Job

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad.
2 En vir hom is daar sewe seuns en drie dogters gebore.
3 Daarby was sy besitting sewe duisend stuks kleinvee en drie duisend kamele en vyf honderd paar beeste en vyf honderd eselinne en ‘n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste.
4 En sy seuns was gewoond om ‘n maaltyd aan te rig in die huis van elkeen op sy dag. Dan stuur hulle en nooi hul drie susters om saam met hulle te eet en te drink.
5 En elke keer as die dae van die maaltye om was, het Job gestuur en hulle geheilig. Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen.
6 En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.
7 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.
8 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.
9 En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees?
10 Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land.
11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën!
12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.
13 En op ‘n dag, terwyl sy seuns en sy dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hul oudste broer,
14 kom ‘n boodskapper na Job en sê: Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle,
15 het die Sabeërs ‘n inval gedoen en dit weggeroof, en hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
16 Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
17 Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: Die Chaldeërs het drie leërafdelings opgestel en ‘n aanval op die kamele gemaak en dit weggeroof, maar hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
18 Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer,
19 toe daar meteens ‘n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
20 Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval
21 en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!
22 By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie,




Hoofstuk 2

1 En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom om hom voor die HERE te stel.
2 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.
3 En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad; en hy volhard nog in sy vroomheid, alhoewel jy My teen hom opgehits het om hom te vernietig sonder oorsaak.
4 Toe het die Satan die HERE geantwoord en gesê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe;
5 maar strek net u hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan—waarlik, hy sal U in u aangesig seën!
6 En die HERE sê aan die Satan: Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe.
7 En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE, en hy het Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel.
8 En hy het vir hom ‘n potskerf geneem om hom daarmee te krap, terwyl hy in die as sit.
9 Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf!
10 Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.
11 En toe die drie vriende van Job hoor van al hierdie onheile wat hom getref het, het hulle gekom, elkeen uit sy woonplek: Élifas, die Temaniet, en Bildad, die Suhiet, en Sofar, die Naämatiet; en hulle het volgens afspraak byeengekom om hom hul deelneming te betuig en hom te troos.
12 En toe hulle op ‘n afstand hul oë opslaan en hom nie herken nie, het hulle hul stem verhef en geween; ook het hulle elkeen sy mantel geskeur en stof op hul hoofde gestrooi na die hemel toe.
13 En hulle het by hom op die grond gaan sit, sewe dae en sewe nagte lank, sonder dat iemand ‘n woord met hom gepraat het; want hulle het gesien dat die smart baie groot was.




Hoofstuk 3

1 Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy dag vervloek.
2 En Job het begin en gesê:
3 Mag die dag vergaan waarop ek gebore is, en die nag wat gesê het: ‘n Seun is ontvang.
4 Mag dié dag duisternis wees; mag God nie na hom vra daarbo nie en geen ligglans oor hom skyn nie.
5 Mag duisternis en doodskaduwee hom opeis, ‘n wolkgevaarte oor hom gaan lê, dagverduisteringe hom verskrik.
6 Daardie nag—mag donkerheid hom wegruk, mag hy nie bly wees onder die dae van die jaar, in die getal van die maande nie kom nie.
7 Ja, mag dié nag onvrugbaar wees, geen gejubel tot hom deurdring nie.
8 Mag die dagvervloekers hom verwens, hulle wat die kuns verstaan om die Leviátan op te hits.
9 Mag die sterre van sy môreskemering verduister word; mag hy wag op lig, maar tevergeefs, en die ooglede van die dageraad nie sien nie.
10 Omdat hy vir my nie toegesluit het die deure van die moederskoot nie en moeite vir my oë nie verberg het nie.
11 Waarom het ek nie gesterf by die geboorte, nie uitgegaan uit die moederskoot en die asem uitgeblaas nie?
12 Waarom het knieë my teëgekom, en waarom borste, dat ek moes drink?
13 Want dan sou ek daar gelê en stil gewees het; ek sou geslaap, ek sou dan rus gehad het,
14 saam met konings en raadsmanne van die aarde, wat puinhope weer opgebou het vir hulleself;
15 of saam met vorste wat goud besit, wat hulle huise met silwer gevul het.
16 Of ek sou, soos ‘n weggestopte misgeboorte, nie bestaan het nie, soos kinders wat die lig nie gesien het nie.
17 Daar hou die goddelose op met woel, en daar rus hulle wie se kragte uitgeput is.
18 Die gevangenes is almal saam gerus; hulle hoor die stem van die drywer nie.
19 Klein en groot is daar gelyk, en die slaaf is vry van sy heer.
20 Waarom gee Hy lig aan die ellendige en lewe aan die wat verbitterd is van siel;
21 wat wag op die dood, en hy kom nie; en meer na hom grawe as na verborge skatte;
22 wat bly sou wees met gejuig, hulle sou verheug as hulle die graf kon vind?
23 Waarom gee Hy lig aan ‘n man wie se weg verborge is, ‘n man wat deur God aan alle kante ingesluit is?
24 Want soos my brood kom my gesug, en my gebrul word uitgestort soos water.
25 As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe.
26 Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus!




Hoofstuk 4

1 Toe antwoord Élifas, die Temaniet, en sê:
2 As ‘n mens dit met ‘n woord by jou waag, sal jy ontstemd wees? Maar woorde inhou—wie kan dit?
3 Kyk, jy het baie mense tereggewys en slap hande versterk.
4 Jou woorde het opgerig die wat struikel, en jy het knikkende knieë versterk.
5 Maar nou dat dit jóu oorkom, is jy moedverlore; nou dat dit jóu tref, is jy verslae!
6 Is jou Godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie?
7 Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg?
8 Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.
9 Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig.
10 Die gebrul van die leeu en die stem van die bruller—ja, die tande van die jong leeus word uitgebreek.
11 Die leeu kom om by gebrek aan prooi, en die kleintjies van die leeuin word verstrooi.
12 Verder is ‘n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ‘n gefluister daarvan opgevang,
13 by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val.
14 Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe.
15 Toe skuif daar ‘n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys.
16 Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie—’n verskyning voor my oë! Ek hoor die gefluister van ‘n stem wat sê:
17 Sou ‘n sterfling regverdig wees voor God? Of ‘n man rein wees voor sy Maker?
18 Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling.
19 Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot.
20 Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee.
21 Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid.




Hoofstuk 5

1 Roep maar—is daar iemand wat jou antwoord gee? En na wie van die heiliges sal jy gaan?
2 Want verbitterdheid vermoor die dwaas, en naywer maak die domme dood.
3 Ek self het gesien hoe ‘n dwaas wortel skiet; maar skielik het ek sy woning vervloek.
4 Ver is sy kinders van geluk; en hulle word verbrysel in die poort sonder dat iemand red.
5 Wat hy geoes het, eet die hongerige op, en dié haal dit selfs uit die doringheining uit; en die ondergang hyg na hulle rykdom.
6 Want onheil kom nie voort uit die stof, en moeite spruit nie uit die grond nie.
7 Maar die mens word vir moeite gebore soos die vonke boontoe vlieg.
8 Maar wat my aangaan, ek sou na God vra en my saak aan die Godheid voorlê,
9 aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal;
10 wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde;
11 om nederiges op ‘n hoogte te stel daarbo; en die wat in die rou is, verkry die hoogste geluk.
12 Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie;
13 wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.
14 Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag.
15 So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man.
16 So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe.
17 Kyk, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.
18 Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.
19 In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.
20 In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard.
21 As die tong gésel, word jy weggesteek; en jy hoef nie te vrees vir verwoesting as dit kom nie.
22 Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag, en vir die wilde diere van die aarde hoef jy nie te vrees nie.
23 Want met die klippe van die veld is jou verbond, en die wilde diere van die veld is met jou bevriend.
24 En jy sal uitvind dat jou tent in vrede is; en as jy op jou woonplek rondkyk, sal jy niks vermis nie.
25 Ook sal jy uitvind dat jou kroos talryk is en jou nakomelinge soos die plante van die aarde.
26 Op rype leeftyd sal jy na die graf gaan, soos ‘n koringgerf ingebring word op sy tyd.
27 Kyk, dit het ons nagespeur, so is dit; hoor dit, en neem jy dit ter harte.




Hoofstuk 6

1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Ag, was my verdriet maar goed geweeg en my ongeluk meteens in ‘n skaal opgehef!
3 Ja, dan sou dit swaarder wees as die sand van die see; daarom is my woorde onbedagsaam.
4 Want die pyle van die Almagtige is in my, waarvan my gees die gif indrink; die verskrikkinge van God stel hulle teen my op.
5 Balk die wilde-esel by die grasspruitjies? Of bulk ‘n bees by sy voer?
6 Word iets wat laf is, sonder sout geëet? Of is daar smaak in die wit van ‘n eier?
7 My siel weier om dit aan te raak; dit is net soos my walglike spys.
8 Ag, mag my bede maar uitkom, en mag God my verwagting maar gee!
9 En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny!
10 Dan sou ek nog troos hê; ja, ek sou van vreugde opspring in onbarmhartige smart; want die woorde van die Heilige het ek nie verloën nie.
11 Wat is my krag, dat ek sou kan wag; en wat my uiteinde, dat ek geduldig sou wees?
12 Is my krag ‘n krag van klip of my vlees van koper?
13 Is ek dan nie hulpeloos in myself nie, en is redding nie vir my weggedrywe nie?
14 Vir die moedelose moet daar liefde wees van die kant van sy vriend, ook al laat hy die vrees vir die Almagtige vaar.
15 My broers het troueloos gehandel soos ‘n spruit, soos die bedding van spruite wat wegloop,
16 wat troebel is vanweë die ys, waarin die sneeu hom verberg—
17 in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.
18 Die paaie van hulle loop kronkelend weg en gaan heen in die wildernis en vergaan.
19 Die karavane van Tema het uitgekyk, die reisigers van Skeba het daarop gewag.
20 Hulle het beskaamd gestaan in hul vertroue; hulle het daarby gekom en was teleurgesteld.
21 So het julle dan vir my niks geword nie: julle sien verskrikking, en julle het gevrees.
22 Het ek dan gesê: Gee my iets? Of: Bring vir my ‘n omkoopgeskenk uit julle vermoë?
23 Of: Red my uit die hand van die teëstander? Of: Verlos my uit die hand van tiranne?
24 Onderrig my, en ék sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het.
25 Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig ‘n bestraffing uit, van julle afkomstig?
26 Dink julle om woorde te bestraf? Maar die woorde van ‘n wanhopige is vir die wind!
27 Ja, julle sou ‘n wees uitloot en julle vriend verhandel.
28 Maar nou, kyk my asseblief aan: ek sal julle waarlik nie in jul gesig belieg nie.
29 Keer tog terug—laat daar geen onreg wees nie! Ja, keer terug—nóg is my geregtigheid daar.
30 Is daar onreg op my tong? Of kan my verhemelte nie die onheile onderskei nie?




