar geneem en hulle in die kamer gebring en hulle ‘n plek gegee aan die hoof van die genooides, wat omtrent dertig man was.
23 En Samuel het aan die kok gesê: Gee die stuk wat ek aan jou gegee het, waarvan ek vir jou gesê het: Sit dit by jou weg.
24 Die kok dra toe die boud op met wat daaraan was, en sit dit voor Saul neer. En Samuel sê: Kyk, wat oorgebly het, is voor jou gesit; eet, want teen die bestemde tyd is dit vir jou bewaar toe ek gesê het: Ek nooi die volk. So het Saul dan dié dag saam met Samuel geëet.
25 Daarop het hulle van die hoogte afgegaan die stad in, en hy het met Saul gespreek op die dak.
26 En hulle het vroeg opgestaan. Toe die rooidag uitkom, het Samuel Saul op die dak geroep en gesê: Staan op, dat ek jou kan wegbring. En Saul het opgestaan, en hulle twee, hy en Samuel, het na buite gegaan.
27 Terwyl hulle by die einde van die stad afdaal, sê Samuel vir Saul: Beveel die dienaar dat hy voor ons uit verder gaan—en hy het verder gegaan—maar staan jy eers stil, dat ek jou die woord van God kan laat hoor.




Hoofstuk 10

1 En Samuel het die kruik met olie geneem en dit op sy hoof uitgegiet en hom gesoen en gesê: Het die HERE jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?
2 As jy vandag van my af weggaan, sal jy by die graf van Ragel, op die grens van Benjamin in Selsag, twee manne aantref wat vir jou sal sê: Die esels wat jy gaan soek het, is gevind. En kyk, jou vader het die saak van die esels laat vaar en is besorg oor julle en vra: Wat kan ek vir my seun doen?
3 Gaan jy dan vandaar verder en kom by die terpentynboom van Tabor, dan sal drie manne jou daar kry wat na God, na Bet-el opgaan: een dra drie bokkies, en een dra drie broodjies, en een dra ‘n sak wyn.
4 En hulle sal jou na die welstand vra en sal jou twee brode gee; dit moet jy dan uit hulle hand aanneem.
5 Daarna sal jy kom by Gíbea van God waar die wagposte van die Filistyne is; en net soos jy daar die stad inkom, sal jy ‘n groep profete ontmoet wat van die hoogte afkom, en voor hulle uit harpe en tamboeryne en fluite en siters, terwyl hulle self profeteer.
6 En die Gees van die HERE sal oor jou vaardig word, sodat jy saam met hulle sal profeteer en in ‘n ander mens verander word.
7 En as hierdie tekens vir jou uitkom, doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou.
8 En jy moet voor my uit na Gilgal afgaan, en kyk, ek sal na jou afkom om brandoffers te offer, om dankoffers te slag; sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen.
9 En net toe hy sy skouer draai om van Samuel af weg te gaan, het God sy hart verander, en al hierdie tekens het op dié dag uitgekom.
10 Nadat hulle daar by Gíbea gekom het, ontmoet hom meteens ‘n groep profete, en die Gees van God het oor hom vaardig geword, sodat hy onder hulle geprofeteer het.
11 En toe elkeen wat hom van gister en eergister af geken het, sien dat hy saam met die profete profeteer, het die mense die een aan die ander gesê: Wat het tog gebeur met die seun van Kis? Is Saul ook onder die profete?
12 En ‘n man daarvandaan het geantwoord en gesê: Wie is tog hulle vader? Daarom het dit ‘n spreekwoord geword: Is Saul ook onder die profete?
13 Toe hy klaar was met profeteer, het hy op die hoogte aangekom.
14 En die oom van Saul het vir hom en sy dienaar gevra: Waar het julle heen gegaan? Daarop sê hy: Om die esels te soek; en toe ons sien dat hulle daar nie was nie, het ons na Samuel gegaan.
15 En die oom van Saul sê: Vertel my tog wat Samuel julle meegedeel het.
16 Toe sê Saul vir sy oom: Hy het ons verseker meegedeel dat die esels gevind is. Maar die saak van die koningskap, waar Samuel van gespreek het, het hy hom nie vertel nie.
17 En Samuel het die volk na die HERE in Mispa byeengeroep
18 en aan die kinders van Israel gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al die koninkryke wat julle verdruk het.
19 Maar julle verwerp vandag julle God wat julle uit al jul onheile en node verlos het, en sê: Nee, maar jy moet ‘n koning oor ons aanstel. Stel julle dan nou op voor die aangesig van die HERE volgens julle stamme en volgens julle geslagte.
20 Toe Samuel dan al die stamme van Israel laat nader kom het, is die stam van Benjamin aangewys;
21 en toe hy die stam van Benjamin volgens sy geslagte laat nader kom het, is die geslag van Matri aangewys; verder is Saul, die seun van Kis, aangewys. En hulle het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.
22 En hulle het die HERE verder geraadpleeg: Het nog iemand hierheen gekom? En die HERE sê: Kyk, hy het tussen die pakgoed weggekruip.
23 Daarop het hulle geloop en hom daarvandaan gebring; en toe hy tussen die mense gaan staan, was hy van sy skouers af boontoe hoër as die hele volk.
24 En Samuel sê aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie. Toe juig die hele volk en sê: Mag die koning lewe!
25 Daarna het Samuel die reg van die koningskap voor die volk afgekondig en dit in ‘n boek geskrywe en voor die aangesig van die HERE neergelê. En Samuel het die hele volk elkeen na sy huis laat gaan.
26 En Saul het ook na sy huis gegaan in Gíbea; en die helde wie se hart God geroer het, het met hom saamgegaan.
27 Maar die deugniete het gesê: Hoe kan hierdie man ons verlos? En hulle het hom verag en hom geen geskenk gebring nie; maar hy het hom doof gehou.




Hoofstuk 11

1 En Nahas, die Ammoniet, het opgetrek en Jabes in Gílead beleër; en al die manne van Jabes het aan Nahas gesê: Sluit met ons ‘n verbond, dan sal ons u dien.
2 Maar Nahas, die Ammoniet, het vir hulle gesê: Op hierdie voorwaarde sal ek die verbond met julle sluit, dat ek julle almal die regteroog uitsteek en dit as ‘n skande op die hele Israel kan lê.
3 Toe sê die oudstes van Jabes vir hom: Laat ons sewe dae lank met rus, dat ons boodskappers in die hele gebied van Israel kan stuur; as daar dan niemand is wat ons verlos nie, sal ons na u toe uittrek.
4 En die boodskappers het in Gíbea van Saul gekom en die woorde voor die ore van die volk gespreek. Daarop verhef die hele volk hulle stem en ween.
5 Toe kom Saul juis aan agter die beeste van die veld af, en Saul sê: Wat is dit met die volk, dat hulle ween? En hulle vertel hom die woorde van die manne van Jabes.
6 En die Gees van God het oor Saul vaardig geword terwyl hy dié woorde hoor, en hy het baie kwaad geword.
7 En hy het ‘n paar beeste geneem en hulle stukkend gesny en met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur om te sê: Wie nie agter Saul en agter Samuel aan uittrek nie—so sal met sy beeste gedoen word. Toe val die skrik van die HERE op die volk en hulle trek soos een man uit.
8 En hy het hulle gemonster in Besek: die kinders van Israel was drie honderd duisend en die manne van Juda dertig duisend.
9 En hulle het aan die boodskappers wat gekom het, gesê: So moet julle aan die manne van Jabes in Gílead sê: Môre as die son op sy warmste is, sal julle hulp kry. Toe die boodskappers ingaan en dit aan die manne van Jabes meedeel, was hulle bly.
10 En die manne van Jabes sê: Môre sal ons na julle uittrek, en julle kan met ons doen net soos dit goed is in julle oë.
11 Maar die volgende môre het Saul die manskappe in drie afdelings opgestel, en hulle het met die môrewag in die laer ingekom en die Ammoniete verslaan tot op die warmste van die dag; en die ander het so verstrooid geraak dat nie twee onder hulle bymekaar gebly het nie.
12 Daarna sê die manskappe vir Samuel: Wie is dit wat gevra het: Sou Saul oor ons regeer? Lewer die manne uit, dat ons hulle kan doodmaak.
13 Maar Saul antwoord: Op hierdie dag mag geen man gedood word nie, want vandag het die HERE ‘n verlossing in Israel bewerk.
14 Toe sê Samuel aan die volk: Kom, laat ons na Gilgal gaan en daar die koningskap vernuwe.
15 En die hele volk het na Gilgal getrek en daar Saul voor die aangesig van die HERE in Gilgal koning gemaak; en hulle het daar dankoffers voor die aangesig van die HERE geslag, en Saul met al die manne van Israel was daar uitermate vrolik.




Hoofstuk 12

1 Toe sê Samuel aan die hele Israel: Kyk, ek het na julle geluister in alles wat julle aan my gesê het, en ‘n koning oor julle aangestel.
2 En kyk nou, die koning sal voor julle uit wandel, en ek het oud en grys geword, en my seuns is hier by julle. En ek het voor julle uit gewandel van my jeug af tot vandag toe.
3 Hier is ek; getuig teen my voor die HERE en voor sy gesalfde: wie se bees ek geneem het, en wie se esel ek geneem het, en wie ek verdruk of hard behandel het; en uit wie se hand ek omkoopgeld aangeneem het om my oë daarmee toe te maak—dan sal ek dit aan julle teruggee.
4 En hulle antwoord: U het ons nie verdruk of ons hard behandel nie en uit niemand se hand iets aangeneem nie.
5 Daarop sê hy vir hulle: Die HERE is getuie teen julle, en getuie is sy gesalfde vandag, dat julle niks in my hand gevind het nie. En hulle roep: Hy is getuie.
6 Verder het Samuel aan die volk gesê: Getuie is die HERE wat Moses en Aäron voortgebring en julle vaders uit Egipteland laat optrek het.
7 Gaan staan dan nou, dat ek met julle gerig kan hou voor die aangesig van die HERE oor al die regverdige dade van die HERE wat Hy aan julle en julle vaders gedoen het.
8 Nadat Jakob in Egipte gekom en julle vaders die HERE aangeroep het, het die HERE Moses en Aäron gestuur; en hulle het julle vaders uit Egipte gelei, en Hy het hulle op hierdie plek laat woon.
9 Maar hulle het die HERE hul God vergeet; daarom het Hy hulle verkoop in die hand van Sísera, die leërowerste van Hasor, en in die hand van die Filistyne en in die hand van die koning van Moab—wat teen hulle geveg het.
10 Toe het hulle die HERE aangeroep en gesê: Ons het gesondig, want ons het die HERE verlaat en die Baäls en Astartes gedien; maar red ons nou uit die hand van ons vyande, dan sal ons U dien.
11 En die HERE het Jerúbbaäl en Bedan en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van jul vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het.
12 Maar toe julle sien dat Nahas, die koning van die kinders van Ammon, teen julle aankom, het julle aan my gesê: Nee, maar ‘n koning moet oor ons regeer, terwyl die HERE julle God tog jul koning is.
13 Hier is dan nou die koning wat julle uitgekies het, wat julle begeer het, en kyk, die HERE het ‘n koning oor julle aangestel.
14 As julle maar die HERE vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie wederstrewig is teen die mond van die HERE nie en julle self sowel as die koning wat oor julle regeer, die HERE julle God maar volg!
15 Maar as julle nie na die stem van die HERE luister nie en wederstrewig is teen die mond van die HERE, dan sal die hand van die HERE teen julle wees soos teen julle vaders.
16 Gaan dus staan, en kyk na hierdie groot saak wat die HERE voor julle oë gaan doen.
17 Is dit nie koringoestyd vandag nie? Ek sal die HERE aanroep, dat Hy donderslae en reën gee: weet dan en sien dit in dat julle kwaad groot is wat julle in die oë van die HERE gedoen het deur ‘n koning vir julle te begeer.
18 Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die HERE en vir Samuel.
19 Daarom het die hele volk vir Samuel gesê: Bid tot die HERE u God vir u knegte, dat ons nie sterf nie, omdat ons by al ons sondes nog kwaad gedoen het deur ‘n koning vir ons te begeer.
20 Toe sê Samuel vir die volk: Wees nie bevrees nie. Julle het al hierdie kwaad gedoen; maar wyk nie van die HERE af nie, en dien die HERE met julle hele hart.
21 En julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat nie kan help of red nie, omdat hulle nietighede is.
22 Want die HERE sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit die HERE behaag het om van julle vir Hom ‘n volk te maak.
23 Ook wat my betref, dit is ver van my dat ek teen die HERE sou sondig, dat ek sou ophou om vir julle te bid; maar ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig.
24 Vrees net die HERE en dien Hom getrou met julle hele hart; want kyk watter groot dinge Hy by julle gedoen het.
25 Maar as julle ooit verkeerd handel, sal julle self sowel as julle koning omkom.




