Esra - Ezra

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10


-Reset+

Hoofstuk 1

1 En in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE—sodat die woord van die HERE uit die mond van Jeremía vervul sou word—die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy ‘n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê:
2 So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee; en Hy het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.
3 Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort—mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is.
4 En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef—hom moet die manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee, en met die vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is.
5 Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin klaargemaak, en die priesters en die Leviete—elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek, om die huis van die HERE wat in Jerusalem is, te bou.
6 En almal wat rondom hulle was, het hul hande versterk met silwervoorwerpe, met goud, met goed en vee en kosbare geskenke, behalwe alles wat hulle as vrywillige gawe aangebring het.
7 En koning Kores het die voorwerpe van die huis van die HERE uitgelewer wat Nebukadnésar uit Jerusalem weggevoer en in die huis van sy god gesit het.
8 En Kores, die koning van Persië, het dit uitgelewer onder toesig van Mítredat, die skatmeester; en dié het dit aan Sésbassar, die vors van Juda, voorgetel.
9 En dit was hulle getal: dertig goue komme, duisend silwerkomme, nege en twintig messe;
10 dertig goue bekers; verder vier honderd en tien silwerbekers, duisend ander voorwerpe.
11 Al die voorwerpe van goud en silwer was: vyf duisend vier honderd; dit alles het Sésbassar saamgebring toe die ballinge uit Babel na Jerusalem opgetrek het.




Hoofstuk 2

1 En dit is die inwoners van die provinsie Juda wat opgetrek het uit die gevangenskap van die ballinge wat Nebukadnésar, die koning van Babel, na Babel weggevoer het, wat na Jerusalem en Juda teruggekeer het, elkeen na sy stad;
2 wat saam met Serubbábel, Jésua, Nehemía, Serája, Reëlája, Mórdegai, Bilsan, Mispar, Bigwai, Rehum, Baäna gekom het; die aantal manne van die volk van Israel was:
3 die kinders van Parhos, twee duisend een honderd twee en sewentig;
4 die kinders van Sefátja, drie honderd twee en sewentig;
5 die kinders van Arag, sewe honderd vyf en sewentig;
6 die kinders van Pahat-Moab, van die kinders van Jésua en Joab, twee duisend agt honderd en twaalf;
7 die kinders van Elam, duisend twee honderd vier en vyftig;
8 die kinders van Sattu, nege honderd vyf en veertig;
9 die kinders van Sakkai, sewe honderd en sestig;
10 die kinders van Bani, ses honderd twee en veertig;
11 die kinders van Bébai, ses honderd drie en twintig;
12 die kinders van Asgad, duisend twee honderd twee en twintig;
13 die kinders van Adoníkam, ses honderd ses en sestig;
14 die kinders van Bigwai, twee duisend ses en vyftig;
15 die kinders van Adin, vier honderd vier en vyftig;
16 die kinders van Ater, van Hiskía, agt en negentig;
17 die kinders van Bésai, drie honderd drie en twintig;
18 die kinders van Jora, honderd en twaalf;
19 die kinders van Hasum, twee honderd drie en twintig;
20 die kinders van Gibbar, vyf en negentig;
21 die kinders van Betlehem, honderd drie en twintig;
22 die manne van Netófa, ses en vyftig;
23 die manne van Anatot, honderd agt en twintig;
24 die kinders van Asmáwet, twee en veertig;
25 die kinders van Kirjat-Arim, Kefíra en Béërot, sewe honderd drie en veertig;
26 die kinders van Rama en Geba, ses honderd een en twintig;
27 die manne van Migmas, honderd twee en twintig;
28 die manne van Bet-el en Ai, twee honderd drie en twintig;
29 die kinders van Nebo, twee en vyftig;
30 die kinders van Magbis, honderd ses en vyftig;
31 die kinders van die ander Elam, duisend twee honderd vier en vyftig;
32 die kinders van Harim, drie honderd en twintig;
33 die kinders van Lod, Hadid en Ono, sewe honderd vyf en twintig;
34 die kinders van Jérigo, drie honderd vyf en veertig;
35 die kinders van Sénaä, drie duisend ses honderd en dertig.
36 Die priesters: die kinders van Jedája, van die huis van Jésua, nege honderd drie en sewentig;
37 die kinders van Immer, duisend twee en vyftig;
38 die kinders van Pasgur, duisend twee honderd sewe en veertig;
39 die kinders van Harim, duisend en sewentien.
40 Die Leviete: die kinders van Jésua en Kádmiël, van die kinders van Hodáwja, vier en sewentig.
41 Die sangers: die kinders van Asaf, honderd agt en twintig.
42 Die kinders van die poortwagters: die kinders van Sallum, die kinders van Ater, die kinders van Talmon, die kinders van Akkub, die kinders van Hatíta, die kinders van Sobai, almal saam honderd nege en dertig.
43 Die tempelbediendes: die kinders van Síha, die kinders van Hasúfa, die kinders van Tábbaot;
44 die kinders van Keros, die kinders van Síaha, die kinders van Padon;
45 die kinders van Lebána, die kinders van Hagába die kinders van Akkub;
46 die kinders van Hagab, die kinders van Samlai, die kinders van Hanan;
47 die kinders van Giddel, die kinders van Gahar, die kinders van Reája;
48 die kinders van Resin, die kinders van Nekóda, die kinders van Gassam;
49 die kinders van Ussa, die kinders van Paséag, die kinders van Bésai;
50 die kinders van Asna, die kinders van die Meüniete, die kinders van die Nefisiete;
51 die kinders van Bakbuk, die kinders van Hakúfa, die kinders van Harhur;
52 die kinders van Baslut, die kinders van Mehída, die kinders van Harsa;
53 die kinders van Barkos, die kinders van Sísera, die kinders van Temag;
54 die kinders van Nesíag, die kinders van Hatífa;
55 die kinders van die dienaars van Salomo: die kinders van Sotai, die kinders van Hassoféret, die kinders van Perúda;
56 die kinders van Jáäla, die kinders van Darkon, die kinders van Giddel;
57 die kinders van Sefátja, die kinders van Hattil, die kinders van Pogéret-Hassebáim, die kinders van Ami—
58 al die tempelbediendes en die kinders van die dienaars van Salomo was drie honderd twee en negentig.
59 En dit is hulle wat uit Tel-Melag, Tel-Harsa, Kerub, Addan, Immer opgetrek het, maar wat nie hulle familie en hulle afkoms kon aanwys of hulle van Israel afkomstig was nie—
60 die kinders van Delája, die kinders van Tobía, die kinders van Nekóda, ses— honderd twee en vyftig.
61 En van die kinders van die priesters: die kinders van Habája, die kinders van Hakkos, die kinders van Barsíllai, wat uit die dogters van Barsíllai, die Gileadiet, ‘n vrou geneem het en na hulle naam genoem is.
62 Hulle het hul stamboom gesoek onder die wat in die register opgeneem is, maar dit was nie te vinde nie; daarom is hulle onbevoeg verklaar vir die priesterskap.
63 En die goewerneur het aan hulle gesê dat hulle nie mag eet van die hoogheilige gawes nie, totdat ‘n priester sou optree met Urim en Tummim.
64 Die hele vergadering saam was twee en veertig duisend drie honderd en sestig,
65 behalwe hulle slawe en hulle slavinne; dié was sewe duisend drie honderd sewe en dertig. En hulle het twee honderd sangers en sangeresse gehad.
66 Hulle perde was sewe honderd ses en dertig; hulle muile, twee honderd vyf en veertig;
67 hulle kamele, vier honderd vyf en dertig; esels, ses duisend sewe honderd en twintig.
68 En van die familiehoofde het, toe hulle by die huis van die HERE kom wat in Jerusalem is, vrywillig gegee vir die huis van God om dit weer op te rig op sy plek.
69 Na hul vermoë het hulle bygedra tot die fonds van die werk: in goud een en sestig duisend dragmes, en in silwer vyf duisend mines en honderd priesterrokke.
70 So het dan die priesters en die Leviete en van die volk en die sangers en die poortwagters en die tempelbediendes in hulle stede gaan woon, en die hele Israel in húlle stede.




