2 Kronieke - 2 Chronicles

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36


-Reset+

Hoofstuk 1

1 En Salomo, die seun van Dawid, het hom versterk in sy koningskap; en die HERE sy God was met hom en het hom uitermate groot gemaak.
2 En Salomo het met die hele Israel gespreek, met die owerstes oor duisend en oor honderd en met die regters en met elke vors in die hele Israel, die familiehoofde;
3 en hulle het gegaan, Salomo en die hele vergadering saam met hom, na die hoogte wat by Gíbeon is; want daar was die tent van samekoms van God wat Moses, die kneg van die HERE, in die woestyn gemaak het.
4 Maar Dawid het die ark van God uit Kirjat-Jeárim laat bring na die plek wat Dawid daarvoor ingerig het; want hy het daarvoor ‘n tent in Jerusalem opgeslaan.
5 Ook die koperaltaar wat Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, gemaak het, was daar voor die tabernakel van die HERE; en Salomo en die vergadering het dit besoek.
6 En Salomo het daar op die koperaltaar wat by die tent van samekoms behoort het, voor die aangesig van die HERE geoffer en daarop duisend brandoffers gebring.
7 In dieselfde nag het God aan Salomo verskyn en aan hom gesê: Begeer wat Ek jou moet gee.
8 En Salomo het tot God gespreek: U het aan my vader Dawid ‘n groot guns bewys en my in sy plek koning gemaak.
9 HERE God, laat u woord aan my vader Dawid nou bewaarheid word; want U het my koning gemaak oor ‘n volk talryk soos die stof van die aarde.
10 Gee my nou wysheid en kennis, dat ek voor hierdie volk kan uit— en ingaan, want wie kan hierdie groot volk van U regeer?
11 Toe sê God aan Salomo: Omdat dít in jou hart gewees het, en jy nie rykdom, skatte en eer en die lewe van jou haters of selfs ‘n lang lewe begeer het nie, maar wysheid en kennis vir jou begeer het om my volk waaroor Ek jou koning gemaak het, te kan regeer—
12 daarom word dié wysheid en dié kennis aan jou gegee. Ek sal jou ook rykdom en skatte en eer gee soos die konings wat voor jou gewees het, nie gehad het nie, en soos ná jou nie sal wees nie.
13 En Salomo het van die hoogte wat by Gíbeon is, van die tent van samekoms af, in Jerusalem aangekom, en hy het oor Israel geregeer.
14 En Salomo het strydwaens en perderuiters versamel, sodat hy veertien honderd waens en twaalf duisend perderuiters gehad het; en hy het hulle in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel.
15 En die koning het die silwer en die goud in Jerusalem gemaak soos die klippe, en die seders het hy gemaak soos die wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.
16 En die uitvoer van perde vir Salomo het plaasgevind uit Egipte en uit Kwé; handelaars van die koning het hulle uit Kwé gaan haal teen koopprys.
17 En hulle het uit Egipte ‘n wa laat optrek en dit uitgevoer vir ses honderd sikkels silwer en ‘n perd vir honderd en vyftig; en so is dit vir al die konings van die Hetiete en die konings van Aram deur hulle uitgevoer.




Hoofstuk 2

1 En Salomo het gedink om vir die Naam van die HERE ‘n huis te bou en ‘n huis vir sy koningskap.
2 En Salomo het sewentig duisend lasdraers afgetel en tagtig duisend klipkappers op die gebergte en drie duisend ses honderd opsigters oor hulle.
3 Toe laat Salomo Huram, die koning van Tirus, weet: Soos u aan my vader Dawid gedoen het deur aan hom seders te stuur, dat hy vir hom ‘n huis kon bou om in te woon, doen dit ook aan my.
4 Kyk, ek gaan ‘n huis bou vir die Naam van die HERE my God, om dit aan Hom te heilig—om voor sy aangesig reukwerk van speserye aan die brand te steek en die toonbrode gedurig reg te sit en die brandoffers smôrens en saans te bring op die sabbatte en op die nuwemane en op die feestye van die HERE onse God—’n ewige verpligting op Israel.
5 En die huis wat ek gaan bou, sal groot wees; want onse God is groter as al die gode.
6 Maar wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek?
7 Stuur my dan nou ‘n kunsvaardige man om goud en silwer en koper en yster en purperrooi en bloedrooi en pers stowwe te bewerk, en wat verstaan om figure uit te sny saam met die kunstenaars wat by my in Juda en in Jerusalem is, wat my vader Dawid bestel het.
8 Stuur ook aan my seder—, sipres— en sandelhout van die Líbanon af, want ek weet dat u dienaars verstaan om die hout van die Líbanon te kap; en kyk, my dienaars sal saam met u dienaars wees,
9 naamlik om hout in menigte vir my gereed te maak, want die huis wat ek gaan bou, sal groot en wonderbaar wees.
10 En kyk, ek gee as voedsel aan die houtkappers wat die bome kap, aan u dienaars, twintig duisend kor koring en twintig duisend kor gars en twintig duisend bat wyn en twintig duisend bat olie.
11 En Huram, die koning van Tirus, het in ‘n brief gesê wat hy aan Salomo gestuur het: Omdat die HERE sy volk liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel.
12 Verder het Huram gesê: Geloofd sy die HERE, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat aan koning Dawid ‘n wyse seun gegee het, begaafd met insig en verstand, om ‘n huis vir die HERE en ‘n huis vir sy koninkryk te bou.
13 Ek stuur dan nou ‘n kunstenaar, begaafd met verstand, naamlik Huram Abi,
14 die seun van ‘n vrou uit die dogters van Dan, maar wie se vader ‘n man van Tirus is, wat verstaan om goud en silwer, koper, yster, klippe en hout, purperrooi, pers stowwe en fyn linne en bloedrooi stowwe te bewerk; en om allerhande figure uit te sny en om enige kunstige plan uit te dink wat aan hom opgedra word, saam met u kunstenaars en die kunstenaars van my heer, u vader Dawid.
15 Laat my heer dan nou die koring en die gars, die olie en die wyn wat hy gesê het, aan sy dienaars stuur.
16 En óns sal bome uit die Líbanon kap net soveel as u nodig het, en ons sal dit vir u as vlotte oor die see na Jafo bring; dan kan ú dit na Jerusalem laat vervoer.
17 En Salomo het al die uitlanders getel wat in die land van Israel was, volgens die telling wat sy vader Dawid van hulle gehou het, en dit het geblyk dat daar honderd drie en vyftig duisend ses honderd was.
18 En sewentig duisend van hulle het hy lasdraers gemaak en tagtig duisend klipkappers op die gebergte en drie duisend ses honderd opsigters om die mense te laat werk.




Hoofstuk 3

1 En Salomo het die huis van die HERE begin bou in Jerusalem op die berg Moría waar Hy aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek wat Dawid reggemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.
2 En hy het begin bou in die tweede maand, op die tweede dag, in die vierde jaar van sy regering.
3 En dit is die grondplan van Salomo vir die bou van die huis van God: die lengte, in elle volgens die ou maat, sestig el, en die breedte twintig el.
4 En die voorportaal voor die huis—die lengte daarvan voor op die breedte van die huis was twintig el en die hoogte twintig el; en binnekant het hy dit met suiwer goud oorgetrek.
5 En die groot vertrek het hy met sipreshout oordek en dit met goeie goud oorgetrek en daar palmbome en kettings op aangebring.
6 Verder het hy die huis met kosbare stene as versiering oorgetrek, en die goud was goud van Parwáim.
7 Ook het hy die huis, die balke, die drumpels en die mure en deure daarvan met goud oorgetrek en gérubs op die mure uitgesny.
8 Verder het hy die Allerheiligste Vertrek gemaak; die lengte daarvan, voor op die breedte van die huis, was twintig el, en die breedte daarvan twintig el; en hy het dit oorgetrek met fyn goud, van ses honderd talente.
9 En die gewig van die spykers was vyftig sikkels aan goud; ook die bovertrekke het hy met goud oorgetrek.
10 Ook het hy in die Allerheiligste Vertrek twee gérubs gemaak, ‘n werk van beeldhoukuns, en dit met goud oorgetrek.
11 En die vlerke van die gérubs, die lengte daarvan was twintig el; die vlerk van vyf el van die een het geraak aan die muur van die vertrek, terwyl die ander vlerk van vyf el geraak het aan die vlerk van die ander gérub;
12 en die vlerk van die ander gérub van vyf el het geraak aan die muur van die vertrek, en die ander vlerk van vyf el was vas teen die vlerk van die ander gérub.
13 Hierdie gérubs het die vlerke twintig el uitgesprei, en hulle het op hul voete gestaan met hul gesigte na die huis toe.
14 En die voorhangsel het hy gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi en fyn linne en daar gérubs op aangebring.
15 Verder het hy twee pilare voor die huis gemaak; vyf en dertig el was die hoogte, met ‘n kapiteel wat op die top daarvan was, vyf el hoog.
16 Hy het ook kettings gemaak soos ‘n krans en dit op die top van die pilare aangebring; verder het hy honderd granaatjies gemaak en aan die kettings bevestig.
17 En hy het die pilare voor die tempel opgerig, die een regs en die ander links; en die regter-een het hy genoem Jagin, en die linker-een Boas.




Hoofstuk 4

1 Verder het hy ‘n koperaltaar gemaak; twintig el was sy lengte en twintig el sy breedte en tien el sy hoogte.
2 Hy het ook die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was tien el, heeltemal rond; en die hoogte daarvan was vyf el, en ‘n lyn van dertig el kon dit rondom omspan.
3 En daar onderaan het afbeeldings van kolokwinte dit heeltemal rondom omring—tien op ‘n el; hulle het die see rondom omgewe, twee rye kolokwinte, daarmee saam uit een stuk gegiet.
4 Dit het gestaan op twaalf beeste: drie kyk na die noorde, en drie kyk na die weste, en drie kyk na die suide, en drie kyk na die ooste toe; en die see was bo-op hulle, en al hulle agterdele binnekant toe.
5 En die dikte daarvan was ‘n handbreedte, en sy rand was in die vorm van ‘n bekerrand, soos ‘n lelieblom; wat die inhoud betref, het dit drie duisend bat gehou.
6 En hy het tien waskomme gemaak en vyf regs en vyf links gesit om in te was; die gereedskap van die brandoffer moes hulle daarin afspoel, maar die see was vir die priesters om daarin te was.
7 En hy het die goue kandelaars gemaak, tien, volgens die voorskrif daarvan, en dit in die tempel gesit, vyf regs en vyf links.
8 Hy het ook tien tafels gemaak en hulle in die tempel gesit, vyf regs en vyf links; en hy het honderd goue komme gemaak.
9 Verder het hy die voorhof van die priesters gemaak en die groot voorhof en die deure vir die voorhof; en die deure daarvan het hy met koper oorgetrek.
10 En die see het hy aan die suidekant opgestel, teen die ooste na die suide toe.
11 Verder het Huram die potte en die skoppe en die komme gemaak; en Huram het die werk voltooi wat hy vir koning Salomo in die huis van God gedoen het:
12 twee pilare met die bolle en die kapitele op die top van die twee pilare en die twee stukke vlegwerk om die twee bolle van die kapitele wat op die top van die pilare was, te bedek;
13 en die vier honderd granaatjies vir die twee stukke vlegwerk, twee rye granaatjies vir elke vlegwerk om die twee bolle van die kapitele bo-op die pilare te oordek.
14 En hy het die afspoelwaentjies gemaak en die bakke op die afspoelwaentjies gemaak;
15 en die een see en die twaalf beeste daaronder;
16 en die potte en die skoppe en die vurke en al die daarby behorende gereedskap het Huram Abiw vir koning Salomo ten behoewe van die huis van die HERE van gepolyste koper gemaak.
17 In die Jordaanstreek waar die grond diep was, tussen Sukkot en Seréda, het die koning dit gegiet.
18 En Salomo het al hierdie voorwerpe in ‘n oorgroot menigte gemaak, want die gewig van die koper was onberekenbaar.
19 En Salomo het al die voorwerpe gemaak wat in die huis van God was: die goue altaar en die tafels waar die toonbrode op moes lê,
20 en die kandelaars met hulle lampe om volgens voorskrif voor die binneste vertrek te brand, van fyn goud,
21 en die blomwerk en die lampe en die snuiters van goud; dit was die suiwerste goud;
22 en die messe en die komme en die rookpanne en die vuurpanne van fyn goud; en wat die ingang van die huis betref, die binnedeure daarvan na die Allerheiligste en die deure van die huis na die hoofvertrek was van goud.




Hoofstuk 5

1 Toe al die werk gereed was wat Salomo vir die huis van die HERE gedoen het, het Salomo die heilige gawes van sy vader Dawid ingebring, die silwer sowel as die goud, en al die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van God neergesit.
2 En Salomo het die oudstes van Israel en al die stamhoofde, die familie-owerstes van die kinders van Israel, in Jerusalem bymekaar laat kom om die verbondsark van die HERE uit die stad van Dawid, dit is Sion, opwaarts te bring.
3 En al die manne van Israel het by die koning saamgekom op die fees, dit was die sewende maand.
4 Toe al die oudstes van Israel daar kom, het die Leviete die ark opgeneem
5 en die ark en die tent van samekoms met al die heilige voorwerpe wat in die tent was, gebring; die Levitiese priesters het dit opwaarts gebring.
6 En toe koning Salomo en die hele vergadering van Israel wat by hom byeen was, voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie.
7 Verder het die priesters die verbondsark van die HERE na sy plek in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, gebring, onder die vlerke van die gérubs in.
8 Die gérubs het naamlik die vlerke uitgesprei gehou oor die plek van die ark, sodat die gérubs die ark en sy draaghoute van bo af bedek het.
9 En die draaghoute was so lank, dat die punte van die draaghoute, uit die ark uitgaande, vlak voor die binneste vertrek gesien kon word, maar verder buitentoe was hulle nie sigbaar nie; en dit is daar tot vandag toe.
10 Daar was niks in die ark nie as net die twee tafels wat Moses by Horeb ingesit het, toe die HERE ‘n verbond met die kinders van Israel gesluit het by hulle uittog uit Egipte.
11 En toe die priesters uit die heiligdom uitgaan—want al die priesters wat aanwesig was, het hulle geheilig sonder om die afdelings in aanmerking te neem—
12 terwyl die Levitiese sangers almal saam, Asaf, Heman, Jedútun met hulle seuns en hulle broers, in linne gekleed, met simbale en harpe en siters oostelik van die altaar staan, en saam met hulle omtrent honderd en twintig priesters wat op die trompette blaas;
13 en toe die trompetblasers en die sangers almal saam eenstemmig begin om die HERE te prys en te loof, en net toe hulle die stem verhef met die trompette en met die simbale en met die musiekinstrumente, en met: Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! —is die huis, die huis van die HERE, vervul met ‘n wolk.
14 En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul.