Hoofstuk 7

1 Het die mens nie ‘n stryd op die aarde nie? En is sy dae nie soos die dae van ‘n dagloner nie?
2 Soos ‘n slaaf wat hyg na die skaduwee, en soos ‘n dagloner wat wag op sy werkloon,
3 so het ek erfgenaam geword van maande van teleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem.
4 As ek gaan lê, dink ek: Wanneer sal ek opstaan? Maar die aand is lank, en ek word sat van al die omdraai tot die môreskemering toe.
5 My vlees is bekleed met wurms en stofklonte; my vel trek opmekaar en etter dan weer.
6 My dae is vinniger as ‘n wewerspoel en verdwyn sonder verwagting.
7 Bedink tog dat my lewe wind is; my oog sal die voorspoed nie weer sien nie.
8 Die oog van hom wat my sien, sal my nie meer aanskou nie. U oë is op my—en ek is daar nie!
9 Die wolk verdwyn en gaan heen—so kom hy nie weer op wat na die doderyk neerdaal nie.
10 Hy sal nie meer teruggaan na sy huis nie, en sy plek sal hom nie meer ken nie.
11 So wil dan ook ék my mond nie hou nie, ek wil spreek in die benoudheid van my gees, ek wil klae in die bitterheid van my siel.
12 Is ek ‘n see, of ‘n groot seedier, dat U ‘n wag teen my opstel?
13 As ek sê: My bed sal my troos, my slaapplek sal my klagte help dra,
14 dan verskrik U my deur drome en ontstel my deur gesigte,
15 sodat ek die verwurging verkies, die dood meer as hierdie geraamte van my.
16 Ek verfoei my lewe. Nie vir altyd sal ek lewe nie: laat my met rus, want my dae is nietigheid.
17 Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag gee?
18 En dat U hom elke môre soek, elke oomblik hom op die proef stel?
19 Hoe lank sal U nie van my af wegkyk nie, my nie laat staan nie, totdat ek my speeksel insluk?
20 As ek gesondig het, wat doen ek U aan, o Mensebewaker? Waarom het U my as mikpunt vir U opgestel, sodat ek myself tot ‘n las is?
21 En waarom vergeef U nie my oortreding en neem my ongeregtigheid nie weg nie? Want weldra sal ek in die stof lê; dan sal U my soek, maar ek sal daar nie wees nie.




Hoofstuk 8

1 Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:
2 Hoe lank sal jy hierdie dinge spreek en die woorde van jou mond ‘n geweldige wind wees?
3 Sou God die reg verdraai, of die Almagtige die geregtigheid krenk?
4 As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hul oortreding oorgegee.
5 As jy na God soek en die Almagtige om genade smeek,
6 as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid;
7 dan sal jou begin gering wees, maar jou einde baie groot.
8 Want doen tog navraag by die vorige geslag, en gee ag op wat hulle vaders nagespeur het;
9 (want ons is van gister en weet niks nie, omdat ons dae ‘n skaduwee op die aarde is;)
10 sal húlle jou nie leer, jou dit nie sê en woorde uit hul hart voortbring nie?
11 Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water?
12 Nog is dit in sy volle groei—sonder dat dit afgepluk word—dan verdor dit voor al die ander gras.
13 So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose;
14 sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is ‘n spinnerak.
15 Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie.
16 Vol sap staan hy in die son, en sy ranke sprei uit oor sy tuin.
17 Sy wortels is gevleg oor ‘n hoop klippe heen, ‘n kliphuis deurboor hy.
18 As Hy hom vernietig uit sy plek, sal dit hom verloën en sê: Ek het jou nie gesien nie.
19 Kyk, dit is die vreugde van sy lewensweg, en uit die stof spruit daar ander uit!
20 Kyk, God verwerp die vrome nie, en Hy vat die kwaaddoeners nie aan die hand nie.
21 Terwyl Hy jou mond met gelag vervul en jou lippe met gejuig,
22 sal jou haters met skaamte beklee word, en die tent van die goddelose—weg is dit!




Hoofstuk 9

1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Waarlik, ek weet dat dit so is; en hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?
3 As hy sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie.
4 Hy is wys van hart en sterk van krag; wie was hardnekkig teen Hom en het ongestraf gebly?
5 Hy wat berge versit sonder dat hulle dit merk; wat hulle omkeer in sy toorn;
6 wat die aarde laat sidder uit sy plek, sodat sy pilare dril;
7 wat bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter ‘n seël wegsluit;
8 wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see;
9 wat die Beer gemaak het, die Oríon en die Sewe-ster en die Kamers van die Suide;
10 wat groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder getal.
11 Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk.
12 Sleep Hy weg—wie sal Hom teëhou? Wie vir Hom sê: Wat maak U?
13 God wend sy toorn nie af nie; onder Hom moet die helpers van Rahab kruip.
14 Hoeveel minder sal ék Hom kan antwoord, sal ek my woorde kan kies teenoor Hom;
15 Hom wat ek nie kan antwoord nie, al was ek regverdig: ek kan my regter net om genade smeek!
16 As ek dagvaar en Hy my antwoord, glo ek nie dat Hy na my stem sal luister nie.
17 Hy wat my deur ‘n stormwind sou vernietig en my wonde sonder oorsaak sou vermeerder;
18 my nie sou toelaat om asem te skep nie, maar my sou versadig met bitterhede.
19 Kom dit aan op die krag van die sterkste—hier is Ek! En kom dit op reg aan—wie kan My dagvaar?
20 Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel; al was ek onskuldig, Hy sou my as ‘n verkeerde reken.
21 Vroom is ek! Ek gee niks om myself nie: ek verfoei my lewe!
22 Dit is net eenders—daarom sê ek: Die vrome en die goddelose vernietig Hy.
23 As die gésel skielik doodmaak, spot Hy met die vertwyfeling van die onskuldiges.
24 Die aarde is aan die mag van die goddelose oorgelewer, die gesig van die regters bind Hy toe. Is dit nie Hy nie, wie dan anders?
25 Ja my dae was gouer as ‘n hardloper; hulle het weggevlug sonder om voorspoed te sien.
26 Hulle het verbygegly soos skepe van biesies, soos ‘n arend wat neerskiet op sy prooi.
27 As ek sê: Ek wil my geklaag vergeet, my droewige gesig laat vaar en vrolik word,
28 dan is ek al bang vir al my smarte: ek weet dat U my nie sal vryspreek nie.
29 Ek sal tog skuldig wees—waarom sal ek my dan tevergeefs afmat?
30 Al was ek my met sneeu en reinig ek my hande met loog,
31 dan sou U my in ‘n poel indompel, sodat my klere van my ‘n afsku kry.
32 Want Hy is nie ‘n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie.
33 Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie.
34 Laat Hy sy roede van my wegneem, en laat sy verskrikking my nie beangstig nie;
35 dan wil ek spreek sonder dat ek vir Hom bevrees is; want só is dit met my nie gesteld nie.




Hoofstuk 10

1 Ek walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel.
2 Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis.
3 Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp, terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn?
4 Het U vleeslike oë? Of sien U soos ‘n mens sien?
5 Is u dae soos die dae van ‘n mens, of u jare soos die dae van ‘n man?
6 dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde,
7 ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
8 U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en U vernietig my!
9 Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?
10 Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie?
11 Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg.
12 Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak.
13 Maar daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was:
14 As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
15 Was ek skuldig—wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
16 En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos ‘n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
17 U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder—altyd nuwe leërafdelings teen my!
18 Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat ‘n oog my gesien het.
19 Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
20 Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek ‘n bietjie vrolik kan wees,
21 voordat ek heengaan—en nie terugkom nie—na die land van duisternis en doodskaduwee,
22 ‘n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee ‘n skynsel—soos middernag!




Hoofstuk 11

1 Toe het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê:
2 Moet die menigte van woorde onbeantwoord bly? Of moet ‘n loslippige man reg hê?
3 Sou jou gepraat manne laat swyg, sodat jy spot—sonder dat iemand jou beskaamd maak—
4 en sê: Suiwer is my leer, en rein is ek in u oë?
5 Maar, ag, as Gód maar wou spreek en sy lippe open teen jou!
6 En jou bekend wou maak dat die verborgenhede van die wysheid die insig verdubbel! Sodat jy kan weet dat God vir jou ‘n deel van jou skuld deur die vingers sien.
7 Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?
8 Hoogtes van die hemel is dit—wat kan jy doen? Dieper as die doderyk—wat kan jy weet?
9 Langer as die aarde is die maat daarvan en breër as die see.
10 As Hy verbyskuiwe en gevange neem en ‘n regsvergadering oproep—wie sal Hom dan teëhou?
11 Want Hy ken die valse mense, en Hy sien die ongeregtigheid sonder dat Hy juis daarop ag gee.
12 So kan dan ‘n domme verstand verkry en ‘n jong wilde-esel as mens gebore word.
13 As jy jou hart berei en jou hande uitbrei na Hom
14 —as daar ongeregtigheid in jou hand is, verwyder dit, en laat geen onreg in jou tente woon nie—
15 ja, dan sal jy jou aangesig kan ophef, vry van smet; en jy sal vasstaan sonder om te vrees.
16 Ja, jy sal die moeite vergeet; soos aan water wat verbygeloop het, sal jy daaraan dink.
17 En helderder as die middag sal die lewe oprys; is dit donker—dit sal wees soos die môre!
18 En jy sal vertrou, want daar is verwagting; en kyk jy rond—jy sal in veiligheid gaan slaap.
19 Ook sal jy lê sonder dat iemand jou skrikmaak; en baie sal jou guns soek.
20 Maar die oë van die goddelose sal versmag, en die toevlug is vir hulle verlore; en hulle verwagting is—uitblasing van die laaste asem.




