Psalms

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50 51 52 53 54 55 56 57 58 59 60 61 62 63 64 65 66 67 68 69 70 71 72 73 74 75 76 77 78 79 80 81 82 83 84 85 86 87 88 89 90 91 92 93 94 95 96 97 98 99 100 101 102 103 104 105 106 107 108 109 110 111 112 113 114 115 116 117 118 119 120 121 122 123 124 125 126 127 128 129 130 131 132 133 134 135 136 137 138 139 140 141 142 143 144 145 146 147 148 149 150


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.
3 En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.
4 So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.
5 Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.
6 Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.




Hoofstuk 2

1 Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?
2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:
3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!
4 Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.
5 Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik:
6 Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.
7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.
8 Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.
9 U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.
10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!
11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.
12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!




Hoofstuk 3

1 ‘n Psalm van Dawid toe hy gevlug het vir sy seun Absalom. (3:2) o HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan teen my op.
2 (3:3) Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie. Sela.
3 (3:4) Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef.
4 (3:5) Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg. Sela.
5 (3:6) Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my.
6 (3:7) Ek sal nie vrees vir tien duisende van mense wat rondom teen my gereed staan nie.
7 (3:8) Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek.
8 (3:9) Die heil behoort aan die HERE; laat u seën wees oor u volk! Sela.




Hoofstuk 4

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Psalm van Dawid. (4:2) As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!
2 (4:3) o Manne, hoe lank sal my eer tot skande wees? Hoe lank sal julle die nietigheid liefhê, die leuen soek? Sela.
3 (4:4) Weet tog dat die HERE vir Hom ‘n gunsgenoot afgesonder het; die HERE hoor as ek Hom aanroep.
4 (4:5) Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil. Sela.
5 (4:6) Offer offerandes van geregtigheid en vertrou op die HERE.
6 (4:7) Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef oor ons die lig van u aangesig, o HERE!
7 (4:8) Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is.
8 (4:9) Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.




Hoofstuk 5

1 Vir die musiekleier; met fluite. ‘n Psalm van Dawid. (5:2) o HERE, luister na my woorde, let op my versugting.
2 (5:3) Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.
3 (5:4) In die môre, HERE, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.
4 (5:5) Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie.
5 (5:6) Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid.
6 (5:7) U sal die leuensprekers laat omkom; van die man van bloed en bedrog het die HERE ‘n afsku.
7 (5:8) Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan, my buig na u heilige tempel, in u vrees.
8 (5:9) HERE, lei my in u geregtigheid om my vyande ontwil; maak u weg voor my reg.
9 (5:10) Want in hulle mond is niks betroubaars nie; hulle binneste bring onheil; hulle keel is ‘n oop graf; hulle maak hul tong glad.
10 (5:11) Verklaar hulle skuldig, o God! Laat hulle val deur hul planne; dryf hulle weg oor die menigte van hul oortredinge, want hulle is wederstrewig teen U.
11 (5:12) Maar laat húlle almal bly wees wat by U skuil; laat hulle vir ewig jubel, en beskut U hulle; en laat in U juig die wat u Naam liefhet.
12 (5:13) Want U seën die regverdige, o HERE, U omring hom met welbehae soos met ‘n skild.




Hoofstuk 6

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente; met basstem. ‘n Psalm van Dawid. (6:2) o HERE, straf my nie in u toorn nie, en kasty my nie in u grimmigheid nie.
2 (6:3) Wees my genadig, HERE, want ek is verswak; maak my gesond, HERE, want my gebeente is verskrik.
3 (6:4) Ja, my siel is baie verskrik; en U, HERE, tot hoe lank?
4 (6:5) Keer terug, HERE, red my siel; verlos my om u goedertierenheid ontwil.
5 (6:6) Want in die dood word aan U nie gedink nie; wie sal U loof in die doderyk?
6 (6:7) Ek is moeg van my gesug; elke nag laat ek my bed swem; ek deurweek my bed met my trane.
7 (6:8) My oog het dof geword van verdriet; dit het swak geword vanweë al my teëstanders.
8 (6:9) Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid, want die HERE het die stem van my geween gehoor.
9 (6:10) Die HERE het my smeking gehoor; die HERE neem my gebed aan.
10 (6:11) Al my vyande sal beskaamd staan en baie verskrik word; hulle sal in ‘n oomblik beskaamd omdraai.




Hoofstuk 7

1 Sjiggajon van Dawid wat hy tot eer van die HERE gesing het weens die woorde van Kus, die Benjaminiet. (7:2) HERE, my God, by U skuil ek; verlos my van al my vervolgers en red my;
2 (7:3) sodat hy nie soos ‘n leeu my verskeur en wegruk sonder dat iemand red nie.
3 (7:4) HERE, my God, as ek dit gedoen het, as daar onreg in my hande is,
4 (7:5) as ek hóm kwaad aangedoen het wat in vrede met my geleef het (ja, ek het hom gered wat my sonder oorsaak vyandig was),
5 (7:6) mag die vyand my dan vervolg en inhaal en my lewe teen die grond vertrap en my eer in die stof laat woon. Sela.
6 (7:7) Staan op, HERE, in u toorn, verhef U teen die grimmigheid van my teëstanders en ontwaak vir my, U wat die reg beveel het!
7 (7:8) En laat die vergadering van die volke U omring; keer dan bo hulle terug in die hoogte!
8 (7:9) Die HERE oordeel die volke. Doen aan my reg, HERE, na my geregtigheid en na my onskuld wat by my is.
9 (7:10) Laat tog die boosheid van die goddelose mense ‘n einde neem, maar bevestig U die regverdige, ja, U wat harte en niere toets, o regverdige God!
10 (7:11) My skild is by God wat die opregtes van hart verlos.
11 (7:12) God is ‘n regverdige regter, en ‘n God wat elke dag toornig is.
12 (7:13) As hy hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp; Hy span sy boog en mik daarmee
13 (7:14) en berei vir hom dodelike werktuie; Hy maak sy pyle brandende wapens.
14 (7:15) Kyk, hy is in barensweë van onreg en is swanger van moeite; hy baar leuens.
15 (7:16) Hy het ‘n kuil gegrawe en dit uitgehol; maar hy het geval in die vangkuil wat hy gemaak het.
16 (7:17) Die onheil wat hy gestig het, keer op sy hoof terug, en sy geweld kom op sy skedel neer.
17 (7:18) Ek wil die HERE loof na sy geregtigheid en die Naam van die HERE, die Allerhoogste, psalmsing.




Hoofstuk 8

1 Vir die musiekleier; op die Gittiet. ‘n Psalm van Dawid. (8:2) o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele.
2 (8:3) Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.
3 (8:4) As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—
4 (8:5) wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?
5 (8:6) U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon.
6 (8:7) U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel:
7 (8:8) skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld,
8 (8:9) die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see.
9 (8:10) o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!




Hoofstuk 9

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Sterf vir die Seun". ‘n Psalm van Dawid. (9:2) Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel.
2 (9:3) In U wil ek bly wees en juig; ek wil psalmsing tot eer van u Naam, o Allerhoogste,
3 (9:4) omdat my vyande agteruitwyk, struikel en omkom van voor u aangesig.
4 (9:5) Want U het my reg en my regsaak behandel; U het gaan sit op die troon, o regverdige regter!
5 (9:6) U het die heidene gedreig, die goddelose laat omkom, hulle naam uitgedelg vir ewig en altyd.
6 (9:7) Die vyande het omgekom—puinhope vir ewig; ook die stede wat U verwoes het; hulle gedagtenis, ja, dié het vergaan.
7 (9:8) Maar die HERE sit vir ewig; Hy het sy troon reggesit vir die oordeel.
8 (9:9) En Hy self sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke vonnis met reg.
9 (9:10) So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.
10 (9:11) En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o HERE!
11 (9:12) Psalmsing tot eer van die HERE wat op Sion woon; verkondig onder die volke sy dade.
12 (9:13) Want Hy wat die bloed soek, dink aan hulle; Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie.
13 (9:14) Wees my genadig, HERE, aanskou my ellende vanweë my haters, U wat my verhef uit die poorte van die dood;
14 (9:15) sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil.
15 (9:16) Die heidene het gesink in die kuil wat hulle gemaak het; hulle voet is gevang in die net wat hulle gespan het.
16 (9:17) Die HERE het Hom bekend gemaak; Hy het strafgerig geoefen; die goddelose is verstrik in die werk van sy hande. Higgajon. Sela.
17 (9:18) Die goddelose sal teruggaan na die doderyk, al die heidene wat God vergeet.
18 (9:19) Want die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die verwagting van die ellendiges nie vir ewig verlore gaan nie.
19 (9:20) Staan op, HERE, laat die mens nie sterk word nie; laat die heidene voor u aangesig geoordeel word!
20 (9:21) o HERE jaag hulle skrik aan; laat die heidene weet, hulle is mense! Sela.




Hoofstuk 10

1 o HERE, waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid?
2 In sy trotsheid vervolg die goddelose die ellendige. Laat hulle gegryp word in die listige planne wat hulle uitgedink het!
3 Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE.
4 Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie—dit is al sy gedagtes!
5 Sy weë is altyd voorspoedig; hoog daarbo is u gerigte, weg van hom af; al sy teëstanders—hy blaas op hulle.
6 Hy sê in sy hart: Ek sal nie wankel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie in die ongeluk sal wees nie.
7 Sy mond is vol van vloek en van bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg.
8 Hy sit in die hinderlae by die dorpe; in skuilplekke maak hy die onskuldige dood; sy oë loer op die ongelukkige.
9 Hy loer in die skuilhoek soos ‘n leeu in sy lêplek; hy loer om die ellendige te vang; hy vang die ellendige deur sy net toe te trek;
10 en verbryseld sink dié terneer, en die ongelukkiges val in sy mag.
11 Hy sê in sy hart: God vergeet dit; Hy verberg sy aangesig; vir ewig sien Hy dit nie.
12 Staan op, HERE! o God, hef u hand op; vergeet die ellendiges nie!
13 Die goddelose, waarom verag hy God en sê in sy hart: U soek dit nie?
14 U het dit gesien; want U aanskou die moeite en verdriet, sodat ‘n mens dit in u hand sal gee. Aan U gee die ongelukkige dit oor; U was ‘n helper van die wees.
15 Verbreek die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat U niks vind nie!
16 Die HERE is Koning vir ewig en altyd; die heidene het vergaan uit sy land.
17 HERE, U het die begeerte van die ootmoediges gehoor; U sal hulle hart versterk, u oor sal luister
18 om aan die wees en verdrukte reg te doen. Geen mens uit die aarde sal langer voortgaan om skrik aan te jaag nie.




Hoofstuk 11

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. By die HERE skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos ‘n voël!
2 Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart.
3 As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?
4 Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders.
5 Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.
6 Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.
7 Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.




Hoofstuk 12

1 Vir die musiekleier; met basstem. ‘n Psalm van Dawid. (12:2) Red, o Here, want daar is geen vrome meer nie; want die getroues het verdwyn onder die mensekinders.
2 (12:3) Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.
3 (12:4) Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat,
4 (12:5) hulle wat sê: Met ons tong is ons sterk; ons lippe is met ons! Wie is heer oor ons?
5 (12:6) Oor die verdrukking van die ellendiges, oor die gesug van die behoeftiges sal Ek nou opstaan, sê die HERE; Ek sal hom in veiligheid stel wat daarna smag.
6 (12:7) Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.
7 (12:8) U, o HERE, sal hulle bewaar; U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig.
8 (12:9) Die goddelose draf rond as laagheid die oorhand kry by die mensekinders.




Hoofstuk 13

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid.
2 Hoe lank, HERE, sal U my altyddeur vergeet? Hoe lank sal U vir my u aangesig verberg?
3 Hoe lank sal ek planne beraam in my siel, met kommer in my hart oordag? Hoe lank sal my vyand hom oor my verhef?
4 Aanskou tog, verhoor my, HERE, my God! Verlig my oë, sodat ek nie in die dood inslaap nie;
5 sodat my vyand nie kan sê: Ek het hom oorwin nie, en my teëstanders nie juig as ek wankel nie.
6 Maar ek—op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil. Ek wil sing tot eer van die HERE, omdat Hy aan my goed gedoen het.




Hoofstuk 14

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie.
2 Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra.
3 Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie.
4 Het al die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, die wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep die HERE nie aan nie.
5 Dáár het skrik hulle oorweldig, want God is by die regverdige geslag.
6 Die raad van die ellendige—julle kan dit tot skande maak; waarlik, die HERE is sy toevlug.
7 Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As die HERE die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees.




Hoofstuk 15

1 ‘n Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?
2 Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek;
3 wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie;
4 in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie;
5 wat sy geld nie gee op woeker en geen omkoopgeskenk aanneem teen die onskuldige nie. Hy wat hierdie dinge doen, sal nie wankel in ewigheid nie.




Hoofstuk 16

1 ‘n Gedig van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek.
2 Ek het tot die HERE gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie.
3 Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.
4 Die smarte van hulle wat ‘n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees; ek sal hulle drankoffers van bloed nie uitgiet en hulle name op my lippe nie neem nie.
5 Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my lot.
6 Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.
7 Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.
8 Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.
9 Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon;
10 want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.
11 U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.




Hoofstuk 17

1 HERE, hoor ‘n regverdige saak, let op my smeking; luister tog na my gebed met onbedrieglike lippe.
2 Laat my reg van u aangesig uitgaan; laat u oë regverdig sien.
3 U het my hart getoets, dit in die nag ondersoek, U het my gekeur, U vind niks nie; wat ek ook dink, my mond oortree nie.
4 Aangaande die handelinge van die mens, ék het deur die woord van u lippe die paaie van die geweldenaar vermy.
5 My gange het vasgehou aan u spore, my voetstappe het nie gewankel nie.
6 Ek roep U aan, want U verhoor my, o God! Neig u oor tot my, luister na my woord!
7 Maak u gunsbewyse wonderbaar, o verlosser van die wat by u regterhand skuil vir teëstanders!
8 Bewaar my soos ‘n oogappel; verberg my in die skaduwee van u vleuels
9 teen die goddelose wat my geweld aandoen, my doodsvyande wat my omring.
10 Hulle het hul gevoel afgesluit; met hul mond spreek hulle hoogmoedig.
11 Nou het hulle ons in ons gang omsingel; hulle rig hul oë daarop om ons op die grond uit te strek.
12 Hy is soos ‘n leeu wat begerig is om te verskeur, en soos ‘n jong leeu wat in skuilplekke klaar lê.
13 Staan op, HERE, gaan hom tegemoet, werp hom neer; red my van die goddelose met u swaard;
14 met u hand van die manne, o HERE, van die manne wie se deel in die lewe uit die wêreld is en wie se buik U vul met u verborge skat; wie se seuns daarvan nog sat is, wat weer hul oorskot aan hulle kinders laat agterbly.
15 Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word.




Hoofstuk 18

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid, die kneg van die HERE, wat die woorde van hierdie lied tot die HERE gespreek het op die dag toe die HERE hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul. (18:2) En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte.
2 (18:3) Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.
3 (18:4) Ek roep die HERE aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos.
4 (18:5) Bande van die dood het my omring, en strome van onheil het my oorval.
5 (18:6) Bande van die doderyk was rondom my; strikke van die dood het my teëgekom.
6 (18:7) Toe ek benoud was, het ek die HERE aangeroep, en ek het tot my God geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.
7 (18:8) Toe het die aarde geskud en gebewe; die fondamente van die berge het gesidder en geskud, omdat Hy toornig was.
8 (18:9) Rook in sy neus het opgegaan, en ‘n vuur uit sy mond het verteer; kole uit Hom het gebrand.
9 (18:10) En Hy het die hemel gebuig en neergedaal, en donkerheid was onder sy voete.
10 (18:11) En Hy het op ‘n gérub gery en gevlieg; ja, Hy het gesweef op die vleuels van die wind.
11 (18:12) Duisternis het Hy sy skuilplek gemaak, sy hut rondom Hom: duisternis van waters, diktes van wolke.
12 (18:13) Deur die glans voor Hom het sy wolke verbygetrek, hael en gloeiende kole.
13 (18:14) En die HERE het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole.
14 (18:15) En Hy het sy pyle uitgestuur en hulle verstrooi; ja, sy bliksems in menigte, en Hy het hulle verwar.
15 (18:16) En die beddings van die waters het sigbaar geword, en die fondamente van die wêreld is blootgelê vanweë u dreiging, o HERE, vanweë die geblaas van die wind van u neus.
16 (18:17) Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek.
17 (18:18) Hy het my verlos van my magtige vyand en van my haters, omdat hulle te sterk was vir my.
18 (18:19) Hulle het my oorval op die dag van my nood; maar die HERE was my steun.
19 (18:20) En Hy het my uitgelei in die ruimte; Hy het my gered, omdat Hy behae in my gehad het.
20 (18:21) Die HERE het met my gehandel na my geregtigheid; Hy het my vergelde na die reinheid van my hande.
21 (18:22) Want ek het die weë van die HERE gehou en nie goddeloos van my God afgewyk nie;
22 (18:23) want al sy verordeninge was voor my, en sy insettinge het ek nie van my verwyder nie.
23 (18:24) Maar ek was opreg by Hom, en ek was op my hoede vir my ongeregtigheid.
24 (18:25) So het die HERE my dan vergelde na my geregtigheid, na die reinheid van my hande, voor sy oë.
25 (18:26) By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg,
26 (18:27) by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
27 (18:28) Want U verlos die verdrukte volk; maar U verneder die oë wat hoog is.
28 (18:29) Want U laat my lamp skyn; die HERE my God laat my duisternis opklaar.
29 (18:30) Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.
30 (18:31) Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil.
31 (18:32) Want wie is God buiten die HERE, en wie is ‘n rots behalwe onse God?
32 (18:33) God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak.
33 (18:34) Hy maak my voete soos dié van herte en laat my staan op my hoogtes.
34 (18:35) Hy leer my hande om oorlog te voer, sodat my arms ‘n koperboog span.
35 (18:36) Ook het U my die skild van u uitredding gegee, en u regterhand het my ondersteun, en u neerbuigende goedheid het my groot gemaak.
36 (18:37) U het my voetstap ruim gemaak onder my, en my enkels het nie gewankel nie.
37 (18:38) Ek het my vyande agtervolg en hulle ingehaal, en ek het nie teruggekom voordat ek hulle vernietig het nie.
38 (18:39) Ek het hulle verbrysel, sodat hulle nie kon opstaan nie; hulle het geval onder my voete.
39 (18:40) En U het my met krag omgord vir die stryd; U het my teëstanders onder my laat buk.
40 (18:41) En U het my vyande vir my laat vlug; en my haters, dié het ek vernietig.
41 (18:42) Hulle het geroep om hulp, maar daar was geen verlosser nie—tot die HERE, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.
42 (18:43) Toe het ek hulle vermaal soos stof voor die wind; ek het hulle uitgegooi soos modder van die strate.
43 (18:44) U het my gered uit die getwis van die volk; U het my ‘n hoof gemaak van nasies; ‘n volk wat ek nie geken het nie, het my gedien.
44 (18:45) Sodra hulle van my gehoor het, was hulle my gehoorsaam, uitlanders het kruipende na my gekom.
45 (18:46) Uitlanders word kragteloos en kom met siddering uit hulle vestings.
46 (18:47) Die HERE leef! En geloofd sy my rots, en laat verhoog wees die God van my heil!
47 (18:48) Die God wat my die wraak gee en volke aan my onderwerp;
48 (18:49) wat my red van my vyande; ja, U verhef my bo my teëstanders; U bevry my van die man van geweld.
49 (18:50) Daarom wil ek U loof, o HERE, onder die nasies, en tot eer van u Naam wil ek psalmsing.
50 (18:51) Hy wat die verlossinge van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid.




Hoofstuk 19

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (19:2) Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.
2 (19:3) Die een dag stort vir die ander ‘n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan:
3 (19:4) daar is geen spraak en daar is geen woorde nie—onhoorbaar is hulle stem.
4 (19:5) Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. Vir die son het Hy daarin ‘n tent gemaak;
5 (19:6) en dié is soos ‘n bruidegom wat uitgaan uit sy slaapkamer; hy is bly soos ‘n held om die pad te loop.
6 (19:7) Sy uitgang is van die einde van die hemel af, en sy omloop tot by die eindes daarvan, en niks is verborge vir sy hitte nie.
7 (19:8) Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.
8 (19:9) Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.
9 (19:10) Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig.
10 (19:11) Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop.
11 (19:12) Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon.
12 (19:13) Die afdwalinge—wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is.
13 (19:14) Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding.
14 (19:15) Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!




Hoofstuk 20

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (20:2) Mag die HERE u verhoor in die dag van benoudheid! Mag die Naam van die God van Jakob u beskerm!
2 (20:3) Mag Hy u hulp stuur uit die heiligdom en u ondersteun uit Sion!
3 (20:4) Mag Hy dink aan al u spysoffers en u brandoffer met welgevalle aansien! Sela.
4 (20:5) Mag Hy u gee na u hart en al u voornemens vervul!
5 (20:6) Ons wil juig oor u oorwinning en die vaandels opsteek in die Naam van onse God. Mag die HERE al u begeertes vervul!
6 (20:7) Nou weet ek dat die HERE sy gesalfde verlos; Hy sal hom verhoor uit sy heilige hemel met magtige dade van verlossing van sy regterhand.
7 (20:8) Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God.
8 (20:9) Húlle het inmekaargesak en geval, maar óns het opgestaan en ons weer opgerig.
9 (20:10) HERE, verlos die koning! Mag Hy ons verhoor op die dag as ons roep!




Hoofstuk 21

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (21:2) o HERE, die koning is bly oor u sterkte, en hoe baie juig hy oor u hulp!
2 (21:3) U het hom die wens van sy hart gegee en die begeerte van sy lippe nie geweier nie. Sela.
3 (21:4) Want U kom hom tegemoet met seëninge van die goeie; op sy hoof sit U ‘n kroon van fyn goud.
4 (21:5) Die lewe het hy van U begeer; U het hom dit gegee: lengte van dae, vir ewig en altyd.
5 (21:6) Groot is sy eer deur u hulp; majesteit en heerlikheid het U op hom gelê.
6 (21:7) Want U maak hom baie geseënd vir ewig; U maak hom bly met vreugde by u aangesig.
7 (21:8) Want die koning vertrou op die HERE, en deur die goedertierenheid van die Allerhoogste sal hy nie wankel nie.
8 (21:9) U hand sal al u vyande vind; u regterhand sal u haters vind.
9 (21:10) U sal hulle maak soos ‘n vurige oond as U verskyn; die HERE sal hulle verslind in sy toorn, en vuur sal hulle verteer.
10 (21:11) U sal hulle vrug van die aarde af verdelg en hulle nageslag van die mensekinders af weg.
11 (21:12) Want hulle het U met onheil bedreig; hulle het ‘n listige plan uitgedink sonder om iets uit te rig.
12 (21:13) Want U sal hulle dwing om te vlug; met u boogsnare sal u mik op hulle gesig.
13 (21:14) Verhef U, HERE, in u sterkte; ons wil u heldekrag eer met psalmgesang!