Hoofstuk 6

1 Toe het Salomo gesê: Die HERE het gesê dat Hy in donkerheid wil woon.
2 Maar ék het vir U ‘n woonhuis gebou, en ‘n vaste plek vir U om ewig in te bly.
3 Daarop draai die koning sy aangesig om en seën die hele vergadering van Israel, terwyl die hele vergadering van Israel staan.
4 En hy sê: Geloofd sy die HERE, die God van Israel, wie se hande volbring het wat sy mond tot my vader Dawid gespreek en gesê het:
5 Van die dag af dat Ek my volk uit Egipteland uitgelei het, het Ek geen stad verkies uit al die stamme van Israel om ‘n huis te bou, dat my Naam daar sou wees nie; en Ek het geen man verkies om vors oor my volk Israel te wees nie.
6 Maar Ek het Jerusalem verkies, dat my Naam daar sou wees, en Ek het Dawid verkies om oor my volk Israel te wees.
7 Toe dit dan in die hart van my vader Dawid was om ‘n huis te bou vir die Naam van die HERE, die God van Israel,
8 het die HERE aan my vader Dawid gesê: Dat dit in jou hart was om vir my Naam ‘n huis te bou—daarin het jy goed gehandel dat dit in jou hart was.
9 Alleen maar, jy sal die huis nie bou nie, maar jou seun wat uit jou lendene sal voortkom, dié sal vir my Naam die huis bou.
10 En die HERE het sy woord vervul wat Hy gespreek het; sodat ek opgestaan het in die plek van my vader Dawid, en ek sit op die troon van Israel soos die HERE gespreek het; en ek het die huis gebou vir die Naam van die HERE, die God van Israel,
11 en die ark waarin die verbond van die HERE is, wat Hy met die kinders van Israel gesluit het, daar neergesit.
12 Toe het hy gaan staan voor die altaar van die HERE teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande uitgebrei;
13 want Salomo het ‘n koperverhoog gemaak en dit in die middel van die voorhof opgestel; vyf el was sy lengte en vyf el sy breedte en drie el sy hoogte; en hy het daarop gaan staan en neergesink op sy knieë teenoor die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei
14 en gesê: HERE, God van Israel, daar is in die hemel of op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart,
15 wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is.
16 Hou nou ook, HERE, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit ‘n man voor my aangesig ontbreek wat sal sit op die troon van Israel nie, as jou seuns net op hulle weg ag gee, deur te wandel in my wet soos jy voor my aangesig gewandel het.
17 Laat dan nou, HERE, God van Israel, u woord tog bewaarheid word wat U tot u kneg Dawid gespreek het.
18 Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!
19 Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, HERE my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg voor u aangesig bid;
20 sodat u oë oop mag wees dag en nag oor hierdie huis, oor die plek waar U van gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid.
21 Luister dan na die smekinge van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor uit u woonplek, uit die hemel; en as U hoor, vergewe dan.
22 As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom ‘n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer,
23 wil U dan hoor uit die hemel en handel en aan u knegte reg verskaf deur die skuldige te vergelde en sy wandel op sy hoof te lê, en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid.
24 En as u volk Israel verslaan word voor ‘n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul bekeer en u Naam bely en bid en smeek voor u aangesig in hierdie huis,
25 wil U dan hoor uit die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle en hulle vaders gegee het.
26 As die hemel toegesluit is, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig,
27 wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe—want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel—en gee reën op u land wat U aan u volk as ‘n erfenis gegee het.
28 As daar hongersnood in die land is, as daar pes is, as daar brandkoring of heuningdou, sprinkane of kaalvreters is, as sy vyande hom in sy land vol stede dit benoud maak, watter plaag of watter siekte ook al,
29 enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei—
30 wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken—want U alleen ken die hart van die mensekinders—
31 sodat hulle U kan vrees om te wandel in u weë al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.
32 Ja, ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie en uit ‘n ver land kom om u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm ontwil, as hulle kom en na hierdie huis toe bid,
33 wil U dan hoor uit die hemel, uit u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.
34 As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyande op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot U in die rigting van hierdie stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,
35 wil dan uit die hemel hulle gebed hoor en hulle smeking, en aan hulle hul reg verskaf.
36 As hulle teen U sondig—want daar is geen mens wat nie sondig nie—en U op hulle toornig is en hulle aan ‘n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na ‘n land, ver of naby,
37 en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van hulle gevangenskap en sê: Ons het gesondig, ons het verkeerd gehandel, en ons was goddeloos—
38 en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel in die land van hul gevangenskap, van die wat hulle weggevoer het, en hulle bid in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het, en van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,
39 wil dan uit die hemel, uit u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smekinge hoor en aan hulle hul reg verskaf en u volk vergewe wat hulle teen U gesondig het.
40 My God, mag u oë tog nou oop wees en u ore luister na die gebed van hierdie plek.
41 Staan dan nou op na u rusplek, HERE God, U en die ark van u sterkte! Laat u priesters, HERE God, met heil bekleed wees, en laat u gunsgenote hulle verheug in die goeie.
42 HERE God, wys u gesalfde nie af nie; dink aan die gunsbewyse aan u kneg Dawid!




Hoofstuk 7

1 En net toe Salomo sy gebed voleindig het, het die vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer, en die heerlikheid van die HERE het die huis vervul;
2 en die priesters kon nie in die huis van die HERE ingaan nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van die HERE vervul.
3 En toe al die kinders van Israel sien hoe die vuur en die heerlikheid van die HERE op die huis neerdaal, het hulle gekniel met die aangesig na die aarde toe, op die plaveisel, en aanbid en die HERE geprys dat Hy goed is, dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is.
4 En die koning en die hele volk was besig om slagoffers voor die aangesig van die HERE te slag.
5 Koning Salomo het naamlik die slagoffer van twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee geslag; en die koning en die hele volk het die huis van God ingewy,
6 terwyl die priesters op hulle poste gestaan het, ook die Leviete met die musiekinstrumente van die HERE, wat koning Dawid gemaak het, om die HERE te loof dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is, met die loflied van Dawid wat deur hulle voorgedra is. Intussen het die priesters teenoor hulle op die trompette geblaas, en die hele Israel het gestaan.
7 En Salomo het die middel van die voorhof geheilig wat voor die huis van die HERE was; want daar het hy die brandoffers en die vetstukke van die dankoffers berei, omdat die koperaltaar wat Salomo gemaak het, die brandoffer en die spysoffer en die vetstukke nie kon bevat nie.
8 So het Salomo dan in dié tyd die fees gehou, sewe dae lank, en die hele Israel saam met hom, ‘n baie groot vergadering, van die ingang na Hamat tot by die spruit van Egipte.
9 En op die agtste dag het hulle ‘n feestyd gehou, want die inwyding van die altaar het hulle sewe dae lank gevier en die fees sewe dae lank.
10 En op die drie en twintigste dag van die sewende maand het hy die volk na hul tente laat gaan, verheug en vrolik van hart oor die goeie dinge wat die HERE aan Dawid en aan Salomo en aan sy volk Israel gedoen het.
11 En toe Salomo die huis van die HERE en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die HERE en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het,
12 verskyn die HERE in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ‘n offerhuis verkies.
13 As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur,
14 en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.
15 Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.
16 So het Ek dan nou hierdie huis verkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees.
17 En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, deur naamlik te doen net soos Ek jou beveel het, en my insettinge en my verordeninge onderhou,
18 dan sal Ek die troon van jou koningskap bevestig, soos Ek dit jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit ‘n man ontbreek wat in Israel sal heers nie.
19 Maar as júlle afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig,
20 dan sal Ek hulle uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het, en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp en daarvan ‘n spreekwoord en ‘n spotlied maak onder al die volke.
21 En hierdie huis wat so hoog was—elkeen wat daarlangs verbygaan, sal verstom staan en vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie land en met hierdie huis?
22 Dan sal hulle sê: Omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en ander gode aangehang en voor hulle neergebuig en hulle gedien het, daarom het Hy al hierdie onheil oor hulle gebring.




Hoofstuk 8

1 En aan die einde van twintig jaar waarin Salomo die huis van die HERE en sy huis gebou het,
2 het Salomo die stede opgebou wat Huram aan Salomo gegee het, en die kinders van Israel daar laat woon.
3 Daarna het Salomo na Hamat-Soba getrek en dit oorweldig.
4 En hy het Tadmor in die woestyn opgebou, en al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het.
5 Verder het hy Bet-Horon-Bo en Bet-Horon-Onder as vestingstede opgebou met mure, poorte en grendels.
6 Ook Báälat en al die voorraadstede wat Salomo gehad het, en al die stede vir die strydwaens en die stede vir die perderuiters en alles wat Salomo graag wou gebou het in Jerusalem en in die Líbanon en in die hele land van sy heerskappy.
7 Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, wat nie uit Israel was nie—
8 van hulle kinders wat ná hulle oorgebly het in die land, wat die kinders van Israel nie uitgeroei het nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid, tot vandag toe.
9 Maar van die kinders van Israel het Salomo geen slawe gemaak vir sy diens nie, maar hulle was krygsmanne en owerstes van sy beste vegsmanne en owerstes van sy strydwaens en sy perderuiters.
10 En dit was die hoofopsigters van koning Salomo, twee honderd en vyftig wat oor die mense bevel gevoer het.
11 En Salomo het die dogter van Farao uit die stad van Dawid gebring na die huis wat hy vir haar gebou het; want hy het gesê: Geen vrou van my mag woon in die huis van Dawid, die koning van Israel, nie; want dit is heilig, omdat die ark van die HERE daarin gekom het.
12 Toe het Salomo brandoffers aan die HERE gebring op die altaar van die HERE wat hy voor die voorportaal gebou het.
13 Daarop moes hulle na die eis van elke dag offer volgens die gebod van Moses, op die sabbatte en op die nuwemane en op die feestye, drie maal in die jaar—op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees.
14 Ook het hy volgens die voorskrif van sy vader Dawid vir die afdelings van die priesters hulle dienswerk vasgestel; en vir die Leviete hulle ampspligte, om God te prys en te dien voor die priesters na die eis van elke dag; en vir die poortwagters volgens hulle afdelings vir elke poort; want so was die gebod van Dawid, die man van God.
15 En hulle het in geen enkele opsig afgewyk van die gebod van die koning oor die priesters en die Leviete en ten opsigte van die skatkamers nie.
16 So het dan al die werk van Salomo tot stand gekom van die dag af dat die huis van die HERE gegrondves is tot sy voltooiing toe: die huis van die HERE was voltooi.
17 Toe het Salomo na Éseon-Geber getrek en na Elot, aan die seekus in die land Edom.
18 En Huram het aan hom deur sy dienaars skepe gestuur en dienaars wat die see ken; en hulle het saam met Salomo se dienaars in Ofir aangekom, en daarvandaan vier honderd en vyftig talente goud gaan haal en na koning Salomo gebring.




Hoofstuk 9

1 En toe die koningin van Skeba die gerug van Salomo hoor, het sy, ten einde Salomo in Jerusalem met raaisels op die proef te stel, gekom met ‘n baie groot trek en kamele wat speserye en goud in menigte en edelgesteentes dra; en toe sy by Salomo inkom, het sy met hom gespreek oor alles wat in haar hart was.
2 En Salomo het haar al haar woorde verklaar; en geen woord was vir Salomo te diepsinnig om haar dit te verklaar nie.
3 Toe die koningin van Skeba dan die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het,
4 en die voedsel van sy tafel, en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere en sy dranke en hulle klere, en sy trap waarmee hy opklim na die huis van die HERE, was daar in haar geen gees meer nie.
5 Daarop sê sy aan die koning: Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u sake en oor u wysheid.
6 En ek het hulle woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte van u buitengewone wysheid is my nie meegedeel nie; u oortref die gerug wat ek gehoor het.
7 Gelukkig is u manne, en gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan en u wysheid hoor!
8 Geloofd sy die HERE u God wat behae in u gehad het om u op sy troon as koning vir die HERE u God te laat sit! Omdat u God Israel liefhet om dit vir ewig in stand te hou, het Hy u as koning oor hulle aangestel om reg en geregtigheid te doen.
9 Verder het sy aan die koning honderd en twintig talente goud en ‘n groot menigte speserye en edelgesteentes gegee; en daar was nooit soveel speserye as wat die koningin van Skeba aan koning Salomo gegee het nie.
10 Maar ook die dienaars van Huram en die dienaars van Salomo wat goud uit Ofir gebring het, het sandelhout en edelgesteentes aangevoer.
11 En die koning het van die sandelhout trappe vir die huis van die HERE en vir die huis van die koning gemaak, en siters en harpe vir die sangers; en die gelyke daarvan is tevore in die land Juda nie gesien nie.
12 En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee, wat sy maar gevra het, bo wat sy na die koning gebring het. Daarop het sy teruggekeer en na haar land getrek, sy en haar dienaars.
13 En die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was ses honderd ses en sestig talente goud;
14 behalwe wat ingekom het van die koopmans wat rondtrek, en van die handelaars, terwyl ook al die konings van Arabië en die goewerneurs van die land vir Salomo goud en silwer ingebring het.
15 En koning Salomo het twee honderd groot skilde van geslae goud gemaak; ses honderd sikkels geslae goud het hy op elke groot skild gebruik;
16 en drie honderd klein skilde van geslae goud; drie honderd sikkels goud het hy op elke klein skild gebruik; en die koning het dit in die huis van die Líbanon-bos gesit.
17 Verder het die koning ‘n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.
18 En die troon het ses trappe gehad met ‘n voetbank van goud, aan die troon bevestig; en leunings aan weerskante by die sitplek, terwyl twee leeus langs die leunings staan.
19 Daarby het twaalf leeus daar op die ses trappe aan weerskante gestaan: so iets is nooit vir enige koninkryk gemaak nie.
20 En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer is in die dae van Salomo as niks gereken nie.
21 Want die koning het skepe gehad wat na Tarsis gevaar het saam met die dienaars van Huram; een maal in drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud en silwer, ivoor en ape en poue.
22 So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde in rykdom en wysheid.
23 En al die konings van die aarde het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het,
24 terwyl elkeen van hulle sy geskenk saamgebring het: silwervoorwerpe en goue voorwerpe en klere, wapens en speserye, perde en muile, jaar vir jaar.
25 Verder het Salomo vier duisend perdekrippe gehad en strydwaens en twaalf duisend ruiters, en hy het dit in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel.
26 En hy was heerser oor al die konings van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne en tot by die grens van Egipte.
27 Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die seders gemaak soos die wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.
28 En hulle het vir Salomo perde uit Egipte en uit al die lande uitgevoer.
29 En die verdere geskiedenis van Salomo, die vroeëre sowel as die latere, is dit nie beskrywe nie in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Profesie van Ahía, die Siloniet, en in die Gesigte van die siener Jedi oor Jeróbeam, die seun van Nebat?
30 En Salomo het in Jerusalem oor die hele Israel veertig jaar geregeer.
31 Daarna het Salomo met sy vaders ontslaap en is begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Rehábeam het in sy plek koning geword.




Hoofstuk 10

1 En Rehábeam het na Sigem gegaan, want die hele Israel het na Sigem gekom om hom koning te maak.
2 En net toe Jeróbeam, die seun van Nebat, dit hoor—hy was in Egipte waarheen hy vir koning Salomo weggevlug het—het Jeróbeam uit Egipte teruggekom.
3 En hulle het gestuur en hom laat roep. Toe kom Jeróbeam met die hele Israel, en hulle het Rehábeam toegespreek en gesê:
4 U vader het ons juk hard gemaak; maak u dan nou die harde diens van u vader en sy swaar juk wat hy ons opgelê het, ligter; dan sal ons u dien.
5 En hy sê vir hulle: Kom oor drie dae na my terug. En die volk het gegaan.
6 Daarop hou koning Rehábeam raad met die oudstes wat voor sy vader Salomo gedurende sy lewe gestaan het, en hy vra: Wat raai u aan om hierdie volk te antwoord?
7 En hulle het met hom gespreek en gesê: As u vir hierdie volk goed is en hulle behaag en hulle met vriendelike woorde toespreek, sal hulle altyd u dienaars wees.
8 Maar hy het die raad van die oudstes wat hulle hom gegee het, in die wind geslaan en raad gehou met die jongmanne wat saam met hom grootgeword en in sy diens gestaan het.
9 En hy vra hulle: Wat raai julle aan dat ons hierdie volk sal antwoord wat my toegespreek en gesê het: Maak die juk wat u vader ons opgelê het, ligter?
10 En die jongmanne wat saam met hom grootgeword het, antwoord hom en sê: Só moet u die volk antwoord wat met u gespreek en gesê het: U vader het ons juk swaar gemaak, maar maak u dit ligter oor ons—só moet u hulle antwoord: My pinkie is dikker as my vader se lendene.
11 Het my vader dan nou ‘n swaar juk op julle gelaai—ék sal by julle juk nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig—ék sal julle met gésels tugtig.
12 Toe Jeróbeam en die hele volk dan op die derde dag by Rehábeam kom soos die koning gespreek en gesê het: Kom na my terug op die derde dag—
13 het die koning hulle ‘n harde antwoord gegee; koning Rehábeam het die raad van die oudstes in die wind geslaan
14 en met hulle gespreek volgens die raad van die jongmanne en gesê: Het my vader julle juk swaar gemaak—ék sal daar nog byvoeg; het my vader julle met die sweep getugtig—ék sal julle met gésels tugtig.
15 So het die koning dan nie na die volk geluister nie, want dit was ‘n beskikking van God, sodat die HERE sy woord sou vervul wat Hy gespreek het deur die diens van Ahía, die Siloniet, tot Jeróbeam, die seun van Nebat.
16 Toe die hele Israel sien dat die koning nie na hulle luister nie, het die volk die koning geantwoord en gesê: Watter aandeel het ons aan Dawid? En daar is geen erfdeel aan die seun van Isai nie! Elkeen na sy tente toe, Israel! Sorg vir jou eie huis, Dawid! Daarop het die hele Israel na sy tente gegaan.
17 Maar oor die kinders van Israel wat in die stede van Juda gewoon het, oor hulle was Rehábeam koning.
18 Toe stuur koning Rehábeam Hadóram wat oor die dwangarbeid was, maar die kinders van Israel het hom gestenig, sodat hy gesterf het, en koning Rehábeam het hom geweer om op ‘n wa te klim, om na Jerusalem te vlug.
19 So het die Israeliete dan afvallig geword van die huis van Dawid tot vandag toe.