Hoofstuk 13

1 Saul het ‘n jaar geregeer. En toe hy twee jaar oor Israel geregeer het,
2 het Saul vir hom drie duisend man uit Israel uitgesoek; en by Saul was twee duisend in Migmas en op die gebergte van Bet-el, en duisend was by Jónatan in Gíbea in Benjamin; maar die orige manskappe het hy laat gaan, elkeen na sy tente toe.
3 En Jónatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê: Laat die Hebreërs dit hoor!
4 En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe.
5 En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Migmas, oos van Bet-Awen.
6 Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is—want die volk was in die noute gedruk—het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile.
7 En die Hebreërs het die Jordaan deurgetrek na die land Gad en Gílead; maar Saul was nog in Gilgal met al die manskappe wat bewende agter hom aan gegaan het.
8 En hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak,
9 het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer.
10 En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet.
11 Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom,
12 het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die HERE nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.
13 Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het.
14 Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom ‘n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie.
15 Toe het Samuel klaargemaak en opgegaan van Gilgal na Gíbea in Benjamin, en Saul het die manskappe gemonster wat by hom aanwesig was, omtrent ses honderd man.
16 Terwyl Saul en sy seun Jónatan en die manskappe wat by hulle aanwesig was, in Geba in Benjamin bly en die Filistyne by Migmas laer opslaan,
17 het die roofkommando uitgetrek uit die laer van die Filistyne in drie afdelings: een deel het weggedraai op pad na Ofra, na die land Sual toe;
18 en een deel het weggedraai op pad na Bet-Horon, en een deel het weggedraai op pad na die grens wat oor die dal Sebóim na die woestyn uitkyk.
19 En daar was geen smid te vinde in die hele land van Israel nie, want die Filistyne het gesê: Anders kan die Hebreërs swaarde of spiese maak.
20 Daarom moes al die Israeliete na die Filistyne afgaan om elkeen sy kluitbreker of sy pik of sy byl of sy ploegskaar skerp te maak—
21 so dikwels as die snykant stomp was aan ploegskare en pikke en drietandvurke en byle; en om die osprikkels reg te maak.
22 So het dit gekom dat daar in oorlogstyd geen swaard of spies te vinde was in die hand van al die manskappe wat by Saul en Jónatan was nie; maar by Saul en sy seun Jónatan was dit wel te vinde.
23 En ‘n wagpos van die Filistyne het uitgetrek na die pas van Migmas.




Hoofstuk 14

1 En op ‘n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van die Filistyne wat daar oorkant is. Maar aan sy vader het hy dit nie te kenne gegee nie.
2 En Saul het gesit op die grens van Gíbea onder die granaatboom wat by Migron staan; en die manskappe by hom was omtrent ses honderd man.
3 En Ahía, die seun van Ahítub, die broer van Ikabod, die seun van Pínehas, die seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jónatan weggegaan het nie.
4 Nou was daar tussen die passe waar Jónatan wou deurgaan na die wagpos van die Filistyne, ‘n spits rots oorkant en ‘n spits rots duskant, en die naam van die een was Boses en die naam van die ander Sene.
5 Die een spits staan soos ‘n pilaar noord teenoor Migmas, en die ander een suid teenoor Geba.
6 Jónatan dan het aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die HERE vir ons optree, want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.
7 Toe sê sy wapendraer vir hom: Doen alles wat in u hart is, maak soos u wil; hier is ek by u volgens die wens van u hart.
8 Daarop sê Jónatan: Kyk, ons sal na die manne toe oorgaan en ons aan hulle vertoon.
9 As hulle vir ons só sê: Staan stil totdat ons by julle kom! dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie.
10 Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe! dan klim ons op, want dan het die HERE hulle in ons hand gegee; en dit sal vir ons die teken wees.
11 Toe hulle twee hul aan die wagpos van die Filistyne vertoon, sê die Filistyne: Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate uit waar hulle weggekruip het.
12 En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer aangespreek en gesê: Klim op na ons toe, dan sal ons julle ‘n les leer! Daarop sê Jónatan aan sy wapendraer: Klim op agter my aan, want die HERE het hulle in die hand van Israel gegee.
13 En Jónatan het op sy hande en voete uitgeklim, en sy wapendraer agter hom aan; en hulle het voor Jónatan geval terwyl sy wapendraer agter hom aan van kant maak.
14 Hierdie eerste slag waarin Jónatan en sy wapendraer ongeveer twintig man verslaan het, het plaasgevind op omtrent die helfte van’n aanvoorsel van ‘n stuk land.
15 Toe kom daar ‘n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja, die land het gebewe, sodat dit ‘n skrik van God geword het.
16 En toe die spioene van Saul in Gíbea in Benjamin sien dat die menigte daar verward heen en weer golf,
17 sê Saul aan die manskappe wat by hom was: Hou tog ‘n monstering en kyk wie van ons af weggegaan het. En by die monstering het geblyk dat Jónatan en sy wapendraer daar nie was nie.
18 Toe sê Saul vir Ahía: Bring die ark van God nader. Want die ark van God was in dié tyd by die kinders van Israel.
19 En terwyl Saul nog met die priester spreek en die rumoer wat in die laer van die Filistyne was, altyddeur groter word, sê Saul vir die priester: Trek jou hand terug!
20 Saul en al die manskappe wat by hom was, is toe saamgeroep, en hulle het by die geveg aangekom; en kyk, die swaard van die een was teen die ander—’n baie groot verwarring.
21 Selfs die Hebreërs wat die Filistyne soos gister en eergister bygestaan het, wat verspreid met hulle saam in die leër opgetrek het, hulle het ook aangesluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jónatan was.
22 Toe al die manne van Israel wat op die gebergte van Efraim weggekruip het, hoor dat die Filistyne vlug, het dié hulle ook in die geveg agternagesit.
23 En die HERE het Israel op dié dag verlos. Toe die geveg dan by Bet-Awen verbygaan,
24 en die manne van Israel dié dag aangedryf word, het Saul die manskappe besweer en gesê: Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek. Daarom het al die manskappe aan niks geproe nie.
25 En al die mense het in ‘n bos gekom, en daar was heuning op die veld.
26 Toe die manskappe in die bos kom, was daar oorvloed van heuning; maar niemand het met sy hand aan sy mond geraak nie, omdat die manskappe bevrees was vir die eed.
27 Maar Jónatan het nie gehoor toe sy vader die manskappe besweer het nie en het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in ‘n heuningkoek gedoop en sy hand aan sy mond gebring, en sy oë het helder geword.
28 Daarop spreek een van die manskappe hom aan en sê: Jou vader het die manskappe met hierdie dure eed besweer: Vervloek is die man wat vandag iets eet. Daarom is die volk afgemat.
29 En Jónatan sê: My vader stort die land in die ongeluk; kyk tog hoe helder my oë nou is, omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het.
30 Hoeveel te meer as die manskappe vandag vry kon eet van die buit van hul vyande wat hulle gevind het! Maar nou is die slagting onder die Filistyne nie groot nie.
31 Maar dié dag het hulle die Filistyne verslaan van Migmas af na Ajalon toe, en die manskappe was baie afgemat.
32 En die manskappe het op die buit afgestorm, en kleinvee en beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag, en die manskappe het dit met bloed en al geëet.
33 Toe daar aan Saul geboodskap is: Kyk, die manskappe besondig hulle teen die HERE deur met bloed en al te eet, het hy gesê: Julle handel troueloos; rol nou ‘n groot klip na my toe.
34 Verder het Saul gesê: Versprei julle onder die manskappe en sê aan hulle: Bring na my elkeen sy bees en elkeen sy stuk kleinvee, en slag dit hier en eet; maar besondig julle nie teen die HERE deur met bloed en al te eet nie. En al die manskappe het elkeen in die nag sy bees met sy hand gebring en dit daar geslag.
35 En Saul het vir die HERE ‘n altaar gebou; dit was die eerste altaar wat hy vir die HERE gebou het.
36 Toe sê Saul: Laat ons in die nag aftrek agter die Filistyne aan, en laat ons onder hulle plunder totdat dit môre lig word; en ons moet nie een onder hulle laat oorbly nie. En hulle antwoord: Doen alles wat goed is in u oë. Maar die priester het gesê: Laat ons hier tot God nader.
37 Toe het Saul God geraadpleeg: Sal ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in Israel se hand gee? Maar Hy het hom dié dag nie geantwoord nie.
38 En Saul sê: Kom nader hierheen, al die hoofde van die volk, en ondersoek en kyk waarin hierdie sonde vandag begaan is.
39 Want so waar as die HERE leef wat Israel verlos, al was dit ook in my seun Jónatan, dan moet hy sekerlik sterwe! Maar niemand uit al die manskappe het hom geantwoord nie.
40 Daarop sê hy aan die hele Israel: Julle moet eenkant staan, en ek en my seun Jónatan sal eenkant staan. En die manskappe antwoord Saul: Doen wat goed is in u oë.
41 Toe sê Saul aan die HERE: God van Israel, gee tog die waarheid! En Jónatan en Saul is aangewys, maar die manskappe het vry uitgegaan.
42 En Saul sê: Werp die lot tussen my en my seun Jónatan. En Jónatan is aangewys.
43 Daarop vra Saul vir Jónatan: Gee my tog te kenne wat jy gedoen het. En Jónatan het hom te kenne gegee en gesê: Ek het net ‘n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was; hier is ek, ek sal sterwe.
44 Toe sê Saul: Mag God aan my so doen en so daaraan toedoen, jy moet sekerlik sterwe, Jónatan!
45 Maar die manskappe het aan Saul gesê: Moet Jónatan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! So waar as die HERE leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie! Want met God het hy dit vandag gedoen. So het die volk dan Jónatan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie.
46 Daarna het Saul agter die Filistyne teruggetrek, en die Filistyne het na hulle plek gegaan.
47 So het Saul dan die koningskap oor Israel verkry en oorlog gevoer rondom teen al sy vyande: teen Moab en teen die kinders van Ammon en teen Edom en teen die konings van Soba en teen die Filistyne; en oral waarheen hy hom gewend het, het hy straf geoefen.
48 En hy het hom dapper gedra: hy het Amalek verslaan en Israel gered uit die hand van sy berower.
49 En die seuns van Saul was Jónatan en Jiswi en Malkisúa, en die naam van sy twee dogters: die naam van die oudste was Merab, en die naam van die jongste Migal.
50 En die naam van Saul se vrou was Ahínoam, ‘n dogter van Ahímaäs; en die naam van sy leërowerste was Abner, die seun van Ner, die oom van Saul.
51 En Kis was die vader van Saul, en Ner, die vader van Abner, was die seun van Abíël.
52 Die oorlog teen die Filistyne was hewig al die dae van Saul; en waar Saul ook ‘n held of ‘n dapper man sien, het hy hom by hom opgeneem.