Hoofstuk 22

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die hert van die dageraad." ‘n Psalm van Dawid. (22:2) My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?
2 (22:3) My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie.
3 (22:4) Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!
4 (22:5) Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered.
5 (22:6) Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie.
6 (22:7) Maar ek is ‘n wurm en geen man nie, ‘n smaad van die mense en verag deur die volk.
7 (22:8) Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:
8 (22:9) Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom!
9 (22:10) Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors.
10 (22:11) Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.
11 (22:12) Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie.
12 (22:13) Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring.
13 (22:14) Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ‘n leeu wat verskeur en brul.
14 (22:15) Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande.
15 (22:16) My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.
16 (22:17) Want honde het my omsingel; ‘n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.
17 (22:18) Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!
18 (22:19) Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.
19 (22:20) Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help!
20 (22:21) Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond.
21 (22:22) Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor!
22 (22:23) Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.
23 (22:24) Julle wat die HERE vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel!
24 (22:25) Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.
25 (22:26) Van U kom my lof in ‘n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.
26 (22:27) Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe!
27 (22:28) Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.
28 (22:29) Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.
29 (22:30) Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie.
30 (22:31) ‘n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.
31 (22:32) Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.




Hoofstuk 23

1 ‘n Psalm van Dawid. Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.
2 Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.
3 Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
4 Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.
5 U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.
6 Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.




Hoofstuk 24

1 ‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;
2 want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.
3 Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek?
4 Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.
5 Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.
6 Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek—dit is Jakob. Sela.
7 Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
8 Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd.
9 Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
10 Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare—Hy is die Erekoning! Sela.




Hoofstuk 25

1 ‘n Psalm van Dawid. Alef. Tot U, o HERE, hef ek my siel op.
2 Bet. My God, op U vertrou ek; laat my nie beskaamd staan nie; laat my vyande oor my nie juig nie.
3 Gimel. Ja, almal wat U verwag, sal nie beskaamd staan nie. Hulle sal beskaamd staan wat troueloos handel sonder oorsaak.
4 Dalet. HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie.
5 He. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.
6 Sajin. Dink, HERE, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dié is van ewigheid af.
7 Get. Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!
8 Tet. Die HERE is goed en reg; daarom sal Hy sondaars leer aangaande die weg.
9 Jod. Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer.
10 Kaf. Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar.
11 Lamed. Om u Naam ontwil, HERE, vergeef my ongeregtigheid, want dit is groot.
12 Mem. Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies.
13 Noen. Hy self sal vernag in die goeie, en sy nageslag sal die land besit.
14 Samek. Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.
15 Ajin. My oë is altyddeur op die HERE, want Hy sal my voete uit die net uitlei.
16 Pe. Wend U tot my en wees my genadig, want ek is eensaam en ellendig.
17 Sade. Die benoudhede van my hart is wyd uitgestrek; lei my uit my angste.
18 Resj. Aanskou my ellende en my moeite, en vergeef al my sondes.
19 Resj. Aanskou my vyande, want hulle is talryk, en hulle haat my met ‘n gewelddadige haat.
20 Sjin. Bewaar my siel en red my; laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek.
21 Tau. Laat vroomheid en opregtheid my bewaar, want U verwag ek.
22 o God, verlos Israel uit al sy benoudhede!




Hoofstuk 26

1 ‘n Psalm van Dawid. Doen aan my reg, o HERE, want ék wandel in my opregtheid en vertrou op die HERE sonder om te wankel.
2 Toets my, HERE, en beproef my, keur my niere en my hart;
3 want u goedertierenheid is voor my oë, en ek wandel in u waarheid.
4 Ek sit nie by valse mense nie, en met slinkse mense gaan ek nie om nie.
5 Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie.
6 Ek was my hande in onskuld en wil gaan rondom u altaar, o HERE,
7 om die stem van lof te laat hoor en om al u wonders te vertel.
8 HERE, ek het lief die woning van u huis en die woonplek van u heerlikheid.
9 Ruk my siel nie weg saam met die sondaars en my lewe saam met die manne van bloed nie,
10 in wie se hande skandelike dade is, en wie se regterhand vol is van omkopery.
11 Maar ék wandel in my opregtheid; verlos my en wees my genadig.
12 My voet staan op gelyk grond; ek sal die HERE loof in die vergaderings.




Hoofstuk 27

1 ‘n Psalm van Dawid. Die HERE is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?
2 As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet—my teëstanders en my vyande, ja, myne—struikel hulle self en val.
3 Al word ‘n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ‘n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.
4 Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.
5 Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ‘n rots.
6 En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE.
7 Hoor, o HERE, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my.
8 Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o HERE!
9 Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil!
10 Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem.
11 HERE, leer my u weg en lei my op ‘n gelyk pad, vanweë my vyande.
12 Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas.
13 o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes nie….
14 Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!




Hoofstuk 28

1 ‘n Psalm van Dawid. Ek roep U aan, o HERE! My rots, draai nie stilswygend van my af weg nie, sodat ek nie, as U teenoor my bly swyg, word soos die wat in die kuil neerdaal nie.
2 Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van u heiligdom.
3 Ruk my nie weg saam met die goddelose en saam met die werkers van ongeregtigheid nie; wat van vrede spreek met hulle naaste, maar daar is kwaad in hulle hart.
4 Gee hulle na hul dade en na die boosheid van hul handelinge; gee hulle na die werk van hul hande; vergeld hulle na hulle dade.
5 Omdat hulle nie let op die dade van die HERE of op die werk van sy hande nie, sal Hy hulle afbreek en hulle nie bou nie.
6 Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor.
7 Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang.
8 Die HERE is ‘n sterkte vir hulle, en Hy is ‘n vesting van verlossing vir sy gesalfde.
9 Verlos u volk en seën u erfdeel, en wees vir hulle ‘n herder en dra hulle tot in ewigheid.




Hoofstuk 29

1 ‘n Psalm van Dawid. Gee aan die HERE, o hemelinge, gee aan die HERE eer en sterkte!
2 Gee aan die HERE die eer van sy Naam; aanbid die HERE in heilige sieraad!
3 Die stem van die HERE is op die waters, die God van eer donder; die HERE is op die groot waters.
4 Die stem van die HERE is met krag; die stem van die HERE is met heerlikheid.
5 Die stem van die HERE breek seders; ja, die HERE verbreek die seders van die Líbanon;
6 en Hy laat hulle opspring soos ‘n kalf, die Líbanon en Sirjon soos ‘n jong buffel.
7 Die stem van die HERE slaan daar vuurvlamme uit.
8 Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe.
9 Die stem van die HERE laat die takbokke lam en maak die bosse kaal; maar in sy paleis sê elkeen: Heerlikheid!
10 Die HERE het gesit oor die Watervloed; ja, die HERE sit as Koning tot in ewigheid.
11 Die HERE sal sy volk sterkte gee, die HERE sal sy volk seën met vrede.




Hoofstuk 30

1 ‘n Psalm, ‘n lied by die inwyding van die Huis. Van Dawid. (30:2) Ek sal U verhoog, HERE, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie.
2 (30:3) HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak.
3 (30:4) HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal.
4 (30:5) Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam;
5 (30:6) want ‘n oomblik is daar in sy toorn, ‘n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.
6 (30:7) Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie.
7 (30:8) HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg—ek het verskrik geword!
8 (30:9) Ek het U aangeroep, HERE, en ek het die HERE gesmeek:
9 (30:10) Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u trou verkondig?
10 (30:11) Hoor, HERE, en wees my genadig! HERE, wees my ‘n helper!
11 (30:12) U het my weeklag vir my verander in ‘n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord;
12 (30:13) sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof.




Hoofstuk 31

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (31:2) By U, o HERE, skuil ek; laat my nooit beskaamd staan nie. Bevry my deur u geregtigheid.
2 (31:3) Neig u oor tot my, red my gou; wees vir my ‘n rots om in te vlug, ‘n baie vaste huis om my te verlos.
3 (31:4) Want U is my rots en my bergvesting; en om u Naam ontwil sal U my lei en my bestuur.
4 (31:5) U sal my laat uitgaan uit die net wat hulle vir my gespan het, want U is my toevlug.
5 (31:6) In u hand gee ek my gees oor; U het my verlos, HERE, God van trou.
6 (31:7) Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ék vertrou op die HERE.
7 (31:8) Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het
8 (31:9) en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan.
9 (31:10) Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam.
10 (31:11) Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit.
11 (31:12) Vanweë al my teëstanders het ek ‘n voorwerp van smaad geword, ja, grootliks vir my bure, en ‘n voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af.
12 (31:13) Ek is vergeet uit die hart, soos ‘n dooie; ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan.
13 (31:14) Want ek het die skindertaal van baie gehoor—skrik rondom! —terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem.
14 (31:15) Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God.
15 (31:16) My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers.
16 (31:17) Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid.
17 (31:18) HERE, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk!
18 (31:19) Laat die valse lippe stom word wat in trotsheid en veragting onbeskaamd spreek teen die regverdige.
19 (31:20) o, Hoe groot is u goedheid wat U weggelê het vir die wat U vrees, wat U uitgewerk het vir die wat by U skuil, in teenwoordigheid van die mensekinders!
20 (31:21) U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ‘n hut vir die twis van die tonge.
21 (31:22) Geloofd sy die HERE, want Hy het sy goedertierenheid aan my wonderbaar gemaak, in ‘n vaste stad.
22 (31:23) Ek tog het in my angs gesê: Ek het verdwyn, weg van u oë; nogtans het U die stem van my smekinge gehoor toe ek U aangeroep het om hulp.
23 (31:24) Julle moet die HERE liefhê, al sy gunsgenote! Die HERE bewaar die getroues en vergeld hom oorvloedig wat trots handel.
24 (31:25) Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, almal wat op die HERE wag!




Hoofstuk 32

1 ‘n Psalm van Dawid; ‘n onderwysing. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.
2 Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.
3 Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag;
4 want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed. Sela.
5 My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela.
6 Daarom sal elke vrome U aanbid in ‘n tyd as U te vinde is; ja, by ‘n oorstroming van groot waters sal hulle nie aan hom raak nie.
7 U is ‘n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding. Sela.
8 Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.
9 Wees nie soos ‘n perd, soos ‘n muilesel wat geen verstand het nie, wat ‘n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.
10 Die goddelose het baie smarte, maar hy wat op die HERE vertrou—met goedertierenheid sal Hy hom omring.
11 Wees bly in die HERE en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!




Hoofstuk 33

1 o Regverdiges, jubel in die HERE! ‘n Loflied betaam die opregtes.
2 Loof die HERE met die siter; psalmsing tot sy eer met die tiensnarige harp.
3 Sing tot sy eer ‘n nuwe lied; speel goed met trompetgeklank.
4 Want die woord van die HERE is reg, en al sy werk is met trou.
5 Hy het geregtigheid en reg lief; die aarde is vol van die goedertierenheid van die HERE.
6 Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.
7 Hy versamel die waters van die see soos ‘n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers.
8 Laat die hele aarde vir die HERE vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees;
9 want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan.
10 Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke.
11 Die raad van die HERE bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.
12 Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.
13 Die HERE kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders.
14 Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde,
15 Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke.
16 ‘n Koning word nie verlos deur ‘n groot leër, ‘n held nie gered deur groot krag nie.
17 Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.
18 Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag;
19 om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood.
20 Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild;
21 want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou.
22 Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!




Hoofstuk 34

1 ‘n Psalm van Dawid, toe hy hom kranksinnig gehou het voor Abiméleg en dié hom weggejaag het, sodat hy heengegaan het. (34:2) Alef. Ek wil die HERE altyd loof; sy lof sal altyddeur in my mond wees.
2 (34:3) Bet. My siel sal hom beroem in die HERE; die ootmoediges sal dit hoor en bly wees.
3 (34:4) Gimel. Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef!
4 (34:5) Dalet. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered.
5 (34:6) He. Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie.
6 (34:7) Sajin. Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.
7 (34:8) Get. Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.
8 (34:9) Tet. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil!
9 (34:10) Jod. Vrees die HERE, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie.
10 (34:11) Kaf. Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die HERE soek, het geen gebrek aan enigiets nie.
11 (34:12) Lamed. Kom, kinders, luister na my; ek wil julle die vrees van die HERE leer.
12 (34:13) Mem. Wie is die man wat lus het in die lewe, wat dae liefhet om die goeie te sien?
13 (34:14) Noen. Bewaar jou tong vir wat verkeerd is, en jou lippe dat hulle nie bedrog spreek nie.
14 (34:15) Samek. Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na.
15 (34:16) Ajin. Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.
16 (34:17) Pe. Die aangesig van die HERE is teen die kwaaddoeners, om hulle gedagtenis van die aarde af uit te roei.
17 (34:18) Sade. Hulle roep, en die HERE hoor, en Hy red hulle uit al hul benoudhede.
18 (34:19) Kof. Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.
19 (34:20) Resj. Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom.
20 (34:21) Sjin. Hy bewaar al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie.
21 (34:22) Tau. Die onheil maak die goddelose dood; en die wat die regverdige haat, moet daarvoor boet.
22 (34:23) Die HERE verlos die siel van sy knegte; en almal wat by Hom skuil, hoef nie te boet nie.




Hoofstuk 35

1 ‘n Psalm van Dawid. HERE, twis met die wat met my twis; bestry die wat my bestry!
2 Gryp die klein skild en die grote, en staan op as my hulp!
3 En trek die spies uit en stuit my vervolgers! Spreek tot my siel: Ek is jou heil!
4 Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en in die skande kom; laat hulle wat my ongeluk beraam, agteruitwyk en rooi van skaamte word!
5 Laat hulle word soos kaf voor die wind, terwyl die Engel van die HERE hulle wegstoot.
6 Laat hulle weg duister en glibberig wees, terwyl die Engel van die HERE hulle vervolg!
7 Want hulle het sonder oorsaak die kuil met hul net vir my verberg, hulle het sonder oorsaak gegrawe teen my lewe.
8 Laat verwoesting oor hom kom sonder dat hy dit weet, en laat sy net hom vang wat hy gespan het; laat hom daarin val met verwoesting!
9 Maar my siel sal juig in die HERE, dit sal bly wees in sy heil.
10 Al my beendere sal sê: HERE, wie is soos U? U wat die ellendige red van die wat sterker is as hy; ja, die ellendige en behoeftige van sy berower!
11 Kwaadwillige getuies staan op; wat ek nie weet nie, vra hulle vir my.
12 Hulle vergeld my kwaad vir goed: verlatenheid vir my siel.
13 En ek—toe hulle siek was, het ek ‘n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem.
14 Ek het rondgegaan asof dit ‘n vriend, asof dit ‘n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur.
15 Maar as ek struikel, is hulle bly en kom bymekaar; hulle vergader teen my, lae mense en die wat ek nie ken nie; hulle laster sonder ophou.
16 Onder die roekeloosste tafelspotters kners hulle met hul tande teen my.
17 Here, hoe lank sal U dit aansien? Bring my siel terug van hulle verwoestinge, my enigste van die jong leeus af.
18 Ek sal U loof in ‘n groot vergadering; onder ‘n groot skare sal ek U prys.
19 Laat hulle oor my nie bly wees wat sonder grond my vyande is nie; laat die wat my sonder oorsaak haat, nie met die oë knip nie!
20 Want hulle spreek nie van vrede nie, maar hulle bedink bedrieglike woorde teen die stilles in die land.
21 En hulle maak hul mond wyd oop teen my, hulle sê: Ha, ha, ons oog het dit gesien!
22 HERE, U het dit gesien, swyg nie. Here, wees nie ver van my af nie!
23 Ontwaak en word wakker vir my reg; my God en Here, vir my regsaak.
24 Doen aan my reg na u geregtigheid, HERE my God, en laat hulle oor my nie bly wees nie!
25 Laat hulle in hul hart nie sê: Ha, ons begeerte! Laat hulle nie sê: Ons het hom verslind nie!
26 Laat hulle wat bly is oor my ongeluk, beskaamd staan en saam rooi van skaamte word; laat hulle wat hul teen my groot maak, met skaamte en skande beklee word!
27 Laat húlle jubel en bly wees wat ‘n behae het in my geregtigheid; en laat hulle altyddeur sê: Groot is die HERE wat ‘n welbehae het in die vrede van sy kneg!
28 En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur.




Hoofstuk 36

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid, die kneg van die Here. (36:2) In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie.
2 (36:3) Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld.
3 (36:4) Die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen.
4 (36:5) Hy bedink onreg op sy bed; hy gaan staan op ‘n weg wat nie goed is nie; wat sleg is, verfoei hy nie.
5 (36:6) o HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke.
6 (36:7) U geregtigheid is soos die berge van God; u oordele is ‘n groot watervloed. HERE, U behou mense en diere!
7 (36:8) Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! Daarom skuil die mensekinders onder die skaduwee van u vleuels.
8 (36:9) Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge.
9 (36:10) Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.
10 (36:11) Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat U ken, en u geregtigheid vir die opregtes van hart.
11 (36:12) Laat die voet van die trotsaard nie oor my kom nie, en laat die hand van die goddelose mense my nie verdryf nie.
12 (36:13) Daar het die werkers van ongeregtigheid geval; hulle is neergestoot en kan nie weer opstaan nie.




Hoofstuk 37

1 ‘n Psalm van Dawid. Alef. Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie;
2 want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog.
3 Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid,
4 en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.
5 Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer;
6 en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag.
7 Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.
8 He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig.
9 Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.
10 Wau. En nog ‘n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie.
11 Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.
12 Sajin. Die goddelose bedink listige planne teen die regverdige en kners met sy tande teen hom.
13 Die Here lag oor hom, want Hy sien dat sy dag kom.
14 Get. Die goddelose het die swaard getrek en hulle boog gespan om die ellendige en behoeftige te laat val, om dié te slag wat opreg is van weg.
15 Hulle swaard sal in hul hart gaan, en hulle boë sal verbreek word.
16 Tet. ‘n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose;
17 want die arms van die goddelose sal verbreek word, maar die HERE ondersteun die regverdiges.
18 Jod. Die HERE ken die dae van die opregtes, en hulle erfdeel sal tot in ewigheid bly.
19 Hulle sal nie beskaamd staan in die slegte tyd nie, en in dae van hongersnood sal hulle versadig word.
20 Kaf. Maar die goddelose sal omkom en die vyande van die HERE soos die prag van die weivelde; hulle verdwyn soos rook, hulle verdwyn.
21 Lamed. Die goddelose leen en gee nie terug nie, maar die regverdige ontferm hom en gee;
22 want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde besit; maar die wat deur Hom vervloek word, sal uitgeroei word.
23 Mem. Deur die HERE word die gange van ‘n man bevestig, en Hy het ‘n welbehae in sy weg.
24 As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand.
25 Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.
26 Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is ‘n seën.
27 Samek. Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon;
28 want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei.
29 Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.
30 Pe. Die mond van die regverdige verkondig wysheid, en sy tong spreek wat reg is.
31 Die wet van sy God is in sy hart; sy gange sal nie wankel nie.
32 Sade. Die goddelose loer op die regverdige en soek om hom dood te maak.
33 Die HERE gee hom nie oor in sy hand nie, en Hy veroordeel hom nie as hy gerig word nie.
34 Kof. Wag op die HERE en hou sy weg, en Hy sal jou verhoog, om die aarde te besit; jy sal met welgevalle neersien op die uitroeiing van die goddelose mense.
35 Resj. Ek het die goddelose gesien, ‘n geweldenaar, terwyl hy hom uitbrei soos ‘n groen inlandse boom.
36 Toe gaan iemand verby, en kyk, hy was daar nie; en ek het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.
37 Sjin. Let op die vrome en kyk na die opregte, want daar is ‘n toekoms vir die man van vrede.
38 Maar die oortreders word tesame verdelg; die toekoms van die goddelose word afgesny.
39 Tau. Maar die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid.
40 En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.




Hoofstuk 38

1 ‘n Psalm van Dawid, by die gedenkoffer. (38:2) o HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie.
2 (38:3) Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal.
3 (38:4) Daar is geen heel plek in my vlees vanweë u grimmigheid nie; daar is niks gesond in my gebeente vanweë my sonde nie.
4 (38:5) Want my ongeregtighede gaan oor my hoof; soos ‘n swaar pak het hulle vir my te swaar geword.
5 (38:6) My wonde stink, hulle dra vanweë my dwaasheid.
6 (38:7) Ek is krom, heeltemal geboë; die hele dag gaan ek in die rou;
7 (38:8) want my lendene is vol ontsteking, en daar is geen heel plek in my vlees nie.
8 (38:9) Ek is kragteloos en heeltemal verbrysel; ek brul van die gebons van my hart.
9 (38:10) Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie.
10 (38:11) My hart slaan vinnig, my krag het my verlaat; en die lig van my oë, ook dit is nie by my nie.
11 (38:12) Die wat my liefhet en my vriende is, staan opsy vir my kwaal, en my nabestaandes het ver gaan staan;
12 (38:13) en die wat my lewe soek, span strikke; en die wat my ongeluk soek, spreek van ondergang, en hulle bedink die hele dag bedrog.
13 (38:14) Maar ek is soos ‘n dowe: ek hoor nie, en soos ‘n stomme wat sy mond nie oopmaak nie.
14 (38:15) Ja, ek is soos ‘n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen teëspraak is nie;
15 (38:16) want op U, HERE, wag ek; U sal verhoor, Here my God!
16 (38:17) Want ek het gesê: Laat hulle net nie bly wees oor my nie! Hulle wat by die wankeling van my voet hul groot maak teen my!
17 (38:18) Want ek is klaar om te val, en my smart is altyddeur voor my.
18 (38:19) Ja, my ongeregtigheid bely ek, ek is bekommerd oor my sonde.
19 (38:20) Maar my vyande lewe, hulle is magtig; en die wat my valslik haat, is groot in aantal.
20 (38:21) En die wat kwaad vir goed vergeld, behandel my vyandig, omdat ek die goeie najaag.
21 (38:22) Verlaat my nie, o HERE! My God, wees nie ver van my af nie!
22 (38:23) Maak tog gou om my te help, Here, my heil!