Hoofstuk 11

1 En toe Rehábeam in Jerusalem kom, het hy die huis van Juda en Benjamin, honderd en tagtig duisend krygshaftige jongmanne, byeen laat kom om teen Israel oorlog te voer, om die koningskap vir Rehábeam terug te win.
2 Maar die woord van die HERE het tot Semája, die man van God, gekom en gesê:
3 Spreek met Rehábeam, die seun van Salomo, die koning van Juda, en met die hele Israel in Juda en in Benjamin, en sê:
4 So spreek die HERE: Julle mag nie optrek en teen julle broers oorlog voer nie; julle moet omdraai, elkeen na sy huis, want van My het hierdie saak gekom. Hulle het toe geluister na die woorde van die HERE en omgedraai sonder om teen Jeróbeam op te trek.
5 En Rehábeam het in Jerusalem gewoon en stede as vestings opgebou in Juda.
6 Hy het naamlik Betlehem opgebou, en Etam en Tekóa;
7 en Bet-Sur en Sogo en Adúllam;
8 en Gat en Marésa en Sif;
9 en Adoráim en Lagis en Aséka;
10 en Sorea en Ajalon en Hebron, versterkte stede in Juda en in Benjamin.
11 En hy het die vestings versterk en daarin bevelhebbers aangestel met voorrade voedsel en olie en wyn,
12 en in elkeen van die stede groot skilde en spiese; en hy het hulle uitermate versterk; en Juda en Benjamin het aan hom behoort.
13 En die priesters en die Leviete wat in die hele Israel was, het uit hulle hele grondgebied by hom gestaan.
14 Want die Leviete het hulle weiveld en hulle besitting verlaat en na Juda en Jerusalem getrek; want Jeróbeam en sy seuns het hulle verwerp, sodat hulle geen priesters van die HERE meer kon wees nie.
15 En hy het vir hom priesters aangestel vir die hoogtes en die veldduiwels en die kalwers wat hy gemaak het.
16 En agter hulle aan het uit al die stamme van Israel die wat hulle hart daarop gerig het om die HERE, die God van Israel, te soek, na Jerusalem gekom om aan die HERE, die God van hulle vaders, te offer;
17 en hulle het die koninkryk van Juda versterk en Rehábeam, die seun van Salomo, drie jaar lank bemoedig; want drie jaar lank het hulle in die weg van Dawid en van Salomo gewandel.
18 En Rehábeam het Maglat, die dogter van Jérimot, die seun van Dawid, en van Abíhail, die dogter van Elíab, die seun van Isai, vir hom as vrou geneem.
19 En sy het vir hom seuns gebaar: Jehus en Semárja en Saham.
20 En ná haar het hy Máäga, die dogter van Absalom, geneem, en sy het vir hom Abía en Attai en Sisa en Sélomit gebaar.
21 En Rehábeam het Máäga, die dogter van Absalom, liewer gehad as al sy vroue en sy byvroue; hy het naamlik agttien vroue geneem en sestig byvroue; en hy het die vader van agt en twintig seuns en sestig dogters geword.
22 En Rehábeam het Abía, die seun van Máäga, as hoof, as vors onder sy broers aangestel; want hy wou hom koning maak.
23 En hy het verstandig gehandel en van al sy seuns versprei in al die streke van Juda en Benjamin, in al die versterkte stede, en aan hulle voedsel in oorvloed gegee en ‘n menigte vroue vir hulle gevra.




Hoofstuk 12

1 En toe Rehábeam die koningskap bevestig het en hy sterk was, het hy die wet van die HERE verlaat, en die hele Israel saam met hom.
2 Toe het Sisak, die koning van Egipte, in die vyfde jaar van koning Rehábeam, teen Jerusalem opgetrek—omdat hulle ontrou teenoor die HERE gehandel het—
3 met twaalf honderd strydwaens en sestig duisend perderuiters; en ontelbaar was die manskappe wat saam met hom uit Egipte gekom het: Líbiërs, Sukkiete en Kusiete.
4 En hy het die versterkte stede ingeneem wat aan Juda behoort het, en tot by Jerusalem gekom.
5 Daarop kom die profeet Semája na Rehábeam en die owerstes van Juda wat vanweë Sisak in Jerusalem bymekaargekom het, en sê vir hulle: So spreek die HERE: Júlle het My verlaat; daarom gee Ék julle ook oor in die hand van Sisak.
6 Hierop het die owerstes van Israel en die koning hulle verootmoedig en gesê: Die HERE is regverdig.
7 En toe die HERE sien dat hulle hul verootmoedig, kom die woord van die HERE tot Semája en sê: Hulle het hul verootmoedig: Ek sal hulle nie vernietig nie, maar hulle binnekort uitkoms skenk, en my grimmigheid sal nie deur middel van Sisak oor Jerusalem uitgestort word nie.
8 Maar hulle sal sy knegte word, sodat hulle my diens en die diens van die koninkryke van die lande kan leer ken!
9 En Sisak, die koning van Egipte, het teen Jerusalem opgetrek en die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die huis van die koning weggeneem; hy het alles weggeneem; hy het ook die goue skilde wat Salomo gemaak het, weggeneem.
10 Toe maak koning Rehábeam in die plek daarvan koperskilde, en hy het dit aan die owerstes van die hardlopers toevertrou wat die ingang van die koning se huis bewaak.
11 So dikwels as die koning in die huis van die HERE ingaan, kom die hardlopers en dra dit en bring dit weer terug in die wagkamer van die hardlopers.
12 Maar weens sy verootmoediging het die toorn van die HERE van hom gewyk, sodat Hy hom nie geheel en al vernietig het nie; ook was daar in Juda nog goeie dinge.
13 En koning Rehábeam het hom versterk in Jerusalem en geregeer; want Rehábeam was een en veertig jaar oud toe hy koning geword het, en het sewentien jaar geregeer in Jerusalem, die stad wat die HERE uit al die stamme van Israel verkies het om sy Naam daar te vestig; en die naam van sy moeder was Naäma, die Ammonitiese.
14 En hy het gedoen wat verkeerd was, want hy het nie sy hart gerig om die HERE te soek nie.
15 En die geskiedenis van Rehábeam, die vroeëre en die latere, is dit nie beskrywe in die Geskiedenis van die profeet Semája en van die siener Iddo, volgens geslagsregister nie? En daar was gedurigdeur oorloë tussen Rehábeam en Jeróbeam.
16 En Rehábeam het ontslaap met sy vaders en is begrawe in die stad van Dawid; en sy seun Abía het in sy plek koning geword.




Hoofstuk 13

1 In die agttiende jaar van koning Jeróbeam het Abía oor Juda koning geword.
2 Drie jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Migája, die dogter van Uriël uit Gíbea. En daar was oorlog tussen Abía en Jeróbeam.
3 En Abía het die oorlog begin met ‘n leër van dapper krygsmanne, vier honderd duisend jong manskappe; en Jeróbeam het hom in slagorde teen hom opgestel met agt honderd duisend jong manskappe, dapper helde.
4 Toe gaan Abía bo-op die berg Semaráim staan wat in die gebergte van Efraim is, en sê: Luister na my, Jeróbeam en die hele Israel!
5 Behoort julle nie te weet dat die HERE, die God van Israel, die koningskap oor Israel aan Dawid vir ewig gegee het, aan hom en sy seuns as ‘n soutverbond nie?
6 Maar Jeróbeam, die seun van Nebat, die dienaar van Salomo, die seun van Dawid, het opgestaan en teen sy heer gerebelleer.
7 En ligsinnige manne, deugniete, het by hom vergader en hulle versit teen Rehábeam, die seun van Salomo; en Rehábeam was jonk en week van hart, sodat hy hulle geen teëstand kon bied nie.
8 En nou dink julle om teëstand te bied aan die koningskap van die HERE in die hand van die seuns van Dawid, omdat julle ‘n groot menigte is en daar goue kalwers by julle is wat Jeróbeam vir julle as gode gemaak het.
9 Het julle nie die priesters van die HERE, die seuns van Aäron, en die Leviete verdrywe en vir julle priesters gemaak soos die volke van die lande nie? Elkeen wat kom met ‘n jong bul en sewe ramme om hom te laat aanstel, dié het priester geword van die wat geen gode is nie.
10 Maar ons—die HERE is onse God, en ons het Hom nie verlaat nie; en as priesters dien die seuns van Aäron die HERE, en die Leviete is in die dienswerk.
11 En hulle steek brandoffers vir die HERE aan die brand, elke môre en elke aand, en reukwerk van speserye, en hulle sorg vir die toonbrode op die rein tafel en vir die goue kandelaar met sy lampe, om dit elke aand op te steek; want ons onderhou die ordening van die HERE onse God, maar júlle het Hom verlaat.
12 En kyk, by ons is God aan die hoof en sy priesters met die alarmtrompette om teen julle alarm te blaas. Kinders van Israel, voer tog nie oorlog teen die HERE, die God van julle vaders nie, want julle sal nie voorspoedig wees nie.
13 Maar Jeróbeam het die hinderlaag laat omtrek om hulle van agter by te kom, sodat hulle voor Juda was en die hinderlaag agter hulle.
14 En toe Juda omdraai, was die geveg meteens voor en agter hulle; en hulle het die HERE aangeroep, terwyl die priesters op die trompette blaas.
15 Daarop hef die manskappe van Juda ‘n krygsgeskreeu aan; en toe die manskappe van Juda die krygsgeskreeu aanhef, het God Jeróbeam en die hele Israel voor Abía en Juda verslaan.
16 En die kinders van Israel het gevlug vir Juda, en God het hulle in hul hand gegee.
17 En Abía met sy manskappe het ‘n groot slag onder hulle geslaan, sodat van Israel vyf honderd duisend jong manskappe as gesneuweldes geval het.
18 En die kinders van Israel is in dié tyd verneder, maar die kinders van Juda het sterk geword, omdat hulle op die HERE, die God van hulle vaders, gesteun het.
19 En Abía het Jeróbeam agternagejaag en stede van hom afgeneem: Bet-el met sy onderhorige plekke, en Jesána met sy onderhorige plekke, en Efron met sy onderhorige plekke.
20 En Jeróbeam het geen krag meer behou in die dae van Abía nie, en die HERE het hom swaar getref, sodat hy gesterf het.
21 Maar Abía het hom versterk; en hy het vir hom veertien vroue geneem en die vader van twee en twintig seuns en sestien dogters geword.
22 En die verdere geskiedenis van Abía, sy weë en sy woorde, is beskrywe in die Uitleg van die profeet Iddo.




Hoofstuk 14

1 En Abía het ontslaap met sy vaders en is begrawe in die stad van Dawid, en sy seun Asa het in sy plek koning geword. In sy dae het die land tien jaar gerus.
2 En Asa het gedoen wat goed en reg was in die oë van die HERE sy God:
3 hy het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die klippilare stukkend gebreek en die heilige boomstamme omgekap
4 en aan Juda gesê om die HERE, die God van hulle vaders, te soek en om die wet en die gebod te doen.
5 Ook het hy uit al die stede van Juda die hoogtes en die sonpilare verwyder, en die koninkryk het gerus onder hom.
6 Verder het hy versterkte stede gebou in Juda, want die land was rustig; en daar was geen oorlog teen hom in daardie jare nie, omdat die HERE hom rus verskaf het.
7 Daarom het hy aan Juda gesê: Laat ons hierdie stede opbou en met ‘n muur omring en met torings, poorte en grendels, terwyl die land nog vry voor ons lê; want ons het die HERE onse God gesoek—ons het gesoek, en Hy het ons rus verskaf rondom. Hulle het toe gebou en was voorspoedig.
8 En Asa het ‘n leër gehad wat skild en spies dra: uit Juda drie honderd duisend man, en uit Benjamin, wat die skild dra en die boog span, twee honderd en tagtig duisend; hulle was almal dapper helde.
9 En Serag, die Kusiet, het teen hulle uitgetrek met ‘n leër van ‘n miljoen met drie honderd strydwaens; en hy het gekom tot by Marésa.
10 Toe trek Asa uit hom tegemoet, en hulle het die slagorde opgestel in die dal Sefáta by Marésa.
11 En Asa het die HERE sy God aangeroep en gesê: HERE, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, HERE onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; HERE, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie.
12 En die HERE het die Kusiete voor Asa en Juda verslaan, en die Kusiete het gevlug.
13 En Asa en die manskappe wat by hom was, het hulle agtervolg tot by Gerar; en van die Kusiete het soveel geval, dat daar vir hulle geen herstel moontlik was nie; want hulle was gebreek voor die aangesig van die HERE en voor sy leër. En hulle het ‘n baie groot buit geneem;
14 en al die stede rondom Gerar oorweldig; want die skrik vir die HERE was op hulle. En hulle het al die stede geplunder, want daar was ‘n groot buit in.
15 Hulle het ook die tente met die vee oorweldig en kleinvee in menigte en kamele weggevoer. Daarna het hulle na Jerusalem teruggekeer.




Hoofstuk 15

1 Toe het die Gees van God op Asárja, die seun van Oded, gekom;
2 en hy het uitgegaan om Asa te ontmoet en vir hom gesê: Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.
3 En daar was baie dae dat Israel sonder die ware God was en sonder ‘n lerende priester en sonder wet.
4 Maar as hulle in die nood hul tot die HERE, die God van Israel, bekeer het en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind.
5 En in dié tye was daar geen vrede vir wie uit— of ingegaan het nie, maar groot beroering oor al die inwoners van die lande;
6 en nasie het teen nasie en stad teen stad gebots, omdat God hulle deur allerhande nood in verwarring gebring het.
7 Wees julle dan sterk, en laat julle hande nie slap hang nie, want daar is loon volgens julle werk.
8 En toe Asa hierdie woorde en die profesie hoor wat Asárja, die seun van Oded, gespreek het, het hy moed geskep en die verfoeisels verwyder uit die hele land Juda en Benjamin en uit die stede wat hy op die gebergte van Efraim ingeneem het; en die altaar van die HERE wat voor die voorportaal van die HERE was, het hy herstel.
9 Daarop vergader hy die hele Juda en Benjamin, ook die vreemdelinge wat uit Efraim en Manasse en uit Símeon by hulle was; want uit Israel het hulle in menigte na hom oorgeloop toe hulle sien dat die HERE sy God met hom was.
10 En hulle het in Jerusalem byeengekom, in die derde maand van die vyftiende jaar van die regering van Asa,
11 en dieselfde dag aan die HERE geoffer van die buit wat hulle ingebring het, sewe honderd beeste en sewe duisend stuks kleinvee.
12 En hulle het die verbond aangegaan om die HERE, die God van hulle vaders, met hul hele hart en met hul hele siel te soek.
13 En elkeen wat die HERE, die God van Israel, nie soek nie, sou gedood word, klein en groot, manne sowel as vroue.
14 En hulle het vir die HERE gesweer met ‘n groot stem en met gejuig en met trompette en basuine.
15 En die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het met hul hele hart gesweer en met hul hele wil Hom gesoek; en Hy het Hom deur hulle laat vind, en die HERE het hulle rus verskaf rondom.
16 Ja, selfs het hy Máäga, die moeder van koning Asa, afgesit as gebiedster, omdat sy ‘n afgryslike voorwerp vir Asjéra gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp omgekap en stukkend gestamp en in die dal Kidron verbrand.
17 Die hoogtes is wel nie uit Israel verwyder nie, maar Asa se hart was volkome al sy dae.
18 En hy het die heilige gawes van sy vader en sy eie heilige gawes in die huis van God ingebring: silwer en goud en allerhande voorwerpe.
19 En daar was geen oorlog tot in die vyf en dertigste jaar van die regering van Asa nie.




Hoofstuk 16

1 In die ses en dertigste jaar van die regering van Asa het Baésa, die koning van Israel, opgetrek teen Juda en Rama gebou om niemand van Asa, die koning van Juda, te laat uit— of ingaan nie.
2 Toe bring Asa silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die HERE en van die huis van die koning en stuur dit na Bénhadad, die koning van Aram, wat in Damaskus gewoon het, om te sê:
3 Daar is ‘n verbond tussen my en u, en tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur u silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van Israel, dat hy kan optrek weg van my af.
4 En Bénhadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte gestuur teen die stede van Israel, en hulle het Ijon en Dan en Abel-Máim en al die voorraadstede van Náftali verwoes.
5 En sodra Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en sy werk gestaak.
6 Toe neem koning Asa die hele Juda, en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en hy het daarmee Geba en Mispa gebou.
7 En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak.
8 Was die Kusiete en die Libiërs nie ‘n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het;
9 want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.
10 Maar Asa het hom vererg vir die siener en hom in die gevangenis gesit, want hy was hieroor woedend op hom; ook het Asa in dieselfde tyd sommige uit die volk verdruk.
11 En kyk, die geskiedenis van Asa die vroeëre en die latere, dit is beskrywe in die boek van die konings van Juda en Israel.
12 En in die nege en dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die HERE nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere.
13 En Asa het ontslaap met sy vaders en gesterwe in die een en veertigste jaar van sy regering.
14 En hulle het hom begrawe in sy graf wat hy vir hom in die stad van Dawid gegrawe het, en hom op die bed neergelê wat vol speserye was, en dit van allerhande soorte, volgens die kuns van ‘n salfmenger klaargemaak; en hulle het vir hom ‘n buitengewoon groot wierookbrand aangesteek.