Hoofstuk 3

1 En toe die sewende maand aankom en die kinders van Israel in die stede was, het die volk soos een man in Jerusalem byeengekom.
2 En Jésua, die seun van Jósadak, met sy broers, die priesters, en Serubbábel, die seun van Seáltiël, met sy broers, het klaargemaak en die altaar van die God van Israel gebou om daar brandoffers op te offer soos geskrywe staan in die wet van Moses, die man van God.
3 En hulle het die altaar op sy grondveste opgerig, omdat die skrik vir die volke van die lande op hulle gekom het; en hulle het daar brandoffers op geoffer aan die HERE, brandoffers smôrens en saans.
4 En hulle het die huttefees gehou soos geskrywe staan, en brandoffers dag vir dag volgens die getal, na die eis van elke dag, soos voorgeskrywe was;
5 en daarna die voortdurende brandoffer en dié van die nuwemane en van al die geheiligde feestye van die HERE en van elkeen wat aan die HERE ‘n vrywillige gawe gebring het.
6 Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die HERE te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die HERE nog nie gelê was nie.
7 Maar hulle het geld gegee aan die klipkappers en die skrynwerkers, en aan die Sidoniërs en Tiriërs voedsel en drank en olie om sederhout van die Líbanon te bring na die see, na Jafo, volgens die verlof van Kores, die koning van Persië, aan hulle.
8 En in die tweede jaar ná hulle aankoms by die huis van God in Jerusalem, in die tweede maand, het Serubbábel, die seun van Seáltiël, ‘n begin gemaak, hy en Jésua, die seun van Jósadak, en hulle ander broers, die priesters en die Leviete en almal wat uit die gevangenskap na Jerusalem gekom het: hulle het die Leviete van twintig jaar oud en daarbo aangestel om toesig te hou oor die werk aan die huis van die HERE.
9 En Jésua het opgetree, sy seuns en sy broers, Kádmiël met sy seuns, die seuns van Juda, soos een man, om toesig te hou oor die wat die werk gedoen het aan die huis van God, met die seuns van Hénadad, hulle seuns en hulle broers, die Leviete.
10 Toe die bouers dan die fondament van die tempel van die HERE lê, het hulle die priesters in ampsgewaad met trompette, en die Leviete, die seuns van Asaf, met simbale opgestel om die HERE te loof volgens die instelling van Dawid, die koning van Israel.
11 En hulle het aangehef met lof en dank aan die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid oor Israel is vir ewig! En die hele volk het gejuig met groot gejuig toe hulle die HERE loof, omdat die fondament van die huis van die HERE gelê was.
12 Maar baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, van die oues wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondament van hierdie huis voor hulle oë gelê is, terwyl baie met gejuig, met blydskap die stem verhef het.
13 En die volk kon die geluid van blye gejuig nie onderskei van die geluid van gehuil van die volk nie, want die volk het gejuig met groot gejuig, sodat die geluid tot ver weg gehoor is.