Hoofstuk 12

1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Waarlik, ja, julle is die regte mense, en saam met julle sterf die wysheid uit!
3 Ook ek het verstand soos julle; ek staan nie vir julle terug nie; en wie weet sulke dinge nie?
4 Ek moet ‘n belagging wees vir my vriend, ek wat God aangeroep en verhoring gevind het—’n belagging is die regverdige, die opregte!
5 Vir die ongeluk is daar veragting volgens die gedagte van hom wat lekker lewe; dit staan klaar vir hulle wie se voet wankel.
6 Rustig staan die tente van die verwoesters, en sekerheid is die deel van hulle wat God vertoorn, van hom wat sy god in sy hand dra.
7 Maar vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee;
8 of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.
9 Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die HERE dit gemaak het nie?
10 In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.
11 Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?
12 By die grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand.
13 By Hóm is wysheid en mag; Hy het raad en verstand.
14 Kyk, Hy breek af, en daar word nie opgebou nie; Hy sluit ‘n man as gevangene op, en daar word nie oopgemaak nie.
15 Kyk, Hy hou die waters terug, en hulle verdroog; ook laat Hy hulle los, en hulle keer die aarde om.
16 By Hóm is krag en beleid; syne is die verdwaalde en hy wat laat dwaal.
17 Hy voer raadsmanne uitgeplunder weg, en regters maak Hy tot dwase.
18 Hy maak die band los waar konings mee bind, en bind ‘n lyfdoek om hulle heupe.
19 Hy voer priesters uitgeplunder weg en bring wie vasstaan, tot ‘n val.
20 Hy neem die spraak van die betroubare mense weg en beroof die ou mense van hul oordeel.
21 Hy stort veragting uit oor die edeles en maak die gordel van die magtiges slap.
22 Hy openbaar dieptes uit die duisternis uit, en doodskaduwee bring Hy uit in die lig.
23 Hy maak nasies groot en laat hulle omkom; Hy brei nasies uit en voer hulle weg.
24 Hy neem die verstand weg van die volkshoofde van die land en laat hulle ronddwaal in ‘n wildernis, sonder pad.
25 Hulle tas in die duisternis, sonder lig; en Hy laat hulle ronddwaal soos ‘n dronk man.




Hoofstuk 13

1 Kyk, alles het my oog gesien, my oor gehoor en opgemerk.
2 Wat julle weet, weet ek ook: ek staan nie vir julle terug nie.
3 Maar ék sal met die Almagtige spreek, en ek verlang om te pleit by God.
4 Maar julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal.
5 Ag, as julle maar heeltemal sou swyg—dan sou dit vir julle wysheid wees!
6 Hoor tog na my verantwoording, en luister na die aanvalle van my lippe.
7 Wil julle, tot verdediging van God, onreg spreek en ten behoewe van Hom bedrog laat hoor?
8 Wil julle vir Hom partydig wees? Of wil julle vir God pleit?
9 Sal dit goed wees as Hy julle ondersoek? Of wil julle Hom bedrieg soos ‘n mens bedrieg word?
10 Hy sal julle sekerlik straf as julle in die geheim partydig is.
11 Sal sy hoogheid julle nie verskrik nie, en die skrik vir Hom julle nie oorval nie?
12 Julle kernspreuke is spreuke van as, julle skanse word skanse van klei.
13 Laat my met rus; dan wil ék spreek; laat dan oor my kom wat wil.
14 Waarom sou ek my vlees in my tande neem en my lewe neerlê in my hand?
15 Kyk, al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.
16 Ook is dit my tot heil dat ‘n goddelose voor sy aangesig nie sal kom nie.
17 Luister goed na my rede en gee gehoor aan my verklaring.
18 Kyk tog, ek dra die regsaak voor; ek weet dat ék reg sal hê.
19 Wie durf my dan bestry? Ja, dan sou ek swyg en sterwe.
20 Moet my net twee dinge nie aandoen nie, dan sal ek my vir u aangesig nie verberg nie:
21 trek u hand weg van my af, en laat die skrik vir U my nie beangstig nie.
22 Klaag dan maar aan, en ék sal antwoord; of ek sal spreek, en gee U my antwoord.
23 Hoeveel is my ongeregtighede en sondes; maak my my oortreding en sonde bekend.
24 Waarom verberg U u aangesig en hou my vir ‘n vyand van U?
25 Wil U ‘n verwaaide blaar skrik aanja en die droë stoppel agtervolg,
26 dat U bitter dinge oor my beskik en my die ongeregtighede van my jeug laat erwe,
27 en dat U my voete in die blok sit en al my paaie bewaak? U trek vir U ‘n streep om die sole van my voete;
28 en dít iemand wat verval soos hout wat weggevreet is, soos ‘n kleed wat die mot verteer.




Hoofstuk 14

1 Die mens uit ‘n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus.
2 Hy spruit uit soos ‘n blom en verwelk; ook vlug hy soos ‘n skaduwee en hou nie stand nie.
3 En oor so een maak U die oë oop, en U bring my voor u gereg.
4 Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine—nie een nie!
5 As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie,
6 kyk dan weg van hom af, dat hy kan rus—totdat hy soos ‘n dagloner hom tevrede voel met sy dag.
7 Want vir ‘n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie.
8 As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof—
9 van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak ‘n tak soos ‘n jong plantjie.
10 Maar ‘n man sterwe en is magteloos; ja, ‘n mens blaas die asem uit en—waar is hy?
11 Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog—
12 so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie.
13 Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my ‘n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink!
14 As ‘n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom;
15 U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang.
16 Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie?
17 My oortreding is verseël in ‘n bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg.
18 Maar soos ‘n berg stukkend val as dit neerstort, en ‘n rots versit word uit sy plek;
19 die water klippe glad skuur; die stortvloede daarvan die grond van die aarde wegspoel; so is die verwagting van ‘n mens—U maak dit tot niet.
20 U oorweldig hom vir ewig, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en stuur hom weg.
21 Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gewaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie.
22 Net sy vlees aan hom voel pyn, en sy siel in hom treur.




Hoofstuk 15

1 Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
2 Sal ‘n wyse man met winderige wetenskap antwoord gee en sy buik vul met oostewind—
3 deur te pleit met woorde wat nie baat en met beweringe waarmee hy niks uitrig nie?
4 Ja, jy breek die Godsvrees af en verstoor die stille oordenking voor die aangesig van God.
5 Want jou ongeregtigheid gee onderrig aan jou mond, en jy kies die taal van die listiges.
6 Jou eie mond veroordeel jou, en nie ek nie; ja, jou eie lippe getuig teen jou.
7 Is jy die eerste as mens gebore en voor die heuwels in die wêreld gebring?
8 Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek?
9 Wat weet jy wat ons nie weet nie? Wat verstaan jy wat in ons nie is nie?
10 Ook is daar grys hare, ook bejaardes onder ons, ryker in dae as jou vader.
11 Is die vertroostinge van God vir jou te min, en ‘n woord met sagtheid jou toegespreek?
12 Waarom sleep jou hart jou weg? En waarom flikker jou oë so—
13 dat jy jou toorn rig teen God en sulke woorde uit jou mond laat uitgaan?
14 Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?
15 Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie;
16 hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!
17 Ek wil jou inlig, luister na my; en wat ek gesien het, wil ek vertel;
18 wat die wyse manne verkondig sonder om iets te verberg, van hulle vaders af oorgelewer;
19 aan hulle alleen was die land gegee, en geen vreemdeling het nog onder hulle deurgetrek nie.
20 Al sy dae leef die goddelose in angs, ja, al die jare deur wat vir die tiran bepaal is.
21 Skrikgeluide is in sy ore; in volle vrede oorval die verwoester hom.
22 Hy glo nie dat hy uit die duisternis sal terugkeer nie; en hy is bestemd vir die swaard.
23 Hy dwaal rond en soek brood. Waar is dit? Hy weet dat gereed is, ophande, die dag van duisternis.
24 Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos ‘n koning wat gereed staan vir die aanval,
25 omdat hy sy hand uitgesteek het teen God en die Almagtige getrotseer het
26 (hy het Hom stormgeloop met uitgerekte nek, met die dik bulte van sy skilde);
27 omdat hy sy gesig met sy vet oordek en ‘n vetlaag op sy heupe gevorm het,
28 en verdelgde stede bewoon het, huise wat nie bewoon moes word nie, wat bestem was om puinhope te bly.
29 Hy bly nie ryk en sy vermoë hou nie stand nie, en hulle besitting buig nie soos koringare na die aarde toe nie.
30 Hy ontvlug nie die duisternis nie, die vlam laat sy spruit verdroog, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God.
31 Laat hom nie vertrou op nietigheid nie—hy kom bedroë uit! —want nietigheid sal sy vergelding wees.
32 Voor sy tyd word dit vervul, en sy palmtak bly nie meer groen nie.
33 Hy skud sy onryp druiwe af soos ‘n wingerdstok en gooi sy bloeisel af soos ‘n olyfboom.
34 Want die bende van die goddelose is onvrugbaar, en vuur verteer die tente van omkopery.
35 Hulle is swanger van moeite en baar onheil; en hulle skoot bring bedrog voort.




Hoofstuk 16

1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Dergelike dinge het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal.
3 Kom daar nou ‘n einde aan winderige woorde? Of wat prikkel jou dat jy antwoord?
4 Ek sou ook kon spreek soos julle as julle siel in die plek van my siel was; ek sou woorde aanmekaar kon koppel teen julle en my hoof oor julle skud;
5 ek sou julle kon versterk met my mond, en die troos van my lippe sou versagting aanbring!
6 As ek sou spreek, my smart word nie versag nie; en as ek ophou—watter verligting bring dit my?
7 Maar nou het Hy my uitgeput; U het my hele huishouding verwoes.
8 En U het my gegryp—’n getuie het dit teen my geword; en my siekte staan teen my op, dit getuig openlik teen my.
9 Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan.
10 Hulle het hul mond teen my oopgespalk; smadelik het hulle my op die kakebeen geslaan; soos een man versamel hulle hul teen my.
11 God gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose.
12 Ek het rustig gelewe; toe het Hy my verbrysel en my aan die nek gegryp en my verpletter; en Hy het my vir Hom as teiken opgestel.
13 Sy pyle gons om my heen; Hy splits my niere sonder verskoning; Hy werp my gal op die grond uit.
14 Bres op bres breek Hy in my; Hy loop my storm soos ‘n held.
15 ‘n Roukleed het ek oor my vel vasgewerk en my horing in die stof gesteek.
16 My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar ‘n doodskaduwee;
17 alhoewel daar geen gewelddaad in my hande is nie en my gebed rein is.
18 o Aarde, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie.
19 Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes.
20 My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God—
21 dat Hy kan pleit vir ‘n man by God en as Menseseun vir sy naaste.
22 Want maar min jare kom—dan bewandel ek ‘n pad waarlangs ek nie terugkeer nie.




