Jeremia - Jeremiah

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50 51 52


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Die woorde van Jeremia, die seun van Hilkía, uit die priesters wat in Anatot, in die land Benjamin was,
2 tot wie die woord van die HERE gekom het in die dae van Josía, die seun van Amon, die koning van Juda, in die dertiende jaar van sy regering,
3 en gekom het in die dae van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, tot die einde van die elfde jaar van Sedekía, die seun van Josía, die koning van Juda, totdat Jerusalem ontvolk is in die vyfde maand.
4 Die woord van die HERE het dan tot my gekom en gesê:
5 Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak.
6 Toe het ek gesê: Ag, Here HERE, voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.
7 Maar die HERE het vir my gesê: Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek.
8 Wees vir hulle nie bevrees nie, want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die HERE.
9 Toe het die HERE sy hand uitgestrek en my mond aangeroer; en die HERE het vir my gesê: Hiermee lê Ek my woorde in jou mond.
10 Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.
11 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek antwoord: Ek sien ‘n amandeltak.
12 Toe sê die HERE vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring.
13 En die woord van die HERE het vir die tweede keer tot my gekom en gesê: Wat sien jy? En ek antwoord: Ek sien ‘n kokende pot wat van die noorde af kyk.
14 Toe sê die HERE vir my: Van die noorde af sal die onheil losbreek oor al die inwoners van die land.
15 Want kyk, Ek roep al die geslagte van die koninkryke van die noorde, spreek die HERE; en hulle sal kom, en hulle sal elkeen sy troon neersit by die ingang van die poorte van Jerusalem en teen al sy mure rondom en teen al die stede van Juda.
16 En Ek sal my oordele oor hulle uitspreek, weens al hulle boosheid; dat hulle My verlaat het en vir ander gode rook laat opgaan het en hulle voor die werke van hulle hande neergebuig het.
17 Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie.
18 Want kyk, Ek maak jou vandag ‘n versterkte stad en ‘n ysterpilaar en kopermure teen die hele land: teen die konings van Juda, teen sy vorste, teen sy priesters en teen die volk van die land.
19 En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.




Hoofstuk 2

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Gaan en roep uit voor die ore van Jerusalem en sê: So spreek die HERE: Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in ‘n onbesaaide land.
3 Israel was vir die HERE ‘n heiligheid, die eerstelinge van sy opbrings; almal wat hom opeet, sal skuld op hulle laai, onheil sal oor hulle kom, spreek die HERE.
4 Hoor die woord van die HERE, huis van Jakob, en alle geslagte van die huis van Israel!
5 So sê die HERE: Watter onreg het julle vaders in My gevind, dat hulle ver van My afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het?
6 En hulle het nie gesê nie: Waar is die HERE wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons in die woestyn gelei het, in ‘n land van wildernis en kuile, in ‘n land van droogte en doodskaduwee, in ‘n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie?
7 En Ek het julle gebring in ‘n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis ‘n gruwel gemaak.
8 Die priesters het nie gesê: Waar is die HERE nie? En die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie; en die vorste het teen My oortree, en die profete het geprofeteer deur Baäl en agter dinge aan geloop wat geen voordeel bring nie.
9 Daarom sal Ek nog met julle twis, spreek die HERE; en met julle kindskinders sal Ek twis.
10 Want gaan oor na die eilande van die Kittiërs, en kyk; en stuur na Kedar, en gee daar goed ag op; en kyk of so iets gebeur het:
11 of ‘n nasie sy gode verruil—wat nie eers gode is nie. Maar my volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie.
12 Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek die HERE.
13 Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.
14 Is Israel ‘n dienskneg? Of is hy ‘n bediende wat in die huis gebore is? Waarom het hy dan ‘n buit geword?
15 Die jong leeus het oor hom gebrul, hulle het hul stem laat hoor en van sy land ‘n woesteny gemaak; sy stede is verwoes, sonder inwoner.
16 Ook skeer die kinders van Nof en Tágpanhes jou die hoofskedel kaal.
17 Het jou verlating van die HERE jou God in die tyd toe Hy jou op die pad gelei het, jou dit nie berokken nie?
18 Wat het jy dan nou te doen met die pad na Egipte, om die water van die Nyl te drink? En wat het jy te doen met die pad na Assur, om die waters van die Eufraat te drink?
19 Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die HERE van die leërskare.
20 Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom gaan jy lê om te hoereer.
21 Nogtans het Ek jou geplant as ‘n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir My verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerdstok!
22 Want al sou jy jou was met loog en baie seep vir jou neem, tog bly jou ongeregtigheid ‘n vlek voor my aangesig, spreek die Here HERE.
23 Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie; ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? Kyk jou weg in die dal; weet wat jy gedoen het, jou vinnige jong kameelkoei wat rond hardloop!
24 ‘n Wilde-eselin, gewend aan die woestyn, wat in haar heftige begeerte die wind opsnuiwe—haar hittigheid, wie sal dit keer? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.
25 Hou jou voet terug, dat dit sy skoen nie verloor nie; en jou keel, dat dit nie dors word nie. Maar jy sê: Dit is tevergeefs, nee; want ek het vreemdes lief en sal agter hulle aan loop.
26 Soos ‘n dief in die skande kom as hy uitgevind word, so het die huis van Israel in die skande gekom; hulle, hulle konings, hulle vorste en hulle priesters en hulle profete,
27 wat vir ‘n stuk hout sê: Jy is my vader; en vir ‘n klip: Jy het my gebaar. Want hulle het My die rug toegekeer en nie die aangesig nie. Maar in die tyd van hulle onheil sê hulle: Staan op en verlos ons!
28 Waar is dan jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou kan verlos in die tyd van jou onheil; want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Juda!
29 Waarom twis julle met My? Julle almal het teen My oortree, spreek die HERE.
30 Tevergeefs het Ek julle kinders geslaan; hulle het geen tugtiging aangeneem nie; julle swaard het julle profete verslind soos ‘n verskeurende leeu.
31 o Geslag, verneem die woord van die HERE! Het Ek vir Israel ‘n woestyn geword of ‘n land van duisternis? Waarom sê my volk dan: Ons swerf vry rond, ons sal nie meer na U toe kom nie?
32 Kan ‘n jonkvrou haar versiersel vergeet, ‘n bruid haar pronkgordel? Maar my volk het My vergeet, dae sonder getal.
33 Hoe goed kry jy jou pad om liefde te soek! Daarom het jy ook jou weë aan die slegte dinge gewend gemaak.
34 Ook is aan jou some die bloed gevind van die siele van onskuldige armes; nie by ‘n plek waar ingebreek is, het Ek dit gevind nie, maar by hierdie almal.
35 Nogtans het jy gesê: Ek is tog onskuldig; gewis het sy toorn hom van my afgewend. Kyk, Ek sal met jou na die gereg gaan, omdat jy sê: Ek het nie gesondig nie.
36 Wat loop jy so baie weg om jou pad te verander? Jy sal ook deur Egipte in die skande kom soos jy deur Assur in die skande gekom het.
37 Ook daarvan sal jy uitgaan met jou hande op jou hoof; want die HERE het hulle verwerp op wie jy vertrou, en jy sal met hulle geen voorspoed hê nie.




Hoofstuk 3

1 Hy sê: As ‘n man sy vrou verstoot, en sy gaan van hom af weg en word ‘n ander man s’n, kan hy dan nog na haar teruggaan? Sal daardie land nie skandelik ontheilig word nie? En jy het met baie minnaars gehoereer en wil na My terugkom, spreek die HERE!
2 Slaan jou oë op na die kaal heuwels en kyk! Waar is jy nie onteer nie? Aan die paaie het jy vir hulle klaar gesit soos ‘n Arabier in die woestyn, en jy het die land ontheilig deur jou hoererye en deur jou boosheid.
3 En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie. Maar jy het ‘n hoerevoorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam.
4 Het jy My nie nou eers aangeroep nie: My Vader, die vertroude Vriend van my jeug is U!
5 Sal Hy vir ewig die toorn behou, of dit vir altyd bewaar? Kyk, dit het jy gesê, maar jy het slegte dinge gedoen tot die uiterste toe.
6 En die HERE het vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer.
7 En Ek het gesê, nadat sy dit alles gedoen het: Keer na My terug! Maar sy het nie teruggekeer nie. En dit het die ontroue, haar suster Juda, gesien.
8 En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het.
9 En vanweë haar ligsinnige hoerery het sy die land ontheilig, ja, sy het owerspel bedrywe met klip en hout.
10 Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die HERE.
11 Toe het die HERE vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda.
12 Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die HERE. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die HERE; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie.
13 Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die HERE.
14 Keer terug, o afkerige kinders, spreek die HERE, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ‘n stad en twee uit ‘n geslag en sal julle in Sion bring.
15 En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand.
16 En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die HERE, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die HERE nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie.
17 In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.
18 In dié dae sal die huis van Juda gaan na die huis van Israel, en hulle sal saam uit die Noordland kom in die land wat Ek aan julle vaders as erfenis gegee het.
19 Ék het wel gedink: o Hoe gaan Ek jou met seuns gelykstel en aan jou gee ‘n kosbare land, ‘n allersierlikste erfenis van die nasies! Ook het Ek gedink: Jy sal My noem: My Vader! en jy sal van My nie afvallig word nie.
20 Maar soos ‘n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die HERE.
21 ‘n Stem is gehoor op die kaal heuwels, smekende geween van die kinders van Israel, omdat hulle hul weg verdraai het, die HERE hulle God vergeet het.
22 Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die HERE onse God.
23 Waarlik, tevergeefs verwag hulle dit van die heuwels en van die rumoer op die berge; waarlik, in die HERE onse God is Israel se heil.
24 Maar die Skandegod het die goed van ons vaders opgeëet van ons jeug af, hulle kleinvee en hulle beeste, hulle seuns en hulle dogters.
25 Ons wil neerlê in ons skande, en ons smaad moet ons oordek; want ons het teen die HERE onse God gesondig, ons en ons vaders van ons jeug af tot vandag toe, en ons het nie geluister na die stem van die HERE onse God nie.




Hoofstuk 4

1 As jy jou bekeer, Israel, spreek die HERE, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie.
2 Dan sal jy sweer: So waar as die HERE leef! in waarheid, in reg en in geregtigheid; en die nasies sal hulleself in Hom seën en hulle in Hom beroem.
3 Want so sê die HERE aan die manne van Juda en aan Jerusalem: Braak vir julle ‘n braakland en saai nie onder die dorings nie.
4 Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos ‘n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.
5 Verkondig in Juda en laat dit hoor in Jerusalem en sê: Blaas die basuin in die land! Roep hardop en sê: Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan!
6 Steek óp die banier na Sion toe! Vlug, bly nie staan nie! Want Ek bring ‘n onheil uit die Noorde en ‘n groot verwoesting.
7 ‘n Leeu het opgekom uit sy bos en ‘n verderwer van nasies het weggetrek, uitgegaan uit sy plek om jou land ‘n woesteny te maak; jou stede sal verwoes word, sonder inwoners.
8 Daarom, omgord julle met rouklere, klaag en huil, want die toorngloed van die HERE teen ons het nie bedaar nie.
9 En op dié dag, spreek die HERE, sal die moed van die koning en die moed van die vorste vergaan, en die priesters sal verskrik wees en die profete verstom staan.
10 Toe het ek gesê: Ag, Here HERE, waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei met die woorde: Julle sal vrede hê—terwyl die swaard tot aan die siel raak.
11 In dié tyd sal aan hierdie volk en aan Jerusalem gesê word: ‘n Gloeiende wind van die kaal heuwels in die woestyn op pad na die dogter van my volk, nie om te wan of te suiwer nie!
12 ‘n Wind te sterk vir hierdie dinge sal vir My kom; nou sal Ek ook oordele teen hulle uitspreek.
13 Kyk, soos wolke kom hy op, en soos ‘n stormwind is sy strydwaens; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes!
14 Was jou hart van boosheid, o Jerusalem, dat jy gered kan word. Hoe lank sal jou onheilsgedagtes in jou binneste vertoef?
15 Want ‘n stem verkondig uit Dan en laat onheil hoor van die gebergte van Efraim af.
16 Vermeld dit aan die nasies! Kyk, laat dit hoor teen Jerusalem! Beleëraars kom uit ‘n ver land en het hulle stem verhef teen die stede van Juda.
17 Soos veldwagters is hulle teen die stad rondom, omdat dit teen My wederstrewig was, spreek die HERE.
18 Jou wandel en jou handel het jou dit aangedoen; dit is jou boosheid; ja, bitter is dit, ja, dit raak tot aan jou hart.
19 o My ingewande, my ingewande, ek moet bewe van angs! o Mure van my hart! My hart steun in my, ek kan nie swyg nie; want jy, my siel, het basuingeluid gehoor, oorlogsgeskreeu!
20 Verwoesting op verwoesting word uitgeroep, want die hele land is verwoes; skielik is my tente verwoes, my tentdoeke in ‘n oomblik.
21 Hoe lank sal ek die banier sien, die basuingeluid hoor?
22 Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie.
23 Ek het na die aarde gekyk, en dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie.
24 Ek het na die berge gekyk, en hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud.
25 Ek het gekyk, en daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg.
26 Ek het gekyk, en die land van tuine was ‘n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor die HERE, voor sy toorngloed.
27 Want so sê die HERE: Die hele land sal ‘n wildernis word, alhoewel Ek daar geen einde aan sal maak nie.
28 Hieroor sal die aarde treur en die hemel daarbo rou dra, omdat Ek dit gespreek, My dit voorgeneem het en Ek geen berou het en daarvan nie sal terugkom nie.
29 Vir die geluid van die ruiters en boogskutters vlug die hele stad; hulle het in die bosse ingegaan en op die rotse geklim; die hele stad is verlaat, en niemand woon daarin nie.
30 En jy, verwoeste, wat gaan jy doen? Al trek jy skarlaken klere aan, al versier jy jou met goue sieraad, al laat jy jou oë groter lyk met swart verf—tevergeefs maak jy jou mooi; minnaars versmaad jou, hulle soek jou lewe.
31 Want ek het gehoor ‘n stem soos van een wat inmekaar krimp, ‘n benoudheid soos van een wat die eerste keer baar, die stem van die dogter van Sion; sy hyg na asem, sy brei haar hande uit en sê: Wee my tog, want my siel is magteloos teenoor die moordenaars.




Hoofstuk 5

1 Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek—dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.
2 En of hulle al sê: So waar as die HERE leef, sekerlik sweer hulle vals.
3 o HERE, is u oë nie op opregtheid gerig nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie, hulle tot niet gemaak, maar hulle het geweier om tugtiging aan te neem; hulle het hul aangesig harder gemaak as ‘n rots, geweier om hulle te bekeer.
4 Maar ek het gesê: Hulle is maar die geringes; hulle het dwaas gehandel, omdat hulle die weg van die HERE, die reg van hulle God, nie ken nie.
5 Laat ek na die grotes gaan en met hulle spreek, want hulle ken die weg van die HERE, die reg van hulle God. Maar hulle het almal saam die juk verbreek, die stroppe stukkend geruk.
6 Daarom maak ‘n leeu uit die bos hulle dood, ‘n wolf van die wildernisse verniel hulle; ‘n luiperd loer by hulle stede; almal wat daaruit gaan, word verskeur; want hulle oortredinge is baie, hulle afkerighede geweldig.
7 Waarom sou Ek jou vergewe? Jou kinders het My verlaat en gesweer by die wat geen god is nie. En toe Ek hulle versadig het, het hulle owerspel bedrywe en by hope versamel in die hoerhuis.
8 Soos vet gevoerde hingste swerf hulle rond; hulle runnik elkeen na die vrou van sy naaste.
9 Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op ‘n nasie soos hierdie een nie?
10 Klim op sy mure en rig verwoesting aan, maar maak daar geen einde aan nie; neem weg sy ranke, want hulle behoort nie aan die HERE nie.
11 Want die huis van Israel en die huis van Juda het baie troueloos teen My gehandel, spreek die HERE.
12 Hulle het die HERE verloën en gesê: Dit is nie Hy nie; en geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie;
13 en die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie; mag dit so met húlle gaan!
14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.
15 Kyk, Ek bring oor julle ‘n nasie van ver af, o huis van Israel, spreek die HERE; ‘n eeue-oue nasie is dit, ‘n nasie van ouds af, ‘n nasie waarvan jy die taal nie ken en jy nie verstaan wat hulle praat nie.
16 Hulle pylkoker is soos ‘n geopende graf; hulle is almal helde.
17 En hulle sal jou oes en jou brood opeet, hulle sal jou seuns en jou dogters opeet, hulle sal jou kleinvee en jou beeste opeet, hulle sal jou wingerdstok en jou vyeboom opeet, hulle sal jou versterkte stede waar jy op vertrou, met die swaard verwoes.
18 Nogtans sal Ek ook in dié dae, spreek die HERE, nie ‘n einde aan julle maak nie.
19 En as julle sê: Waarvoor het die HERE onse God ons al hierdie dinge aangedoen? antwoord hulle dan: Soos julle My verlaat het en vreemde gode in julle land gedien het, so sal julle vreemdes dien in ‘n land wat julle s’n nie is nie.
20 Verkondig dit in die huis van Jakob, en laat dit hoor in Juda en sê:
21 Hoor dit tog, o dwase en verstandelose volk, wat oë het, maar nie sien nie; wat ore het, maar nie hoor nie!
22 Sou julle vir My nie bevrees wees nie, spreek die HERE, of voor my aangesig nie bewe nie, wat die sand gestel het as grens vir die see, ‘n ewige beperking waaroor hy nie sal gaan nie? Al rol sy golwe, hulle is onmagtig; al bruis hulle, hulle sal daaroor nie gaan nie.
23 Maar hierdie volk het ‘n oproerige en wederstrewige hart, hulle het afgewyk en weggegaan;
24 en hulle het nie in hul hart gesê nie: Laat ons tog die HERE onse God vrees, wat reën gee, vroeë reëns en laat reëns op hulle tyd, wat vir ons die vasgestelde weke van die oes in stand hou.
25 Julle ongeregtighede het hierdie dinge afgeweer, en julle sondes het die goeie van julle teruggehou.
26 Want onder my volk word goddelose gevind; hulle loer soos voëlvangers buk, hulle het ‘n val gestel, hulle vang mense.
27 Soos ‘n hok vol voëls, so is hulle huise vol bedrog; daarom het hulle groot en ryk geword.
28 Hulle het vet, hulle het glad geword; selfs gaan hulle oor die maat van boosheid heen. Reg verskaf hulle nie, selfs die reg van die wees nie, dat hulle voorspoed kan hê; ook handhaaf hulle die reg van die behoeftiges nie.
29 Sou Ek hieroor geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op ‘n nasie soos hierdie een nie?
30 ‘n Ontsettende en afskuwelike ding het in die land gebeur:
31 die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?




Hoofstuk 6

1 Vlug, kinders van Benjamin, uit Jerusalem uit; en blaas die basuin in Tekóa, en hef ‘n vuurteken op bo Bet-Hakkérem; want onheil dreig uit die Noorde en groot verwoesting.
2 Die mooie en die verwénde verdelg Ek—die dogter van Sion.
3 Herders met hulle troppe vee sal na haar toe kom; hulle slaan tente op teen haar rondom, hulle wei af, elkeen sover as hy kan bykom.
4 Heilig die oorlog teen haar! staan op, en laat ons optrek op die middag! Wee ons, want die dag gaan verby, want die aandskaduwees word langer!
5 Staan op, en laat ons optrek in die nag, en laat ons haar paleise verwoes!
6 Want so sê die HERE van die leërskare: Kap haar bome af, en gooi teen Jerusalem ‘n wal op; dit is die stad wat besoek word; binne-in haar is net verdrukking.
7 Soos ‘n put sy water fris hou, so hou sy haar boosheid fris; geweld en verdrukking word in haar gehoor, siektes en wonde is gedurig voor my aangesig.
8 Laat jou tugtig, Jerusalem, dat my siel nie van jou vervreemd word nie, dat Ek jou nie ‘n wildernis maak, ‘n onbewoonde land nie.
9 So sê die HERE van die leërskare: Hulle sal die oorblyfsel van Israel skoon afoes soos ‘n wingerdstok. Slaan jou hand weer soos ‘n druiwesnyer aan die lote!
10 Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van die HERE is vir hulle ‘n smaad, hulle het daar geen behae in nie.
11 Daarom is ek vol van die grimmigheid van die HERE; ek het my moeg gemaak om uit te hou. Giet dit uit oor die kinders op die straat en oor die versameling van jongmanne, oor almal; want ook die man saam met die vrou sal gevang word, die grysaard saam met die oue van dae.
12 En hulle huise sal oorgaan op ander mense, landerye en vroue, alles tesame; want Ek sal my hand uitstrek teen die inwoners van die land, spreek die HERE.
13 Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.
14 En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! —terwyl daar geen vrede is nie.
15 Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die HERE.
16 So spreek die HERE: Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.
17 Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie.
18 Daarom, hoor, o nasies! En weet, o vergadering, wat onder hulle is!
19 Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp.
20 Waarom sou daar tog vir My wierook uit Skeba kom en die kosbare kalmoes uit ‘n ver land? Julle brandoffers is nie welgevallig nie, en julle slagoffers is My nie aangenaam nie.
21 Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek gooi struikelblokke voor hierdie volk waaroor hulle sal struikel, vaders en seuns tesame; die buurman en sy vriend sal omkom.
22 So sê die HERE: Kyk, daar kom ‘n volk uit die Noordland, en ‘n groot nasie word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.
23 Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle stem bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos ‘n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Sion!
24 Ons het die gerug daarvan gehoor, ons hande het slap geword, benoudheid het ons aangegryp, smart soos van een wat baar.
25 Gaan nie uit in die veld en loop nie op die pad nie; want die swaard van die vyand is daar, skrik rondom!
26 Dogter van my volk, omgord jou met ‘n roukleed en wentel jou in die as; bedryf rou soos oor ‘n enigste kind, ‘n bitter rouklag; want skielik kom die verwoester oor ons.
27 Ek het jou onder my volk as toetser gestel, as vesting, dat jy hulle weg kan ken en toets.
28 Hulle is almal die oproerigstes van die oproeriges wat omgaan met kwaadsprekery; koper en yster is hulle; hulle handel almal verderflik.
29 Die blaasbalk blaas hard; wat uit die vuur gereed kom, is lood; tevergeefs hou hulle aan met smelt, maar die slegtes word nie afgeskei nie.
30 Hulle word genoem: Verworpe silwer; want die HERE het hulle verwerp.




Hoofstuk 7

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:
2 Staan in die poort van die huis van die HERE, en roep hierdie woord daar uit en sê: Hoor die woord van die HERE, o hele Juda, wat deur hierdie poorte ingaan om die HERE te aanbid!
3 So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek.
4 Vertrou nie op bedrieglike woorde nie—wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit!
5 Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar;
6 vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie—
7 dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu.
8 Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie.
9 Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie,
10 en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! —om al hierdie gruwels te doen?
11 Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, ‘n spelonk van moordenaars in julle oë? Ook Ek—kyk, Ek het dit gesien, spreek die HERE.
12 Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel.
13 Omdat julle dan nou al hierdie dinge gedoen het, spreek die HERE, en Ek met julle gespreek het, vroeg en laat, maar julle nie geluister het nie, en Ek julle geroep, maar julle nie geantwoord het nie,
14 daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het.
15 En Ek sal julle van my aangesig wegwerp soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het.
16 En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie.
17 Sien jy nie wat hulle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem doen nie?
18 Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg.
19 Terg hulle My? spreek die HERE. Doen hulle dit nie aan hulleself tot beskaming van hul aangesig nie?
20 Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor die mense en oor die diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die land; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie.
21 So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en eet vleis.
22 Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie.
23 Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.
24 Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie.
25 Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat;
26 maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard; hulle het dit erger gemaak as hul vaders.
27 Ook moet jy al hierdie woorde aan hulle meedeel, maar hulle sal na jou nie luister nie; en jy moet na hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie.
28 Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond.
29 Skeer jou mooi hare af, o Jerusalem, en gooi dit weg, en hef op die kaal heuwels ‘n klaaglied aan; want die HERE het die geslag van sy grimmigheid verwerp en verstoot.
30 Want die kinders van Juda het gedoen wat verkeerd is in my oë, spreek die HERE. Hulle het hul verfoeisels gesit in die huis waaroor my Naam uitgeroep is, om dit te verontreinig.
31 En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand—iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.
32 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie.
33 En die lyke van hierdie volk sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die diere van die aarde sonder dat iemand hulle skrikmaak.
34 En Ek sal uit die stede van Juda en uit die strate van Jerusalem laat ophou die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid; want die land sal ‘n puinhoop word.




Hoofstuk 8

1 In dié tyd, spreek die HERE, sal hulle die bene van die konings van Juda en die bene van sy vorste en die bene van die priesters en die bene van die profete en die bene van die inwoners van Jerusalem uit hulle grafte uithaal,
2 en hulle sal dit uitsprei voor die son en voor die maan en voor die hele leër van die hemel wat hulle liefgehad en gedien het, en waar hulle agter aan geloop het, en wat hulle gesoek en waarvoor hulle hul neergebuig het; dit sal nie versamel en begrawe word nie, mis sal dit op die aarde wees.
3 En die dood sal bo die lewe verkies word deur die hele oorblyfsel, die wat oor is van hierdie bose geslag in al die plekke waarheen Ek hulle verdryf het, spreek die HERE van die leërskare.
4 En jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE: Sal iemand val en nie weer opstaan nie? Of sal hy weggaan en nie weer terugkom nie?
5 Waarom is dan hierdie volk, Jerusalem, afkerig met ‘n aanhoudende afkerigheid? Hulle hou vas aan bedrog, hulle weier om terug te keer.
6 Ek het geluister en gehoor: hulle spreek wat nie reg is nie; daar is niemand wat berou het oor sy boosheid, dat hy sou sê: Wat het ek gedoen nie? Elkeen spring weg in sy loop soos ‘n perd wat storm in die geveg.
7 Selfs ‘n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en ‘n tortelduif en ‘n swaweltjie en ‘n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die HERE nie.
8 Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die HERE is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers.
9 Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?
10 Daarom sal Ek hulle vroue aan ander gee, hulle landerye aan veroweraars; want van die kleinste tot die grootste maak hulle almal onregverdige wins; van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.
11 En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! —terwyl daar geen vrede is nie.
12 Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; en die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die HERE.
13 Saamskraap, wegraap sal Ek hulle, spreek die HERE. Daar is geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie, ja, die blare verdor. So het Ek ook vir hulle dié bestel wat dwarsoor hulle sal gaan.
14 Waarom bly ons sit? Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan en daar omkom; want die HERE onse God laat ons omkom, en Hy laat ons gifwater drink, omdat ons teen die HERE gesondig het.
15 Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op ‘n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking.
16 Van Dan af word die gesnuif van sy perde gehoor, vir die geluid van die gerunnik van sy perde bewe die hele land; en hulle kom en eet die land op en sy volheid, die stad en die wat daarin woon.
17 Want kyk, Ek stuur slange, basiliske onder julle waarteen daar geen beswering is nie, en hulle sal julle byt, spreek die HERE.
18 Ag, kon ek my maar opvrolik in kommer! My hart is krank in my.
19 Daar is die hulpgeroep van die dogter van my volk uit ‘n baie ver land: Is die HERE nie in Sion nie? Of is sy Koning nie daarin nie? Waarom het hulle My geterg met hulle gesnede beelde, met vreemde, nietige afgode?
20 Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie!
21 Vanweë die verbreking van die dogter van my volk is ek gebreek, is ek in die rou; verbaasdheid het my aangegryp.
22 Is daar geen balsem in Gílead nie? Of is daar geen geneesheer nie? Want waarom het die genesing van die dogter van my volk nie tot stand gekom nie?