Hoofstuk 17

1 En sy seun Jósafat het in sy plek koning geword en hom versterk teen Israel.
2 En hy het ‘n leërmag in al die versterkte stede van Juda geplaas en wagposte in die land Juda opgestel en in die stede van Efraim wat sy vader Asa ingeneem het.
3 En die HERE was met Jósafat, want hy het in die vroeëre weë van sy vader Dawid gewandel en die Baäls nie gesoek nie,
4 maar die God van sy vader gesoek en in sy gebooie gewandel en nie gedoen soos Israel nie.
5 Daarom het die HERE die koningskap in sy hand bevestig; en die hele Juda het aan Jósafat geskenke gegee, sodat hy rykdom en eer in oorvloed gehad het.
6 En sy hart het moedig geword in die weë van die HERE, en verder het hy die hoogtes en die heilige boomstamme uit Juda verwyder.
7 En in die derde jaar van sy regering het hy sy owerstes Ben-Hail en Obádja en Sagaría en Netáneël en Migája gestuur om in die stede van Juda onderrig te gee;
8 en saam met hulle die Leviete Semája en Netánja en Sebádja en Asahel en Semíramot en Jónatan en Adónia en Tobía en Tob-Adónia, die Leviete; en saam met hulle die priesters Elisáma en Joram.
9 En hulle het in Juda onderrig gegee met die wetboek van die HERE by hulle, en in al die stede van Juda rondgegaan en onder die volk onderrig gegee.
10 En ‘n skrik vir die HERE het gekom oor al die koninkryke van die lande wat rondom Juda was, sodat hulle nie teen Jósafat oorlog gevoer het nie.
11 En van die Filistyne het vir Jósafat geskenke en ‘n vrag silwer gebring; selfs die Arabiere het vir hom kleinvee gebring: sewe duisend sewe honderd ramme en sewe duisend sewe honderd bokke.
12 So het Jósafat dan aldeur groter geword, buitengewoon groot, en in Juda forte en voorraadstede gebou.
13 En hy het groot voorrade in die stede van Juda gehad, en krygsmanne, dapper helde, in Jerusalem.
14 En dit was hulle getal volgens hulle families: Van Juda was owerstes oor duisend: die owerste Adna en saam met hom drie honderd duisend dapper helde;
15 en naas hom was die owerste Jóhanan en saam met hom twee honderd en tagtig duisend;
16 en naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig getoon het vir die HERE, en saam met hom twee honderd duisend dapper helde;
17 en uit Benjamin was Éljada, ‘n dapper held, en saam met hom twee honderd duisend, gewapen met boog en skild;
18 en naas hom was Jósabad en saam met hom honderd en tagtig duisend, vir kommando gewapen.
19 Hulle was in die diens van die koning, behalwe die wat die koning in die versterkte stede deur die hele Juda geplaas het.




Hoofstuk 18

1 En toe Jósafat rykdom en eer in oorvloed gehad het, het hy hom verswaer met Agab.
2 En ná verloop van enkele jare het hy afgetrek na Agab, na Samaría, en Agab het vir hom en die manskappe wat by hom was, skape en beeste in menigte geslag en hom aangehits om teen Ramot in Gílead op te trek.
3 Toe sê Agab, die koning van Israel, vir Jósafat, die koning van Juda: Sal u met my saam na Ramot in Gílead trek? En hy antwoord hom: Ek is soos u, en my volk soos u volk, en ons sal saam met u in die oorlog wees.
4 Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die HERE.
5 Toe laat die koning van Israel die profete, vier honderd man, bymekaarkom en sê vir hulle: Sal ons teen Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hulle antwoord: Trek op, en God sal dit in die hand van die koning gee.
6 Maar Jósafat sê: Is hier nie nog ‘n profeet van die HERE, dat ons deur hom kan raadpleeg nie?
7 En die koning van Israel antwoord Jósafat: Daar is nog een man om die HERE deur hom te raadpleeg; maar ék haat hom, want hy profeteer oor my niks goeds nie, maar altyd onheil; dit is Miga, die seun van Jimla. En Jósafat sê: Die koning moet nie so spreek nie!
8 Daarop roep die koning van Israel ‘n hofdienaar en sê: Gaan haal gou vir Miga, die seun van Jimla.
9 Onderwyl die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, elkeen op sy troon sit, beklee met koninklike klere, en hulle op ‘n dorsvloer sit by die ingang van die poort van Samaría, en al die profete voor hulle profeteer,
10 het Sedekía, die seun van Kenaäna, vir hom ysterhorings gemaak en gesê: So spreek die HERE: Hiermee sal u die Arameërs stoot totdat hulle vernietig is.
11 En so het al die profete geprofeteer en gesê: Trek op na Ramot in Gílead en u sal voorspoedig wees, en die HERE sal dit in die hand van die koning gee.
12 Toe sê die boodskapper wat gegaan het om Miga te roep, vir hom dít: Kyk, die woorde van die profete is uit een mond goed vir die koning: laat jou woord nou tog wees soos die van een van hulle, en spreek goeie dinge.
13 Maar Miga sê: So waar as die HERE leef, wat God my sal sê, dit sal ek spreek!
14 Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hy antwoord: Trek op, en u sal voorspoedig wees, en hulle sal in julle hand gegee word.
15 En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die HERE tot my moet spreek nie?
16 Daarop antwoord hy: Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge soos skape wat geen wagter het nie. En die HERE het gesê: Hulle het geen heer nie; laat hulle elkeen in vrede teruggaan na sy huis.
17 Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Het ek u nie gesê hy profeteer oor my niks goeds nie, maar onheil?
18 Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die HERE: Ek het die HERE sien sit op sy troon, terwyl al die hemelse leërskare aan sy regter— en sy linkerhand staan.
19 En die HERE het gesê: Wie sal Agab, die koning van Israel, oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so.
20 Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee?
21 En hy sê: Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so.
22 En nou, kyk, die HERE het ‘n leuengees in die mond van hierdie profete van u gegee, terwyl die HERE tog onheil oor u gespreek het.
23 Daarop kom Sedekía, die seun van Kenaäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê: Langs watter weg het die Gees van die HERE van my af weggegaan om met jou te spreek?
24 En Miga antwoord: Kyk, jy sal dit sien op dieselfde dag as jy van kamer tot kamer sal gaan om jou weg te steek.
25 Maar die koning van Israel sê: Neem Miga en bring hom terug by Amon, die owerste van die stad, en by Joas, die seun van die koning.
26 En julle moet sê: So spreek die koning: Sit hierdie man in die gevangenis en spysig hom met brood van verdrukking en water van verdrukking totdat ek behoue tuiskom.
27 Daarop sê Miga: As u ooit behoue tuiskom, dan het die HERE nie deur my gespreek nie. Verder sê hy: Volke, luister almal saam!
28 En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na Ramot in Gílead.
29 En die koning van Israel het aan Jósafat gesê: Ek sal my onkenbaar maak en in die geveg kom; trek u maar u eie klere aan. So het die koning van Israel hom dan onkenbaar gemaak, en hulle het in die geveg gegaan.
30 En die koning van Aram het die owerstes van sy strydwaens bevel gegee en gesê: Julle moet nie klein of groot beveg nie, net die koning van Israel alleen.
31 En sodra die owerstes van die waens Jósafat sien, sê hulle: Dit is die koning van Israel! En hulle het hom omsingel om te veg; maar Jósafat het geskreeu, en die HERE het hom gehelp, en God het hulle van hom af weggelok.
32 En toe die owerstes van die waens sien dat dit nie die koning van Israel was nie, draai hulle agter hom weg.
33 Toe het ‘n man in sy eenvoudigheid die boog gespan en die koning van Israel getref tussen die aanhegsels en die pantser. Daarop sê hy aan die drywer: Ruk om en bring my uit die leër uit, want ek is gewond.
34 En die geveg het dié dag toegeneem, terwyl die koning hom staande hou in die strydwa teenoor die Arameërs tot die aand toe; maar teen sononder het hy gesterwe.




Hoofstuk 19

1 Maar toe Jósafat, die koning van Juda, behoue na sy huis in Jerusalem terugkom,
2 het die siener Jehu, die seun van Hanáni, uitgegaan hom tegemoet, en aan koning Jósafat gesê: Moet ‘n mens die goddelose help, en het u lief die wat die HERE haat? Daarom kom daar nou ‘n toorn op u van die HERE.
3 Tog is daar goeie dinge by u gevind, want u het die heilige boomstamme uit die land uitgeroei en u hart daarop gerig om God te soek.
4 En Jósafat het in Jerusalem gewoon, en hy het weer uitgegaan onder die volk, van Berséba af tot by die gebergte van Efraim, en hulle laat terugkeer tot die HERE, die God van hulle vaders.
5 En hy het regters aangestel in die land, in al die versterkte stede van Juda, in elke stad.
6 En hy het aan die regters gesê: Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE; en Hy is by julle in die regspraak.
7 Mag die skrik vir die HERE dan nou op julle wees; handel nougeset, want by die HERE onse God is geen onreg of partydigheid of aanneming van geskenke nie.
8 En ook in Jerusalem het Jósafat sommige van die Leviete en van die priesters en van die familiehoofde uit Israel aangestel vir die gereg van die HERE en vir regsake. En hulle het in Jerusalem teruggekom.
9 En hy het hulle bevel gegee en gesê: So moet julle handel in die vrees van die HERE, met getrouheid en met ‘n volkome hart.
10 En by al die regsake wat voor julle kom vanweë julle broers wat in hulle stede woon, oor moord, oor wette en gebooie en insettinge en verordeninge, moet julle hulle waarsku, sodat hulle hul nie skuldig maak teen die HERE en ‘n toorn oor julle en oor julle broers kom nie; so moet julle handel, dat julle jul nie skuldig maak nie.
11 En kyk, Amárja, die hoofpriester, is oor julle vir enige saak van die HERE, en Sebádja, die seun van Ismael, die bevelhebber van die huis van Juda, vir enige saak van die koning, en as opsigters staan die Leviete tot julle beskikking; julle moet sterk wees en dit doen. En mag die HERE met die goeies wees!




Hoofstuk 20

1 En daarna het die kinders van Moab en die kinders van Ammon, en saam met hulle ‘n deel van die Meüniete teen Jósafat gekom om te veg.
2 Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom ‘n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar—dit is Éngedi—
3 het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep.
4 En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die HERE te soek.
5 Toe gaan Jósafat in die vergadering van Juda en Jerusalem staan, in die huis van die HERE, voor die nuwe voorhof;
6 en hy sê: HERE, God van ons vaders, is U nie God in die hemel nie, en is U nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie.
7 Het U, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?
8 En hulle het daarin gaan woon en daarin vir U ‘n heiligdom tot eer van u Naam gebou, met die gedagte:
9 As daar oor ons onheil kom—swaard, straf of pes of hongersnood—sal ons voor hierdie huis en voor u aangesig gaan staan; want u Naam is in hierdie huis; en ons sal U aanroep uit ons benoudheid, dat U kan hoor en verlos.
10 En hier is nou die kinders van Ammon en Moab en die mense van die gebergte Seïr, onder wie U Israel nie toegestaan het om te trek by hulle koms uit Egipteland nie; want hulle het van hulle weggedraai en hulle nie verdelg nie.
11 Ja, kyk, hulle vergeld ons dit deur te kom om ons uit u besitting te verdrywe wat U aan ons as ‘n eiendom gegee het.
12 Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.
13 En die hele Juda het voor die HERE gestaan, ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns.
14 Toe kom die Gees van die HERE in die midde van die vergadering op Jahásiël, die seun van Sagaría, die seun van Benája, die seun van Jeï-el, die seun van Mattánja, die Leviet uit die kinders van Asaf;
15 en hy het gesê: Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.
16 Trek môre af teen hulle: kyk, hulle kom op met die hoogte Hassis, en julle sal hulle aantref aan die kant van die dal voor die woestyn Jerúel.
17 Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees.
18 Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die HERE neergeval om die HERE te aanbid.
19 En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met ‘n baie groot stem te prys.
20 Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.
21 En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
22 En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE ‘n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.
23 Die kinders van Ammon en Moab het naamlik opgetree teen die inwoners van die gebergte Seïr om uit te roei en te verdelg; en toe hulle met die inwoners van Seïr klaar was, het hulle mekaar in die verderf gehelp.
24 En toe Juda op die wagkop by die woestyn kom en hulle na die menigte kyk, lê hulle daar dood op die grond; en niemand het vrygeraak nie.
25 Daarop het Jósafat en sy manskappe gekom om die buit in te samel en hulle het by hulle ‘n menigte goed en klere en kosbare voorwerpe gekry, en het soveel vir hulle gebuit dat hulle dit nie kon wegdra nie; en hulle was drie dae lank besig om die buit in te samel, want dit was groot.
26 En op die vierde dag het hulle in die Lofdal byeengekom, want daar het hulle die HERE geloof; daarom het hulle dié plek Lofdal genoem tot vandag toe.
27 Toe draai al die manne van Juda en Jerusalem om, met Jósafat aan hulle hoof, om met vreugde na Jerusalem terug te gaan; want die HERE het aan hulle vreugde verskaf oor hul vyande.
28 En hulle het Jerusalem ingetrek met harpe en siters en trompette, na die huis van die HERE.
29 En die skrik vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die HERE teen die vyande van Israel gestry het.
30 Verder het die koninkryk van Jósafat gerus, en sy God het hom rondom rus verskaf.
31 En Jósafat het oor Juda geregeer; hy was vyf en dertig jaar oud toe hy koning geword het, en vyf en twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Asuba, die dogter van Silhi.
32 En hy het gewandel in die weg van sy vader Asa en daar nie van afgewyk nie, en het gedoen wat reg was in die oë van die HERE.
33 Net die hoogtes is nie afgeskaf nie: die volk het nog nie hulle hart op die God van hulle vaders gerig nie.
34 En die verdere geskiedenis van Jósafat, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van Jehu, die seun van Hanáni, wat opgeneem is in die Boek van die konings van Israel.
35 Maar daarna het Jósafat, die koning van Juda, ‘n bondgenootskap aangegaan met Ahásia, die koning van Israel, wat goddeloos gehandel het.
36 En hy het hom as bondgenoot geneem om skepe te bou om na Tarsis te vaar; en hulle het skepe gebou in Éseon-Geber.
37 Maar Eliëser, die seun van Dódawa, uit Marésa, het teen Jósafat geprofeteer en gesê: Omdat u ‘n bondgenootskap met Ahásia aangegaan het, verbreek die HERE u werk. En die skepe het skipbreuk gely, sodat hulle nie in staat was om na Tarsis te vaar nie.




Hoofstuk 21

1 En Jósafat het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid; en sy seun Joram het in sy plek koning geword.
2 En hy het broers gehad, seuns van Jósafat: Asárja en Jéhiël en Sagaría en Asarjáhu en Mígael en Sefátja; hulle was almal seuns van Jósafat, die koning van Israel.
3 En hulle vader het hulle baie geskenke gegee in silwer en goud en in kosbaarhede saam met versterkte stede in Juda; maar die koningskap het hy aan Joram gegee, want hy was die eersgeborene.
4 Maar toe Joram die koningskap van sy vader aanvaar het en homself versterk het, het hy al sy broers met die swaard vermoor en ook sommige van die owerstes van Israel.
5 Twee en dertig jaar was Joram oud toe hy koning geword het, en hy was agt jaar lank koning in Jerusalem.
6 En hy het in die weg van die konings van Israel gewandel soos die huis van Agab gedoen het, want hy het die dogter van Agab as vrou gehad en het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE.
7 Maar die HERE wou die huis van Dawid nie vernietig nie ter wille van die verbond wat Hy met Dawid gesluit het, en volgens sy belofte om vir hom en sy seuns altyd ‘n lamp te gee.
8 In sy dae het die Edomiete van Juda afvallig geword en ‘n koning oor hulle aangestel.
9 Daarom het Joram oorgetrek saam met sy owerstes en al sy strydwaens; en toe hy hom in die nag klaargemaak het, het hy die Edomiete verslaan wat rondom hom was, en om die owerstes van die waens.
10 So het die Edomiete dan van Juda afvallig geword, tot vandag toe; in dieselfde tyd het Libna afvallig geword onder sy mag uit, want hy het die HERE, die God van sy vaders, verlaat.
11 Hy het ook hoogtes op die berge van Juda gemaak en die inwoners van Jerusalem laat hoereer en Juda verlei.
12 Toe kom daar ‘n brief van die profeet Elía by hom aan om te sê: So spreek die HERE, die God van u vader Dawid: Omdat u in die weë van u vader Jósafat en in die weë van Asa, die koning van Juda, nie gewandel het nie,
13 maar gewandel het in die weg van die konings van Israel en Juda, en die inwoners van Jerusalem laat hoereer het volgens die hoererye van die huis van Agab, en selfs u broers, die huis van u vader, vermoor het, wat beter was as u—
14 kyk, die HERE sal ‘n groot plaag stuur onder u volk en onder u seuns en onder u vroue en onder al u goed,
15 en u self sal aan baie siektes ly, aan ‘n siekte van u ingewande, totdat u ingewande vanweë die siekte uitkom, jare lank.
16 Toe verwek die HERE teen Joram die gees van die Filistyne en van die Arabiere wat langsaan die Kusiete is—
17 hulle het teen Juda opgetrek en dit verower en al die goed weggevoer wat in die huis van die koning te vinde was, selfs ook sy seuns en sy vroue, sodat daar vir hom geen seun oorgebly het nie, behalwe Jóahas, die jongste van sy seuns.
18 En ná dit alles het die HERE hom in sy ingewande aangetas met ‘n siekte waar geen genesing voor was nie.
19 En ná enige tyd, naamlik teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het; en sy volk het vir hom geen wierookbrand gemaak soos die brand vir sy vaders nie.
20 Hy was twee en dertig jaar oud toe hy koning geword het en het agt jaar in Jerusalem geregeer; en hy het heengegaan sonder dat hulle hom terug verlang het; en hy is begrawe in die stad van Dawid, maar nie in die grafte van die konings nie.