Hoofstuk 15

1 Toe sê Samuel vir Saul: Die HERE het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE.
2 So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte.
3 Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.
4 Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Teláim: twee honderd duisend voetgangers en tien duisend man van Juda.
5 En toe Saul by die stad van Amalek aankom en in die dal ‘n hinderlaag opstel,
6 sê Saul vir die Keniete: Gaan weg, verwyder julle, trek af onder die Amalekiete uit, dat ek julle nie met hulle saam wegruim nie; want julle het guns bewys aan al die kinders van Israel by hulle optog uit Egipte. Toe het die Keniete hulle verwyder onder die Amalekiete uit.
7 En Saul het die Amalekiete verslaan van Hawíla af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê.
8 En Agag, die koning van Amalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref.
9 Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was—dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.
10 En die woord van die HERE het tot Samuel gekom en gesê:
11 Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele nag deur die HERE aangeroep.
12 Maar die môre vroeg het Samuel hom klaargemaak om Saul te ontmoet. En aan Samuel is meegedeel en gesê: Saul het in Karmel aangekom, en kyk, hy het vir hom ‘n gedenkteken opgerig; en hy het weggedraai en verbygegaan en afgetrek na Gilgal.
13 Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur die HERE: ek het die woord van die HERE uitgevoer.
14 Daarop vra Samuel: Maar wat vir ‘n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ‘n gebulk van beeste wat ek hoor?
15 En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die HERE u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref.
16 Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die HERE vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek.
17 En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die HERE het jou as koning oor Israel gesalf.
18 En die HERE het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is.
19 Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE?
20 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad waar die HERE my op gestuur het, en Agag, die koning van Amalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref.
21 Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer.
22 Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme.
23 Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.
24 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.
25 Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die HERE kan aanbid.
26 Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die HERE verwerp het, en nou het die HERE jou verwerp om koning oor Israel te wees.
27 Toe Samuel hom omdraai om weg te gaan, gryp hy die slip van sy mantel, maar dit het afgeskeur.
28 En Samuel sê vir hom: Vandag het die HERE die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy.
29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.
30 En hy sê: Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die HERE u God kan aanbid.
31 Samuel het toe teruggegaan agter Saul aan, en Saul het die HERE aanbid.
32 Daarop sê Samuel: Bring Agag, die koning van Amalek, na my toe. Terwyl Agag dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk.
33 Maar Samuel het gesê: Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die HERE in Gilgal.
34 Daarna gaan Samuel na Rama, en Saul het opgegaan na sy huis, na Gíbea van Saul.
35 En Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie meer gesien nie, want Samuel het getreur oor Saul; en die HERE het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.




Hoofstuk 16

1 Daarna sê die HERE aan Samuel: Hoe lank sal jy treur oor Saul, terwyl Ek hom verwerp het om koning te wees oor Israel? Vul jou horing met olie en gaan heen: Ek stuur jou na Isai, die Betlehemiet, want Ek het onder sy seuns vir My ‘n koning uitgesoek.
2 Maar Samuel vra: Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak. Toe sê die HERE: Neem ‘n jong koei met jou saam en sê: Ek kom om aan die HERE te offer.
3 Nooi Isai dan na die offermaaltyd, en Ek sal jou bekend maak wat jy moet doen, en jy moet die een vir My salf wat Ek jou sal noem.
4 En Samuel het gedoen wat die HERE gespreek het; en toe hy by Betlehem aankom, het die oudstes van die stad hom bewend tegemoetgegaan en gevra: Is u koms vrede?
5 En hy sê: Vrede! Ek kom om aan die HERE te offer; heilig julle, en kom met my saam aan die offermaaltyd. En hy het Isai en sy seuns geheilig en hulle na die offermaaltyd genooi.
6 Toe hulle inkom en hy Elíab sien, dink hy: Gewis, hier staan voor die HERE sy gesalfde!
7 Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.
8 Toe roep Isai Abinádab en laat hom voor Samuel verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die HERE ook nie uitgekies nie.
9 Verder het Isai Samma laat verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die HERE ook nie uitgekies nie.
10 So het Isai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het aan Isai gesê: Die HERE het hulle nie uitgekies nie.
11 Verder het Samuel aan Isai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Isai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.
12 Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en ‘n mooi voorkoms. En die HERE sê: Staan op, salf hom, want dit is hy.
13 Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan.
14 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.
15 Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ‘n bose gees van God verskrik u:
16 laat ons heer net sê, en u dienaars wat voor u staan, sal ‘n man soek wat op die siter kan speel; en as die bose gees van God oor u is, moet hy speel met sy hand, dan sal dit beter met u word.
17 Daarop sê Saul aan sy dienaars: Kyk tog vir my uit na ‘n man wat goed kan speel, en bring hom na my.
18 En een van die dienaars antwoord en sê: Kyk, ek het ‘n seun van Isai, die Betlehemiet, gesien wat kan speel, en hy is ‘n dapper held en ‘n krygsman en wel ter tale en mooi gebou, en die HERE is met hom.
19 Toe het Saul boodskappers na Isai gestuur en gesê: Stuur tog jou seun Dawid wat by die skape is, na my.
20 Isai neem toe ‘n esel, brood en ‘n leersak met wyn en ‘n bokkie en stuur dit met sy seun Dawid na Saul.
21 So het Dawid dan by Saul gekom en voor hom gestaan; en dié het hom baie liefgekry, sodat hy sy wapendraer geword het.
22 Daarna het Saul na Isai gestuur om te sê: Laat Dawid tog voor my staan, want hy het guns in my oë gevind.
23 En net wanneer daar ‘n gees van God oor Saul kom, neem Dawid die siter en speel met sy hand; dan voel Saul verlig en word beter, en die bose gees wyk van hom.




Hoofstuk 17

1 En die Filistyne het hulle leër versamel vir die oorlog en bymekaargekom by Sogo wat aan Juda behoort, en laer opgeslaan tussen Sogo en Aséka in Efes-Dammim.
2 Maar Saul en die manne van Israel het byeengekom en laer opgeslaan in die dal van die terpentynboom en hulle in slagorde teenoor die Filistyne opgestel.
3 En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was.
4 Toe kom daar ‘n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en ‘n span.
5 Daar was ‘n koperhelm op sy hoof, en hy het ‘n pantser van skubbe aangehad—die gewig van die pantser was vyf duisend sikkels koper—
6 en skeenplate van koper was aan sy bene en ‘n koperlans tussen sy skouers.
7 Die steel van sy spies was soos ‘n wewersbalk, en die lem van sy spies was van ses honderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop.
8 En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle’n man uit, dat hy na my toe afkom.
9 As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien.
10 Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ‘n man, dat ons saam kan veg.
11 Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.
12 En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Isai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne.
13 Maar die drie oudste seuns van Isai het Saul al in die oorlog gevolg; en die name van sy drie seuns wat in die oorlog gegaan het, was: Elíab, die oudste, en sy tweede, Abinádab, en die derde, Samma.
14 Dawid was die jongste, terwyl die drie oudstes Saul gevolg het.
15 En Dawid het heen en weer gegaan van Saul om die kleinvee van sy vader in Betlehem op te pas.
16 En die Filistyn het smôrens vroeg en saans nader gekom en gaan staan, veertig dae lank.
17 Toe het Isai aan sy seun Dawid gesê: Neem tog vir jou broers’n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en bring dit gou vir jou broers na die laer toe.
18 Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle ‘n pand saambring.
19 En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom.
20 En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak: die kleinvee aan die wagter afgegee en opgelaai en weggegaan soos Isai hom beveel het. En toe hy by die wa-laer kom, hef die leërmag wat na die vegterrein uittrek, juis die krygsgeskreeu aan.
21 Israel sowel as die Filistyne het slagorde teenoor slagorde opgestel.
22 Daarop gee Dawid sy pakgoed af onder bewaring van die oppasser van die pakgoed, en hy hardloop na die vegterrein. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers na die welstand.
23 En terwyl hy met hulle spreek, kom juis die baasvegter—Góliat is sy naam, die Filistyn uit Gat—uit die slagordes van die Filistyne op en spreek daardie selfde woorde, sodat Dawid dit hoor.
24 Maar toe al die manne van Israel die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang.
25 En die manne van Israel sê: Het julle die man gesien wat daar opkom? Want hy kom op om Israel uit te daag. En die koning sal die man wat hom verslaan, oorlaai met groot rykdom; ook sal hy sy dogter aan hom gee en sy familie in Israel vrystel van belasting.
26 Daarop het Dawid die manne wat by hom staan, gevra en gesê: Wat sal met die man gebeur wat hierdie Filistyn verslaan en die smaad van Israel wegneem? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag?
27 En die manskappe gee hom dieselfde antwoord: Só sal met die man gebeur wat hom verslaan.
28 Toe sy oudste broer Elíab hom met die manne hoor spreek, het Elíab baie kwaad geword vir Dawid en gesê: Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.
29 En Dawid sê: Wat het ek nou gedoen? Ek vra maar net.
30 En hy het by hom weggedraai na iemand anders en dieselfde woorde gespreek, en die manskappe het hom geantwoord volgens die eerste woorde.
31 Toe hulle die woorde hoor wat Dawid spreek en dit voor Saul meedeel, het dié hom laat haal.
32 En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.
33 Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is ‘n seun, en hy is ‘n krygsman van sy jeug af.
34 Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar ‘n leeu of ‘n beer kom en ‘n stuk kleinvee uit die trop wegdra,
35 dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood.
36 U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het.
37 Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees!
38 En Saul het Dawid sy klere laat aantrek en ‘n koperhelm op sy hoof gesit en hom ‘n pantser laat aantrek.
39 En Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord, en toe hy moeite doen om te loop, omdat hy dit nooit probeer het nie, sê Dawid vir Saul: Ek kan nie hierin loop nie, want ek het dit nooit probeer nie. En Dawid het dit uitgetrek.
40 Daarop neem hy sy staf in sy hand en soek vir hom uit die spruit vyf gladde klippe uit en steek dit in sy herderstas wat hy gehad het, naamlik in die slingersak; en met sy slinger in sy hand het hy nader gekom na die Filistyn.
41 Ook die Filistyn het al nader en nader gekom na Dawid, en die skilddraer voor hom uit.
42 Toe die Filistyn opkyk en Dawid sien, het hy hom verag, omdat hy ‘n seun was—rooierig, met ‘n mooi voorkoms.
43 En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek ‘n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode.
44 Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee.
45 Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.
46 Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het.
47 Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.
48 Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet;
49 en Dawid steek sy hand in die tas en neem ‘n klip daaruit en slinger, en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val.
50 So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met ‘n slinger en ‘n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie.
51 Daarop het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem, dit uit sy skede getrek en hom van kant gemaak, en hy het daarmee sy hoof afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood was, het hulle gevlug.
52 Toe het die manne van Israel en van Juda hulle klaargemaak en gejuig en die Filistyne agtervolg tot by die ingang na Gat en tot by die poorte van Ekron, sodat die gesneuweldes van die Filistyne gelê het op die pad van Saäráim en tot by Gat en tot by Ekron.
53 Daarna het die kinders van Israel teruggekeer van die hewige agtervolging van die Filistyne en hulle laer geplunder.
54 En Dawid het die hoof van die Filistyn geneem en dit na Jerusalem gebring, maar sy wapens in sy tent neergesit.
55 Net toe Saul Dawid sien uittrek om die Filistyn te ontmoet, sê hy vir Abner, die leërowerste: Wie se seun is die jongman tog, Abner? En Abner antwoord: So waar as u siel leef, koning, ek weet dit nie!
56 En die koning sê: Vra jy wie se seun die jongman tog is.
57 En toe Dawid terugkom nadat hy die Filistyn verslaan het, het Abner hom geneem en hom voor Saul gebring, met die hoof van die Filistyn in sy hand.
58 En Saul vra hom: Wie se seun is jy, jongman? En Dawid sê: Die seun van u dienaar Isai, die Betlehemiet.