Hoofstuk 4

1 En toe die teëstanders van Juda en Benjamin hoor dat die ballinge ‘n tempel bou vir die HERE, die God van Israel,
2 het hulle aangekom na Serubbábel en na die familiehoofde en aan hulle gesê: Laat ons saam met julle bou, want net soos julle soek ons julle God, en aan Hom offer ons van die dae van Esar-Haddon af, die koning van Assirië, wat ons hierheen laat optrek het.
3 Maar Serubbábel en Jésua en die ander familiehoofde van Israel het aan hulle gesê: Dit sal nie gaan dat julle saam met ons ‘n huis vir onse God bou nie, maar óns alleen sal vir die HERE, die God van Israel, dit bou soos koning Kores, die koning van Persië, ons beveel het.
4 Toe het die volk van die land die hande van die volk van Juda laat verslap en hulle afgeskrik om nie te bou nie.
5 En hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle plan te verydel al die dae van Kores, die koning van Persië, tot op die regering van Daríus, die koning van Persië.
6 En onder die regering van Ahasvéros, in die begin van sy regering, het hulle ‘n aanklag geskrywe teen die inwoners van Juda en Jerusalem.
7 En in die dae van Artasásta het Bislam, Mítredat, Tábeël en sy ander partygenote aan Artasásta, die koning van Persië, geskrywe; en die skrif van die brief was Aramees geskrywe en in Aramees vertaal.
8 Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, het ‘n brief geskrywe teen Jerusalem aan Artasásta, die koning, van die volgende inhoud:
9 Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, en hulle ander partygenote, die Dinaïete, die Afarsatgiete, die Tarpeliete, die Afarsiete, die Arkewiete, die Babiloniërs, die Susangiete, naamlik die Elamiete,
10 en die ander volke wat die groot en beroemde Asnappar weggevoer en in die stad Samaría en die orige gebied wes van die Eufraat laat woon het. En nou—
11 dit is ‘n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het: Aan koning Artasásta, u dienaars, die manne wes van die Eufraat. En nou—
12 aan die koning word bekend gemaak dat die Jode wat van u af na ons opgetrek het, in Jerusalem aangekom het. Hulle is besig om die rebelse en slegte stad op te bou: die mure voltooi hulle en die fondamente herstel hulle.
13 Laat dit nou aan die koning bekend wees dat hulle, as dié stad opgebou en die mure voltooi is, geen belasting, opbrings of tol sal gee nie—wat aan die inkomste van die konings skade sal doen.
14 Aangesien ons nou die sout van die paleis geëet het en dit ons nie pas om die smaad van die koning aan te sien nie, daarom stuur ons en laat die koning weet,
15 dat hulle kan nasoek in die kroniekboek van u vaders; dan sal u in die kroniekboek vind en daaruit verneem dat dié stad ‘n rebelse stad was wat aan konings en provinsies skade gedoen het, en dat hulle van ouds af daarin oproer verwek het; daarom is dié stad verwoes.
16 Ons maak die koning bekend dat, as dié stad opgebou en die mure voltooi word, u daardeur geen deel sal hê wes van die Eufraat nie.
17 Die koning het as antwoord gestuur: Aan Rehum, die bevelhebber, en Simsai, die skrywer, en hulle ander partygenote wat in Samaría en in die orige gebied wes van die Eufraat woon: Heil! En nou—
18 die brief wat julle aan ons gestuur het, is aan my in vertaling voorgelees.
19 En deur my is bevel gegee, en hulle het gesoek en gevind dat dié stad van ouds af hom teen konings versit, en dat rebellie en oproer daarin verwek is.
20 En magtige konings was daar oor Jerusalem wat geheers het oor die hele gebied wes van die Eufraat, en belasting, opbrings en tol is aan hulle gegee.
21 Gee nou bevel dat dié manne moet ophou en hierdie stad nie opgebou mag word totdat deur my bevel gegee sal word nie.
22 En wees gewaarsku om hierin geen nalatigheid te begaan nie, dat daar nie groter skade tot nadeel van die konings ontstaan nie.
23 Net toe die afskrif van die brief van Artasásta, die koning, aan Rehum en Simsai, die skrywer, en hulle partygenote voorgelees is, het hulle haastig na Jerusalem, na die Jode gegaan en hulle met geweld en mag laat ophou.
24 Toe het die werk aan die huis van God wat in Jerusalem is, opgehou; en dit is gestaak tot op die tweede jaar van die regering van Daríus, die koning van Persië.