Hoofstuk 39

1 Vir die musiekleier; vir Jedútun. ‘n Psalm van Dawid. (39:2) Ek het gesê: Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie; ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose nog voor my is.
2 (39:3) Ek was stom in stilte, ek het geswyg, ver van die goeie af; maar my smart is aangewakker.
3 (39:4) My hart het warm geword in my binneste; ‘n vuur het ontvlam by my gesug; ek het gespreek met my tong:
4 (39:5) HERE, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is.
5 (39:6) Kyk, U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid staan elke mens daar! Sela.
6 (39:7) Waarlik, die mens wandel as skadubeeld rond; ja, hulle woel verniet; hulle stapel op en weet nie wie dit sal insamel nie.
7 (39:8) En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U.
8 (39:9) Red my van al my oortredinge; maak my nie ‘n smaad van die dwaas nie.
9 (39:10) Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen.
10 (39:11) Neem u plaag van my weg; ek vergaan vanweë die bestryding van u hand.
11 (39:12) Tugtig U die mens met strawwe oor die ongeregtigheid, dan laat U sy skoonheid vergaan soos deur ‘n mot; ja, elke mens is ‘n asemtog! Sela.
12 (39:13) Hoor, HERE, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie; want ek is ‘n vreemdeling by U, ‘n bywoner soos al my vaders.
13 (39:14) Wend u oog van my af, dat ek vrolik kan word voordat ek heengaan en daar nie meer is nie.




Hoofstuk 40

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (40:2) Ek het die HERE lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor;
2 (40:3) en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ‘n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak.
3 (40:4) En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou.
4 (40:5) Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die HERE stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuendienaars nie.
5 (40:6) Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel.
6 (40:7) U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie.
7 (40:8) Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe.
8 (40:9) Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.
9 (40:10) Ek het ‘n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie. HERE, U weet dit.
10 (40:11) U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; van u trou en u heil spreek ek; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie.
11 (40:12) U, o HERE, sal u barmhartighede van my nie terughou nie; laat u goedertierenheid en u trou my altyddeur behoed.
12 (40:13) Want onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede het my ingehaal, en ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof, en my hart het my verlaat.
13 (40:14) Laat dit U behaag, HERE, om my te red; HERE, maak tog gou om my te help!
14 (40:15) Laat hulle wat my lewe soek, om dit weg te ruk, tesame beskaamd staan en rooi van skaamte word; laat hulle wat behae het in my onheil, agteruitwyk en in die skande kom.
15 (40:16) Laat hulle wat vir my sê: Ha, ha! vanweë hul beskaming verskrik wees!
16 (40:17) Laat almal wat U soek, in U vrolik en bly wees; laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is die HERE!
17 (40:18) Al is ek ellendig en behoeftig—die Here dink aan my; U is my hulp en my redder; my God, vertoef tog nie!




Hoofstuk 41

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (41:2) Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.
2 (41:3) Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie.
3 (41:4) Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.
4 (41:5) Ék het gesê: o HERE, wees my genadig! Genees my, want ek het teen U gesondig.
5 (41:6) My vyande spreek kwaad van my en sê: Wanneer sal hy sterwe en sy naam vergaan?
6 (41:7) En as iemand kom om my te sien, dan praat hy leuens; sy hart vergader boosheid vir hom; gaan hy uit na buite, dan spreek hy daarvan.
7 (41:8) Al my haters tesame fluister onder mekaar teen my; teen my bedink hulle my onheil en sê:
8 (41:9) Iets skandeliks is op hom uitgestort; en nou dat hy lê, sal hy nie weer opstaan nie.
9 (41:10) Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig.
10 (41:11) Maar U, o HERE, wees my genadig en rig my op, dat ek hulle dit kan vergelde!
11 (41:12) Hieraan weet ek dat U ‘n welbehae in my het: dat my vyand oor my nie juig nie.
12 (41:13) My tog, in my opregtheid ondersteun U my, en stel my voor u aangesig tot in ewigheid.
13 (41:14) Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot in ewigheid! Amen, ja amen.




Hoofstuk 42

1 Vir die musiekleier. ‘n Onderwysing van die kinders van Korag. (42:2) Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!
2 (42:3) My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn?
3 (42:4) My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
4 (42:5) Hieraan wil ek dink en my siel uitstort in my: hoe ek gewoond was om voort te trek met die skare, hulle gelei het na die huis van God, met die stem van jubel en lof—’n feesvierende menigte!
5 (42:6) Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof—die verlossing van sy aangesig!
6 (42:7) o My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan en die Hermons, van die klein gebergte af.
7 (42:8) Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.
8 (42:9) Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, ‘n gebed tot die God van my lewe.
9 (42:10) Ek wil spreek tot God: My rots, waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking?
10 (42:11) Met ‘n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
11 (42:12) Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof—die verlossing van my aangesig en my God!




Hoofstuk 43

1 Doen aan my reg, o God, en verdedig my regsaak teen ‘n onbarmhartige volk; red my van die man van bedrog en onreg!
2 Want U is die God van my toevlug; waarom verstoot U my dan? Waarom moet ek rondgaan in rougewaad deur die vyand se verdrukking?
3 Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge,
4 dat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God van my jubelende blydskap en U kan loof met die siter, o God, my God!
5 Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof—die verlossing van my aangesig en my God!




Hoofstuk 44

1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. ‘n Onderwysing. (44:2) o God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd.
2 (44:3) U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant; U het volke kwaad aangedoen, hulle daarenteen laat uitspruit.
3 (44:4) Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ‘n welbehae in hulle gehad het.
4 (44:5) U self is my Koning, o God! Gebied die oorwinninge van Jakob.
5 (44:6) Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan.
6 (44:7) Want ek vertrou nie op my boog nie, en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie;
7 (44:8) maar U het ons verlos van ons teëstanders en ons haters beskaamd gemaak.
8 (44:9) In God roem ons die hele dag, en u Naam sal ons loof tot in ewigheid. Sela.
9 (44:10) En tog het U ons verstoot en tot skande gemaak, en U trek nie saam met ons leërs uit nie.
10 (44:11) U laat ons agteruitwyk vir die teëstander, en ons haters plunder na hartelus.
11 (44:12) U gee ons oor soos slagvee, en U het ons onder die nasies verstrooi.
12 (44:13) U verkoop u volk vir niks en het nie baie verdien deur hulle koopprys nie.
13 (44:14) U maak ons ‘n smaad vir ons bure, ‘n spot en beskimping vir die wat rondom ons is.
14 (44:15) U maak ons ‘n spreekwoord onder die nasies, ‘n hoofskudding onder die volke.
15 (44:16) My skande is die hele dag voor my, en die skaamte van my aangesig oordek my;
16 (44:17) weens die stem van die smader en lasteraar, weens die blik van die vyand en wraakgierige.
17 (44:18) Dit alles het oor ons gekom, en tog het ons U nie vergeet en nie bedrieglik gehandel teen u verbond nie.
18 (44:19) Ons hart het nie agteruitgewyk nie, en ons gange het van u pad nie afgebuig nie,
19 (44:20) alhoewel U ons verbrysel het in ‘n plek van jakkalse en ons met ‘n doodskaduwee oordek.
20 (44:21) As ons die Naam van onse God vergeet het en ons hande uitgebrei het na ‘n vreemde god—
21 (44:22) sou God dit nie naspeur nie? Want Hy ken die geheime van die hart.
22 (44:23) Maar om U ontwil word ons die hele dag gedood; ons word gereken as slagskape.
23 (44:24) Ontwaak! Waarom slaap U, Here? Word tog wakker! Verstoot nie vir ewig nie!
24 (44:25) Waarom verberg U u aangesig, vergeet U ons ellende en ons verdrukking?
25 (44:26) Want ons siel is in die stof neergebuig; ons buik kleef aan die aarde.
26 (44:27) Staan op tot ons hulp en verlos ons om u goedertierenheid ontwil!




Hoofstuk 45

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies." Van die kinders van Korag. ‘n Onderwysing. ‘n Lied van die liefde. (45:2) My hart word bewoë deur goeie woorde; ek dra my gedigte voor aangaande ‘n Koning; my tong is die pen van ‘n vaardige skrywer.
2 (45:3) U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig.
3 (45:4) Gord u swaard aan die heup, o held, u majesteit en u heerlikheid;
4 (45:5) ja, u heerlikheid! Ry voorspoedig ter wille van waarheid en ootmoed en geregtigheid; en laat u regterhand U vreeslike dinge leer!
5 (45:6) U pyle is skerp (volke val onder U!); hulle tref in die hart van die Koning se vyande.
6 (45:7) U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ‘n regverdige septer.
7 (45:8) U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.
8 (45:9) Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly.
9 (45:10) Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir.
10 (45:11) Hoor, o dogter, en kyk en neig u oor, en vergeet u volk en die huis van u vader;
11 (45:12) en as die Koning u skoonheid begeer—want Hy is u Heer—buig u dan voor Hom neer.
12 (45:13) En, o dogter van Tirus—met geskenke sal hulle u guns soek, ja, die rykstes van die mense.
13 (45:14) Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding.
14 (45:15) In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring.
15 (45:16) Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in.
16 (45:17) In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land.
17 (45:18) U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loof vir ewig en altyd.




Hoofstuk 46

1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. Met sopraanstemme. ‘n Lied. (46:2) God is vir ons ‘n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.
2 (46:3) Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see.
3 (46:4) Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela.
4 (46:5) Die stroompies van ‘n rivier maak die Godstad bly, die heiligste van die woninge van die Allerhoogste.
5 (46:6) God is daar binne-in, dit sal nie wankel nie; God sal dit help as die dag aanbreek.
6 (46:7) Nasies het gebruis, koninkryke het gewankel; Hy het sy stem verhef; die aarde bewe.
7 (46:8) Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons. Sela.
8 (46:9) Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring,
9 (46:10) wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand.
10 (46:11) Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.
11 (46:12) Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ‘n rotsvesting vir ons. Sela.




Hoofstuk 47

1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. ‘n Psalm. (47:2) Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met ‘n stem van gejubel!
2 (47:3) Want die HERE, die Allerhoogste, is gedug, ‘n groot Koning oor die hele aarde.
3 (47:4) Hy bring volke onder ons en nasies onder ons voete.
4 (47:5) Hy kies ons erfdeel vir ons uit, die trots van Jakob wat Hy liefhet. Sela.
5 (47:6) God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank.
6 (47:7) Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing!
7 (47:8) Want God is Koning van die hele aarde; psalmsing met ‘n onderwysing.
8 (47:9) God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon.
9 (47:10) Die edeles van die volke het vergader—’n volk van die God van Abraham; want aan God behoort die skilde van die aarde. Hoog verhewe is Hy!




Hoofstuk 48

1 ‘n Lied. ‘n Psalm van die kinders van Korag. (48:2) Die HERE is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg!
2 (48:3) Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning!
3 (48:4) God het Hom in sy paleise bekend gemaak as ‘n rotsvesting.
4 (48:5) Want kyk, die konings het bymekaargekom, tesame opgetrek.
5 (48:6) Skaars het hulle dit gesien, of hulle het verstom, verskrik geword, in angs weggevlug.
6 (48:7) Bewing het hulle daar aangegryp, smart soos van een wat baar.
7 (48:8) Deur die oostewind verbreek U die skepe van Tarsis.
8 (48:9) Soos ons gehoor het, so het ons gesien in die stad van die HERE van die leërskare, in die stad van onse God: God sal dit bevestig tot in ewigheid. Sela.
9 (48:10) o God, ons dink aan u goedertierenheid binne-in u tempel.
10 (48:11) Soos u Naam, o God, so is u roem tot die eindes van die aarde toe; u regterhand is vol geregtigheid.
11 (48:12) Laat die berg Sion bly wees, laat die dogters van Juda juig oor u oordele.
12 (48:13) Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings;
13 (48:14) let op sy skanse, wandel deur sy paleise, sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel,
14 (48:15) dat hierdie God onse God is, vir ewig en altyd; Hy sal ons lei tot die dood toe.




Hoofstuk 49

1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. ‘n Psalm. (49:2) Hoor dit, alle volke, luister, alle bewoners van die wêreld,
2 (49:3) geringes sowel as aansienlikes, tesame ryk en arm!
3 (49:4) My mond sal louter wysheid spreek, en die oordenking van my hart is net verstand.
4 (49:5) Ek sal my oor neig tot ‘n spreuk; ek sal my raaisel verklaar by die siter.
5 (49:6) Waarom sou ek vrees in dae van onheil, as die ongeregtigheid van my onderkruipers my omring—
6 (49:7) die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom?
7 (49:8) Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie
8 (49:9) (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend),
9 (49:10) dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.
10 (49:11) Want hy sien: wyse manne sterwe, die dwaas en die onverstandige kom tesame om en laat hulle vermoë aan ander na.
11 (49:12) Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name.
12 (49:13) Maar die mens wat in aansien is, hou nie stand nie; hy is soos die diere wat vergaan.
13 (49:14) Dit is die weg van die wat op hulleself vertrou, en van hulle volgelinge wat in hul woorde ‘n behae het. Sela.
14 (49:15) Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie.
15 (49:16) Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem. Sela.
16 (49:17) Wees nie bevrees as ‘n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie;
17 (49:18) want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie.
18 (49:19) Al ag hy homself gelukkig in sy lewe—en prys hulle jou, omdat jy aan jouself goed doen—
19 (49:20) tog gaan sy siel na die geslag van sy vaders; tot in ewigheid sal hulle die lig nie sien nie.
20 (49:21) Die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan.




Hoofstuk 50

1 ‘n Psalm van Asaf. Die God van die gode, die HERE, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe.
2 Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans.
3 Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.
4 Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel:
5 Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit!
6 En—die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel! Sela.
7 Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God!
8 Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My.
9 Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie;
10 want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende.
11 Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My.
12 As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.
13 Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink?
14 Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste;
15 en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.
16 Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond—
17 terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp?
18 As jy ‘n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers.
19 Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog.
20 Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy.
21 Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.
22 Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie.
23 Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.




Hoofstuk 51

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid, (51:2) toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. (51:3) Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.
2 (51:4) Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.
3 (51:5) Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.
4 (51:6) Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
5 (51:7) Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
6 (51:8) Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.
7 (51:9) Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
8 (51:10) Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het.
9 (51:11) Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede.
10 (51:12) Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.
11 (51:13) Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
12 (51:14) Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees.
13 (51:15) Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer.
14 (51:16) Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.
15 (51:17) Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig.
16 (51:18) Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie.
17 (51:19) Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!
18 (51:20) Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op.
19 (51:21) Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.




Hoofstuk 52

1 Vir die musiekleier. ‘n Onderwysing van Dawid. (52:2) toe Doëg, die Edomiet, gekom het en aan Saul te kenne gegee en aan hom gesê het: Dawid het in die huis van Ahiméleg ingegaan. (52:3) Wat beroem jy jou in die kwaad, o geweldige? Die goedertierenheid van God duur die hele dag!
2 (52:4) Jou tong beraam onheil, soos ‘n geslypte skeermes, o werker van bedrog!
3 (52:5) Jy hou meer van kwaad as van goed, van die leuen meer as om geregtigheid te spreek. Sela.
4 (52:6) Jy hou net van woorde wat verslind, o bedrieglike tong!
5 (52:7) So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes. Sela.
6 (52:8) En die regverdiges sal dit sien en vrees; en hulle sal oor hom lag en sê:
7 (52:9) Kyk, die man wat God nie tot sy toevlug gemaak het nie, maar vertrou het op die grootheid van sy rykdom, sterk was in sy begeerlikheid!
8 (52:10) Maar ek sal wees soos ‘n groen olyfboom in die huis van God; ek vertrou op die goedertierenheid van God vir ewig en altyd.
9 (52:11) Vir ewig sal ek U loof, omdat U dit gedoen het; en ek sal u Naam verwag, want dié is goed, in teenwoordigheid van u gunsgenote.




Hoofstuk 53

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Máhalat." ‘n Onderwysing van Dawid. (53:2) Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie.
2 (53:3) God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra.
3 (53:4) Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie.
4 (53:5) Het die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep God nie aan nie.
5 (53:6) Dáár het skrik hulle oorweldig sonder dat daar skrik was; want God het die beendere verstrooi van hom wat jou beleër het; jy het hulle beskaamd gemaak, want God het hulle verwerp.
6 (53:7) Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As God die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees.




Hoofstuk 54

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Onderwysing van Dawid, (54:2) toe die Sifiete gekom en aan Saul gesê het: Het Dawid hom nie by ons weggesteek nie? (54:3) o God, verlos my deur u Naam, en doen aan my reg deur u mag!
2 (54:4) o God, hoor my gebed, luister na die woorde van my mond!
3 (54:5) Want vreemdes staan teen my op, en tiranne soek my lewe; hulle stel God nie voor hul oë nie. Sela.
4 (54:6) Kyk, God is my helper. Dit is die Here wat my siel ondersteun.
5 (54:7) Hy sal my vyande die kwaad vergelde. Vernietig hulle in u trou!
6 (54:8) Vrywillig wil ek aan U offer; ek wil u Naam, o HERE, loof, want dié is goed;
7 (54:9) want dié het my uit alle benoudheid gered, en my oog het met welgevalle op my vyande neergesien.




Hoofstuk 55

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. n Onderwysing van Dawid. (55:2) o God, hoor my gebed en verberg U nie vir my smeking nie.
2 (55:3) Luister na my en verhoor my; in my onrus dwaal ek rond en is verward,
3 (55:4) weens die geroep van die vyand, weens die geraas van die goddelose; want hulle stort onreg op my af, en in toorn behandel hulle my as vyand.
4 (55:5) My hart krimp inmekaar in my binneste, en verskrikkinge van die dood het op my geval.
5 (55:6) Vrees en bewing kom oor my, en angs oordek my.
6 (55:7) Toe het ek gesê: Ag, had ek maar vlerke soos ‘n duif, dan sou ek wegvlieg en wegbly!
7 (55:8) Kyk, ek sou ver wegvlug; ek sou vernag in die woestyn! Sela.
8 (55:9) Gou sou ek vir my ‘n skuilplek soek teen die onstuimige wind, teen die storm.
9 (55:10) Verwar, Here, verdeel hulle spraak, want ek sien geweld en twis in die stad.
10 (55:11) Dag en nag omring hulle dit op sy mure, en binnekant is onreg en moeite.
11 (55:12) Wat onheil aanbring, is daarbinne, en verdrukking en bedrog wyk nie van sy markplein nie.
12 (55:13) Want dit is geen vyand wat my smaad nie, anders sou ek dit dra; dit is nie my hater wat hom teen my groot maak nie, anders sou ek my vir hom wegsteek;
13 (55:14) maar jy, ‘n man soos ek, my vriend en my vertroude!
14 (55:15) Ons wat innig met mekaar omgegaan het, in die huis van God gewandel het met die woelige skare.
15 (55:16) Laat die dood hulle oorval, laat hulle lewendig in die doderyk neerdaal; want boosheid is in hulle woning, in hulle binneste.
16 (55:17) Maar ek, ek roep God aan, en die HERE sal my verlos.
17 (55:18) Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem.
18 (55:19) Hy verlos my siel in vrede van die stryd teen my, want met menigtes is hulle teen my.
19 (55:20) God sal hoor en hulle antwoord; ja, Hy wat op die troon sit van lankal af, Sela; omdat by hulle geen verbetering is en hulle God nie vrees nie.
20 (55:21) Hy het sy hande uitgesteek teen die wat in vrede met hom geleef het; hy het sy verbond ontheilig.
21 (55:22) Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde.
22 (55:23) Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.
23 (55:24) Maar U, o God, sal hulle laat neerdaal in die put van vernietiging; manne van bloed en bedrog sal hulle dae nie tot op die helfte bring nie; maar ék vertrou op U.




Hoofstuk 56

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die Duif van die ver Terebinte." Van Dawid. ‘n Gedig, toe die Filistyne hom gevang het in Gat. (56:2) Wees my genadig, o God, want mense vertrap my; hy wat my beveg, verdruk my die hele dag.
2 (56:3) My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed.
3 (56:4) Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.
4 (56:5) Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?
5 (56:6) Die hele dag verdraai hulle my woorde; al hulle gedagtes is teen my, om kwaad te doen.
6 (56:7) Hulle val aan, lê en loer—hulle let op my hakskene net soos hulle op my lewe geloer het.
7 (56:8) Ondanks hul ongeregtigheid—sal hulle ontvlug? Werp volke neer in toorn, o God!
8 (56:9) U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?
9 (56:10) Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is.
10 (56:11) Deur God sal ek die woord prys; deur die HERE sal ek die woord prys.
11 (56:12) Ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan ‘n mens my doen?
12 (56:13) Op my, o God, rus geloftes aan U gedoen; lofoffers sal ek U betaal;
13 (56:14) want U het my siel gered van die dood—ja, my voete van struikeling—om te wandel voor die aangesig van God in die lig van die lewe.




Hoofstuk 57

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." Van Dawid. ‘n Gedig, toe hy vir Saul in die spelonk gevlug het. (57:2) Wees my genadig, o God, wees my genadig, want by U het my siel geskuil, en in die skaduwee van u vleuels sal ek skuil totdat die onheil verbygegaan het.
2 (57:3) Ek roep God, die Allerhoogste, aan, God wat dit vir my voleindig.
3 (57:4) Hy sal uit die hemel stuur en my verlos terwyl hy wat my vertrap, my smaadheid aandoen. Sela. God sal sy goedertierenheid en sy trou stuur.
4 (57:5) Ék moet onder leeus lê, wraakgieriges, mensekinders wie se tande spiese en pyle is, en wie se tong ‘n skerp swaard is.
5 (57:6) Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde!
6 (57:7) Hulle het ‘n net gespan vir my voetstappe, hulle het my siel neergebuig; hulle het ‘n kuil voor my gegrawe, hulle val daar binne-in. Sela.
7 (57:8) My hart is gerus, o God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing.
8 (57:9) Waak op, my eer! Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak!
9 (57:10) Ek wil U loof onder die volke, o Here, psalmsing tot u eer onder die nasies.
10 (57:11) Want u goedertierenheid is groot tot by die hemele en u trou tot by die wolke.
11 (57:12) Verhef U bo die hemele, o God, u heerlikheid bo die hele aarde!