Hoofstuk 18

1 En nadat hy sy gesprek met Saul beëindig het, het die siel van Jónatan verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jónatan het hom liefgekry soos sy eie siel.
2 En Saul het hom dié dag geneem en hom nie na sy familie laat teruggaan nie.
3 Toe sluit Jónatan met Dawid ‘n verbond, omdat hy hom liefgehad het soos sy eie siel.
4 Daarby trek Jónatan sy mantel uit wat hy aangehad het, en gee dit aan Dawid; ook sy klere, ja, selfs sy swaard en sy boog en sy gordel.
5 En Dawid het uitgetrek. Oral waar Saul hom gestuur het, was hy voorspoedig, sodat Saul hom oor die krygsmanne aangestel het; en dit was goed in die oë van die hele volk en ook in die oë van die dienaars van Saul.
6 En toe hulle tuis kom, en ook Dawid terug was nadat hy die Filistyn verslaan het, het die vroue uitgegaan uit al die stede van Israel met sang en koordanse, met tamboeryne, met vreugdegeroep en met triangels koning Saul tegemoet.
7 En die vroue wat vrolik was, het gesing en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende!
8 En Saul het baie kwaad geword, want hierdie woord was verkeerd in sy oë. En hy sê: Hulle het Dawid die tien duisende gegee, maar my die duisende gegee; hy moet nou nog net die koningskap kry!
9 En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad.
10 Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul ‘n spies in sy hand hou.
11 Toe gooi Saul die spies en sê: Ek wil Dawid teen die muur vassteek! Maar Dawid het twee maal vir hom padgegee.
12 En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het.
13 Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy owerste oor duisend, sodat hy voor die manskappe uit— en ingegaan het.
14 En Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die HERE was met hom.
15 Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy vir hom bang geword.
16 Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het voor hulle uit— en ingegaan.
17 Verder het Saul vir Dawid gesê: Hier is my oudste dogter Merab, haar sal ek aan jou as vrou gee; wees net vir my ‘n dapper man en voer die oorloë van die HERE. Want Saul het gedink: Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees.
18 Maar Dawid het vir Saul gesê: Wie is ek, en wat is my familie, die geslag van my vader in Israel, dat ek ‘n skoonseun van die koning sou word?
19 Maar teen die tyd dat Merab, die dogter van Saul, aan Dawid moes gegee word, is sy aan Adriël, die Meholatiet, as vrou gegee.
20 Maar Migal, die dogter van Saul, het Dawid liefgekry; en toe hulle dit aan Saul meedeel, was die saak in sy oë reg.
21 Want Saul het gedink: Ek sal haar aan hom gee, dat sy vir hom’n strik kan wees en dat die hand van die Filistyne teen hom kan wees. Daarom het Saul vir Dawid gesê: Vir die tweede keer kan jy vandag my skoonseun word!
22 En Saul het sy dienaars bevel gegee: Spreek met Dawid in die geheim en sê: Kyk, die koning hou van jou, en al sy dienaars het jou lief: word nou maar die koning se skoonseun.
23 Die dienaars van Saul het toe hierdie woorde voor die ore van Dawid gespreek; maar Dawid het gevra: Is dit ‘n kleinigheid in julle oë om die skoonseun van die koning te word, terwyl ek ‘n arm en geringe man is?
24 En die dienaars van Saul het hom dit meegedeel: Sulke woorde het Dawid gespreek.
25 Toe sê Saul: So moet julle aan Dawid sê: Die koning het behae in geen ander bruidsprys as honderd voorhuide van Filistyne nie, as wraakneming op die vyande van die koning. Saul het naamlik daarop gereken om Dawid te laat val deur die hand van die Filistyne.
26 Toe sy dienaars hierdie woorde aan Dawid meedeel, was die saak reg in die oë van Dawid om skoonseun van die koning te word. En voordat die dae verstreke was,
27 het Dawid hom klaargemaak en met sy manne uitgetrek, en hulle het twee honderd man onder die Filistyne doodgeslaan; en Dawid het hulle voorhuide gebring en dit is voltallig aan die koning afgegee, sodat hy die koning se skoonseun kon word. Daarop het Saul aan hom sy dogter Migal as vrou gegee.
28 Toe Saul sien en merk dat die HERE met Dawid was, en dat Migal, die dogter van Saul, hom liefhet,
29 het Saul nog meer bevrees geword vir Dawid, en Saul het Dawid se vyand geword al die dae.
30 En die vorste van die Filistyne het uitgetrek; en so dikwels as hulle uittrek, het Dawid meer voorspoed gehad as al die dienaars van Saul, sodat sy naam hooggeëerd was.




Hoofstuk 19

1 Daarna het Saul met sy seun Jónatan en met al sy dienaars gespreek om Dawid dood te maak; maar Jónatan, die seun van Saul, het baie van Dawid gehou;
2 en Jónatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul soek geleentheid om jou dood te maak: pas dan nou môre vroeg op en hou jou verborge en steek jou weg.
3 Dan sal ek uitgaan en langs my vader gaan staan in die veld waar jy is, en ek sal met my vader oor jou spreek; en as ek iets sien, sal ek jou dit meedeel.
4 Jónatan het toe goed van Dawid gespreek by sy vader Saul en vir hom gesê: Laat die koning hom tog nie besondig aan sy dienaar Dawid nie, omdat hy nie teen u gesondig het nie, en omdat sy handelwyse u geheel ten goede kom:
5 hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan, en die HERE het aan die hele Israel ‘n groot oorwinning besorg. U het dit gesien en u was bly; waarom sal u dan aan onskuldige bloed u besondig deur Dawid sonder oorsaak dood te maak?
6 En Saul het na Jónatan geluister, en Saul het gesweer: So waar as die HERE leef, hy sal nie gedood word nie!
7 Daarop het Jónatan Dawid geroep, en Jónatan het al hierdie woorde aan hom meegedeel. En Jónatan het Dawid na Saul gebring, en hy was voor hom soos gister en eergister.
8 En toe daar weer oorlog kom, het Dawid uitgetrek en teen die Filistyne geveg en ‘n groot slag onder hulle geslaan, sodat hulle voor hom uit gevlug het.
9 Maar ‘n bose gees van die HERE het oor Saul gekom terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand en Dawid met die hand op die snare speel.
10 Toe probeer Saul om Dawid met die spies teen die muur vas te steek, maar hy het vir Saul gekoes, sodat hy die spies teen die muur vasgooi. En Dawid het gevlug en daardie nag vrygekom.
11 Maar Saul het boodskappers na Dawid se huis gestuur om hom te bewaak en hom die môre vroeg dood te maak. Maar sy vrou Migal het dit aan Dawid meegedeel en gesê: As jy nie vannag jou lewe red nie, word jy môre gedood.
12 Migal het Dawid toe deur die venster laat afsak; en hy het weggegaan en gevlug en vrygekom.
13 Daarop neem Migal die huisgod en lê dit op die bed neer, en sy sit die net van bokhaar aan sy koppenent en bedek dit met ‘n kombers.
14 Toe Saul dan boodskappers stuur om Dawid te gaan haal, sê sy: Hy is siek.
15 Daarop stuur Saul die boodskappers om Dawid te besoek met die opdrag: Bring hom met bed en al na my toe, dat ek hom kan ombring.
16 Toe die boodskappers inkom, lê die huisgod daar op die bed en die net van bokhaar aan sy koppenent!
17 En Saul sê vir Migal: Waarom het jy my so bedrieg en my vyand laat gaan, sodat hy vrygekom het? Maar Migal het Saul geantwoord: Hy het vir my gesê: Laat my gaan, of ek maak jou dood.
18 Intussen het Dawid gevlug en vrygeraak en by Samuel in Rama gekom en hom meegedeel alles wat Saul hom aangedoen het. Toe het hy saam met Samuel weggegaan, en hulle het in Najot gebly.
19 En aan Saul is meegedeel en gesê: Kyk, Dawid is in Najot by Rama.
20 Daarop stuur Saul boodskappers om Dawid te gaan haal. Maar toe hulle die skare profete sien profeteer, met Samuel as leier aan hulle hoof, het die Gees van God oor die boodskappers van Saul gekom, sodat hulle ook geprofeteer het.
21 Toe hulle dit aan Saul meedeel, het hy ander boodskappers gestuur, maar hulle het ook geprofeteer; en Saul het die derde keer weer boodskappers gestuur, maar hulle het ook geprofeteer.
22 En hy het self ook na Rama gegaan en by die groot put gekom wat by Segu is, en gevra en gesê: Waar is Samuel en Dawid? En hulle antwoord: Daar in Najot by Rama.
23 Hierop gaan hy daarheen, na Najot by Rama; en die Gees van God het ook oor hom gekom, sodat hy aldeur geloop en profeteer het totdat hy in Najot by Rama aangekom het.
24 Hy het ook self sy klere uitgetrek en ook voor Samuel geprofeteer en ontbloot neergeval daardie hele dag en die hele nag. Daarom sê hulle: Is Saul ook onder die profete?




Hoofstuk 20

1 Toe het Dawid gevlug uit Najot by Rama, en hy het by Jónatan gekom en gevra: Wat het ek gedoen? Wat is my misdaad, en wat is my sonde voor jou vader, dat hy my lewe soek?
2 Maar hy sê vir hom: Volstrek nie! Jy sal nie sterwe nie. Kyk, my vader doen geen ding, klein of groot, sonder om dit aan my te openbaar nie; waarom sou my vader dan hierdie saak vir my wegsteek? Dit is nie so nie.
3 Toe sweer Dawid verder en sê: Jou vader weet baie goed dat ek guns in jou oë gevind het; daarom het hy gedink: Laat Jónatan dit nie weet nie, anders word hy bedroef. Maar so waar as die HERE leef en jou siel leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood!
4 En Jónatan het Dawid geantwoord: Wat jy begeer, sal ek vir jou doen.
5 Toe sê Dawid vir Jónatan: Kyk, môre is dit nuwemaan, en ek moet sekerlik met die koning saam aansit om te eet; maar laat my gaan, dat ek my wegsteek in die veld tot oormôre-aand.
6 As jou vader my inderdaad mis, moet jy sê: Dawid het my dringend verlof gevra om gou na sy stad Betlehem te loop, want daar is die jaarlikse offer vir die hele geslag.
7 As hy so sê: Goed! dan is jou dienaar veilig; maar as hy baie kwaad word, weet dan dat die onheil van sy kant vas besluit is.
8 Bewys dan guns aan jou dienaar, want jy het jou dienaar met jou saam in ‘n verbond van die HERE gebring. Maar as daar by my ‘n misdaad is, maak jy my dan self dood—waarom tog sou jy my na jou vader bring?
9 Toe sê Jónatan: Moenie so dink nie! Want as ek sekerlik bemerk dat die onheil van my vader se kant vas besluit is om oor jou te kom, sou ek jou dit dan nie te kenne gee nie?
10 En Dawid het Jónatan gevra: Wie sal my dit te kenne gee of jou vader jou miskien ‘n harde antwoord gee?
11 En Jónatan sê vir Dawid: Kom, laat ons uitgaan die veld in. En hulle twee het die veld ingegaan.
12 Daarop sê Jónatan vir Dawid: Die HERE, die God van Israel,is getuie dat ek my vader môre of oormôre op hierdie tyd sal uitvra; en as dit gunstig is vir Dawid, sal ek dan nie na jou stuur en jou dit openbaar nie?
13 Mag die HERE so aan Jónatan doen en so daaraan toedoen: as my vader goedvind om onheil oor jou te bring, dan sal ek jou dit openbaar en jou laat gaan, dat jy veilig kan wegkom; en mag die HERE met jou wees soos Hy met my vader gewees het.
14 En sal jy my nie, as ek dan nog lewe, die guns van die HERE bewys nie, sodat ek nie sterwe nie?
15 Jy sal ook nimmer aan my huis jou guns onttrek nie; wanneer die HERE die vyande van Dawid, een vir een, van die aarde af uitroei nie.
16 So het Jónatan dan ‘n verbond gesluit met die huis van Dawid. En die HERE het dit geëis van die hand van Dawid se vyande.
17 En Jónatan het Dawid weer laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom liefgehad met die liefde van sy siel.
18 Verder het Jónatan vir hom gesê: Môre is dit nuwemaan, en jy sal gemis word, want jou sitplek sal leeg wees.
19 Maar oormôre moet jy sekerlik afkom en gaan na die plek waar jy jou op die werkdag weggesteek het, en jy moet langs die klip Esel gaan sit.
20 Dan sal ek drie pyle aan die kant daarvan skiet asof ek na ‘n teiken skiet.
21 En kyk, ek sal die dienaar stuur en sê: Gaan soek die pyle! As ek uitdruklik aan die dienaar sê: Daar is die pyle, van jou af duskant toe, bring dit—dan kan jy maar kom; want jy is veilig en daar is niks nie, so waar as die HERE leef!
22 Maar as ek só aan die jongman sê: Daar lê die pyle van jou af, verder—gaan dan weg, want die HERE stuur jou weg.
23 En wat die saak aangaan wat ons bespreek het, ek en jy—kyk, die HERE is tussen my en jou tot in ewigheid.
24 Daarop het Dawid hom in die veld weggesteek. En toe dit nuwemaan was, gaan die koning aan die maaltyd sit om te eet—
25 die koning het op sy sitplek gaan sit soos die vorige kere, op die sitplek teen die muur; en Jónatan het opgestaan, en Abner het langs Saul gesit, maar Dawid se plek was leeg.
26 En Saul het dié dag niks gepraat nie, want hy het gedink: Daar het iets met hom gebeur dat hy nie rein is nie; waarlik, hy is nie rein nie.
27 Maar toe op die volgende, die tweede dag na die nuwemaan, Dawid se plek leeg was, sê Saul vir sy seun Jónatan: Waarom kom die seun van Isai gister sowel as vandag nie na die maaltyd nie?
28 En Jónatan het Saul geantwoord: Dawid het my dringend verlof gevra na Betlehem toe
29 en gesê: Laat my tog gaan, want ons het ‘n familie-offer in die stad, en my broer self het my laat roep. As ek dan nou guns in jou oë gevind het, laat my tog heengaan om my broers te besoek. Daarom het hy nie aan die koning se tafel gekom nie.
30 Toe ontvlam die toorn van Saul teen Jónatan, en hy sê vir hom: Jou ontaarde, wederstrewige seun, weet ek nie dat jy die seun van Isai verkies tot jou skande en tot skande van jou moeder se naaktheid nie?
31 Want al die dae dat die seun van Isai op die aarde lewe, sal jy en jou koningskap nie bevestig word nie; stuur dan nou en bring hom na my, want hy moet sterwe.
32 En Jónatan het sy vader Saul geantwoord en vir hom gesê: Waarom moet hy gedood word, wat het hy gedoen?
33 Daarop gooi Saul die spies na hom om hom te tref. Toe Jónatan dan merk dat dit van sy vader se kant vas besluit was om Dawid dood te maak,
34 staan Jónatan op van die tafel in gloeiende toorn, en hy het geen brood geëet op die tweede dag van die nuwemaan nie, want hy was bedroef oor Dawid, omdat sy vader hom smadelik bejeën het.
35 Die volgende môre gaan Jónatan, volgens afspraak met Dawid, na die veld toe uit, en ‘n jong dienaar met hom saam.
36 En hy sê aan die dienaar: Loop soek tog die pyle wat ek afskiet. En terwyl die dienaar loop, skiet hy ‘n pyl dwarsoor hom heen.
37 Toe die dienaar dan by die plek kom waar Jónatan die pyl geskiet het, roep Jónatan die dienaar agterna en sê: Lê die pyl nie van jou af, verder nie?
38 En Jónatan roep die dienaar agterna: Maak gou, hardloop, moenie bly staan nie. En die dienaar van Jónatan het die pyl opgetel en by sy heer gekom.
39 Maar die dienaar het van niks geweet nie: net Jónatan en Dawid het van die saak geweet.
40 Toe gee Jónatan sy wapens aan die dienaar wat by hom was, en sê vir hom: Gaan, bring dit na die stad.
41 Terwyl die dienaar huis toe gaan, staan Dawid op van die suidekant en val met sy aangesig op die aarde en buig drie maal; daarna het hulle mekaar gesoen en saam geween, totdat Dawid hardop gesnik het.
42 En Jónatan sê vir Dawid: Gaan in vrede, omdat ons twee in die Naam van die HERE gesweer en gesê het: Die HERE sal tussen my en jou wees, en tussen my nageslag en jou nageslag vir altyd. (20:43) Daarna het hy opgestaan en weggegaan, maar Jónatan het die stad in geloop.