Hoofstuk 9

1 Ag, was my hoof maar water en my oog ‘n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk.
2 Ag, het ek in die woestyn maar ‘n herberg vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek; want hulle is almal owerspelers, ‘n hoop ontroue mense.
3 En hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE.
4 Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net ‘n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.
5 En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.
6 Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die HERE.
7 Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk?
8 Hulle tong is ‘n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne.
9 Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op ‘n nasie soos hierdie een nie?
10 Ek sal geween en geklaag aanhef oor die berge en ‘n klaaglied oor die weivelde van die woestyn; want hulle is verwoes, sodat niemand daar deurtrek nie, en ‘n mens hoor geen geluid van vee nie; die voëls van die hemel sowel as die diere—hulle het gevlug, weggetrek.
11 En Ek sal Jerusalem maak tot kliphope, ‘n lêplek van jakkalse; en die stede van Juda sal Ek ‘n woesteny maak, sonder inwoner.
12 Wie is die wyse man wat dit kan verstaan? En met wie het die mond van die HERE gespreek, dat hy dit kan verkondig? Waarom het die land te gronde gegaan, is dit verwoes soos die woestyn, sodat niemand daar deurtrek nie?
13 En die HERE het gesê: Omdat hulle my wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en na my stem nie geluister en daarin nie gewandel het nie,
14 maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart en agter die Baäls aan, waaraan hulle vaders hulle gewend gemaak het,
15 daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek gee aan hulle, aan hierdie volk, wilde-als om te eet, en Ek laat hulle gifwater drink,
16 en Ek verstrooi hulle onder die nasies wat hulle en hul vaders nie geken het nie, en stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle verteer het.
17 So sê die HERE van die leërskare: Let op, en roep die klaagvroue, dat hulle kom; en stuur na die wyse vroue, dat hulle kom;
18 en laat hulle gou maak en oor ons ‘n weeklag aanhef, sodat ons oë afloop in trane en ons ooglede stroom van water.
19 Want die geluid van weeklag word uit Sion gehoor: Hoe is ons verwoes! Ons het diep in die skande gekom, omdat ons die land moet verlaat, omdat hulle ons wonings omgegooi het.
20 Want hoor, o vroue, die woord van die HERE, en laat julle oor opvang die woord van sy mond; en leer julle dogters ‘n weeklag en vir mekaar ‘n klaaglied.
21 Want die dood het in ons vensters opgeklim, in ons paleise ingekom om die kinders van die straat af uit te roei, die jongmanne van die pleine af.
22 Sê dit: So spreek die HERE: En die lyke van die mense sal neerval soos mis op die oop veld en soos gerwe agter die maaier sonder dat iemand dit versamel.
23 So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie;
24 maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE.
25 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor almal wat besny is, wat nogtans onbesnede is:
26 oor Egipte en Juda en Edom en oor die kinders van Ammon en Moab en oor almal wat die rand van hulle hare wegskeer, wat in die woestyn woon; want al die heidene is onbesnede, maar die hele huis van Israel is onbesnede van hart.




Hoofstuk 10

1 Hoor die woord wat die HERE oor julle gespreek het, o huis van Israel!
2 So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie.
3 Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ‘n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ‘n ambagsman met die byl.
4 Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie.
5 Soos ‘n voëlverskrikker in ‘n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie.
6 Geeneen is soos U nie, o HERE! U is groot, en u Naam is groot in krag.
7 Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Want U kom dit toe; want onder al die wyse manne van die nasies en in hulle hele koninkryk is geeneen soos U nie.
8 Maar almal saam word hulle dom en dwaas, die tugtiging van die nietige afgode—dit is hout.
9 Silwer wat plat geslaan is, word uit Tarsis gebring en goud uit Ufas, die werk van die ambagsman en van die hande van die goudsmid; pers en purperrooi is hulle klere; ‘n werk van kunstenaars is hulle almal.
10 Maar die HERE is waarlik God, Hy is die lewende God en ‘n ewige Koning; vir sy toorn beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie—
11 so moet julle vir hulle sê: Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit—
12 Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, wat die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand.
13 As Hy sy stem laat hoor, is daar ‘n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat wind uitgaan uit sy voorraadskure.
14 Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die gesnede beeld; want sy gegote beeld is ‘n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.
15 Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.
16 Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; HERE van die leërskare is sy Naam.
17 Tel jou pak goed van die grond af op, jy wat in die beleëring vertoef.
18 Want so sê die HERE: Kyk, Ek slinger die inwoners van die land hierdie keer weg, en Ek doen hulle benoudheid aan, dat hulle kan vind.
19 Wee my vanweë my verbreking! Smartlik is my wond! Ja, ék het gesê: Waarlik, dit is ‘n lyding, en ek sal dit moet dra.
20 My tent is verwoes, en al my lyne is afgeruk; my kinders het van my af weggegaan, en hulle is daar nie; daar is niemand meer wat my tent uitspan en my tentdoeke opsit nie.
21 Want die herders het dom geword en die HERE nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie, en hulle hele kudde is verstrooi.
22 Hoor! ‘n Gerug. Daar kom dit, en wel ‘n groot geraas uit die Noordland, om die stede van Juda ‘n woesteny te maak, ‘n lêplek van jakkalse.
23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
24 Tugtig my, HERE, maar met mate; nie in u toorn, dat U my nie te klein maak nie.
25 Stort u grimmigheid uit oor die nasies wat U nie ken nie, en oor die geslagte wat u Naam nie aanroep nie; want hulle het Jakob opgeëet, ja, hulle het hom opgeëet en hom verteer en sy woning verwoes.




Hoofstuk 11

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:
2 Hoor julle die woorde van hierdie verbond, en spreek met die manne van Juda en met die inwoners van Jerusalem
3 en sê vir hulle: So spreek die HERE, die God van Israel: Vervloek is die man wat nie luister na die woorde van hierdie verbond
4 wat Ek julle vaders beveel het op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die yster-smeltoond, uitgelei het met die woorde: Luister na my stem en doen die woorde net soos Ek julle beveel; dan sal julle vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir julle ‘n God wees—
5 om te bevestig die eed wat Ek vir julle vaders gesweer het om aan hulle te gee ‘n land wat oorloop van melk en heuning soos dit vandag is. Toe het ek geantwoord en gesê: Amen, o HERE!
6 En die HERE het vir my gesê: Roep al hierdie woorde uit in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem: Hoor die woorde van hierdie verbond en doen dit.
7 Want Ek het julle vaders nadruklik gewaarsku op die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het tot vandag toe, vroeg en laat, en gesê: Luister na my stem!
8 Nogtans het hulle nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hulle het gewandel elkeen in die verharding van sy bose hart. Daarom het Ek oor hulle gebring al die woorde van hierdie verbond wat Ek beveel het om te doen, maar wat hulle nie gedoen het nie.
9 Verder het die HERE vir my gesê: Daar is ‘n sameswering ontdek onder die manne van Juda en onder die inwoners van Jerusalem:
10 hulle het teruggekeer na die ongeregtighede van hulle voorvaders wat geweier het om na my woorde te luister, en agter ander gode aan geloop om dié te dien. Die huis van Israel en die huis van Juda het my verbond verbreek wat Ek met hulle vaders gesluit het.
11 Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek bring ‘n onheil oor hulle, waaruit hulle nie sal kan uitkom nie; dan sal hulle na My roep, maar Ek sal na hulle nie luister nie.
12 Dan sal die stede van Juda en die inwoners van Jerusalem gaan en roep na die gode vir wie hulle rook laat opgaan het; maar dié sal hulle geensins verlos in die tyd van hulle onheil nie.
13 Want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Juda! En volgens die getal van die strate in Jerusalem het julle altare opgerig vir die skandegod, altare om vir Baäl rook te laat opgaan.
14 En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie, want Ek hoor nie in die tyd as hulle My aanroep vanweë hulle onheil nie.
15 Wat het my beminde in my huis te doen, dat sy daar haar listige plan uitvoer? Sal baie dinge en heilige vleis jou onheil van jou af wegneem? Dan kan jy jubel.
16 Die HERE het jou die naam gegee: groen olyfboom, skoon deur mooi gevormde vrugte; maar by die geluid van ‘n groot gedruis het Hy ‘n vuur daarteen aangesteek, en sy takke het gebreek.
17 Want die HERE van die leërskare wat jou geplant het, het onheil teen jou gespreek weens die boosheid van die huis van Israel en die huis van Juda, wat hulle graag gedoen het, om My te terg deur rook te laat opgaan vir Baäl.
18 En die HERE het my dit te kenne gegee, sodat ek dit weet. Toe het U my hulle handelinge laat sien.
19 Maar ek was soos ‘n mak lam wat hulle lei om te slag; en ek het nie geweet dat hulle planne teen my beraam het nie: Laat ons die boom met sy vrugte verwoes, en laat ons hom uitroei uit die land van die lewendes, sodat aan sy naam nie meer gedink word nie!
20 Maar, o HERE van die leërskare, regverdige Regter, wat niere en hart toets, laat my u wraak op hulle sien, want aan U het ek my regsaak toevertrou.
21 Daarom, so spreek die HERE aangaande die manne van Anatot wat jou lewe soek en sê: Jy mag nie profeteer in die Naam van die HERE nie, anders sal jy sterwe deur ons hand—
22 daarom, so spreek die HERE van die leërskare: Kyk, Ek doen besoeking oor hulle; die jongmanne sal sterwe deur die swaard, hulle seuns en hulle dogters sal sterwe deur hongersnood,
23 en hulle sal geen oorblyfsel hê nie; want Ek sal onheil bring oor die manne van Anatot in die jaar van hulle besoeking.




Hoofstuk 12

1 Regverdig is U, o HERE, as ek met U sou twis. Tog wil ek oor regsake met U spreek: Waarom is die weg van die goddelose voorspoedig? Waarom lewe hulle rustig, almal wat ontrou bedrywe?
2 U het hulle geplant, ook het hulle wortel geskiet; hulle groei, ook dra hulle vrugte. U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.
3 Maar U, o HERE, ken my; U sien my en toets my hart by U. Ruk hulle weg soos slagskape, en heilig hulle vir die dag van slagting.
4 Hoe lank sal die land treur en die plante van die hele veld verdor? Vanweë die boosheid van die wat daarin woon, vergaan diere en voëls; omdat hulle sê: Hy sal ons einde nie sien nie!
5 As jy met voetgangers loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy dan wedywer met die perde? En in ‘n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die pronkbosse van die Jordaan?
6 Want ook jou broers en die huis van jou vader, ook hulle het troueloos teen jou gehandel; ook hulle roep jou hardop agterna. Glo hulle nie as hulle vriendelik met jou spreek nie.
7 Ek het my huis verlaat, Ek het my erfenis verwerp, Ek het die beminde van my siel in die hand van haar vyande gegee.
8 My erfenis het vir My geword soos ‘n leeu in die bos; dit het sy stem teen My verhef; daarom het Ek dit gehaat.
9 Is my erfenis dan vir My ‘n bont roofvoël? Is daar roofvoëls rondom teen hom? Kom, maak al die wilde diere van die veld bymekaar, laat hulle kom om te eet.
10 Baie herders het my wingerd verniel, hulle het my stuk land vertrap, hulle het my begeerlike stuk land ‘n woeste wildernis gemaak,
11 hulle het dit ‘n wildernis gemaak; dit treur voor My, verwoes; die hele land is verwoes, omdat daar niemand is wat dit ter harte neem nie.
12 Op al die kaal heuwels in die woestyn het verwoesters gekom, want die swaard van die HERE verteer van die een end van die land tot die ander end van die land; daar is geen vrede vir enige vlees nie.
13 Hulle het koring gesaai, maar dorings gemaai; hulle het hul uitgeput sonder om baat te vind. Staan dan beskaamd oor julle inkomste, vanweë die toorngloed van die HERE.
14 So sê die HERE: Aangaande al my goddelose bure wat die erfenis aantas wat Ek my volk Israel laat erf het—kyk, Ek ruk hulle uit hul land uit, en die huis van Juda sal Ek uit hulle midde wegruk.
15 Maar nadat Ek hulle uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm; en Ek sal hulle terugbring, elkeen na sy erfenis en elkeen na sy land.
16 En as hulle ywerig die weë van my volk leer om te sweer by my Naam: So waar as die HERE leef, soos hulle my volk geleer het om te sweer by Baäl—dan sal hulle onder my volk gebou word.
17 Maar as hulle nie luister nie, dan sal Ek dié nasie heeltemal uitruk en tot niet maak, spreek die HERE.




Hoofstuk 13

1 So het die HERE vir my gesê: Gaan koop vir jou ‘n linnegord en bind dit om jou heupe; maar laat dit nie in die water kom nie.
2 En ek het die gord gekoop volgens die woord van die HERE en dit om my heupe gebind.
3 Toe het die woord van die HERE vir die tweede keer tot my gekom en gesê:
4 Neem die gord wat jy gekoop het, wat om jou heupe is, en maak klaar, gaan na die Eufraat en steek dit daar weg in ‘n klipskeur.
5 Daarop het ek gegaan en dit weggesteek by die Eufraat, soos die HERE my beveel het.
6 En ná verloop van baie dae het die HERE vir my gesê: Maak klaar, gaan na die Eufraat en haal die gord daarvandaan wat Ek jou beveel het om daar weg te steek.
7 Daarop het ek na die Eufraat gegaan en gegrawe en die gord geneem van die plek af waar ek dit weggesteek het; en kyk, die gord het bederf, dit was waardeloos.
8 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
9 So spreek die HERE: So sal Ek laat bederwe die hoogmoed van Juda en dié van Jerusalem, wat so groot is.
10 Hierdie goddelose volk wat weier om na my woorde te luister, wat wandel in die verharding van hulle hart en agter ander gode aan loop om hulle te dien en hul daarvoor neer te buig—hulle moet word soos hierdie gord wat waardeloos is.
11 Want soos die gord kleef aan die heupe van ‘n man, so het Ek die hele huis van Israel en die hele huis van Juda aan My laat klewe, spreek die HERE, om vir My te wees ‘n volk en ‘n roem en ‘n lof en ‘n sieraad; maar hulle het nie geluister nie.
12 Sê verder aan hulle hierdie woord: So spreek die HERE, die God van Israel: Elke kan word vol wyn gemaak. Dan sal hulle vir jou sê: Weet ons dit dan nie dat elke kan vol wyn gemaak word nie?
13 Maar jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek vul met dronkenskap al die inwoners van hierdie land, selfs die konings wat op die troon van Dawid sit, en die priesters en die profete en al die inwoners van Jerusalem.
14 En Ek sal hulle verbrysel, die een teen die ander, die vaders en die kinders almal saam, spreek die HERE. Ek sal nie spaar of verskoon of My ontferm nie, dat Ek hulle nie sou verdelg nie.
15 Luister en merk op; verhef julle nie, want die HERE het gespreek!
16 Gee eer aan die HERE julle God voordat Hy dit donker laat word en voordat julle voete stamp teen die berge in die skemering; terwyl julle wag op lig, maar Hy dit doodskaduwee maak, in donkerheid verander.
17 Maar as julle daar nie na luister nie, sal my siel in skuilplekke ween vanweë die hoogmoed; en my oog sal bitterlik huil en afloop in trane, omdat die kudde van die HERE as gevangenes weggevoer is.
18 Sê aan die koning en aan die gebiedster: Gaan baie laag sit, want julle hoofsieraad, julle sierlike kroon, het geval.
19 Die stede van die Suidland is toegesluit, en niemand maak oop nie; Juda is in ballingskap weggevoer gans en al, weggevoer volkome!
20 Hef jou oë op, en aanskou die wat uit die noorde kom. Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige trop kleinvee?
21 Wat sal jy sê wanneer Hy as hoof oor jou aanstel diegene wat jy self geleer het om jou vertroude vriende te wees? Sal weë jou nie aangryp soos van ‘n barende vrou nie?
22 As jy dan in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Weens die grootheid van jou ongeregtigheid is jou slippe opgetel, het jou hakskene gely onder geweld.
23 Kan ‘n Kusiet sy vel verander of ‘n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen.
24 Daarom sal Ek hulle verstrooi soos ‘n stoppel wat verbyvlieg voor die wind van die woestyn.
25 Dit is jou lot, die deel wat Ek jou toegemeet het, spreek die HERE, omdat jy My vergeet en op leuens vertrou het.
26 So het Ek dan ook jou slippe opgetel oor jou aangesig, sodat jou skande gesien word.
27 Jou owerspel en jou gerunnik, jou skandelike hoerery—op die heuwels in die veld het Ek jou verfoeisels gesien. Wee jou, Jerusalem! Hoe lank sal dit nog duur voordat jy rein word?




Hoofstuk 14

1 Die woord van die HERE wat tot Jeremia gekom het weens die groot droogte.
2 Juda treur en sy poorte verval; hulle sit in rou op die grond, en die geskreeu van Jerusalem gaan op.
3 En die vernames onder hulle stuur hulle ondergeskiktes na die water; hulle kom by die bakke, hulle kry geen water nie; leeg kom hulle kanne terug; hulle het beskaamd gestaan en in die skande gekom en bedek hulle hoof.
4 Weens die land wat verslae is, omdat daar geen reën op die aarde is nie, kom die landbouers in die skande, hulle bedek hulle hoof.
5 Want selfs die wildsbok in die veld lam en gooi haar lam weg, omdat daar geen jong gras is nie.
6 En wilde-esels staan op die kaal heuwels, hulle snuif die wind op soos die jakkalse; hulle oë versmag, omdat daar geen gras is nie.
7 Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o HERE, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig.
8 o Verwagting van Israel, sy Verlosser in tyd van benoudheid! Waarom sou U wees soos ‘n vreemdeling in die land en soos ‘n reisiger wat uitdraai om te vernag?
9 Waarom sou U wees soos ‘n man wat verslae is, soos ‘n held wat nie kan verlos nie? U is tog in ons midde, o HERE, en u Naam is oor ons uitgeroep. Verlaat ons nie!
10 So sê die HERE van hierdie volk: Só het hulle daarvan gehou om te swerwe, hulle het hul voete nie teruggehou nie; daarom het die HERE geen behae in hulle nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en hulle sondes besoek.
11 Verder het die HERE vir my gesê: Bid nie vir hierdie volk ten goede nie.
12 As hulle vas, luister Ek nie na hulle gesmeek nie; en as hulle brandoffer en spysoffer bring, het Ek in hulle geen behae nie; maar deur die swaard en die hongersnood en die pes maak Ek hulle tot niet.
13 Toe sê ek: Ag, Here HERE, kyk, die profete sê vir hulle: Julle sal geen swaard sien en geen hongersnood hê nie; maar Ek sal julle ‘n duursame vrede gee in hierdie plek.
14 En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.
15 Daarom, so spreek die HERE: Aangaande die profete wat profeteer in my Naam sonder dat Ek hulle gestuur het, en wat sê: Daar sal geen swaard of hongersnood in hierdie land wees nie—dié profete sal deur die swaard en die hongersnood omkom.
16 En die volk vir wie hulle profeteer, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê vanweë die hongersnood en die swaard sonder dat iemand hulle begrawe; hulle, hulle vrouens en hulle seuns en hulle dogters. So sal Ek dan hulle boosheid oor hulle uitstort.
17 Sê aan hulle dan hierdie woord: Laat my oë afloop in trane nag en dag en nie ophou nie; want die jonkvrou, die dogter van my volk, is gebreek met ‘n groot verbreking, met ‘n baie smartlike wond.
18 As ek uitgaan in die veld, lê daar die wat verslaan is deur die swaard; en as ek kom in die stad, is daar die kwale van die hongersnood. Ja, selfs profeet en priester trek rond in die land sonder om iets te weet.
19 Het U Juda dan heeltemal verwerp? Of het u siel ‘n afsku van Sion? Waarom het U ons geslaan, sodat daar geen genesing vir ons is nie? Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; en op ‘n tyd van beterskap, maar daar is verskrikking.
20 HERE, ons ken ons goddeloosheid, die ongeregtigheid van ons vaders, want ons het teen U gesondig.
21 Verwerp ons nie ter wille van u Naam; onteer die troon van u heerlikheid nie; hou tog in gedagtenis, verbreek nie u verbond met ons nie.
22 Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o HERE onse God? En ons wag op U, want U doen al hierdie dinge.




Hoofstuk 15

1 Maar die HERE het vir my gesê: Al staan Moses en Samuel voor my aangesig, my siel wil niks van hierdie volk weet nie; dryf hulle van my aangesig af weg, en laat hulle heengaan.
2 En as hulle jou vra: Waar moet ons heengaan? sê dan vir hulle: So spreek die HERE: Wie vir die pes bestem is, na die pes; en wie vir die swaard, na die swaard; en wie vir die hongersnood, na die hongersnood; en wie vir die gevangenskap, na die gevangenskap.
3 En Ek sal oor hulle vier soorte besoekinge doen, spreek die HERE: die swaard om dood te maak en die honde om weg te sleep en die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde om op te eet en te vernietig.
4 En Ek sal hulle ‘n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde vanweë Manasse, die seun van Hiskía, die koning van Juda, oor wat hy in Jerusalem gedoen het.
5 Want wie sal jou bejammer, o Jerusalem? Of wie sal met jou medelyde hê? Of wie sal uitdraai om na jou welstand te vra?
6 Jy het My verwerp, spreek die HERE, jy het ál agteruitgegaan; daarom strek Ek my hand teen jou uit en verwoes jou; Ek is moeg om berou te hê.
7 En Ek wan hulle uit met ‘n gaffel by die ingange van die land. Ek maak my volk kinderloos, maak hulle tot niet; hulle kom van hulle weë nie terug nie.
8 Hulle weduwees het vir My meer geword as die sand van die see; Ek bring vir hulle oor die moeder van die jong manskappe ‘n verwoester op die middag; Ek laat skielik op haar val angs en verskrikkinge.
9 Sy wat sewe gebaar het, het weggekwyn; sy het magteloos neergesink; haar son het ondergegaan terwyl dit nog dag was; sy staan beskaamd en het rooi van skaamte geword. En hulle oorblyfsel gee Ek aan die swaard oor, voor hulle vyande, spreek die HERE.
10 Wee my, my moeder, dat u my gebaar het—’n man van twis en’n man van stryd vir die hele land! Ek het nie uitgeleen nie, en hulle het nie aan my geleen nie; almal vloek my.
11 Die HERE het gesê: Waarlik, Ek bevry jou ten goede; waarlik, Ek maak dat die vyand jou ootmoedig smeek in tyd van onheil en in tyd van benoudheid.
12 Kan ‘n mens yster breek, yster uit die noorde, en koper?
13 Jou rykdom en jou skatte sal Ek as buit gee, sonder betaling; en dit weens al jou sondes en in jou hele grondgebied.
14 En Ek sal jou jou vyande laat dien in ‘n land wat jy nie ken nie; want ‘n vuur is aangesteek in my toorn, oor julle sal dit brand.
15 o HERE, U weet dit; dink aan my en besoek my, en wreek my op my vervolgers. Neem my in u lankmoedigheid nie weg nie. Weet dat ek smaad dra om U ontwil.
16 Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare!
17 Ek het nie gesit in ‘n vergadering van spotters of was nie uitgelate nie; vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met grimmigheid vervul.
18 Waarom is my smart ewigdurend en my wond ongeneeslik? Dit weier om gesond te word. Sou U vir my waarlik wees soos ‘n bedrieglike stroom, waters wat nie standhoudend is nie?
19 Daarom, so sê die HERE: As jy terugkeer, sal Ek jou laat terugkeer, sal jy voor my aangesig staan; en as jy voortbring wat edel is, en niks onedels nie, sal jy soos my mond wees. Laat húlle na jou terugkeer, maar jy moet nie na hulle terugkeer nie.
20 En Ek sal jou ‘n onneembare kopermuur vir hierdie volk maak; en hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorweldig nie; want Ek is met jou om jou te verlos en om jou te red, spreek die HERE.
21 En Ek sal jou red uit die hand van die goddelose mense en jou verlos uit die vuis van die tiranne.