Hoofstuk 58

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." Van Dawid. ‘n Gedig. (58:2) Spreek julle waarlik geregtigheid, o gode? Oordeel julle die mensekinders regverdig?
2 (58:3) Ja, julle bedryf ongeregtighede in die hart; julle weeg op aarde die geweld van julle hande af.
3 (58:4) Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af.
4 (58:5) Hulle het gif soos die gif van ‘n slang; soos ‘n dowe adder wat sy oor toestop,
5 (58:6) wat nie luister na die stem van die besweerders, van hom wat ervare is om met towerspreuke om te gaan nie.
6 (58:7) o God, verbreek hulle tande in hulle mond; slaan die tande van die jong leeus uit, o HERE!
7 (58:8) Laat hulle vergaan soos water wat wegloop; as hy sy pyle rig, laat hulle wees asof hulle stomp geword het.
8 (58:9) Laat hulle wees soos ‘n slak wat wegsmelt so ver as hy loop, soos ‘n misgeboorte wat die son nie gesien het nie.
9 (58:10) Voordat julle potte die doringtak gewaar word, sal Hy dit wegstorm, die rou vleis sowel as die vuurgloed.
10 (58:11) Die regverdige sal bly wees as hy die wraak sien; hy sal sy voete was in die bloed van die goddelose.
11 (58:12) En die mense sal sê: Gewis, daar is vrug vir die regverdige; gewis, daar is ‘n God wat op die aarde oordeel!




Hoofstuk 59

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." Van Dawid. ‘n Gedig, toe Saul gestuur het en hulle die huis laat bewaak het om hom dood te maak. (59:2) Red my van my vyande, o my God! Beskerm my teen my teëstanders!
2 (59:3) Red my van die werkers van ongeregtigheid, en verlos my van die manne van bloed!
3 (59:4) Want kyk, hulle lê en loer op my lewe; sterkes val my aan, sonder oortreding en sonder sonde van my kant, o HERE!
4 (59:5) Buiten my skuld hardloop hulle en maak hulle klaar. Ontwaak, my tegemoet, en kyk!
5 (59:6) Ja U, HERE, God van die leërskare, God van Israel, word wakker om oor al die heidene besoeking te doen; wees al die ongeregtige trouelose nie genadig nie! Sela.
6 (59:7) Elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad.
7 (59:8) Kyk, hulle smaal met hul mond; swaarde is op hulle lippe, want—wie sou dit hoor?
8 (59:9) Maar U, o HERE, lag oor hulle; U spot met al die heidene.
9 (59:10) My Sterkte, op U wil ek wag, want God is my rotsvesting.
10 (59:11) My genadige God sal my tegemoetkom; God sal my op my vyande laat neersien.
11 (59:12) Moet hulle nie ombring nie, sodat my volk dit nie vergeet nie: laat hulle rondswerwe deur u krag, en werp hulle neer, o Here, ons Skild!
12 (59:13) Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel.
13 (59:14) Vernietig hulle in grimmigheid, vernietig hulle, sodat hulle daar nie meer is nie; en laat hulle weet dat God heers in Jakob, tot by die eindes van die aarde! Sela.
14 (59:15) En elke aand kom hulle terug; hulle huil soos honde en dwaal deur die stad.
15 (59:16) Húlle swerwe rond om voedsel te soek; as hulle nie versadig word nie, vertoef hulle die hele nag.
16 (59:17) Maar ék sal sing van u sterkte en elke môre jubel oor u goedertierenheid, want U was ‘n rotsvesting vir my en ‘n toevlug in die dag toe ek benoud was.
17 (59:18) My Sterkte, tot u eer wil ek psalmsing, want God is my rotsvesting, my genadige God.




Hoofstuk 60

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die Lelie van die Getuienis." ‘n Gedig van Dawid, om te onderrig. (60:2) Toe hy oorlog gevoer het teen die Arameërs van Mesopotámië en die Arameërs van Soba, en Joab teruggekom en die Edomiete verslaan het in die Soutdal, twaalf duisend. (60:3) o God, U het ons verstoot, ons vanmekaar geskeur; U was toornig; herstel ons!
2 (60:4) U het die land laat bewe, dit gekloof; genees sy breuke, want dit wankel!
3 (60:5) U het u volk harde dinge laat sien; U het ons bedwelmende wyn laat drink.
4 (60:6) U het aan die wat u vrees, ‘n banier gegee, om te vlug vir die boog! Sela.
5 (60:7) Sodat u bemindes gered mag word; verlos deur u regterhand en verhoor ons!
6 (60:8) God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet.
7 (60:9) Gílead is myne en Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf.
8 (60:10) Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; jubel oor My, o Filistéa!
9 (60:11) Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom?
10 (60:12) Het U, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie.
11 (60:13) Verleen ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is ydelheid.
12 (60:14) In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.




Hoofstuk 61

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Psalm van Dawid. (61:2) o God, hoor my smeking, luister na my gebed!
2 (61:3) Van die einde van die aarde af roep ek U aan as my hart beswyk; lei my op ‘n rots wat vir my te hoog is.
3 (61:4) Want U het ‘n toevlug vir my geword, ‘n sterk toring teen die vyand.
4 (61:5) Ek wil in u tent vertoef vir ewig, in die skuilplek van u vleuels my verberg. Sela.
5 (61:6) Want U, o God, het my geloftes gehoor; U het die besitting gegee van die wat u Naam vrees.
6 (61:7) Mag U dae by die koning se dae byvoeg; mag sy jare wees soos van geslag tot geslag.
7 (61:8) Mag hy vir ewig voor die aangesig van God op die troon sit; beskik goedertierenheid en trou, dat dié hom bewaar.
8 (61:9) Só wil ek psalmsing tot eer van u Naam tot in ewigheid, om my geloftes te betaal, dag ná dag.




Hoofstuk 62

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Jedútun." ‘n Psalm van Dawid. (62:2) Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.
2 (62:3) Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie grootliks wankel nie.
3 (62:4) Hoe lank sal julle aanstorm op ‘n man, julle almal hom verbrysel soos ‘n muur wat oorhang, ‘n omgestote klipmuur?
4 (62:5) Ja, hulle hou raad om hom van sy hoogte af te stoot; hulle het behae in leuens; met hul mond seën hulle, maar met hul binneste vloek hulle. Sela.
5 (62:6) Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!
6 (62:7) Sekerlik, Hy is my rots en my heil, my rotsvesting; ek sal nie wankel nie.
7 (62:8) By God is my heil en my eer; die rots van my sterkte, my toevlug is in God.
8 (62:9) Vertrou op Hom altyd, o volk! Stort julle hart uit voor sy aangesig! God is ‘n toevlug vir ons. Sela.
9 (62:10) Ja, nietigheid is die mensekinders, leuens is die aansienlikes; in die weegskaal moet hulle opgaan, almal saam is hulle minder as nietigheid.
10 (62:11) Vertrou nie op verdrukking en bou geen ydele hoop op rowery nie; as die vermoë aangroei, sit daar die hart nie op nie!
11 (62:12) Een ding het God gespreek, twee is dit wat ek gehoor het: dat die sterkte aan God behoort,
12 (62:13) en aan U, o Here, behoort die goedertierenheid; want U vergeld elkeen na sy werk.




Hoofstuk 63

1 ‘n Psalm van Dawid, toe hy in die woestyn van Juda was. (63:2) o God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in ‘n dor en uitgedroogde land, sonder water.
2 (63:3) Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien.
3 (63:4) Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.
4 (63:5) Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.
5 (63:6) Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe
6 (63:7) as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins.
7 (63:8) Want U was ‘n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel.
8 (63:9) My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my.
9 (63:10) Maar húlle wat soek om my lewe te verderwe, hulle sal kom in die onderste plekke van die aarde.
10 (63:11) Hy sal oorgelewer word in die mag van die swaard; die deel van die jakkalse sal hulle word.
11 (63:12) Maar die koning sal bly wees in God; elkeen wat by Hom sweer, sal hom beroem; want die mond van die leuensprekers sal gestop word.




Hoofstuk 64

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (64:2) Hoor my stem, o God, in my klagte; bewaar my lewe vir die skrik van die vyand.
2 (64:3) Steek my weg vir die raad van die kwaaddoeners, vir die gewoel van die werkers van ongeregtigheid;
3 (64:4) wat hulle tong skerp maak soos ‘n swaard, hulle pyl rig—bitter woorde! —
4 (64:5) om in skuilplekke na die opregte te skiet; skielik skiet hulle hom en vrees nie.
5 (64:6) ‘n Listige plan stel hulle vir hul vas; hulle spreek af om strikke te span; hulle sê: Wie sal dit sien?
6 (64:7) Hulle versin ongeregtighede: Ons is gereed! ‘n Fyn uitgedinkte plan! Ja, ‘n man se binneste en onpeilbare hart!
7 (64:8) Maar God tref hulle met ‘n pyl, skielik is hulle wonde daar.
8 (64:9) En hulle tong laat hulle oor hulself struikel; almal wat hulle aansien, skud die hoof.
9 (64:10) En alle mense vrees en verkondig die werk van God en gee ag op wat Hy doen.
10 (64:11) Die regverdige sal bly wees in die HERE en by Hom skuil, en al die opregtes van hart sal hulle beroem.




Hoofstuk 65

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. ‘n Lied. (65:2) Aan U kom ‘n lofsang toe, o God, in Sion, en aan U moet die gelofte betaal word.
2 (65:3) o Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!
3 (65:4) Ongeregtige dinge het die oorhand oor my gehad, maar U versoen ons oortredinge.
4 (65:5) Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe. Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis.
5 (65:6) Vreeslike dinge antwoord U ons in geregtigheid, o God van ons heil, vertroue van al die eindes van die aarde en van die verste see!
6 (65:7) Wat die berge grondves deur u krag, wat omgord is met mag,
7 (65:8) wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die rumoer van die volke;
8 (65:9) sodat die bewoners van die eindes vrees vir u tekens; U laat die uitgange van die môre en die aand jubel.
9 (65:10) U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die land.
10 (65:11) U maak sy vore nat, sy kluite gelyk; deur reënbuie maak U dit week; U seën sy uitspruitsel.
11 (65:12) U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid.
12 (65:13) Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig.
13 (65:14) Die weivelde is bekleed met troppe kleinvee, en die dale is bedek met koring; hulle juig, ook sing hulle.




Hoofstuk 66

1 Vir die musiekleier. ‘n Lied. ‘n Psalm. Juig tot eer van God, o ganse aarde!
2 Besing die eer van sy Naam, maak heerlik sy lofsang!
3 Sê tot God: Hoe vreeslik is u werke! Deur die grootheid van u sterkte sal u vyande kruipende na U toe kom.
4 Laat die hele aarde U aanbid en psalmsing tot u eer; laat dit u Naam verhef in psalmgesang. Sela.
5 Kom en aanskou die dade van God, Hy wat gedug is in werking oor die mensekinders.
6 Hy het die see verander in droë land; hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar was ons bly in Hom.
7 Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela.
8 Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem—
9 wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.
10 Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos ‘n mens silwer louter.
11 U het ons in die net gebring, ‘n swaar las op ons heupe gelê.
12 U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.
13 Ek sal met brandoffers in u huis ingaan; ek sal U my geloftes betaal,
14 wat my lippe geuit en my mond uitgespreek het toe ek benoud was.
15 Brandoffers van vet diere sal ek U bring saam met offerrook van ramme; ek sal beeste saam met bokke berei. Sela.
16 Kom luister, en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het.
17 Ek het Hom aangeroep met my mond, en lofgesang was onder my tong.
18 As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.
19 Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed.
20 Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie!




Hoofstuk 67

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Psalm. ‘n Lied. (67:2) Mag God ons genadig wees en ons seën; mag Hy sy aangesig by ons laat skyn! Sela.
2 (67:3) Sodat die mense op aarde u weg kan ken, onder al die nasies u heil.
3 (67:4) Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof.
4 (67:5) Die nasies sal bly wees en jubel, omdat U die volke regverdig oordeel en die nasies op aarde lei. Sela.
5 (67:6) Die volke sal U loof, o God, die volke almal saam sal U loof.
6 (67:7) Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.
7 (67:8) God sal ons seën, en al die eindes van die aarde sal Hom vrees.




Hoofstuk 68

1 Vir die musiekleier. Van Dawid. ‘n Psalm. ‘n Lied. (68:2) God staan op, sy vyande raak verstrooid, en sy haters vlug voor sy aangesig weg!
2 (68:3) Soos rook verdryf word, verdryf U hulle; soos was smelt voor die vuur, vergaan die goddelose voor die aangesig van God.
3 (68:4) Maar die regverdiges is bly, hulle juig voor die aangesig van God, en hulle is vrolik met blydskap.
4 (68:5) Sing tot eer van God, psalmsing tot eer van sy Naam, vul die pad op vir Hom wat deur die woestynvlaktes ry: HERE is sy Naam; en jubel voor sy aangesig!
5 (68:6) ‘n Vader van die wese en ‘n regter van die weduwees is God in sy heilige woning.
6 (68:7) God laat die eensames woon in ‘n huisgesin, Hy lei die gevangenes uit in voorspoed; maar die wederstrewiges woon in ‘n dor land.
7 (68:8) o God, toe U uitgetrek het voor u volk, toe U voortgestap het in die wildernis, Sela,
8 (68:9) het die aarde gebewe! Ook het die hemele gedrup voor die aangesig van God; hierdie Sinai voor die aangesig van God, die God van Israel!
9 (68:10) Met ‘n milde reën het U, o God, u erfdeel besproei; en toe dit moeg was, het U dit versterk.
10 (68:11) U skare het daarin gewoon; U het dit in u goedheid berei vir die ellendige, o God!
11 (68:12) Die Here het die woord laat hoor—die vroue wat die goeie tyding gebring het, was ‘n groot skare:
12 (68:13) Die konings van die leërskare vlug, hulle vlug; en sy wat tuis gebly het, verdeel die buit.
13 (68:14) As julle daar lê tussen die veekrale, is die vlerke van die duif oordek met silwer en sy vleuels met liggroen goud.
14 (68:15) Toe die Almagtige konings daarin verstrooi het, het dit gesneeu op Salmon.
15 (68:16) ‘n Berg van God is die berg Basan, ‘n berg met toppe is die berg Basan.
16 (68:17) Waarom kyk julle afgunstig, o berge met toppe, na die berg wat God begeer het vir sy woning? Ja, die HERE sal daar woon tot in ewigheid.
17 (68:18) Die waens van God is tien duisende, duisend maal duisende; die Here is onder hulle; dit is Sinai in heiligheid.
18 (68:19) U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense; ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o HERE God!
19 (68:20) Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons; God is ons heil! Sela.
20 (68:21) God is vir ons ‘n God van verlossinge, en die HERE Here het uitkomste teen die dood.
21 (68:22) Gewis, God sal die kop van sy vyande verbrysel, die harige skedel van hom wat in sy sondeskuld rondwandel.
22 (68:23) Die Here het gesê: Ek sal terugbring uit Basan, Ek sal terugbring uit die dieptes van die see;
23 (68:24) sodat jy jou voet kan steek in bloed, die tong van jou honde van die vyande sy deel kan hê.
24 (68:25) o God, hulle sien u optogte, die optogte van my God, my Koning in die heiligdom.
25 (68:26) Vooraan gaan die sangers, daaragter die snaarspelers, tussen jongmeisies in wat die tamboeryn slaan.
26 (68:27) Loof God, die Here, in die vergaderinge, julle wat is uit die fontein van Israel!
27 (68:28) Daar is Benjamin, die kleinste, wat oor hulle geheers het; die vorste van Juda—hulle menigte; die vorste van Sébulon, die vorste van Náftali.
28 (68:29) Jou God het jou sterkte gebied: betoon U sterk, o God, wat vir ons gewerk het!
29 (68:30) Ter wille van u tempel in Jerusalem sal die konings aan U geskenke bring.
30 (68:31) Dreig die wilde gedierte van die riet—die trop stiere saam met die kalwers van die volke—die wat hulleself onderwerp met stukke silwer. Hy het die volke verstrooi wat lus het in oorloë.
31 (68:32) Edeles sal uit Egipte kom, Kus sal haastig sy hande uitsteek na God.
32 (68:33) o Koninkryke van die aarde, sing tot eer van God; psalmsing tot eer van die Here! Sela.
33 (68:34) Van Hom wat ry in die hoogste hemele, wat uit die voortyd is; kyk, Hy verhef sy stem, ‘n magtige stem.
34 (68:35) Gee sterkte aan God! Sy hoogheid is oor Israel en sy sterkte in die wolke.
35 (68:36) Vreeslik is God uit jou heiligdomme, o Israel! Die God van Israel—Hy gee aan die volk sterkte en kragte. Geloofd sy God!




Hoofstuk 69

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies." ‘n Psalm van Dawid. (69:2) Verlos my, o God, want die waters het tot by die siel gekom.
2 (69:3) Ek sink in grondelose modder waar geen staanplek is nie; ek het in waterdieptes gekom, en die stroom loop oor my.
3 (69:4) Ek is moeg van my geroep, my keel brand, my oë versmag terwyl ek wag op my God.
4 (69:5) Die wat my sonder oorsaak haat, is meer as die hare van my hoof; die wat klaar staan om my te vernietig, wat sonder grond my vyande is, is magtig; wat ek nie geroof het nie, moet ek dan teruggee.
5 (69:6) o God, U weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.
6 (69:7) Laat die wat u verwag, deur my nie beskaamd staan nie, o Here, HERE van die leërskare! Laat die wat U soek, deur my nie in die skande kom nie, o God van Israel!
7 (69:8) Want om U ontwil dra ek smaad, bedek skande my aangesig.
8 (69:9) Vreemd het ek vir my broers geword en ‘n onbekende vir die seuns van my moeder.
9 (69:10) Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.
10 (69:11) Wat my aangaan, my siel het geween met vas; maar dit het smaadhede vir my geword.
11 (69:12) Ek het ook ‘n rougewaad my kleding gemaak en vir hulle ‘n spreekwoord geword.
12 (69:13) Die wat in die poort sit, praat van my—ook die spotlied van die wat sterk drank drink.
13 (69:14) Maar ek—my gebed is tot U, o HERE: in die tyd van genade, o God, verhoor my deur die grootheid van u goedertierenheid, deur die trou van u heil!
14 (69:15) Red my uit die modder en laat my nie sink nie; laat my gered word van my haters en uit waterdieptes.
15 (69:16) Laat die waterstroom nie oor my loop en die diepte my nie verslind nie, en laat die put sy mond bo my nie toesluit nie!
16 (69:17) Verhoor my, o HERE, want u goedertierenheid is goed; wend U tot my na die grootheid van u barmhartighede.
17 (69:18) En verberg u aangesig nie vir u kneg nie; want ek is benoud. Verhoor my dan gou!
18 (69:19) Kom nader na my siel, verlos dit; bevry my om my vyande ontwil.
19 (69:20) U ken my smaad en my beskaming en my skande; al my teëstanders is voor U.
20 (69:21) Die smaad breek my hart, en ek is verswak; ja, ek het gewag op medelyde, maar verniet; en op vertroosters, maar het hulle nie gevind nie.
21 (69:22) En hulle het aan my gal gegee as my spys, en vir my dors het hulle my asyn laat drink.
22 (69:23) Laat hul tafel voor hulle ‘n vangnet wees en vir hulle wat sorgeloos is, ‘n strik.
23 (69:24) Laat hulle oë duister word, sodat hulle nie sien nie; en maak dat hulle heupe altyddeur wankel.
24 (69:25) Stort oor hulle u grimmigheid uit, en laat u toorngloed hulle inhaal.
25 (69:26) Laat hulle laer woes word, laat in hulle tente geen bewoner wees nie.
26 (69:27) Want hulle vervolg hom wat deur U swaar getref is, en vertel van die smart van u gewondes.
27 (69:28) Voeg skuld by hulle skuld, en laat hulle nie in u geregtigheid kom nie.
28 (69:29) Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.
29 (69:30) Maar ek is ellendig en in pyn: laat u hulp, o God, my beskerm!
30 (69:31) Ek wil die Naam van God prys met ‘n lied en Hom groot maak met danksegging;
31 (69:32) en dit sal die HERE welgevalliger wees as beeste, as stiere wat horings en gesplitste kloue het.
32 (69:33) As die ootmoediges dit sien, sal hulle bly wees; julle wat na God soek, laat julle hart lewe!
33 (69:34) Want die HERE luister na die behoeftiges en verag sy gevangenes nie.
34 (69:35) Laat hemel en aarde Hom prys, die see en alles wat daarin roer.
35 (69:36) Want God sal Sion verlos en die stede van Juda bou; en daar sal hulle woon en dit besit.
36 (69:37) En die nageslag van sy knegte sal dit beërwe, en die liefhebbers van sy Naam sal daarin woon.




Hoofstuk 70

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid, by die gedenkoffer. (70:2) o God, maak tog gou om my te red, o HERE, om my te help!
2 (70:3) Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en rooi van skaamte word; laat hulle wat behae het in my ongeluk, agteruitwyk en in die skande kom.
3 (70:4) Laat hulle wat sê: Ha, ha! teruggaan vanweë hul beskaming.
4 (70:5) Laat in U vrolik en bly wees almal wat U soek; en laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is God!
5 (70:6) Maar ek is ellendig en behoeftig: o God, kom tog gou na my! U is my hulp en my redder; HERE, vertoef tog nie!




Hoofstuk 71

1 By U, o HERE, skuil ek: laat my nie vir altyd beskaamd staan nie!
2 Red my deur u geregtigheid en bevry my; neig u oor tot my en verlos my!
3 Wees vir my ‘n rots om in te woon, om gedurig in te gaan; U wat bevel gegee het om my te verlos, want U is my rots en my bergvesting.
4 My God, red my uit die hand van die goddelose, uit die mag van hom wat onreg doen, en van die geweldenaar.
5 Want U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af.
6 Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur.
7 Ek was vir baie soos ‘n wonder; maar U is my magtige toevlug.
8 My mond is vol van u lof, die hele dag van u roem.
9 Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie.
10 Want my vyande praat van my, en die wat op my lewe loer, hou saam raad
11 en sê: God het hom verlaat; agtervolg en gryp hom, want daar is geen redder nie!
12 o God, wees nie ver van my af nie; my God, maak tog gou om my te help!
13 Laat hulle wat my as vyand behandel, beskaamd staan, verteer word; laat hulle wat my ongeluk soek, hulleself toedraai in smaad en skande.
14 Maar ék sal altyddeur hoop en al u lof vermeerder.
15 My mond sal u geregtigheid vertel, die hele dag u heil; want ek ken nie die maat daarvan nie.
16 Ek sal kom met die magtige dade van die Here HERE; ek sal u geregtigheid vermeld, dié van U alleen.
17 o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders.
18 En ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.
19 Ook is u geregtigheid, o God, tot in die hoogte; U wat groot dinge gedoen het, o God, wie is soos U?
20 U wat my baie en bange node laat sien het, sal my weer lewend maak en my weer ophaal uit die watervloede van die aarde.
21 Vermeerder my grootheid, en wend U om en troos my.
22 So wil ek U dan ook loof met die instrument van die harp, u trou, my God! Ek wil psalmsing tot u eer op die siter, o Heilige van Israel!
23 My lippe sal jubel as ek psalmsing tot u eer, en my siel, wat U verlos het.
24 Ook sal my tong u geregtigheid die hele dag prys, want hulle het beskaamd gestaan, want hulle wat my ongeluk soek, het rooi van skaamte geword.