Hoofstuk 21

1 En Dawid het in Nob gekom by die priester Ahiméleg; en Ahiméleg het Dawid bewend tegemoetgegaan en hom gevra: Waarom is u alleen, en is daar niemand by u nie?
2 En Dawid sê aan die priester Ahiméleg: Die koning het my ‘n opdrag gegee en aan my gesê: Laat geen mens iets van die saak weet waarvoor ek jou stuur en wat ek jou opdra nie. Daarom het ek die dienaars ‘n sekere plek aangewys.
3 Maar nou, wat is hier by u? Gee vyf brode in my hand, of wat beskikbaar is.
4 En die priester het Dawid geantwoord en gesê: Hier is geen gewone brood by my nie; hier is net heilige brood. As die dienaars hulle maar net vir vroue in ag geneem het.
5 Toe antwoord Dawid die priester en sê vir hom: Sekerlik is die vroue aan ons onthou soos altyd wanneer ek uittrek. Dus is die uitrustings van die dienaars heilig, alhoewel dit ‘n ongewyde onderneming is—hoeveel te meer as hulle vandag deur die uitrusting geheilig word!
6 Toe gee die priester hom die heilige brood, want daar was geen ander brood nie, behalwe die toonbrode wat voor die aangesig van die HERE weggeneem word, om vars brood neer te sit op die dag as dit weggeneem word.
7 Maar daar was ‘n man uit die dienaars van Saul wat dieselfde dag opgesluit was voor die aangesig van die HERE, en sy naam was Doëg, die Edomiet, die opsigter oor die veewagters van Saul.
8 En Dawid sê vir Ahiméleg: Is hier nie ‘n spies of ‘n swaard by u nie? Want ek het my swaard sowel as my wapens nie met my saamgeneem nie, omdat die opdrag van die koning dringend was.
9 Toe sê die priester: Die swaard van Góliat, die Filistyn, wat u in die dal van die terpentynboom verslaan het, hier is dit in ‘n mantel toegedraai, agter die skouerkleed; as u dit vir u wil neem, neem dit, want behalwe dit is hier geen ander nie. Toe sê Dawid: Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my.
10 En Dawid het hom klaargemaak en dié dag van Saul af weggevlug en by Agis, die koning van Gat, gekom.
11 Maar die dienaars van Agis het hom gevra: Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Het hulle nie vir hom in die koordanse gesing nie en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende?
12 En Dawid het hierdie woorde ter harte geneem en baie bevrees geword vir Agis, die koning van Gat.
13 Daarom het hy hom voor hulle oë kranksinnig aangestel en hom mal gehou onder hulle hand en op die deure van die poort gekrap en sy speeksel in sy baard laat afloop.
14 Daarop sê Agis aan sy dienaars: Julle sien tog die man is kranksinnig, waarom bring julle hom na my toe?
15 Het ek gebrek aan kranksinniges, dat julle hierdie een bring om sy kranksinnigheid by my uit te haal? Moet so een in my huis inkom?




Hoofstuk 22

1 En Dawid het daarvandaan weggegaan en ontvlug na die spelonk van Adúllam; en toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom.
2 Verder het by hom vergader elkeen wat in benoudheid was, en elkeen wat ‘n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was; en hy het owerste oor hulle geword, sodat daar omtrent vier honderd man met hom saam was.
3 Vandaar gaan Dawid toe na Mispe in Moab en sê aan die koning van Moab: Laat my vader en my moeder tog uitkom by julle totdat ek weet wat God met my wil doen.
4 En hy het hulle voor die koning van Moab gebring, en hulle het by hom gebly al die dae wat Dawid in die bergvesting was.
5 Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: Jy mag nie in die bergvesting bly nie; trek weg en gaan die land Juda in. En Dawid het weggetrek en in die bos Héret gekom.
6 Toe Saul hoor dat Dawid en die manne wat by hom was, opgemerk is—Saul het by Gíbea op die hoogte onder die tamarisk gesit met sy spies in sy hand, en al sy dienaars het by hom gestaan—
7 het Saul aan sy dienaars wat by hom staan, gesê: Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Isai ook vir julle almal lande en wingerde gee, julle almal aanstel as owerstes oor duisend en owerstes oor honderd,
8 dat julle almal teen my saamspan en niemand dit aan my openbaar as my seun met die seun van Isai ‘n verbond sluit nie? en niemand van julle met my medelyde het en dit aan my openbaar dat my seun my onderdaan teen my ophits om my voor te lê, soos vandag die geval is nie?
9 Daarop antwoord Doëg, die Edomiet, wat by die dienaars van Saul staan, en sê: Ek het die seun van Isai sien kom in Nob by Ahiméleg, die seun van Ahítub.
10 En dié het vir hom die HERE geraadpleeg en hom padkos gegee; hy het ook die swaard van Góliat, die Filistyn, aan hom gegee.
11 Toe stuur die koning om Ahiméleg, die seun van Ahítub, die priester, met sy hele familie, die priesters wat in Nob was, te roep, en hulle het almal na die koning gekom.
12 En Saul het gesê: Luister tog, seun van Ahítub! Toe antwoord hy: Hier is ek, my heer!
13 En Saul sê vir hom: Waarom het julle teen my saamgesweer, jy en die seun van Isai, deurdat jy vir hom brood en ‘n swaard gegee het en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy hom as iemand wat my voorlê, teen my sou versit soos vandag die geval is?
14 Toe antwoord Ahiméleg die koning en sê: Maar wie is onder al u dienaars so getrou soos Dawid, wat skoonseun van die koning is en aangesluit het by u lyfwag en geëerd is in u huis?
15 Het ek vandag vir die eerste keer God vir hom geraadpleeg? Dit is ver van my! Die koning moet nie op sy dienaar, op my hele familie, iets lê nie; want u dienaar het van hierdie hele saak, klein of groot, niks af geweet nie.
16 Maar die koning sê: Ahiméleg, jy moet sekerlik sterwe, jy en jou hele familie.
17 En die koning sê aan die hardlopers wat by hom staan: Tree nader en maak die priesters van die HERE dood, omdat hulle hand ook met Dawid saam is en omdat hulle geweet het dat hy vlug en dit nie aan my geopenbaar het nie. Maar die dienaars van die koning wou hulle hand nie uitsteek om op die priesters van die HERE aan te val nie.
18 Daarop sê die koning vir Doëg: Tree jy nader en val op die priesters aan. Toe tree Doëg, die Edomiet, nader en hy val op die priesters aan; en hy het op dié dag vyf en tagtig man wat die linneskouerkleed dra, gedood.
19 Ook die priesterstad Nob het hy met die skerpte van die swaard verslaan, man sowel as vrou, kind sowel as suigling, ook die beeste en esels en skape met die skerpte van die swaard.
20 Maar een van die seuns van Ahiméleg, die seun van Ahítub, het vrygeraak, en sy naam was Abjatar; hy het agter Dawid aan gevlug.
21 Toe Abjatar aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die HERE vermoor het,
22 sê Dawid vir Abjatar: Ek het daardie dag toe Doëg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy dit sekerlik aan Saul sou vertel. Ek is die oorsaak van die dood van al die lede van u familie.
23 Bly by my, wees nie bevrees nie; want die wat my lewe soek, soek u lewe ook; want u is by my in goeie bewaring.