Hoofstuk 16

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Jy mag vir jou geen vrou neem nie, en jy mag geen seuns of dogters hê in hierdie plek nie.
3 Want so sê die HERE van die seuns en die dogters wat in hierdie plek gebore word, en van hulle moeders wat hulle baar, en van hulle vaders wat hulle verwek in hierdie land:
4 Aan dodelike siektes sal hulle sterwe, hulle sal nie beklaag of begrawe word nie, hulle sal mis op die aarde wees; en hulle sal deur die swaard en die hongersnood verteer word, en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.
5 Want so sê die HERE: Kom nie in die klaaghuis en gaan nie om te rouklaag nie, en betuig geen deelneming met hulle nie; want Ek het my vrede van hierdie volk weggeneem, spreek die HERE, die goedertierenheid en die barmhartigheid.
6 Groot sowel as klein sal sterwe in hierdie land; hulle sal nie begrawe word nie, en niemand sal hulle beklaag en homself stukkend kerwe of vir hom ‘n kaal plek skeer om hulle ontwil nie.
7 Ook sal niemand vir hulle treurbrood breek om iemand te troos oor ‘n dooie, of aan hulle die troosbeker gee om te drink oor iemand se vader of oor iemand se moeder nie.
8 Kom ook nie in ‘n huis van maaltye om met hulle saam aan te sit nie, om te eet en te drink nie.
9 Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek laat uit hierdie plek ophou voor julle oë en in julle dae die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid.
10 En as jy al hierdie woorde aan hierdie volk bekend maak en hulle jou vra: Waarom het die HERE al hierdie groot onheile oor ons gespreek? En wat is ons ongeregtigheid en ons sonde wat ons teen die HERE onse God begaan het? —
11 dan moet jy vir hulle sê: Omdat julle vaders My verlaat het, spreek die HERE, en agter ander gode aan geloop en hulle gedien en hul daarvoor neergebuig het, maar My verlaat het en my wet nie gehou het nie,
12 en julle nog erger gehandel het as julle vaders; want kyk, julle wandel elkeen na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie.
13 Daarom sal Ek julle wegslinger uit hierdie land na ‘n land wat julle nie geken het, julle en julle vaders nie; en daar sal julle ander gode dien dag en nag, omdat Ek julle geen genade sal bewys nie.
14 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat daar nie meer gesê sal word: So waar as die HERE leef, wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie;
15 maar: So waar as die HERE leef, wat die kinders van Israel laat optrek het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Hy hulle verdryf het. Ja, Ek sal hulle terugbring in hulle land wat Ek aan hulle vaders gegee het.
16 Kyk, Ek stuur baie vissers, spreek die HERE, wat hulle sal vang, en daarna sal Ek baie jagters stuur wat hulle sal opjaag, van elke berg en van elke heuwel en uit die klipskeure.
17 Want my oë is op al hulle weë, dit is nie voor my aangesig bedek nie, en hulle ongeregtigheid is nie voor my oë verborge nie.
18 Daarom sal Ek eers hulle ongeregtigheid en hulle sonde dubbel vergelde, omdat hulle my land ontheilig het met die lyke van hulle verfoeisels en my erfenis gevul het met hulle gruwels.
19 o HERE, my sterkte en my beskutting en my toevlug in die dag van benoudheid, tot U sal volke van die eindes van die aarde af kom en sê: Net leuens het ons vaders geërwe, nietige afgode, en daaronder was niks wat voordeel kon bring nie.
20 Sal ‘n mens vir hom gode maak wat tog geen gode is nie?
21 Daarom, kyk, Ek laat hulle hierdie keer voel, voel my hand en my mag; en hulle sal weet dat my Naam HERE is.




Hoofstuk 17

1 Die sonde van Juda is geskrywe met ‘n ystergriffel, met ‘n diamantpunt; dit is gegrif op die tafel van hulle hart en op die horings van julle altare—
2 telkens as hulle kinders aan hulle altare dink en aan hulle heilige boomstamme by die groen bome, op die hoë heuwels.
3 My berg in die veld, jou rykdom, al jou skatte sal Ek as buit gee saam met jou hoogtes, weens die sonde in jou hele grondgebied.
4 En jy sal uitval—en dit deur jouself—uit jou erfenis wat Ek jou gegee het, en Ek sal jou jou vyande laat dien in ‘n land wat jy nie ken nie; want julle het ‘n vuur aangesteek in my toorn, tot in ewigheid sal dit brand.
5 So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.
6 En hy sal wees soos ‘n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land.
7 Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.
8 Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.
9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
10 Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.
11 ‘n Voël wat eiers uitbroei sonder dat hy dit gelê het, is hy wat rykdom verwerf maar nie eerlik nie; in die helfte van sy dae moet hy dit laat agterbly, en in sy einde sal hy ‘n dwaas wees.
12 ‘n Troon van heerlikheid, verhewe van die begin af, is die plek van ons heiligdom.
13 o HERE, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.
14 Maak my gesond, HERE, dan sal ek gesond word; verlos my, dan sal ek verlos word; want U is my lof.
15 Daar sê hulle vir my: Waar is die woord van die HERE? Laat dit tog kom!
16 Wat my aangaan, ek het my nie onttrek om U as herder te volg nie, en die ongelukkige dag het ek nie begeer nie. U weet dit. Wat uit my lippe uitgegaan het, was voor u aangesig.
17 Wees my nie tot ‘n verskrikking nie; U is my toevlug in die dag van onheil.
18 Laat my vervolgers beskaamd staan, maar laat my nie beskaamd staan nie; laat hulle verskrik wees, maar laat my nie verskrik wees nie. Bring oor hulle die dag van onheil, en verbreek hulle met ‘n dubbele verbreking.
19 So het die HERE vir my gesê: Gaan staan in die poort van die kinders van die volk, waardeur die konings van Juda ingaan en waardeur hulle uitgaan, ja, al die poorte van Jerusalem;
20 en sê vir hulle: Hoor die woord van die HERE, konings van Juda en die hele Juda en al die inwoners van Jerusalem wat deur hierdie poorte ingaan:
21 So spreek die HERE: Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie.
22 Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het.
23 Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard om nie te luister nie en geen tugtiging aan te neem nie.
24 As julle dan aandagtig na My luister, spreek die HERE, om geen las deur die poorte van hierdie stad op die sabbatdag in te bring nie en om die sabbatdag te heilig deur daarop géén werk te doen nie,
25 dan sal deur die poorte van hierdie stad konings en vorste ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle vorste, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem; en hierdie stad sal vir ewig bewoon word.
26 En hulle sal kom uit die stede van Juda en uit die omstreke van Jerusalem en uit die land Benjamin en uit die Laeveld en uit die Gebergte en uit die Suidland, hulle wat brandoffer en slagoffer en spysoffer en wierook aanbring, en lofoffer aanbring in die huis van die HERE.
27 Maar as julle na My nie luister om die sabbatdag te heilig nie en om geen las te dra of deur die poorte van Jerusalem op die sabbatdag in te gaan nie, sal Ek ‘n vuur in sy poorte aansteek, wat die paleise van Jerusalem sal verteer en nie uitgeblus sal word nie.




Hoofstuk 18

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:
2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.
3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.
4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
5 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
6 Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel!
7 In een oomblik sal Ek spreek oor ‘n nasie en oor ‘n koninkryk om dit uit te ruk en om te gooi en te vernietig;
8 maar as dié nasie waaroor Ek gespreek het, hulle bekeer van hul boosheid, sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan was om hulle aan te doen.
9 En in ‘n ander oomblik sal Ek spreek oor ‘n nasie en oor ‘n koninkryk om dit te bou en te plant;
10 maar as hulle doen wat verkeerd is in my oë deur na my stem nie te luister nie, dan sal Ek berou hê oor die goeie waarmee Ek gesê het dat Ek aan hulle goed sal doen.
11 Sê dan nou tog aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem dit: So spreek die HERE: Kyk, Ek maak onheil gereed teen julle, en Ek dink ‘n plan uit teen julle; bekeer julle tog, elkeen van sy verkeerde weg, en maak julle weë en julle handelinge goed.
12 Maar hulle sê: Dit is tevergeefs; want ons sal na ons gedagtes wandel, en ons sal elkeen volgens die verhardheid van sy bose hart handel.
13 Daarom, so spreek die HERE: Vra tog onder die volke: Wie het sulke dinge gehoor? Die jonkvrou van Israel het ‘n baie afskuwelike ding gedoen.
14 Verdwyn die sneeu van die Líbanon ooit van die rots in die veld? Of droog die uitlandse, koue, stromende waters op?
15 Nogtans het my volk My vergeet, hulle laat rook opgaan vir die nietige afgode; dié het hulle laat struikel op al hul weë, op die ou paaie, om te loop op sypaaie, ‘n ongemaakte pad;
16 om hulle land te maak ‘n voorwerp van verbasing, van bespotting vir ewig. Elkeen wat daar verbytrek, sal hom verbaas en sy hoof skud.
17 Soos ‘n oostewind sal Ek hulle verstrooi voor die vyand; met die nek, en nie met die aangesig nie, sal Ek hulle aankyk in die dag van hulle ondergang.
18 Toe het hulle gesê: Kom, laat ons planne teen Jeremia beraam; want onderrigting sal nie ontbreek by die priester of raad by die wyse of ‘n woord by die profeet nie. Kom, laat ons hom slaan met die tong, en laat ons nie luister na een van sy woorde nie.
19 HERE, luister tog na my, en hoor na die stem van die wat met my twis.
20 Sal goed dan met kwaad vergeld word? —want hulle het vir my ‘n kuil gegrawe. Gedenk hoe ek voor u aangesig gestaan het om ‘n goeie woord vir hulle te doen, om u grimmigheid van hulle af te keer.
21 Daarom, gee hulle kinders oor aan die hongersnood, en lewer hulle oor in die mag van die swaard, en laat hulle vroue kinderloos en weduwees word, en laat hulle manne omkom deur die pes, hulle jongmanne verslaan word deur die swaard in die geveg.
22 Laat daar ‘n geskreeu uit hulle huise gehoor word as U skielik ‘n bende oor hulle bring. Want hulle het ‘n kuil gegrawe om my te vang en vangnette voor my voete gespan.
23 Maar U, HERE, ken hulle hele plan teen my om my dood te maak; doen geen versoening oor hulle ongeregtigheid en delg hulle sonde nie uit voor u aangesig nie, ja, laat hulle tot ‘n val kom voor u aangesig, tree teen hulle op in die tyd van u toorn.




Hoofstuk 19

1 So sê die HERE: Gaan koop vir jou ‘n pottebakkerskruik, saam met oudstes uit die volk en oudstes uit die priesters.
2 En gaan uit na die dal van die seun van Hinnom wat voor die ingang van die Potskerwepoort lê, en roep daar uit die woorde wat Ek met jou sal spreek.
3 En jy moet sê: Hoor die woord van die HERE, o konings van Juda en inwoners van Jerusalem! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring onheil oor hierdie plek waarvan elkeen wat dit hoor, se ore sal tuit;
4 omdat hulle My verlaat het en hierdie plek onherkenbaar gemaak het en vir ander gode, wat hulle nie geken het nie, daarin rook laat opgaan het—hulle en hulle vaders en die konings van Juda; en hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges.
5 En hulle het die hoogtes van Baäl gebou om hulle seuns met vuur te verbrand as brandoffers aan Baäl—iets wat Ek nie beveel of uitgespreek het nie, of wat in my hart nie opgekom het nie.
6 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat hierdie plek nie meer sal genoem word Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal.
7 En Ek sal die plan van Juda en Jerusalem in hierdie plek uitskud, en Ek sal hulle voor hul vyande deur die swaard laat val en deur die hand van die wat hulle lewe soek; en Ek sal hulle lyke gee as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.
8 En Ek sal hierdie stad maak ‘n voorwerp van verbasing en bespotting; elkeen wat daar verbytrek, sal hom verbaas en spot met al sy plae.
9 En Ek sal hulle die vlees van hul seuns en die vlees van hul dogters laat eet, en hulle sal elkeen die vlees van sy naaste eet, in die beleëring en in die benoudheid waarmee hulle vyande en die wat hulle lewe soek, hulle benoud sal maak.
10 Dan moet jy die kruik breek voor die oë van die manne wat saam met jou gegaan het,
11 en vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Net so sal Ek hierdie volk en hierdie stad verbreek, soos ‘n mens ‘n erdepot breek, wat nie meer heelgemaak kan word nie; en hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees om te begrawe nie.
12 So sal Ek met hierdie plek maak, spreek die HERE, en met sy inwoners, en hierdie stad maak soos Tofet.
13 En die huise van Jerusalem en die huise van die konings van Juda sal word soos die plek Tofet, onrein; naamlik al die huise op die dakke waarvan hulle rook laat opgaan het vir die hele leër van die hemel en drankoffers uitgegiet het vir ander gode.
14 Toe het Jeremia uit Tofet gekom, waarheen die HERE hom gestuur het om te profeteer, en hy het gaan staan in die voorhof van die huis van die HERE en aan die hele volk gesê:
15 So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor hierdie stad en al sy stede al die onheil wat Ek daaroor gespreek het, omdat hulle hul nek verhard het om na my woorde nie te luister nie.




Hoofstuk 20

1 En Pashur, die seun van Immer, die priester—wat hoofopsigter was in die huis van die HERE—het Jeremia hierdie woorde hoor profeteer.
2 Toe het Pashur die profeet Jeremia geslaan en hom in die blok gesit wat in die Boonste Poort van Benjamin was, by die huis van die HERE.
3 Maar die volgende dag het Pashur Jeremia uit die blok laat uithaal. Toe sê Jeremia vir hom: Die HERE noem jou nie Pashur nie, maar Skrik—rondom!
4 Want so spreek die HERE: Kyk, Ek maak jou ‘n skrik vir jouself en vir al jou vriende; en hulle sal val deur die swaard van hul vyande, terwyl jou oë dit sien, en die hele Juda sal Ek gee in die hand van die koning van Babel, wat hulle in ballingskap sal wegvoer na Babel en hulle met die swaard sal verslaan.
5 Ook sal Ek die hele besitting van hierdie stad en al sy goed en al sy kosbare dinge gee, ja, al die skatte van die konings van Juda sal Ek gee in die hand van hulle vyande, en hulle sal dit buitmaak en saamneem en na Babel bring.
6 En jy, Pashur, en al die inwoners van jou huis sal in gevangenskap gaan; en jy sal in Babel kom en daar sterwe en daar begrawe word, jy en al jou vriende vir wie jy vals geprofeteer het.
7 HERE, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was ‘n belagging die hele dag, almal saam spot met my.
8 Want elke keer as ek spreek, moet ek dit uitskreeu, moet ek roep: Geweld en verdrukking! —omdat die woord van die HERE vir my ‘n smaad en spot geword het die hele dag.
9 En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer spreek nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my gebeente. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.
10 Want ek het die skindertaal van baie gehoor—skrik rondom! —Klaag aan, en ons sal hom aanklaag! Al die mense wat met my in vrede lewe, loer op my val; hulle sê: Miskien laat hy hom verlei, dan kan ons hom oorweldig en ons wraak op hom neem.
11 Maar die HERE is met my soos ‘n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle staan diep beskaamd, omdat hulle nie geslaag het nie, ‘n ewige smaad wat nie vergeet sal word nie.
12 Maar, HERE van die leërskare, wat die regverdige toets, wat die niere en die hart sien—laat my u wraak sien op hulle, want aan U het ek my regsaak toevertrou.
13 Sing tot eer van die HERE, prys die HERE! Want Hy het die siel van die behoeftige uit die hand van die kwaaddoeners verlos.
14 Vervloek is die dag waarop ek gebore is; laat die dag waarop my moeder my gebaar het, nie geseënd wees nie.
15 Vervloek is die man wat aan my vader berig gebring en gesê het: Vir jou is ‘n seun gebore—waardeur hy hom grootliks verbly het.
16 Ja, laat dié man wees soos die stede wat die HERE omgekeer het sonder dat dit Hom berou het; en laat hom in die môre angsgeroep hoor en op die middagtyd krygsgeskreeu,
17 omdat hy my nie gedood het van die moederskoot af, sodat my moeder my graf geword het en haar skoot vir ewig swanger gebly het nie.
18 Waarom het ek tog uit die moederskoot voortgekom om moeite en kommer te sien, sodat my dae in skande verdwyn?




Hoofstuk 21

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het toe Sedekía, die koning, Pashur, die seun van Malkía, en Sefánja, die seun van Maäséja, die priester, na hom gestuur het met die woorde:
2 Raadpleeg tog die HERE vir ons, want Nebukadrésar, die koning van Babel, voer oorlog teen ons; miskien sal die HERE met ons handel volgens al sy wonders, sodat hy van ons af wegtrek.
3 Toe het Jeremia vir hulle gesê: So moet julle vir Sedekía sê:
4 So spreek die HERE, die God van Israel: Kyk, Ek laat die oorlogswapens terugdraai wat in julle hande is, waarmee julle oorlog voer buitekant die muur teen die koning van Babel en teen die Chaldeërs wat julle beleër; en Ek sal dit binne-in hierdie stad versamel.
5 En Ek self sal teen julle oorlog voer met ‘n uitgestrekte hand en ‘n sterke arm, ja, in toorn en in grimmigheid en in groot gramskap.
6 En Ek sal die inwoners van hierdie stad verslaan, die mense sowel as die vee—aan ‘n groot pes sal hulle sterwe.
7 En daarna, spreek die HERE, sal Ek Sedekía, die koning van Juda, en sy dienaars en die volk—die wat in hierdie stad oorgebly het van die pes, die swaard en die hongersnood—oorgee in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek; en hy sal hulle verslaan met die skerpte van die swaard; hy sal geen medelyde met hulle hê of hulle spaar of hom ontferm nie.
8 En aan hierdie volk moet jy sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek hou julle die weg van die lewe voor én die weg van die dood:
9 hy wat in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard of die hongersnood of die pes; maar hy wat uitgaan en oorloop na die Chaldeërs wat julle beleër, sal lewe, en sy lewe sal vir hom ‘n buit wees.
10 Want Ek het my aangesig teen hierdie stad gerig ten kwade en nie ten goede nie, spreek die HERE. Dit sal oorgegee word in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit met vuur verbrand.
11 En aan die huis van die koning van Juda moet jy sê: Hoor die woord van die HERE,
12 o huis van Dawid! So spreek die HERE: Verskaf reg in die môre en red die beroofde uit die hand van die verdrukker, sodat my grimmigheid nie uitgaan en brand soos ‘n vuur sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.
13 Kyk, Ek het dit teen jou, o inwoner van die dal, rots van die vlakte, spreek die HERE. Julle wat sê: Wie sal kan afkom teen ons, of wie sal in ons skuilplekke indring?
14 En Ek sal oor julle besoeking doen volgens die vrug van julle handelinge, spreek die HERE; en Ek sal ‘n vuur aansteek in sy bos, en dit sal alles verteer wat rondom hom lê.




Hoofstuk 22

1 So sê die HERE: Gaan af in die huis van die koning van Juda en spreek daar hierdie woord
2 en sê: Hoor die woord van die HERE, o koning van Juda, wat sit op die troon van Dawid; jy en jou dienaars en jou volk wat deur hierdie poorte ingaan.
3 So spreek die HERE: Doen reg en geregtigheid, en red die beroofde uit die hand van die verdrukker; en doen geen skade, geen geweld aan vreemdeling, wees en weduwee nie, en vergiet geen onskuldige bloed in hierdie plek nie.
4 Want as julle hierdie saak sorgvuldig doen, sal deur die poorte van hierdie huis konings ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hy en sy dienaars en sy volk.
5 Maar as julle na hierdie woorde nie luister nie, dan sweer Ek by Myself, spreek die HERE, dat hierdie huis ‘n puinhoop sal word.
6 Want so sê die HERE aangaande die huis van die koning van Juda: ‘n Gílead is jy vir My, die top van die Líbanon. Waarlik, Ek sal jou ‘n woestyn maak, stede wat nie bewoon word nie!
7 En Ek sal verwoesters teen jou heilig, elkeen met sy wapens, en hulle sal jou beste seders afkap en in die vuur gooi.
8 Dan sal baie nasies by hierdie stad verbytrek en die een aan die ander vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie groot stad?
9 En hulle sal sê: Omdat hulle die verbond van die HERE hulle God verlaat het en voor ander gode hulle neergebuig en dié gedien het.
10 Ween nie oor die dooie en beklaag hom nie; ween liewer oor hom wat heengegaan het, want hy sal nie meer terugkom nie en die land van sy geboorte nie sien nie.
11 Want so sê die HERE aangaande Sallum, die seun van Josía, die koning van Juda, wat in die plek van sy vader Josía geregeer het, wat uit hierdie plek uitgegaan het: Hy sal daar nie meer terugkom nie;
12 want in die plek waarheen hulle hom as gevangene weggevoer het, sal hy sterwe, en hierdie land sal hy nie meer sien nie.
13 Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg; wat sy naaste laat werk vir niks en hom sy loon nie gee nie;
14 wat sê: Ek sal vir my ‘n groot huis bou en ruim dakkamers—en hy bou vir hom sy vensters in; en hy oordek dit met sederhout en bestryk dit met rooiminie.
15 Is jy ‘n koning, omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en reg en geregtigheid gedoen nie? Toe het dit goed met hom gegaan.
16 Hy het reg verskaf aan die ellendige en behoeftige; toe het dit goed gegaan. Is dit nie My erken nie? spreek die HERE.
17 Maar jou oë en jou hart is net op jou onregverdige wins en op onskuldige bloed, om dit te vergiet, en op verdrukking en afpersing, om dit uit te voer.
18 Daarom sê die HERE so van Jójakim, die seun van Josía, koning van Juda: Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, my broer! of ag, suster! nie. Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, heer! of—ag, majesteit! nie.
19 Met ‘n eselsbegrafnis sal hy begrawe word—weggesleep en neergegooi ver van die poorte van Jerusalem af.
20 Klim op die Líbanon en skreeu, en laat in Basan jou stem hoor, ja, skreeu van die gebergte Abárim af, want al jou minnaars is verbreek.
21 Ek het met jou gespreek in jou sorgelose rus, maar jy het gesê: Ek wil nie luister nie. Dit was jou weg van jou jeug af, dat jy na my stem nie geluister het nie.
22 Die wind sal al jou herders verstrooi, en jou minnaars sal in gevangenskap gaan; ja, dan sal jy beskaamd staan en in die skande kom weens al jou boosheid.
23 Jy wat sit op die Líbanon, vasgenestel in die seders—hoe sal jy sug as weë oor jou kom, smart soos van een wat baar!
24 So waar as Ek leef, spreek die HERE, al was Gonja, die seun van Jójakim, koning van Juda, ‘n seëlring aan my regterhand, tog sal Ek jou daar afruk,
25 en Ek sal jou gee in die hand van hulle wat jou lewe soek en in die hand van hulle vir wie jy bang is, naamlik in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van die Chaldeërs.
26 En Ek sal jou wegslinger, saam met jou moeder wat jou gebaar het, na ‘n ander land waar julle nie gebore is nie, en daar sal julle sterwe.
27 Maar na die land waar hulle siel na verlang om daarin terug te kom, daarheen sal hulle nie teruggaan nie.
28 Is hierdie man Gonja ‘n veragte, verbryselde voorwerp, of ‘n ding waar ‘n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in ‘n land wat hulle nie ken nie?
29 o Land, land, land, hoor die woord van die HERE!
30 So sê die HERE: Skryf hierdie man op as kinderloos, ‘n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie.




Hoofstuk 23

1 Wee die herders wat die skape van my weide laat omkom en hulle verstrooi, spreek die HERE.
2 Daarom, so sê die HERE, die God van Israel, aangaande die herders wat my volk oppas: Júlle het my skape verstrooi en hulle verdrywe en hulle nie opgesoek nie. Kyk, Ek besoek oor julle die boosheid van julle handelinge, spreek die HERE.
3 En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig.
4 En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, spreek die HERE.
5 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.
6 In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.
7 Daarom kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat hulle nie meer sal sê: So waar as die HERE leef wat die kinders van Israel uit Egipteland laat optrek het nie,
8 maar: So waar as die HERE leef wat die geslag van die huis van Israel laat optrek en laat kom het uit die Noordland en uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het. En hulle sal woon in hulle land.
9 Wat die profete betref—my hart is gebreek in my binneste, my hele gebeente sidder; ek is soos ‘n dronk man en soos ‘n man wat deur die wyn oorweldig is, vanweë die HERE en sy heilige woorde.
10 Want die land is vol owerspelers; want die land treur weens die vloek, die weivelde van die woestyn verdor; ja, waar hulle na strewe, is sleg, en waar hulle hul krag in soek, onreg.
11 Want profeet sowel as priester is goddeloos; selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die HERE.
12 Daarom sal hulle weg vir hulle wees soos glyerige plekke in die donkerheid; hulle sal neergestoot word en daarin val. Want Ek sal onheil oor hulle bring in die jaar van hulle besoeking, spreek die HERE.
13 Ek het wel by die profete van Samaría aanstootlike dinge gesien: hulle profeteer deur Baäl en verlei my volk Israel;
14 maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.
15 Daarom, so sê die HERE van die leërskare aangaande die profete: Kyk, Ek laat hulle wilde-als eet en laat hulle gifwater drink; want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan.
16 So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie.
17 Hulle sê gedurig aan my veragters: Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie.
18 Want wie het in die raad van die HERE gestaan, dat hy sy woord sou sien en hoor? Wie het sy woord beluister en gehoor?
19 Kyk, ‘n storm van die HERE, grimmigheid het uitgegaan, ja, ‘n dwarrelstorm! Op die hoof van die goddelose mense breek dit los.
20 Die toorn van die HERE sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart; aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan.
21 Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer.
22 Maar as hulle in my raad gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hul handelinge.
23 Is Ek ‘n God van naby, spreek die HERE, en nie ‘n God van ver nie?
24 Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE.
25 Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom!
26 Hoe lank nog? Is dit in die hart van die profete wat leuens profeteer en profete is van die bedrieëry van hulle hart—
27 is hulle daarop bedag om my volk my Naam te laat vergeet deur hulle drome wat hulle die een aan die ander vertel, soos hulle vaders my Naam vergeet het deur Baäl?
28 Die profeet by wie ‘n droom is, laat hom ‘n droom vertel; en by wie my woord is, laat hom my woord spreek in waarheid. Wat het die strooi met die koring te doen? spreek die HERE.
29 Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?
30 Daarom, kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat my woorde steel, die een van die ander.
31 Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat hulle eie tong gebruik en sê: Die HERE spreek!
32 Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die HERE, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie, en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, spreek die HERE.
33 As hierdie volk of profeet of priester jou dan vra en sê: Wat het die HERE gelas? —dan moet jy vir hulle sê: Júlle is die las. En Ek sal julle afwerp, spreek die HERE.
34 En wat betref die profeet of die priester of die volk wat sê: Die HERE het gelas—oor dié man en oor sy huis sal Ek besoeking doen.
35 So moet julle sê, elkeen vir sy naaste en elkeen vir sy broer: Wat het die HERE geantwoord? En wat het die HERE gespreek?
36 Maar van: die HERE het gelas—mag julle nie meer melding maak nie; want vir elkeen sal sy eie woord die las wees: dat julle verdraai die woorde van die lewende God, van die HERE van die leërskare, onse God.
37 So moet jy aan die profeet sê: Wat het die HERE jou geantwoord? En wat het die HERE gespreek?
38 Maar as julle sê: Die HERE het gelas—daarom, so spreek die HERE: Omdat julle hierdie woord sê: Die HERE het gelas—alhoewel Ek na julle gestuur het met die woorde: Julle mag nie sê: Die HERE het gelas nie—
39 daarom, kyk, Ek sal julle sekerlik ophef en julle, saam met die stad wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, van my aangesig af wegwerp;
40 en Ek sal julle ‘n ewige smaad oplê en ‘n ewige skande wat nie vergeet sal word nie.