Hoofstuk 5

1 Maar Hággai, die profeet, en Sagaría, die seun van Iddo, die profete, het vir die Jode wat in Juda en Jerusalem was, geprofeteer in die Naam van die God van Israel wat oor hulle was.
2 Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Jésua, die seun van Jósadak, klaargemaak, en hulle het begin om die huis van God wat in Jerusalem was, te bou, en saam met hulle was die profete van God wat hulle ondersteun het.
3 In dié tyd het Tattenai, die goewerneur wes van die Eufraat, en Setar-Bosenai en hulle partygenote na hulle gekom en só aan hulle gesê: Wie het julle bevel gegee om hierdie huis te bou en hierdie muur te voltooi?
4 Só het ons dan vir hulle gesê wat die name was van die manne wat hierdie gebou oprig.
5 Maar die oog van hulle God was oor die oudstes van die Jode, sodat hulle hul nie verhinder het nie, totdat die berig voor Daríus sou kom, en dan daaroor ‘n brief teruggebring sou word.
6 ‘n Afskrif van die brief wat Tattenai, die goewerneur wes van die Eufraat, en Setar-Bosenai en sy partygenote, die Afarsegaïete wat wes van die Eufraat was, aan koning Daríus gestuur het.
7 Hulle het aan hom ‘n berig gestuur, en só was daarin geskrywe: Aan koning Daríus—alle heil!
8 Aan die koning word bekend gemaak dat ons na die provinsie Juda, na die huis van die grote God, gegaan het; en dit word van groot klippe gebou, en hout word teen die mure gelê, en daardie werk word sorgvuldig gedoen en vorder goed onder hulle hande.
9 Toe het ons daardie oudstes gevra; só het ons aan hulle gesê: Wie het julle bevel gegee om hierdie huis te bou en hierdie muur te voltooi?
10 Verder het ons vir hulle ook hul name gevra om u bekend te maak, dat ons die name van die manne wat aan hul hoof staan, kan skrywe.
11 En hulle het ons die volgende antwoord gegee en gesê: Ons is knegte van die God van hemel en aarde, en ons bou die huis wat baie jare gelede gebou is, wat ‘n groot koning van Israel gebou en voltooi het.
12 Maar omdat ons vaders die God van die hemel vertoorn het, het Hy hulle oorgegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, die Chaldeër; hy het hierdie huis verwoes en die volk na Babel weggevoer.
13 Maar in die eerste jaar van Kores, die koning van Babel, het koning Kores bevel gegee om hierdie huis van God te bou.
14 En ook die goue en silwervoorwerpe van die huis van God wat Nebukadnésar uit die tempel in Jerusalem weggevoer en in die tempel van Babel gebring het, dit het koning Kores uit die tempel van Babel uitgehaal, en dit is oorhandig aan een, met die naam van Sésbassar, wat hy as goewerneur aangestel het;
15 en hy het vir hom gesê: Neem hierdie voorwerpe, gaan sit dit in die tempel in Jerusalem, en laat die huis van God gebou word op sy plek.
16 Toe het hierdie Sésbassar gekom, hy het die fondamente van die huis van God in Jerusalem gelê, en van toe af tot nou toe is daar gebou, maar dit is nog nie voltooi nie.
17 As die koning dit nou goedvind, laat dan nagesoek word in die skathuis van die koning daar in Babel, of dit so is dat deur koning Kores bevel gegee is om hierdie huis van God in Jerusalem te bou; en mag die koning sy beslissing hieroor aan ons stuur.




Hoofstuk 6

1 Toe het koning Daríus bevel gegee, en hulle het nagesoek in die argief waar hulle in Babel die skatte wegbêre.
2 En in Agméta, in die vesting wat in die provinsie Médië lê, is ‘n skrifrol gevind, en só was daarin geskrywe: Oorkonde.
3 In die eerste jaar van koning Kores het koning Kores bevel gegee: Die Godshuis in Jerusalem—dié huis moet gebou word as ‘n plek waar hulle offers bring, en sy fondamente moet gelê word; sy hoogte moet sestig el, sy breedte sestig el wees;
4 met drie lae groot klippe en een laag nuwe hout; en die onkoste sal deur die huis van die koning gedra word.
5 En ook die goue en silwervoorwerpe van die huis van God wat Nebukadnésar uit die tempel in Jerusalem weggevoer en na Babel gebring het, moet hulle teruggee, dat dit in die tempel in Jerusalem op hulle plek kan kom, en jy moet dit in die Godshuis sit.
6 Tattenai, goewerneur wes van die Eufraat, Setar-Bosenai met hulle partygenote, die Afarsegaïete wes van die Eufraat—julle moet daar nou ver van af bly.
7 Laat die werk aan daardie Godshuis toe; die goewerneur van die Jode en die oudstes van die Jode mag daardie huis van God op sy plek bou.
8 En deur my word bevel gegee hoe julle met hierdie oudstes van die Jode moet handel om daardie huis van God te bou, naamlik: Uit die inkomste van die koning, uit die belasting van die westelike gebied van die Eufraat moet die onkoste aan daardie manne sorgvuldig vergoed word sonder vertraging.
9 En wat nodig is, jong bulle sowel as ramme en lammers vir brandoffers aan die God van die hemel, koring, sout, wyn en olie moet aan hulle volgens opgawe van die priesters in Jerusalem sonder versuim dag vir dag gelewer word,
10 dat hulle welgevallige offers kan bring aan die God van die hemel en kan bid vir die lewe van die koning en van sy seuns.
11 En deur my word bevel gegee dat van elkeen wat hierdie bevel oortree, ‘n balk uit sy huis geruk sal word, en dat hy daaraan opgehang en vasgeslaan sal word, en van sy huis hieroor ‘n puinhoop gemaak sal word.
12 En mag God wat sy Naam daar laat woon het, elke koning en volk neerwerp wat sy hand uitsteek om dit te oortree, om naamlik hierdie Godshuis in Jerusalem te verwoes. Ek, Daríus, gee bevel; sorgvuldig moet dit uitgevoer word.
13 Toe het Tattenai, die goewerneur wes van die Eufraat, Setar-Bosenai en hulle partygenote sorgvuldig net so gehandel soos koning Daríus laat weet het.
14 En die oudstes van die Jode het gebou en goed gevorder deur die profetiese werksaamheid van die profeet Hággai en Sagaría, die seun van Iddo; en hulle het gebou en voltooi op bevel van die God van Israel en op bevel van Kores en Daríus en Artasásta, koning van Persië.
15 En hierdie huis was klaar op die derde dag van die maand Adar; dit was die sesde jaar van die regering van koning Daríus.
16 En die kinders van Israel, die priesters en die Leviete en die ander, uit die ballingskap afkomstig, het die inwyding van hierdie huis van God met vreugde gevier.
17 En hulle het geoffer by die inwyding van hierdie huis van God: honderd bulle, twee honderd ramme, vier honderd lammers en twaalf bokke as sondoffer vir die hele Israel volgens die getal van die stamme van Israel.
18 En hulle het die priesters aangestel volgens hulle afdelings en die Leviete volgens hulle afdelings vir die diens van God in Jerusalem, volgens die voorskrif van die boek van Moses.
19 En die ballinge het die pasga gehou op die veertiende van die eerste maand.
20 Want die priesters en die Leviete het hulle soos een man gereinig—hulle almal was rein—en die paaslam geslag vir al die ballinge en vir hulle broers, die priesters, en vir hulleself.
21 En die kinders van Israel wat uit die ballingskap teruggekeer het, het dit geëet en elkeen wat hom van die onreinheid van die nasies van die land afgesonder het om saam met hulle die HERE, die God van Israel, te soek.
22 Hulle het ook die fees van die ongesuurde brode met blydskap sewe dae lank gehou; want die HERE het hulle verbly en die hart van die koning van Assirië na hulle omgewend, om hul hande te versterk in die werk aan die huis van God, die God van Israel.