Hoofstuk 23

1 Intussen is aan Dawid meegedeel en gesê: Kyk, die Filistyne veg teen Kehíla, en hulle plunder die dorsvloere.
2 Toe raadpleeg Dawid die HERE en vra: Sal ek gaan en daardie Filistyne verslaan? En die HERE sê vir Dawid: Gaan en verslaan die Filistyne en verlos Kehíla.
3 Maar die manne van Dawid sê vir hom: Kyk, hier in Juda is ons al bevrees, hoeveel te meer dan as ons na Kehíla trek teen die slagordes van die Filistyne?
4 Toe raadpleeg Dawid die HERE nog weer, en die HERE het hom geantwoord en gesê: Maak klaar, trek af na Kehíla, want Ek gee die Filistyne in jou hand.
5 Daarom het Dawid met sy manne na Kehíla getrek en teen die Filistyne geveg en hulle vee weggedrywe en ‘n groot slag onder hulle geslaan. So het Dawid dan die inwoners van Kehíla verlos.
6 (By die vlug van Abjatar, die seun van Ahiméleg, na Dawid, het hy na Kehíla afgekom met die skouerkleed by hom.)
7 Daarop kry Saul berig dat Dawid in Kehíla gekom het, en Saul sê: God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself opgesluit deurdat hy in ‘n stad met poorte en grendels ingegaan het.
8 Daarom het Saul al die manskappe vir die geveg opgeroep om af te trek na Kehíla ten einde Dawid en sy manne in te sluit.
9 Toe Dawid gewaar dat Saul onheil teen hom beraam, sê hy aan die priester Abjatar: Bring die skouerkleed nader.
10 En Dawid sê: HERE, God van Israel, u kneg het verseker gehoor dat Saul na Kehíla wil trek om die stad om my ontwil te verwoes.
11 Sal die burgers van Kehíla my in sy hand uitlewer? Sal Saul afkom soos u kneg verneem het? HERE, God van Israel, gee u kneg dit tog te kenne! Toe antwoord die HERE: Hy sal afkom.
12 Daarop sê Dawid: Sal die burgers van Kehíla my en my manne in die hand van Saul uitlewer? En die HERE antwoord: Hulle sal uitlewer.
13 En Dawid het klaargemaak met sy manne, omtrent ses honderd man—hulle het uit Kehíla uitgetrek en rondgetrek waar hulle maar kon. Toe Saul berig ontvang dat Dawid uit Kehíla ontsnap het, het hy opgehou om uit te trek.
14 En Dawid het gebly in die woestyn, in die bergvestings, ook op die gebergte in die woestyn Sif; en Saul het hom aldae gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.
15 Maar Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek. Dawid was naamlik in die woestyn Sif, in Hores.
16 Daarop het Jónatan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En hy het hom bemoedig in God
17 en vir hom gesê: Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed.
18 Toe sluit hulle twee ‘n verbond voor die aangesig van die HERE; en Dawid het in Hores gebly, maar Jónatan het na sy huis gegaan.
19 Daarna het daar Sifiete opgegaan na Saul, na Gíbea, en gesê: Steek Dawid hom nie weg by ons in die bergvestings, in Hores, op die heuwel Hagíla wat suid van die wildernis lê nie?
20 En is dit nou na u hartelus om af te kom, o koning, kom dan af, en ons sal sorg om hom in die hand van die koning uit te lewer.
21 En Saul sê: Mag julle geseënd wees deur die HERE, omdat julle medelyde met my gehad het.
22 Gaan tog heen, maak verder klaar en ondersoek en bekyk die plek waar sy spoor is, wie hom daar gesien het; want aan my is gesê dat hy baie listig is.
23 Daarom, bekyk en ondersoek al die skuilplekke waar hy hom wegsteek, en kom verseker na my terug, dan sal ek met julle saamgaan; en as hy in die land is, sal ek hom opspoor onder al die geslagte van Juda.
24 En hulle het klaargemaak en voor Saul uit na Sif gegaan, terwyl Dawid en sy manne in die woestyn Maon was, in die Vlakte suid van die wildernis.
25 Toe Saul met sy manne trek om hom te soek, is dit aan Dawid geboodskap; daarom het hy afgetrek na die rots en in die woestyn Maon gebly. Maar Saul het dit gehoor en Dawid agternagejaag, die woestyn Maon in.
26 En Saul het aan hierdie kant van die berg getrek, maar Dawid met sy manne was aan die ander kant van die berg. En toe Dawid in angs vlug om van Saul weg te kom, terwyl Saul en sy manne Dawid en sy manne omsingel om hulle te vang,
27 kom daar ‘n boodskapper by Saul en sê: Maak gou en kom, want die Filistyne het ‘n inval in die land gedoen.
28 Daarop het Saul omgedraai en Dawid nie meer agternagejaag nie, maar die Filistyne tegemoetgetrek. Daarom noem hulle daardie plek Rots van Skeiding.
29 (24:1) En daarvandaan het Dawid opgetrek en in die bergvestings van Éngedi gebly.




Hoofstuk 24

1 (24:2) En net toe Saul terugkom agter die Filistyne vandaan, is aan hom meegedeel en gesê: Kyk, Dawid is in die woestyn van Éngedi.
2 (24:3) Daarop het Saul drie duisend uitgesoekte manne uit die hele Israel geneem en heengegaan om Dawid en sy manne te soek teenoor die Steenbokrotse.
3 (24:4) Toe hy kom by die skaapkrale langs die pad waar ‘n spelonk was, het Saul daar ingegaan om sy voete te bedek, terwyl Dawid en sy manne agter in die spelonk sit.
4 (24:5) En die manne van Dawid sê aan hom: Kyk, dit is die dag dat die HERE aan u sê: Nou gee Ek jou vyand in jou hand, en maak met hom soos goed is in jou oë. Toe staan Dawid op en sny stilletjies die slip van Saul se mantel af.
5 (24:6) Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla, omdat hy die slip van Saul afgesny het,
6 (24:7) en hy het aan sy manne gesê: Mag die HERE my bewaar dat ek so iets aan my heer, die gesalfde van die HERE, sou doen om my hand teen hom uit te steek; want hy is die gesalfde van die HERE.
7 (24:8) En Dawid het sy manne streng bestraf en hulle nie toegelaat om teen Saul op te staan nie. En Saul het uit die spelonk uit opgestaan en sy koers gegaan.
8 (24:9) Daarna staan Dawid ook op en gaan uit die spelonk uit en roep agter Saul aan en sê: My heer die koning! Toe Saul agter hom omkyk, buig Dawid met sy aangesig na die aarde toe en val neer.
9 (24:10) En Dawid sê vir Saul: Waarom luister u na die woorde van mense wat sê: Kyk, Dawid soek u onheil?
10 (24:11) Kyk, vandag sien u eie oë dat die HERE u vandag in die spelonk in my hand gegee het; en hulle het gesê ek moet u doodmaak, maar ek het u verskoon en gesê: Ek sal my hand nie uitsteek teen my heer nie, want hy is die gesalfde van die HERE.
11 (24:12) En kyk, my vader, ja, kyk die slip van u mantel in my hand! Want toe ek die slip van u mantel afgesny het, het ek u nie gedood nie. Erken en sien dat daar by my geen kwaad of oortreding is en ek nie teen u gesondig het nie, alhoewel u op my lewe loer om dit weg te neem.
12 (24:13) Die HERE sal oordeel tussen my en u, en die HERE sal my aan u wreek; maar my hand sal teen u nie wees nie.
13 (24:14) Soos die spreekwoord van die voorvaders sê: Uit die goddelose gaan goddeloosheid uit. Maar my hand sal nie teen u wees nie.
14 (24:15) Agter wie aan het die koning van Israel uitgetrek? Agter wie kom u aangejaag? Agter ‘n dooie hond, agter een enkele vlooi aan!
15 (24:16) Maar die HERE sal regter wees en oordeel tussen my en u. Ja, mag Hy toesien en my saak verdedig en aan my reg verskaf teenoor u.
16 (24:17) Toe Dawid hierdie woorde ten einde toe tot Saul gespreek het, sê Saul: Is dit jou stem, my seun Dawid? En Saul het sy stem verhef en geween
17 (24:18) en aan Dawid gesê: Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het.
18 (24:19) En jy het vandag bewys dat jy goed aan my gedoen het; dat naamlik die HERE my in jou hand oorgelewer het, maar jy het my nie gedood nie.
19 (24:20) Want as iemand sy vyand aantref, sal hy hom op ‘n goeie pad laat gaan? Maar die HERE sal jou die goeie vergelde vir wat jy vandag aan my gedoen het.
20 (24:21) En nou, kyk, ek weet jy sal sekerlik koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand standhou.
21 (24:22) Sweer dan nou vir my by die HERE dat jy my geslag ná my nie sal uitroei en my naam uit my familie nie sal uitdelg nie.
22 (24:23) Toe sweer Dawid vir Saul. En Saul het na sy huis gegaan, maar Dawid en sy manne het na die bergvesting opgetrek.




Hoofstuk 25

1 En Samuel het gesterwe, en die hele Israel het saamgekom en oor hom gerouklaag en hom begrawe in sy huis in Rama. En Dawid het hom klaargemaak en afgetrek na die woestyn Paran.
2 En daar was ‘n man in Maon wat sy boerdery in Karmel gehad het, en die man was baie vermoënd: hy het drie duisend skape en duisend bokke gehad, en hy was besig om sy skape te skeer in Karmel.
3 En die naam van die man was Nabal, en die naam van sy vrou Abígail; en die vrou het ‘n goeie verstand gehad en was mooi van aansien; maar die man was grof en boosaardig, en hy was ‘n Kalebiet.
4 Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer,
5 stuur Dawid tien jongmanne, en Dawid sê aan die jongmanne: Trek op na Karmel en gaan by Nabal in en vra hom in my naam na die welstand;
6 en so moet julle aan die welvarende sê: Mag dit goed gaan met u sowel as met u huis, en goed gaan met alles wat u besit.
7 En nou, ek het gehoor dat u skeerders het; nou ja, u wagters was met ons saam; ons het hulle nie beledig nie, en hulle het ook niks vermis al die dae wat hulle in Karmel was nie.
8 Vra u dienaars, en hulle sal u dit te kenne gee; laat dus die jongmanne guns vind in u oë, want ons het op ‘n vrolike dag gekom; gee tog wat u byderhand het aan u dienaars en aan u seun Dawid.
9 Toe het die jongmanne van Dawid gekom en met Nabal in naam van Dawid volgens al hierdie woorde gespreek en verder afgewag.
10 Maar Nabal het die dienaars van Dawid geantwoord en gesê: Wie is Dawid? En wie is die seun van Isai? Daar is vandag baie dienaars wat hulle losskeur, elkeen van sy heer af.
11 Sou ek dan my brood en my water en my slaggoed wat ek vir my skeerders geslag het, neem en aan manne gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan kom nie?
12 Daarop het die jongmanne van Dawid omgedraai op hulle pad, hulle het teruggekeer en aangekom en hom berig gebring volgens al hierdie woorde.
13 Toe sê Dawid aan sy manne: Gord julle elkeen sy swaard aan! Hulle gord toe elkeen sy swaard aan—Dawid het ook sy swaard aangegord—en hulle trek agter Dawid op, omtrent vier honderd man, terwyl twee honderd by die pakgoed bly.
14 Maar aan Abígail, die vrou van Nabal, het een van die jongmanne berig gebring en gesê: Kyk, Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om ons heer te begroet, maar hy het teen hulle uitgevaar.
15 Tog was die manne vir ons baie goed; ook is ons nie beledig nie, en ons het niks vermis al die dae wat ons saam met hulle rondgetrek het toe ons in die veld was nie.
16 Hulle was ‘n muur om ons, snags sowel as bedags, al die dae wat ons die skape by hulle opgepas het.
17 En nou moet u self ondersoek en kyk wat u moet doen; want die onheil is vas besluit oor ons heer en oor sy hele huis; maar hy self is so ‘n deugniet dat jy nie met hom kan praat nie.
18 Toe het Abígail gou twee honderd brode geneem en twee sakke wyn en vyf toebereide skape en vyf mate gebraaide koring en honderd rosynekoeke en twee honderd vyekoeke en dit op esels gesit.
19 En sy het aan haar jongmanne gesê: Trek voor my uit; kyk, ek kom dadelik agter julle aan. Maar aan haar man Nabal het sy niks te kenne gegee nie.
20 En terwyl sy op die esel ry en in ‘n kloof van die berg afdaal, kom Dawid en sy manne meteens af haar tegemoet, sodat sy hulle teëgekom het.
21 Dawid het al gedink: Net verniet het ek alles wat aan hierdie man behoort, in die woestyn beskerm, sodat daar nooit iets van sy goed vermis is nie; en hy vergeld my kwaad vir goed.
22 Mag God so aan die vyande van Dawid doen en so daaraan toedoen, as ek van almal wat aan hom behoort, tot môre een laat oorbly wat manlik is.
23 Toe Abígail Dawid sien, het sy gou van die esel afgeklim en voor Dawid op haar aangesig neergeval en na die aarde toe gebuig.
24 En sy het voor sy voete neergeval en gesê: Op my, my heer, rus die skuld, maar laat u dienares tog voor u ore mag spreek, en luister na die woorde van u dienares.
25 My heer moet hom tog nie steur aan daardie deugniet van ‘n man, aan Nabal nie; want soos sy naam is, so is hy; sy naam beteken dwaas, en dwaasheid is by hom. Maar wat my betref, u dienares het my heer se jongmanne wat u gestuur het, nie gesien nie.
26 En nou, my heer, so waar as die HERE leef en u siel leef, dit is die HERE wat u teruggehou het om in bloedskuld te geraak en u met eie hand te help; mag dan nou u vyande en die wat onheil soek teen my heer, soos Nabal word.
27 En laat nou hierdie geskenk wat u dienares vir my heer gebring het, aan die jongmanne gegee word wat op my heer se voetspore rondtrek.
28 Vergeef tog die oortreding van u dienares, want die HERE sal sekerlik vir my heer ‘n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie.
29 As ‘n mens opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, mag die siel van my heer dan saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die HERE u God; maar mag Hy die siel van u vyande uit die holte van die slinger wegslinger.
30 En as die HERE aan my heer sal doen volgens al die goeie wat Hy aan u beloof het, en u aanstel as vors oor Israel,
31 dan sal daar vir u geen struikelblok en vir my heer geen gewetenswroeging wees dat u sonder oorsaak bloed vergiet het en my heer homself hulp verskaf het nie; en as die HERE goed sal doen aan my heer, moet u aan u dienares dink.
32 Toe sê Dawid vir Abígail: Geseënd is die HERE, die God van Israel, wat jou vandag my tegemoet gestuur het!
33 En geseënd jou verstandigheid en geseënd jy self wat my vandag teëgehou het om in bloedskuld te geraak en my met eie hand te help.
34 Maar so waar as die HERE, die God van Israel, leef wat my verhinder het om aan jou kwaad te doen—as jy my nie gou tegemoetgekom het nie, voorwaar, daar sou van Nabal niemand wat manlik is, tot die môrelig oorgebly het nie!
35 En Dawid het uit haar hand aangeneem wat sy vir hom gebring het, en vir haar gesê: Gaan op in vrede na jou huis! Kyk, ek het na jou geluister en jou in guns aangeneem.
36 Toe Abígail by Nabal kom, het hy juis ‘n maaltyd in sy huis aangerig soos die maaltyd van ‘n koning; en Nabal se hart was vrolik in hom, en hy was baie dronk; daarom het sy hom niks, klein of groot, meegedeel totdat dit die môre lig word nie.
37 Maar die môre vroeg toe die wyn Nabal verlaat het, deel sy vrou hom dié dinge mee. Daarop het sy hart in sy binneste gesterwe en was hy soos ‘n klip.
38 En ná omtrent tien dae het die HERE Nabal getref, sodat hy gesterf het.
39 Toe Dawid hoor dat Nabal dood was, sê hy: Geseënd is die HERE wat die regsaak, in die smaad my aangedoen, teen Nabal verdedig het en sy kneg teruggehou het van die kwaad, terwyl die HERE die kwaad van Nabal op sy eie hoof laat neerkom het. En Dawid het by Abígail aansoek laat doen om haar vir hom as vrou te neem.
40 Toe het die dienaars van Dawid by Abígail gekom in Karmel en met haar gespreek en gesê: Dawid stuur ons na u om u vir hom as vrou te neem.
41 En sy het opgestaan en met haar aangesig na die aarde gebuig en gesê: Hier is u dienares as slavin om die voete van my heer se dienaars te was.
42 Abígail maak toe gou klaar, en sy het op die esel gery met haar vyf diensmeisies wat op haar voetspoor volg, en agter die boodskappers van Dawid aangegaan. En sy het sy vrou geword.
43 Dawid het ook Ahínoam uit Jísreël geneem, sodat hulle altwee sy vroue geword het.
44 Maar Saul het sy dogter Migal, die vrou van Dawid, gegee aan Palti, die seun van Lais, wat uit Gallim was.