Hoofstuk 17

1 My gees is verward, my dae is uitgeblus, die graf wag op my.
2 Waarlik, bespottinge is my deel, en op hulle getwis moet my oog rus.
3 Gee tog ‘n pand, staan borg vir my by U; wie anders sal vir my borgskap verleen?
4 Want U het húlle hart gesluit vir verstand; daarom sal U hulle nie laat triomfeer nie.
5 Hy wat vriende aanklaag vir ‘n buitaandeel—die oë van sy kinders sal versmag.
6 Maar Hy het my ‘n spreekwoord vir die mense gemaak, en ek moet iemand wees wat hulle in die gesig spuug.
7 Daarom het my oog dof geword van verdriet, en al my lede is soos ‘n skaduwee.
8 Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die goddelose in opstand.
9 Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag.
10 Maar, kom maar altyd weer aan, julle almal! ‘n Wyse vind ek onder julle tog nie.
11 My dae is verby, my planne tot niet, die wense van my hart.
12 Van die nag maak hulle ‘n dag; lig, sê hulle, is naby vanweë die duisternis.
13 As ek hoop op die doderyk as my huis; in die duisternis my bed uitsprei,
14 die grafkuil toeroep: My vader is jy; die wurms: My moeder en my suster,
15 waar is dan my verwagting? Ja, my verwagting, wie ontdek dit?
16 Na die grendels van die doderyk sal dit neerdaal, wanneer daar tegelykertyd rus is in die stof.




Hoofstuk 18

1 Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:
2 Hoe lank wil julle jaag agter woorde? Word verstandig, en daarna sal ons spreek.
3 Waarom word ons as vee gereken, is ons dom in julle oë?
4 Jy, iemand wat homself verskeur in sy toorn—sal om jou ontwil die aarde verlate wees of ‘n rots uit sy plek versit word?
5 Ja, die lig van die goddelose gaan dood, en die vlam van sy vuur bly nie flikker nie.
6 Die lig in sy tent word duisternis, en sy lamp bo hom gaan dood.
7 Sy geweldige treë word ingekort, en sy eie plan gooi hom omver.
8 Want hy raak in ‘n net deur sy eie voete, en hy loop oor die vlegwerk van ‘n vangkuil.
9 ‘n Vangnet gryp sy hakskeen, ‘n strik hou hom vas.
10 ‘n Tou is vir hom verberg in die grond en ‘n valstrik vir hom op die pad.
11 Verskrikkinge beangstig hom aan alle kante en jaag hom so ver as hy gaan.
12 Sy onheil het honger, en die ondergang staan gereed vir sy val.
13 Die eersgeborene van die dood verteer die lede van sy liggaam, hy verteer sy lede.
14 Weggeruk word hy uit sy tent, die voorwerp van sy vertroue; en dit laat hom aanstap na die koning van die verskrikkinge.
15 Daar woon in sy tent iets wat hom nie toebehoort nie; swawel word gestrooi oor sy woning.
16 Onder verdroog sy wortels, en bo verwelk sy tak.
17 Sy gedagtenis vergaan van die aarde af, en hy het geen naam op die wye veld nie.
18 Hulle stoot hom uit die lig in die duisternis, en uit die wêreld verjaag hulle hom.
19 Hy het geen kroos of nageslag onder sy volk en niemand wat oorbly in sy wonings nie.
20 Oor sy dag staan die mense van die Weste verskrik, en siddering gryp die mense van die Ooste aan.
21 Sekerlik, so gaan dit met die wonings van die kwaaddoener en so met die plek van hom wat God nie ken nie.




Hoofstuk 19

1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?
3 Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam.
4 En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my.
5 As julle jul werklik teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys,
6 weet dan dat Gód my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het.
7 As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie.
8 Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei.
9 My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.
10 Hy werp my aan alle kante omver, en—daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos ‘n boom.
11 Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande.
12 As een man kom sy skare aan en baan ‘n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent.
13 My broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.
14 My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.
15 My bywoners en my slavinne beskou my as ‘n vreemde; ‘n onbekende het ek geword in hulle oë.
16 Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.
17 My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.
18 Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.
19 Al my vertroude vriende het ‘n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer.
20 My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap.
21 Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!
22 Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie?
23 Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in ‘n boek opgeteken word—
24 met ‘n ystergriffel en lood—vir altyd in ‘n rots ingekap!
25 Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.
26 En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;
27 Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë—en geen vreemde nie—sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.
28 As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! —
29 vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar ‘n oordeel is.




Hoofstuk 20

1 Toe het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê:
2 Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my.
3 ‘n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my.
4 Weet jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is:
5 dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir ‘n oomblik?
6 Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke—
7 soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy?
8 Soos ‘n droom vlieg hy weg, sodat ‘n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos ‘n naggesig.
9 Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie.
10 Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee.
11 Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof.
12 Al smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong,
13 al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte—
14 tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste.
15 Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg.
16 Die gif van adders suig hy in, die tong van ‘n slang maak hom dood.
17 Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie.
18 Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie.
19 Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; ‘n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie.
20 Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie.
21 Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie.
22 By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom.
23 Om sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel.
24 Hy sal vlug vir die ysterwapens—’n koperboog sal hom deurboor.
25 Hy trek—daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom!
26 Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; ‘n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly.
27 Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op.
28 Weggevoer word die opbrings van sy huis—goed wat wegspoel op die dag van sy toorn.
29 Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God.




Hoofstuk 21

1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Luister goed na my rede, en laat dit die vertroostinge wees wat julle aanbied.
3 Verdra my, dat ek ook kan spreek; en nadat ek gespreek het, kan jy spot.
4 Wat my aangaan, geld my geklaag dan ‘n mens? Of waarom sou ek nie ongeduldig word nie?
5 Kyk my aan, en wees verskrik; en lê die hand op die mond.
6 Ja, as ek daaraan dink, is ek glad verslae, en verskrikking gryp my vlees aan.
7 Waarom bly die goddelose lewe, word hulle oud, ja, neem hulle toe in krag?
8 Hulle nakomelinge bestaan voor hulle in hul gemeenskap, en hul spruite voor hulle oë.
9 Hul huise het vrede, sonder skrik; en die roede van God is op hulle nie.
10 Sy stier bespring en mis nie; sy koei kalf en het geen misdrag nie.
11 Hulle laat hul jong seuns loop soos ‘n trop kleinvee, en hul kinders spring rond.
12 Hulle sing by die tamboeryn en siter en is bly by die klank van die fluit.
13 In voorspoed slyt hulle hul dae, en in ‘n oomblik sink hulle in die doderyk af.
14 Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie.
15 Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?
16 (Kyk, hulle voorspoed is nie in húl hand nie: die gesindheid van die goddelose is ver van my!)
17 Hoe selde gaan die lamp van die goddelose dood en oorval hul ondergang hulle! Deel Hy smarte uit in sy toorn,
18 word hulle soos strooi voor die wind, en soos kaf wat die stormwind wegvoer?
19 Julle sê: God spaar sy onheil vir sy kinders op. Ek sê: Hy moes dit aan homself vergeld, dat hy kan voel!
20 Sy eie oë moes sy ongeluk sien, en sélf moes hy drink van die grimmigheid van die Almagtige.
21 Want wat gee hy om sy huis ná hom as die getal van sy maande afgesny is?
22 Wil iemand aan God kennis leer, Hom wat die hemelse wesens oordeel?
23 Die een sterwe in volkome geluk, heeltemal gerus en tevrede.
24 Sy emmers is vol melk, en die murg van sy gebeente word deur en deur bevogtig.
25 Die ander daarenteen sterwe met bitterheid van siel sonder dat hy van die goeie geniet het.
26 Saam lê hulle in die stof, en die wurms oordek hulle.
27 Kyk, ek ken julle gedagtes en die slim planne waarmee julle gewelddadig teen my optree.
28 As julle sê: Waar is die huis van die tiran, en waar die woontent van die goddelose—
29 het julle dan nie navraag gedoen by die reisigers nie (hulle bewyse kan julle tog nie loën nie!):
30 dat die kwaaddoeners gespaar word op die dag van ondergang, dat hulle weggelei word op die dag van grimmigheid?
31 Wie gee hom openlik sy gedrag te kenne; en het hy gehandel—wie sal hom dit vergeld?
32 Dan word hy na die graf gebring, en hulle sorg vir sy grafheuwel.
33 Sag lê op hom die kluite van die dal; en agter hom trek al die mense aan soos daar ontelbares voor hom gewees het.
34 Hoe troos julle my dan op so ‘n nietige manier? En julle antwoorde—net troubreuk bly oor!




Hoofstuk 22

1 Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
2 Kan ‘n man aan God ‘n diens bewys? Nee, aan homself bewys die verstandige ‘n diens.
3 Het die Almagtige daar belang by dat jy regverdig is? Of is dit voordeel vir Hom dat jy onberispelik wandel?
4 Is dit oor jou Godsvrees dat Hy jou bestraf, dat Hy met jou na die gereg gaan?
5 Is jou boosheid nie groot en jou ongeregtighede nie sonder einde nie?
6 Want jy het pand geneem van jou broers sonder noodsaak, en die klere van die naaktes het jy uitgetrek.
7 Aan die vermoeide het jy geen water gegee om te drink nie, en aan die hongerige het jy die brood onthou.
8 Maar aan die man van geweld—aan hom behoort die land; en die aansienlike—hy moet daarin woon!
9 Weduwees het jy met leë hande weggestuur, en die arms van die wese is verbrysel.
10 Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik.
11 Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?
12 Is God nie hemelhoog nie? En aanskou hoe hoog die hoogste sterre staan.
13 Maar jy sê: Wat weet God? Kan Hy deur donkerheid heen strafgerig hou?
14 Wolke is ‘n bedekking vir Hom, sodat Hy nie sien nie; en oor die hemelgewelf wandel Hy.
15 Wil jy die pad van die ou tyd hou, wat die kwaaddoeners bewandel het,
16 wat gegryp is voor die tyd, wie se grondslag uitgegiet is soos ‘n stroom,
17 wat tot God gesê het: Bly ver van ons af! en: Wat kan die Almagtige ons aandoen?
18 En tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is. (Maar die gesindheid van die goddelose is ver van my!)
19 Die regverdiges sien dit en is bly, en die onskuldige spot met hulle en sê:
20 Waarlik, ons teëstander is verdelg; en wat hulle laat oorbly het, het die vuur verteer.
21 Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom.
22 Neem tog uit sy mond onderrig aan, en lê sy woorde weg in jou hart.
23 As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.
24 En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofir.
25 Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.
26 Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot God ophef.
27 Jy sal tot Hom bid, en Hy sal jou verhoor; en jy sal jou geloftes betaal.
28 Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn ‘n lig.
29 As dié afdraand loop, dan sê jy: Boontoe! En hom wat neerslagtig is, verlos Hy.
30 Hy red selfs hom wat nie onskuldig is nie: ja, hy word gered deur die reinheid van jou hande.