Hoofstuk 22

1 Toe maak die inwoners van Jerusalem Ahásia, sy jongste seun, koning in sy plek; want die bende wat met die Arabiere in die laer gekom het, het al die oueres gedood. En Ahásia, die seun van Joram, die koning van Juda, het koning geword.
2 Twee en twintig jaar was Ahásia oud toe hy koning geword het, en een jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Atália, die dogter van Omri.
3 Hy het ook gewandel in die weë van die huis van Agab, want sy moeder was sy raadgeefster om goddeloos te handel.
4 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE soos die huis van Agab, want húlle was sy raadgewers ná die dood van sy vader, hom tot ‘n verderf.
5 Hy het ook volgens hulle raad gewandel en met Joram, die seun van Agab, die koning van Israel, saamgetrek in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram, by Ramot in Gílead; maar die Arameërs het Joram gewond.
6 En hy het teruggekom om hom in Jísreël te laat genees van die wonde wat hom toegebring is by Rama in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram; en Ahásia, die seun van Joram, die koning van Juda, het afgekom om Joram, die seun van Agab, in Jísreël te besoek, want hy was siek.
7 Maar die ondergang van Ahásia was van God, dat hy na Joram moes kom; en daar aangekom, het hy saam met Joram uitgetrek teen Jehu, die seun van Nimsi, wat die HERE gesalf het om die huis van Agab uit te roei.
8 En toe Jehu die strafgerig voltrek aan die huis van Agab, het hy die owerstes van Juda en die seuns van die broers van Ahásia, die dienaars van Ahásia, aangetref en hulle gedood.
9 Daarna het hy Ahásia gesoek, en hulle het hom gevang terwyl hy in Samaría wegkruip en hom na Jehu gebring; en hulle het hom gedood en hom begrawe, want hulle het gesê: Hy is die seun van Jósafat, wat die HERE met sy hele hart gesoek het. En daar was niemand in die huis van Ahásia wat in staat was om te regeer nie.
10 Toe Atália, die moeder van Ahásia, sien dat haar seun dood was, het sy haar gereedgemaak en die hele koninklike geslag van die huis van Juda omgebring.
11 Maar Jósabat, die dogter van die koning, het Joas, die seun van Ahásia, geneem en hom gesteel onder die koning se seuns uit wat gedood moes word, en hom en sy pleegmoeder in die beddekamer gebring; en Jósabat, die dogter van koning Joram, die vrou van die priester Jójada—want sy was die suster van Ahásia—het hom vir Atália weggesteek, sodat sy hom nie gedood het nie.
12 En hy was by hulle in die huis van God ses jaar lank verborge, terwyl Atália oor die land regeer.




Hoofstuk 23

1 Maar in die sewende jaar het Jójada moed geskep en saam met hom in ‘n verbond geneem die owerstes oor honderd: Asárja, die seun van Jeróham, en Ismael, die seun van Jóhanan, en Asárja, die seun van Obed, en Maäséja, die seun van Adája, en Elisáfat, die seun van Sigri.
2 En hulle het in Juda rondgetrek en die Leviete vergader uit al die stede van Juda, en die familiehoofde van Israel; en hulle het na Jerusalem gekom.
3 En die hele vergadering het in die huis van God met die koning ‘n verbond gesluit. Toe sê hy vir hulle: Kyk, die seun van die koning moet koning wees soos die HERE oor die seuns van Dawid gespreek het.
4 Dit moet julle doen: ‘n derde deel van julle wat op die sabbat inkom—van die priesters en Leviete—moet drumpelwagters wees;
5 en ‘n derde deel by die huis van die koning, en ‘n derde deel by die Fondamentpoort, en die hele volk in die voorhowe van die huis van die HERE.
6 Maar niemand mag in die huis van die HERE ingaan nie, behalwe die priesters en diensdoende Leviete; húlle mag ingaan, want hulle is heilig; maar die hele volk moet die verordening van die HERE hou.
7 En die Leviete moet rondom die koning gaan staan, elkeen met sy wapens in sy hand, en hy wat in die huis ingaan, moet gedood word, en julle moet by die koning wees as hy in— en as hy uitgaan.
8 En die Leviete en die hele Juda het gedoen net soos die priester Jójada beveel het: elkeen het sy manne geneem wat op die sabbat inkom saam met die wat op die sabbat uitgaan; want die priester Jójada het die afdelings nie ontslaan nie.
9 En die priester Jójada het aan die owerstes oor honderd die spiese en die klein skilde gegee en die skilde van koning Dawid wat in die huis van God was;
10 en hy het al die manskappe opgestel—elkeen met sy wapen in sy hand, van die regterkant van die huis af tot by die linkerkant van die huis, na die altaar en na die huis toe, by die koning rondom.
11 Daarna het hulle die seun van die koning uitgebring en aan hom die kroon en die Getuienis oorgegee; en hulle het hom koning gemaak; en Jójada en sy seuns het hom gesalf en gesê: Mag die koning lewe!
12 En toe Atália die stem van die mense hoor wat toestroom en die koning toejuig, het sy na die volk in die huis van die HERE gekom;
13 en toe sy die koning sien staan op sy verhoog by die ingang en die owerstes en die trompetblasers by die koning en dat die hele volk van die land bly is en op die trompette blaas, en die sangers met die musiekinstrumente, terwyl hulle die teken gee om lof te sing, skeur Atália haar klere en roep uit: Verraad, verraad!
14 Maar die priester Jójada het die owerstes oor honderd, die aanvoerders van die leër, uitgebring en aan hulle gesê: Neem haar weg tussen die rye deur; en die wat agter haar aankom, moet met die swaard gedood word; want die priester het gesê: Julle mag haar nie in die huis van die HERE doodmaak nie.
15 En hulle het die hande aan haar geslaan, en sy het by die ingang van die Perdepoort in die huis van die koning gekom, en daar het hulle haar gedood.
16 En Jójada het ‘n verbond gesluit tussen homself en die hele volk en die koning, dat hulle ‘n volk van die HERE sou wees.
17 Daarna het die hele volk in die tempel van Baäl ingegaan en dit afgebreek en sy altare en sy beelde stukkend geslaan, en Mattan, die priester van Baäl, voor die altare gedood.
18 Verder het Jójada wagte aangestel in die huis van die HERE onder leiding van die Levitiese priesters wat Dawid ingedeel het vir die huis van die HERE om die brandoffers van die HERE te bring, soos geskrywe is in die wet van Moses, met blydskap en gesang volgens die instelling van Dawid.
19 En hy het die poortwagters aangestel by die poorte van die huis van die HERE, sodat niemand kon inkom wat in enige opsig onrein was nie.
20 En hy het die owerstes oor honderd geneem en die vername manne en die wat oor die volk geheers het, en die hele volk van die land, en hy het die koning uit die huis van die HERE afgebring; en hulle het deur die Boonste Poort in die huis van die koning gekom en die koning op die koningstroon laat sit.
21 En die hele volk van die land was bly, en die stad was rustig. Maar hulle het Atália met die swaard gedood.




Hoofstuk 24

1 Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Sibja, uit Berséba.
2 En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, al die dae van die priester Jójada.
3 En Jójada het vir hom twee vroue geneem, en hy het die vader geword van seuns en dogters.
4 En daarna het Joas hom voorgeneem om die huis van die HERE te herstel.
5 Daarom het hy die priesters en die Leviete versamel en aan hulle gesê: Gaan uit na die stede van Juda en versamel geld uit die hele Israel om van jaar tot jaar die huis van julle God te herstel; en júlle moet gou maak met die saak! Maar die Leviete het nie gou gemaak nie.
6 Toe roep die koning die hoofpriester Jójada en sê vir hom: Waarom het jy nie gesorg dat die Leviete uit Juda en uit Jerusalem die belasting van Moses, die kneg van die HERE, en van die vergadering van Israel vir die tent van die Getuienis inbring nie?
7 Want die goddelose Atália—haar seuns het in die huis van God ingebreek en selfs al die heilige gawes van die huis van die HERE vir die Baäls gebruik.
8 Op bevel van die koning maak hulle toe ‘n kis en sit dit buitekant by die poort van die huis van die HERE neer.
9 En hulle het uitgeroep in Juda en in Jerusalem om aan die HERE die belasting wat Moses, die kneg van God, op Israel in die woestyn gelê het, te bring.
10 Toe was al die owerstes en die hele volk bly, en hulle het dit ingebring en in die kis gegooi totdat hulle klaar was.
11 En elke keer as hulle die kis deur die diens van die Leviete by die wag van die koning bring en hulle sien dat die geld baie is, kom die skrywer van die koning en die opsigter van die hoofpriester en hulle maak die kis leeg en bring dit weer na sy plek terug; so het hulle van dag tot dag gedoen en geld in menigte versamel.
12 En die koning en Jójada het dit aan die uitvoerders van die werk aan die huis van die HERE gegee, en dié het klipkappers en skrynwerkers gehuur om die huis van die HERE te herstel, en ook yster— en kopersmede om die huis van die HERE te verbeter.
13 En die uitvoerders van die werk was ywerig besig, sodat die herstellingswerk deur hulle hand gevorder het, en hulle het die huis van God herstel volgens sy oorspronklike bouplan en dit reggemaak.
14 En toe hulle klaar was, het hulle die orige geld voor die koning en Jójada gebring, en hy het daarvan gereedskap laat maak vir die huis van die HERE, diens— en offergereedskap en rookpanne en goue en silwervoorwerpe; en hulle was gedurigdeur besig om brandoffers te bring in die huis van die HERE al die dae van Jójada.
15 En Jójada het oud geword en was afgeleef en het gesterwe; hy was honderd en dertig jaar oud toe hy gesterf het.
16 En hy is begrawe in die stad van Dawid by die konings; want hy het goed gedoen in Israel teenoor God sowel as teenoor sy huis.
17 Maar ná die dood van Jójada kom die owerstes van Juda en buig hulle voor die koning neer. Toe het die koning na hulle geluister,
18 en hulle het die huis van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat en het die heilige boomstamme en die afgode gedien. Toe kom daar ‘n toorn oor Juda en Jerusalem weens hierdie skuld van hulle.
19 En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die HERE terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie.
20 Toe het die Gees van God Sagaría, die seun van die priester Jójada, vervul, en dié het voor die volk gaan staan en aan hulle gesê: So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die HERE en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat.
21 Daarop smee hulle ‘n sameswering teen hom en stenig hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die HERE.
22 En koning Joas het nie gedink aan die guns wat sy vader Jójada aan hom bewys het nie en het sy seun vermoor. Maar toe dié sterwe, het hy gesê: Mag die HERE dit sien en rekenskap vorder!
23 En by die wisseling van die jaar het ‘n leër van Aram teen hom opgetrek, en hulle het in Juda en Jerusalem aangekom en al die volksowerstes onder die volk uitgeroei en al hulle buit na die koning van Damaskus gestuur.
24 Alhoewel die leër van Aram met ‘n geringe aantal manne gekom het, het die HERE tog ‘n baie groot leër in hulle hand gegee, omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het. En hulle het strafgerigte geoefen teen Joas.
25 En toe hulle van hom wegtrek—want hulle het hom in hewige pyne agtergelaat—smee sy dienaars ‘n sameswering teen hom vanweë die bloed van die seun van die priester Jójada; en hulle het hom op sy bed vermoor, sodat hy gesterf het; en hy is begrawe in die stad van Dawid, maar hulle het hom nie in die grafte van die konings begrawe nie.
26 En dít is hulle wat teen hom saamgesweer het: Sabad, die seun van Símeat, die Ammonitiese, en Jósabad, die seun van Simrit, die Moabitiese.
27 En sy seuns en die baie godsprake teen hom en die grondvesting van die huis van God—kyk, dit is beskrywe in die Uitleg van die boek van die konings. En sy seun Amásia het in sy plek koning geword.




Hoofstuk 25

1 Vyf en twintig jaar oud, het Amásia koning geword, en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Joáddan, van Jerusalem.
2 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, maar nie met ‘n volkome hart nie.
3 En toe die koninklike mag in sy besit was, het hy sy dienaars, die moordenaars van sy vader, die koning, gedood;
4 hulle kinders ewenwel het hy nie gedood nie, maar gedoen soos geskrywe is in die wet, in die boek van Moses, waar die HERE dit beveel het: Die vaders moet nie vir die kinders sterwe, en die kinders moet nie vir die vaders sterwe nie; maar hulle moet elkeen vir sy eie sonde sterwe.
5 En Amásia het Juda bymekaar laat kom en hulle opgestel volgens die families, volgens die owerstes oor duisend en volgens die owerstes oor honderd, die hele Juda en Benjamin, en hy het hulle gemonster van twintig jaar oud en daarbo, en bevind dat hulle drie honderd duisend uitgesoektes was wat op kommando moes uittrek, wat spies en skild hanteer.
6 Ook het hy uit Israel honderd duisend dapper helde vir honderd talente silwer gehuur.
7 Toe kom daar ‘n man van God na hom en sê: o Koning, laat die kommando van Israel nie saam met u gaan nie, want die HERE is nie met Israel, met al die kinders van Efraim nie.
8 Maar gaan u alleen, tree moedig op in die geveg; God sal u laat val voor die vyand; want by God is krag om te help of te laat val.
9 Maar Amásia sê aan die man van God: En wat moet met die honderd talente gemaak word wat ek aan die troepe van Israel gegee het? En die man van God antwoord: Die HERE kan u baie meer gee as dit.
10 Toe het Amásia hulle afgesonder, naamlik die troepe wat uit Efraim na hom gekom het, om na hulle woonplek te trek; maar hulle het baie kwaad geword vir Juda en teruggegaan na hulle woonplek in gloeiende toorn.
11 Maar Amásia het moed geskep en sy manskappe aangevoer en die Soutdal ingetrek en die kinders van Seïr, tien duisend, verslaan.
12 En tien duisend het die kinders van Juda lewendig as gevangenes weggevoer en hulle op die top van die krans gebring en hulle van die top van die krans afgegooi, sodat hulle almal verpletter is.
13 Maar die manskappe van die troepe wat Amásia laat teruggaan het om nie saam met hom in die oorlog te trek nie, het ‘n plundertog onderneem in die stede van Juda, van Samaría af tot by Bet-Horon, en drie duisend van hulle verslaan en baie buit geroof.
14 En nadat Amásia tuisgekom het van die verslaan van die Edomiete, het hy die gode van die kinders van Seïr gebring en hulle vir hom as gode opgestel en hom voor hulle neergebuig en vir hulle offerrook laat opgaan.
15 Toe ontvlam die toorn van die HERE teen Amásia, en Hy stuur ‘n profeet na hom, en dié het vir hom gesê: Waarom soek u die gode van die volk wat hulle eie volk nie uit u hand gered het nie?
16 En terwyl hy met hom spreek, sê hy vir hom: Het ons jou as raadgewer van die koning aangestel? Hou op, waarom sal hulle jou doodmaak? Toe hou die profeet op en sê: Ek merk dat God besluit het om u te vernietig, omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie.
17 En Amásia, die koning van Juda, het ná raadpleging gestuur na Joas, die seun van Jóahas, die seun van Jehu, die koning van Israel, om te sê: Kom, laat ons mekaar se aangesig sien.
18 Maar Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, dít laat weet: Die distel wat op die Líbanon is, het die seder wat op die Líbanon is, laat weet: Gee jou dogter aan my seun as vrou! Maar die diere van die veld wat op die Líbanon is, het verbygegaan en die distel vertrap.
19 U dink u het die Edomiete verslaan, daarom is u hart hoogmoedig om eer te verwerwe. Bly nou tuis! Waarom wil u u in die ongeluk stort, sodat u sou val, u en Juda saam met u?
20 Maar Amásia het nie geluister nie; want dit was van God beskik om hulle uit te lewer, omdat hulle die gode van Edom gesoek het.
21 Toe trek Joas, die koning van Israel, op; en hulle het mekaar se aangesig gesien, hy en Amásia, die koning van Juda, by Bet-Semes wat aan Juda behoort.
22 En Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe.
23 En Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, die seun van Joas, die seun van Jóahas, by Bet-Semes gevang en hom na Jerusalem gebring en vier honderd el van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort.
24 En hy het al die goud en die silwer geneem en al die voorwerpe wat in die huis van God by Obed-Edom te vinde was, en die skatte van die huis van die koning en ook die gyselaars, en omgedraai na Samaría toe.
25 En Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het ná die dood van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, vyftien jaar gelewe.
26 En die verdere geskiedenis van Amásia, die vroeëre en die latere, kyk, is dit nie beskrywe in die Boek van die konings van Juda en Israel nie?
27 En van die tyd af dat Amásia van die HERE afvallig geword het, het hulle ‘n sameswering teen hom gesmee in Jerusalem, sodat hy na Lagis gevlug het; maar hulle het agter hom aangestuur na Lagis en hom daar gedood.
28 En hulle het hom op perde vervoer en hom by sy vaders begrawe in die stad van Dawid.