Hoofstuk 26

1 En die Sifiete het by Saul in Gíbea gekom en gesê: Steek Dawid hom nie weg op die heuwel Hagíla vooraan die wildernis nie?
2 Toe het Saul hom klaargemaak en afgetrek na die woestyn Sif, en met hom saam drie duisend man, uitgesoektes uit Israel, om Dawid te soek in die woestyn Sif.
3 En Saul het laer opgeslaan op die heuwel Hagíla wat vooraan die wildernis langs die pad lê, terwyl Dawid in die woestyn gebly het. Maar toe hy sien dat Saul agter hom aankom die woestyn in—
4 want Dawid het verkenners uitgestuur en verneem dat Saul verseker aankom—
5 maak Dawid hom klaar en gaan na die plek waar Saul in die laer staan; en Dawid het die plek bekyk waar Saul gaan slaap het saam met Abner, die seun van Ner, sy leërowerste; Saul het naamlik geslaap in die wa-laer, terwyl die manskappe rondom hom in die laer was.
6 En Dawid het begin spreek met Ahiméleg, die Hetiet, en met Abísai, die seun van Serúja, die broer van Joab, en gesê: Wie sal met my saam afgaan na Saul, na die laer toe? En Abísai sê: Ek sal met u saam afgaan.
7 Toe Dawid met Abísai in die nag by die manskappe kom, lê Saul daar en slaap in die wa-laer met sy spies aan sy koppenent in die grond gesteek, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê.
8 En Abísai sê vir Dawid: Vandag het God u vyand in u hand oorgelewer; laat ek hom tog nou met sy spies in een slag teen die grond vassteek sonder om dit ‘n tweede keer te doen.
9 Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf?
10 Verder sê Dawid: So waar as die HERE leef, sekerlik sal die HERE hom slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom!
11 Mag die HERE my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die HERE sou slaan! Maar neem nou tog die spies wat aan sy koppenent is, en die waterkruik, en laat ons weggaan.
12 Toe neem Dawid die spies en die waterkruik van Saul se koppenent weg, en hulle het heengegaan sonder dat iemand dit sien of merk of wakker word; want hulle was almal aan die slaap, omdat ‘n diepe slaap van die HERE op hulle geval het.
13 En Dawid het deurgegaan na die oorkant en in die verte op die top van die berg gaan staan—die ruimte tussen hulle was groot—
14 en Dawid het geroep na die manskappe en na Abner, die seun van Ner, en gevra: Antwoord jy nie, Abner? Toe antwoord Abner en sê: Wie is jy wat na die koning roep?
15 En Dawid vra vir Abner: Jy is tog ‘n man, en wie is soos jy in Israel? Waarom het jy dan nie by jou heer die koning wag gehou nie? Want een uit die volk het ingekom om die koning, jou heer, om te bring.
16 Hierdie ding is nie goed wat jy gedoen het nie! So waar as die HERE leef, voorwaar, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het oor julle heer, oor die gesalfde van die HERE nie. En kyk nou, waar is die spies van die koning en die waterkruik wat aan sy koppenent was!
17 Toe herken Saul die stem van Dawid en vra: Is dit jou stem daar, my seun Dawid? En Dawid sê: My stem, my heer die koning!
18 Verder sê hy: Waarom agtervolg my heer sy dienaar tog? Want wat het ek gedoen? Of watter kwaad is daar by my?
19 Laat my heer die koning dan nou luister na die woorde van sy dienaar: As die HERE u teen my aanhits, bied Hom dan ‘n spysoffer aan; maar as dit mensekinders is—vervloek is hulle voor die aangesig van die HERE, omdat hulle my vandag verdrywe, sodat ek my nie kan aansluit by die erfdeel van die HERE nie deurdat hulle sê: Gaan weg, dien ander gode!
20 Laat my bloed dan nou nie op die aarde val ver van die aangesig van die HERE nie, want die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek, soos ‘n man ‘n patrys op die berge agtervolg.
21 Toe sê Saul: Ek het gesondig; kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou geen kwaad meer doen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë; kyk, ek het dwaas gehandel en my grootliks misgaan.
22 En Dawid antwoord en sê: Hier is die spies van die koning; laat dan een van die jongmanne deurkom om dit te haal.
23 Die HERE tog vergeld aan elkeen sy regverdigheid en sy getrouheid—die HERE het u vandag in my hand gegee, maar ek wou nie my hand teen die gesalfde van die HERE uitsteek nie.
24 En kyk, soos vandag u lewe in my oë kosbaar was, mag so my lewe in die oë van die HERE kosbaar wees, en mag Hy my red uit elke benoudheid.
25 Hierop sê Saul vir Dawid: Geseënd is jy, my seun Dawid! Jy sal groot dinge doen en sekerlik die oorhand kry. Daarop het Dawid verder gegaan, en Saul het na sy woonplek teruggekeer.




Hoofstuk 27

1 En Dawid het by homself gesê: Nou sal ek een van die dae omkom deur die hand van Saul; daar is vir my niks goeds nie, tensy ek dadelik ontsnap na die land van die Filistyne; dan sal Saul die hoop opgee om my langer in die hele grondgebied van Israel te soek, en ek sal uit sy hand ontsnap.
2 Dawid maak toe klaar, en hy saam met die ses honderd man wat by hom was, het deurgetrek na Agis, die seun van Maog, die koning van Gat.
3 En Dawid het by Agis gebly in Gat, hy en sy manne, elkeen met sy huisgesin; Dawid met sy twee vroue, Ahínoam uit Jísreël en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet.
4 Toe Saul tyding kry dat Dawid na Gat gevlug het, het hy verder nie meer na hom gesoek nie.
5 En Dawid het vir Agis gesê: As ek dan guns in u oë gevind het, laat hulle my tog ‘n plek gee in een van die plattelandse stede, dat ek daar kan woon; waarom tog sou u dienaar in die koninklike stad by u woon?
6 Daarop gee Agis dieselfde dag Siklag aan hom; daarom het Siklag aan die konings van Juda behoort tot vandag toe.
7 En die getal dae wat Dawid in die land van die Filistyne gewoon het, was een jaar en vier maande.
8 En Dawid het met sy manne opgetrek, en hulle het die Gesuriete en die Girsiete en die Amalekiete oorval, want hulle was van ouds die bewoners van die land in die rigting van Sur en tot aan Egipteland.
9 En so dikwels as Dawid die land oorval, laat hy geen man of vrou lewe nie, en neem kleinvee en beeste en esels en kamele en klere saam. En as hy teruggaan en by Agis kom,
10 vra Agis: Waar het julle vandag ‘n inval gedoen? Dan sê Dawid: In die Suidland van Juda en in die Suidland van die Jeragmeëliete en in die Suidland van die Keniete.
11 Maar geen man of vrou het Dawid laat lewe om dié na Gat te bring nie, want hy het gedink: Anders sal hulle ons aangee en sê: So het Dawid gehandel. En dit was sy manier al die dae wat hy in die land van die Filistyne gewoon het.
12 En Agis het Dawid vertrou en gesê: Hy het homself vir goed by sy volk, by Israel, gehaat gemaak en sal vir altyd my onderdaan wees.