Hoofstuk 24

1 Die HERE het my laat sien, en daar was twee mandjies met vye, reggesit voor die tempel van die HERE—nadat Nebukadrésar, die koning van Babel, Jegónja, die seun van Jójakim, die koning van Juda, en die vorste van Juda en die smede en die slotmakers uit Jerusalem in ballingskap weggevoer en hulle in Babel gebring het.
2 In die een mandjie was baie goeie vye soos die voorvye; maar in die ander mandjie was baie slegte vye, te sleg om te eet.
3 En die HERE het vir my gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek het geantwoord: Vye; die goeie vye is baie goed en die slegtes baie sleg, te sleg om te eet.
4 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
5 So spreek die HERE, die God van Israel: Soos hierdie goeie vye, so sal Ek ten goede aansien die ballinge van Juda wat Ek uit hierdie plek na die land van die Chaldeërs weggestuur het;
6 en Ek sal my oog op hulle slaan ten goede en hulle terugbring in hierdie land; en Ek sal hulle bou en nie afbreek nie, en hulle plant en nie uitruk nie.
7 En Ek sal hulle ‘n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart.
8 En soos die slegte vye wat te sleg is om te eet—waarlik, so sê die HERE—só sal Ek Sedekía, die koning van Juda, maak en sy vorste en die oorblyfsel van Jerusalem wat in hierdie land oorgebly het en die wat in Egipteland woon;
9 en Ek sal hulle ‘n skrikbeeld maak, ‘n onheil vir al die koninkryke van die aarde, ‘n smaad en ‘n spreekwoord, ‘n spot en ‘n vervloeking in al die plekke waarheen Ek hulle verdrywe;
10 en Ek sal onder hulle stuur die swaard, die hongersnood en die pes, totdat hulle omgekom het uit die land wat Ek aan hulle en hul vaders gegee het.




Hoofstuk 25

1 Die woord wat tot Jeremia gekom het aangaande die hele volk van Juda, in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda—dit was die eerste jaar van Nebukadrésar, die koning van Babel—
2 waarmee die profeet Jeremia die hele volk van Juda en al die inwoners van Jerusalem toegespreek en gesê het:
3 Vanaf die dertiende jaar van Josía, die seun van Amon, die koning van Juda, tot op hierdie dag—nou drie en twintig jaar lank—het die woord van die HERE tot my gekom; en ek het julle toegespreek, vroeg en laat, maar julle het nie geluister nie.
4 Ook het die HERE al sy knegte, die profete, na julle gestuur, vroeg en laat—maar julle het nie geluister of julle oor geneig om te hoor nie—
5 met die woorde: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en van die boosheid van julle handelinge, en woon in die land wat die HERE aan julle en julle vaders gegee het, van eeu tot eeu;
6 en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien en julle voor hulle neer te buig nie, en terg My nie met die werk van julle hande nie, dat Ek julle geen kwaad aandoen nie.
7 Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die HERE—om My te terg met die werk van julle hande, julle tot skade.
8 Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Omdat julle na my woorde nie geluister het nie,
9 laat Ek al die geslagte van die Noorde haal, spreek die HERE, en Nebukadrésar, die koning van Babel, my dienaar; en Ek sal hulle bring oor hierdie land en sy inwoners en oor al hierdie nasies rondom, en Ek sal hulle met die banvloek tref en hulle maak ‘n voorwerp van verbasing en van bespotting en ewige puinhope.
10 En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp.
11 En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.
12 En as sewentig jaar vol is, sal Ek oor die koning van Babel en oor dié nasie, spreek die HERE, hulle ongeregtigheid besoek, en oor die land van die Chaldeërs, en sal dit ewige wildernisse maak.
13 En Ek sal oor dié land bring al my woorde wat Ek daaroor gespreek het—alles wat geskrywe is in hierdie boek, wat Jeremia geprofeteer het oor al die nasies.
14 Want hulle sal ook diensbaar gemaak word deur magtige nasies en groot konings, en Ek sal hulle vergelde ooreenkomstig hul dade en die werk van hul hande.
15 Want so het die HERE, die God van Israel, vir my gesê: Neem hierdie beker van die wyn van grimmigheid uit my hand en gee dit om te drink aan al die nasies na wie Ek jou stuur,
16 dat hulle kan drink en waggel en rasend word weens die swaard wat Ek onder hulle stuur.
17 En ek het die beker uit die hand van die HERE geneem en al die volke laat drink na wie die HERE my gestuur het;
18 naamlik Jerusalem en die stede van Juda en sy konings en sy vorste, om hulle te maak ‘n puinhoop, ‘n voorwerp van verbasing, van bespotting en van vervloeking soos dit vandag is;
19 Farao, die koning van Egipte, en sy dienaars en sy vorste en sy hele volk;
20 en die hele gemengde bevolking en al die konings van die land Us; en al die konings van die land van die Filistyne, en Askelon en Gasa en Ekron en die oorblyfsel van Asdod;
21 Edom en Moab en die kinders van Ammon;
22 en al die konings van Tirus en al die konings van Sidon en al die konings van die kusland wat oorkant die see is;
23 Dedan en Tema en Bus en almal wat die rand van hulle hare wegskeer;
24 en al die konings van Arabië en al die konings van die gemengde bevolking wat in die woestyn woon;
25 en al die konings van Simri en al die konings van Elam en al die konings van Médië;
26 en al die konings van die Noorde wat naby en ver is, die een ná die ander; ja, al die koninkryke van die aarde wat op die aardbodem is. En die koning van Sesag sal ná hulle drink.
27 En jy moet vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Drink en word dronk en spuug en val neer en staan nie weer op nie weens die swaard wat Ek onder julle stuur.
28 En as hulle weier om die beker uit jou hand te neem om te drink, moet jy vir hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Drink sál julle!
29 Want kyk, in die stad waaroor my Naam uitgeroep is, begin Ek met onheile—en sal júlle heeltemal ongestraf bly? Julle sal nie ongestraf bly nie, want Ek roep die swaard op teen al die inwoners van die aarde, spreek die HERE van die leërskare.
30 Jy moet dan al hierdie woorde vir hulle profeteer en aan hulle sê: Die HERE sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy ‘n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde.
31 Oorlogsrumoer het gekom tot by die einde van die aarde, want die HERE het ‘n twis met die nasies, Hy hou gerig oor alle vlees. Die goddelose—aan die swaard het Hy hulle oorgegee, spreek die HERE.
32 So sê die HERE van die leërskare: Kyk, onheil gaan uit van volk tot volk, en ‘n groot storm word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.
33 En die wat deur die HERE verslaan is, sal dié dag lê van die een einde van die aarde tot die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees.
34 Huil, o herders, en skreeu, en wentel julle in die as, julle maghebbers van die kudde; want vol is julle dae om geslag te word, en Ek sal julle verbrysel, en julle sal val soos ‘n kosbare voorwerp.
35 Dan sal daar geen toevlug wees vir die herders en geen ontkoming vir die maghebbers van die kudde nie.
36 Hoor! Geskreeu van die herders en gehuil van die maghebbers van die kudde, omdat die HERE hulle kudde verwoes.
37 En die weivelde van vrede word verwoes weens die toorngloed van die HERE.
38 Hy het soos ‘n jong leeu sy lêplek verlaat; want hulle land het ‘n woesteny geword weens die gewelddadige swaard, ja, weens sy toorngloed.




Hoofstuk 26

1 In die begin van die regering van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, het hierdie woord van die HERE gekom:
2 So sê die HERE: Gaan staan in die voorhof van die huis van die HERE, en spreek tot al die stede van Juda wat kom om te aanbid in die huis van die HERE, al die woorde wat Ek jou beveel het om aan hulle te sê; laat geen woord weg nie.
3 Miskien sal hulle luister en hulle bekeer elkeen van sy verkeerde weg; dan sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen weens die boosheid van hulle handelinge.
4 Sê dan vir hulle: So spreek die HERE: As julle na My nie luister nie, om in my wet te wandel wat Ek julle voorgehou het,
5 om te luister na die woorde van my knegte, die profete, wat Ek na julle stuur, vroeg én laat, sonder dat julle geluister het,
6 dan sal Ek hierdie huis maak soos Silo, en hierdie stad sal Ek maak ‘n vervloeking vir al die nasies van die aarde.
7 En die priesters en die profete en die hele volk het Jeremia hierdie woorde hoor spreek in die huis van die HERE.
8 En toe Jeremia klaar gespreek het alles wat die HERE beveel het om aan die hele volk te sê, het die priesters en die profete en die hele volk hom gegryp en gesê: Jy moet sekerlik sterwe!
9 Waarom het jy in die Naam van die HERE geprofeteer en gesê: Hierdie huis sal soos Silo word, en hierdie stad sal verwoes word, sonder inwoner? En die hele volk het bymekaargekom teen Jeremia in die huis van die HERE.
10 Toe die vorste van Juda hierdie woorde hoor, het hulle uit die huis van die koning opgegaan na die huis van die HERE; en hulle het gaan sit by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van die HERE.
11 En die priesters en die profete het met die vorste en met die hele volk gespreek en gesê: Hierdie man verdien die dood, want hy het geprofeteer teen hierdie stad, soos julle met jul ore gehoor het.
12 Maar Jeremia het al die vorste en die hele volk toegespreek en gesê: Die HERE het my gestuur om teen hierdie huis en teen hierdie stad te profeteer al die woorde wat julle gehoor het.
13 Maak dan nou julle weë en julle handelinge goed, en luister na die stem van die HERE julle God; dan sal dit die HERE berou oor die onheil wat Hy teen julle gespreek het.
14 Maar ek, kyk, ek is in julle hand; maak met my soos dit goed en reg is in julle oë.
15 Maar weet verseker as julle my doodmaak dat julle onskuldige bloed bring op julleself en op hierdie stad en op sy inwoners; want die HERE het my waarlik na julle gestuur om al hierdie woorde voor julle ore te spreek.
16 Toe sê die vorste en die hele volk aan die priesters en die profete: Hierdie man verdien nie die dood nie, want hy het met ons gespreek in die Naam van die HERE onse God.
17 Ook het daar manne opgestaan uit die oudstes van die land, en hulle het die hele vergadering van die volk toegespreek en gesê:
18 Miga, die Morastiet, het as profeet opgetree in die dae van Hiskía, koning van Juda, en met die hele volk van Juda gespreek en gesê: So spreek die HERE van die leërskare: Sion sal soos ‘n land omgeploeg word, en Jerusalem sal puinhope word en die tempelberg bosrante.
19 Het Hiskía, koning van Juda, en die hele Juda hom ooit gedood? Het hy nie die HERE gevrees en die HERE om genade gesmeek, sodat dit die HERE berou het oor die onheil wat Hy teen hulle gespreek het nie? En ons is besig om ons siele ‘n groot onheil te berokken!
20 En daar was ook ‘n man wat in die Naam van die HERE geprofeteer het, Uría, die seun van Semája, van Kirjat-Jeárim; en hy het geprofeteer teen hierdie stad en teen hierdie land ooreenkomstig al die woorde van Jeremia.
21 Maar toe koning Jójakim en al sy helde en al die vorste sy woorde hoor, het die koning probeer om hom dood te maak. Maar Uría het dit gehoor en bevrees geword en gevlug en in Egipte gekom.
22 Toe stuur koning Jójakim manne na Egipte, Élnatan, die seun van Akbor, en manne saam met hom, na Egipte toe.
23 Dié het Uría uit Egipte weggevoer en hom by die koning Jójakim gebring; en hy het hom met die swaard verslaan en sy lyk op die grafte van die gewone mense gegooi.
24 Maar die hand van Ahíkam, die seun van Safan, het Jeremia beskerm, sodat hy nie oorgegee is in die hand van die volk om hom dood te maak nie.




Hoofstuk 27

1 In die begin van die regering van Sedekía, die seun van Josía, koning van Juda, het van die HERE hierdie woord tot Jeremia gekom:
2 So het die HERE vir my gesê: Maak vir jou stroppe en jukke, en sit dit op jou nek;
3 en stuur dit na die koning van Edom en na die koning van Moab en na die koning van die kinders van Ammon en na die koning van Tirus en na die koning van Sidon deur middel van die gesante wat in Jerusalem gekom het na Sedekía, die koning van Juda;
4 en gee hulle opdrag aan hul gebieders, met die woorde: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: So moet julle aan jul gebieders sê:
5 Ek het die aarde, die mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag en deur my uitgestrekte arm, en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë.
6 En nou het Ék al hierdie lande gegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, my dienaar; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee om hom te dien.
7 En al die nasies sal hom dien en sy seun en sy seun se seun, totdat die tyd van sy land ook kom, dat dit diensbaar gemaak sal word deur magtige nasies en groot konings.
8 En die nasie en die koninkryk wat hom, Nebukadnésar, die koning van Babel, nie sal dien nie, en wat sy nek nie sal steek onder die juk van die koning van Babel nie—oor daardie nasie sal Ek, spreek die HERE, besoeking doen met die swaard en die hongersnood en die pes, totdat Ek hulle heeltemal in sy mag gebring het.
9 Júlle moet dan nie luister na julle profete en na julle waarsêers en na julle dromers en na julle goëlaars en na julle towenaars nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie.
10 Want hulle profeteer leuens vir julle om julle ver te laat wees uit julle land, sodat Ek julle verdrywe en julle omkom.
11 Maar die nasie wat sy nek sal bring onder die juk van die koning van Babel en hom sal dien, dié sal Ek in sy land laat bly, spreek die HERE, en hulle sal dit bewerk en daarin woon.
12 Daarna het ek met Sedekía, die koning van Juda, volgens al hierdie woorde gespreek en gesê: Bring julle nekke onder die juk van die koning van Babel, en dien hom en sy volk, dat julle kan lewe.
13 Waarom moet julle sterwe, u en u volk, deur die swaard, die hongersnood en die pes, soos die HERE gespreek het van die nasie wat die koning van Babel nie sal dien nie?
14 Luister dan nie na die woorde van die profete nie, wat met julle spreek en sê: Julle sal die koning van Babel nie dien nie; want hulle profeteer leuens vir julle.
15 Want Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE, en hulle profeteer vals in my Naam, dat Ek julle kan verdrywe en dat julle kan omkom, julle en die profete wat vir julle profeteer.
16 Ook het ek met die priesters en hierdie hele volk gespreek en gesê: So spreek die HERE: Luister nie na die woorde van julle profete nie, wat vir julle profeteer en sê: Kyk, die voorwerpe van die huis van die HERE sal nou gou uit Babel teruggebring word; want hulle profeteer leuens vir julle.
17 Luister nie na hulle nie, dien die koning van Babel, en lewe. Waarom moet hierdie stad ‘n puinhoop word?
18 Maar as hulle profete is, en as die woord van die HERE by hulle is, laat hulle tog die HERE van die leërskare dringend smeek, dat die voorwerpe wat in die huis van die HERE en die huis van die koning van Juda en in Jerusalem oorgebly het, nie in Babel kom nie.
19 Want so sê die HERE van die leërskare van die pilare en van die see en van die afspoelwaentjies en van die ander voorwerpe wat in hierdie stad oorgebly het,
20 wat Nebukadnésar, die koning van Babel, nie weggeneem het nie toe hy Jegónja, die seun van Jójakim, die koning van Juda, uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel toe, saam met al die edeles van Juda en Jerusalem—
21 want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aangaande die voorwerpe wat in die huis van die HERE en die huis van die koning van Juda en in Jerusalem oorgebly het:
22 Na Babel sal dit gebring word, en daar sal dit bly tot op die dag dat Ek daarop ag sal gee, spreek die HERE, en dit opvoer en terugbring na hierdie plek.




Hoofstuk 28

1 En in dié jaar, in die begin van die regering van Sedekía, die koning van Juda, in die vierde jaar, in die vyfde maand, het Hanánja, die seun van Assur, die profeet, wat uit Gíbeon afkomstig was, met my gespreek in die huis van die HERE in teenwoordigheid van die priesters en van die hele volk en gesê:
2 So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Ek het die juk van die koning van Babel verbreek.
3 In nog twee jaar bring Ek in hierdie plek terug al die voorwerpe van die huis van die HERE wat Nebukadnésar, die koning van Babel, uit hierdie plek weggeneem en na Babel gebring het.
4 Ook Jegónja, die seun van Jójakim, die koning van Juda, en al die ballinge van Juda wat na Babel gegaan het, bring Ek in hierdie plek terug, spreek die HERE; want Ek sal die juk van die koning van Babel verbreek.
5 Toe het die profeet Jeremia aan die profeet Hanánja gesê in teenwoordigheid van die priesters en van die hele volk wat in die huis van die HERE gestaan het,
6 en die profeet Jeremia het gesê: Amen, laat die HERE so doen! Laat die HERE vervul jou woorde wat jy geprofeteer het, deur die voorwerpe van die huis van die HERE en al die ballinge uit Babel na hierdie plek terug te bring!
7 Maar luister tog na hierdie woord wat ek spreek voor jou ore en voor die ore van die hele volk:
8 Die profete wat daar voor my en voor jou gewees het, van ouds af, het geprofeteer teen magtige lande en teen groot koninkryke van oorlog en onheil en pes.
9 Die profeet wat profeteer van vrede—as die woord van die profeet uitkom, sal die profeet bekend word wat die HERE waarlik gestuur het.
10 Daarop het die profeet Hanánja die juk van die nek van die profeet Jeremia afgeneem en dit verbreek.
11 En Hanánja het gespreek in teenwoordigheid van die hele volk en gesê: So spreek die HERE: So sal Ek verbreek die juk van Nebukadnésar, die koning van Babel, in nog twee jaar, van die nek van al die nasies. En die profeet Jeremia het weggegaan.
12 Maar die woord van die HERE het tot Jeremia gekom, nadat die profeet Hanánja die juk van die nek van die profeet Jeremia afgeneem en verbreek het, en gesê:
13 Gaan spreek met Hanánja en sê: So spreek die HERE: Houtjukke het jy verbreek, maar jy moet in die plek daarvan ysterjukke maak.
14 Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Ek het ‘n ysterjuk gelê op die nek van al hierdie nasies om Nebukadnésar, die koning van Babel, te dien, en hulle sal hom dien; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee.
15 En die profeet Jeremia het aan die profeet Hanánja gesê: Luister tog, Hanánja! Die HERE het jou nie gestuur nie, maar jy het hierdie volk op leuens laat vertrou.
16 Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek werp jou van die aarde af weg; hierdie jaar sal jy sterwe, omdat jy afval van die HERE verkondig het.
17 En die profeet Hanánja het in dié jaar, in die sewende maand, gesterwe.




Hoofstuk 29

1 En dit is die woorde van die brief wat die profeet Jeremia uit Jerusalem gestuur het na die nog lewende oudstes van die ballinge en na die priesters en die profete en na die hele volk wat Nebukadnésar uit Jerusalem in ballingskap weggevoer het na Babel toe—
2 ná die uittog van die koning Jegónja en die gebiedster en die hofdienaars, die vorste van Juda en Jerusalem, en die smede en die slotmakers, uit Jerusalem—
3 deur bemiddeling van Eleása, die seun van Safan, en Gemárja, die seun van Hilkía, wat Sedekía, die koning van Juda, na Nebukadnésar, die koning van Babel, na Babel gestuur het, naamlik:
4 So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het:
5 Bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan;
6 neem vroue en verwek seuns en dogters, en neem vroue vir julle seuns en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters baar; en vermenigvuldig daar, en moenie verminder nie;
7 en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.
8 Want so spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Laat julle profete en julle waarsêers wat onder julle is, julle nie bedrieg nie, en luister nie na julle dromers vir wie julle laat droom nie.
9 Want hulle profeteer vir julle vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur nie, spreek die HERE.
10 Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring.
11 Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.
12 Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister.
13 En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.
14 En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander en julle versamel uit al die nasies en uit al die plekke waarheen Ek julle verdryf het, spreek die HERE; en Ek sal julle terugbring na die plek vanwaar Ek julle in ballingskap weggevoer het.
15 As julle sê: Die HERE het vir ons profete verwek in Babel—
16 nee, so sê die HERE aangaande die koning wat op die troon van Dawid sit, en aangaande die hele volk wat in hierdie stad woon, julle broers wat nie saam met julle in ballingskap uitgetrek het nie,
17 so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek stuur die swaard, die hongersnood en die pes onder hulle, en Ek sal hulle maak soos bedorwe vye wat te sleg is om te eet.
18 En Ek sal hulle agtervolg met die swaard, die hongersnood en die pes; en Ek sal hulle ‘n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde: ‘n voorwerp van vervloeking, van verbasing, van bespotting en van smaad onder al die volke waarheen Ek hulle verdryf het;
19 omdat hulle na my woorde nie geluister het nie, spreek die HERE, waarmee Ek my knegte, die profete, na hulle gestuur het, vroeg en laat, sonder dat julle geluister het, spreek die HERE.
20 Luister dan na die woord van die HERE, al julle ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel weggestuur het!
21 So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aangaande Agab, die seun van Kolája, en aangaande Sedekía, die seun van Maäséja, wat vir julle in my Naam leuens profeteer: Kyk, Ek gee hulle in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en hy sal hulle voor julle oë verslaan.
22 En aan hulle sal ‘n vloek ontleen word by al die ballinge van Juda wat in Babel is, deurdat gesê word: Mag die HERE jou maak soos Sedekía en soos Agab, wat die koning van Babel in die vuur gebraai het! —
23 omdat hulle ‘n skanddaad in Israel begaan het en owerspel met die vroue van hulle naaste bedryf het en ‘n leuenwoord in my Naam gespreek het, wat Ek hulle nie beveel het nie; en Ek is die Een wat weet en getuie is, spreek die HERE.
24 En aan Semája, die Nehelamiet, moet jy dít sê:
25 So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Omdat jy ‘n brief in jou naam gestuur het na die hele volk wat in Jerusalem is, en na Sefánja, die seun van Maäséja, die priester, en na al die priesters, met die woorde:
26 Die HERE het jou as priester aangestel in die plek van die priester Jójada, dat daar opsigters kan wees in die huis van die HERE oor elkeen wat kranksinnig is en as profeet optree, dat jy hom in die blok en in die nekyster kan sit—
27 waarom het jy dan nou Jeremia, die Anatotiet, nie gekeer nie, wat by julle as ‘n profeet optree;
28 aangesien hy ons in Babel laat weet het: Dit sal lank duur; bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan?
29 En Sefánja, die priester, het hierdie brief voor die ore van die profeet Jeremia gelees.
30 Toe het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê:
31 Laat al die ballinge weet: So sê die HERE aangaande Semája, die Nehelamiet: Omdat Semája vir julle geprofeteer het sonder dat hy deur My gestuur is, en hy julle op leuens laat vertrou het,
32 daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek doen besoeking oor Semája, die Nehelamiet, en oor sy geslag; hy sal niemand hê wat onder hierdie volk woon nie, en hy sal die goeie nie sien wat Ek aan my volk sal doen nie, spreek die HERE; want hy het teen die HERE afval verkondig.




Hoofstuk 30

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het.
2 So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het;
3 want kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die HERE; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem.
4 En dit is die woorde wat die HERE gespreek het oor Israel en Juda:
5 Want so sê die HERE: Ons het ‘n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie!
6 Vra tog, en kyk of ‘n manspersoon baar? Waarom sien ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander?
7 Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.
8 En op dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie.
9 Maar hulle sal die HERE hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek.
10 Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob, spreek die HERE; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak.
11 Want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou te verlos. Want Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie.
12 Want so sê die HERE: Jou verbreking is ongeneeslik, jou wond is smartlik.
13 Niemand verskaf reg aan jou nie; daar is geen medisyne vir die sweer, geen genesing vir jou nie.
14 Al jou minnaars het jou vergeet, hulle vra nie na jou nie; want Ek het jou geslaan soos ‘n vyand slaan, met ‘n wrede tugtiging, omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes.
15 Wat skreeu jy vanweë jou verbreking, jou smart wat ongeneeslik is? Omdat jou ongeregtigheid groot is, geweldig jou sondes, het Ek jou hierdie dinge aangedoen.
16 Daarom, almal wat jou opeet, sal opgeëet word; en al jou teëstanders sal almal saam in gevangenskap gaan; en hulle wat jou plunder, sal geplunder word, en Ek sal almal wat jou buitmaak, oorgee as ‘n buit.
17 Want Ek sal genesing vir jou tot stand laat kom en jou van jou wonde gesond maak, spreek die HERE; omdat hulle jou noem: die verjaagde. Dit is Sion, sê hulle, niemand vra na haar nie.
18 So sê die HERE: Kyk, Ek verander die lot van die tente van Jakob en sal My oor sy wonings ontferm; en die stad sal op sy puinhoop herbou word, en die paleis sal op sy regte plek staan.
19 En uit hulle sal danksegging uitgaan en ‘n stem van spelers; en Ek sal hulle vermenigvuldig, en hulle sal nie verminder nie; en Ek sal hulle verheerlik, en hulle sal nie gering word nie.
20 En sy seuns sal wees soos in die voortyd, en sy vergadering sal voor my aangesig bestendig wees; en Ek sal besoeking doen oor al sy verdrukkers.
21 En sy maghebber sal uit hom afkomstig wees, en sy heerser uit sy midde voortkom; en Ek sal hom laat aankom, en hy sal nader kom na My toe. Want wie is hy tog wat sy lewe daaraan waag om nader te kom na My toe? spreek die HERE.
22 En julle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir julle ‘n God wees.
23 Kyk, ‘n storm van die HERE, grimmigheid het uitgegaan, ‘n dwarrelstorm! Op die hoof van die goddelose mense breek dit los.
24 Die toorngloed van die HERE sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart; aan die einde van die dae sal julle dit verstaan.