Hoofstuk 26

1 Toe het die hele volk van Juda Ussía geneem, wat toe sestien jaar oud was, en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amásia.
2 Hy het Elot gebou en weer aan Juda teruggebring nadat die koning met sy vaders ontslaap het.
3 Sestien jaar was Ussía oud toe hy koning geword het, en hy het twee en vyftig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jególja, van Jerusalem.
4 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Amásia gedoen het.
5 En hy het God gedurig gesoek in die dae van Sagaría, wat onderrig gegee het in die vrees van God. En in die dae dat hy die HERE gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak.
6 En hy het uitgetrek en teen die Filistyne geveg en die muur van Gat en die muur van Jabne en die muur van Asdod afgebreek, en stede gebou by Asdod en onder die Filistyne.
7 En God het hom gehelp teen die Filistyne en teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete.
8 Ook die Ammoniete het aan Ussía belasting betaal; en sy roem is verbrei tot by die ingang na Egipte, want hy was uitermate magtig.
9 Verder het Ussía torings gebou in Jerusalem by die Hoekpoort en by die Dalpoort en by die Winkelhaak, en hy het hulle versterk.
10 Hy het ook in die woestyn torings gebou en baie putte uitgekap; want hy het baie vee gehad, in die Laeveld sowel as in die Gelykveld, landbouers en wynboere op die berge en in die tuingronde, want hy was ‘n liefhebber van die landbou.
11 Verder het Ussía ‘n leër gehad wat oorlog kon voer, wat in afdelings op kommando moes uittrek volgens die getal van hulle monstering deur Jeï-el, die skrywer, en Maäséja, die opsigter, onder leiding van Hanánja, een van die owerstes van die koning.
12 Die hele getal van die familiehoofde, van die dapper helde, was twee duisend ses honderd.
13 En onder hulle bevel was ‘n leërmag van drie honderd en sewe duisend vyf honderd wat met volle krag oorlog kon voer om die koning te help teen die vyand.
14 En Ussía het vir hulle, vir die hele kommando, skilde aangeskaf en spiese en helms en pantsers en boë en slingerstene.
15 Ook het hy in Jerusalem oorlogswerktuie gemaak, ‘n uitvinding van ‘n kunstenaar, wat op die torings en op die hoeke moes staan om met pyle en groot klippe te skiet; en sy roem is verbrei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy sterk geword het.
16 Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen die HERE sy God; want hy het in die tempel van die HERE gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar.
17 Maar die priester Asárja het hom gevolg en tagtig priesters van die HERE, flukse manne, saam met hom,
18 en teen koning Ussía opgetree en aan hom gesê: Dit kom u nie toe, Ussía, om vir die HERE offerrook te laat opgaan nie, maar aan die priesters, seuns van Aäron, wat geheilig is om te offer. Gaan uit die heiligdom uit, want u het ontrou gehandel, en dit sal u van die kant van die HERE God nie tot eer strek nie.
19 Maar Ussía het woedend geword; en terwyl hy, met die wierookpan in sy hand, woedend was op die priesters, slaan die melaatsheid op sy voorhoof uit voor die oë van die priesters, in die huis van die HERE langs die reukaltaar.
20 Toe Asárja, die hoofpriester, en al die priesters na hom kyk en sien dat hy melaats was aan sy voorhoof, het hulle hom gou daarvandaan weggedrywe, en hy het ook self gou gemaak om weg te kom, want die HERE het hom aangetas.
21 En koning Ussía was melaats tot die dag van sy dood toe, en hy het in ‘n afgesonderde huis as melaatse gewoon, want hy was van die huis van die HERE uitgesluit; en sy seun Jotam, wat oor die paleis van die koning was, het die volk van die land geregeer.
22 En die verdere geskiedenis van Ussía, die vroeëre en die latere, het die profeet Jesaja, die seun van Amos, beskrywe.
23 En Ussía het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe by sy vaders op die begraafplaas van die konings; want hulle het gesê: Hy is melaats. En sy seun Jotam het in sy plek koning geword.




Hoofstuk 27

1 Jotam was vyf en twintig jaar oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jerúsa, die dogter van Sadok.
2 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Ussía gedoen het; alleenlik het hy nie in die tempel van die HERE ingegaan nie; en die volk het nog verderflik gehandel.
3 Hy het die Boonste Poort van die huis van die HERE gebou, en aan die muur van die Heuwel het hy baie gebou.
4 Verder het hy stede gebou op die gebergte van Juda, en in die bosse het hy forte en torings gebou.
5 Ook het hy oorlog gevoer teen die koning van die kinders van Ammon en hulle oorwin, sodat die kinders van Ammon hom in dié jaar honderd talente silwer en tien duisend kor koring en tien duisend kor gars gegee het; dit het die kinders van Ammon vir hom ook in die tweede en derde jaar gelewer.
6 En Jotam het magtig geword, want hy het sy weë gerig voor die aangesig van die HERE sy God.
7 En die verdere geskiedenis van Jotam en al sy oorloë en sy ondernemings, kyk, dit is beskrywe in die Boek van die konings van Israel en Juda.
8 Hy was vyf en twintig jaar oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer.
9 En Jotam het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid; en sy seun Agas het in sy plek koning geword.




Hoofstuk 28

1 Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer en nie gedoen wat reg was in die oë van die HERE soos sy vader Dawid nie.
2 Maar hy het gewandel in die weë van die konings van Israel en selfs gegote beelde vir die Baäls gemaak.
3 Hy het self ook offerrook in die dal van die seun van Hinnom laat opgaan en sy seuns met vuur verbrand, volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdryf het.
4 Hy het ook geoffer en rook laat opgaan op die hoogtes en op die heuwels en onder elke groen boom.
5 Daarom het die HERE sy God hom oorgegee in die hand van die koning van Aram, en hulle het hom verslaan en ‘n groot menigte gevangenes van hom weggevoer en na Damaskus gebring. En hy is ook oorgegee in die hand van die koning van Israel, en dié het hom verslaan, ‘n groot slag.
6 Peka, die seun van Remália, het naamlik in Juda op een dag honderd en twintig duisend gedood, almal dapper manne, omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het.
7 En Sigri, ‘n held van Efraim, het Maäséja, die seun van die koning, en Asríkam, die bevelhebber van die paleis, en Élkana, die tweede onder die koning, gedood.
8 En die kinders van Israel het van hulle broers twee honderd duisend vroue, seuns en dogters as gevangenes weggevoer, en ook ‘n groot buit van hulle geroof en die buit na Samaría gebring.
9 En daar was ‘n profeet van die HERE met die naam van Oded; en hy het uitgegaan om die leër te ontmoet wat aan kom was na Samaría, en aan hulle gesê: Kyk, deur die grimmigheid van die HERE, die God van julle vaders, oor Juda het Hy hulle in julle hand oorgegee, sodat julle onder hulle gemoor het met ‘n woede wat tot aan die hemel raak.
10 En nou dink julle om die kinders van Juda en Jerusalem aan julle as slawe en slavinne onderdanig te maak. Wat julle betref, is daar nie by julle net skulde teenoor die HERE julle God nie?
11 Luister dan nou na my en laat die gevangenes wat julle van jul broers weggevoer het, teruggaan; want die toorngloed van die HERE is op julle!
12 Toe het daar manne uit die hoofde van die kinders van Efraim opgetree teen die wat uit die stryd kom: Asárja, die seun van Jóhanan, Berégja, die seun van Mesíllemot, en Jehiskía, die seun van Sallum, en Amása, die seun van Hádlai,
13 en aan hulle gesê: Julle mag die gevangenes nie hierheen bring nie; want julle dink om by ons sondes en by ons skuld nog by te voeg, sodat ons skuldig sou staan voor die HERE; want ons skuld is groot, en die toorngloed is oor Israel.
14 Die gewapendes het toe die gevangenes en die buit voor die owerstes en die hele vergadering losgelaat.
15 En die manne wat met hulle naam aangewys was, het opgestaan en die gevangenes ondersteun en al die naaktes onder hulle uit die buit klere aangetrek; en hulle het aan hulle klere en skoene gegee en hulle laat eet en drink en hulle gesalf en almal wat moeg was, op esels vervoer en na Jérigo, die palmstad, by hul broers gebring; daarna het hulle na Samaría teruggegaan.
16 In dieselfde tyd het koning Agas na die konings van Assirië gestuur dat hulle hom moet help.
17 Bowendien het ook die Edomiete gekom en Juda verslaan en gevangenes weggevoer.
18 Ook die Filistyne het plundertogte onderneem teen die stede van die Laeveld en die Suidland van Juda; en hulle het ingeneem: Bet-Sémes en Ajalon en Géderot en Sogo met sy onderhorige plekke en Timna met sy onderhorige plekke en Gimso met sy onderhorige plekke, en daarin gaan woon;
19 want die HERE het Juda verneder ter wille van Agas, die koning van Israel, omdat hy losbandigheid in Juda bevorder en gedurig ontrou teen die HERE gehandel het.
20 En Tilgat-Pilnéser, die koning van Assirië, het hom oorval en hom in benoudheid gebring en hom nie gehelp nie;
21 want Agas het die huis van die HERE en die huis van die koning en van die owerstes geplunder, en dit aan die koning van Assirië gegee sonder dat dit hom tot hulp was.
22 Selfs in die tyd toe hulle hom in benoudheid gebring het, het hy nog meer ontrou teen die HERE begaan, dieselfde koning Agas:
23 hy het geoffer aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het; en hy het gedink: Die gode van die konings van Aram help hulle; ek sal aan húlle offer, dat hulle my kan help! Maar juis hulle het hom en die hele Israel tot ‘n val gebring.
24 En Agas het die gereedskap van die huis van God byeengebring en die gereedskap van die huis van God stukkend geslaan en die deure van die huis van die HERE toegesluit en vir hom altare gemaak op elke hoek in Jerusalem.
25 Ook het hy in elke stad van Juda hoogtes opgerig om vir ander gode offerrook te laat opgaan en die HERE, die God van sy vaders, geterg.
26 En sy verdere geskiedenis en al sy onderneminge, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Boek van die konings van Juda en Israel.
27 En Agas het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad, in Jerusalem; want hulle het hom nie in die grafte van die konings van Israel gebring nie. En sy seun Jehiskía het in sy plek koning geword.




Hoofstuk 29

1 Jehiskía het, vyf en twintig jaar oud, koning geword en nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Abía, die dogter van Sagaría.
2 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE net soos sy vader Dawid gedoen het.
3 Hy het in die eerste jaar van sy regering, in die eerste maand, die deure van die huis van die HERE oopgemaak en dit herstel,
4 en die priesters en die Leviete laat inkom en hulle versamel op die Oosplein
5 en vir hulle gesê: Luister na my, Leviete! Heilig julle nou, en heilig die huis van die HERE, die God van julle vaders, en bring die onreinheid uit die heiligdom uit;
6 want ons vaders het ontrou gehandel en gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE onse God, en hulle het Hom verlaat en hulle aangesig van die tabernakel van die HERE afgewend en dit die rug toegekeer.
7 Ook het hulle die deure van die voorportaal toegesluit en die lampe doodgeblaas en geen reukwerk aan die brand gesteek en geen brandoffer in die heiligdom aan die God van Israel gebring nie.
8 Daarom het ‘n toorn van die HERE oor Juda en Jerusalem gekom, en Hy het hulle ‘n skrikbeeld, ‘n voorwerp van verbasing en van bespotting gemaak, soos julle met jul eie oë sien.
9 En kyk, hierom het ons vaders deur die swaard geval en is ons seuns en ons dogters en ons vroue in gevangenskap.
10 Nou is dit in my hart om ‘n verbond te sluit met die HERE, die God van Israel, dat sy toorngloed van ons afgewend kan word.
11 My seuns, wees nou nie nalatig nie, want die HERE het julle verkies om voor sy aangesig te staan, om Hom te dien en sy dienaars te wees en offerrook te laat opgaan.
12 Die Leviete het hulle toe klaargemaak: Mahat, die seun van Amásai, en Joël, die seun van Asárja, uit die kinders van die Kehatiete; en uit die kinders van Merári: Kis, die seun van Abdi, en Asárja, die seun van Jehállelel; en uit die Gersoniete: Joag, die seun van Simma, en Eden, die seun van Joag;
13 en uit die kinders van Elisáfan: Simri en Jeï-el; en uit die kinders van Asaf: Sagaría en Mattánja;
14 en uit die kinders van Heman: Jéhiël en Símeï; en uit die kinders van Jedútun: Semája en Ussiël.
15 En hulle het hul broers versamel en hulle geheilig en ingekom om volgens die bevel van die koning, ooreenkomstig die woorde van die HERE, die huis van die HERE te reinig.
16 En die priesters het binne-in die huis van die HERE ingegaan om dit te reinig en al die onreinheid wat hulle in die tempel van die HERE gevind het, uitgebring in die voorhof van die huis van die HERE, en die Leviete het dit in ontvangs geneem om dit uit te bring na buite, na die spruit Kidron.
17 En hulle het begin om te heilig op die eerste van die eerste maand en op die agtste dag van die maand by die voorportaal van die HERE gekom en die huis van die HERE binne agt dae geheilig; en op die sestiende dag van die eerste maand was hulle gereed.
18 Toe kom hulle by koning Hiskía in en sê: Ons het die hele huis van die HERE gereinig—die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die tafel vir die toonbrode met al sy gereedskap;
19 ook al die gereedskap wat koning Agas tydens sy regering deur sy ontrou ontheilig het, het ons weer reggesit en geheilig, en kyk, daar is dit voor die altaar van die HERE.
20 Daarop maak koning Jehiskía hom vroeg klaar en laat die owerstes van die stad bymekaarkom, en hy het opgegaan na die huis van die HERE.
21 En hulle het sewe bulle en sewe ramme en sewe lammers en sewe bokke as ‘n sondoffer vir die koningskap en vir die heiligdom en vir Juda gebring; en hy het aan die seuns van Aäron, die priesters, gesê om dit op die altaar van die HERE te offer.
22 Toe het hulle die beeste geslag, en die priesters het die bloed opgevang en dit teen die altaar uitgegooi, en die ramme geslag en die bloed teen die altaar uitgegooi, en die lammers geslag en die bloed teen die altaar uitgegooi.
23 Daarna het hulle die sondofferbokke nader gebring voor die koning en die vergadering, en hulle het hul hande daarop gelê.
24 En die priesters het hulle geslag en die bloed daarvan as sondoffer teen die altaar uitgegooi om versoening te doen vir die hele Israel; want die koning het die brandoffer en die sondoffer vir die hele Israel beveel.
25 En hy het die Leviete opgestel by die huis van die HERE met simbale, met harpe en siters volgens die gebod van Dawid en van Gad, die siener van die koning, en van die profeet Natan; want die HERE het dit so beveel deur die diens van sy profete.
26 En die Leviete het gaan staan met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette.
27 En Hiskía het bevel gegee om die brandoffer op die altaar te offer; en net toe die brandoffer begin, het ook die gesang tot eer van die HERE en die trompette begin, en dit onder begeleiding van die instrumente van Dawid, die koning van Israel.
28 En die hele vergadering het hulle neergebuig, en die gesang het weerklink en die trompette geblaas—dit alles totdat die brandoffer verby was.
29 En toe hulle klaar was met offer, het die koning en almal wat by hom aanwesig was, gekniel en hulle neergebuig.
30 Daarop gee koning Jehiskía en die owerstes aan die Leviete bevel om die HERE te prys met die woorde van Dawid en van Asaf, die siener; en hulle het met blydskap die lofsang aangehef en gebuig en aanbid.
31 En Jehiskía het begin sê: Nou het julle jul aan die HERE gewy; kom aan en bring die slagoffers en die lofoffers na die huis van die HERE. Die vergadering het toe slagoffers en lofoffers gebring, en elkeen wat gewillig van hart was, brandoffers.
32 En die getal van die brandoffers wat die vergadering gebring het, was sewentig beeste, honderd ramme, twee honderd lammers; dit alles as ‘n brandoffer aan die HERE.
33 En die heilige gawes was ses honderd beeste en drie duisend stuks kleinvee.
34 Net die priesters was te min en kon nie al die brandoffers afslag nie; maar hulle broers, die Leviete, het hulle ondersteun, totdat die werk klaar was en totdat die priesters hulleself geheilig het; want die Leviete was opregter van hart om hulleself te heilig as die priesters.
35 En ook was daar brandoffers in menigte, met die vetstukke van die dankoffers en met die drankoffers vir die brandoffer. So is dan die diens in die huis van die HERE gereël.
36 En Jehiskía en die hele volk was bly oor wat God vir die volk berei het; want dit het gou gegaan.