Hoofstuk 7

1 En ná hierdie gebeurtenisse, onder die regering van Artasásta, die koning van Persië, het Esra, die seun van Serája, die seun van Asárja, die seun van Hilkía,
2 die seun van Sallum, die seun van Sadok, die seun van Ahítub,
3 die seun van Amárja, die seun van Asárja, die seun van Mérajot,
4 die seun van Serágja, die seun van Ussi, die seun van Bukki,
5 die seun van Abisúa, die seun van Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van Aäron, die hoëpriester,
6 het hierdie Esra opgetrek uit Babel; en hy was ‘n skrifgeleerde, vaardig in die wet van Moses wat die HERE, die God van Israel, gegee het; en die koning het, omdat die hand van die HERE sy God oor hom was, al sy begeertes ingewillig.
7 Ook van die kinders van Israel en van die priesters en die Leviete en die sangers en die poortwagters en die tempelbediendes het na Jerusalem opgetrek in die sewende jaar van koning Artasásta.
8 En hy het in Jerusalem gekom in die vyfde maand; dit was die sewende jaar van die koning.
9 Want op die eerste van die eerste maand het hy die optog uit Babel gereël, en op die eerste van die vyfde maand het hy in Jerusalem aangekom, omdat die goeie hand van sy God oor hom was.
10 Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die HERE te ondersoek en te betrag, en om Israel die insettinge en verordeninge te leer.
11 En dit is die afskrif van die brief wat koning Artasásta gegee het aan Esra, die priester-skrifgeleerde, wat skrifgeleerd was in die woorde van die gebooie en insettinge van die HERE oor Israel:
12 Artasásta, die koning van die konings, aan die priester Esra, skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, volkome vrede! En nou—
13 deur my is bevel gegee dat elkeen van die volk van Israel en van sy priesters en Leviete wat in my koninkryk gewillig is om na Jerusalem te trek, met jou mag saamtrek;
14 omdat jy vanweë die koning en sy sewe raadsmanne gestuur is om oor Juda en in Jerusalem ondersoek te doen volgens die wet van jou God wat in jou hand is,
15 en om die silwer en goud weg te bring wat die koning en sy raadsmanne vrywillig gee aan die God van Israel wie se woning in Jerusalem is,
16 en al die silwer en goud wat jy sal vind in die hele provinsie Babel saam met die vrywillige gawes van die volk en die priesters wat vrywillig gee vir die huis van hulle God wat in Jerusalem is.
17 Daarom moet jy sorgvuldig met hierdie geld koop bulle, ramme, lammers met die spysoffers en drankoffers wat daarby behoort, en dit op die altaar van die huis van julle God in Jerusalem offer.
18 En wat jy en jou broers goedvind om met die orige silwer en goud te doen, kan julle doen volgens die wil van julle God.
19 Maar die voorwerpe wat aan jou gegee word vir die diens van die huis van jou God, moet jy aflewer voor die God van Jerusalem.
20 En die ander benodigdhede vir die huis van jou God wat jy sal moet gee, mag jy gee uit die skathuis van die koning.
21 En deur my, koning Artasásta, is bevel gegee aan al die skatmeesters wat wes van die Eufraat is, dat alles wat Esra, die priester, die skrifgeleerde in die wet van die God van die hemel, van julle vra, sorgvuldig gedoen moet word,
22 tot honderd talente silwer en tot honderd kor koring en tot honderd bat wyn en tot honderd bat olie toe en sout sonder beperking.
23 Alles wat volgens die bevel van die God van die hemel is, moet stiptelik uitgevoer word vir die huis van die God van die hemel; want waarom sou daar ‘n toorn kom oor die koninkryk van die koning en sy seuns?
24 En ons maak julle bekend dat wat betref al die priesters en Leviete, sangers, poortwagters, tempelbediendes of dienaars van hierdie huis van God, niemand gemagtig is om hulle belasting, opbrings of tol op te lê nie.
25 En jy, Esra, volgens die wysheid van jou God wat jy besit, stel owerhede en regters aan om vir die hele volk wat wes van die Eufraat is, reg te spreek, almal wat die wette van jou God ken; en wie dit nie ken nie, moet julle dit leer.
26 En elkeen wat die wet van jou God en die wet van die koning nie doen nie, teen hom moet geregtelik opgetree word, hetsy ter dood of tot verbanning of geldboete of gevangenisstraf.
27 Geloofd sy die HERE, die God van ons vaders, wat so iets in die hart van die koning gegee het, om die huis van die HERE wat in Jerusalem is, te versier;
28 en wat my guns laat vind het voor die koning en sy raadsmanne en voor al die magtige vorste van die koning. Toe het ek moed geskep, omdat die hand van die HERE my God oor my was, en ek het die hoofde uit Israel versamel om saam met my op te trek.