Hoofstuk 31

1 In dié tyd, spreek die HERE, sal Ek vir al die geslagte van Israel ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
2 So sê die HERE: Die volk van diegene wat van die swaard vrygeraak het, het genade gevind in die woestyn, op weg om sy rus te geniet, naamlik Israel.
3 Die HERE het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.
4 Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers.
5 Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaría; die planters sal plant en die vrugte geniet.
6 Want die dag is daar dat die oppassers op die berge van Efraim roep: Maak julle klaar en laat ons optrek na Sion, na die HERE onse God.
7 Want so sê die HERE: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o HERE, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel!
8 Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde; blindes en lammes, swangeres en barendes onder hulle, almal saam; in ‘n groot vergadering sal hulle terugkom hiernatoe.
9 Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle bring by waterstrome, op ‘n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie; want Ek is vir Israel ‘n Vader, en Efraim is my eersgeborene.
10 Hoor die woord van die HERE, o nasies, en verkondig in die kuslande wat ver is, en sê: Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder sy kudde.
11 Want die HERE het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy.
12 En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die HERE, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ‘n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie.
13 Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer.
14 En Ek sal die siel van die priesters verkwik met vettigheid, en my volk sal versadig word met my seëninge, spreek die HERE.
15 So sê die HERE: ‘n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.
16 So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die HERE; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.
17 Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die HERE; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied.
18 Sekerlik het Ek Efraim hoor weeklaag: U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos ‘n ongeleerde kalf. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE my God.
19 Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; en nadat ek tot insig gekom het, het ek op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja, ook in die skande gekom, omdat ek die smaad van my jeug dra.
20 Is Efraim vir My ‘n dierbare seun of ‘n troetelkind? Want so dikwels as Ek teen hom spreek, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm, spreek die HERE.
21 Rig vir jou mylpale op, maak vir jou padwysers, let op die grootpad, die pad wat jy geloop het. Kom terug, o jonkvrou van Israel, kom terug na hierdie stede van jou!
22 Hoe lank sal jy bly aarsel, o afkerige dogter? Want die HERE het iets nuuts op die aarde geskape: Die vrou sal die man beskerm.
23 So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Weer sal hulle hierdie woord sê in die land Juda en in die stede daarvan, as Ek hulle lot verander: Mag die HERE jou seën, o woning van geregtigheid, heilige berg!
24 En Juda en al sy stede sal daarin woon, almal saam; die landbouers en die wat met troppe vee rondtrek.
25 Want Ek verkwik die vermoeide siel en elke kwynende siel versadig Ek.
26 (Hierop het ek wakker geword en opgekyk, en my slaap was vir my soet.)
27 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die huis van Israel en die huis van Juda sal besaai met saad van mense en van diere.
28 En soos Ek oor hulle wakker was om uit te ruk en om te gooi en te verwoes en te vernietig en skade aan te doen, so sal Ek oor hulle wakker wees om te bou en te plant, spreek die HERE.
29 In dié dae sal hulle nie meer sê nie: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword.
30 Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe; elke mens wat die groen druiwe eet, sy tande sal stomp word.
31 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit;
32 nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE.
33 Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
34 En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.
35 So sê die HERE wat die son gee tot ‘n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ‘n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, HERE van die leërskare is sy Naam:
36 As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die HERE, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ‘n volk te wees voor my aangesig vir altyd.
37 So sê die HERE: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die HERE.
38 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat die stad vir die HERE herbou sal word, van die toring Hanáneël af tot by die Hoekpoort.
39 En die meetsnoer sal verder reguit aanloop tot by die heuwel Gareb en swaai na Goa toe.
40 En die hele dal van die lyke en van die as, en al die velde tot by die spruit Kidron, tot by die hoek van die Perdepoort teen die ooste, sal aan die HERE heilig wees; dit sal nie weer uitgeruk of verwoes word in ewigheid nie.




Hoofstuk 32

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het in die tiende jaar van Sedekía, die koning van Juda—hierdie jaar was die agttiende jaar van Nebukadrésar.
2 (Die leër van die koning van Babel het toe Jerusalem beleër, en die profeet Jeremia was opgesluit in die voorhof van bewaking wat in die huis van die koning van Juda is;
3 waar Sedekía die koning van Juda, hom opgesluit het, met die woorde: Waarom profeteer jy en sê: So spreek die HERE: Kyk, Ek gee hierdie stad in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit inneem;
4 en Sedekía, die koning van Juda, sal uit die hand van die Chaldeërs nie ontvlug nie; maar hy sal sekerlik oorgegee word in die hand van die koning van Babel, en hy sal mond tot mond met hom spreek en oog in oog hom sien;
5 en hy sal Sedekía na Babel bring, en daar sal hy wees totdat Ek op hom ag gee, spreek die HERE. Alhoewel julle teen die Chaldeërs veg, sal julle tog geen voorspoed hê nie.)
6 En Jeremia het gesê: Die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
7 Kyk, Hanámeël, die seun van Sallum, jou oom, kom na jou toe met die woorde: Koop vir jou my stuk grond wat in Anatot lê, want jy het die reg van lossing om te koop.
8 En Hanámeël, die seun van my oom, het na my gekom volgens die woord van die HERE in die voorhof van bewaking en vir my gesê: Koop tog my stuk grond wat in Anatot in die land Benjamin lê, want jy het die reg van besit en jy het die lossing; koop dit vir jou. Toe het ek gemerk dat dit die woord van die HERE was.
9 Daarop het ek van Hanámeël, die seun van my oom, die stuk grond gekoop wat in Anatot lê, en vir hom die geld afgeweeg: sewentien sikkels silwer.
10 En ek het dit in die brief geskrywe en dit verseël en getuies geneem en die geld afgeweeg op ‘n weegskaal.
11 Toe het ek die koopbrief geneem, die verseëlde een—volgens voorskrif en wetlike bepalinge—en die oop een,
12 en die koopbrief aan Barug, die seun van Nería, die seun van Magséja, gegee voor die oë van Hanámeël, die seun van my oom, en voor die oë van die getuies wat die koopbrief onderteken het; voor die oë van al die Jode wat in die voorhof van bewaking gesit het;
13 en ek het aan Barug voor hulle oë bevel gegee en gesê:
14 So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Neem hierdie briewe, hierdie koopbrief, die verseëlde een sowel as hierdie oop brief, en sit hulle in ‘n erdepot, dat hulle baie dae kan bly bestaan.
15 Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Daar sal weer huise en gronde en wingerde in hierdie land gekoop word.
16 En nadat ek die koopbrief aan Barug, die seun van Nería, gegee het, het ek tot die HERE gebid en gesê:
17 Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.
18 U wat guns bewys aan duisende en die ongeregtigheid van die vaders vergeld in die skoot van hulle kinders ná hulle; die grote, die geweldige God, wie se Naam is HERE van die leërskare,
19 groot van raad en magtig van daad, wie se oë oop is oor al die weë van die mensekinders om aan elkeen te gee volgens sy weë en die vrug van sy handelinge;
20 wat tekens en wonders gedoen het in Egipteland, tot vandag toe, in Israel sowel as onder die mense, en vir U ‘n Naam gemaak het soos dit vandag is,
21 en u volk Israel uitgelei het uit Egipteland deur tekens en wonders en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur ‘n groot verskrikking,
22 en aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning;
23 en hulle het gekom en dit in besit geneem, maar nie na u stem geluister en in u wet nie gewandel nie; alles wat U hulle beveel het om te doen, het hulle nie gedoen nie. Daarom het U al hierdie onheil oor hulle laat kom.
24 Kyk, die walle het gekom tot by die stad, om dit in te neem; en die stad is oorgegee in die hand van die Chaldeërs wat daarteen veg, vanweë die swaard en die hongersnood en die pes. Ja, wat U gespreek het, het gebeur; en kyk, U sien dit!
25 En tog het U, Here HERE, self aan my gesê: Koop vir jou die stuk grond vir geld en neem getuies, terwyl die stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee is!
26 Toe het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê:
27 Kyk, Ek is die HERE, die God van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?
28 Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek gee hierdie stad oor in die hand van die Chaldeërs en in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en hy sal dit inneem.
29 En die Chaldeërs wat teen hierdie stad veg, sal kom en hierdie stad aan die brand steek en dit verbrand, saam met die huise op die dakke waarvan hulle vir Baäl rook laat opgaan het en vir ander gode drankoffers uitgegiet het om My te terg.
30 Want die kinders van Israel en die kinders van Juda het van hulle jeug af net gedoen wat verkeerd is in my oë; want die kinders van Israel het My deur die werk van hulle hande net geterg, spreek die HERE.
31 Want ‘n oorsaak vir my toorn en my grimmigheid was hierdie stad vir My van die dag af dat hulle dit gebou het tot vandag toe, sodat Ek dit van my aangesig moet verwyder,
32 weens al die boosheid van die kinders van Israel en van die kinders van Juda wat hulle gedoen het om My te terg, hulle, hulle konings, hulle vorste, hulle priesters en hulle profete en die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem,
33 dat hulle My die rug toegekeer het en nie die aangesig nie, alhoewel Ek hulle geleer het, vroeg en laat, sonder dat hulle geluister het om tugtiging aan te neem.
34 Maar hulle het hul verfoeisels neergesit in die huis waar my Naam oor uitgeroep is, om dit te verontreinig;
35 en hulle het die hoogtes van Baäl gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters vir Molog deur die vuur te laat gaan—iets wat Ek hulle nie beveel het nie en wat in my hart nie opgekom het nie, dat hulle hierdie gruwel sou bedrywe om Juda te laat sondig.
36 Daarom, so spreek dan nou die HERE, die God van Israel, aangaande hierdie stad waarvan julle sê: Dit is in die hand van die koning van Babel oorgegee deur die swaard en die hongersnood en die pes—
37 kyk, Ek laat hulle bymekaarkom uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het in my toorn en in my grimmigheid en in groot gramskap; en Ek sal hulle na hierdie plek terugbring en hulle veilig laat woon.
38 En hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.
39 En Ek sal hulle een hart en een weg gee om My altyd te vrees, hulle ten goede en hulle kinders ná hulle.
40 En Ek sal ‘n ewige verbond met hulle sluit, dat Ek My van hulle nie sal afwend om aan hulle goed te doen nie; en Ek sal my vrees in hulle hart gee, sodat hulle van My nie afwyk nie.
41 En Ek sal My oor hulle verheug om aan hulle goed te doen; en Ek sal hulle duursaam in hierdie land plant, met my hele hart en met my hele siel.
42 Want so sê die HERE: Soos Ek oor hierdie volk gebring het al hierdie groot onheile, so bring Ek oor hulle al die goeie wat Ek oor hulle spreek.
43 En daar sal grond gekoop word in hierdie land waarvan julle sê: Dit is ‘n wildernis, sonder mens of dier; dit is in die hand van die Chaldeërs oorgegee.
44 Gronde sal hulle vir geld koop en die briewe onderteken en verseël en getuies neem, in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda en in die stede van die Gebergte en in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland; want Ek sal hulle lot verander, spreek die HERE.




Hoofstuk 33

1 Verder het die woord van die HERE vir die tweede keer tot Jeremia gekom, terwyl hy nog opgesluit was in die voorhof van bewaking, en gesê:
2 So spreek die HERE wat dit doen, die HERE wat dit formeer om dit te bevestig, HERE is sy Naam:
3 Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.
4 Want so sê die HERE, die God van Israel, met betrekking tot die huise van hierdie stad en die huise van die konings van Juda wat omgegooi is as verdediging teen die walle en die swaard—
5 hulle kom wel om te veg teen die Chaldeërs, maar dit is om dié huise te vul met die lyke van mense wat Ek verslaan het in my toorn en in my grimmigheid en oor al die boosheid van diegene om wie Ek my aangesig vir hierdie stad verberg het.
6 Kyk, Ek laat vir die stad genesing en gesondmaking tot stand kom en sal hulle gesond maak en aan hulle openbaar ‘n oorvloed van duursame vrede.
7 En Ek sal die lot van Juda en die lot van Israel verander en hulle bou soos tevore.
8 En Ek sal hulle reinig van al hulle ongeregtigheid waarmee hulle teen My gesondig het, en vergewe al hulle ongeregtighede waarmee hulle teen My gesondig en teen My oortree het.
9 En die stad sal vir My wees ‘n vreugdevolle roem, ‘n lof en ‘n sieraad by al die nasies van die aarde wat sal hoor van al die goeie wat Ek aan hulle doen; en hulle sal bewe en ontroer word oor al die goeie en oor al die vrede wat Ek daaraan bewys.
10 So spreek die HERE: In hierdie plek waarvan julle sê: Dit is woes, sonder mens en sonder dier—in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem wat verwoes is, sonder mens en sonder inwoner en sonder dier, sal weer gehoor word
11 die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die stem van die wat sê: Loof die HERE van die leërskare, want die HERE is goed, want sy goedertierenheid is in ewigheid! —van die wat ‘n lofoffer bring in die huis van die HERE; want Ek sal die lot van die land verander soos tevore, sê die HERE.
12 So spreek die HERE van die leërskare: In hierdie plek wat woes is, sonder mens of dier, en in al die stede daarvan sal weer ‘n weiveld vir die herders wees wat troppe kleinvee laat lê en rus.
13 In die stede van die Gebergte, in die stede van die Laeveld en in die stede van die Suidland en in die land Benjamin en in die omstreke van Jerusalem en in die stede van Juda sal die troppe kleinvee weer by die teller verbygaan, sê die HERE.
14 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die goeie woord in vervulling laat gaan wat Ek gespreek het aangaande die huis van Israel en die huis van Juda.
15 In dié dae en in dié tyd sal Ek vir Dawid ‘n Spruit van geregtigheid laat uitspruit, en Hy sal reg en geregtigheid doen in die land.
16 In dié dae sal Juda verlos word en Jerusalem veilig woon; en dit sal die naam daarvan wees: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.
17 Want so sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie ‘n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie;
18 en daar sal vir die Levitiese priesters nooit voor my aangesig ‘n man ontbreek wat altyddeur brandoffers bring en spysoffers aan die brand steek en slagoffers berei nie.
19 En die woord van die HERE het tot Jeremia gekom en gesê:
20 So spreek die HERE: As julle my verbond met die dag en my verbond met die nag kan verbreek, dat daar geen dag of nag op hulle tyd is nie,
21 dan sal ook my verbond met Dawid, my kneg, verbreek kan word, dat daar vir hom geen seun sal wees wat regeer op sy troon nie, en met die Leviete, die priesters, my dienaars.
22 Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien.
23 Verder het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê:
24 Het jy nie gemerk wat hierdie volk spreek nie as hulle sê: Die twee geslagte wat die HERE uitverkies het, dié het Hy verwerp? En hulle verag my volk, sodat dit geen nasie voor hulle meer is nie.
25 So sê die HERE: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie,
26 dan sal Ek ook die nageslag van Jakob en van my kneg Dawid verwerp, dat Ek nie uit sy nageslag heersers sal neem oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob nie; want Ek sal hulle lot verander en My oor hulle ontferm.




Hoofstuk 34

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het—toe Nebukadnésar, die koning van Babel, en sy hele leër en al die koninkryke van die land van sy heerskappy en al die volke teen Jerusalem en al die stede daarvan oorlog gevoer het—
2 so sê die HERE, die God van Israel: Gaan en spreek met Sedekía, die koning van Juda, en sê vir hom: So spreek die HERE: Kyk, Ek gee hierdie stad in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit met vuur verbrand.
3 En jy sal uit sy hand nie ontvlug nie, maar sekerlik gevang en in sy hand gegee word; en oog in oog sal jy die koning van Babel sien, en mond tot mond sal hy met jou spreek; en jy sal in Babel kom.
4 Maar luister na die woord van die HERE, o Sedekía, koning van Juda! So sê die HERE aangaande jou: Jy sal deur die swaard nie sterwe nie.
5 Jy sal in vrede sterwe, en net so ‘n wierookbrand as vir jou vaders, die vorige konings wat voor jou gewees het, sal hulle vir jou aansteek en jou beklaag met: Ag, heer! Want Ék het die woord gespreek, spreek die HERE.
6 En die profeet Jeremia het al hierdie woorde aan Sedekía, die koning van Juda, in Jerusalem meegedeel,
7 terwyl die leër van die koning van Babel oorlog voer teen Jerusalem en teen al die stede van Juda wat oorgebly het, teen Lagis en teen Aséka; want hulle het as versterkte stede oorgebly onder die stede van Juda.
8 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het nadat koning Sedekía ‘n verbond gesluit het met die hele volk wat in Jerusalem was, om vir hulle ‘n vrylating uit te roep,
9 dat elkeen sy slaaf en sy slavin, ‘n Hebreeuse man of Hebreeuse vrou, vry moet laat weggaan, sodat niemand ‘n Jood, sy broer, vir hom diensbaar sou maak nie.
10 En al die vorste en die hele volk wat die verbond aangegaan het, het gehoor gegee dat elkeen sy slaaf en sy slavin vry sou laat weggaan, sodat dié nie meer aan hulle diensbaar sou wees nie; ja, hulle het gehoor gegee en hulle laat weggaan.
11 Maar daarna het hulle weer die slawe en slavinne laat terugkom wat hulle vry laat weggaan het, en hulle het dié as slawe en slavinne onderdanig gemaak.
12 Toe het van die HERE die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê:
13 So spreek die HERE, die God van Israel: Ek het ‘n verbond gesluit met julle vaders op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het, met die woorde:
14 Aan die einde van sewe jaar moet julle elkeen sy broer, die Hebreër wat aan jou verkoop is en jou ses jaar lank gedien het, laat weggaan; jy moet hom as vryman van jou af laat weggaan. Maar julle vaders het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie.
15 En júlle het vandag tot inkeer gekom en gedoen wat reg is in my oë, om ‘n vrylating uit te roep, elkeen vir sy naaste; en julle het ‘n verbond gesluit voor my aangesig, in die huis waaroor my Naam uitgeroep is.
16 Maar julle het weer gedraai en my Naam ontheilig, en elkeen het sy slaaf en sy slavin wat julle vry laat weggaan het volgens hulle begeerte, laat terugkom; en julle het hulle onderdanig gemaak om julle slawe en slavinne te wees.
17 Daarom, so sê die HERE: Júlle het na My nie geluister om ‘n vrylating uit te roep elkeen vir sy broer en vir sy naaste nie; kyk, Ek roep ‘n vrylating uit, spreek die HERE, om julle oor te gee aan die swaard, die pes en die hongersnood, en Ek sal julle ‘n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde.
18 En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het:
19 die vorste van Juda en die vorste van Jerusalem, die hofdienaars en die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgegaan het.
20 En Ek sal hulle gee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek; en hulle lyke sal dien as voedsel vir die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde.
21 En Sedekía, die koning van Juda, en sy vorste sal Ek oorgee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek, naamlik aan die leër van die koning van Babel wat van julle af opgetrek het.
22 Kyk, Ek gee bevel, spreek die HERE, en sal hulle na hierdie stad terugbring; en hulle sal daarteen oorlog voer en dit inneem en met vuur verbrand; en Ek sal die stede van Juda ‘n wildernis maak, sonder inwoner.




Hoofstuk 35

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het in die dae van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda:
2 Gaan na die huis van die Regabiete en spreek met hulle en bring hulle in die huis van die HERE, in een van die kamers en gee hulle wyn om te drink.
3 Toe het ek Jaäsánja, die seun van Jeremia, die seun van Habassínja, geneem en sy broers en al sy seuns en die hele huis van die Regabiete;
4 en ek het hulle gebring in die huis van die HERE, in die kamer van die seuns van Hanan, die seun van Jigdálja, die man van God, wat langs die kamer van die vorste is, bo die kamer van Maäséja, die seun van Sallum, die drumpelwagter.
5 En ek het voor die kinders van die huis van die Regabiete kanne vol wyn en bekers neergesit en aan hulle gesê: Drink wyn.
6 Maar hulle het geantwoord: Ons sal geen wyn drink nie, want Jónadab, die seun van Regab, ons vader, het ons beveel en gesê: Julle mag geen wyn drink, julle en julle kinders, tot in ewigheid nie.
7 Ook mag julle geen huis bou of saad saai of wingerd plant of dit besit nie; maar julle moet in tente woon al julle dae, sodat julle baie dae mag lewe in die land waar julle as vreemdelinge vertoef.
8 En ons het geluister na die stem van ons vader Jónadab, die seun van Regab, in alles wat hy ons beveel het, om geen wyn te drink al ons dae nie, ons, ons vroue, ons seuns en ons dogters;
9 en geen huise te bou om in te woon nie, en geen wingerd of landerye of saad te besit nie;
10 en ons het in tente gewoon en geluister en gedoen net soos ons vader Jónadab ons beveel het.
11 Maar toe Nebukadrésar, die koning van Babel, na die land opgetrek het, het ons gesê: Kom, laat ons na Jerusalem gaan vanweë die leër van die Chaldeërs en die leër van die Arameërs. So het ons dan in Jerusalem gebly.
12 Toe kom die woord van die HERE tot Jeremia en sê:
13 So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Gaan sê aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem: Wil julle hieruit geen lering trek om na my woorde te luister nie? spreek die HERE.
14 Die woorde van Jónadab, die seun van Regab, wat hy sy kinders beveel het om geen wyn te drink nie, het hulle gehou; want hulle het geen wyn gedrink tot vandag toe nie, maar het geluister na die gebod van hulle vader. En Ék het met julle gespreek, vroeg en laat, maar julle het na My nie geluister nie.
15 En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Bekeer julle tog elkeen van sy verkeerde weg en maak julle handelinge goed en loop nie agter ander gode aan om hulle te dien nie; dan sal julle bly in die land wat Ek aan julle en julle vaders gegee het. Maar julle het geen gehoor gegee en na My nie geluister nie.
16 Ja, die kinders van Jónadab, die seun van Regab, het die gebod van hulle vader gehou wat hy hulle beveel het; maar hierdie volk luister nie na My nie.
17 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem al die onheil wat Ek teen hulle gespreek het; omdat Ek met hulle gespreek, maar hulle nie geluister en Ek hulle geroep, maar hulle nie geantwoord het nie.
18 En aan die huis van die Regabiete het Jeremia gesê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Omdat julle geluister het na die gebod van julle vader Jónadab en al sy gebooie gehou en gedoen het net soos hy julle beveel het,
19 daarom, so spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Daar sal vir Jónadab, die seun van Regab, nooit ‘n man ontbreek wat altyd voor my aangesig sal staan nie.




Hoofstuk 36

1 En in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, het van die HERE hierdie woord tot Jeremia gekom:
2 Neem vir jou ‘n boekrol en skrywe daarop al die woorde wat Ek met jou gespreek het oor Israel en Juda en oor al die nasies, van die dag af dat Ek met jou gespreek het, van die dae van Josía af, tot vandag toe.
3 Miskien sal die huis van Juda luister na al die onheil wat Ek van plan is om hulle aan te doen, sodat hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg en Ek hulle ongeregtigheid en hulle sonde vergewe.
4 En Jeremia het Barug, die seun van Nería, geroep; en Barug het op ‘n boekrol geskrywe, uit die mond van Jeremia, al die woorde van die HERE wat Hy met hom gespreek het.
5 En Jeremia het aan Barug bevel gegee en gesê: Ek is verhinder, ek kan nie gaan in die huis van die HERE nie.
6 Gaan jy dan en lees uit die rol wat jy uit my mond beskrywe het, die woorde van die HERE voor die ore van die volk in die huis van die HERE, op die vasdag; en jy moet dit ook lees voor die ore van die hele Juda wat uit hulle stede kom.
7 Miskien sal hulle smeking voor die aangesig van die HERE kom en sal hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg; want groot is die toorn en die grimmigheid wat die HERE teen hierdie volk uitgespreek het.
8 En Barug, die seun van Nería, het gedoen net soos die profeet Jeremia hom beveel het deur uit die boek te lees die woorde van die HERE, in die huis van die HERE.
9 Want in die vyfde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda, in die negende maand, het hulle ‘n vasdag voor die aangesig van die HERE uitgeroep—die hele volk in Jerusalem en die hele volk wat uit die stede van Juda in Jerusalem gekom het.
10 En Barug het uit die boek gelees die woorde van Jeremia, in die huis van die HERE, in die kamer van Gemárja, die seun van Safan, die skrywer, in die boonste voorhof by die ingang van die Nuwe Poort van die huis van die HERE, voor die ore van die hele volk.
11 En toe Migája, die seun van Gemárja, die seun van Safan, al die woorde van die HERE uit die boek hoor,
12 gaan hy af na die huis van die koning, in die kamer van die skrywer, waar toe juis al die vorste gesit het: Elisáma, die skrywer, en Delája, die seun van Semája, en Élnatan, die seun van Akbor, en Gemárja, die seun van Safan, en Sedekía, die seun van Hanánja, en al die vorste.
13 Daarop maak Migája aan hulle bekend al die woorde wat hy gehoor het toe Barug uit die boek voor die ore van die volk gelees het.
14 Toe stuur al die vorste Jehúdi, die seun van Netánja, die seun van Selémja, die seun van Kusi, na Barug, met die boodskap: Die rol waaruit jy voor die ore van die volk gelees het, neem dit in jou hand en kom. Daarop neem Barug, die seun van Nería, die rol in sy hand, en hy het by hulle gekom.
15 En hulle sê vir hom: Sit tog en lees dit voor ons ore. En Barug het voor hulle ore gelees.
16 Toe hulle al die woorde hoor, het hulle mekaar verskrik aangekyk en vir Barug gesê: Ons moet al hierdie woorde sekerlik aan die koning bekend maak.
17 En hulle het Barug gevra: Vertel ons tog hoe het jy al hierdie woorde uit sy mond opgeskrywe?
18 Toe antwoord Barug hulle: Uit sy mond het hy my al hierdie woorde voorgesê, en ek het hulle met ink in die boek geskrywe.
19 Daarop sê die vorste vir Barug: Gaan, verberg jou, jy en Jeremia, en laat geen mens weet waar julle is nie.
20 En hulle het na die koning in die voorhof gegaan—die rol het hulle weggesit in die kamer van Elisáma, die skrywer—en al die woorde voor die ore van die koning gemeld.
21 Toe stuur die koning Jehúdi om die rol te gaan haal; en hy het dit gaan haal uit die kamer van Elisáma, die skrywer. En Jehúdi het dit gelees voor die ore van die koning en van al die vorste wat by die koning staan,
22 terwyl die koning gesit het in die winterpaleis, in die negende maand, met die brandende vuurpan voor hom.
23 En elke keer het hy, as Jehúdi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van ‘n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was.
24 En hulle was nie verskrik nie en het hulle klere nie geskeur nie—die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het;
25 alhoewel selfs Élnatan en Delája en Gemárja by die koning daarop aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie.
26 Toe gee die koning bevel aan Jerágmeël, die seun van die koning, en Serája, die seun van Asriël, en Selémja, die seun van Abdeël, om die skrywer Barug en die profeet Jeremia te vang. Maar die HERE het hulle verberg.
27 Toe kom die woord van die HERE tot Jeremia—nadat die koning die rol verbrand het met die woorde wat Barug uit die mond van Jeremia opgeskrywe het—en sê:
28 Neem vir jou weer ‘n ander rol en skrywe daarop al die vorige woorde wat op die eerste rol was, wat Jójakim, die koning van Juda, verbrand het.
29 En aangaande Jójakim, die koning van Juda, moet jy sê: So spreek die HERE: Jy het hierdie rol verbrand met die woorde: Waarom het jy daarop geskrywe en gesê: Die koning van Babel sal sekerlik kom en hierdie land verwoes en mens en dier daar uitroei?
30 Daarom, so spreek die HERE aangaande Jójakim, die koning van Juda: Hy sal nooit een hê wat op die troon van Dawid sit nie, en sy lyk sal weggegooi lê, bedags in die hitte en snags in die koue.
31 En Ek sal aan hom en sy geslag en sy dienaars hulle ongeregtigheid besoek; en Ek sal oor hulle en die inwoners van Jerusalem en die manne van Juda al die onheil bring wat Ek teen hulle gespreek het sonder dat hulle geluister het.
32 Toe het Jeremia ‘n ander rol geneem en dit aan die skrywer Barug, die seun van Nería, gegee; en hy het daarop uit die mond van Jeremia geskrywe al die woorde van die boek wat Jójakim, die koning van Juda, met vuur verbrand het; en nog baie dergelike woorde is daaraan toegevoeg.