Hoofstuk 72

1 Van Salomo. o God, gee aan die koning u regte en u geregtigheid aan die seun van die koning.
2 Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg.
3 Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid.
4 Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel.
5 Hulle sal u vrees solank as die son skyn en solank as die maan daar is, van geslag tot geslag.
6 Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos buie—’n swaar reën op die aarde.
7 In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie.
8 En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde.
9 Die bewoners van dor plekke sal voor hom kniel, en sy vyande sal die stof lek.
10 Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring.
11 Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien.
12 Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie.
13 Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.
14 Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.
15 Mag hy dan lewe! en mag hulle aan hom gee van die goud van Skeba en altyddeur vir hom bid; mag hulle die hele dag hom seën!
16 Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die Líbanon; en mag hulle bloei uit die stad soos die plante van die aarde!
17 Mag sy naam vir ewig wees; mag sy naam uitspruit solank as die son daar is! En mag al die nasies in hom geseën word, hom gelukkig prys!
18 Geloofd sy die HERE God, die God van Israel, wat alleen wonders doen!
19 En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.
20 Hier eindig die gebede van Dawid, die seun van Isai.




Hoofstuk 73

1 ‘n Psalm van Asaf. Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is.
2 Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly.
3 Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien.
4 Want daar is geen kwellings by hulle nie, gesond en vet is hulle liggaam.
5 In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie.
6 Daarom is die trots om hulle soos ‘n halssieraad, die geweld bedek hulle soos ‘n gewaad.
7 Hulle oë puil uit van vet; die inbeeldinge van die hart loop oor.
8 Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte.
9 Hulle stel hul mond teen die hemel, en hul tong wandel op die aarde.
10 Daarom draai hulle mense hul hierheen, en waters in volheid word deur hulle geslurp.
11 En hulle sê: Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?
12 Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom!
13 Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.
14 Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre.
15 As ek gesê het: Ek wil óók so spreek—dan sou ek ontrou gewees het aan die geslag van u kinders!
16 Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë,
17 totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het.
18 Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val.
19 Hoe word hulle in ‘n oomblik ‘n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge!
20 Soos ‘n droom nadat ‘n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld!
21 Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was,
22 toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was ‘n dier by U.
23 Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat.
24 U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.
25 Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.
26 Al beswyk my vlees en my hart—God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.
27 Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer.
28 Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.




Hoofstuk 74

1 ‘n Onderwysing van Asaf. o God, waarom het U vir altyd verstoot? Waarom rook u toorn teen die skape van u weide?
2 Dink aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op gewoon het.
3 Hef u voete op na die ewige puinhope: alles het die vyand in die heiligdom verniel.
4 U teëstanders het binne-in u vergaderplek gebrul; hulle het hul tekens as tekens gestel.
5 Dit lyk soos wanneer iemand byle omhoog hef in ‘n digte plek bome.
6 En nou—die houtsnywerk daarvan het hulle alles met byl en hamers stukkend geslaan.
7 Hulle het u heiligdom aan die brand gesteek; tot die grond toe het hulle die woonplek van u Naam ontheilig.
8 Hulle het in hul hart gesê: Laat ons hulle almal saam onderdruk! Hulle het al die vergaderplekke van God in die land verbrand.
9 Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie.
10 Hoe lank, o God, sal die teëstander smaad aandoen, sal die vyand u Naam vir altyd verag?
11 Waarom trek U u hand, ja, u regterhand, terug? Trek dit uit u boesem! Vernietig!
12 Nogtans is God my Koning van die voortyd af, wat verlossinge werk op die aarde.
13 U het deur u sterkte die see geklief; U het die koppe van die seemonsters op die waters verbreek.
14 U het die koppe van die Leviátan verbrysel; U het hom gegee as voedsel vir ‘n volk—vir woestyndiere.
15 U het fontein en stroom oopgeslaan; U het standhoudende riviere laat opdroog.
16 Aan U behoort die dag, aan U behoort ook die nag; U het hemelligte en son vasgestel.
17 U het al die grense van die aarde bepaal; somer en winter, U het hulle geformeer.
18 Dink hieraan: Die vyand het die HERE gesmaad, en ‘n dwase volk het u Naam verag.
19 Gee aan die wilde diere die siel van u tortelduif nie oor nie; vergeet nie vir altyd die lewe van u ellendiges nie.
20 Aanskou die verbond, want die donker plekke van die land is vol wonings van geweld.
21 Laat die verdrukte nie beskaamd terugkom nie; laat die ellendige en behoeftige u Naam prys.
22 Staan op, o God, verdedig u saak; dink aan die smaad wat U die hele dag aangedoen word deur ‘n dwaas.
23 Vergeet nie die geroep van u teëstanders nie—die rumoer van u opstandige vyande, wat altyddeur opgaan!




Hoofstuk 75

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Moenie verwoes nie." ‘n Psalm van Asaf. ‘n Lied. (75:2) Ons loof U, o God, ons loof, en naby is u Naam; hulle vertel u wonders.
2 (75:3) As Ek die regte tydstip aangryp, oordeel Ék regverdig.
3 (75:4) Al wankel die aarde en al sy bewoners—Ék het sy pilare vasgestel. Sela.
4 (75:5) Ek sê tot die onsinniges: Wees nie onsinnig nie! en tot die goddelose: Verhef die horing nie!
5 (75:6) Verhef julle horing nie daarbo en spreek nie met trots uitgerekte nek nie.
6 (75:7) Want nie van die opgang of van die ondergang, ook nie van die woestyn van berghoogtes nie….
7 (75:8) maar God is regter: Hy verneder die een en verhef die ander.
8 (75:9) Want in die hand van die HERE is ‘n beker, en die wyn skuim; dit is oorvloedig gemeng, en Hy skink daaruit; ja, die afsaksel daarvan moet al die goddelose van die aarde opslurp, uitdrink.
9 (75:10) Maar ék sal vir ewig verkondig—ek wil psalmsing tot eer van die God van Jakob.
10 (75:11) En ek sal al die horings van die goddelose mense stukkend breek; die horings van die regverdige sal verhef word.




Hoofstuk 76

1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. ‘n Psalm van Asaf. ‘n Lied. (76:2) God is bekend in Juda, sy Naam is groot in Israel.
2 (76:3) Ook het in Salem sy tent verrys en in Sion sy woning.
3 (76:4) Daar het Hy die blitspyle van die boog verbreek, skild en swaard en oorlog. Sela.
4 (76:5) Glansryk is U, heerlik van die roofberge af!
5 (76:6) Geplunder is die sterkes van hart; hulle het hul slaap gesluimer, en geeneen van die dapper manne het hulle hande gevind nie.
6 (76:7) Deur u dreiging, o God van Jakob, het strydwa en perd saam bedwelmd geraak.
7 (76:8) U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het?
8 (76:9) Uit die hemel het U ‘n oordeel laat hoor; die aarde het gevrees en stil geword,
9 (76:10) toe God opgestaan het vir die gerig, om al die ootmoediges van die land te verlos. Sela.
10 (76:11) Want die grimmigheid van die mens moet U loof; met die oorblyfsel van grimmighede gord U Uself.
11 (76:12) Doen geloftes en betaal dié aan die HERE julle God! Laat almal wat rondom Hom is, geskenke bring aan die Vreeslike,
12 (76:13) wat die trots van die vorste wegsny, vreeslik is vir die konings van die aarde.




Hoofstuk 77

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Jedútun." ‘n Psalm van Asaf. (77:2) My stem is tot God en ek roep; my stem is tot God, dat Hy na my kan luister.
2 (77:3) Op die dag van my benoudheid soek ek die HERE; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word.
3 (77:4) As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees. Sela.
4 (77:5) U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie.
5 (77:6) Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare.
6 (77:7) Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors:
7 (77:8) Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie?
8 (77:9) Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag?
9 (77:10) Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela.
10 (77:11) Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!
11 (77:12) Ek dink aan die dade van die HERE; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd
12 (77:13) en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade.
13 (77:14) o God, u weg is in heiligheid. Wie is ‘n groot God soos God?
14 (77:15) U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak.
15 (77:16) U het u volk met ‘n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef. Sela.
16 (77:17) Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, hulle het gebewe; ja, die watervloede het gesidder.
17 (77:18) Die wolke het water uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg.
18 (77:19) U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe.
19 (77:20) U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie.
20 (77:21) U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aäron.




Hoofstuk 78

1 ‘n Onderwysing van Asaf. My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond.
2 Ek wil my mond open met ‘n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom.
3 Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het,
4 sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.
5 Hy tog het ‘n getuienis opgerig in Jakob en ‘n wet gegee in Israel, wat Hy ons vaders beveel het—om dit aan hulle kinders bekend te maak,
6 sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders,
7 en hulle vertroue op God kan stel en die dade van God nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar,
8 en nie word soos hulle vaders nie, ‘n koppige en wederstrewige geslag, ‘n geslag met ‘n onvaste hart en wie se gees nie trou was teenoor God nie.
9 Die kinders van Efraim, gewapende boogskutters, het omgespring op die dag van oorlog.
10 Hulle het die verbond van God nie gehou nie en geweier om te wandel in sy wet.
11 En hulle het sy dade vergeet en sy wonders wat Hy hulle laat sien het.
12 Voor hulle vaders het Hy wonders gedoen, in die land Egipte, die veld van Soan.
13 Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos ‘n wal.
14 En Hy het hulle bedags gelei met ‘n wolk en die hele nag met ‘n lig van vuur.
15 Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede.
16 En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere.
17 Nog het hulle voortgegaan om teen Hom te sondig, om wederstrewig te wees teen die Allerhoogste in die dor land.
18 En hulle het God versoek in hul hart deur voedsel te vra na hulle sin.
19 En hulle het teen God gespreek, hulle het gesê: Sou God ‘n tafel kan dek in die woestyn?
20 Kyk, Hy het die rots geslaan, dat waters gevloei en spruite gestroom het—sou Hy ook brood kan gee of vleis kan verskaf aan sy volk?
21 Daarom het die HERE gehoor en toornig geword, en ‘n vuur is aangesteek teen Jakob, en toorn het ook opgegaan teen Israel;
22 omdat hulle in God nie geglo en op sy hulp nie vertrou het nie.
23 En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak;
24 en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee.
25 Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur.
26 Hy het die oostewind laat uitbreek aan die hemel en die suidewind deur sy sterkte aangevoer;
27 en Hy het vleis soos stof op hulle laat reën en gevleuelde voëls soos sand aan die seë;
28 en Hy het dit binne-in sy laer laat val, rondom sy wonings.
29 Toe het hulle geëet en ten volle versadig geword, en hulle begeerte het Hy bevredig.
30 Hulle was nie weg van hul begeerte nie—hulle voedsel was nog in hulle mond—
31 toe die toorn van God teen hulle opgegaan het en Hy ‘n slagting onder hulle kragtige manne aangerig en die jongmanne van Israel neergewerp het.
32 Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie.
33 So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking.
34 Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek;
35 en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser.
36 En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg;
37 maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie.
38 Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie.
39 En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, ‘n wind wat weggaan en nie terugkom nie.
40 Hoe dikwels was hulle wederstrewig teen Hom in die woestyn, het hulle Hom gegrief in die wildernis;
41 en hulle het God opnuut versoek en die Heilige van Israel gekrenk.
42 Hulle het nie aan sy hand gedink, aan die dag toe Hy hulle van die teëstander verlos het nie;
43 toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan.
44 En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie.
45 Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het.
46 En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan.
47 Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp.
48 Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse.
49 Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, ‘n uitsending van ongeluksbodes.
50 Hy het ‘n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee.
51 En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam.
52 Maar Hy het sy volk laat wegtrek soos skape en hulle gelei soos ‘n kudde in die woestyn.
53 Ja, Hy het hulle veilig gelei, sodat hulle nie gevrees het nie; maar die see het hulle vyande oordek.
54 En Hy het hulle gebring na sy heilige grondgebied, na die bergland wat sy regterhand verwerf het.
55 En Hy het nasies voor hulle uit verdrywe en dié aan hulle as afgemete erfdeel laat val, en Hy het die stamme van Israel in hulle tente laat woon.
56 Maar hulle het Hom versoek en was wederstrewig teen God, die Allerhoogste, en hulle het sy getuienisse nie onderhou nie.
57 En hulle was afvallig en het troueloos gehandel soos hul vaders; hulle het omgedraai soos ‘n bedrieglike boog.
58 En hulle het Hom geterg deur hul hoogtes en deur hul gesnede beelde sy jaloersheid gewek.
59 God het dit gehoor en toornig geword, en Hy het Israel heeltemal verwerp.
60 En Hy het die tabernakel in Silo prysgegee, die tent wat Hy opgeslaan het onder die mense.
61 En Hy het sy sterkte oorgegee in gevangenskap en sy heerlikheid in die hand van die teëstander.
62 En Hy het sy volk oorgelewer aan die swaard en toornig geword op sy erfdeel.
63 Die vuur het hulle jongmanne verteer, en hulle jongedogters is nie geprys nie.
64 Hulle priesters het deur die swaard geval, en hulle weduwees het nie geween nie.
65 Toe het die Here wakker geword soos een wat slaap, soos ‘n held wat oorweldig is deur die wyn;
66 en Hy het sy teëstanders van agter geslaan, Hy het hulle ‘n ewige smaadheid aangedoen.
67 En Hy het die tent van Josef verwerp, en die stam van Efraim het Hy nie uitverkies nie,
68 maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet.
69 En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het.
70 En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem.
71 Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel.
72 En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.




Hoofstuk 79

1 ‘n Psalm van Asaf. o God, heidene het gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak.
2 Hulle het die lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van die land.
3 Hulle het húlle bloed rondom Jerusalem soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe.
4 Ons het vir ons bure ‘n smaad geword, ‘n spot en beskimping vir die wat rondom ons is.
5 Hoe lank, HERE, sal U vir ewig toornig wees, sal u ywer brand soos ‘n vuur?
6 Stort u grimmigheid uit oor die heidene wat U nie ken nie, en oor die koninkryke wat u Naam nie aanroep nie.
7 Want hulle het Jakob verteer en sy woning verwoes.
8 Reken ons die ongeregtighede van die voorvaders nie toe nie; laat u barmhartighede ons gou tegemoetkom, want ons is baie swak.
9 Help ons, o God van ons heil, om die eer van u Naam, en red ons en doen versoening oor ons sondes ter wille van u Naam.
10 Waarom sou die heidene sê: Waar is hulle God? Laat voor ons oë onder die heidene bekend word die wraak oor die vergote bloed van u knegte.
11 Laat die gesug van die gevangene voor u aangesig kom; laat die kinders van die dood oorbly na die grootheid van u arm.
12 En vergeld ons bure sewevoudig in hulle skoot die smaad waarmee hulle U, o Here, gesmaad het.
13 En ons, u volk en die skape van u weide, ons sal U vir ewig loof, van geslag tot geslag sal ons u lof vertel.




Hoofstuk 80

1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Lelies". ‘n Getuienis. Van Asaf. ‘n Psalm. (80:2) o Herder van Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei, wat bo-oor die gérubs troon, verskyn in ligglans!
2 (80:3) Wek u mag op voor Efraim en Benjamin en Manasse, en kom ons te hulp!
3 (80:4) o God, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
4 (80:5) o HERE, God van die leërskare, hoe lank nog rook u toorn by die gebed van u volk?
5 (80:6) U het hulle tranebrood laat eet, hulle oorvloedig trane laat drink.
6 (80:7) U het ons ‘n voorwerp van stryd gemaak vir ons bure, en ons vyande drywe die spot.
7 (80:8) o God van die leërskare, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!
8 (80:9) ‘n Wingerdstok het U uitgetrek uit Egipte; U het die nasies uitgedrywe en hom geplant.
9 (80:10) U het voor hom plek gemaak, en hy het wortels geskiet en die land vervul.
10 (80:11) Die berge was oordek met sy skaduwee, en met sy ranke die seders van God.
11 (80:12) Hy het sy ranke uitgebrei tot by die see en sy lote na die Rivier toe.
12 (80:13) Waarom het U sy mure stukkend gebreek, sodat almal wat met die pad verbygaan, hom kaalpluk?
13 (80:14) Die wildevark uit die bos eet hom op, en wat roer op die veld, wei hom af.
14 (80:15) o God van die leërskare, kom tog terug; aanskou uit die hemel en kyk, en gee ag op hierdie wingerdstok;
15 (80:16) en wees ‘n beskerming vir wat u regterhand geplant het, en oor die seun wat U vir Uself grootgemaak het.
16 (80:17) Hy is met vuur verbrand, hy is afgekap; vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om.
17 (80:18) Laat u hand wees oor die man van u regterhand, oor die menseseun wat U vir Uself grootgemaak het.
18 (80:19) Dan sal ons nie van U afwyk nie; hou ons in die lewe, dan sal ons u Naam aanroep.
19 (80:20) o HERE, God van die leërskare, herstel ons; laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!




Hoofstuk 81

1 Vir die musiekleier; op die Gittiet. ‘n Psalm van Asaf. (81:2) Jubel tot eer van God, ons sterkte! Juig tot eer van die God van Jakob!
2 (81:3) Hef aan ‘n lied en laat die tamboeryn klink, die lieflike siter saam met die harp.
3 (81:4) Blaas die basuin op nuwemaan, op volmaan vir ons feesdag.
4 (81:5) Want dit is ‘n insetting vir Israel, ‘n verordening van die God van Jakob.
5 (81:6) Hy het dit ingestel as getuienis in Josef toe Hy uitgetrek het teen Egipteland. ‘n Taal wat ek nie geken het nie, het ek gehoor:
6 (81:7) Ek het sy skouer bevry van die las, sy hande het die mandjie gelos.
7 (81:8) In die nood het jy geroep, en Ek het jou uitgered; Ek het jou geantwoord in die skuilplek van die donder; Ek het jou getoets by die waters van Mériba. Sela.
8 (81:9) Hoor, my volk, en Ek wil jou dit inskerp; Israel, as jy tog na My wou luister!
9 (81:10) Daar mag by jou geen vreemde god wees nie, en voor ‘n uitlandse god mag jy jou nie neerbuig nie.
10 (81:11) Ek is die HERE jou God wat jou laat optrek het uit Egipteland; maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul.
11 (81:12) Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie.
12 (81:13) Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.
13 (81:14) Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel!
14 (81:15) Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek.
15 (81:16) Die haters van die HERE sou kruipende na Hom toe kom; maar húlle tyd sou vir ewig wees.
16 (81:17) Ja, Hy sou hulle voed met die beste van die koring; en met heuning uit die rots sou Ek jou versadig.




Hoofstuk 82

1 ‘n Psalm van Asaf. God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode.
2 Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense? Sela.
3 Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg.
4 Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense.
5 Hulle weet nie en verstaan nie; hulle loop rond in duisternis: al die fondamente van die aarde wankel.
6 Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste—
7 nogtans sal julle sterwe soos mense, en soos een van die vorste sal julle val.
8 Staan op, o God, oordeel die aarde! Want U het erfbesit van al die nasies.




Hoofstuk 83

1 ‘n Lied. ‘n Psalm van Asaf. (83:2) o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God!
2 (83:3) Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op.
3 (83:4) Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes.
4 (83:5) Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.
5 (83:6) Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond:
6 (83:7) die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners,
7 (83:8) Gebal en Ammon, en Amalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus.
8 (83:9) Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ‘n arm vir die kinders van Lot. Sela.
9 (83:10) Maak met hulle soos met Mídian, soos met Sísera, soos met Jabin by die spruit Kison:
10 (83:11) hulle is verdelg by Endor, hulle het mis geword vir die grond.
11 (83:12) Maak hulle, hul edeles, soos Oreb en Seëb, en al hulle vorste soos Seba en Salmúna,
12 (83:13) wat sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem!
13 (83:14) My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind.
14 (83:15) Soos vuur wat ‘n bos verbrand, en soos die vlam wat berge aan die brand steek—
15 (83:16) vervolg hulle só met u storm en verskrik hulle met u stormwind.
16 (83:17) Oordek hulle aangesig met skande, dat hulle u Naam kan soek, o HERE!
17 (83:18) Laat hulle beskaamd staan en verskrik wees vir ewig, en laat hulle rooi van skaamte word en omkom;
18 (83:19) sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam HERE is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.




Hoofstuk 84

1 Vir die musiekleier; op die Gittiet. Van die kinders van Korag. ‘n Psalm. (84:2) Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare!
2 (84:3) My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God.
3 (84:4) Selfs vind die mossie ‘n huis en die swaweltjie ‘n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God!
4 (84:5) Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela.
5 (84:6) Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.
6 (84:7) As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit ‘n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge.
7 (84:8) Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor God in Sion.
8 (84:9) HERE, God van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, o God van Jakob! Sela.
9 (84:10) o God, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde.
10 (84:11) Want ‘n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.
11 (84:12) Want die HERE God is ‘n son en skild; die HERE sal genade en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie.
12 (84:13) HERE van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!