Hoofstuk 23

1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug.
3 Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning!
4 Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul;
5 ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê.
6 Sou Hy met oormag teen my stry? Nee, maar Hy sou ag op my gee.
7 Dan sou daar ‘n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom.
8 Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie.
9 As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie.
10 Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.
11 Aan sy voetstap het my voet vasgehou; sy weg het ek bewaar sonder om uit te draai.
12 Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet.
13 Maar Hy bly onveranderlik Een—wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy.
14 Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom.
15 Daarom is ek verskrik voor sy aangesig; as ek daarop ag gee, vrees ek vir Hom.
16 En God het my hart week gemaak, en die Almagtige het my verskrik.
17 Want ek vergaan nie vanweë die duisternis of vanweë my eie aangesig wat deur donkerheid oordek is nie.




Hoofstuk 24

1 Waarom het die Almagtige vir Hom geen geregstye voorbehou nie, en sien die wat Hom ken, nie sy geregsdae nie?
2 Grenslyne verlê hulle; ‘n trop vee roof hulle en laat dit wei.
3 Die esel van die wese dryf hulle weg, die bees van die weduwee neem hulle as pand.
4 Hulle stoot die behoeftiges van die pad af; die ellendiges van die land kruip almal saam weg.
5 Kyk, soos wilde-esels in die woestyn trek hulle uit na hul werk, terwyl hulle soek na voedsel; die wildernis lewer brood vir hulle, vir die kinders.
6 Op die veld gaan hulle voer haal, en in die wingerd van die goddelose hou hulle na-oes.
7 Naak bring hulle die nag deur, sonder klere, en hulle het geen bedekking teen die koue nie.
8 Van die stortbui van die berge word hulle nat; en by gebrek aan skuiling druk hulle hul teen die rotse vas.
9 Hulle ruk die weeskind van die bors af; en wat die arme aan het, verpand hulle.
10 Naak gaan hulle heen, sonder klere; en terwyl hulle honger het, dra hulle gerwe aan.
11 Tussen die mure van dié mense pars hulle olie, trap die parskuipe terwyl hulle versmag van dors.
12 Uit die stad kerm die manne, en die siel van die gewondes roep om hulp; tog gee God geen ag op die ongerymdheid daarvan nie.
13 Sulke mense behoort by die vyande van die lig: hulle ken nie die weë daarvan nie en bly nie op die paaie daarvan nie.
14 Teen dagbreek staan die moordenaar op, hy maak die arme en behoeftige dood, en in die nag is hy soos die dief.
15 En die oog van die owerspeler neem die skemeraand waar en sê: Geen oog kan my sien nie; en hy sit ‘n sluier voor sy gesig.
16 In die duisternis breek hulle in die huise in; bedags sluit hulle hul op; hulle ken nie die lig nie.
17 Want vir hulle saam is die stikdonker ‘n môrestond, want hulle ken die verskrikkinge van die stikdonker.
18 Gou dryf hul voort op die oppervlakte van die water; hulle stuk grond word vervloek in die land; hulle begeef hul nie meer op pad na die wingerde nie.
19 Droogte, ook hitte, roof die sneeuwater weg—so die doderyk die wat gesondig het.
20 Die moederskoot vergeet hom; die wurms eet smaaklik aan hom; aan hom word nie meer gedink nie: so word dan die onreg gebreek soos ‘n stuk hout—
21 hy wat die onvrugbare plunder wat nie baar nie, en aan die weduwee geen weldaad bewys nie.
22 Tog laat Hy deur sy krag die magtiges lank lewe; hy wat al van sy lewe nie seker was nie, staan weer op.
23 God gee hom veiligheid, en hy steun daarop; en sy oë is op hulle weë.
24 Hulle het hul verhef—’n kort rukkie, dan is hulle daar nie meer nie; en hulle word verneder; soos almal sterwe hulle; en soos die boonste van ‘n halm word hulle afgesny.
25 En is dit nou nie so nie, wie sal my van ‘n leuen beskuldig en my rede tot niet maak?




Hoofstuk 25

1 Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:
2 Heerskappy en verskrikking is by Hom wat vrede maak in sy hoogtes.
3 Is daar ‘n getal vir sy leërskare? En oor wie rys sy lig nie op nie?
4 Hoe sou dan ‘n mens regverdig wees by God? En hoe sou hy rein wees wat uit ‘n vrou gebore is?
5 Kyk, selfs die maan—hy skyn nie helder nie; en die sterre is nie rein in sy oë nie.
6 Hoeveel minder die mens, ‘n maaier; en die mensekind, ‘n wurm.




Hoofstuk 26

1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Hoe goed het jy die onmagtige bygestaan, die kragtelose arm gehelp!
3 Hoe mooi het jy die onwyse raad gegee en beleid in oorvloed bekend gemaak!
4 Aan wie het jy woorde te kenne gegee, en wie se gees het uit jou uitgegaan?
5 Die skimme is beangs onder die waters en onder die bewoners daarvan.
6 Naak lê die doderyk voor Hom, en die plek van vertering het geen bedekking nie—
7 voor Hom wat die noorde uitspan oor die chaos, wat die aarde ophang oor ‘n niks;
8 wat die waters saambind in sy wolke sonder dat die wolkgevaarte daaronder skeur;
9 wat die gesig van die troon toehou deurdat Hy sy wolk daaroor uitsprei.
10 Hy het ‘n kring afgetrek oor die watervlakte tot waar lig in duisternis eindig.
11 Die pilare van die hemel wankel en staan verstom weens sy dreiging.
12 Deur sy krag bring Hy die see in beroering, en deur sy verstand verpletter Hy Rahab.
13 Deur sy asem word die hemel helder; sy hand het die vinnige slang deurboor.
14 Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ‘n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?




Hoofstuk 27

1 En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:
2 So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het—
3 want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus—
4 my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie!
5 Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie.
6 Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.
7 My vyand moet dus verskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener.
8 Want wat is die verwagting van die goddelose as Hy afsny—as God sy siel wegneem?
9 Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom?
10 Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep?
11 Ek sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie.
12 Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan ‘n ydele hoop?
13 Dít is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang:
14 as sy kinders baie word, is dit vir die swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie.
15 Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, en sy weduwees ween nie.
16 As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder—
17 hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer.
18 Hy het sy huis gebou soos ‘n mot en soos ‘n skerm wat die oppasser maak.
19 Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en—is nie meer nie.
20 Verskrikkinge oorval hom soos waterstrome; in die nag voer ‘n stormwind hom weg.
21 Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek.
22 En God werp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug.
23 Hulle klap oor hom in hul hande en spot hom weg uit sy plek.




Hoofstuk 28

1 Want vir die silwer is daar ‘n plek waar dit uitkom, en ‘n plek vir die goud wat hulle uitwas.
2 Yster word uit die grond gehaal, en koper word uit klip gegiet.
3 ‘n Einde maak die mens aan die duisternis, en tot die uiterste grens deursoek hy die klip van donkerheid en doodskaduwee.
4 Hy breek ‘n mynskag, wég van hom wat bo woon; hulle wat vergeet is deur die voet daarbo, hulle hang ver van mense af, hulle swaai heen en weer.
5 Die aarde—daar kom brood uit voort, maar daaronder word dit omgewoel soos deur vuur.
6 Die klippe daarvan is die plek van saffiere, en dit bevat stoffies van goud.
7 ‘n Pad wat die roofvoël nie ken nie, en die oog van die valk het dit nie gespeur nie;
8 waar die trotse roofdiere nie op trap nie, waar die leeu nie oor stap nie.
9 Hy slaan sy hand aan die klipharde rots, hy woel die berge van die wortel af om.
10 In die rotse breek hy gange uit, en sy oog sien allerhande kosbare dinge.
11 Hy stop waterare toe, dat hulle nie drup nie; en wat verborge was, bring hy aan die lig.
12 Maar die wysheid—waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand?
13 Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word in die land van die lewende nie gevind nie.
14 Die wêreldvloed sê: In my is dit nie; en die see sê: By my is dit nie.
15 Fyn goud kan daarvoor nie gegee word nie, en geen silwer as koopprys daarvan afgeweeg word nie.
16 Die goud van Ofir weeg daar nie teen op nie, ook nie die kosbare onikssteen en saffier nie.
17 Goud en glas kan daarmee nie vergelyk word nie, en vir goue voorwerpe ruil ‘n mens dit nie.
18 Korale en kristal kan nie genoem word nie, en die besit van wysheid is meer werd as korale.
19 Die topaas van Kus kan daarmee nie vergelyk word nie, suiwer goud word daarteen nie opgeweeg nie.
20 Die wysheid dan—waar kom dit vandaan? En waar is die plek van die verstand?
21 Ja, dit is verborge vir die oë van alles wat leef, en weggesteek vir die voëls van die hemel.
22 Die plek van vertering en die dood sê: Met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor.
23 God weet die weg daarheen, en Hy ken die woonplek daarvan.
24 Want Hy sien tot by die eindes van die aarde; alles wat onder die hemel is, aanskou Hy.
25 Toe Hy vir die wind die gewig bepaal en die waters met die maat afgemeet het,
26 toe Hy vir die reën ‘n wet gestel het en ‘n weg vir die onweerstraal,
27 toe het Hy die wysheid gesien en dit verkondig; Hy het dit opgestel en dit ook deurvors.
28 Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.




Hoofstuk 29

1 En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:
2 Ag, was ek maar soos in die vorige maande, soos in die dae toe God my bewaar het;
3 toe sy lamp bo my hoof geskyn het, ek by sy lig die duisternis deurwandel het;
4 soos ek was in my herfsdae toe die verborgenheid van God oor my tent was;
5 toe die Almagtige nog by my was, my kinders rondom my;
6 toe my voetstappe gewas is in dikmelk en die rots by my strome van olie uitgegiet het.
7 Toe ek uitgegaan het na die poort, op na die stad toe, op die markplein my sitplek reggemaak het,
8 het die seuns weggekruip as hulle my sien, en grysaards het hulle opgerig en bly staan.
9 Vorste het hulle woorde ingehou en die hand op hul mond gelê.
10 Die stem van edeles is teruggehou, en hulle tong het gekleef aan hul verhemelte.
11 Want het ‘n oor net gehoor, dan prys dit my gelukkig; en het ‘n oog net gesien, dan gee dit vir my getuienis.
12 Want ek het die ellendige gered wat om hulp geroep het, en die wees en hom wat geen helper het nie.
13 Die seën van hom wat klaar was om onder te gaan, het op my gekom; en die hart van die weduwee het ek laat jubel.
14 Die geregtigheid was my kleed, en ek sy kleed; my reg was soos ‘n mantel en ‘n tulband.
15 Oë was ek vir die blinde, en voete vir die lamme was ek.
16 ‘n Vader was ek vir die behoeftiges; en die regsaak van hom wat ek nie geken het nie, het ek ondersoek.
17 En ek het die tande van die kwaaddoener stukkend gebreek en die buit uit sy gebit geslinger.
18 So het ek dan gedink: By my nes sal ek die asem uitblaas, en soos die feniks my dae vermenigvuldig.
19 My wortel staan oop na die water toe, en dou vernag op my tak.
20 My eer is altyd nuut by my, en my boog bly jonk in my hand.
21 Na my het hulle geluister vol verwagting, en hulle het stil my raad aangehoor.
22 Ná my woorde het hulle nie weer gespreek nie, en my rede het op hulle gedrup.
23 En hulle het op my gewag soos op reën, en hulle mond wyd oopgemaak soos vir lentereëns.
24 Ek het hulle toegelag as hulle moedeloos was, en hulle kon die lig van my gesig nie verdonker nie.
25 Het ek die weg na hulle toe gekies, dan sit ek as voorman en woon soos ‘n koning onder die skare, soos een wat treuriges vertroos.