Hoofstuk 37

1 En Sedekía, die seun van Josía, wat Nebukadrésar, die koning van Babel, koning gemaak het in die land Juda, het as koning geregeer in die plek van Gonja, die seun van Jójakim.
2 Maar hy het nie geluister, hy en sy dienaars en die volk van die land, na die woorde van die HERE wat Hy deur die diens van die profeet Jeremia gespreek het nie.
3 Nogtans het koning Sedekía met Jugal, die seun van Selémja, en Sefánja, die seun van Maäséja, die priester, die profeet Jeremia laat weet: Bid tog tot die HERE onse God vir ons.
4 Toe het Jeremia nog in— en uitgegaan onder die volk, en hulle het hom nog nie in die gevangenis gesit nie.
5 Ook het die leër van Farao uit Egipte uitgetrek; en toe die Chaldeërs wat besig was om Jerusalem te beleër, die tyding aangaande hulle hoor, het hulle van Jerusalem af opgetrek.
6 Daarop kom die woord van die HERE tot die profeet Jeremia en sê:
7 So spreek die HERE, die God van Israel: So moet julle sê aan die koning van Juda wat julle na My gestuur het om My te raadpleeg: Kyk, die leër van Farao wat uitgetrek het om julle te help, sal teruggaan na sy land, na Egipte toe;
8 en die Chaldeërs sal terugkom en teen hierdie stad oorlog voer en dit inneem en dit met vuur verbrand.
9 So spreek die HERE: Bedrieg julleself nie deur te sê: Die Chaldeërs sal sekerlik van ons af wegtrek—want hulle sal nie wegtrek nie.
10 Want al sou julle die hele leër van die Chaldeërs wat teen julle oorlog voer, verslaan, sodat daar onder hulle net swaar gewondes oorbly, dan sou hulle elkeen in sy tent opstaan en hierdie stad met vuur verbrand.
11 En toe die leër van die Chaldeërs van Jerusalem af opgetrek het vanweë die leër van Farao,
12 wou Jeremia Jerusalem verlaat om in die land Benjamin te gaan, om daar te midde van die volk ‘n erfdeel in ontvangs te neem.
13 Toe hy in die Benjaminspoort kom, was daar ‘n voorman van die wag met die naam Jiría, die seun van Selémja, die seun van Hanánja; en hy het die profeet Jeremia gevang, met die woorde: Jy wil na die Chaldeërs oorloop!
14 Maar Jeremia het gesê: Leuens! Ek wil nie na die Chaldeërs oorloop nie. Maar hy het na hom nie geluister nie, en Jiría het Jeremia gevang en hom by die vorste gebring.
15 En die vorste het vir Jeremia baie kwaad geword en hom geslaan en hom in die gevangenis gesit in die huis van die skrywer Jónatan; want hulle het daar ‘n gevangenis van gemaak.
16 Toe Jeremia in die kerker en in die gewelwe kom en Jeremia daar baie dae gebly het,
17 het koning Sedekía gestuur en hom laat haal; en die koning het hom in sy huis in die geheim gevra en gesê: Is daar ‘n woord van die HERE? Toe antwoord Jeremia: Ja. Ook sê hy: U sal in die hand van die koning van Babel oorgelewer word.
18 Verder het Jeremia aan die koning Sedekía gesê: Wat het ek teen u of teen u dienaars of teen hierdie volk gesondig, dat julle my in die gevangenis gesit het?
19 En waar is julle profete wat vir julle geprofeteer het met die woorde: Die koning van Babel sal nie teen julle of teen hierdie land kom nie?
20 Luister dan nou tog, my heer die koning! Laat tog my smeking voor u kom en laat my nie terugbring in die huis van die skrywer Jónatan, dat ek daar nie sterwe nie.
21 Toe gee koning Sedekía bevel dat hulle Jeremia onder toesig moet hou in die voorhof van bewaking en aan hom daagliks ‘n skyf brood uit die Bakkerstraat moet gee, totdat al die brood van die stad op was. So het Jeremia dan in die voorhof van bewaking gebly.




Hoofstuk 38

1 Toe Sefátja, die seun van Mattan, en Gedálja, die seun van Pashur, en Jugal, die seun van Selémja, en Pashur, die seun van Malkía, die woorde hoor waarmee Jeremia die hele volk bly toespreek het, naamlik:
2 So spreek die HERE: Wie in hierdie stad bly, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood of die pes, maar wie na die Chaldeërs uitgaan, sal lewe, en sy siel sal vir hom ‘n buit wees, en hy sal lewe.
3 So spreek die HERE: Hierdie stad sal sekerlik oorgegee word in die mag van die leër van die koning van Babel, en hy sal dit inneem.
4 Toe het die vorste aan die koning gesê: Laat hierdie man tog gedood word, want so maak hy die hande van die krygsmanne slap wat in hierdie stad nog oor is en die hande van die hele volk deur sulke woorde tot hulle te spreek; want dié man soek nie die vrede van hierdie volk nie, maar die onheil.
5 En koning Sedekía het gesê: Kyk, hy is in julle mag, want die koning kan niks teen julle doen nie.
6 Toe neem hulle Jeremia en gooi hom in die put van Malkía, die seun van die koning, wat in die voorhof van bewaking was; en hulle het Jeremia met toue laat afsak. En in die put was geen water nie, maar modder; en Jeremia het in die modder gesak.
7 En toe Ebed-Meleg, die Kusiet, ‘n hofdienaar wat in die paleis van die koning was, hoor dat hulle Jeremia in die put gegooi het—die koning het toe in die Benjaminspoort gesit—
8 het Ebed-Meleg uit die paleis van die koning gegaan en met die koning gespreek en gesê:
9 My heer die koning, hierdie manne het verkeerd gehandel in alles wat hulle die profeet Jeremia aangedoen het, wat hulle in die put gegooi het; hy sal tog sterwe van honger op die plek waar hy is; want daar is geen brood meer in die stad nie.
10 Toe gee die koning aan Ebed-Meleg, die Kusiet, bevel en sê: Neem hiervandaan dertig manne met jou saam en trek die profeet Jeremia uit die put op voordat hy sterwe.
11 Daarop het Ebed-Meleg die manne met hom saamgeneem en ingegaan in die paleis van die koning onder die voorraadkamer en daarvandaan verslyte en geskeurde lappe geneem wat hy na Jeremia in die put met toue laat afsak het.
12 En Ebed-Meleg, die Kusiet, het vir Jeremia gesê: Sit tog die verslyte en geskeurde lappe onder jou armholtes onder die toue; en Jeremia het so gedoen.
13 En hulle het Jeremia aan die toue opgetrek en hom uit die put uitgehaal. En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly.
14 Toe stuur koning Sedekía en hy laat die profeet Jeremia na hom bring in die derde ingang wat by die huis van die HERE was; en die koning het vir Jeremia gesê: Ek wil jou iets vra; steek vir my niks weg nie.
15 Maar Jeremia het Sedekía geantwoord: As ek u dit te kenne gee, sal u my nie sekerlik doodmaak nie? En as ek u raad gee, sal u na my nie luister nie.
16 Toe sweer koning Sedekía vir Jeremia in die geheim en sê: So waar as die HERE leef wat aan ons hierdie lewe verleen het—ek sal jou nie doodmaak en jou nie oorgee in die hand van hierdie manne wat jou lewe soek nie!
17 Daarop sê Jeremia vir Sedekía: So spreek die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: As u vrywillig uitgaan na die vorste van die koning van Babel, sal u siel lewe en sal hierdie stad nie met vuur verbrand word nie; en u sal lewe, u en u huis.
18 Maar as u nie uitgaan na die vorste van die koning van Babel nie, sal hierdie stad in die hand van die Chaldeërs oorgegee word, en hulle sal dit met vuur verbrand; en u self sal uit hulle hand nie vryraak nie.
19 Toe sê koning Sedekía vir Jeremia: Ek is bevrees dat hulle my in die hand van die Jode wat na die Chaldeërs oorgeloop het, sal oorgee en dat dié met my die spot sal drywe.
20 Maar Jeremia antwoord: Hulle sal u nie oorgee nie. Luister tog na die stem van die HERE in wat ek aan u sê; dan sal dit goed met u gaan en u siel sal lewe.
21 Maar as u weier om uit te gaan—dit is die woord wat die HERE my laat sien het:
22 Kyk, al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda oorgebly het, is uitgelei na die vorste van die koning van Babel, terwyl hulle gesê het: Die manne met wie u vriendskap gehou het, het u verlei en u oorweldig; toe u voete in die modder ingesak het, het hulle agteruitgewyk.
23 Hulle sal dan al u vroue en u kinders na die Chaldeërs uitlei; ook sal u self uit hulle hand nie vryraak nie; maar u sal deur die hand van die koning van Babel gevang word, en hierdie stad sal met vuur verbrand word.
24 Toe sê Sedekía vir Jeremia: Laat niemand van hierdie woorde weet nie, dat jy nie sterwe nie.
25 En as die vorste hoor dat ek met jou gespreek het en by jou kom en aan jou sê: Vertel ons tog wat jy met die koning gespreek het; steek dit nie vir ons weg nie, en ons sal jou nie doodmaak nie; en wat het die koning met jou gespreek? —
26 dan moet jy hulle antwoord: Ek het my smeking eerbiedig voor die koning gebring, dat hy my nie moet laat terugbring in die huis van Jónatan, om daar te sterwe nie.
27 Toe het al die vorste by Jeremia gekom en hom uitgevra; en hy het aan hulle mededeling gedoen volgens al hierdie woorde wat die koning hom beveel het. Toe het hulle hom met rus gelaat; want die saak het nie bekend geword nie.
28 En Jeremia het in die voorhof van bewaking gebly tot op die dag dat Jerusalem ingeneem is. En toe Jerusalem ingeneem is—




Hoofstuk 39

1 in die negende jaar van Sedekía, die koning van Juda, in die tiende maand, het Nebukadrésar, die koning van Babel, met sy hele leër na Jerusalem gekom en hulle het dit beleër;
2 in die elfde jaar van Sedekía, in die vierde maand, op die negende van die maand, is in die stad ingebreek—
3 toe het al die vorste van die koning van Babel gekom en gaan sit in die Middelste Poort, naamlik Nergal-Saréser, Samgar-Nebo, Sársegim, die rábsaris, Nergal-Saréser, die rabmag, en al die ander vorste van die koning van Babel.
4 En toe Sedekía, die koning van Juda, en al die krygsmanne hulle sien, het hulle gevlug en in die nag uit die stad getrek op pad na die koning se tuin, deur die poort tussen die twee mure; en hy het uitgetrek op pad na die Vlakte toe.
5 Maar die leër van die Chaldeërs het hulle agternagejaag en Sedekía in die vlaktes van Jérigo ingehaal en hom gevang en hom gebring na Nebukadrésar, die koning van Babel, na Ribla in die land Hamat; en hy het vonnis oor hom uitgespreek.
6 En die koning van Babel het die seuns van Sedekía voor sy oë in Ribla geslag; ook het die koning van Babel al die edeles van Juda geslag.
7 En hy het die oë van Sedekía laat verblind en hom met koperkettings geboei om hom na Babel te bring.
8 En die Chaldeërs het die paleis van die koning en die huise van die volk met vuur verbrand; en die mure van Jerusalem het hulle omgegooi.
9 En die deel van die volk wat nog in die stad oorgebly het en die oorlopers wat na hom oorgeloop het, en die deel van die volk wat nog oorgebly het, het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer na Babel toe.
10 Maar van die arm mense wat niks gehad het nie, het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in die land Juda laat agterbly en aan hulle wingerde en landerye in dié tyd gegee.
11 Maar aangaande Jeremia het Nebukadrésar, die koning van Babel, bevel gegee deur middel van Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, en gesê:
12 Neem hom en hou jou oë oor hom en doen hom geen kwaad nie; maar doen met hom soos hy jou sal sê.
13 Toe stuur Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, en Nebusásban, die rábsaris, en Nergal-Saréser, die rabmag, en al die bevelhebbers van die koning van Babel—hulle het gestuur
14 en Jeremia uit die voorhof van bewaking laat haal en hom oorgegee aan Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, om hom huis toe te bring. So het hy dan onder die volk gebly.
15 Ook het die woord van die HERE tot Jeremia gekom, terwyl hy in die voorhof van bewaking opgesluit was, naamlik:
16 Gaan en spreek met Ebed-Meleg, die Kusiet, en sê: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek bring my woorde oor hierdie stad ten kwade en nie ten goede nie, en dit sal voor jou oë vervul word in dié dag.
17 Maar Ek sal jou in dié dag red, spreek die HERE; en jy sal nie oorgegee word in die hand van die manne vir wie jy bang is nie.
18 Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou ‘n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die HERE.




Hoofstuk 40

1 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het, nadat Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, hom vrygelaat het uit Rama deur hom te laat haal, terwyl hy met kettings geboei was onder al die gevangenes van Jerusalem en Juda wat in ballingskap weggevoer sou word na Babel toe.
2 Die owerste van die lyfwag het naamlik Jeremia laat haal en vir hom gesê: Die HERE jou God het hierdie onheil oor hierdie plek gespreek,
3 en die HERE het dit laat kom en gedoen soos Hy gespreek het, omdat julle gesondig het teen die HERE en nie geluister het na sy stem nie; daarom het dit oor julle gekom.
4 Nou dan, kyk, ek ontslaan jou vandag uit die kettings wat aan jou hande is; as dit goed is in jou oë om saam met my na Babel te gaan—kom, en ek sal my oog oor jou hou; maar as dit verkeerd is in jou oë om saam met my na Babel te kom, laat dit staan. Kyk, die hele land lê vir jou oop; waar dit goed en reg is in jou oë om te gaan, gaan daarheen.
5 En toe hy nog nie omgedraai het nie, sê hy: Gaan dan terug na Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, wat die koning van Babel oor die stede van Juda aangestel het, en woon by hom onder die volk, of gaan waar dit ook al reg is in jou oë om te gaan. Daarop het die owerste van die lyfwag vir hom padkos en ‘n geskenk gegee, en hom laat gaan.
6 En Jeremia het by Gedálja, die seun van Ahíkam, in Mispa gekom en by hom gewoon onder die volk wat in die land oorgebly het.
7 Toe al die owerstes van die leërs wat in die veld was, hulle en hulle manskappe, hoor dat die koning van Babel Gedálja, die seun van Ahíkam, oor die land aangestel het en dat hy aan hom manne en vroue en kinders toevertrou het, en van die arm mense van die land, van die wat nie in ballingskap weggevoer is na Babel nie,
8 het hulle na Gedálja gekom in Mispa, naamlik Ismael, die seun van Netánja, en Jóhanan en Jónatan, die seuns van Karéag, en Serája, die seun van Tánhumet, en die seuns van Efai, die Netofatiet, en Jesánja, die seun van die Maägatiet, hulle en hulle manskappe.
9 En Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, het vir hulle en hulle manskappe gesweer en gesê: Wees nie bevrees om die Chaldeërs te dien nie; bly in die land en dien die koning van Babel; dan sal dit goed met julle gaan.
10 En ek self, kyk, ek woon in Mispa om voor die Chaldeërs te staan wat na ons sal kom. Samel julle dan wyn en somervrugte en olie in en gooi dit in julle bakke, en woon in julle stede wat julle in besit kan neem.
11 En ook al die Jode wat in Moab en onder die kinders van Ammon en in Edom en wat in al die lande was, het gehoor dat die koning van Babel vir Juda ‘n oorblyfsel nagelaat het; en dat hy Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, oor hulle aangestel het;
12 daarom het al die Jode teruggekom uit al die plekke waarheen hulle verdryf was, en in die land Juda na Gedálja gekom, in Mispa; en hulle het groot hoeveelhede wyn en somervrugte ingesamel.
13 Maar Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs wat in die veld was, het na Gedálja gekom in Mispa
14 en vir hom gesê: Weet u wel dat Báälis, die koning van die kinders van Ammon, Ismael, die seun van Netánja, gestuur het om u dood te slaan? Maar Gedálja, die seun van Ahíkam, het hulle nie geglo nie.
15 Toe het Jóhanan, die seun van Karéag, in die geheim met Gedálja in Mispa gespreek en gesê: Laat my tog gaan en Ismael, die seun van Netánja, verslaan sonder dat iemand dit weet. Waarom sou hy u doodslaan en die hele Juda wat by u versamel is, verstrooi word en die oorblyfsel van Juda tot niet gaan?
16 Maar Gedálja, die seun van Ahíkam, het vir Jóhanan, die seun van Karéag gesê: Doen hierdie ding nie, want jy spreek onwaarheid van Ismael.




Hoofstuk 41

1 Maar in die sewende maand het Ismael, die seun van Netánja, die seun van Elisáma, uit die koninklike geslag en uit die owerstes van die koning, en tien man saam met hom by Gedálja, die seun van Ahíkam, gekom in Mispa; en hulle het daar saam brood geëet, in Mispa.
2 Toe het Ismael, die seun van Netánja, opgestaan en die tien manne wat by hom was, en hulle het Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, met die swaard verslaan. So het hy hom dan gedood wat die koning van Babel oor die land aangestel het.
3 Ook het Ismael al die Jode verslaan wat by hom, by Gedálja, in Mispa was, en die Chaldeërs, die krygsmanne, wat daar te vinde was.
4 En op die tweede dag, nadat hy Gedálja gedood het, sonder dat dit nog bekend was,
5 kom daar manne van Sigem, van Silo en van Samaría, tagtig man, met afgeskeerde baard en geskeurde klere, wat hulleself stukkend gekerwe het; en spysoffer en wierook was in hulle hand om dit na die huis van die HERE te bring.
6 Daarop gaan Ismael, die seun van Netánja, hulle tegemoet uit Mispa, terwyl hy aldeur loop en huil; en toe hy hulle teëkom, sê hy vir hulle: Kom na Gedálja, die seun van Ahíkam!
7 Maar toe hulle binne-in die stad kom, het Ismael, die seun van Netánja, hulle gedood en in die put gegooi, hy en die manne wat by hom was.
8 Maar onder hulle was daar tien man wat vir Ismael gesê het: Maak ons nie dood nie, want ons het verborge voorrade in die veld: koring en gars en olie en heuning. Toe het hy daarvan afgesien en hulle nie saam met hulle broers gedood nie.
9 En die put waar Ismael al die lyke van die manne wat deur hom verslaan is, langs Gedálja ingegooi het, was dié wat koning Asa gemaak het tot verdediging teen Baésa, die koning van Israel—dié het Ismael, die seun van Netánja, vol gemaak met die wat verslaan was.
10 En Ismael het die hele oorblyfsel van die volk wat in Mispa was, as gevangenes weggevoer; die dogters van die koning en die hele volk wat in Mispa oorgebly het, wat Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, aan Gedálja, die seun van Ahíkam, toevertrou het—Ismael, die seun van Netánja, het hulle as gevangenes weggevoer en hy het weggetrek om oor te gaan na die kinders van Ammon.
11 Toe Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs wat by hom was, hoor al die onheil wat Ismael, die seun van Netánja, aangerig het,
12 het hulle al die manne geneem en weggetrek om teen Ismael, die seun van Netánja, te veg; en hulle het hom aangetref by die groot water wat by Gíbeon is.
13 En toe die hele volk wat by Ismael was, Jóhanan, die seun van Karéag, sien en al die owerstes van die leërs saam met hom, was hulle bly;
14 en die hele volk wat Ismael uit Mispa as gevangenes weggevoer het, het omgedraai en weer oorgeloop na Jóhanan, die seun van Karéag.
15 Maar Ismael, die seun van Netánja, het van Jóhanan ontsnap saam met agt man en weggetrek na die kinders van Ammon.
16 Toe het Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs wat by hom was, die hele oorblyfsel van die volk geneem wat Ismael, die seun van Netánja, uit Mispa as gevangenes weggevoer het, nadat hy Gedálja, die seun van Ahíkam, verslaan het—naamlik manne, krygsmanne, en vroue en kinders en hofdienaars, wat hy van Gíbeon teruggebring het.
17 En hulle het weggetrek en vertoef in Gerut-Kimham wat naby Betlehem lê, om verder na Egipte te trek,
18 vanweë die Chaldeërs; want hulle was vir hulle bevrees, omdat Ismael, die seun van Netánja, Gedálja, die seun van Ahíkam, verslaan het, wat deur die koning van Babel oor die land aangestel was.




Hoofstuk 42

1 Toe het al die owerstes van die leërs aangekom, naamlik Jóhanan, die seun van Karéag, en Asárja, die seun van Hosája, en die hele volk, klein en groot,
2 en aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die HERE u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel—want ons het as ‘n klein klompie uit baie oorgebly, soos u oë ons sien—
3 dat die HERE u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen.
4 En die profeet Jeremia het hulle geantwoord: Ek hoor; kyk, ek sal tot die HERE julle God bid volgens julle woorde; en alles wat die HERE julle antwoord, sal ek julle bekend maak; ek sal vir julle niks agterhou nie.
5 Toe sê hulle vir Jeremia: Laat die HERE ‘n waaragtige en geloofwaardige getuie teen ons wees as ons nie stip handel ooreenkomstig elke woord waarmee die HERE u God u na ons sal stuur nie.
6 Laat dit goed of sleg wees—ons sal luister na die stem van die HERE onse God na wie ons u stuur, dat dit met ons goed kan gaan as ons luister na die stem van die HERE onse God.
7 En aan die einde van tien dae het die woord van die HERE tot Jeremia gekom,
8 en hy het Jóhanan, die seun van Karéag, geroep en al die owerstes van die leërs wat by hom was, en die hele volk, klein en groot,
9 en aan hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel, na wie julle my gestuur het om julle smeking eerbiediglik voor sy aangesig te bring:
10 As julle rustig in hierdie land bly, sal Ek julle bou en nie afbreek nie, en julle plant en nie uitruk nie; want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het.
11 Vrees nie vir die koning van Babel vir wie julle bang is nie; wees nie vir hom bevrees nie, spreek die HERE, want Ek is met julle om julle te verlos en julle uit sy hand te red.
12 En Ek sal julle barmhartigheid bewys, sodat hy hom oor julle sal ontferm en julle terugbring na julle land toe.
13 Maar as julle sê: Ons wil in hierdie land nie bly nie, sodat julle nie luister na die stem van die HERE julle God nie,
14 en sê: Nee, maar ons sal na Egipteland trek waar ons geen oorlog sal sien of basuingeluid sal hoor of honger na brood sal hê nie, en daar wil ons woon—
15 daarom hoor dan nou die woord van die HERE, o oorblyfsel van Juda! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: As julle werklik julle aangesig rig om na Egipte te trek en weggaan om daar as vreemdelinge te vertoef,
16 dan sal die swaard waar julle voor vrees, julle daar in Egipteland inhaal; en die honger waar julle voor bang is, sal daar in Egipte kort agter julle aankom, en julle sal daar sterwe.
17 Ja, al die manne wat hulle aangesig gerig het om na Egipte te trek om daar as vreemdelinge te vertoef, sal sterwe deur die swaard, die hongersnood en die pes; en daar sal vir hulle niemand wees wat vryraak of ontvlug van die onheil wat Ek oor hulle bring nie.
18 Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Soos my toorn en my grimmigheid uitgestort is oor die inwoners van Jerusalem, so sal my grimmigheid oor julle uitgestort word as julle na Egipte trek; en julle sal wees ‘n voorwerp van verwensing, van verbasing, van vervloeking en van smaad, en julle sal hierdie plek nie meer sien nie.
19 Die HERE het oor julle gespreek, o oorblyfsel van Juda: Trek nie na Egipte nie! Weet verseker dat ek julle vandag waarsku.
20 Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe, dat júlle my na die HERE julle God gestuur het, met die woorde: Bid tot die HERE onse God vir ons; en net soos die HERE onse God sal sê, maak dit ons so bekend en ons sal dit doen.
21 So het ek julle dit dan vandag bekend gemaak, en julle het nie geluister na die stem van die HERE julle God, naamlik na alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie.
22 Weet dan nou verseker dat julle deur die swaard, die hongersnood en die pes sal sterwe in die plek waarheen julle verkies om te trek om daar as vreemdelinge te vertoef.