Hoofstuk 85

1 Vir die musiekleier. Van die kinders van Korag. ‘n Psalm. (85:2) U het, o HERE, ‘n welbehae gehad in u land; die lot van Jakob het U verander.
2 (85:3) U het die ongeregtigheid van u volk weggeneem, al hulle sonde bedek. Sela.
3 (85:4) U het al u grimmigheid teruggetrek, U het U van die gloed van u toorn afgewend.
4 (85:5) Herstel ons, o God van ons heil, en maak tot niet u grimmigheid teen ons!
5 (85:6) Sal U vir ewig teen ons toornig wees, u toorn laat duur van geslag tot geslag?
6 (85:7) Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?
7 (85:8) Laat ons u goedertierenheid sien, o HERE, en gee ons u heil!
8 (85:9) Ek wil hoor wat God die HERE spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!
9 (85:10) Gewis, sy heil is naby die wat Hom vrees, sodat heerlikheid in ons land kan woon.
10 (85:11) Goedertierenheid en trou ontmoet mekaar; geregtigheid en vrede kus mekaar.
11 (85:12) Trou spruit uit die aarde en geregtigheid kyk uit die hemel neer.
12 (85:13) Ook gee die HERE die goeie, en ons land lewer sy opbrings.
13 (85:14) Geregtigheid gaan voor Hom uit, en dit let op die weg van sy voetstappe.




Hoofstuk 86

1 ‘n Gebed van Dawid. HERE, neig u oor, verhoor my, want ek is ellendig en behoeftig.
2 Bewaar my siel, want ‘n gunsgenoot is ek; U, my God, verlos u kneg wat op U vertrou.
3 Wees my genadig, o Here, want ek roep U aan die hele dag deur.
4 Verbly die siel van u kneg, want tot U, o Here, hef ek my siel op.
5 Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep.
6 HERE, luister na my gebed en let op die stem van my smekinge.
7 In die dag van my benoudheid roep ek U aan, want U verhoor my.
8 Daar is niemand soos U onder die gode, Here, en daar is niks soos u werke nie.
9 Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en hulle voor u aangesig neerbuig, Here, en hulle sal u Naam eer;
10 want U is groot en doen wonders, U alleen is God.
11 Leer my, HERE, u weg: ek sal in u waarheid wandel; verenig my hart tot die vrees van u Naam.
12 Here, my God, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer;
13 want u goedertierenheid is groot oor my, en U het my siel uit die doderyk diep daaronder gered.
14 o God, vermeteles het teen my opgestaan, en ‘n bende tiranne soek my lewe; en hulle stel U nie voor hul oë nie.
15 Maar U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.
16 Wend U tot my en wees my genadig; gee u sterkte aan u kneg en verlos die seun van u diensmaagd.
17 Doen aan my ‘n teken ten goede, sodat my haters dit sien en beskaamd kan staan, omdat U, o HERE, my gehelp en getroos het.




Hoofstuk 87

1 Van die kinders van Korag. ‘n Psalm. ‘n Lied. Sy grondvesting is op heilige berge.
2 Die HERE het die poorte van Sion lief bo al die wonings van Jakob.
3 Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God! Sela.
4 Ek wil Rahab en Babel vermeld onder hulle wat My ken; kyk, Filistéa en Tirus saam met Kus—hierdie een is daar gebore.
5 En van Sion sal gesê word: Man vir man is daarin gebore, en Hy, die Allerhoogste, hou dit in stand.
6 Die HERE sal tel as Hy die volke opskrywe: Hierdie een is daar gebore. Sela.
7 En die wat sing sowel as die wat vrolik is, sê: Al my fonteine is in jou!




Hoofstuk 88

1 ‘n Lied, ‘n Psalm van die kinders van Korag, Vir die musiekleier; op die wysie van: "Máhalat leannot." ‘n Onderwysing van Heman, die Esrahiet. (88:2) HERE, God van my heil, bedags roep ek, in die nag is dit voor U.
2 (88:3) Laat my gebed voor u aangesig kom, neig u oor tot my smeking.
3 (88:4) Want my siel is sat van teëspoede, en my lewe raak aan die doderyk.
4 (88:5) Ek word gereken by die wat in die kuil neerdaal; ek het geword soos ‘n man sonder krag,
5 (88:6) vrygelaat onder die dooies, soos die wat verslaan is, wat in die graf lê, aan wie U nie meer dink nie, en wat afgesny is van u hand.
6 (88:7) U het my gesit in die kuil diep daaronder, in duisternisse, in dieptes.
7 (88:8) U grimmigheid rus op my, en U druk my neer met al u golwe. Sela.
8 (88:9) U het my bekendes ver van my verwyder, my iets afskuweliks gemaak vir hulle; ek is ingesluit en kan nie uitkom nie.
9 (88:10) My oog vergaan van ellende. HERE, ek roep U aan die hele dag deur, ek brei my hande na U uit.
10 (88:11) Kan U aan die dooies ‘n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof? Sela.
11 (88:12) Kan u goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering?
12 (88:13) Kan u wondermag in die duisternis bekend word en u geregtigheid in die land van vergetelheid?
13 (88:14) Maar ék, HERE, roep U aan om hulp, en in die môre kom my gebed U tegemoet.
14 (88:15) HERE, waarom verstoot U my siel, verberg U u aangesig vir my?
15 (88:16) Van jongs af is ek ellendig en klaar om te sterwe; ek dra u verskrikkinge, ek is radeloos.
16 (88:17) U toorngloed het oor my gegaan; u verskrikkinge vernietig my;
17 (88:18) die hele dag omring hulle my soos water, saam omsingel hulle my.
18 (88:19) U het vriend en metgesel ver van my verwyder; my bekendes is duisternis.




Hoofstuk 89

1 ‘n Onderwysing van Etan, die Esrahiet. (89:2) Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag.
2 (89:3) Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele—daar bevestig U u trou.
3 (89:4) Ek het ‘n verbond gesluit met my uitverkorene, met ‘n eed aan Dawid, my kneg, belowe:
4 (89:5) Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.
5 (89:6) En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges.
6 (89:7) Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge,
7 (89:8) ‘n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?
8 (89:9) o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U!
9 (89:10) U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring.
10 (89:11) U het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi.
11 (89:12) Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid—U het dit gegrond.
12 (89:13) Die noorde en die suide—U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam.
13 (89:14) U het ‘n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe.
14 (89:15) Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit.
15 (89:16) Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig.
16 (89:17) In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef.
17 (89:18) Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef.
18 (89:19) Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel.
19 (89:20) Toe het U in ‘n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan ‘n held, ‘n uitverkorene uit die volk verhef.
20 (89:21) Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf,
21 (89:22) met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk.
22 (89:23) Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie;
23 (89:24) maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan.
24 (89:25) En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word.
25 (89:26) En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere.
26 (89:27) Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil!
27 (89:28) Ja, Ék sal hom ‘n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.
28 (89:29) Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas.
29 (89:30) En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel.
30 (89:31) As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie;
31 (89:32) as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie,
32 (89:33) dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid.
33 (89:34) Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie.
34 (89:35) Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.
35 (89:36) Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie!
36 (89:37) Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My.
37 (89:38) Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela.
38 (89:39) Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde.
39 (89:40) U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond.
40 (89:41) U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings ‘n puinhoop gemaak.
41 (89:42) Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy ‘n smaad geword.
42 (89:43) U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak.
43 (89:44) Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie.
44 (89:45) U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp.
45 (89:46) U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela.
46 (89:47) Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos ‘n vuur?
47 (89:48) Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!
48 (89:49) Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela.
49 (89:50) Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met ‘n eed beloof het in u trou?
50 (89:51) Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke,
51 (89:52) waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad.
52 (89:53) Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen.




Hoofstuk 90

1 ‘n Gebed van Moses, die man van God. Here, U was vir ons ‘n toevlug van geslag tot geslag.
2 Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God.
3 U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders!
4 Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ‘n nagwaak.
5 Weggespoel het U hulle; hulle word ‘n slaap; in die môre is hulle soos die gras wat weer uitspruit:
6 in die môre bloei dit en spruit weer uit; in die aand sny ‘n mens dit af, en dit verdor.
7 Want ons vergaan deur u toorn, en deur u grimmigheid word ons verskrik.
8 U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.
9 Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte.
10 Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.
11 Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?
12 Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom!
13 Keer terug, HERE! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte.
14 Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae.
15 Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het.
16 Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders.
17 En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees, en bevestig die werk van ons hande oor ons, ja, die werk van ons hande, bevestig dit!




Hoofstuk 91

1 Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.
2 Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.
3 Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.
4 Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ‘n skild en pantser.
5 Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,
6 vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!
7 Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie.
8 Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.
9 Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.
10 Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;
11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.
12 Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.
13 Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.
14 Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.
15 Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.
16 Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.




Hoofstuk 92

1 ‘n Psalm. ‘n Lied vir die sabbatdag. (92:2) Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste,
2 (92:3) om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte;
3 (92:4) by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.
4 (92:5) Want U het my bly gemaak, HERE, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.
5 (92:6) Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!
6 (92:7) ‘n Dom mens weet nie, en ‘n dwaas verstaan dit nie:
7 (92:8) as die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg.
8 (92:9) Maar U is hoog verhewe tot in ewigheid, HERE!
9 (92:10) Want kyk, u vyande, o HERE, want kyk, u vyande sal vergaan; al die werkers van ongeregtigheid sal verstrooi word.
10 (92:11) Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie gesalf.
11 (92:12) En my oog sien met welgevalle neer op die wat my voorlê, my ore hoor van die wat teen my as kwaaddoeners opstaan.
12 (92:13) Die regverdige sal groei soos ‘n palmboom; hy sal opgroei soos ‘n seder op die Líbanon.
13 (92:14) Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God.
14 (92:15) In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees,
15 (92:16) om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.




Hoofstuk 93

1 Die HERE is Koning; Hy is met hoogheid bekleed. Die HERE is bekleed, Hy het Hom met sterkte gegord. Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie.
2 Vas staan u troon van ouds af; van ewigheid af is U.
3 Die riviere, o HERE, het verhef, die riviere het hulle gebruis verhef; die riviere verhef hulle geraas!
4 Meer as die gebruis van groot, geweldige waters, van die golwe van die see, is die HERE geweldig in die hoogte!
5 U getuienisse is baie betroubaar. Heiligheid pas by u huis, HERE, tot in lengte van dae!




Hoofstuk 94

1 God van wraak, o HERE, God van wraak, verskyn in ligglans!
2 Verhef U, o regter van die aarde, vergeld die trotsaards hulle dade!
3 Hoe lank sal die goddelose, o HERE, hoe lank sal die goddelose jubel?
4 Hulle smaal, hulle praat onbeskaamd—al die werkers van ongeregtigheid verhef hulle.
5 o HERE, hulle verbrysel u volk, en hulle verdruk u erfdeel.
6 Hulle maak die weduwee en die vreemdeling dood en vermoor die wese
7 en sê: Die HERE sien dit nie, en die God van Jakob merk dit nie.
8 Let op, o onverstandiges onder die volk, en julle dwase, wanneer sal julle verstandig word?
9 Sou Hy wat die oor plant, nie hoor nie, of Hy wat die oog formeer, nie sien nie?
10 Sou Hy wat die nasies tugtig, nie straf nie—Hy wat die mens kennis leer?
11 Die HERE ken die gedagtes van die mense—dat hulle nietigheid is.
12 Welgeluksalig is die man, o HERE, wat U onderrig en wat U leer uit u wet,
13 om hom rus te gee van die dae van teëspoed, totdat die kuil vir die goddelose gegrawe word.
14 Want die HERE sal sy volk nie verwerp en sal sy erfdeel nie verlaat nie;
15 want die regspraak sal terugkeer tot geregtigheid, en al die opregtes van hart sal dit volg.
16 Wie sal vir my optree teen die kwaaddoeners? Wie sal my bystaan teen die werkers van ongeregtigheid?
17 As die HERE vir my nie ‘n hulp was nie, dan het my siel gou in die stilte gewoon.
18 As ek dink: My voet wankel—dan ondersteun u goedertierenheid my, o HERE!
19 As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.
20 Het die regterstoel wat onheil stig, met U gemeenskap; wat moeite versin teen die insettinge in?
21 Hulle bestorm die lewe van die regverdige en veroordeel onskuldige bloed.
22 Maar die HERE is ‘n rotsvesting vir my, en my God die rots van my toevlug.
23 En Hy laat hulle ongeregtigheid op hulle terugkeer en verdelg hulle in hul boosheid; die HERE onse God verdelg hulle.




Hoofstuk 95

1 Kom, laat ons jubel tot eer van die HERE, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil!
2 Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig!
3 Want die HERE is ‘n grote God, ja, ‘n groot Koning bo al die gode.
4 In wie se hand die diepste plekke van die aarde is, en die toppe van die berge is syne.
5 Aan wie die see behoort wat Hy self gemaak het, en die droë land wat sy hande geformeer het.
6 Kom, laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die HERE wat ons gemaak het.
7 Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister!
8 Verhard julle hart nie soos by Mériba, soos op die dag van Massa in die woestyn nie;
9 waar julle vaders My versoek het, My beproef het, alhoewel hulle my werk gesien het.
10 Veertig jaar het Ek ‘n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê: Hulle is ‘n volk met ‘n dwalende hart, en hulle ken my weë nie;
11 sodat Ek in my toorn gesweer het: Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!




Hoofstuk 96

1 Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied; sing voor die HERE, o ganse aarde!
2 Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag.
3 Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders.
4 Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode.
5 Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak.
6 Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en sieraad in sy heiligdom.
7 Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte.
8 Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe.
9 Aanbid die HERE in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o ganse aarde!
10 Sê onder die volke: Die HERE is Koning! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel.
11 Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis.
12 Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel
13 voor die aangesig van die HERE; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.




Hoofstuk 97

1 Die HERE is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees!
2 Wolke en donkerheid is rondom Hom; geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.
3 ‘n Vuur gaan voor sy aangesig uit en steek sy teëstanders rondom aan die brand.
4 Sy bliksems verlig die wêreld; die aarde sien dit en bewe.
5 Berge smelt weg soos was voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die HERE van die hele aarde.
6 Die hemele verkondig sy geregtigheid, en al die volke sien sy heerlikheid.
7 Beskaamd staan almal wat die beelde dien, wat hulle op afgode beroem; al die gode buig hulle voor Hom neer.
8 Sion hoor dit en is bly, en die dogters van Juda juig oor u oordele, o HERE!
9 Want U, HERE, is die Allerhoogste oor die hele aarde; U is hoog verhewe bo al die gode.
10 o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose.
11 Die lig is vir die regverdige gesaai en vrolikheid vir die opregtes van hart.
12 o Regverdiges, wees bly in die HERE, en loof sy heilige gedenknaam!




Hoofstuk 98

1 ‘n Psalm. Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen; sy regterhand en sy heilige arm het Hom gehelp.
2 Die HERE het sy heil bekend gemaak, sy geregtigheid voor die oë van die nasies geopenbaar.
3 Hy het gedink aan sy goedertierenheid en sy trou aan die huis van Israel; al die eindes van die aarde het die heil van onse God gesien.
4 Juig voor die HERE, o ganse aarde, breek uit en psalmsing!
5 Psalmsing tot eer van die HERE met die siter, met die siter en die stem van gesang,
6 met trompette en basuingeklank; juig voor die aangesig van die Koning, die HERE!
7 Laat die see bruis en sy volheid, die wêreld en die wat daarin woon.
8 Laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel
9 voor die aangesig van die HERE; want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg.




Hoofstuk 99

1 Die HERE is Koning; laat die volke bewe! Hy troon op die gérubs; laat die aarde sidder!
2 Die HERE is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke.
3 Laat hulle u grote en gedugte Naam loof! Heilig is Hy!
4 Ook die sterkte van die Koning wat die reg liefhet. U het bevestig wat regverdig is; U het reg en geregtigheid gedoen in Jakob.
5 Verhef die HERE onse God, en buig julle neer voor die voetbank van sy voete. Heilig is Hy!
6 Moses en Aäron was onder sy priesters, en Samuel onder die aanroepers van sy Naam. Hulle het die HERE aangeroep, en Hy het hulle verhoor.
7 In die wolkkolom het Hy met hulle gespreek. Hulle het sy getuienisse onderhou en die insetting wat Hy hulle gegee het.
8 o HERE onse God, U het hulle verhoor, U was vir hulle ‘n vergewende God en Een wat wraak oefen oor hulle dade.
9 Verhef die HERE onse God, en buig julle neer voor sy heilige berg. Want heilig is die HERE onse God.




Hoofstuk 100

1 ‘n Psalm. By die lofoffer. Juig voor die HERE, o ganse aarde!
2 Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.
3 Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.
4 Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.
5 Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.




Hoofstuk 101

1 Van Dawid. ‘n Psalm. Ek wil sing van goedertierenheid en reg; tot u eer wil ek psalmsing, o HERE!
2 Ek wil ag gee op regskape wandel—wanneer sal U na my kom? Ek wandel in die opregtheid van my hart, binne-in my huis.
3 Ek stel geen lae ding voor my oë nie; die dade van afvalliges haat ek; dié sal my nie aankleef nie.
4 ‘n Verkeerde hart moet ver van my af bly; wat kwaad is, wil ek nie ken nie.
5 Hy wat heimlik van sy naaste kwaad spreek, hom sal ek vernietig; hy wat hoog van oë is en trots van hart, hom verdra ek nie.
6 My oë sal wees op die getroues in die land, dat hulle by my kan woon; hy wat wandel in die weg van opregtheid, dié mag my dien.
7 Hy wat bedrog pleeg, mag binne-in my huis nie bly nie; wie leuens praat, kan voor my oë nie bestaan nie.
8 Elke môre sal ek al die goddelose van die land vernietig, om al die werkers van ongeregtigheid uit die stad van die HERE uit te roei.




Hoofstuk 102

1 ‘n Gebed van ‘n ellendige as hy beswyk en sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE. (102:2) o HERE, hoor my gebed, en laat my hulpgeroep tot by U kom!
2 (102:3) Verberg u aangesig nie vir my op die dag as ek in benoudheid is nie; neig u oor tot my; op die dag as ek roep, verhoor my gou!
3 (102:4) Want my dae verdwyn soos rook en my gebeente gloei soos ‘n vuurherd.
4 (102:5) Platgeslaan soos die plante en verdor is my hart; want ek vergeet om my brood te eet.
5 (102:6) Vanweë my harde gesug kleef my gebeente aan my vlees.
6 (102:7) Ek is soos ‘n pelikaan van die woestyn, ek het geword soos ‘n uil op die puinhope.
7 (102:8) Ek is slapeloos en het geword soos ‘n eensame voël op die dak.
8 (102:9) Die hele dag smaad my vyande my; die wat teen my raas, gebruik my naam as ‘n vloek.
9 (102:10) Want ek eet as soos brood en meng my drank met trane,
10 (102:11) vanweë u grimmigheid en u toorn; want U het my opgehef en my weggewerp.
11 (102:12) My dae is soos ‘n skaduwee wat lank geword het, en ek, soos die plante verdor ek.
12 (102:13) Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag.
13 (102:14) U sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom.
14 (102:15) Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin.
15 (102:16) Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde u heerlikheid;
16 (102:17) omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het,
17 (102:18) Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie.
18 (102:19) Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof;
19 (102:20) omdat Hy van sy heilige hoogte neergesien het, die HERE uit die hemel op die aarde gelet het,
20 (102:21) om die gekerm van die gevangene te hoor, om los te maak die kinders van die dood;
21 (102:22) sodat hulle in Sion die Naam van die HERE kan vermeld en sy lof in Jerusalem,
22 (102:23) as die volke almal saam vergader, ook die koninkryke om die HERE te dien.
23 (102:24) Hy het my krag op die weg swak gemaak, my dae verkort.
24 (102:25) My God, sê ek, neem my nie weg in die helfte van my dae nie—u jare is van geslag tot geslag!
25 (102:26) In die voortyd het U die aarde gegrondves, en die hemele is die werk van u hande.
26 (102:27) Húlle sal vergaan, maar U sal bly; ja, hulle almal sal soos ‘n kleed verslyt; U verwissel hulle soos ‘n kledingstuk, en hulle verdwyn.
27 (102:28) Maar U bly dieselfde, en u jare het geen einde nie.
28 (102:29) Die kinders van u knegte sal woon, en hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan.




Hoofstuk 103

1 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
3 Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,
4 wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,
5 wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ‘n arend.
6 Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.
7 Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.
8 Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.
10 Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
11 Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
13 Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.
14 Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.
15 Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy.
16 As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.
17 Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders,
18 vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.
19 Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.
20 Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!
21 Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!
22 Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!




Hoofstuk 104

1 Loof die HERE, o my siel! HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed—
2 wat Uself omhul met die lig soos met ‘n kleed, wat die hemel uitspan soos ‘n tentdoek;
3 wat sy solders bou in die waters, wat van die wolke sy wa maak, wat op die vleuels van die wind wandel,
4 wat van die winde sy boodskappers maak, van vuurvlamme sy dienaars.
5 Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.
6 U het dit met die wêreldvloed soos met ‘n kleed oordek; die waters het bo-oor die berge gestaan.
7 Vir u dreiging het hulle gevlug, vir die stem van u donder het hulle weggeskrik—
8 berge het opgerys, laagtes het weggesak—na die plek wat U vir hulle reggemaak het.
9 ‘n Grens het U gestel waar hulle nie oor mag gaan nie; hulle mag die aarde nie weer oordek nie.
10 Hy wat die fonteine uitstuur in die holtes: tussen die berge loop hulle deur.
11 Hulle laat al die diere van die veld drink; die wilde-esels les hulle dors.
12 By hulle woon die voëls van die hemel; tussen die takke uit laat hulle die stem hoor.
13 Hy laat die berge drink uit sy boonste kamers; die aarde word versadig uit die vrug van u werke.
14 Hy laat gras uitspruit vir die diere en die plante tot diens van die mens: om broodkoring uit die aarde te laat voortkom,
15 en dat wyn die mens se hart kan bly maak; om die aangesig te laat blink van olie, en dat brood die mens se hart kan versterk.
16 Die bome van die HERE word versadig, die seders van die Líbanon wat Hy geplant het;
17 waar die voëls hulle neste maak, die ooievaar wie se huis die sipresse is.
18 Die hoë berge is vir die steenbokke, die rotse is ‘n skuilplek vir die dasse.
19 Hy het die maan gemaak vir die vaste tye; die son ken sy tyd om onder te gaan.
20 U beskik die duisternis, en dit word nag, waarin al die diere van die bos uitkruip.
21 Die jong leeus brul om roof en begeer hulle voedsel van God.
22 As die son opgaan, dan trek hulle hul terug en gaan lê in hul slaapplekke.
23 Die mens gaan uit na sy werk en na sy arbeid tot die aand toe.
24 Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!
25 Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ‘n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.
26 Daar gaan die skepe en die Leviátan wat U geformeer het om daarin te speel.
27 Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd.
28 U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie.
29 U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.
30 U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.
31 Laat die heerlikheid van die HERE vir ewig wees, laat die HERE bly wees oor sy werke,
32 Hy wat die aarde aankyk, en dit bewe; Hy raak die berge aan, en hulle rook.
33 Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.
34 Mag my oordenking Hom welgevallig wees; ék sal bly wees in die HERE!
35 Mag die sondaars omkom van die aarde en die goddelose mense nie meer wees nie! Loof die HERE, o my siel! Halleluja!