Hoofstuk 8

1 En dit is hulle familiehoofde, met hulle geslagsregister, wat saam met my onder die regering van koning Artasásta uit Babel opgetrek het:
2 van die kinders van Pínehas: Gersom; van die kinders van Itamar: Daniël; van die kinders van Dawid: Hattus,
3 van die kinders van Segánja; van die kinders van Párhos: Sagaría, en saam met hom in die register opgeneem, aan manspersone, honderd en vyftig;
4 van die kinders van Pahat-Moab: Eljehóënai, die seun van Serágja, en saam met hom twee honderd manspersone;
5 van die kinders van Sattu: Segánja, die seun van Jahásiël, en saam met hom drie honderd manspersone;
6 en van die kinders van Adin: Ebed, die seun van Jónatan, en saam met hom vyftig manspersone;
7 en van die kinders van Elam: Jesaja, die seun van Atálja, en saam met hom sewentig manspersone;
8 en van die kinders van Sefátja: Sebádja, die seun van Mígael, en saam met hom tagtig manspersone;
9 van die kinders van Joab: Obádja, die seun van Jéhiël, en saam met hom twee honderd en agttien manspersone;
10 en van die kinders van Bani: Sélomit, die seun van Josífja, en saam met hom honderd en sestig manspersone;
11 en van die kinders van Bébai: Sagaría, die seun van Bébai, en saam met hom agt en twintig manspersone;
12 en van die kinders van Asgad: Jóhanan, die seun van Hakkátan, en saam met hom honderd en tien manspersone;
13 en van die kinders van Adoníkam wat later gekom het, en dit was hulle name: Elifélet, Jeï-el en Semája, en saam met hulle sestig manspersone;
14 en van die kinders van Bigwai: Utai en Sabbud, en saam met hom sewentig manspersone.
15 En ek het hulle versamel by die rivier wat na Ahawa loop, en ons het daar drie dae laer opgeslaan; en ek het op die volk en die priesters ag gegee, maar van die kinders van Levi daar nie aangetref nie.
16 Daarom het ek Eliëser, Ariël, Semája en Élnatan en Jarib en Élnatan en Natan en Sagaría en Mesúllam, die hoofde, en Jójarib en Élnatan, die leraars, gestuur
17 en hulle bevel gegee aan Iddo, die hoof in die plek Kasífja; en ek het die woorde in hulle mond gelê wat hulle met Iddo, en sy broers, die tempelbediendes in die plek Kasífja, moes spreek, dat hulle vir ons dienaars vir die huis van onse God moes bring.
18 En hulle het vir ons, omdat die goeie hand van onse God oor ons was, verstandige manne uit die kinders van Magli, die seun van Levi, die seun van Israel, gebring, naamlik Serébja met sy seuns en sy broers, agttien;
19 en Hasábja, en saam met hom Jesaja, van die kinders van Merári, sy broers en hulle seuns, twintig;
20 en van die tempelbediendes wat Dawid en die owerstes vir die diens van die Leviete gegee het, twee honderd en twintig tempelbediendes wat almal met hulle name aangewys was.
21 Toe het ek daar ‘n vastyd uitgeroep aan die rivier Ahawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom ‘n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed.
22 Want ek was skaam om van die koning ‘n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad, omdat ons met die koning gespreek en gesê het: Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat.
23 So het ons dan gevas en onse God dit gevra, en Hy het ons verhoor.
24 Toe het ek van die priesterowerstes twaalf afgesonder: Serébja, Hasábja en tien van hulle broers saam met hulle.
25 En ek het vir hulle die silwer en die goud en die voorwerpe afgeweeg, die offergawe aan die huis van onse God wat die koning en sy raadsmanne en sy vorste en die hele Israel wat aanwesig was, aangebied het.
26 En ek het in hulle hand afgeweeg: ses honderd en vyftig talente silwer en silwervoorwerpe van honderd talente, honderd talente in goud,
27 en twintig goue bekers van duisend darieke en twee mooi goudgeel voorwerpe van koper, kosbaar soos goud.
28 En ek het vir hulle gesê: Julle is heilig aan die HERE, en die voorwerpe is heilig, en die silwer en die goud is ‘n vrywillige gawe aan die HERE, die God van julle vaders.
29 Waak daaroor en bewaar dit, totdat julle dit afweeg voor die owerstes van die priesters en die Leviete en die familie-owerstes van Israel in Jerusalem, in die vertrekke van die huis van die HERE.
30 Toe het die priesters en die Leviete die gewig van die silwer en die goud en die voorwerpe ontvang om dit na Jerusalem, na die huis van onse God te bring.
31 Daarna het ons weggetrek van die rivier Ahawa af op die twaalfde van die eerste maand, om na Jerusalem te gaan; en die hand van onse God was oor ons, sodat Hy ons gered het uit die hand van die vyand en die wat ons voorlê op die pad.
32 En ons het in Jerusalem aangekom en daar drie dae gebly.
33 En op die vierde dag is die silwer en die goud en die voorwerpe in die huis van onse God afgeweeg onder bewaring van die priester Méremot, die seun van Uría, en by hom was Eleásar, die seun van Pínehas, en by hulle Jósabad, die seun van Jésua, en Noádja, die seun van Bínnuï, die Leviete—
34 volgens getal en gewig van alles; en tegelykertyd is die hele gewig opgeskrywe.
35 Hulle wat uit die gevangenskap gekom het, die seuns van die ballingskap, het brandoffers gebring aan die God van Israel: twaalf bulle vir die hele Israel, ses en negentig ramme, sewe en sewentig lammers, twaalf bokke as sondoffer—dit alles as brandoffer aan die HERE.
36 En hulle het die bevelskrifte van die koning gegee aan die landvoogde van die koning en die goewerneurs wes van die Eufraat, en dié het die volk en die huis van God ondersteun.