Hoofstuk 30

1 En nou lag hulle wat jonger is as ek, my uit—mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit.
2 Wat sou die krag van hulle hande my ook baat? Die frisse lewenskrag het by hulle verlore gegaan.
3 Hulle is uitgeput deur gebrek en honger, hulle wat die dor land afknaag in die donkerheid van woestheid en verwoesting;
4 hulle wat die soutkruid afpluk by die bossies, en die besemboswortel is hulle brood.
5 Uit die samelewing word hulle weggejaag; die mense skreeu oor hulle soos oor ‘n dief.
6 In die afgryslike klowe moet hulle woon, in gate in die grond en in rotse.
7 Tussen die bossies skreeu hulle, onder brandnekels kruip hulle bymekaar—
8 dwase, ja, eerlose mense wat met ‘n sweep uit die land geslaan word.
9 En nou het ek hulle spotlied geword en die onderwerp van hulle gepraat.
10 Hulle het ‘n afsku van my, staan op ‘n afstand van my af en ontsien nie om my in die gesig te spuug nie.
11 Want Hy het my boogsnaar losgemaak en my verneder; so het hulle dan teenoor my die teuel laat skiet.
12 Aan die regterhand staan die gespuis op; hulle stoot my voete weg en gooi hul onheilspaaie teen my op.
13 My pad verniel hulle, hulle help om my te laat val sonder dat hulle self ‘n helper het.
14 Soos deur ‘n wye bres kom hulle; te midde van die puinhope kom hulle aanrol.
15 Verskrikkinge is teen my gerig; hulle vervolg my hoogheid soos die wind, en soos ‘n wolk het my geluk verbygegaan.
16 Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.
17 Die nag deurboor my gebeente, en dit val van my af; en my knaende pyne rus nooit nie.
18 Deur goddelike oormag is my kleed ontredder; soos die kraag van my lyfrok omspan dit my.
19 Hy het my in die modder gewerp, en ek het soos stof en as geword.
20 Ek roep U aan om hulp, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U staar my aan.
21 U is jeens my verander in ‘n onbarmhartige; deur die sterkte van u hand behandel U my as vyand.
22 U hef my op die wind, laat my daarop ry; en U laat my vergaan in stormgedruis.
23 Want ek weet: U wil my na die dood toe bring en na die huis waar al wat lewe, saamkom.
24 Maar sal iemand by die ineenstorting nie nog die hand uitsteek of by sy ondergang om dié rede om hulp roep nie?
25 Of het ek nie geween oor hom wat harde dae het nie? Was my siel nie bekommerd oor die behoeftige nie?
26 Want ek het op die goeie gehoop, en onheil het gekom; en ek het gewag op lig, en donkerheid het gekom.
27 My ingewande kook sonder ophou; dae van ellende het my teëgekom.
28 Ek gaan daarheen in die rou, sonder son; ek staan op in die vergadering, ek roep om hulp.
29 Ek het ‘n broer geword vir die jakkalse en ‘n vriend vir die volstruise.
30 My vel het swart geword en val van my af, en my gebeente gloei van hitte.
31 So het dan my siter ‘n rouklag geword en my fluit ‘n stem van die wat ween.




Hoofstuk 31

1 Ek het ‘n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ‘n jonkvrou?
2 Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes—
3 is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie?
4 Sien Hy nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie?
5 As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog:
6 laat Hy my dan weeg op ‘n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!
7 As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande ‘n vlek gekleef het—
8 laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word.
9 As my hart verlok was oor ‘n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste—
10 laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig.
11 Want dit is ‘n skandelike daad, en dit is ‘n strafbare misdaad.
12 Ja, dit is ‘n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel.
13 As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle ‘n geskil met my gehad het—
14 wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen?
15 Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie?
16 As ek die armes ‘n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het
17 en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet;
18 (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by ‘n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!)
19 as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie;
20 as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie;
21 as ek my hand teen ‘n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het—
22 laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word.
23 Want die ondergang wat God bewerk, was ‘n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig.
24 As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue!
25 As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het;
26 as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan,
27 en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle ‘n kus toegewerp het—
28 ook dit sou ‘n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het.
29 As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het;
30 (ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur ‘n vloek sy lewe te vorder nie!)
31 as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspys nie versadig is nie?
32 (die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!)
33 as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek,
34 omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie!
35 Ag, as iemand my maar wou aanhoor! Kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het!
36 Waarlik, op my skouer sou ek dit dra; ek sou dit my ombind as ‘n krans.
37 Die getal van my voetstappe sou ek Hom te kenne gee; as ‘n vors sou ek na Hom toe aankom.
38 As my saailand my aanklaag en sy vore almal saam ween;
39 as ek sy opbrings geëet het sonder betaling en die lewe van sy eienaars uitgeblaas het—
40 laat dan distels in plaas van koring uitspruit en onkruid in plaas van gars. Hier eindig die woorde van Job.




Hoofstuk 32

1 Toe het dié drie manne opgehou om Job te antwoord, omdat hy in sy eie oë regverdig was.
2 En die toorn van Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, uit die geslag van Ram, het ontvlam; teen Job het sy toorn ontvlam, omdat hy homself regverdig beskou het voor God.
3 Sy toorn het ook ontvlam teen sy drie vriende, omdat hulle geen antwoord gevind het nie en Job veroordeel het.
4 Maar Elíhu het op Job gewag met sy woorde, omdat hulle ouer was as hy.
5 Maar toe Elíhu sien dat daar geen antwoord was in die mond van die drie manne nie, het sy toorn ontvlam.
6 En Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, het begin en gesê: Ek is jonk, en u is hoogbejaard; daarom was ek beskroomd en het gevrees om my kennis aan u mee te deel.
7 Ek het gesê: Laat die dae spreek en die veelheid van jare wysheid te kenne gee.
8 Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak.
9 Nie die bejaardes is wys nie, en nie die oues verstaan wat reg is nie.
10 Daarom sê ek: Luister na my; ek wil ook my kennis meedeel.
11 Kyk, ek het gewag op u woorde; ek wou luister na verstandige taal van u, totdat u die regte woorde uitgevind het.
12 En ek het op u ag gegee; maar kyk: daar was niemand wat Job weerlê het nie, niemand van u wat sy woorde beantwoord het nie.
13 Sê maar net nie: Ons het wysheid aangetref, God alleen kan hom verslaan, geen mens nie.
14 Teen my tog het hy geen woorde ingebring nie; en met u redeneringe sal ek hom nie beantwoord nie.
15 Hulle staan verslae; hulle antwoord nie meer nie; die woorde laat hulle in die steek.
16 Sal ek dan wag, omdat hulle nie spreek nie, omdat hulle daar staan sonder antwoord?
17 Ek wil ook my deel antwoord; ek wil ook my kennis meedeel.
18 Want ek is vol woorde; die gees in my binneste dring my.
19 Kyk, my binneste is soos wyn wat geen opening het nie, soos nuwe leersakke wil dit bars.
20 Ek wil spreek om lug te kry, my lippe oopmaak en antwoord gee.
21 Ek wil nie partydig wees nie; en ‘n mens vlei, sal ek nie.
22 Want ek verstaan nie om te vlei nie; gou sou my Maker my wegneem!




Hoofstuk 33

1 Maar hoor tog, o Job, na my rede, en luister na al my woorde.
2 Kyk, ek het my mond oopgemaak; my tong spreek in my verhemelte.
3 My woorde kom uit die opregtheid van my hart, en wat my lippe weet, spreek hulle suiwer uit.
4 Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend.
5 As u kan, antwoord my; maak klaar teen my; staan gereed!
6 Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp.
7 Kyk, vrees vir my hoef u nie te beangstig nie, en my las sal op u nie swaar wees nie.
8 Sekerlik, u het voor my ore gesê, ek het die geluid van die woorde gehoor:
9 Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie.
10 Kyk, Hy soek aanleidinge vir vyandskap teen my; Hy hou my vir ‘n vyand van Hom.
11 Hy sit my voete in die blok; Hy bewaak al my paaie.
12 Kyk, daarin het u nie reg nie (antwoord ek u), want groter is God as ‘n mens.
13 Waarom het u teen Hom getwis, dat Hy op al die woorde van ‘n mens nie antwoord nie?
14 Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie.
15 In die droom, in ‘n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed,
16 dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle;
17 om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg;
18 sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.
19 Ook word hy getugtig met smart op sy bed en aanhoudende stryd in sy gebeente,
20 sodat sy lewe hom laat walg van brood en sy siel van lieflingspys.
21 Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; en sy gebeente, wat onsigbaar was, steek uit.
22 Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte.
23 Is daar dan vir hom ‘n gesant, ‘n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee;
24 en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het ‘n losprys gevind—
25 dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid.
26 Hy bid tot God, en Hy het ‘n welbehae in hom, sodat hy sy aangesig sien met gejuig: so vergeld Hy dan aan die mens sy geregtigheid.
27 Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie.
28 Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig.
29 Kyk, dit alles doen God, twee keer, ja, drie keer met ‘n mens
30 om sy siel terug te bring van die kuil, sodat hy bestraal word met die lig van die lewe.
31 Let op, o Job! Luister na my; swyg, en ék sal spreek.
32 As u woorde het, antwoord my; spreek, want ek wil u graag gelyk gee.
33 So nie, luister ú dan na my; swyg, en ek sal u wysheid leer.