Hoofstuk 30

1 Daarna het Jehiskía gestuur na die hele Israel en Juda, en ook briewe geskrywe aan Efraim en Manasse om te kom na die huis van die HERE in Jerusalem, om die pasga tot eer van die HERE, die God van Israel, te hou.
2 En die koning en sy owerstes en die hele vergadering het in Jerusalem besluit om die pasga in die tweede maand te hou,
3 want hulle kon dit op sy tyd nie hou nie, omdat die priesters hulle nie voldoende geheilig en die volk in Jerusalem nie saamgekom het nie.
4 En die saak was reg in die oë van die koning en in die oë van die hele vergadering.
5 En hulle het dit vasgestel om ‘n oproep deur die hele Israel, van Berséba tot Dan, te laat gaan dat hulle moes kom om die pasga tot eer van die HERE, die God van Israel, in Jerusalem te hou; want hulle het dit nie as ‘n menigte gehou soos voorgeskrywe was nie.
6 Die hardlopers gaan toe met die briewe uit die hand van die koning en sy owerstes deur die hele Israel en Juda, en volgens die gebod van die koning, om te sê: Kinders van Israel, bekeer julle tot die HERE, die God van Abraham, Isak en Israel, dat Hy Hom mag wend tot die vrygeraaktes wat vir julle oorgebly het uit die hand van die konings van Assirië.
7 En wees nie soos julle vaders en julle broers wat ontrou teen die HERE, die God van hulle vaders, gehandel het nie, sodat Hy hulle ‘n voorwerp van verbasing gemaak het soos julle self sien.
8 Verhard nou nie julle nek soos julle vaders nie, gee aan die HERE die hand en kom na sy heiligdom wat Hy vir ewig geheilig het, en dien die HERE julle God, dat sy toorngloed van julle afgewend kan word.
9 Want as julle jul tot die HERE bekeer, sal julle broers en julle kinders barmhartigheid vind voor die wat hulle as gevangenes weggevoer het, sodat hulle na hierdie land kan terugkom; want die HERE julle God is genadig en barmhartig, en Hy sal die aangesig van julle nie afwend nie as julle jul tot Hom bekeer.
10 Maar toe die hardlopers van stad tot stad die land Efraim en Manasse deurgaan tot by Sébulon, het hulle hul uitgelag en met hul gespot.
11 Maar manne uit Aser en Manasse en Sébulon het hulle verootmoedig en na Jerusalem gekom.
12 Ook was die hand van God in Juda, sodat Hy hulle ‘n eensgesinde hart gegee het om die gebod van die koning en van die owerstes volgens die woord van die HERE uit te voer.
13 En baie mense het in Jerusalem byeengekom om die fees van die ongesuurde brode in die tweede maand te hou, ‘n baie groot vergadering.
14 En hulle het hul gereedgemaak en die altare verwyder wat in Jerusalem was; ook al die wierookaltare het hulle verwyder en in die spruit Kidron gegooi.
15 Toe het hulle die pasga geslag op die veertiende van die tweede maand; en die priesters en die Leviete het hulle geskaam en hulle geheilig en die brandoffers in die huis van die HERE gebring.
16 En hulle het op hul plek gaan staan, ooreenkomstig hulle verordening volgens die wet van Moses, die man van God, onderwyl die priesters besig was om die bloed uit te gooi wat hulle uit die hand van die Leviete geneem het;
17 want daar was baie in die vergadering wat hulle nie geheilig het nie, daarom moes die Leviete die paasoffers slag vir elkeen wat nie rein was nie, om hulle aan die HERE te heilig.
18 Want die meerderheid van die volk, ‘n menigte uit Efraim en Manasse, Issaskar en Sébulon, het hulle nie gereinig nie, maar die pasga geëet soos dit nie voorgeskrywe was nie. Maar Jehiskía het vir hulle gebid en gesê: Mag die HERE wat goed is, versoening doen
19 vir elkeen wat sy hart daarop gerig het om God die HERE, die God van sy vaders, te soek, al was dit nie volgens die reinheid van die heiligdom nie.
20 En die HERE het Jehiskía verhoor en die volk genees.
21 So het dan die kinders van Israel wat in Jerusalem aanwesig was, die fees van die ongesuurde brode sewe dae lank met groot blydskap gevier, terwyl die Leviete en die priesters die HERE dag vir dag geprys het met kragtige instrumente tot eer van die HERE.
22 En Jehiskía het na die hart van al die Leviete gespreek wat deeglik kennis geopenbaar het in die saak van die HERE; en hulle het die feesoffer sewe dae lank geëet, terwyl hulle dankoffers geslag en die HERE, die God van hulle vaders, geloof het.
23 En toe die hele vergadering besluit om nog sewe dae fees te hou, het hulle dit met blydskap sewe dae lank gevier,
24 want Hiskía, die koning van Juda, het aan die vergadering duisend bulle en sewe duisend stuks kleinvee afgegee, en die owerstes het aan die vergadering duisend bulle en tien duisend stuks kleinvee afgegee; en die priesters het hulleself in menigte geheilig.
25 En die hele vergadering van Juda was bly, ook die priesters en die Leviete, en die hele vergadering van die wat uit Israel gekom het; ook die vreemdelinge wat uit die land van Israel gekom het, en die wat in Juda woonagtig was.
26 En daar was groot blydskap in Jerusalem; want sedert die dae van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, het so iets in Jerusalem nie voorgekom nie.
27 Toe staan die Levitiese priesters op en seën die volk; en hulle stem is verhoor, en hulle gebed het gekom tot in sy heilige woning, tot in die hemel.




Hoofstuk 31

1 En toe dit alles ten einde was, het al die aanwesige Israeliete na die stede van Juda uitgetrek en die klippilare verbrysel en die heilige boomstamme omgekap en die hoogtes en die altare uit die hele Juda en Benjamin en in Efraim en Manasse afgebreek totdat hulle dit vernietig het. Daarna het al die kinders van Israel teruggegaan, elkeen na sy besitting, na hulle stede toe.
2 En Hiskía het die afdelings van die priesters en die Leviete vasgestel volgens hulle afdelings, elkeen volgens sy diens—as priesters of as Leviete vir die brandoffers en dankoffers, om te dien en te loof en te prys in die poorte van die laers van die HERE.
3 En die bydrae van die koning uit sy goed vir die brandoffers was: die môre— en die aandbrandoffers en die brandoffers vir die sabbatte en die nuwemane en die feestye, soos voorgeskrywe is in die wet van die HERE.
4 En hy het die volk, die inwoners van Jerusalem, bevel gegee om die aandeel van die priesters en die Leviete te gee, sodat hulle aan die wet van die HERE al hulle krag kon wy.
5 En toe die bevel verbrei is, het die kinders van Israel baie eerstelinge van koring, mos en olie en heuning en van elke opbrings van die land ingelewer en die tiendes van alles in menigte ingebring.
6 En die kinders van Israel en Juda wat in die stede van Juda woonagtig was, hulle het ook die tiendes ingebring van beeste en kleinvee en die tiendes van die heilige gawes wat aan die HERE hulle God geheilig was, en dit op hope neergelê.
7 In die derde maand het hulle die hope begin opstapel, en in die sewende maand was hulle daarmee gereed.
8 Toe Jehiskía en die owerstes kom en die hope sien, het hulle die HERE en sy volk Israel geseën.
9 En toe Jehiskía by die priesters en die Leviete ondersoek doen na die hope,
10 het die hoëpriester Asárja, van die huis van Sadok, met hom gespreek en gesê: Vandat hulle die offergawe na die huis van die HERE begin bring het, eet ons tot versadiging en hou nog oorvloedig oor; want die HERE het sy volk geseën, sodat ons hierdie menigte oorgehou het.
11 Toe gee Jehiskía bevel om kamers in die huis van die HERE in te rig; en hulle het dit ingerig
12 en die offergawes en die tiendes en die heilige gawes getrou ingebring; en daaroor was Konánja, die Leviet, as hoof aangestel, en sy broer Símeï as tweede.
13 En Jéhiël en Asásja en Nahat en Asahel en Jérimot en Jósabad en Éliël en Jismágja en Mahat en Benája was opsigters, onder toesig van Konánja en sy broer Símeï, volgens die bevel van koning Jehiskía en Asárja, die vors oor die huis van God.
14 En Kore, die seun van Jimna, die Leviet, die poortwagter teen die ooste, was oor die vrywillige gawes aan God, om die offergawe aan die HERE en die hoogheilige gawes uit te deel.
15 En onder sy leiding was Eden en Mínjamin en Jésua en Semája, Amárja en Segánja, om getrou uit te deel in die stede van die priesters aan hulle broers volgens die afdelings, aan groot sowel as klein;
16 behalwe die manspersone wat in hulle geslagsregister opgeneem was, van drie jaar oud en daarbo, almal naamlik wat in die huis van die HERE gekom het, na die eis van elke dag, om te dien in hulle ampsverpligtinge volgens hulle afdelings.
17 En wat die geslagsregister van die priesters betref, dit was ingerig volgens families; maar dié van die Leviete, van twintig jaar oud en daarbo, volgens hulle ampsverpligtinge in hulle afdelings.
18 En hulle moes in die geslagsregister opgeneem word met al hulle kindertjies, hul vroue en hul seuns en hul dogters, naamlik die hele stand; want volgens hulle getrouheid was hulle werksaam met die heilige dinge.
19 Ook vir die seuns van Aäron, die priesters, buite op die weiveld van hulle stede, was daar in elke stad afsonderlik manne wat met hulle name aangewys was om aan elke manspersoon onder die priesters en aan elkeen van die Leviete wat in die geslagsregister opgeneem was, dele te gee.
20 En so het Jehiskía in die hele Juda gedoen: hy het gedoen wat goed en reg en trou was voor die aangesig van die HERE sy God.
21 En in elke werk wat hy begin het insake die diens van die huis van God en insake die wet en die gebod om sy God te soek, het hy met sy hele hart gehandel en voorspoed gehad.




Hoofstuk 32

1 Ná hierdie dinge en hierdie bewys van getrouheid het Sánherib, die koning van Assirië, gekom en Juda binnegedring en die vaste stede beleër en bedoel om hulle vir hom te verower.
2 En toe Jehiskía sien dat Sánherib kom met die doel om teen Jerusalem te veg,
3 het hy raad gehou met sy owerstes en sy helde, om die fontein-oë buitekant die stad toe te stop; en hulle het hom gehelp:
4 baie mense het byeengekom en al die oë toegestop, ook die spruit wat dwarsdeur die land stroom, met die gedagte: Waarom moet die konings van Assirië kom en baie water vind?
5 En hy het moed geskep en die hele muur opgetrek wat afgebreek was, en daar torings op gebou, ook die ander muur buitekant het hy gebou; en hy het Millo in die stad van Dawid versterk en werpspiese en skilde in menigte laat maak.
6 En hy het krygsowerstes oor die manskappe aangestel en hulle by hom op die plein van die stadspoort byeen laat kom en na hulle hart gespreek en gesê:
7 Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik vanweë die koning van Assirië of vanweë die hele menigte wat saam met hom is nie; want by ons is meer as by hom.
8 By hom is ‘n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer! En die manskappe het gesteun op die woorde van Jehiskía, die koning van Juda.
9 Hierna het Sánherib, die koning van Assirië—hy self en sy hele ryksmag was saam met hom by Lagis—sy dienaars na Jerusalem gestuur, na Jehiskía, die koning van Juda, en na die hele Juda wat in Jerusalem was, om te sê:
10 So sê Sánherib, die koning van Assirië: Waarop vertrou julle, dat julle daar ingesluit bly sit in Jerusalem?
11 Verlei Jehiskía julle nie, om julle van honger en dors te laat sterwe deur te sê: Die HERE onse God sal ons red uit die hand van die koning van Assirië?
12 Het dieselfde Jehiskía nie sy hoogtes en sy altare verwyder en aan Juda en Jerusalem dit gesê nie: Voor één altaar moet julle jul neerbuig en daarop offerrook laat opgaan?
13 Weet julle nie wat ék en my vaders aan al die volke van die lande gedoen het nie? Het die gode van die nasies van die lande ooit hulle land uit my hand kon red?
14 Wie was daar onder al die gode van daardie nasies wat my vaders met die banvloek getref het, wat sy volk uit my hand kon red—dat julle God julle uit my hand sou kan red?
15 Laat Jehiskía julle dan nou nie bedrieg en julle nie op so ‘n manier verlei nie; en glo hom nie, want geen enkele god van enige nasie of koninkryk het sy volk uit my hand of uit die hand van my vaders kon verlos nie; hoeveel minder sal julle God julle uit my hand kan verlos?
16 Sy dienaars het nog meer teen die HERE God gespreek en teen sy kneg Jehiskía.
17 Hy het ook ‘n brief geskrywe om die HERE, die God van Israel, te smaad en teen Hom te spreek deur te sê: Soos die gode van die nasies van die lande wat hulle volk uit my hand nie gered het nie, so sal die God van Jehiskía sy volk uit my hand nie red nie.
18 En hulle het hardop in die Joodse taal geroep na die manskappe van Jerusalem wat op die muur was, om dié bevrees en verskrik te maak, sodat hulle die stad kon inneem.
19 En hulle het oor die God van Jerusalem gespreek soos oor die gode van die volke van die aarde—’n maaksel van mensehande.
20 Maar toe koning Jehiskía en die profeet Jesaja, die seun van Amos, hieroor gebid en na die hemel geroep het,
21 stuur die HERE ‘n engel, en dié het al die dapper helde en bevelhebbers en owerstes in die laer van die koning van Assirië verdelg, sodat hy met ‘n beskaamde aangesig na sy land teruggegaan het; en toe hy in die huis van sy god kom, het die wat uit sy eie liggaam voortgekom het, hom daar met die swaard neergeslaan.
22 En die HERE het Jehiskía en die inwoners van Jerusalem verlos uit die hand van Sánherib, die koning van Assirië, en uit die hand van almal, en hulle rondom tot rus gebring.
23 En baie het geskenke aan die HERE na Jerusalem gebring en kosbare geskenke aan Jehiskía, die koning van Juda, sodat hy daarna in die oë van al die nasies hoog gestaan het.
24 In dié dae het Jehiskía dodelik siek geword, maar hy het tot die HERE gebid, en Hy het met hom gespreek en hom ‘n wonderteken gegee.
25 Maar Jehiskía het die weldaad wat aan hom bewys is, nie vergeld nie; want sy hart het hoogmoedig geword. Daarom was daar ‘n toorn oor hom en oor Juda en Jerusalem.
26 Maar Jehiskía het hom verootmoedig in die hoogmoedigheid van sy hart, hy en die inwoners van Jerusalem, sodat die toorn van die HERE nie oor hulle gekom het in die dae van Jehiskía nie.
27 En Jehiskía het buitengewoon baie rykdom en eer besit en vir hom skatkamers gemaak vir silwer en goud en edelgesteentes en vir speserye en skilde en allerhande kosbare voorwerpe;
28 ook pakhuise vir die opbrings van koring en mos en olie; en stalle vir allerhande soorte vee en krale vir die troppe vee.
29 Ook het hy vir hom stede aangelê; verder was daar besittings van kleinvee en beeste in menigte, want God het hom baie goed gegee.
30 Dieselfde Jehiskía het ook die boonste uitloop van die water van die Gihon toegestop en dit gelei na onder toe, westelik na die stad van Dawid. En Jehiskía was voorspoedig in al sy werk.
31 So ook in die geval van die gesante van die vorste van Babel—wat na hom gestuur het om ondersoek te doen na die wonderteken wat in die land gebeur het—het God hom net verlaat om hom op die proef te stel, om te weet alles wat in sy hart was.
32 En die verdere geskiedenis van Jehiskía en sy vrome dade, kyk, dit is beskrywe in die Gesig van die profeet Jesaja, die seun van Amos, in die Boek van die konings van Juda en Israel.
33 En Jehiskía het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe teen die hoogte van die grafte van die seuns van Dawid; en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het hom eer bewys by sy dood; en sy seun Manasse het in sy plek koning geword.




Hoofstuk 33

1 Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf en vyftig jaar in Jerusalem geregeer.
2 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE volgens die gruwels van die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het.
3 En hy het die hoogtes weer gebou wat sy vader Jehiskía afgebreek het, en altare opgerig vir die Baäls en heilige boomstamme gemaak en hom neergebuig voor die hele leër van die hemel en hulle gedien;
4 ook altare gebou in die huis van die HERE waarvan die HERE gesê het: In Jerusalem sal my Naam vir ewig wees.
5 En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in altwee die voorhowe van die huis van die HERE.
6 Ook het hy self sy seuns deur die vuur laat deurgaan in die dal van die seun van Hinnom en met goëlery en verklaring van voortekens en towery omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, om Hom te terg.
7 Hy het ook ‘n gesnede afgodsbeeld wat hy gemaak het, in die huis van God opgestel waarvan God aan Dawid en sy seun Salomo gesê het: In hierdie huis en in Jerusalem wat Ek uit al die stamme van Israel verkies het, sal Ek vir ewig my Naam vestig.
8 En Ek sal die voet van Israel nie meer laat wyk van die grond wat Ek vir julle vaders bestem het nie, as hulle net sorgvuldig doen alles wat Ek hulle beveel het volgens die hele wet en die insettinge en verordeninge deur die diens van Moses.
9 Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem verlei om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het.
10 En die HERE het met Manasse en met sy volk gespreek, maar hulle het nie geluister nie.
11 Daarom het die HERE die leërowerstes van die koning van Assirië oor hulle gebring, en dié het Manasse met hake gevang en hom met koperkettings geboei en hom na Babel vervoer.
12 Maar in sy benoudheid het hy die aangesig van die HERE sy God om genade gesmeek en hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders
13 en tot Hom gebid; en Hy het hom verhoor en na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring. Toe het Manasse erken dat die HERE God is.
14 En daarna het hy ‘n buitemuur vir die stad van Dawid gebou, westelik van die Gihon in die dal tot by die ingang na die Vispoort en dit om die Heuwel getrek en baie hoog gemaak, en leërowerstes in al die versterkte stede in Juda aangestel.
15 En hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van die HERE verwyder, ook al die altare wat hy op die berg van die huis van die HERE en in Jerusalem gebou het, en dit buitekant die stad gegooi.
16 En hy het die altaar van die HERE weer opgerig en daar dankoffers en lofoffers op gebring en aan Juda bevel gegee om die HERE, die God van Israel, te dien.
17 Tog het die volk nog op die hoogtes geoffer, maar net aan die HERE hulle God.
18 En die verdere geskiedenis van Manasse en sy gebed tot sy God en die woorde van die sieners wat tot hom gespreek het in die Naam van die HERE, die God van Israel, kyk, dit is in die Geskiedenis van die konings van Israel.
19 En sy gebed en hoe hy verhoor is en al sy sonde en sy ontrou en die plekke waar hy hoogtes gebou en die heilige boomstamme en gesnede beelde opgerig het voor sy verootmoediging, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van Hósai.
20 En Manasse het ontslaap met sy vaders, en hy is in sy huis begrawe; en sy seun Amon het in sy plek koning geword.
21 Amon was twee en twintig jaar oud toe hy koning geword het, en twee jaar het hy in Jerusalem geregeer.
22 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, soos sy vader Manasse gedoen het; en aan al die gesnede beelde wat sy vader Manasse gemaak het, het Amon ywerig geoffer en hulle gedien.
23 Maar hy het hom nie verootmoedig voor die aangesig van die HERE soos sy vader Manasse hom verootmoedig het nie; maar hy, Amon, het die skuld vermeerder.
24 En sy dienaars het teen hom saamgesweer en hom in sy huis gedood.
25 Maar die volk van die land het almal doodgeslaan wat teen koning Amon saamgesweer het, en die volk van die land het sy seun Josía in sy plek koning gemaak.