Hoofstuk 105

1 Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.
2 Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.
3 Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees.
4 Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
5 Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond,
6 o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!
7 Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele.
8 Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte—
9 die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
10 wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ‘n ewige verbond,
11 met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.
12 Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin,
13 en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk,
14 het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
15 Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
16 En Hy het ‘n hongersnood oor die land geroep: elke staf van brood het Hy verbreek.
17 Hy het ‘n man voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.
18 Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom,
19 tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar het.
20 Die koning het gestuur en hom losgemaak, die heerser van die volke, en hom losgelaat.
21 Hy het hom aangestel as heer oor sy huis en as heerser oor al sy goed;
22 om sy vorste te bind na sy begeerte, en aan sy oudstes moes hy wysheid leer.
23 Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam.
24 En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders.
25 Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel.
26 Hy het Moses, sy kneg, gestuur en Aäron wat Hy uitgekies het.
27 Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam.
28 Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie.
29 Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe.
30 Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings.
31 Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied.
32 Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land.
33 En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek.
34 Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal,
35 wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond.
36 Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag.
37 Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.
38 Egipte was bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval.
39 Hy het ‘n wolk uitgebrei as bedekking en vuur om die nag te verlig.
40 Hulle het gebid: toe laat Hy kwartels kom; en Hy het hulle versadig met hemelbrood.
41 Hy het ‘n rots oopgemaak, en waters het gevloei; dit het geloop deur die dor plekke—’n rivier!
42 Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg.
43 En Hy het sy volk laat uitgaan met vreugde, sy uitverkorenes met gejubel.
44 En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem,
45 dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja!




Hoofstuk 106

1 Halleluja! Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
2 Wie kan die magtige dade van die HERE uitspreek, al sy roem verkondig?
3 Welgeluksalig is hulle wat die reg bewaar, die wat altyd geregtigheid doen.
4 Dink aan my, o HERE, na die welbehae in u volk, besoek my met u heil,
5 dat ek kan aanskou die geluk van u uitverkorenes, dat ek bly kan wees in die blydskap van u volk, my kan beroem met u erfdeel.
6 Ons het gesondig, saam met ons vaders; ons het verkeerd gedoen, goddeloos gehandel.
7 Ons vaders in Egipte het nie ag gegee op u wonders, hulle het nie gedink aan die menigte van u goedertierenhede nie, maar was wederstrewig by die see, by die Skelfsee.
8 Maar Hy het hulle verlos om sy Naam ontwil, om sy mag bekend te maak.
9 En Hy het die Skelfsee gedreig, sodat dit opgedroog het, en hulle deur die watervloede laat gaan soos deur ‘n woestyn.
10 En Hy het hulle verlos uit die hand van die hater en hulle bevry uit die hand van die vyand.
11 En die waters het hulle teëstanders oordek: nie een van hulle het oorgebly nie.
12 Toe het hulle aan sy woorde geglo, hulle het sy lof gesing.
13 Maar hulle het gou sy werke vergeet, op sy raadsbesluit nie gewag nie.
14 En hulle het baie begerig geword in die woestyn en God versoek in die wildernis.
15 Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur.
16 En hulle was in die laer afgunstig op Moses, op Aäron, die heilige van die HERE.
17 Die aarde het oopgegaan en Datan verslind en die bende van Abíram oordek.
18 En ‘n vuur het gebrand onder hulle bende, ‘n vlam die goddelose aan die brand gesteek.
19 Hulle het by Horeb ‘n kalf gemaak en gebuig voor ‘n gegote beeld.
20 En hulle het hul Heerlikheid verruil vir die afbeelding van ‘n bees wat gras eet.
21 Hulle het God vergeet, hulle Verlosser, wat groot dinge gedoen het in Egipte,
22 wonders in die land van Gam, vreeslike dinge by die Skelfsee.
23 Toe het Hy gesê dat Hy hulle sou verdelg, as Moses, sy uitverkorene, nie voor sy aangesig in die bres gaan staan het om sy grimmigheid af te keer, dat Hy nie sou vernietig nie.
24 Hulle het ook die kosbare land versmaad, sy woord nie geglo nie;
25 en hulle het gemurmureer in hul tente, na die stem van die HERE nie geluister nie.
26 Toe het Hy sy hand teen hulle opgehef om hulle neer te slaan in die woestyn,
27 en om hulle nageslag te versprei onder die nasies en hulle te verstrooi in die lande.
28 Ook het hulle hul aan Baäl-Peor gekoppel en die offerandes aan die dooies geëet;
29 en hulle het die HERE geterg deur hul dade, sodat ‘n plaag onder hulle uitgebreek het.
30 Toe het Pínehas opgetree en gerig geoefen, en die plaag het opgehou;
31 en dit is hom gereken tot geregtigheid, van geslag tot geslag tot in ewigheid.
32 Hulle het Hom ook vertoorn by die waters van Mériba, en dit het met Moses sleg gegaan om hulle ontwil;
33 want hulle was wederstrewig teen sy Gees, sodat hy onverskillig gepraat het met sy lippe.
34 Hulle het die volke nie verdelg soos die HERE aan hulle gesê het nie,
35 maar hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer.
36 En hulle het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle ‘n strik geword.
37 Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer
38 en onskuldige bloed vergiet—die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het—sodat die land deur bloedskuld ontheilig is.
39 En hulle het onrein geword deur hul werke en gehoereer deur hul dade.
40 Toe het die toorn van die HERE ontvlam teen sy volk, en Hy het ‘n afsku gekry van sy erfdeel.
41 En Hy het hulle in die hand van die heidene gegee, en hulle haters het oor hulle geheers;
42 en hulle vyande het hulle verdruk, sodat hulle onder hul hand moes buig.
43 Hy het hulle baiekeer gered; maar húlle was wederstrewig in hulle voorneme. So het hulle dan weggesink deur hul ongeregtigheid.
44 Nogtans het Hy hulle benoudheid aangesien toe Hy hulle smeking gehoor het;
45 en Hy het tot hulle beswil aan sy verbond gedink en berou gekry na die veelheid van sy goedertierenhede.
46 En Hy het hulle medelyde laat vind by almal wat hulle as gevangenes weggevoer het.
47 Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons uit die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof!
48 Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! En laat die hele volk sê: Amen. Halleluja!




Hoofstuk 107

1 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
2 Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het
3 en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.
4 Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; ‘n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.
5 Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.
6 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.
7 En Hy het hulle gelei op ‘n regte pad om te gaan na ‘n stad om in te woon.
8 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
9 want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.
10 Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters—
11 omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,
12 het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.
13 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
14 Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.
15 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
16 want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
17 Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is—
18 hulle siel het ‘n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.
19 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
20 Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.
21 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
22 en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
23 Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters—
24 húlle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte.
25 Want Hy het gespreek en ‘n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.
26 Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes—hulle siel het vergaan van wee.
27 Hulle het getuimel en gewaggel soos ‘n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.
28 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.
29 Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.
30 Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.
31 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.
32 En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.
33 Hy het riviere ‘n woestyn gemaak en waterfonteine ‘n dorsland,
34 vrugbare land ‘n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.
35 Hy het die woestyn ‘n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;
36 en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het ‘n stad gestig om in te woon.
37 En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.
38 En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.
39 Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer—
40 Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in ‘n woeste wêreld, sonder pad—
41 Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.
42 Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.
43 Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die HERE.




Hoofstuk 108

1 ‘n Lied. ‘n Psalm van Dawid. (108:2) My hart is gerus, o God! Ek wil sing en psalmsing, ja, ook my eer.
2 (108:3) Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak.
3 (108:4) Ek wil U loof onder die volke, o HERE, en psalmsing tot u eer, onder die nasies;
4 (108:5) want u goedertierenheid is groot bo die hemel uit en u trou tot by die wolke.
5 (108:6) Verhef U bo die hemele, o God, en u heerlikheid bo die hele aarde!
6 (108:7) Dat u bemindes gered kan word—verlos deur u regterhand en verhoor ons!
7 (108:8) God het gespreek in sy heiligdom: Ek wil jubel, Ek wil Sigem verdeel en die dal van Sukkot afmeet.
8 (108:9) Gílead is myne, Manasse is myne, en Efraim is die beskutting van my hoof; Juda is my veldheerstaf.
9 (108:10) Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; oor Filistéa jubel Ek.
10 (108:11) Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie lei my tot in Edom?
11 (108:12) Het U, o God, ons nie verwerp nie? En U trek nie uit, o God, saam met ons leërs nie.
12 (108:13) Gee ons hulp teen die vyand, want die mens se hulp is vergeefse moeite.
13 (108:14) In God sal ons kragtige dade doen, en Hy self sal ons vyande vertrap.




Hoofstuk 109

1 Vir die musiekleier. Van Dawid. ‘n Psalm. o God van my lof, moenie swyg nie!
2 Want hulle het die mond van die goddelose en die mond van bedrog teen my oopgemaak; hulle het met my gespreek met ‘n leuenagtige tong,
3 en my met woorde van haat omring; ja, hulle het my sonder oorsaak beveg.
4 Vir my liefde behandel hulle my vyandig, terwyl ek tog gedurig bid.
5 En hulle het my kwaad vir goed opgelê en haat vir my liefde.
6 Stel ‘n goddelose oor hom en laat ‘n teëstander staan aan sy regterhand.
7 As hy geoordeel word, laat hom as skuldige uitgaan, en laat sy gebed sonde word.
8 Laat sy dae min wees; laat ‘n ander sy amp neem.
9 Laat sy kinders wese word en sy vrou ‘n weduwee;
10 en laat sy kinders oral rondswerwe en bedel en brood soek, weg van hulle puinhope af.
11 Laat die skuldeiser alles neem wat hy het, en laat vreemdes sy goed buitmaak.
12 Laat hom niemand hê wie se guns bestendig is, en laat niemand hom oor sy wese ontferm nie.
13 Laat sy nakomelinge uitgeroei word; laat hulle naam uitgedelg word in die volgende geslag.
14 Laat die HERE gedagtig wees aan die ongeregtigheid van sy vaders, en laat die sonde van sy moeder nie uitgedelg word nie.
15 Laat dié altyddeur voor die HERE wees, dat Hy hulle gedagtenis van die aarde af kan uitroei;
16 omdat hy nie daaraan gedink het om guns te bewys nie, maar die ellendige en behoeftige man vervolg het en die moedelose van hart, om hom dood te maak.
17 Ja, hy het die vloek liefgehad en—dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en—dit het ver van hom af gebly.
18 Hy het die vloek aangetrek soos ‘n kleed en—dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.
19 Laat dit vir hom wees soos ‘n kleed waarin hy hom toedraai, en ‘n gordel wat hy altyddeur ombind.
20 Laat dit die loon van my teëstanders wees vanweë die HERE, en van hulle wat kwaad spreek teen my.
21 Maar U, o HERE Here, maak dit goed met my om u Naam ontwil; omdat u goedertierenheid goed is, red my.
22 Want ek is ellendig en behoeftig, en my hart is deurwond in my binneste.
23 Ek gaan heen soos ‘n skaduwee as dit lank word; ek is afgeskud soos ‘n sprinkaan.
24 My knieë knik van vas, en my vlees het maer geword, sonder vet.
25 En ék het vir hulle ‘n smaad geword; as hulle my sien, skud hulle hul hoof.
26 Help my, HERE my God! Verlos my na u goedertierenheid,
27 sodat hulle kan weet dat dit u hand is: U, o HERE, het dit gedoen.
28 Laat húlle vloek, maar U, seën U. Hulle het opgestaan en beskaamd geword, maar u kneg is bly.
29 Laat my teëstanders beklee word met smaad en hulle toedraai in hul skande soos in ‘n mantel.
30 Ek sal die HERE hardop loof met my mond, en onder baie sal ek Hom prys;
31 want Hy staan aan die regterhand van die behoeftige om hom te verlos van die wat hom veroordeel.




Hoofstuk 110

1 Van Dawid. ‘n Psalm. Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.
2 U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.
3 U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe.
4 Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.
5 Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn.
6 Hy sal ‘n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel ‘n hoof oor ‘n groot land.
7 Uit die stroom sal Hy drink op die pad; daarom sal Hy die hoof ophef.




Hoofstuk 111

1 Halleluja! Alef. Ek wil die HERE loof van ganser harte; Bet. in die kring van die opregtes en in die vergadering.
2 Gimel. Die werke van die HERE is groot; Dalet. nagespeur word hulle deur almal wat daar ‘n welbehae in het.
3 He. Sy dade is majesteit en heerlikheid; Wau. en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid.
4 Sajin. Hy het vir sy wonders ‘n gedagtenis gestig; Get. die HERE is genadig en barmhartig.
5 Tet. Aan die wat Hom vrees, het Hy spys gegee; Jod. Hy dink vir ewig aan sy verbond.
6 Kaf. Hy het die krag van sy werke aan sy volk bekend gemaak, Lamed. deur hulle die erfdeel van die heidene te gee.
7 Mem. Die werke van sy hande is trou en reg; Noen. al sy bevele is betroubaar.
8 Samek. Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig; Ajin. uitgevoer in trou en opregtheid.
9 Pe. Hy het aan sy volk verlossing gestuur; Sade. Hy het sy verbond vir ewig ingestel; Kof. sy Naam is heilig en vreeslik.
10 Resj. Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; Sin. almal wat dit beoefen, het ‘n goeie verstand. Tau. Sy lof bestaan tot in ewigheid.




Hoofstuk 112

1 Halleluja! Alef. Welgeluksalig is die man wat die HERE vrees, Bet. wat ‘n groot welbehae in sy gebooie het.
2 Gimel. Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde; Dalet. die geslag van die opregtes sal geseën word.
3 He. Oorvloed en rykdom is in sy huis; Wau. en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid.
4 Sajin. Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis: Get. genadig en barmhartig en regverdig.
5 Tet. Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen, Jod. wat sy sake volgens reg besorg.
6 Kaf. Want hy sal nooit wankel nie; Lamed. die regverdige sal in ewige gedagtenis wees.
7 Mem. Hy vrees nie vir slegte tyding nie; Noen. sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE.
8 Samek. Vas is sy hart, hy vrees nie. Ajin. totdat hy op sy teëstanders neersien.
9 Pe. Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges; Sade. sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid; Kof. sy horing word verhoog in eer.
10 Resj. Die goddelose sien dit en is vererg; Sjin. hy kners met sy tande en smelt weg; Tau. die begeerte van die goddelose mense vergaan.




Hoofstuk 113

1 Halleluja! Loof, o knegte van die HERE, loof die Naam van die HERE!
2 Laat die Naam van die HERE geprys word, van nou af tot in ewigheid!
3 Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word!
4 Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid.
5 Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon,
6 wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?
7 Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef;
8 om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk.
9 Wat die onvrugbare van die huis laat woon—’n blye moeder van kinders. Halleluja!




Hoofstuk 114

1 Toe Israel uit Egipte getrek het, die huis van Jakob uit ‘n volk met ‘n vreemde taal,
2 het Juda sy heiligdom geword, Israel sy ryksgebied.
3 Die see het dit gesien en gevlug; die Jordaan het agteruitgewyk.
4 Die berge het rondgespring soos ramme, die heuwels soos lammers.
5 Wat is dit met jou, o see, dat jy vlug? o Jordaan, dat jy agteruitwyk?
6 o Berge, dat julle rondspring soos ramme? o Heuwels, soos lammers?
7 Beef, aarde, voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die God van Jakob,
8 wat die rots verander het in ‘n waterplas, die keisteen in ‘n waterfontein!




Hoofstuk 115

1 Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil.
2 Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God?
3 terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag.
4 Hulle afgode is silwer en goud, ‘n werk van mensehande.
5 Hulle het ‘n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie;
6 ore het hulle, maar hoor nie; hulle het ‘n neus, maar ruik nie;
7 hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie.
8 Die wat hulle maak, sal net soos hulle word—elkeen wat op hulle vertrou.
9 Israel, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild!
10 Huis van Aäron, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild!
11 Julle wat die HERE vrees, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild.
12 Die HERE het aan ons gedink: Hy sal seën, Hy sal die huis van Israel seën, Hy sal die huis van Aäron seën.
13 Hy sal diegene seën wat die HERE vrees, die kleintjies saam met die grotes.
14 Die HERE sal julle vermenigvuldig, julle en jul kinders.
15 Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
16 Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.
17 Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie;
18 maar óns sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid. Halleluja!




Hoofstuk 116

1 Ek het lief, want die HERE hoor my stem, my smekinge,
2 want Hy het sy oor tot my geneig; daarom sal ek Hom in my dae aanroep.
3 Bande van die dood het my omring, en angste van die doderyk het my getref; ek het benoudheid en kommer gevind.
4 Maar ek het die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel.
5 Die HERE is genadig en regverdig, en onse God is ‘n ontfermer.
6 Die HERE bewaar die eenvoudiges; ek het swak geword, maar Hy het my gehelp.
7 My siel, keer terug tot jou rus; want die HERE het goed aan jou gedoen.
8 Want U het my siel gered van die dood, my oog van trane, my voet van struikeling.
9 Ek sal wandel voor die aangesig van die HERE in die lande van die lewendes.
10 Ek het geglo toe ek gespreek het: Ek is diep neergebuig.
11 Ék het in my angs gesê: Alle mense is leuenaars.
12 Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my?
13 Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die HERE aanroep.
14 My geloftes sal ek aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk.
15 Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.
16 Ag, HERE, sekerlik, ek is u kneg, ek is u kneg, die seun van u diensmaagd; U het my bande losgemaak.
17 Ek sal U ‘n offer van danksegging bring en die Naam van die HERE aanroep.
18 Ek sal my geloftes aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk,
19 in die voorhowe van die huis van die HERE, binne-in jou, o Jerusalem! Halleluja!




Hoofstuk 117

1 Loof die HERE, alle nasies! Prys Hom, alle volke!
2 Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die HERE is tot in ewigheid. Halleluja!




Hoofstuk 118

1 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
2 Laat Israel dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is!
3 Laat die huis van Aäron dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is!
4 Laat die wat die HERE vrees, dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is!
5 Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte.
6 Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ‘n mens my doen?
7 Die HERE is vír my as my helper; so sal ék dan neersien op die wat my haat.
8 Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou.
9 Dit is beter om by die HERE te skuil as om op edeles te vertrou.
10 Al die heidene het my omsingel; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het.
11 Hulle het my omsingel, ja, hulle het my omsingel; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het.
12 Hulle het my omsingel soos bye—hulle is uitgeblus soos ‘n doringtakvuur; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het.
13 Jy het my hard gestamp om my te laat val, maar die HERE het my gehelp.
14 Die HERE is my sterkte en psalm, en Hy het my tot heil geword.
15 ‘n Stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges: die regterhand van die HERE doen kragtige dade.
16 Die regterhand van die HERE verhef; die regterhand van die HERE doen kragtige dade.
17 Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel.
18 Die HERE het my hard gekasty, maar my aan die dood nie oorgegee nie.
19 Maak oop vir my die poorte van die geregtigheid; ek wil daardeur ingaan, ek wil die HERE loof.
20 Dit is die poort van die HERE; regverdiges mag daardeur ingaan.
21 Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil geword het.
22 Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.
23 Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë.
24 Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.
25 Ag, HERE, gee tog heil; ag, HERE, gee tog voorspoed!
26 Geseënd is hy wat kom in die Naam van die HERE! Ons seën julle uit die huis van die HERE.
27 Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee. Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.
28 U is my God, en ek wil U loof; o my God, ek wil U verhoog.
29 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!




Hoofstuk 119

1 Alef. Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel.
2 Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek;
3 ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel.
4 U het u bevele gegee om dit trou te onderhou.
5 Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou!
6 Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie.
7 Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer.
8 Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie.
9 Bet. Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord.
10 Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie.
11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
12 Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge!
13 Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond.
14 Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom.
15 Ek wil u bevele oordink en op u paaie let.
16 Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.
17 Gimel. Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar.
18 Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet.
19 Ek is ‘n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie.
20 My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.
21 U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal.
22 Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar.
23 Al sit vorste en beraadslaag teen my—u kneg oordink u insettinge.
24 Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.
25 Dalet. My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord.
26 My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!
27 Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink.
28 My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord.
29 Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet.
30 Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel.
31 Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie!
32 Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart.
33 He. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.
34 Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.
35 Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ‘n behae.
36 Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie.
37 Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë.
38 Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees.
39 Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed.
40 Gewis, ek het ‘n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid.
41 Wau. En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte,
42 sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord.
43 En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek.
44 Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd,
45 en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.
46 Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie.
47 En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet,
48 en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.
49 Sajin. Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het.
50 Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak.
51 Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie.
52 Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos.
53 Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat.
54 U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap.
55 HERE, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou.
56 Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het.
57 Get. Die HERE is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar.
58 Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte.
59 Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse.
60 Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou.
61 Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie.
62 Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge.
63 Ek is ‘n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou.
64 HERE, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge.
65 Tet. U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord.
66 Leer my ‘n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie.
67 Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord.
68 U is goed en doen goed; leer my u insettinge.
69 Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele.
70 Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet.
71 Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.
72 Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer.
73 Jod. U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer.
74 Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek.
75 Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het.
76 Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg.
77 Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging.
78 Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele.
79 Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken.
80 Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie.
81 Kaf. My siel smag na u heil; op u woord wag ek.
82 My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos?
83 Want ek het geword soos ‘n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie.
84 Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers?
85 Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie.
86 Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my!
87 Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie.
88 Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou.
89 Lamed. Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele.
90 U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan.
91 Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte.
92 As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende.
93 Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak.
94 Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele.
95 Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse.
96 Aan alle volmaaktheid het ek ‘n einde gesien, maar u gebod is baie wyd.
97 Mem. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.
98 U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig.
99 Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing.
100 Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele.
101 Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar.
102 Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want U het my geleer.
103 Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond.
104 Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.
105 Noen. U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.
106 Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou.
107 Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord!
108 Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge.
109 My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie.
110 Die goddelose het vir my ‘n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie.
111 Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart.
112 Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe.
113 Samek. Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief.
114 U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.
115 Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar!
116 Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie.
117 Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let.
118 U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens.
119 U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief.
120 My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele.
121 Ajin. Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie.
122 Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie.
123 My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid.
124 Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge.
125 Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken.
126 Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek.
127 Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud.
128 Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek.
129 Pe. U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle.
130 Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig.
131 Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek.
132 Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet.
133 Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie.
134 Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou.
135 Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge.
136 My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie.
137 Sade. HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge.
138 In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou.
139 My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het.
140 U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief.
141 Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie.
142 U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid.
143 Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging.
144 U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe.
145 Kof. Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar.
146 Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou.
147 Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek.
148 My oë is die nagwake voor om u woord te oordink.
149 Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge.
150 Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is.
151 U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid.
152 Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het.
153 Resj. Sien my ellende aan en red my, want u wet vergeet ek nie.
154 Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend volgens u belofte.
155 Die heil is ver van die goddelose, want hulle soek u insettinge nie.
156 HERE, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge.
157 My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie.
158 Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie.
159 Aanskou dat ek u bevele liefhet; o HERE, maak my lewend na u goedertierenheid.
160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
161 Sin, Sjin. Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord.
162 Ek is vrolik oor u belofte soos een wat ‘n groot buit vind.
163 Leuens haat ek en het daar ‘n afsku van; u wet het ek lief.
164 Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge.
165 Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.
166 o HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie.
167 My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief.
168 Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U.
169 Tau. o HERE, laat my smeking nader kom voor u aangesig; maak my verstandig volgens u woord.
170 Laat my smeking voor u aangesig kom; red my volgens u belofte.
171 My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my u insettinge.
172 My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid.
173 Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies.
174 o HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging.
175 Laat my siel lewe, dat dit U kan loof; en laat u gerigte my help.
176 Ek het gedwaal soos ‘n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie.