Hoofstuk 28

1 En toe die Filistyne in dié dae hulle leër versamel vir oorlog om teen Israel te veg, sê Agis vir Dawid: Jy moet goed verstaan dat jy met my saam in die leër moet uittrek, jy en jou manne.
2 Daarop sê Dawid vir Agis: Goed, u weet wel wat u dienaar moet doen. En Agis sê vir Dawid: Goed, ek sal jou vir altyd aanstel as my lyfwag.
3 En Samuel het gesterwe, en hulle het oor hom gerouklaag, die hele Israel, en hom begrawe in Rama, naamlik in sy stad. En Saul het die dodebesweerders en die waarsêers uit die land verwyder.
4 Daarop het die Filistyne bymekaargekom en ingetrek en laer opgeslaan in Sunem. En Saul het die hele Israel versamel, en hulle het laer opgeslaan op Gilbóa.
5 Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy bevrees geword, en sy hart het baie gebewe.
6 En Saul het die HERE geraadpleeg, maar die HERE het hom nie geantwoord nie—nie deur drome en nie deur die Urim en nie deur die profete nie.
7 En Saul sê aan sy dienaars: Soek julle vir my ‘n vrou wat ‘n dodebesweerster is, dat ek na haar kan gaan en haar raadpleeg. En sy dienaars sê vir hom: Daar is ‘n vrou, ‘n dodebesweerster, in Endor.
8 Daarop het Saul hom onkenbaar gemaak en ander klere aangetrek en weggegaan, hy en twee manne saam met hom. En toe hulle in die nag by die vrou aankom, sê hy: Voorspel tog vir my deur die gees van ‘n afgestorwene en laat vir my opkom die een wat ek jou sal noem.
9 Maar die vrou sê vir hom: Jy weet tog self wat Saul gedoen het; hoe hy die dodebesweerders en waarsêers uit die land uitgeroei het. Waarom stel jy dan ‘n val vir my op om my dood te maak?
10 Toe sweer Saul vir haar by die HERE en sê: So waar as die HERE leef, geen straf sal jou ter wille hiervan tref nie!
11 En die vrou vra: Wie moet ek vir jou laat opkom? En hy sê: Laat Samuel vir my opkom.
12 Maar toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hardop, en die vrou het met Saul gespreek en gesê: Waarom het u my bedrieg? Want u is Saul self.
13 En die koning antwoord haar: Wees nie bevrees nie; maar wat sien jy? En die vrou sê vir Saul: Ek sien ‘n bonatuurlike wese uit die aarde opkom.
14 Hy vra haar toe: Hoe is sy voorkoms? En sy antwoord: ‘n Ou man kom op met ‘n mantel om. Toe Saul begryp dat dit Samuel is, buig hy met sy aangesig na die aarde toe en val neer.
15 En Samuel sê vir Saul: Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom? En Saul antwoord: Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog, en God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om my bekend te maak wat ek moet doen.
16 En Samuel sê: Maar waarom raadpleeg jy my terwyl die HERE van jou gewyk en jou vyand geword het?
17 Die HERE het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het, en die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee.
18 Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Amalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen.
19 En die HERE sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee, en môre sal jy met jou seuns by my wees; ook die leër van Israel sal die HERE in die hand van die Filistyne gee.
20 En Saul het plotseling in sy volle lengte op die grond geval en baie bevrees geword deur die woorde van Samuel; buitendien was daar geen krag in hom nie, want hy het die hele dag en die hele nag geen brood geëet nie.
21 Daarop gaan die vrou na Saul; en toe sy sien dat hy baie verskrik was, sê sy vir hom: Kyk, u dienares het na u geluister en my lewe gewaag en na u woorde geluister wat u tot my gespreek het.
22 En nou moet u self tog luister na u dienares, en laat ek u ‘n stukkie brood voorsit, en eet, dat daar krag in u kan wees as u verder gaan.
23 Maar hy het geweier en gesê: Ek wil nie eet nie. Maar toe sy dienaars en die vrou ook by hom aandring, het hy na hulle geluister en opgestaan van die grond af en op die bed gaan sit.
24 En die vrou het ‘n kalf in die stal by die huis gehad en dit gou geslag, en sy het meel geneem en geknie en daar ongesuurde koeke van gebak.
25 Toe het sy dit aangebring voor Saul en voor sy dienaars, en hulle het geëet en opgestaan en dieselfde nag weggegaan.




Hoofstuk 29

1 En die Filistyne het hulle hele leër by Afek versamel, terwyl Israel laer opgeslaan het by die fontein wat by Jísreël is.
2 Toe die vorste van die Filistyne by honderde en by duisende verbytrek, maar Dawid en sy manne in die agterhoede met Agis saam verbytrek,
3 vra die owerstes van die Filistyne: Wat soek hierdie Hebreërs? En Agis sê aan die owerstes van die Filistyne: Dit is mos Dawid, die onderdaan van Saul, die koning van Israel, wat nou al dae of al jare by my is, sonder dat ek iets in hom gevind het van die dag af dat hy oorgeloop het, tot vandag toe.
4 Maar die owerstes van die Filistyne het baie kwaad vir hom geword, en die owerstes van die Filistyne het aan hom gesê: Stuur die man terug, dat hy kan teruggaan na die plek wat u hom aangewys het, en laat hom nie met ons saam in die geveg aftrek, dat hy nie vir ons in die geveg ‘n teëstander word nie. Want waarmee kan hierdie man hom aangenaam maak by sy heer? Is dit nie met die hoofde van hierdie manne nie?
5 Is dit nie dié Dawid nie, van wie hulle in die koordanse gesing en gesê het: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tien duisende?
6 Agis het Dawid toe geroep en aan hom gesê: So waar as die HERE leef, sekerlik, jy is opreg, en jou uitgang en jou ingang in die leër met my saam is goed in my oë; want ek het geen kwaad in jou gevind van die dag af dat jy na my gekom het tot vandag toe nie. Maar in die oë van die vorste is jy nie goed nie.
7 Draai dan nou om en gaan in vrede, en doen niks wat verkeerd is in die oë van die vorste van die Filistyne nie.
8 Hierop sê Dawid vir Agis: Maar wat het ek gedoen? Of wat het u in u dienaar gevind van die dag af dat ek voor u gewees het tot vandag toe, dat ek nie mag gaan veg teen die vyande van my heer die koning nie?
9 Maar Agis het Dawid geantwoord en gesê: Ek weet dat jy goed is in my oë soos ‘n engel van God, maar die owerstes van die Filistyne sê: Hy mag nie met ons saam optrek in die geveg nie.
10 Maak jou dan nou môre vroeg klaar met die dienaars van jou heer wat met jou saamgekom het. Julle moet dus môre vroeg klaarmaak, en as dit vir julle lig word, trek dan weg.
11 En Dawid het vroeg klaargemaak, hy en sy manne, om in die môre heen te gaan, om terug te trek na die land van die Filistyne; maar die Filistyne het opgetrek na Jísreël.




Hoofstuk 30

1 En toe Dawid met sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete ‘n inval gedoen in die Suidland en in Siklag, en hulle het Siklag verslaan en dit met vuur verbrand.
2 En hulle het die vroue en almal wat daarin was, gevange weggevoer, van die kleinste af tot die grootste toe; hulle het niemand gedood nie, maar hulle weggevoer en verder gegaan.
3 Toe Dawid met sy manne die stad inkom, lê dit daar met vuur verbrand, en hulle vroue en hulle seuns en hulle dogters was as gevangenes weggevoer.
4 Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie.
5 Ook Dawid se twee vroue, Ahínoam uit Jísreël, en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet, was as gevangenes weggevoer.
6 En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; want die siel van al die manskappe was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters; maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God.
7 En Dawid sê vir Abjatar, die priester, die seun van Ahiméleg: Bring tog die skouerkleed vir my hier. Daarop het Abjatar die skouerkleed na Dawid gebring.
8 En Dawid het die HERE geraadpleeg en gesê: Sal ek hierdie bende agternajaag? Sal ek dit inhaal? En Hy sê vir hom: Agtervolg, want jy sal sekerlik inhaal en sekerlik uitred.
9 Daarop het Dawid weggetrek, hy met die ses honderd man wat by hom was; en toe hulle by die spruit Besor kom, het die origes agtergebly.
10 Dawid het naamlik agtervolg, hy met vier honderd man, terwyl twee honderd man agtergebly het wat te moeg was om die spruit Besor deur te trek.
11 Toe vind hulle in die veld ‘n Egiptenaar wat hulle na Dawid bring, en hulle gee hom brood om te eet en water om te drink.
12 Daarby gee hulle hom ‘n stuk vyekoek en twee rosynekoeke. En toe hy geëet het, het hy weer bygekom; want hy het drie dae en drie nagte geen brood geëet of water gedrink nie.
13 En Dawid vra hom: Aan wie behoort jy? En waar kom jy vandaan? En hy sê: Ek is ‘n Egiptiese seun, die slaaf van ‘n Amalekitiese man, en my heer het my laat agterbly, omdat ek drie dae gelede siek geword het.
14 Ons het ‘n inval gedoen in die Suidland van die Kretiërs en in dié van Juda en in die Suidland van Kaleb, en Siklag met vuur verbrand.
15 En Dawid vra hom: Sal jy my afbring na hierdie bende? En hy sê: Sweer vir my by God dat u my nie sal doodmaak en my nie sal uitlewer in die hand van my heer nie; dan sal ek u afbring na hierdie bende.
16 En toe hy hom afgebring het, lê hulle daar verstrooid oor die oppervlakte van die hele land, besig om te eet en te drink en fees te vier met die ganse groot buit wat hulle uit die land van die Filistyne en uit die land Juda saamgeneem het.
17 En Dawid het hulle verslaan van die aandskemering af tot die aand van die volgende dag, sodat niemand van hulle vrygeraak het nie, behalwe vier honderd jongmanne wat op kamele gespring en gevlug het.
18 So het Dawid dan alles gered wat die Amalekiete saamgeneem het; ook sy twee vroue het Dawid bevry.
19 Niks van hulle is vermis nie—klein of groot, seuns of dogters, of iets van die buit, niks van alles wat hulle vir hul saamgeneem het nie; Dawid het alles teruggebring.
20 En Dawid het al die kleinvee en beeste afgeneem. Hulle het hul voor die ander vee gedrywe en gesê: Dit is Dawid se buit.
21 Toe Dawid by die twee honderd man kom wat te moeg was om agter Dawid aan te gaan en wat hulle by die spruit Besor laat bly het, trek hulle uit, Dawid en die manskappe wat by hom was, tegemoet; en Dawid het met die manskappe nader gekom en hulle na die welstand gevra.
22 Daarop het al die slegte mense en die deugniete uit die manne wat met Dawid saamgegaan het, begin sê: Omdat hulle nie met ons saamgegaan het nie, sal ons hulle nie van die buit wat ons afgeneem het, gee nie; maar hulle kan elkeen sy vrou en sy kinders saamneem en weggaan.
23 Maar Dawid het gesê: Julle mag nie so maak nie, my broers, met wat die HERE ons gegee het, en Hy het ons bewaar en die bende wat ons oorval het, in ons hand gegee.
24 En wie sou in hierdie saak na julle luister? Want soos die deel van die wat in die geveg aftrek, so is ook die deel van die wat by die pakgoed bly; gelykop moet hulle deel.
25 So is dit dan van dié dag af en verder gewees; ja, hy het dit as ‘n insetting en ‘n verordening vir Israel vasgestel tot vandag toe.
26 Toe Dawid dan in Siklag aankom, het hy van die buit aan die oudstes van Juda, sy stamgenote, gestuur en gesê: Hier is ‘n geskenk vir julle uit die buit van die vyande van die HERE:
27 aan dié in Bet-el en aan dié in Ramot in die Suidland en aan dié in Jattir
28 en aan dié in Aroër en aan dié in Sifmot en aan dié in Estemóa
29 en aan dié in Ragal en aan dié in die stede van die Jeragmeëliete en aan dié in die stede van die Keniete
30 en aan dié in Horma en aan dié in Bor-Asan en aan dié in Atag
31 en aan dié in Hebron en aan al die plekke waar Dawid, hy en sy manne, rondgetrek het.




Hoofstuk 31

1 Terwyl die Filistyne teen Israel veg, het die manne van Israel vir die Filistyne weggevlug, en gesneuweldes het op die gebergte Gilbóa gelê.
2 En die Filistyne het Saul en sy seuns agternagesit, en die Filistyne het Jónatan en Abinádab en Malkisúa, die seuns van Saul, gedood.
3 Toe die geveg dan swaar word teen Saul, en die manne, die boogskutters, hom aantref, het hy gebewe van angs vir die skutters.
4 En Saul het aan sy wapendraer gesê: Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes en deurboor my en dryf die spot met my. Maar sy wapendraer wou nie, omdat hy baie bevrees was. Daarop neem Saul die swaard en val daarin.
5 Toe sy wapendraer sien dat Saul dood was, het hy self ook in sy swaard geval en saam met hom gesterf.
6 So het dan Saul en sy drie seuns en sy wapendraer, ook al sy manne op dieselfde dag almal saam gesterwe.
7 Daarop sien die manne van Israel wat oorkant die vlakte en wat oorkant die Jordaan was, dat die manne van Israel gevlug het en dat Saul en sy seuns dood was, en hulle het die stede verlaat en gevlug; en die Filistyne het gekom en daarin gaan woon.
8 En toe die Filistyne die volgende dag kom om die gesneuweldes te plunder, kry hulle Saul en sy drie seuns nog daar lê op die gebergte Gilbóa.
9 En hulle het sy hoof afgekap en sy wapenrusting uitgetrek en dit in die land van die Filistyne rondgestuur om die blye boodskap te bring in die tempels van hulle afgode en aan die volk.
10 Daarna het hulle sy wapens in die Astarte-tempel neergelê, maar sy lyk teen die muur van Bet-San vasgeslaan.
11 Toe die inwoners van Jabes in Gílead daarvan hoor—wat die Filistyne aan Saul gedoen het—
12 het al die dapper manne hulle gereedgemaak en die hele nag deur getrek; en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand.
13 En hulle het hul gebeente geneem en onder die tamarisk in Jabes begrawe en sewe dae lank gevas.