Hoofstuk 43

1 En toe Jeremia geëindig het om die hele volk toe te spreek met al die woorde van die HERE hulle God, waarmee die HERE hulle God hom na hulle gestuur het, naamlik al hierdie woorde,
2 het Asárja, die seun van Hosája, en Jóhanan, die seun van Karéag, en al die vermetele manne gespreek en aan Jeremia gesê: U spreek onwaarheid; die HERE onse God het u nie gestuur om te sê: Julle mag nie na Egipte trek om daar as vreemdelinge te vertoef nie.
3 Maar Barug, die seun van Nería, hits u teen ons op om ons oor te gee in die hand van die Chaldeërs, dat hulle ons kan doodmaak en ons in ballingskap na Babel kan wegvoer.
4 So het Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs en die hele volk dan nie geluister na die stem van die HERE om in die land Juda te bly nie.
5 Maar Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs het die hele oorblyfsel van Juda geneem wat uit al die nasies waarheen hulle verdryf was, teruggekom het om in die land Juda te woon,
6 die manne en die vroue en die kinders en die dogters van die koning en al die mense wat Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, by Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, laat staan het—ook die profeet Jeremia en Barug, die seun van Nería—
7 en hulle het na Egipteland getrek; want hulle het nie geluister na die stem van die HERE nie. En hulle het tot by Tagpánhes gekom.
8 Toe het die woord van die HERE tot Jeremia gekom in Tagpánhes en gesê:
9 Neem groot klippe in jou hand en begrawe hulle in klei in die vierkant wat by die ingang van Farao se paleis in Tagpánhes is, voor die oë van die Joodse manne;
10 en sê vir hulle: So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek stuur en laat my kneg Nebukadrésar, die koning van Babel, haal, en Ek sal sy troon neersit bo-op hierdie klippe wat Ek begrawe het; en hy sal sy pragtapyt daaroor uitspan.
11 En hy sal kom en Egipteland verower: wie vir die pes bestem is, vir die pes; en wie vir die gevangenskap, vir die gevangenskap; en wie vir die swaard, vir die swaard!
12 En Ek sal ‘n vuur aansteek in die huise van die gode van Egipte; en hy sal hulle verbrand en hulle as gevangenes wegvoer; en hy sal hom wikkel in die land van Egipte soos ‘n herder hom wikkel in sy kleed, en hy sal daarvandaan in vrede wegtrek.
13 En hy sal die klippilare van Bet-Semes wat in Egipteland is, verbreek en die huise van die gode van Egipte met vuur verbrand.




Hoofstuk 44

1 Die woord wat tot Jeremia gekom het aan al die Jode wat in Egipteland woonagtig was, wat in Migdol en in Tagpánhes en in Nof en in die land Patros gewoon het:
2 So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Julle het self gesien al die onheil wat Ek oor Jerusalem en oor al die stede van Juda gebring het; en kyk, hulle is vandag ‘n puinhoop, sonder dat daar iemand in woon;
3 weens hulle boosheid wat hulle bedryf het, om My te terg deur heen te gaan om rook te laat opstyg en ander gode te dien wat hulle nie geken het, hulle, julle en julle vaders nie.
4 En Ek het na julle gestuur al my knegte, die profete, vroeg en laat, om te sê: Moet tog nie hierdie gruwelike saak wat Ek haat, doen nie.
5 Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee om hulle van hul boosheid te bekeer nie, om vir ander gode geen rook te laat opgaan nie.
6 Daarom is my grimmigheid en my toorn uitgestort en het dit gebrand in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, sodat hulle ‘n puinhoop, ‘n wildernis geword het soos dit vandag is.
7 So sê dan nou die HERE, die God van die leërskare, die God van Israel: Waarom berokken julle julself ‘n groot onheil om onder julle man en vrou, kind en suigling uit Juda uit te roei, om vir julle niemand te laat oorbly nie,
8 deurdat julle My terg met die werke van julle hande, om vir ander gode rook te laat opgaan in Egipteland waar julle gekom het om as vreemdelinge te vertoef, sodat julle julself uitroei en ‘n voorwerp van vervloeking en van smaad onder al die nasies van die aarde word?
9 Het julle vergeet die booshede van julle vaders en die booshede van die konings van Juda en die booshede van hulle vroue en julle eie booshede en die booshede van julle vroue wat hulle bedryf het in die land Juda en op die strate van Jerusalem?
10 Hulle is tot vandag toe nie verbrysel van hart nie, en hulle was nie bevrees en het nie gewandel in my wet en in my insettinge wat Ek julle en jul vaders voorgehou het nie.
11 Daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek rig my aangesig teen julle ten kwade en om die hele Juda uit te roei.
12 En Ek sal die oorblyfsel van Juda wegneem, wat hulle aangesig gerig het om na Egipteland te trek, om daar as vreemdelinge te vertoef; en hulle sal almal in Egipteland omkom. Deur die swaard sal hulle val, deur die hongersnood sal hulle verteer word, groot sowel as klein; deur die swaard en die hongersnood sal hulle sterwe; en hulle sal ‘n voorwerp van verwensing, van verbasing en van vervloeking en smaad word.
13 En Ek sal besoeking doen oor die wat in Egipteland woon, soos Ek besoeking gedoen het oor Jerusalem deur die swaard, die hongersnood en die pes;
14 sodat daar geeneen sal wees wat ontvlug of vryraak vir die oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef nie, dat hulle kan teruggaan in die land Juda waar hulle siel na verlang om terug te gaan, om daar te woon; want hulle sal nie teruggaan behalwe enkele vlugtelinge nie.
15 En al die manne wat geweet het dat hulle vroue vir ander gode rook laat opgaan, en al die vroue wat daar staan, ‘n groot menigte, en die hele volk wat in Egipteland, in Patros gewoon het, het Jeremia geantwoord en gesê:
16 Aangaande die woord wat u ons in die Naam van die HERE verkondig het—ons sal na u nie luister nie.
17 Maar ons sal stellig alles doen wat uit ons mond uitgegaan het—om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet soos ons gedoen het, ons en ons vaders, ons konings en ons vorste, in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem; toe is ons met brood versadig en was gelukkig, en ons het geen onheil gesien nie.
18 Maar vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en die hongersnood omgekom.
19 En as ons vir die hemelkoningin rook laat opgaan en vir haar drankoffers uitgiet—is dit dan sonder ons mans dat ons vir haar koeke maak om haar af te beeld en drankoffers vir haar uitgiet?
20 Toe het Jeremia gespreek met die hele volk, met die manne en die vroue en die hele volk wat hom antwoord gegee het, en gesê:
21 Aan die offerrook wat julle laat opgaan het in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem, julle en julle vaders, julle konings en julle vorste en die volk van die land—het die HERE daaraan nie gedink nie en het dit nie in sy hart opgekom nie? —
22 sodat die HERE dit nie langer kon verdra weens die boosheid van julle handelinge, weens die gruwels wat julle bedryf het nie. So het julle land dan ‘n puinhoop geword en ‘n voorwerp van verbasing en van vervloeking, sonder inwoners, soos dit vandag is;
23 omdat julle rook laat opgaan het en teen die HERE gesondig en nie na die stem van die HERE geluister het nie en in sy wet en in sy insettinge en in sy getuienisse nie gewandel het nie; daarom het hierdie onheil oor julle gekom soos dit vandag is.
24 Verder het Jeremia aan die hele volk en al die vroue gesê: Hoor die woord van die HERE, o hele Juda wat in Egipteland is!
25 So spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel, en sê: Julle en julle vroue, julle het dan met julle mond gespreek en dit met julle hande in vervulling laat gaan, terwyl julle sê: Ons sal ons geloftes wat ons gedoen het, stellig hou om rook te laat opgaan vir die hemelkoningin en vir haar drankoffers uit te giet—bevestig dan nou maar julle geloftes, ja, hou nou maar julle geloftes!
26 Daarom, hoor die woord van die HERE, o hele Juda wat in Egipteland woon! Kyk, Ek sweer by my grote Naam, sê die HERE: Nooit sal my Naam meer aangeroep word deur die mond van enige man van Juda in die hele Egipteland nie, met die woorde: So waar as die Here HERE leef!
27 Kyk, Ek is wakker oor hulle ten kwade en nie ten goede nie; en al die manne van Juda wat in Egipteland is, sal deur die swaard en die hongersnood omkom, totdat dit met hulle gedaan is.
28 Maar die wat van die swaard vryraak, sal uit Egipteland terugkom in die land Juda, min in getal; so sal dan die hele oorblyfsel van Juda wat in Egipteland gekom het om daar as vreemdelinge te vertoef, weet wie se woord sal bestaan, myne of hulle s’n.
29 En dit sal vir julle die teken wees, spreek die HERE, dat Ek oor julle besoeking sal doen in hierdie plek, sodat julle kan weet dat my woorde sekerlik teen julle sal bestaan ten kwade—
30 so sê die HERE: Kyk, Ek gee Farao Hofra, die koning van Egipte, in die hand van sy vyande en in die hand van die wat sy lewe soek, soos Ek Sedekía, die koning van Juda, gegee het in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, sy vyand, wat ook sy lewe gesoek het.




Hoofstuk 45

1 Die woord wat die profeet Jeremia aan Barug, die seun van Nería, meegedeel het toe hy hierdie woorde uit die mond van Jeremia in ‘n boek geskrywe het, in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda:
2 So spreek die HERE, die God van Israel, aangaande jou, o Barug!
3 Jy sê: Wee my tog, want die HERE het kommer aan my smart toegevoeg; ek is moeg van my gesug en vind geen rus nie!
4 So moet jy vir hom sê: So spreek die HERE: Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde.
5 En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die HERE; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.




Hoofstuk 46

1 Die woord van die HERE wat aangaande die volke tot die profeet Jeremia gekom het.
2 Oor Egipte. Oor die leër van Farao Nego, die koning van Egipte, wat by die Eufraatrivier by Kárkemis was, wat Nebukadrésar, die koning van Babel, verslaan het in die vierde jaar van Jójakim, die seun van Josía, die koning van Juda—
3 Hou die klein en die groot skild klaar, en kom aan na die geveg!
4 Span die perde in, en klim op, o ruiters! En staan reg, met die helms op; maak blink die spiese, trek die pantsers aan.
5 Waarom sien ek—hulle is verslae, hulle wyk agteruit? Ja, hulle helde is verslaan en vlug al verder sonder om om te draai. Daar is skrik rondom, spreek die HERE.
6 Die wat gou is, kan nie ontvlug nie, en die held kan nie ontkom nie; teen die noorde, aan die kant van die Eufraatrivier, het hulle gestruikel en geval.
7 Wie is dit wat daar oprys soos die Nyl, waarvan die waters klots soos strome?
8 Egipte rys op soos die Nyl en sy waters klots soos strome; en hy sê: Ek sal optrek, die aarde oordek, ek wil die stad verwoes en die wat daarin woon.
9 Trek op, perde, en raas, waens! En laat die helde uittrek: Kusiete en Putéërs wat die skild hanteer, en Ludiete wat die boog hanteer en span.
10 Maar dié dag behoort aan die Here HERE van die leërskare, ‘n dag van wraak, om wraak te neem op sy teëstanders; en die swaard sal verslind en versadig en dronk word van hulle bloed; want die Here HERE van die leërskare het ‘n slagoffer in die Noordland, by die Eufraatrivier.
11 Gaan op na Gílead en gaan haal balsem, o jonkvrou, dogter van Egipte! Tevergeefs vermenigvuldig jy medisyne, daar is geen genesing vir jou nie.
12 Die nasies het van jou skande gehoor en die aarde is vol van jou geskreeu; want held het gestruikel teen held, hulle altwee het saam geval.
13 Die woord wat die HERE tot die profeet Jeremia gespreek het aangaande die koms van Nebukadrésar, die koning van Babel, om Egipteland te verower.
14 Verkondig dit in Egipte en laat dit hoor in Migdol; ja, laat dit hoor in Nof en in Tagpánhes. Sê: Staan reg, en maak jou klaar, want die swaard het verslind wat rondom jou is.
15 Waarom is jou ruitery neergewerp? Dit het nie bly staan nie, omdat die HERE dit omgestoot het.
16 Hy het baie laat struikel, ja, die een val oor die ander, sodat hulle gesê het: Staan op en laat ons teruggaan na ons volk en na die land van ons geboorte weens die verdrukkende swaard.
17 Hulle het daar geroep: Farao, die koning van Egipte, is oorlogsrumoer; hy het die bepaalde tyd laat verbygaan.
18 So waar as Ek leef, spreek die Koning, wie se Naam is HERE van die leërskare, daar sal sekerlik een kom soos Tabor onder die berge en soos Karmel by die see.
19 Maak vir jou toebereidsels om in ballingskap te gaan, o inwoner, dogter van Egipte; want Nof sal ‘n woesteny word en dit sal verniel word, sonder inwoner wees.
20 Egipte is ‘n pragtige vers; ‘n steekvlieg kom, dit kom van die noorde af.
21 Ook is haar huurtroepe daar by haar soos kalwers uit die stal; maar hulle het ook omgedraai, almal saam gevlug, hulle het nie bly staan nie; want die dag van hulle ondergang het oor hulle gekom, die tyd van hulle besoeking.
22 Haar geluid is soos van ‘n slang wat wegseil; want met ‘n leërmag trek hulle en kom na haar met byle soos houtkappers.
23 Hulle kap haar bos om, spreek die HERE; want hulle is onberekenbaar: want hulle is meer as sprinkane, sodat ‘n mens hulle nie kan tel nie.
24 Die dogter van Egipte staan beskaamd; sy is oorgegee in die hand van die volk uit die Noorde.
25 Die HERE van die leërskare, die God van Israel, sê: Kyk, Ek doen besoeking oor Amon van No en oor Farao en Egipte en sy gode en sy konings, ja, oor Farao en die wat op hom vertrou;
26 en Ek sal hulle oorgee in die hand van die wat hulle lewe soek, en in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van sy dienaars. Maar daarna sal dit bewoon word soos in die dae van die voortyd, spreek die HERE.
27 Maar jy, my kneg Jakob, wees nie bevrees nie; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou kroos uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom verskrik.
28 Jy, o my kneg Jakob, wees nie bevrees nie, spreek die HERE, want Ek is met jou. Want Ek sal ‘n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verdryf het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie.




Hoofstuk 47

1 Die woord van die HERE wat aangaande die Filistyne tot die profeet Jeremia gekom het voordat Farao Gasa verslaan het.
2 So sê die HERE: Kyk, die waters rys op uit die noorde en hulle sal ‘n oorlopende stroom word; ja, hulle oorstroom die land en sy volheid, die stad en die wat daarin woon; en die mense sal skreeu, en al die inwoners van die land sal huil,
3 weens die stampgeluid van sy perde se pote, weens die geraas van sy waens, die gedreun van sy wiele. Die vaders kyk nie om na die kinders nie—so slap is die hande—
4 weens die dag wat kom om al die Filistyne tot niet te maak, om van Tirus en Sidon die laaste een uit te roei wat kan help; want die HERE maak die Filistyne tot niet, die oorblyfsel van die eiland Kaftor.
5 ‘n Kaal plek het op Gasa gekom; Askelon is vernietig, die oorblyfsel van hulle dal. Hoe lank sal jy jou stukkend kerwe?
6 Wee, swaard van die HERE, hoe lank sal jy geen rus hê nie? Keer terug in jou skede, rus en wees stil.
7 Hoe sou dit rus hê, terwyl die HERE daaraan bevel gegee het teen Askelon en teen die seekus? Daar het Hy dit bestel.




Hoofstuk 48

1 Oor Moab. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Wee oor Nebo, want dit is verwoes; Kirjatáim staan beskaamd, dit is ingeneem; die rotsvesting is beskaamd en verskrik.
2 Uit is dit met die roem van Moab; in Hesbon het hulle onheil teen hom bedink en gesê: Kom laat ons hom uitroei, dat hy geen nasie meer is nie. Ook jy, Madmen, sal verwoes word, die swaard sal jou agtervolg.
3 Hoor! Geskreeu uit Horonáim: verwoesting en ‘n groot vernieling.
4 Moab is verbreek; sy kleintjies laat ‘n geskreeu hoor.
5 Want die hoogte van Luhit gaan hulle op met geween by geween; want aan die hange van Horonáim het hulle angsgeskreeu van verbreking gehoor.
6 Vlug, red julle lewe, en word soos ‘n kaal bos in die woestyn!
7 Want omdat jy vertrou het op jou handelinge en op jou voorrade, sal jy ook ingeneem word; en Kamos sal uittrek in ballingskap, sy priesters en sy vorste almal saam.
8 En die verwoester sal kom oor elke stad, sodat geen stad sal vryraak nie; en die dal sal te gronde gaan, en die gelyk veld sal verwoes word, soos die HERE gesê het.
9 Gee vlerke aan Moab, want hy sal moet wegvlieg; en sy stede sal ‘n woesteny word, sonder dat daar iemand in woon.
10 Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die HERE te doen; ja, vervloek is hy wat sy swaard van bloed terughou!
11 Moab was gerus van sy jeug af en het stil gelê op sy afsaksel, sonder dat hy leeggemaak is van vat in vat: hy het nie in ballingskap gegaan nie; daarom het sy smaak in hom gebly en sy geur nie verander nie.
12 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek aftappers na hom sal stuur wat hom sal aftap en sy vate sal leegmaak en sy kruike stukkend slaan.
13 En Moab sal beskaamd staan deur Kamos, soos die huis van Israel beskaamd gestaan het deur Bet-el waar hulle op vertrou het.
14 Hoe kan julle sê: Ons is helde en manne bekwaam om te veg?
15 Moab is verwoes, en hulle het opgegaan in sy stede, en sy beste jongmanne het afgegaan om geslag te word, spreek die Koning wie se Naam is HERE van die leërskare.
16 Die ondergang van Moab is naby om te kom, en sy onheil is baie haastig.
17 Beklaag hom, almal wat rondom hom is en almal wat sy naam ken! Sê: Hoe is die sterk staf, die sierlike stok gebreek!
18 Kom af uit jou heerlikheid, en sit in die dorsland, o inwoner, dogter van Dibon! Want die verwoester van Moab het teen jou opgetrek, hy het jou forte verwoes.
19 Gaan staan op die pad, en kyk uit, o inwoner van Aroër! Vra vir hom wat vlug en vir haar wat ontkom; sê: Wat het gebeur?
20 Moab staan beskaamd, want hy is verslae. Huil en skreeu, verkondig dit by die Arnon dat Moab verwoes is!
21 Ja, ‘n oordeel het gekom oor die land van die gelykte, oor Holon en oor Jahas en oor Mefáät,
22 en oor Dibon en oor Nebo en oor Bet-Diblatáim,
23 en oor Kirjatáim en oor Bet-Gamul en oor Bet-Meon,
24 en oor Kérijot en oor Bosra, ja, oor al die stede van die land Moab, die wat ver en die wat naby is.
25 Die horing van Moab is afgekap en sy arm is verbreek, spreek die HERE.
26 Maak hom dronk, omdat hy hom groot gehou het teen die HERE, sodat Moab neerslaan in sy uitbraaksel en hy self ook ‘n belagging word.
27 Want was Israel vir jou nie ‘n bespotting nie? Of is hy onder die diewe betrap, dat jy die hoof geskud het so dikwels as jy van hom gespreek het?
28 Verlaat die stede en gaan woon in die rots, inwoners van Moab! En word soos ‘n duif wat sy nes maak oorkant die opening van die afgrond.
29 Ons het van die trotsheid van Moab gehoor—hy is baie trots! —van sy hoogheid en sy trotsheid en sy hoogmoed en die verheffing van sy hart.
30 Ek ken sy grimmigheid, spreek die HERE, en sy onbehoorlike grootpratery; onbehoorlik het hulle gehandel.
31 Daarom sal ek oor Moab huil, ja, oor die hele Moab dit uitskreeu; oor die manne van Kir-Heres sug hulle.
32 Bo die geween van Jaéser sal ek jou beween, o wingerdstok van Sibma! Jou ranke het gegaan oor die see, tot by die see van Jaéser het hulle gekom—die verwoester het jou somervrugte en jou druiwe-oes oorval.
33 Daarom is vreugde en gejuig weggeneem uit die land van tuine en uit die land Moab, en Ek het die wyn uit die parskuipe laat verdwyn; hulle sal dit nie trap met vreugdegeroep nie; die vreugdegeroep sal geen vreugdegeroep wees nie.
34 Weens die geskreeu van Hesbon tot by Eleále, tot by Jahas het hulle hul stem verhef, van Soar af tot by Horonáim, Eglat-Selísia; want ook die waters van Nimrim sal ‘n woesteny word.
35 En Ek sal in Moab ‘n einde maak, spreek die HERE, aan hom wat op die hoogte offer en rook laat opgaan vir sy god.
36 Daarom klaag my hart oor Moab soos fluite, ja, my hart klaag oor die manne van Kir-Heres soos fluite; omdat die oorwins wat hulle verwerf het, verlore gegaan het.
37 Want al die hoofde is kaal en al die baarde is afgeskeer; op al die hande is snye en om die heupe is ‘n roukleed.
38 Op al die dakke van Moab en op sy pleine is net rouklag, want Ek het Moab verbreek soos ‘n ding waar ‘n mens geen behae in het nie, spreek die HERE.
39 Hoe is hy verslae! Hulle huil. Hoe het Moab die rug gedraai met skaamte! So sal Moab dan vir almal wat rondom hom is, ‘n belagging en ‘n verskrikking word.
40 Want so sê die HERE: Kyk, hy sal vlieg soos ‘n arend en sal sy vleuels oor Moab uitsprei.
41 Die stede is ingeneem, en die bergvestings is verower; en die hart van die helde van Moab sal in dié dag wees soos die hart van ‘n vrou wat in nood is.
42 En Moab sal verdelg word, dat hy geen volk meer is nie, omdat hy hom groot gehou het teen die HERE.
43 Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o inwoner van Moab, spreek die HERE.
44 Hy wat vlug vir die vrees, sal val in die kuil; en hy wat uit die kuil klim, sal gevang word in die net; want Ek sal oor hom, oor Moab, bring die jaar van hulle besoeking, spreek die HERE.
45 In die beskutting van Hesbon staan vlugtelinge sonder krag; want ‘n vuur het uitgegaan uit Hesbon en ‘n vlam uit die huis van Sihon, en het die slape van die hoof van Moab en die skedel van die rumoermakers verteer.
46 Wee jou, Moab! Die volk van Kamos is verlore; want jou seuns is weggeneem as gevangenes en jou dogters in gevangenskap.
47 Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Moab verander, spreek die HERE. Tot sover die oordeel van Moab.




Hoofstuk 49

1 Oor die kinders van Ammon. So sê die HERE: Het Israel geen kinders nie? Het hy geen erfgenaam nie? Waarom het Milkom Gad uit sy besitting verdrywe en woon sy mense in die stede daarvan?
2 Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek teen Rabba van die kinders van Ammon oorlogsgeskreeu sal laat hoor, en dit sal word ‘n woeste puinhoop, en sy onderhorige plekke sal met vuur verbrand word; dan sal Israel die wat hom in besit geneem het, in besit neem, sê die HERE.
3 Huil, o Hesbon, want Ai is verwoes; skreeu, o dogters van Rabba! Omgord julle met rouklere, hef ‘n rouklag aan en swerf rond tussen die klipmure; want Milkom sal in ballingskap gaan, sy priesters en sy vorste almal saam.
4 Wat roem jy op die dale, op die oorvloed van jou dal, o afkerige dogter, wat op jou voorrade vertrou en sê: Wie sal aan my kom?
5 Kyk, Ek bring vrees oor jou vir almal wat rondom jou is, spreek die Here HERE van die leërskare; en julle sal weggedryf word, elkeen reg voor hom uit, sonder dat iemand die swerwelinge vergader.
6 Maar daarna sal Ek die lot van die kinders van Ammon verander, spreek die HERE.
7 Oor Edom. So sê die HERE van die leërskare: Is daar geen wysheid meer in Teman nie? Ontbreek raad by die verstandiges? Is hulle wysheid uitgeput?
8 Vlug, draai om, skuil diep weg, o inwoners van Dedan! Want Ek het die ondergang van Esau oor hom gebring, die tyd dat Ek oor hom besoeking doen.
9 As daar druiwesnyers na jou kom, sal hulle geen na-oes laat oorbly nie; of diewe in die nag—hulle sal verniel totdat hulle genoeg het.
10 Want Ek het Esau ontbloot, Ek het sy skuilplekke oopgemaak, sodat hy hom nie kan wegsteek nie; sy geslag is verwoes, ook sy broers en sy bure, en hy is daar nie.
11 Laat jou wese agterbly, en Ék sal hulle in die lewe hou, en laat jou weduwees op My vertrou.
12 Want so sê die HERE: Kyk, hulle wat eintlik die beker nie moes drink nie, moet sekerlik drink; en jy, sou jy heeltemal ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie, maar sekerlik drink.
13 Want Ek het by Myself gesweer, spreek die HERE, dat Bosra ‘n voorwerp van verbasing, van smaad, ‘n woestheid en ‘n vervloeking sal word; en al sy stede sal ewige puinhope wees.
14 Ek het ‘n tyding van die HERE gehoor, en ‘n boodskapper is gestuur onder die nasies om te sê: Versamel julle en kom aan teen hom en maak julle gereed vir die oorlog.
15 Want kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, verag onder die mense.
16 Jou vreeslikheid het jou bedrieg, die vermetelheid van jou hart, o jy wat woon in die rotsklowe, jy wat die top van die heuwel in besit hou! Al maak jy jou nes so hoog soos die arend—daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE.
17 So sal Edom dan ‘n voorwerp van verbasing word; elkeen wat by hom verbytrek, sal hom verbaas en spot oor al sy plae.
18 Soos die omkering van Sodom en Gomorra met hulle bure, sê die HERE, sal daar niemand woon en geen mensekind daar vertoef nie.
19 Kyk, soos ‘n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ‘n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag; en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ‘n herder wat voor my aangesig kan standhou?
20 Daarom, hoor die raadsbesluit van die HERE wat Hy teen Edom geneem en sy planne wat Hy teen die inwoners van Teman beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.
21 Van die geluid van hulle val bewe die aarde; daar is ‘n geskreeu—by die Skelfsee word die geluid daarvan gehoor.
22 Kyk, een sal opstyg en vlieg soos ‘n arend en sy vlerke oor Bosra uitsprei; en die hart van die helde van Edom sal in dié dag wees soos die hart van ‘n vrou wat in nood is.
23 Oor Damaskus. Beskaamd staan Hamat en Arpad, want hulle het slegte tyding gehoor; hulle beweeg, soos die see, in bekommernis, dit kan nie rus nie.
24 Damaskus is ontmoedig, hy het omgedraai om te vlug, en skrik het hom aangegryp; benoudheid en weë soos van een wat baar, het hom aangegryp.
25 Hoe is die roemryke stad nie verlaat nie, die vesting van my vreugde!
26 Daarom sal sy jongmanne val op sy pleine, en al die krygsmanne in dié dag omkom, spreek die HERE van die leërskare.
27 En Ek sal ‘n vuur aansteek in die muur van Damaskus, en dit sal die paleise van Bénhadad verteer.
28 Oor Kedar en oor die koninkryke van Hasor wat Nebukadrésar, die koning van Babel, verslaan het. So sê die HERE: Maak julle klaar, trek op teen Kedar, en verdelg die kinders van die Ooste.
29 Hulle sal hulle tente en kleinvee wegvoer, hulle tentdoeke en al hulle huisraad en hulle kamele meeneem, en oor hulle uitroep: Skrik rondom!
30 Vlug, vlug haastig, skuil diep weg, o inwoners van Hasor, spreek die HERE; want Nebukadrésar, die koning van Babel, het ‘n besluit teen julle geneem en ‘n plan teen julle beraam.
31 Maak julle klaar, trek op teen ‘n sorgelose nasie wat in gerustheid woon, spreek die HERE, wat geen poorte of grendel het nie, wat alleen woon.
32 En hulle kamele sal ‘n roof en die menigte van hulle vee ‘n buit wees; en Ek sal hulle verstrooi na al die windstreke, die wat aan die rand hulle hare wegskeer; en Ek sal hulle ondergang van alle kante aanbring, spreek die HERE.
33 En Hasor sal word ‘n lêplek van jakkalse, ‘n wildernis tot in ewigheid; niemand sal daar woon nie, en geen mensekind sal daar vertoef nie.
34 Die woord van die HERE wat tot die profeet Jeremia gekom het oor Elam, in die begin van die regering van Sedekía, die koning van Juda, naamlik:
35 So sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek verbreek die boog van Elam, die keur van hulle krag.
36 En Ek sal vier winde uit die vier hoeke van die hemel oor Elam aanbring en sal hulle na al hierdie windstreke verstrooi; en daar sal geen nasie wees waar die verjaagdes van Elam nie sal kom nie.
37 En Ek sal Elam verskrik voor hulle vyande en voor die wat hulle lewe soek, en Ek sal onheil oor hulle bring, die gloed van my toorn, spreek die HERE; en Ek sal die swaard agter hulle aan stuur totdat Ek hulle vernietig het.
38 En Ek sal my troon in Elam vestig, en sal koning en vorste daaruit tot niet maak, spreek die HERE.
39 Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Elam verander, spreek die HERE.