Hoofstuk 34

1 Verder het Elíhu aangehef en gesê:
2 Hoor my woorde, o wyse manne! En luister na my, u wat kennis het!
3 Want die oor toets woorde soos die verhemelte die spys proe.
4 Laat ons vir onsself uitmaak wat reg is, en onder mekaar uitvind wat goed is.
5 Want Job het gesê: Ek is regverdig, en God het my my reg ontneem.
6 Ondanks my reg staan ek as leuenaar; ongeneeslik is my pylwond, en dit sonder oortreding!
7 Waar is ‘n man soos Job wat godslastering drink soos water?
8 Wat in die geselskap loop van die werkers van ongeregtigheid en wandel saam met goddelose mense?
9 Want hy het gesê: Dit baat ‘n man niks dat hy ‘n welgevalle aan God het nie.
10 Daarom, manne van verstand, luister na my: Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg!
11 Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk, en volgens ‘n man se wandel laat Hy hom ondervind.
12 Ja waarlik, God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.
13 Wie het aan Hom die aarde toevertrou, en wie het die hele wêreld gegrond?
14 As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek,
15 dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer.
16 As daar dan verstand by u is, hoor dit; luister na die stem van my woorde.
17 Kan ook een wat die reg haat, heers? Of durf u die Regverdige, die Geweldige, veroordeel?
18 Durf iemand aan ‘n koning sê: Jou deugniet! Aan die edeles: Jou goddelose!
19 Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.
20 In ‘n oomblik sterf hulle, en in die middel van die nag word ‘n volk in beroering gebring en hulle gaan onder, en die magtige word weggedryf—nie deur ‘n hand nie.
21 Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe.
22 Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waarin die werkers van ongeregtigheid hulle kan wegsteek nie.
23 Want Hy hoef nie lank op ‘n mens ag te gee, dat hy voor God in die gereg sou gaan nie.
24 Hy verpletter die geweldiges sonder ondersoek en sit ander in hulle plek.
25 So ken Hy dan hulle werke en werp hulle omver in die nag, sodat hulle verbrysel word.
26 Hy straf hulle soos goddelose op die plek waar almal dit sien,
27 omdat hulle van Hom afgewyk en op geeneen van sy weë ag gegee het nie—
28 om die geroep van die arme na Hom te laat kom, en dat Hy die geroep van die ellendiges sou hoor.
29 En gee Hy rus, wie durf Hom dan veroordeel? En verberg Hy die aangesig, wie kan Hom dan aanskou? —of dit al ‘n nasie betref of ‘n mens, almal saam;
30 sodat die goddelose mense nie sal regeer, sodat hulle geen strikke vir die volk sal wees nie.
31 Want sê iemand wel tot Gód: Ek boet sonder dat ek sleg handel;
32 wat ek nie insien nie, leer U my dit; ás ek onreg gedoen het, ek sal dit nie meer doen nie—
33 moet Hy volgens u mening tog vergelding doen? U is mos ontevrede, sodat ú moet sê wat beter is, en nie ek nie! Wat u dan weet—spreek dit uit!
34 Manne van verstand sal vir my sê, en ‘n wyse man wat my aanhoor:
35 Job spreek sonder kennis, en sy woorde is sonder verstand.
36 Ag, mag Job getoets word tot die einde toe weens die antwoorde in die trant van kwaaddoeners.
37 Want hy voeg ‘n oortreding by sy sonde; onder ons spreek hy smadelik en vermenigvuldig sy woorde teen God.




Hoofstuk 35

1 Verder het Elíhu aangehef en gesê:
2 Hou u dit vir reg, noem u dit: my geregtigheid voor God,
3 dat u vra wat dit u baat? Wat help dit my meer as wanneer ek sou sondig?
4 Ék sal u antwoord gee en aan u vriende saam met u.
5 Kyk op na die hemel en sien, en aanskou die wolke wat hoog bo u is.
6 As u sondig, watter skade is dit vir Hom? En is u oortredinge baie, wat kan u Hom daarmee aandoen?
7 As u regverdig is, wat gee u aan Hom? Of wat kan Hy uit u hand aanneem?
8 U goddeloosheid raak net ‘n mens soos u, en u geregtigheid ‘n mensekind.
9 Vanweë die menigte van verdrukkinge skreeu hulle; hulle roep om hulp oor die geweld van die grotes.
10 Maar niemand sê nie: Waar is God, my Maker, wat lofsange gee in die nag,
11 wat ons meer leer as aan die diere van die aarde en ons wyser maak as die voëls van die hemel?
12 Dan roep hulle, maar Hy antwoord nie, vanweë die trotsheid van die kwaaddoeners.
13 Sekerlik, na nietige klagte luister God nie, en die Almagtige slaan daar geen ag op nie.
14 Hoeveel minder as u sê u sien Hom nie! Die regsaak is voor Hom: wag dan op Hom.
15 Maar nou, omdat sy toorn nie straf nie, en Hy nie grootliks ag gee op oormoed nie,
16 maak Job sy mond wyd oop in nietige gepraat, vermenigvuldig hy woorde sonder kennis.




Hoofstuk 36

1 En Elíhu het voortgegaan en gesê:
2 Wag ‘n bietjie op my, en ek sal u inlig; want daar is nog genoeg te sê tot eer van God.
3 Ek sal my kennis van ver af ophaal en aan my Skepper reg verskaf.
4 Want waarlik, my woorde is geen leuens nie; een wat volkome is in kennis, is by u.
5 Kyk, God is geweldig, nogtans ag Hy niks gering nie—geweldig deur krag van verstand.
6 Hy laat die goddelose nie lewe nie, maar aan die ellendiges verskaf Hy reg.
7 Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie, maar by konings op die troon laat Hy hulle sit vir altyd, sodat hulle verhoog is.
8 Maar as hulle in kettings geklink is, gevang word in bande van ellende,
9 dan gee Hy aan hulle hul dade te kenne en hul oortredinge, dat hul gedrag hoogmoedig was;
10 dan open Hy hulle oor vir die tugtiging en sê dat hulle moet terugkeer van ongeregtigheid.
11 As hulle luister en Hom dien, dan bring hulle hul dae deur in voorspoed en hul jare in aangenaamheid.
12 Maar as hulle nie luister nie, dan kom hulle om deur die spies, en hulle blaas die asem uit sonder kennis.
13 Maar die goddelose van hart koester nyd; hulle roep nie om hulp as Hy hulle bind nie.
14 So sterwe dan hulle siel in die jeug en hulle lewe soos dié van skandseuns.
15 Hy red die ellendige deur sy ellende en open hulle oor deur verdrukking.
16 So lok Hy u dan ook uit die mond van die nood na ‘n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys.
17 Maar u is vol van die oordeel oor die goddelose: oordeel en strafgerig sal u aangryp.
18 Want pas op dat woede u nie verlok by die bestraffing en die grootheid van die losprys u nie verlei nie.
19 Sal Hy u geroep om hulp voorbring waar daar geen nood is nie, en alle moontlike kragsinspanning van u?
20 Smag nie na die oordeelsnag wat volke wegneem uit hulle plek nie.
21 Neem u in ag, wend u nie tot ongeregtigheid nie; want dit verkies u liewer as ellende.
22 Kyk, God handel verhewe in sy krag; wie is ‘n leermeester soos Hy?
23 Wie het Hom sy weg voorgeskrywe? En wie het gesê: U het onreg gedoen?
24 Dink daaraan dat u sy werk moet verheerlik waar die mense van sing.
25 Al die mense sien dit met welgevalle aan, die sterfling aanskou dit van ver.
26 Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik.
27 Want Hy trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën
28 wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense.
29 Ja, kan iemand die uitspreiding van die wolke verstaan, die gekraak van sy hut?
30 Kyk, Hy sprei sy lig oor Hom uit, en die dieptes van die see oordek Hy.
31 Want daarmee oordeel Hy die volke, gee Hy voedsel in oorvloed.
32 Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller.
33 Sy donderstem kondig Hom aan, die vee selfs dat Hy optrek.




Hoofstuk 37

1 Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek.
2 Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan.
3 Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde.
4 Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie.
5 God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is.
6 Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns.
7 Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het.
8 Dan gaan die wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke.
9 Uit sy kamer kom die stormwind, en deur die wolkverstrooiers koue.
10 Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte.
11 Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk;
12 en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond:
13 óf tot ‘n tugroede, óf tot nut van sy aarde, óf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind.
14 Luister hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God.
15 Begryp u hoe God hulle bevel gee en die lig van sy wolk laat flikker?
16 Begryp u iets van die gesweef van die wolke, van die wonders van die Volmaakte in kennis?
17 U, wie se klere warm word as die aarde stil is vanweë die suidewind—
18 kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat vas is soos ‘n gegote spieël?
19 Onderrig ons wat ons aan Hom moet sê: ons kan niks voorbring vanweë die duisternis nie.
20 Moet dit Hom vertel word dat ek wil spreek? Of het iemand ooit gesê dat hy vernietig wil word?
21 En nou, ‘n mens kan die lig nie aansien wat helder is in die hemel as die wind verbygegaan en dit skoongemaak het nie.
22 Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit.
23 Die Almagtige—ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie.
24 Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.




Hoofstuk 38

1 Daarna het die HERE Job uit ‘n storm geantwoord en gesê:
2 Wie maak die raadsbesluit daar tot duisternis met woorde sonder kennis?
3 Gord dan soos ‘n man jou heupe—dan sal Ek jou ondervra, en onderrig jy My.
4 Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.
5 Wie het sy afmetinge bepaal? —jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan?
6 Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?
7 Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?
8 En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het?
9 Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel.
10 Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het;
11 en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ‘n grens gestel vir jou trotse golwe.
12 Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys,
13 om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word?
14 Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder ‘n seël; en die dinge kry gestalte soos ‘n kleed.
15 En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek.
16 Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed?
17 Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien?
18 Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet.
19 Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis—waar is tog sy plek,
20 sodat jy dit kan bring, elkeen na sy gebied en kan verstaan die paaie na hulle huis?
21 Jy weet dit seker wel, want jy is toe gebore! En die getal van jou dae is groot!
22 Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien,
23 wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?
24 Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word, die oostewind hom uitsprei oor die aarde?
25 Wie het ‘n kanaal gesplyt vir die stortvloed en ‘n pad vir die onweerstraal;
26 om te laat reën op ‘n land waar geen mens is nie, op ‘n woestyn waar niemand woon nie;
27 om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit?
28 Het die reën ‘n vader? Of wie verwek die doudruppels?
29 Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel—wie baar dit?
30 Die waters word hard soos ‘n klip, en die oppervlakte van die watervloed sluit aanmekaar.
31 Kan jy die bande van die Sewe-ster knoop? Of die toue van die Oríon losmaak?
32 Kan jy die Diereriem uitbring op sy tyd? En die Beer met sy kleintjies lei?
33 Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel?
34 Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat ‘n oorvloed van water jou oordek?
35 Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons!
36 Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte?
37 Wie kan die wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel—wie giet hulle leeg
38 wanneer die stof saamvloei tot ‘n stuk gietwerk en die kluite aanmekaar klewe?
39 (39:1) Kan jy prooi jag vir die leeuin? Of die honger van die jong leeus stil maak
40 (39:2) as hulle neerbuig in die lêplekke, klaar sit in die skuilplek om te loer?
41 (39:3) Wie berei vir die kraai sy spys as sy kleintjies roep tot God, ronddwaal by gebrek aan voedsel?