Hoofstuk 34

1 Josía was agt jaar oud toe hy koning geword het, en een en dertig jaar het hy in Jerusalem geregeer.
2 En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE en gewandel in die weë van sy vader Dawid en nie regs of links afgewyk nie.
3 En in die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog jonk was, het hy begin om die God van sy vader Dawid te soek, en in die twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die hoogtes en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde.
4 En hulle het voor sy oë die altare van die Baäls omgegooi; en die sonpilare wat daar bo-op was, het hy stukkend gekap en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde verbreek en vermaal en dit oor die grafte gestrooi van die wat aan hulle geoffer het.
5 En die beendere van die priesters het hy op hulle altare verbrand en Juda en Jerusalem gereinig.
6 En in die stede van Manasse en Efraim en Símeon en tot by Náftali, in hulle puinhope rondom,
7 het hy die altare omgegooi, en die heilige boomstamme en gesnede beelde het hy tot stof vergruis en al die sonpilare in die hele land van Israel het hy omgekap. Daarna het hy na Jerusalem teruggekom.
8 En in die agttiende jaar van sy regering, toe hy besig was om die land en die tempel te reinig, het hy Safan, die seun van Asálja, en Maäséja, die owerste van die stad, en Joag, die seun van Jóahas, die kanselier, gestuur om die huis van die HERE sy God te herstel.
9 Toe hulle by die hoëpriester Hilkía kom, het hulle die geld afgegee wat in die huis van God gebring was, wat die Leviete, die drumpelwagters, versamel het uit Manasse en Efraim en uit die hele oorblyfsel van Israel en uit die hele Juda en Benjamin en die inwoners van Jerusalem.
10 Hulle het dit naamlik oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat aangestel was oor die huis van die HERE, en dié het dit gegee aan die arbeiders wat gewerk het aan die huis van die HERE, om die huis reg te maak en te herstel.
11 En hulle het dit gegee aan die skrynwerkers en die bouers, om gekapte klippe en hout vir die kappe aan te koop en om die geboue wat die konings van Juda verniel het, van balke te voorsien.
12 En die manne het getrou gearbei aan die werk; en oor hulle was aangestel: Jahat en Obádja, Leviete uit die kinders van Merári, en Sagaría en Mesúllam uit die kinders van die Kehatiete, om leiding te gee; en die Leviete, elkeen wat verstand gehad het van musiekinstrumente,
13 was én oor die lasdraers én het al die werksmense bestuur by elke soort arbeid; uit die Leviete was ook skrywers en opsigters en poortwagters.
14 En toe hulle die geld uithaal wat in die huis van die HERE gebring was, het die priester Hilkía die wetboek van die HERE gevind wat deur die diens van Moses gegee is.
15 Daarop het Hilkía aan die skrywer Safan gesê: Ek het die wetboek in die huis van die HERE gevind! Toe gee Hilkía die boek aan Safan,
16 en Safan het die boek na die koning gebring en aan die koning verder verslag gegee en gesê: Alles wat in die hande van u dienaars gegee is, doen hulle:
17 hulle het die geld wat daar in die huis van die HERE was, uitgeskud en oorhandig aan die opsigters en die uitvoerders van die werk.
18 Toe gee die skrywer Safan aan die koning te kenne en sê: Die priester Hilkía het aan my ‘n boek gegee; en Safan het aan die koning daaruit voorgelees.
19 En toe die koning die woorde van die wet hoor, het hy sy klere geskeur,
20 en die koning het bevel gegee aan Hilkía en Ahíkam, die seun van Safan, en Abdon, die seun Miga, en Safan, die skrywer, en Asája, die dienaar van die koning, en gesê:
21 Gaan raadpleeg die HERE vir my en vir die wat in Israel en in Juda oorgebly het, oor die woorde van die boek wat gevind is; want groot is die grimmigheid van die HERE wat oor ons uitgestort is, omdat ons vaders die woord van die HERE nie gehou het om te handel volgens alles wat in hierdie boek voorgeskrywe is nie.
22 Toe gaan Hilkía en die wat die koning gestuur het, na die profetes Hulda, die vrou van Sallum, die seun van Tokhat, die seun van Hasra, die klerebewaarder—sy het in Jerusalem in die Nuwe Stad gewoon—en hulle het so met haar gespreek.
23 Toe sê sy aan hulle: So spreek die HERE, die God van Israel: Sê aan die man wat julle na my gestuur het,
24 so spreek die HERE: Kyk, Ek bring ‘n onheil oor hierdie plek en oor sy inwoners, al die vervloekinge wat geskrywe staan in die boek wat hulle aan die koning van Juda voorgelees het.
25 Omdat hulle My verlaat en vir ander gode offerrook laat opgaan het, om My te terg met al die werke van hulle hande, daarom sal my grimmigheid oor hierdie plek uitgestort en nie uitgeblus word nie.
26 Maar aan die koning van Juda wat julle stuur om die HERE te raadpleeg, aan hom moet julle só sê: So spreek die HERE, die God van Israel: Wat die woorde betref wat jy gehoor het—
27 omdat jou hart week is en jy jou voor die aangesig van God verneder het toe jy sy woorde teen hierdie plek en teen sy inwoners hoor, en jy jou voor my aangesig verneder het en jou klere geskeur en voor my aangesig geween het, daarom het Ek ook verhoor, spreek die HERE.
28 Kyk, Ek sal jou by jou vaders versamel, en jy sal met vrede in jou graf versamel word, en jou oë sal al die onheil nie aansien wat Ek oor hierdie plek en oor sy inwoners bring nie. En hulle het die koning antwoord gebring.
29 Toe het die koning gestuur en al die oudstes van Juda en Jerusalem byeen laat kom.
30 En die koning het opgegaan in die huis van die HERE en al die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem en die priesters en die Leviete en die hele volk, groot en klein, en hy het al die woorde van die verbondsboek wat in die huis van die HERE gevind is, voor hulle ore gelees.
31 En die koning het op sy plek gaan staan en die verbond voor die aangesig van die HERE gesluit om die HERE te volg en sy gebooie en sy getuienisse en sy insettinge met sy hele hart en met sy hele siel te onderhou, om die woorde van die verbond wat in hierdie boek geskrywe is, te volbring.
32 En hy het almal wat in Jerusalem en in Benjamin te vinde was, laat toetree tot die verbond; en die inwoners van Jerusalem het gehandel volgens die verbond van God, die God van hulle vaders.
33 Josía het toe al die gruwels uit al die landstreke van die kinders van Israel verwyder en almal wat in Israel te vinde was, diensbaar gemaak, om die HERE hulle God te dien; al sy dae het hulle nie van die HERE, die God van hulle vaders, afgewyk nie.




Hoofstuk 35

1 Daarna het Josía in Jerusalem die pasga tot eer van die HERE gehou; en hulle het die pasga geslag op die veertiende van die eerste maand.
2 En hy het die priesters hulle dienspligte laat waarneem en hulle versterk vir die diens in die huis van die HERE.
3 Ook het hy aan die Leviete, die onderwysers van die hele Israel, wat heilig was aan die HERE, gesê: Sit die heilige ark in die huis wat Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het; julle hoef niks meer op die skouers te dra nie: dien nou die HERE julle God en sy volk Israel;
4 en hou julle gereed volgens julle families, volgens julle afdelings, ooreenkomstig die voorskrif van Dawid, die koning van Israel, en die verordening van sy seun Salomo:
5 gaan staan in die heiligdom volgens die afdelings van die families van julle broers, die volksgenote, naamlik vir elkeen daarvan ‘n afdeling van ‘n Levitiese familie;
6 en slag die pasga en heilig julle en berei dit vir julle broers, om te doen volgens die woord van die HERE deur die diens van Moses.
7 En Josía het aan die mense uit die volk afgegee kleinvee, skaaplammers en boklammers, dit alles as paasoffers, aan almal wat daar aanwesig was, dertig duisend in getal, en drie duisend beeste; dit was uit die besitting van die koning.
8 Ook sy vorste het aan die volk, aan die priesters en die Leviete vrywillig afgegee. Hilkía en Sagaría en Jéhiël, die vorste oor die huis van God, het aan die priesters as paasoffers twee duisend ses honderd stuks kleinvee en drie honderd beeste gegee.
9 En Konánja en sy broers Semája en Netáneël, en Hasábja en Jeï-el en Jósabad, die owerstes van die Leviete, het aan die Leviete as paasoffers vyf duisend stuks kleinvee en vyf honderd beeste afgegee.
10 Die diens is toe gereël: die priesters het op hul plek gaan staan, en die Leviete volgens hulle afdelings, volgens die bevel van die koning.
11 Daarna het hulle die pasga geslag, en die priesters het die bloed uit die Leviete se hand geneem en dit uitgegooi, onderwyl die Leviete besig was om af te slag.
12 En hulle het wat vir die brandoffer bestem was, afgesonder om dit aan die familie-afdelings van die mense van die volk te gee om aan die HERE te offer, soos geskrywe is in die boek van Moses; en net so met die beeste.
13 En hulle het die pasga op die vuur gebraai volgens die voorskrif, maar die heilige gawes in potte en in kanne en in skottels gekook en gou aan al die mense van die volk gebring.
14 Daarna het hulle dit ook vir hulleself berei en vir die priesters; want die priesters, die seuns van Aäron, was tot in die nag besig met die offer van die brandoffer en die vetstukke; daarom het die Leviete dit vir hulleself en vir die priesters, die seuns van Aäron, berei.
15 En die sangers, die seuns van Asaf, was op hulle plek volgens die bevel van Dawid en van Asaf en Heman en Jedútun, die siener van die koning, en die poortwagters by elke poort; hulle het nie nodig gehad om van hulle diens af weg te gaan nie, want hulle broers, die Leviete, het dit vir hulle berei.
16 Die hele diens van die HERE is toe op dié dag gereël—om die pasga te hou en brandoffers te bring op die altaar van die HERE volgens die gebod van koning Josía.
17 En die kinders van Israel wat aanwesig was, het die pasga gehou in dié tyd, en ook die fees van die ongesuurde brode, sewe dae lank.
18 So ‘n pasga soos dié is in Israel nie gehou van die dae van die profeet Samuel af nie, en al die konings van Israel het nie so ‘n pasga gehou as wat Josía en die priesters en die Leviete en die hele Juda en Israel wat aanwesig was, en die inwoners van Jerusalem gehou het nie.
19 In die agttiende jaar van die regering van Josía is hierdie pasga gehou.
20 Ná dit alles, toe Josía die huis herstel het, het Nego, die koning van Egipte, opgetrek om te veg by Kárkemis aan die Eufraat, en Josía het uitgetrek hom tegemoet.
21 Toe stuur hy boodskappers na hom om te sê: Wat het ek met jou te doen, koning van Juda? Ek kom nie vandag teen jóu nie, maar teen die huis wat gedurig teen my oorlog voer; en God het gesê ek moet gou maak. Verset jou nie teen God wat met my is, dat Hy jou nie vernietig nie.
22 Josía het egter sy gesig nie van hom afgewend nie, maar homself onkenbaar gemaak om teen hom te veg; hy het nie geluister na die woorde van Nego uit die mond van God nie, en aangekom om te veg in die laagte van Megíddo.
23 En die skutters het koning Josía raak geskiet. Toe sê die koning aan sy dienaars: Bring my weg, want ek is swaar gewond.
24 Sy dienaars bring hom toe van die strydwa af weg en laat hom op sy tweede wa ry en vervoer hom na Jerusalem; en hy het gesterwe en is begrawe in die grafte van sy vaders, terwyl die hele Juda en Jerusalem oor Josía gerou het.
25 En Jeremía het ‘n klaaglied op Josía gedig, en al die sangers en sangeresse het in hulle klaagliedere van Josía gespreek tot vandag toe en dit tot ‘n insetting in Israel gemaak; en kyk, dit is beskrywe in die Klaagliedere.
26 En die verdere geskiedenis van Josía en sy vrome dade, volgens wat geskrywe is in die wet van die HERE,
27 sy geskiedenis dan, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Boek van die konings van Israel en Juda.




Hoofstuk 36

1 En die volk van die land het Jóahas, die seun van Josía, geneem en hom koning gemaak in die plek van sy vader in Jerusalem.
2 Drie en twintig jaar was Jóahas oud toe hy koning geword het, en drie maande het hy in Jerusalem geregeer.
3 En die koning van Egipte het hom in Jerusalem afgesit en die land ‘n boete opgelê van honderd talente silwer en ‘n talent goud.
4 Daarop het die koning van Egipte sy broer Éljakim koning gemaak oor Juda en Jerusalem en sy naam verander in Jójakim; maar Nego het sy broer Jóahas saamgeneem en hom na Egipte gebring.
5 Vyf en twintig jaar was Jójakim oud toe hy koning geword het, en elf jaar het hy in Jerusalem geregeer; en hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE sy God.
6 Nebukadnésar, die koning van Babel, het teen hom opgetrek en hom met koperkettings geboei om hom na Babel te vervoer.
7 Ook van die voorwerpe van die huis van die HERE het Nebukadnésar na Babel gebring en dit in sy tempel in Babel gesit.
8 Die verdere geskiedenis van Jójakim en sy gruwels wat hy bedryf het, en wat verder by hom gevind is, kyk, dit is beskrywe in die Boek van die konings van Israel en Juda; en sy seun Jójagin het in sy plek koning geword.
9 Agttien jaar was Jójagin oud toe hy koning geword het, en drie maande en tien dae het hy in Jerusalem geregeer; en hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE.
10 By die wisseling van die jaar het koning Nebukadnésar gestuur en hom na Babel laat bring, saam met die kosbare voorwerpe van die huis van die HERE, en sy broer Sedekía koning oor Juda en Jerusalem gemaak.
11 Een en twintig jaar was Sedekía oud toe hy koning geword het, en elf jaar het hy in Jerusalem geregeer.
12 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE sy God; hy het hom nie verootmoedig nie voor Jeremía, die profeet, wat gespreek het uit die mond van die HERE.
13 En hy het ook gerebelleer teen koning Nebukadnésar wat hom by God laat sweer het; maar hy was hardnekkig en het sy hart verhard, sodat hy hom nie tot die HERE, die God van Israel, bekeer het nie.
14 Ook al die owerstes van die priesters en die volk het baie ontrou gehandel, volgens al die gruwels van die heidene, en die huis van die HERE wat Hy in Jerusalem geheilig het, verontreinig.
15 En die HERE, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad.
16 Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie.
17 So het Hy dan die koning van die Chaldeërs teen hulle laat optrek, en dié het hulle jongmanne met die swaard in die huis van hulle heiligdom gedood en geen jongman of jongmeisie, oue of gryse, verskoon nie: Hy het alles in sy hand gegee.
18 En al die voorwerpe van die huis van God, groot en klein, en die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die koning en van sy vorste, alles het hy na Babel gebring.
19 En hulle het die huis van God verbrand en die muur van Jerusalem omgegooi en al die paleise daarvan met vuur verbrand, sodat al die kosbare voorwerpe daarvan vernietig is.
20 En die wat van die swaard oorgebly het, het hy na Babel in ballingskap weggevoer, en hulle het vir hom en sy seuns slawe geword, totdat die koninkryk van Persië tot heerskappy gekom het,
21 sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremía vervul sou word: totdat die land vir sy sabbatte vergoeding gekry het; al die dae van die verwoesting het dit gerus om sewentig jaar vol te maak.
22 En in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE—sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremía in vervulling sou gaan—die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy ‘n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê:
23 So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee, en Hy het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort—mag die HERE sy God met hom wees, en laat hom optrek!