Hoofstuk 50

1 Die woord wat die HERE deur die profeet Jeremia gespreek het oor Babel, oor die land van die Chaldeërs.
2 Verkondig onder die nasies en laat hoor, en steek ‘n banier op, laat hoor; verberg dit nie; sê: Babel is ingeneem, Bel staan beskaamd, Meródag is verskrik; sy afgode staan beskaamd, sy drekgode is verskrik.
3 Want ‘n volk trek teen hom op uit die Noorde; dit sal sy land ‘n woesteny maak, sodat daar geen inwoner in is nie; mense sowel as diere het gevlug, weggetrek.
4 In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek.
5 Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die HERE aansluit in ‘n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie.
6 ‘n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.
7 Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet; en hulle teëstanders het gesê: Ons maak ons nie skuldig nie, omdat hulle gesondig het teen die HERE, die Woning van geregtigheid en die Verwagting van hulle vaders, die HERE.
8 Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit!
9 Want kyk, Ek verwek en laat teen Babel optrek ‘n menigte van groot nasies uit die Noordland; dié sal hulle teen hom opstel—daarvandaan sal hy ingeneem word; hulle pyle sal wees soos dié van ‘n voorspoedige held wat nie met leë hande terugkom nie.
10 En Chaldéa sal ‘n buit word; almal wat hom beroof, sal versadig word; spreek die HERE.
11 Al is julle verheug, al jubel julle, plunderaars van my erfenis, al huppel julle soos ‘n vers wat graan dors, en runnik julle soos die hingste—
12 julle moeder staan grootliks beskaamd; sy wat julle gebaar het, is rooi van skaamte. Kyk, sy is die agterste van die nasies, ‘n woestyn, ‘n dor land en ‘n wildernis.
13 Weens die toorn van die HERE sal dit nie bewoon word nie, maar geheel en al ‘n wildernis wees; elkeen wat by Babel verbygaan, sal verbaas wees en spot oor al sy plae.
14 Stel julle op teen Babel rondom, julle almal wat die boog span! Beskiet hom, spaar die pyle nie! Want hy het teen die HERE gesondig.
15 Juig oor hom rondom—hy het hom oorgegee, sy pilare het geval, sy mure is afgebreek; want dit is die wraak van die HERE; wreek julle op hom, doen aan hom soos hy gedoen het!
16 Roei uit Babel uit die saaier en die wat die sekel hanteer in die oestyd; laat hulle vanweë die verdrukkende swaard elkeen na sy volk omdraai en elkeen na sy land vlug!
17 Israel is ‘n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het; eers het die koning van Assur hom opgeëet, en nou ten laaste het Nebukadrésar, die koning van Babel, sy gebeente afgeknaag.
18 Daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek doen besoeking oor die koning van Babel en oor sy land, soos Ek besoeking gedoen het oor die koning van Assur.
19 En Ek sal Israel na sy weiveld terugbring, en hy sal wei op Karmel en in Basan; en sy siel sal op die gebergte van Efraim en in Gílead versadig word.
20 In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar hulle sal nie gevind word nie; want Ek sal vergifnis skenk aan diegene wat Ek laat oorbly.
21 Teen die land Meratáim, trek daarteen op en teen die inwoners van Pekod! Verwoes en tref met die banvloek agter hulle, spreek die HERE, en doen net soos Ek jou beveel het.
22 Daar is oorlogsgeskreeu in die land en ‘n groot verbreking.
23 Hoe is die hamer van die hele aarde afgekap en verbreek! Hoe het Babel geword ‘n voorwerp van verbasing onder die nasies!
24 Ek het vir jou ‘n strik gespan, en jy is ook gevang, o Babel, sonder dat jy dit geweet het; jy is betrap en ook gegryp, omdat jy jou teen die HERE in die stryd begeef het.
25 Die HERE het sy skatkamer oopgemaak en die werktuie van sy grimmigheid uitgebring; want ‘n werk is dit wat die Here HERE van die leërskare te doen het in die land van die Chaldeërs.
26 Kom aan teen hom van alle kante, maak oop sy voorraadskure, stapel hom op soos koringmiede, en tref hom met die banvloek! Hy moet geen oorblyfsel hê nie.
27 Slaan dood al sy jong stiere, laat hulle afgaan om geslag te word. Wee hulle, want hulle dag het gekom, die tyd van hulle besoeking.
28 Hoor! Vlugtelinge en mense wat vrygeraak het uit die land van Babel, om in Sion te verkondig die wraak van die HERE onse God, die wraak van sy tempel.
29 Roep teen Babel skutters op, almal wat die boog span; slaan laer op rondom teen hom, laat daar geen ontkoming wees nie! Vergeld hom na sy werk, doen met hom net soos hy gedoen het, want hy was vermetel teen die HERE, teen die Heilige van Israel.
30 Daarom sal sy jongmanne val op sy pleine en al sy krygsmanne in dié dag omkom, spreek die HERE.
31 Kyk, Ek het dit teen jou, o vermetele, spreek die Here HERE van die leërskare; want jou dag het gekom, die tyd dat Ek oor jou besoeking sal doen.
32 Dan sal die vermetele struikel en val, en daar sal niemand wees wat hom optel nie; en Ek sal ‘n vuur aansteek in sy stede, en dit sal sy hele omgewing verteer.
33 So sê die HERE van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek.
34 Maar hulle Verlosser is sterk, HERE van die leërskare is sy Naam; Hy sal hulle saak sekerlik verdedig, om die aarde rus te gee en die inwoners van Babel in onrus te bring.
35 Die swaard oor die Chaldeërs, spreek die HERE, en oor die inwoners van Babel en oor sy vorste en oor sy wyse manne!
36 Die swaard oor die grootpraters, dat hulle dwaas kan word! Die swaard oor sy helde, dat hulle verskrik kan word!
37 Die swaard oor sy perde en sy strydwaens en oor die hele gemengde bevolking wat daar binne-in is, dat hulle vroue kan word! Die swaard oor sy skatte, dat hulle geplunder kan word!
38 Droogte oor sy waters, dat hulle kan uitdroog! Want dit is ‘n land van gesnede beelde, en deur die skrikgestaltes is hulle waansinnig.
39 Daarom sal daar boskatte saam met wildehonde bly; ook sal daar volstruise in bly; ‘n mens sal daar in ewigheid nie meer bly nie, en dit sal nie bewoon word van geslag tot geslag nie.
40 Soos God Sodom en Gomorra met hulle bure omgekeer het, spreek die HERE, sal daar niemand woon nie, en geen mensekind daar vertoef nie.
41 Kyk, daar kom ‘n volk uit die Noorde, en ‘n groot nasie en magtige konings word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.
42 Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle geluid bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos ‘n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Babel!
43 Die koning van Babel het die gerug van hulle gehoor, en sy hande het slap geword; benoudheid het hom aangegryp, smart soos van een wat baar.
44 Kyk, soos ‘n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ‘n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag, en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ‘n herder wat voor my aangesig kan standhou?
45 Daarom, hoor die raadsbesluit van die HERE wat Hy teen Babel geneem en sy planne wat Hy teen die land van die Chaldeërs beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.
46 Van die tyding: Babel is ingeneem! bewe die aarde, en geskreeu word onder die nasies gehoor.




Hoofstuk 51

1 So sê die HERE: Kyk, Ek wek op teen Babel en teen die inwoners van "die Hart van my Teëstanders" die gees van ‘n verwoester.
2 En Ek sal vir Babel wanners stuur wat hom sal uitwan en sy land leegskud; want hulle lê rondom teen hom op die dag van onheil.
3 Laat die skutter sy boog span teen hom wat span, en teen die een wat hom in sy pantser verhef; en spaar sy jongmanne nie, tref sy ganse leër met die banvloek!
4 So sal daar dan gesneuweldes val in die land van die Chaldeërs en die wat deurboor is, op sy strate.
5 Want Israel en Juda is nie in weduweeskap gelaat deur hulle God, deur die HERE van die leërskare nie, al was hulle land vol skuld voor die Heilige van Israel.
6 Vlug uit Babel uit, en red elkeen sy lewe; kom nie om in sy ongeregtigheid nie; want dit is die tyd van wraak vir die HERE: Hy gee hom sy verdiende loon.
7 Babel was in die hand van die HERE ‘n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword.
8 Skielik het Babel geval en is verbreek. Huil oor hom; gaan haal balsem vir sy pyn! Miskien sal hy gesond word.
9 Ons het aan Babel medisyne gegee, maar hy het nie gesond geword nie; verlaat hom en laat ons trek, elkeen na sy land; want sy strafgerig raak tot aan die hemel en verhef hom tot by die wolke.
10 Die HERE het ons geregtighede te voorskyn gebring; kom en laat ons in Sion vertel die werk van die HERE onse God!
11 Maak skerp die pyle, vat die skilde! Die HERE het die gees van die konings van Médië opgewek; want sy voorneme is teen Babel om hom te verwoes; want dit is die wraak van die HERE, die wraak van sy tempel.
12 Hef ‘n banier op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, hou hinderlae klaar; want soos die HERE Hom voorgeneem het, so het Hy gedoen wat Hy oor die inwoners van Babel gespreek het.
13 Jy wat by die groot waters woon, wat skatryk is, jou einde het gekom, die maat waarop jy afgesny word.
14 Die HERE van die leërskare het by Homself gesweer: Al het Ek jou vol mense gemaak soos sprinkane, tog sal hulle oor jou ‘n vreugdegeroep aanhef.
15 Hy wat die aarde gemaak het deur sy krag, die wêreld gegrond het deur sy wysheid en die hemel uitgespan het deur sy verstand—
16 as Hy sy stem laat hoor, is daar ‘n geruis van waters in die hemel; en Hy laat dampe opgaan van die einde van die aarde; Hy maak bliksems vir die reën en laat die wind uitgaan uit sy voorraadskure.
17 Elke mens word dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur die beeld; want sy gegote beeld is ‘n leuen, en daar is geen gees in hulle nie.
18 Nietige afgode is hulle, werk vir spotterny; in die tyd van hulle besoeking gaan hulle tot niet.
19 Jakob se deel is nie soos hulle nie; want Hy is die Formeerder van alles, en Israel is die stam van sy erfenis; HERE van die leërskare is sy Naam.
20 Jy is vir My ‘n hamer en oorlogswapens; en met jou verbrysel Ek nasies, en met jou verwoes Ek koninkryke.
21 En met jou verbrysel Ek die perd en sy ruiter; en met jou verbrysel Ek die strydwa en die wat daarop ry.
22 En Met jou verbrysel Ek man en vrou; en met jou verbrysel Ek grysaard en seun; en met jou verbrysel Ek die jongman en die jongedogter.
23 En met jou verbrysel Ek die herder en sy trop vee; en met jou verbrysel Ek die landbouer en sy twee osse; en met jou verbrysel Ek goewerneurs en owerstes.
24 Maar Ek sal voor julle oë aan Babel en aan al die inwoners van Chaldéa vergelde al hulle kwaad wat hulle in Sion gedoen het, spreek die HERE.
25 Kyk, Ek het dit teen jou, o berg wat verwoes, spreek die HERE; jy wat die hele aarde verwoes. En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou van die rotse afrol en sal jou maak ‘n afgebrande berg.
26 En hulle sal uit jou geen klip neem vir ‘n hoek of ‘n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die HERE.
27 Hef ‘n banier op oor die aarde, blaas die basuin onder die nasies, heilig nasies teen hom, roep teen hom op die koninkryke van Ararat, Minni en Askenas, stel ‘n kommandant teen hom aan, laat perde optrek soos stekerige sprinkane!
28 Heilig nasies teen hom, die konings van Médië, die goewerneurs en al die owerstes daarvan, ja, die hele land van sy heerskappy.
29 Dan bewe die aarde en krimp inmekaar; want die gedagtes van die HERE kom tot stand teen Babel, om die land van Babel ‘n woesteny te maak, sonder inwoner.
30 Die helde van Babel het opgehou om te veg, hulle het gebly in die bergvestings; hulle mag het verdwyn, hulle het vroue geword. Hulle het sy wonings aan die brand gesteek, sy grendels is verbreek.
31 Die een loper hardloop die ander tegemoet en die een boodskapper die ander, om aan die koning van Babel bekend te maak dat sy stad van alle kante ingeneem is;
32 en dat die driwwe beset is, en hulle die rietvleie met vuur verbrand het, en die krygsmanne verskrik is.
33 Want so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Die dogter van Babel is soos ‘n dorsvloer in die tyd as dit vasgetrap word; nog ‘n kort rukkie, dan kom die oestyd vir hom.
34 Nebukadrésar, die koning van Babel, het my opgeëet, my vernietig; hy het my neergesit soos ‘n leë skottel; hy het my verslind soos ‘n draak; hy het sy buik met my lekkernye gevul; hy het my weggestoot.
35 Laat die inwoners van Sion sê: Die geweld en die verminking wat my aangedoen is, is op Babel! En laat Jerusalem sê: My bloed is op die inwoners van Chaldéa!
36 Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek verdedig jou saak en sal vir jou wraak neem; en Ek sal sy see droogmaak en sy fontein laat opdroë.
37 En Babel sal kliphope word, ‘n lêplek van jakkalse, ‘n voorwerp van verbasing en bespotting, sonder inwoner.
38 Almal saam brul hulle soos jong leeus, brom soos klein leeutjies.
39 As hulle verhit is, berei Ek hulle maaltyd en maak hulle dronk, sodat hulle uitgelate word en ‘n ewige slaap kan slaap en nie wakker word nie, spreek die HERE.
40 Ek sal hulle afbring soos lammers om geslag te word, soos ramme saam met bokke.
41 Hoe is Sesag ingeneem en die roem van die hele aarde verower! Hoe het Babel ‘n voorwerp van verbasing geword onder die nasies!
42 Die see het oor Babel opgerys, deur die gebruis van sy golwe is hy oordek.
43 Sy stede het ‘n woesteny geword, ‘n dor land en ‘n wildernis; ‘n land waar niemand in woon nie, en waar geen mensekind deurtrek nie.
44 En Ek sal besoeking doen oor Bel in Babel en uit sy mond uithaal wat hy verslind het; en geen nasies sal meer na hom toestroom nie. Ook val die muur van Babel.
45 Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die HERE!
46 En laat julle hart nie week wees, sodat julle bevrees word by die tyding wat in die land gehoor word nie, as daar ‘n tyding kom in die een jaar, en daarna ‘n tyding in die ander jaar, en daar geweld is in die land, heerser teen heerser.
47 Daarom, kyk, daar kom dae dat Ek besoeking sal doen oor die gesnede beelde van Babel; en sy hele land sal beskaamd staan, en al sy gesneuweldes sal daarin val.
48 Dan sal oor Babel juig hemel en aarde en alles wat daarin is; want uit die noorde kom die verwoesters oor hom, spreek die HERE.
49 Ook Babel moet val, o gesneuweldes van Israel, soos ook vir Babel geval het die gesneuweldes van die hele aarde.
50 Vrygeraaktes van die swaard, gaan weg, bly nie staan nie, dink aan die HERE uit die verte, en laat Jerusalem in julle hart opkom!
51 Ons staan beskaamd, want ons het smaadwoorde gehoor, skande het ons aangesig bedek; want vreemdes het gekom oor die heiligdomme van die huis van die HERE.
52 Daarom kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor sy gesnede beelde; en die gewondes sal kerm in sy hele land.
53 Al sou Babel in die hemel opklim, en al sou hy die hoogte van sy vesting versterk—van My af sal verwoesters oor hom kom, spreek die HERE.
54 Hoor! Geskreeu uit Babel en groot verbreking uit die land van die Chaldeërs;
55 want die HERE verwoes Babel en sal uit hom die groot geraas laat verdwyn; en hulle golwe sal bruis soos groot waters, die gedruis van hulle geluid sal weergalm.
56 Want ‘n verwoester oorval hom, oorval Babel, en sy helde word gevang, hulle boë word stukkend gebreek; want ‘n God van vergelding is die HERE; Hy sal gewis vergelde.
57 En Ek sal sy vorste en sy wyse manne, sy goewerneurs en sy owerstes en sy helde dronk maak; en hulle sal slaap ‘n ewige slaap en nie wakker word nie, spreek die Koning wie se Naam is HERE van die leërskare.
58 So sê die HERE van die leërskare: Die breë muur van Babel sal tot op die grond toe afgebreek en sy hoë poorte sal met vuur verbrand word, sodat volke vir niks gearbei het en nasies vir die vuur; en hulle sal afgemat wees.
59 Die woord waarmee die profeet Jeremia bevel gegee het aan Serája, die seun van Nería, die seun van Magséja, toe hy saam met Sedekía, die koning van Juda, na Babel getrek het, in die vierde jaar van sy regering. En Serája was laerkommandant.
60 En Jeremia het in ‘n boek geskrywe al die onheil wat oor Babel sou kom, al hierdie woorde wat oor Babel geskrywe is.
61 En Jeremia het vir Serája gesê: As jy in Babel kom, dink daaraan en lees al hierdie woorde;
62 en sê: o HERE, U het oor hierdie plek gespreek om dit uit te roei, sodat daar geen inwoner, mens sowel as dier, sal wees nie, maar dat dit ewige wildernisse sal wees.
63 En as jy hierdie boek klaar gelees het, moet jy ‘n klip daaraan vasmaak en dit binne-in die Eufraat gooi
64 en sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring; en hulle sal afgemat wees. Tot sover die woorde van Jeremia.




Hoofstuk 52

1 Sedekía was een en twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het elf jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Hamútal, ‘n dogter van Jeremia uit Libna.
2 En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, net soos Jójakim gedoen het.
3 Want dit het oor Jerusalem en Juda gekom weens die toorn van die HERE, totdat Hy hulle van sy aangesig af weggewerp het. En Sedekía het gerebelleer teen die koning van Babel;
4 en in die negende jaar van sy regering, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het Nebukadrésar, die koning van Babel, teen Jerusalem gekom, hy en sy hele leër, en hulle het daarteen laer opgeslaan en daarteen skanse rondom gebou.
5 En die stad is beleër tot die elfde jaar van die koning Sedekía.
6 In die vierde maand, op die negende van die maand, toe die hongersnood sterk was in die stad en die mense van die land geen brood gehad het nie,
7 is in die stad ingebreek, en al die krygsmanne het gevlug en in die nag uit die stad getrek deur die poort, tussen die twee mure wat by die koning se tuin is, terwyl die Chaldeërs rondom teen die stad was; en hulle het getrek op pad na die Vlakte toe.
8 Maar die leër van die Chaldeërs het die koning agternagejaag en Sedekía in die vlaktes van Jérigo ingehaal, en sy hele leër is van hom af verstrooi.
9 Toe vang hulle die koning en bring hom op na die koning van Babel, na Ribla, in die land Hamat; en hy het vonnis oor hom uitgespreek.
10 En die koning van Babel het die seuns van Sedekía voor sy oë gedood. En hy het ook al die vorste van Juda in Ribla gedood.
11 En hy het die oë van Sedekía laat verblind en hom met koperkettings geboei; daarna het die koning van Babel hom na Babel gebring en hom in die gevangenis gesit tot die dag van sy dood toe.
12 En in die vyfde maand, op die tiende van die maand—dit was die negentiende jaar van koning Nebukadrésar, die koning van Babel—het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, wat voor die koning van Babel gestaan het, in Jerusalem gekom;
13 en hy het die huis van die HERE en die paleis van die koning verbrand; ook al die huise van Jerusalem en elke groot huis met vuur verbrand.
14 En die hele leër van die Chaldeërs wat by die owerste van die lyfwag was, het al die mure van Jerusalem rondom omgegooi.
15 En uit die armes van die volk en die deel van die volk wat nog in die stad oor was, en die oorlopers wat na die koning van Babel oorgeloop het—die oorblyfsel van die menigte, het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, in ballingskap weggevoer.
16 Maar uit die armes van die land het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, sommige laat agterbly as wynboere en as landbouers.
17 Verder het die Chaldeërs die koperpilare wat in die huis van die HERE was, en die afspoelwaentjies en die kopersee wat in die huis van die HERE was, stukkend gebreek en al die koper daarvan na Babel weggevoer.
18 Ook het hulle weggeneem die potte en die skoppe en die messe en die komme en die rookpanne en al die kopergereedskap waarmee die diens verrig is.
19 En die owerste van die lyfwag het weggeneem die skottels en die vuurpanne en die komme en die potte en die kandelaars en die rookpanne en die bekers—wat van pure goud en wat van pure silwer was;
20 die twee pilare, die een see en die twaalf koperbeeste daaronder; die afspoelwaentjies wat koning Salomo vir die huis van die HERE gemaak het—die koper van al hierdie voorwerpe kon nie geweeg word nie.
21 Wat betref die pilare, agttien el was die hoogte van een pilaar, en ‘n lyn van twaalf el kon dit omspan; en sy dikte was vier vinger; dit was hol.
22 En ‘n kapiteel van koper was daarop, en die hoogte van een kapiteel was vyf el, met vlegwerk en granaatjies op die kapiteel rondom, alles van koper; en net so aan die tweede pilaar, met granaatjies.
23 En van die granaatjies was ses en negentig sigbaar; al die granaatjies was honderd op die vlegwerk rondom.
24 Verder het die owerste van die lyfwag Serája, die hoofpriester, geneem, en Sefánja, die tweede priester, en die drie drumpelwagters.
25 En uit die stad het hy geneem een hofdienaar wat oor die krygsmanne aangestel was, en sewe man uit die wat die koning se aangesig gesien het, wat in die stad aanwesig was; en die skrywer van die leërowerste wat die mense van die land vir krygsdiens opgeroep het, en sestig man van die mense van die land wat binne-in die stad aanwesig was.
26 En Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, het hulle geneem en hulle na die koning van Babel, na Ribla gebring.
27 En die koning van Babel het hulle neergeslaan en hulle gedood in Ribla, in die land Hamat. So is dan Juda uit sy land in ballingskap weggevoer.
28 Dit is die mense wat Nebukadrésar in ballingskap weggevoer het: in die sewende jaar, drie duisend drie en twintig Jode;
29 in die agttiende jaar van Nebukadrésar, uit Jerusalem agt honderd twee en dertig siele;
30 in die drie en twintigste jaar van Nebukadrésar het Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, van die Jode sewe honderd vyf en veertig siele in ballingskap weggevoer. Al die siele is vier duisend ses honderd.
31 En in die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van Jójagin, die koning van Juda, in die twaalfde maand, op die vyf en twintigste van die maand, het Evil-Meródag, die koning van Babel, in die jaar van sy troonsbestyging die hoof van Jójagin, die koning van Juda, verhef en hom uit die gevangenis uitgebring.
32 En hy het vriendelik met hom gespreek en sy stoel gesit bokant die stoel van die konings wat by hom in Babel was.
33 En hy het sy gevangenisklere verwissel; en hy het gedurigdeur brood voor sy aangesig geëet, al die dae van sy lewe.
34 En aangaande sy lewensonderhoud, ‘n vaste lewensonderhoud is hom toegestaan deur die koning van Babel, na die eis van elke dag, tot die dag van sy dood toe, al die dae van sy lewe.