Hoofstuk 39

1 (39:4) Weet jy die tyd as die steenbokke lam? Neem jy dit waar as die takbokooie voortbring?
2 (39:5) Tel jy die maande wat hulle dragtig is? En weet jy die tyd dat hulle lam?
3 (39:6) Hulle buig hul krom, bring hulle kleintjies voort—weg is hulle weë!
4 (39:7) Hulle kleintjies word sterk, word groot in die veld, loop weg en kom na hulle nie terug nie.
5 (39:8) Wie het die wilde-esel so vry laat loop? En wie het die bande van die woestyn-esel losgemaak?
6 (39:9) Vir hom het Ek die wildernis sy huis gemaak en die brak land sy woonplek.
7 (39:10) Hy lag oor die gewoel van die stad; die geskreeu van die drywer hoor hy nie.
8 (39:11) Die omgewing van die berge is sy weiveld; en al wat groen is, soek hy uit.
9 (39:12) Sal die buffel gewillig wees om jou te dien? Of sal hy vernag by jou krip?
10 (39:13) Kan jy die buffel aan die ploegvoor bind met sy trektou? Of sal hy die laagtes agter jou eg?
11 (39:14) Sal jy op hom vertrou, omdat sy krag groot is? En aan hom jou arbeid oorlaat?
12 (39:15) Kan jy op hom reken, dat hy jou gesaaide sal inbring en bymekaarmaak op jou dorsvloer?
13 (39:16) Die vlerk van die volstruis klap vrolik. Is dit ‘n sagaardige vleuel en veer?
14 (39:17) Want sy laat haar eiers op die grond lê en hou hulle warm op die grond;
15 (39:18) en vergeet dat ‘n voet dit kan stukkend druk en die wilde diere van die veld dit kan vertrap.
16 (39:19) Hard behandel sy haar kleintjies asof dit nie hare is nie; is haar moeite tevergeefs—sy is nie bekommerd nie.
17 (39:20) Want God het haar die wysheid ontsê en haar geen deel gegee aan die verstand nie.
18 (39:21) Wanneer sy haarself in die hoogte klap, lag sy oor die perd en sy ruiter.
19 (39:22) Gee jy aan die perd sterkte? Beklee jy sy nek met maanhare?
20 (39:23) Laat jy hom spring soos die sprinkaan? Sy trotse gesnuif is ‘n verskrikking.
21 (39:24) Hy grawe in die laagte en is vrolik in sy krag; hy trek uit, die stryd tegemoet.
22 (39:25) Hy lag oor die vrees en word nie verskrik nie en draai nie om vir die swaard nie.
23 (39:26) Op hom rammel die pylkoker, die flikkerende spies en lans.
24 (39:27) Onstuimig en wild verslind hy die grond en staan nie stil as die basuin klink nie.
25 (39:28) By elke basuinstoot sê hy: Heag! En van ver ruik hy die oorlog, die donderroep van die leërowerstes en die oorlogsgeskreeu.
26 (39:29) Sweef die valk opwaarts deur jou verstand en sprei sy vlerke uit na die suide toe?
27 (39:30) Of vlieg die adelaar hoog op jou bevel en bou hy hoog sy nes?
28 (39:31) Op die rots woon hy en vernag hy, op die rotspunt en bergvesting.
29 (39:32) Daarvandaan loer hy op voedsel, sy oë kyk in die verte.
30 (39:33) Ook slurp sy kleintjies bloed, en waar gesneuweldes lê, daar is hy.




Hoofstuk 40

1 (39:34) En die HERE het Job geantwoord en gesê:
2 (39:35) Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord!
3 (39:36) Toe het Job die HERE geantwoord en gesê:
4 (39:37) Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond.
5 (39:38) Een maal het ek gespreek, maar sal nie meer antwoord nie; ja, twee maal, maar ek sal nie voortgaan nie.
6 (40:1) En die HERE het Job uit ‘n storm geantwoord en gesê:
7 (40:2) Gord tog jou heupe soos ‘n man; Ek sal jou ondervra en onderrig jy My.
8 (40:3) Wil jy werklik my reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê?
9 (40:4) Het jy dan ‘n arm soos God? En kan jy donder met die stem soos Hy?
10 (40:5) Versier jou tog met heerlikheid en hoogheid, en beklee jou met majesteit en glorie!
11 (40:6) Giet jou toorn in strome uit; en kyk na alles wat hoog is, en verneder dit.
12 (40:7) Kyk na alles wat hoog is, onderwerp dit; en werp die goddelose neer daar waar hulle staan.
13 (40:8) Begrawe hulle almal saam in die stof; sluit hulle aangesigte in ‘n verborge plek weg.
14 (40:9) Dan sal ook Ek jou loof, omdat jou regterhand jou die oorwinning gee.
15 (40:10) Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos ‘n bees.
16 (40:11) Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik.
17 (40:12) Hy hou sy stert reguit soos ‘n seder; die senings van sy dye is inmekaar gevleg.
18 (40:13) Sy gebeente is pype van koper, sy bene soos stawe van yster.
19 (40:14) Hy is die eersteling van die weë van God; Hy wat hom gemaak het, het hom sy swaard verskaf.
20 (40:15) Want die berge lewer vir hom voer, en al die wilde diere van die veld speel daar.
21 (40:16) Onder lotusbome lê hy, in ‘n skuilplek van riete en moeras.
22 (40:17) Lotusbome oordek hom as sy skaduwee, die rivierwilgers omring hom.
23 (40:18) As die rivier swel—hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis ‘n Jordaan teen sy mond.
24 (40:19) Sal ‘n mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met vangtoue sy neus deurboor?




Hoofstuk 41

1 (40:20) Kan jy die krokodil met ‘n hoek uittrek? En met ‘n tou sy tong afdruk?
2 (40:21) Kan jy ‘n tou van biesies in sy neus sit? En sy kakebeen met ‘n haak deurboor?
3 (40:22) Sal hy jou baie smeek? Of met jou spreek in sagte woorde?
4 (40:23 Sal hy ‘n verbond met jou sluit, dat jy hom vir altyd as slaaf aanneem?
5 (40:24) Sal jy met hom soos met ‘n voëltjie speel? En hom vasbind vir jou meisiekinders?
6 (40:25) Sal die viskopers met hom handel drywe, hom verdeel onder die koopmans?
7 (40:26) Kan jy sy vel vol skerp ysters steek, en met ‘n vissersharpoen sy kop?
8 (40:27) Sit jou hand op hom; dink aan die geveg; jy sal dit nie weer doen nie.
9 (40:28) Kyk, elke hoop kom bedroë uit: sal ‘n mens nie reeds by die sien van hom neerslaan nie?
10 (41:1) Niemand is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou?
11 (41:2) Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.
12 (41:3) Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie.
13 (41:4) Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit—wie kan daarin deurdring?
14 (41:5) Die deure van sy gesig—wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking.
15 (41:6) ‘n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met ‘n vaste seël.
16 (41:7) Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie.
17 (41:8) Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar.
18 (41:9) Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad.
19 (41:10) Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit.
20 (41:11) Uit sy neusgate kom rook, soos uit ‘n kokende pot met biesiesvuur daarby.
21 (41:12) Sy asem laat kole ontvlam, en ‘n vlam gaan uit sy mond.
22 (41:13) In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis.
23 (41:14) Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik.
24 (41:15) Sy hart is hard soos ‘n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen.
25 (41:16) As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself.
26 (41:17) Raak iemand hom met die swaard—dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie.
27 (41:18) Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het.
28 (41:19) Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels.
29 (41:20) Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans.
30 (41:21) Onderaan hom is spits skerwe: hy sprei ‘n ware dorsslee uit op die modder.
31 (41:22) Hy laat die diepte kook soos ‘n pot; die waterplas maak by soos ‘n kokende salfpot.
32 (41:23) Agter hom verlig hy die pad: ‘n mens sou die watervloed aansien vir grys hare.
33 (41:24) Sy gelyke is daar op die aarde nie, die skepsel sonder vrees.
34 (41:25) Hy kyk alles aan wat hoog is; hy is koning oor al die trotse roofdiere.




Hoofstuk 42

1 Toe het Job die HERE geantwoord en gesê:
2 Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.
3 Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie.
4 Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my!
5 Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.
6 Daarom herroep ek en het berou in stof en as.
7 En nadat die HERE Job toegespreek het met hierdie woorde, sê die HERE aan Élifas, die Temaniet: My toorn het ontvlam teen jou en jou twee vriende; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.
8 Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring ‘n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid; want hom alleen sal Ek in guns aanneem, sodat Ek aan julle nie die dwaasheid laat vergelde nie; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.
9 Toe het Élifas, die Temaniet, en Bildad, die Suhiet, en Sofar, die Naämatiet, heengegaan en gedoen soos die HERE aan hulle gesê het; en die HERE het Job in guns aangeneem.
10 En die HERE het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die HERE het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.
11 Ook het al sy broers en al sy susters en al sy bekendes van vroeër na hom gekom en met hom saam brood geëet in sy huis; en hulle het met hom medelyde gehad en hom vertroos oor al die onheil wat die HERE oor hom gebring het. En hulle het hom elkeen ‘n geldstuk gegee en elkeen ‘n goue ring.
12 En die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin; en hy het veertien duisend stuks kleinvee en ses duisend kamele en duisend paar beeste en duisend eselinne gehad.
13 Daarby het hy sewe seuns en drie dogters gehad.
14 En hy het die eerste genoem Jemíma en die tweede Kesía en die derde Kerenhappug.
15 En in die hele land is geen vroue gevind so mooi soos die dogters van Job nie; en hulle vader het hulle ‘n erfdeel gegee onder hulle broers.
16 En Job het daarna honderd en veertig jaar lank gelewe; en hy het sy kinders en kindskinders gesien, vier geslagte.
17 En Job het gesterwe, oud en afgeleef.