Hoofstuk 9

1 En toe dit klaar was, het die owerstes na my gekom en gesê: Die volk van Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie afgesonder van die volke van die lande, wat hulle gruwels betref nie, naamlik van die Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete.
2 Want hulle het van húlle dogters vir hulleself en vir hul seuns geneem, sodat die heilige geslag hom met die volke van die lande vermeng het; en die owerstes en die leiers het in hierdie ontrou eerste die hand gehad.
3 En toe ek dit hoor, het ek my kleed en my mantel geskeur en van die hare van my hoof en my baard uitgepluk en verslae neergesit.
4 En by my het byeengekom almal wat gebeef het vir die woorde van die God van Israel, oor die ontrou van die ballinge; maar ek het verslae bly sit tot die aandoffer toe.
5 Maar op die tyd van die aandoffer het ek opgestaan uit my verootmoediging; en terwyl ek my kleed en my mantel skeur, het ek op my knieë my gebuig en my hande uitgebrei na die HERE my God
6 en gesê: My God, ek voel te beskaamd en verleë om my aangesig tot U, my God, op te hef, want ons ongeregtighede het oor ons hoof gegroei, en ons skuld is hemelhoog.
7 Van die dae van ons vaders af tot vandag toe is ons in ‘n groot skuld, en oor ons ongeregtighede is ons self, ons konings, ons priesters oorgegee in die hand van die konings van die lande, aan die swaard, aan gevangenskap en aan plundering en beskaming van die aangesig soos dit vandag is.
8 En nou was daar vir ‘n klein oomblik genade van die kant van die HERE onse God, om vrygeraaktes vir ons te laat oorbly en ons ‘n pen te gee in sy heilige plek, sodat onse God ons oë verhelder het en ons ‘n bietjie verademing geskenk het in ons diensbaarheid.
9 Want slawe is ons; in ons slawerny egter het onse God ons nie verlaat nie, maar Hy het ons guns laat vind voor die konings van Persië, sodat hulle ons verademing geskenk het om die huis van onse God weer op te rig en sy puinhope te herstel en ons ‘n muur te gee in Juda en Jerusalem.
10 En wat sal ons nou ná hierdie dinge sê, onse God? Want ons het u gebooie verlaat
11 wat U deur u knegte, die profete, beveel het deur te sê: Die land waar julle inkom om dit in besit te neem, is ‘n onrein land vanweë die onreinheid van die volke van die lande, deur hulle gruwels waarmee hulle dit van die een end tot die ander vervul het in hulle onreinheid.
12 Gee dan nou julle dogters nie aan hulle seuns en neem hulle dogters nie vir julle seuns nie, en soek tot in ewigheid nie hulle vrede en geluk nie, sodat julle kan sterk word en die goeie van die land geniet en dit aan julle kinders as besitting kan gee tot in ewigheid.
13 En ná alles wat oor ons gekom het vanweë ons slegte dade en ons groot skuld—want U, onse God, het ons minder toegereken as wat ons ongeregtighede verdien het, en aan ons nog soveel vrygeraaktes gegee—
14 sal ons weer u gebooie verbreek en ons verswaer met hierdie gruwelike volke? Sal U nie op ons vertoorn wees, totdat ons vernietig is, sodat daar geen oorblyfsel of vrygeraakte meer is nie?
15 HERE, God van Israel, U is regverdig; want ons het as vrygeraaktes oorgebly soos dit vandag is. Hier is ons in ons skuld voor u aangesig, want niemand kan om sulke dinge voor u aangesig bestaan nie.