Hoofstuk 120

1 ‘n Bedevaartslied. Ek roep die HERE aan in my benoudheid, en Hy verhoor my.
2 o HERE, red my siel van die valse lippe, van die bedrieglike tong!
3 Wat sal Hy jou gee of wat vir jou daaraan toevoeg, o bedrieglike tong?
4 Skerp pyle van ‘n held saam met gloeiende kole van besembosse.
5 Wee my dat ek as vreemdeling vertoef in Meseg, dat ek by die tente van Kedar woon!
6 Te lank al woon my siel by die wat die vrede haat.
7 Ek is vredeliewend; maar as ek spreek, is hulle op oorlog uit.




Hoofstuk 121

1 ‘n Bedevaartslied. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?
2 My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
3 Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.
4 Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.
5 Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.
6 Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie.
7 Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.
8 Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.




Hoofstuk 122

1 ‘n Bedevaartslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!
2 Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem!
3 Jerusalem wat gebou is soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is,
4 waarheen die stamme optrek, die stamme van die HERE—’n voorskrif vir Israel! —om die Naam van die HERE te loof.
5 Want daar staan die stoele vir die gereg, die stoele van die huis van Dawid.
6 Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!
7 Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise!
8 Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou!
9 Ter wille van die huis van die HERE onse God wil ek die goeie vir jou soek.




Hoofstuk 123

1 ‘n Bedevaartslied. Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon.
2 Kyk, soos die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres—so is ons oë op die HERE onse God, totdat Hy ons genadig is.
3 Wees ons genadig, o HERE, wees ons genadig, want meer as versadig is ons van veragting;
4 meer as versadig is ons siel van die spot van die oormoediges, van die veragting van die trotsaards!




Hoofstuk 124

1 ‘n Bedevaartslied. Van Dawid. As die HERE nie vir ons was nie—laat Israel dit sê—
2 as die HERE nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie,
3 dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het;
4 dan het die waters ons oorstroom, ‘n stroom het oor ons siel gegaan;
5 dan het die trotse waters oor ons siel gegaan.
6 Geloofd sy die HERE wat ons aan hulle tande nie as buit oorgegee het nie!
7 Ons siel het vrygeraak soos ‘n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet is gebreek, en ons, ons het vrygeraak.
8 Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.




Hoofstuk 125

1 ‘n Bedevaartslied. Die wat op die HERE vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, maar bly tot in ewigheid.
2 Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.
3 Want die septer van goddeloosheid sal nie rus op die erfdeel van die regverdiges nie, sodat die regverdiges hulle hande nie sal uitsteek na onreg nie.
4 HERE, doen goed aan die goeies en aan die wat opreg is in hulle harte.
5 Maar die wat langs krom paaie wegdraai, sal die HERE laat vergaan saam met die werkers van ongeregtigheid. Vrede oor Israel!




Hoofstuk 126

1 ‘n Bedevaartslied. Toe die HERE die lot van Sion verander het, was ons soos die wat droom.
2 Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Die HERE het groot dinge aan hierdie mense gedoen.
3 Die HERE het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!
4 o HERE, verander ons lot soos waterstrome in die Suidland.
5 Die wat met trane saai, sal met gejubel maai.
6 Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.




Hoofstuk 127

1 ‘n Bedevaartslied. Van Salomo. As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.
2 Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!
3 Kyk, seuns is ‘n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ‘n beloning.
4 Soos pyle in die hand van ‘n held, so is die seuns van die jeug.
5 Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die poort spreek nie.




Hoofstuk 128

1 ‘n Bedevaartslied. Welgeluksalig is elkeen wat die HERE vrees, wat in sy weë wandel!
2 Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed!
3 Jou vrou is soos ‘n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel.
4 Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees.
5 Mag die HERE jou seën uit Sion, dat jy die voorspoed van Jerusalem mag aanskou al die dae van jou lewe!
6 En dat jy jou kindskinders mag aanskou! Vrede oor Israel!




Hoofstuk 129

1 ‘n Bedevaartslied. Alreeds te veel het hulle my as vyand behandel van my jeug af—laat Israel dit sê—
2 alreeds te veel het hulle my as vyand behandel van my jeug af; tog het hulle my nie oorwin nie.
3 Ploeërs het op my rug geploeg; hulle het hul vore lank getrek.
4 Die HERE is regverdig: Hy het die toue van die goddelose afgekap.
5 Laat hulle beskaamd staan en agteruitwyk, almal wat Sion haat.
6 Laat hulle word soos gras op die dakke wat verdor voordat ‘n mens dit uittrek,
7 waarmee die maaier sy hand en die gerwebinder sy arm nie vul nie.
8 Sodat die wat verbygaan, nie sê nie: Die seën van die HERE oor julle! Ons seën julle in die Naam van die HERE.




Hoofstuk 130

1 ‘n Bedevaartslied. Uit die dieptes roep ek U aan, o HERE!
2 Here, hoor na my stem; laat u ore luister na die stem van my smekinge.
3 As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?
4 Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word.
5 Ek wag op die HERE; my siel wag, en ek hoop op sy woord.
6 My siel wag op die Here meer as wagters op die môre, wagters op die môre.
7 Wag op die HERE, o Israel! want by die HERE is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing;
8 en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede.




Hoofstuk 131

1 ‘n Bedevaartslied. Van Dawid. o HERE, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.
2 Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ‘n gespeende kind by sy moeder, soos ‘n gespeende kind is my siel in my.
3 Wag op die HERE, o Israel, van nou af tot in ewigheid!




Hoofstuk 132

1 ‘n Bedevaartslied. o HERE, dink aan Dawid, aan al sy moeite;
2 dat hy aan die HERE gesweer het, hierdie gelofte gedoen het aan die Magtige van Jakob:
3 Sekerlik sal ek nie ingaan in die tent van my woning of klim op die bed wat vir my gesprei is nie;
4 sekerlik sal ek my oë geen slaap gun, aan my ooglede geen sluimering nie,
5 totdat ek ‘n plek vind vir die HERE, ‘n woning vir die Magtige van Jakob!
6 Kyk, ons het daarvan gehoor in Éfrata; ons het dit gevind in die velde van Jaär.
7 Laat ons na sy woning gaan, ons neerbuig voor die voetbank van sy voete.
8 Staan op na u rusplek, HERE, U en die ark van u sterkte!
9 Laat u priesters bekleed wees met geregtigheid, en laat u gunsgenote jubel.
10 Wys u gesalfde nie af nie, ter wille van Dawid, u kneg.
11 Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon.
12 As jou seuns my verbond hou en my getuienisse wat Ek hulle leer, dan sal húlle seuns ook vir ewig op jou troon sit.
13 Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê:
14 Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.
15 Sy voedsel sal Ek ryklik seën, sy behoeftiges versadig met brood;
16 en sy priesters sal Ek met heil beklee, en sy gunsgenote sal vrolik jubel.
17 Daar sal Ek vir Dawid ‘n horing laat uitspruit; Ek het vir my gesalfde ‘n lamp toeberei.
18 Ek sal sy vyande met skaamte beklee, maar op hom sal sy kroon skitter.




Hoofstuk 133

1 ‘n Bedevaartslied. Van Dawid. Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!
2 Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere.
3 Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid!




Hoofstuk 134

1 ‘n Bedevaartslied. Kom, loof die HERE, o alle knegte van die HERE wat snags in die huis van die HERE staan!
2 Hef julle hande op na die heiligdom, en loof die HERE!
3 Mag die HERE jou seën uit Sion, Hy wat hemel en aarde gemaak het!




Hoofstuk 135

1 Halleluja! Prys die Naam van die HERE! Prys, o knegte van die HERE,
2 wat staan in die huis van die HERE, in die voorhowe van die huis van onse God!
3 Loof die HERE, want die HERE is goed; psalmsing tot eer van sy Naam, want dié is lieflik!
4 Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom.
5 Waarlik, ék weet dat die HERE groot en onse Here bo alle gode is.
6 Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes.
7 Hy wat die dampe laat opgaan van die einde van die aarde af, bliksemstrale by die reën maak, die wind uit sy skatkamers laat uitgaan;
8 wat die eersgeborenes van Egipte getref het, van mense sowel as van vee;
9 wat tekens en wonders gestuur het binne-in jou, o Egipte, teen Farao en teen al sy knegte;
10 wat baie nasies verslaan het en magtige konings gedood het:
11 Sihon, die koning van die Amoriete, en Og, die koning van Basan, en al die koninkryke van Kanaän,
12 en hulle land as erfdeel gegee het, as erfdeel aan Israel, sy volk.
13 o HERE, u Naam is tot in ewigheid, u gedenknaam, HERE, van geslag tot geslag!
14 Want die HERE sal aan sy volk reg doen en medelyde hê met sy knegte.
15 Die afgode van die heidene is silwer en goud, ‘n werk van mensehande.
16 Hulle het ‘n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie;
17 ore het hulle, maar hoor nie; ook is daar geen asem in hulle mond nie.
18 Die wat hulle maak, sal net soos hulle word—elkeen wat op hulle vertrou.
19 Huis van Israel, loof die HERE! Huis van Aäron, loof die HERE!
20 Huis van Levi, loof die HERE! Julle wat die HERE vrees, loof die HERE!
21 Geloofd sy die HERE uit Sion, Hy wat in Jerusalem woon! Halleluja!




Hoofstuk 136

1 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
2 Loof die God van die gode, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
3 Loof die Here der here, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid—
4 Hy wat alleen groot wonders doen, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
5 Wat die hemele met verstand gemaak het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
6 Wat die aarde op die water uitgespan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
7 Wat die groot ligte gemaak het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
8 Die son om te heers oor die dag, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
9 Die maan en sterre om te heers oor die nag, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
10 Wat die Egiptenaars getref het in hulle eersgeborenes, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
11 En Israel onder hulle uitgelei het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
12 Met ‘n sterk hand en met ‘n uitgestrekte arm, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
13 Wat die Skelfsee in stukke gesny het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
14 En Israel daar dwarsdeur laat gaan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
15 En Farao saam met sy leër in die Skelfsee gestort het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
16 Wat sy volk deur die woestyn gelei het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
17 Wat groot konings verslaan het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
18 En geweldige konings gedood het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
19 Sihon, die koning van die Amoriete, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
20 En Og, die koning van Basan, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
21 En hulle land as erfdeel gegee het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
22 As erfdeel aan Israel, sy kneg, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
23 Wat in ons vernedering aan ons gedink het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
24 En ons van ons teëstanders losgeruk het, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
25 Wat voedsel gee aan alle vlees, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
26 Loof die God van die hemel, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.




Hoofstuk 137

1 By die riviere van Babel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Sion dink.
2 Aan die wilgerbome wat daarin is, het ons ons siters opgehang.
3 Want daar het hulle wat ons as gevangenes weggevoer het, van ons die woorde van ‘n lied gevra en hulle wat ons verdruk het, vreugde, deur te sê: Sing vir ons ‘n Sionslied.
4 Hoe sou ons die lied van die HERE kan sing in ‘n vreemde land?
5 As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet!
6 Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.
7 HERE, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!
8 o Dogter van Babel, jy verwoeste, gelukkig is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het!
9 Gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots!




Hoofstuk 138

1 ‘n Psalm van Dawid. Ek sal U loof met my hele hart; in die teenwoordigheid van die gode sal ek psalmsing tot u eer.
2 Ek sal my neerbuig na u heilige paleis en u Naam loof, om u goedertierenheid en om u trou ontwil; want U het vanweë u ganse Naam u toesegging groot gemaak.
3 Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel.
4 Al die konings van die aarde sal U loof, o HERE, as hulle gehoor het die woorde van u mond;
5 en hulle sal sing van die weë van die HERE, want die heerlikheid van die HERE is groot.
6 Want die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte.
7 As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my.
8 Die HERE sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid: laat nie vaar die werke van u hande nie!




Hoofstuk 139

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.
2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.
3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.
4 Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.
5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.
6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.
7 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?
8 Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!
9 Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,
10 ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.
11 En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,
12 dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.
13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.
14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.
15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
17 Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!
18 Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.
19 o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!
20 Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!
21 HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ‘n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?
22 Ek haat hulle met ‘n volkome haat; vyande is hulle vir my!
23 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;
24 en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!




Hoofstuk 140

1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. (140:2) Red my, HERE, van die kwaaddoeners, bewaar my vir die manne van geweld;
2 (140:3) wat slegte dinge in die hart bedink, wat elke dag stryd verwek.
3 (140:4) Hulle maak hul tong skerp soos ‘n slang; gif van ‘n adder is onder hulle lippe. Sela.
4 (140:5) Bewaar my, HERE, vir die hande van die goddelose; behoed my vir die manne van geweld wat planne beraam om my voete weg te stoot.
5 (140:6) Trotsaards het vir my ‘n vangnet gespan en toue; hulle het ‘n net uitgespan aan die kant van die pad; strikke het hulle vir my gestel. Sela.
6 (140:7) Ek het tot die HERE gesê: U is my God; luister tog, HERE, na die stem van my smekinge!
7 (140:8) HERE Here, Sterkte van my heil, U beskut my hoof in die dag van stryd!
8 (140:9) HERE, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul verhef nie. Sela.
9 (140:10) Wat betref die hoof van die wat my omring—laat die onheil van hulle lippe hulle oordek.
10 (140:11) Laat vurige kole op hulle afgegooi word; mag Hy hulle laat val in die vuur, in kuile, sodat hulle nie weer opstaan nie!
11 (140:12) Laat die kwaadspreker nie op aarde bevestig word nie; die man van geweld—laat die ongeluk hom jaag met slag op slag.
12 (140:13) Ek weet dat die HERE die regsaak van die ellendige, die reg van die behoeftiges sal behartig.
13 (140:14) Sekerlik, die regverdiges sal u Naam loof, die opregtes sal voor u aangesig woon.




Hoofstuk 141

1 ‘n Psalm van Dawid. HERE, ek roep U aan; kom tog gou na my toe; luister na my stem as ek U aanroep.
2 Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.
3 HERE, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.
4 Neig my hart nie tot iets wat sleg is, om in goddeloosheid dinge te doen saam met manne wat ongeregtigheid werk nie; en laat my van hulle lekkernye nie eet nie.
5 Laat die regverdige my met liefde slaan en my tugtig—hoofsalf sal my hoof nie weier nie; want nog is my gebed teen hulle booshede.
6 As hulle regters aan die kant van die rots afgegooi word, dan sal hulle hoor dat my woorde lieflik is.
7 Soos ‘n mens in die aarde vore en skeure trek, is ons beendere gestrooi by die mond van die doderyk.
8 Want op U is my oë, HERE Here; by U skuil ek: giet my siel nie uit nie!
9 Bewaar my vir die mag van die vangnet van die wat vir my strikke stel, en vir die strikke van die werkers van ongeregtigheid.
10 Laat die goddelose in hulle vangkuile val, almal saam, terwyl ék verbygaan!




Hoofstuk 142

1 ‘n Onderwysing van Dawid, toe hy in die spelonk was. ‘n Gebed. (142:2) Hardop roep ek die HERE aan, hardop smeek ek die HERE.
2 (142:3) Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend.
3 (142:4) As my gees in my versmag, dan ken U my pad. Op die pad wat ek moet gaan, het hulle ‘n vangnet vir my gespan.
4 (142:5) Ek sien uit na regs en kyk, maar daar is niemand wat my ken nie; die toevlug is vir my verlore; niemand vra na my nie.
5 (142:6) Ek roep U aan, o HERE! Ek sê: U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.
6 (142:7) Luister na my smeking, want ek is baie swak; red my van my vervolgers, want hulle is vir my te sterk.
7 (142:8) Lei my siel uit die gevangenis om u Naam te loof. Die regverdiges sal my omring as U aan my goed doen.




Hoofstuk 143

1 ‘n Psalm van Dawid. o HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid.
2 En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.
3 Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is.
4 En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste.
5 Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande.
6 Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos ‘n uitgedorde land. Sela.
7 Verhoor my tog gou, HERE: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie.
8 Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U.
9 Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek.
10 Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land.
11 o HERE, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid.
12 En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg.




Hoofstuk 144

1 ‘n Psalm van Dawid. Geloofd sy die HERE, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te voer—
2 my goedertierenheid en my bergvesting, my skans en my redder, my skild en die Een by wie ek skuil, wat my volk aan my onderwerp.
3 o HERE, wat is die mens dat U hom ken, die mensekind dat U op hom ag gee?
4 Die mens is soos die nietigheid; sy dae is soos ‘n vlugtige skaduwee.
5 Buig u hemele, HERE, en daal neer; raak die berge aan, dat hulle rook!
6 Slinger bliksems en verstrooi hulle; stuur u pyle uit en verwar hulle!
7 Strek uit die hoogte u hande uit; ruk my uit, en red my uit groot waters, uit die hand van vreemdes,
8 wie se mond leuens spreek en wie se regterhand ‘n regterhand van bedrog is.
9 o God, ek wil ‘n nuwe lied sing tot u eer, op die tiensnarige harp wil ek U psalmsing.
10 U wat aan konings die oorwinning gee, wat u kneg Dawid ontruk aan die gevaarlike swaard.
11 Ruk my uit en red my uit die hand van vreemdes, wie se mond leuens spreek en wie se regterhand ‘n regterhand van bedrog is;
12 sodat ons seuns soos plante mag wees wat opgekweek is in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare wat uitgebeitel is na die boustyl van ‘n paleis;
13 dat ons skure vol mag wees, wat allerhande soorte voorraad oplewer; ons kleinvee by duisende mag aanteel, by tien duisende vermeerder word op ons velde;
14 ons beeste gelaai mag wees; geen bres in ons mure en geen uittog daaruit, en geen geskreeu op ons pleine nie.
15 Welgeluksalig is die volk met wie dit so gaan; welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is!




Hoofstuk 145

1 ‘n Loflied van Dawid. Alef. o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd.
2 Bet. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.
3 Gimel. Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.
4 Dalet. Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade.
5 He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade.
6 Wau. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel.
7 Sajin. Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.
8 Get. Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
9 Tet. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke.
10 Jod. Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U.
11 Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag,
12 Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk.
13 Mem. U koninkryk is ‘n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.
14 Samek. Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is.
15 Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd.
16 Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.
17 Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke.
18 Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.
19 Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.
20 Sjin. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.
21 Tau. My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.




Hoofstuk 146

1 Halleluja! Loof die HERE, o my siel!
2 Ek wil die HERE prys solank as ek lewe; ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek nog daar is.
3 Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.
4 Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.
5 Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God,
6 wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid;
7 wat aan die verdruktes reg doen, wat aan die hongeriges brood gee. Die HERE maak die gevangenes los.
8 Die HERE open die oë van die blindes; die HERE rig die wat geboë is, op; die HERE het die regverdiges lief.
9 Die HERE behoed die vreemdelinge; Hy rig wees en weduwee weer op; maar die weg van die goddelose maak Hy krom.
10 Die HERE is vir ewig Koning; jou God, o Sion, is van geslag tot geslag! Halleluja!




Hoofstuk 147

1 Loof die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; ‘n loflied is gepas!
2 Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is.
3 Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.
4 Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.
5 Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.
6 Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.
7 Sing ‘n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter;
8 wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit,
9 wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep.
10 Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.
11 Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.
12 o Jerusalem, prys die HERE! o Sion, loof jou God!
13 Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën.
14 Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring,
15 wat sy bevel na die aarde stuur—sy woord loop baie vinnig.
16 Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as.
17 Hy werp sy ys heen soos stukke—wie kan bestaan voor sy koue?
18 Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai—die waters loop.
19 Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge.
20 So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja!




Hoofstuk 148

1 Halleluja! Loof die HERE uit die hemele; loof Hom in die hoogtes!
2 Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare!
3 Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre!
4 Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is!
5 Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hy het bevel gegee—en hulle is geskape.
6 En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het ‘n wet gegee wat geeneen oortree nie.
7 Loof die HERE van die aarde af—groot seediere en alle dieptes!
8 Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring;
9 berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome,
10 wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls;
11 konings van die aarde en alle volke, vorste en alle regters van die aarde;
12 jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—
13 laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!
14 En Hy het ‘n horing vir sy volk verhef: ‘n roem vir al sy gunsgenote; vir die kinders van Israel, die volk wat naby Hom is. Halleluja!




Hoofstuk 149

1 Halleluja! Sing tot eer van die HERE ‘n nuwe lied, sy lof in die vergadering van die gunsgenote!
2 Laat Israel hom verheug in sy Maker; laat die kinders van Sion juig oor hulle Koning!
3 Laat hulle sy Naam loof in koordans, Hom psalmsing met tamboeryn en siter.
4 Want die HERE het ‘n welbehae in sy volk; Hy versier die ootmoediges met heil.
5 Laat die gunsgenote juig in heerlikheid; laat hulle jubel op hul bedde.
6 Lofverheffinge van God is in hulle keel, en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
7 om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke;
8 om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie;
9 om ‘n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. ‘n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!




Hoofstuk 150

1 Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk uitspansel!
2 Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid!
3 Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter;
4 loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit;
5 loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale!
6 Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!