Hoofstuk 10

1 En terwyl Esra bid en hy wenende neerval en belydenis doen voor die huis van God, kom daar uit Israel ‘n baie groot vergadering van manne en vroue en kinders by hom bymekaar; want die volk het geween met ‘n groot geween.
2 Toe het Segánja, die seun van Jéhiël, van die seuns van Elam, begin spreek en aan Esra gesê: Ons het ontrou gehandel teen onse God, dat ons vreemde vroue uit die volke van die land getrou het; maar tog is daar nog hoop vir Israel in hierdie saak.
3 Laat ons dan nou ‘n verbond met onse God sluit om al die vroue en wat uit hulle gebore is, weg te stuur volgens die raad van my heer en van die wat beef vir die gebod van onse God, en laat volgens die wet gehandel word.
4 Staan op, want die saak rus op u, en ons staan by u; wees sterk en handel!
5 Toe het Esra opgestaan en hy het die owerstes van die priesters, die Leviete en die hele Israel laat sweer om volgens hierdie woord te handel; en hulle het gesweer.
6 En Esra het hom opgerig van voor die huis van God en weggegaan na die kamer van Jóhanan, die seun van Éljasib. En hy het daar gekom; geen brood het hy geëet en geen water gedrink nie, want hy het rou bedrywe oor die ontrou van die ballinge.
7 Toe het hulle ‘n oproep deur Juda en Jerusalem laat gaan aan al die ballinge om in Jerusalem saam te kom.
8 En elkeen wat nie binne drie dae inkom nie, dié se hele besitting sou volgens besluit van die owerstes en die oudstes deur die banvloek getref word, en hy self uit die vergadering van die ballinge uitgesluit word.
9 Daarop het al die manne van Juda en Benjamin binne drie dae in Jerusalem saamgekom; dit was die negende maand, op die twintigste van die maand; en die hele volk het op die plein van die huis van God gesit en bewe vanweë die saak self en vanweë die reënbuie.
10 En die priester Esra het opgestaan en vir hulle gesê: Julle was ontrou en het vreemde vroue getrou om die skuld van Israel te vermeerder.
11 Gee dan nou aan die HERE, die God van julle vaders, die eer en doen wat Hom behaag en sonder julle af van die volke van die land en van die vreemde vroue.
12 Toe antwoord die hele vergadering en sê hardop: Só, volgens u woorde, is ons verplig om te handel;
13 maar die mense is baie, en dit is die reëntyd—dit is onmoontlik om buite te staan; en dit is nie ‘n werk van een dag en nie van twee nie, want ons het in hierdie saak swaar oortree.
14 Laat tog ons owerstes vir die hele vergadering optree, dan kan almal in ons stede wat vreemde vroue getrou het, op vasgestelde tye kom, en die oudstes en die regters van elkeen se stad saam met hulle, om die toorngloed van onse God, wat hierdie saak betref, van ons af te wend.
15 Net Jónatan, die seun van Asahel, en Jagséja, die seun van Tikwa, het hierteen opgetree, en Mesúllam en die Leviet Sábbetai het hulle gesteun.
16 Maar die seuns van die ballingskap het so gedoen; en afgesonder is: Esra, die priester, saam met manne, familiehoofde volgens hulle families, en hulle is almal by hul naam genoem; en hulle het op die eerste dag van die tiende maand sitting gehou om die saak te ondersoek,
17 en met al die manne wat vreemde vroue getrou het, was hulle gereed op die eerste dag van die eerste maand.
18 En van die seuns van die priesters wat vreemde vroue getrou het, was daar van die seuns van Jésua, die seun van Jósadak, en sy broers: Maäséja en Eliëser en Jarib en Gedálja.
19 Maar hulle het hulle hand daarop gegee dat hulle hul vroue sou wegstuur en dat hulle ‘n ram skuldig sou wees vir hulle skuld.
20 En van die seuns van Immer: Hanáni en Sebádja;
21 en van die seuns van Harim: Maäséja en Elía en Semája en Jéhiël en Ussía;
22 en van die seuns van Pasgur: Eljoënai, Maäséja, Ismael, Netáneël, Jósabad en Eleása.
23 En van die Leviete: Jósabad en Símeï en Kelája (dit is Kelíta), Petágja, Juda en Eliëser.
24 En van die sangers: Éljasib; en van die poortwagters: Sallum en Telem en Uri.
25 En uit Israel, van die seuns van Parhos: Ramja en Jissía en Malkía en Míjamin en Eleásar en Malkía en Benája;
26 en van die seuns van Elam: Mattánja, Sagaría en Jéhiël en Abdi en Jéremot en Elía;
27 en van die seuns van Sattu: Eljoënai, Éljasib, Mattánja en Jéremot en Sabad en Asísa;
28 en van die seuns van Bébai: Jóhanan, Hanánja, Sabbai en Atlai;
29 en van die seuns van Bani: Mesúllam, Mallug en Adája, Jasub en Seal, Jéremot;
30 en van die seuns van Pahat-Moab: Adna en Kelal, Benája, Maäséja, Mattánja, Besáleël en Bínnuï en Manasse;
31 en van die seuns van Harim: Eliëser, Jissía, Malkía, Semája, Símeon,
32 Benjamin, Mallug, Semárja;
33 van die seuns van Hasum: Mátnai, Mattátta, Sabad, Elifélet, Jerémai, Manasse, Símeï;
34 van die seuns van Bani Máädai, Amram en Uel,
35 Benája, Bedéja, Kelúhu,
36 Wanja, Méremot, Éljasib,
37 Mattánja, Mátnai en Jáäsai
38 en Bani en Bínnuï, Símeï
39 en Selémja en Natan en Adája,
40 Magnádbai, Sásai, Sárai,
41 Asáreël en Selémja, Semárja,
42 Sallum, Amárja, Josef;
43 van die seuns van Nebo: Jeï-el, Mattítja, Sabad, Sebína, Jáddai en Joël, Benája.
44 Hulle almal het vreemde vroue getrou, en daaronder was vroue wat kinders voortgebring het.