Esegiël - Ezekiel

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48


-Reset+

Hoofstuk 1

1 In die dertigste jaar, in die vierde maand, op die vyfde van die maand, toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was, is die hemele geopen en het ek gesigte van God gesien.
2 Op die vyfde van die maand—dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin—
3 het die woord van die HERE uitdruklik gekom tot Eségiël, die seun van Busi, die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier; en die hand van die HERE was daar op hom.
4 Toe het ek gekyk—en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter.
5 En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dit was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van ‘n mens gehad;
6 en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke;
7 en hulle bene was reguit bene en hulle voetsole soos die sole van ‘n kalfspoot; en hulle het geglinster soos blink geskuurde koper;
8 en mensehande was onder hulle vlerke aan hulle vier kante. Maar aangaande die aangesigte en die vlerke van al vier,
9 hulle vlerke was aanmekaar verbind. Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan.
10 En hulle aangesigte het gelyk soos die gesig van ‘n mens; en al vier het die gesig van ‘n leeu gehad aan die regterkant en al vier het die gesig van ‘n bees aan die linkerkant; ook het al vier die gesig van ‘n arend gehad.
11 En hulle vlerke het uitgesprei na boontoe; elkeen het twee gehad wat met mekaar verbind was, en twee wat hulle liggame bedek het.
12 En hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan; waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan; hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie.
13 Aangaande die gestalte van die wesens: hulle voorkoms was soos gloeiende vuurkole, soos die voorkoms van fakkels; die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens, en die vuur het ‘n helder glans gehad, en uit die vuur het blitse uitgeslaan.
14 En die wesens het heen en weer gesnel, in aansien soos ‘n bliksemstraal.
15 Ek het toe die wesens nader bekyk: daar was een wiel op die grond langs die wesens aan elkeen van die vier voorkante.
16 Die voorkoms van die wiele en hulle maaksel was soos dié van ‘n chrisoliet; en al vier het dieselfde vorm gehad; daarby was hulle voorkoms en hulle maaksel asof daar ‘n wiel binne-in ‘n wiel was.
17 Na al vier kante het hulle gegaan as hulle gaan: hulle het nie gedraai as hulle gaan nie.
18 En hulle vellings—dié was hoog en dié was wonderbaar; en hulle vellings was by al vier rondom vol oë.
19 En as die wesens gaan, gaan die wiele naasaan hulle; en as die wesens hulle van die grond af ophef, word die wiele opgehef.
20 Waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan in die rigting wat die gees wou gaan; en die wiele is gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wese was in die wiele.
21 As dié gaan, gaan hulle; en as dié bly staan, staan hulle; en as dié hulle van die grond af ophef, word die wiele gelyktydig saam met hulle opgehef, want die gees van die wesens was in die wiele.
22 En oor die hoofde van die wesens was iets in die vorm van ‘n uitspansel wat blink soos die wonderbare kristal, bo-oor hulle hoofde uitgesprei.
23 En onder die uitspansel heen was hulle vlerke reguit na mekaar uitgestrek; en elkeen het twee gehad wat duskant en anderkant hul liggame bedek het.
24 En as hulle gaan, het ek die geruis van hulle vlerke gehoor soos die geruis van baie waters, soos die stem van die Almagtige—’n gedruis soos die gedreun van ‘n leër. As hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak.
25 En daar het ‘n stem gekom bo van die uitspansel af wat oor hulle hoof was; as hulle staan, het hulle hul vlerke laat sak.
26 En bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ‘n troon; en op die troongestalte ‘n gestalte wat soos ‘n mens gelyk het.
27 Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in ‘n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met ‘n glans daaromheen.
28 Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die HERE gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.




Hoofstuk 2

1 En Hy het vir my gesê: Mensekind, staan op jou voete, dat Ek met jou kan spreek.
2 En die Gees het in my gekom sodra Hy met my gespreek het, en my op my voete laat staan; en ek het Hom gehoor wat met my gespreek het.
3 Hy sê toe vir my: Mensekind, Ek stuur jou na die kinders van Israel, na die opstandige nasies wat teen My opgestaan het; hulle en hul vaders het teen My oortree tot hierdie selfde dag toe.
4 En die kinders is hard van aangesig en verstok van hart. Ek stuur jou na hulle, en jy moet vir hulle sê: So spreek die Here HERE!
5 Maar of hulle nou al luister of nie—want hulle is ‘n wederstrewige huis—hulle sal moet erken dat daar ‘n profeet in hulle midde gewees het.
6 En jy, mensekind, wees nie vir hulle of vir hulle woorde bevrees nie, omdat distels en dorings by jou is, en jy by skerpioene woon; wees nie bevrees vir hulle woorde en wees voor hulle aangesig nie verskrik nie, want hulle is ‘n wederstrewige huis.
7 Maar jy moet hulle my woorde verkondig, of hulle al luister of nie; want hulle is wederstrewig.
8 Maar jy, mensekind, luister na wat Ek jou sê; wees nie wederstrewig soos die wederstrewige huis nie; maak jou mond wyd oop, en eet wat Ek jou gee.
9 Toe kyk ek, en daar was ‘n hand na my toe uitgesteek, en daarin ‘n boekrol!
10 En Hy het dit voor my uitgesprei; en dit was beskrywe op die voor— en agterkant, en daarop was geskrywe klaagliedere en gesug en wee.




Hoofstuk 3

1 Daarna het Hy vir my gesê: Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel.
2 Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet
3 en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.
4 En Hy het vir my gesê: Mensekind, kom, gaan na die huis van Israel, en spreek hulle aan met my woorde;
5 want jy is nie gestuur na ‘n volk wat duister van spraak en swaar van tong is nie, maar na die huis van Israel;
6 nie na baie volke wat duister van spraak en swaar van tong is nie, wie se woorde jy nie kan verstaan nie; as Ek jou tog na hulle gestuur het, het húlle na jou geluister!
7 Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het ‘n harde voorhoof en ‘n ongevoelige hart.
8 Kyk, Ek maak jou aangesig hard net soos hulle aangesig en jou voorhoof hard net soos hulle voorhoof.
9 Jou voorhoof maak Ek hard soos ‘n diamant, harder as ‘n rots; jy mag nie vir hulle bevrees of vir hulle verskrik wees nie, omdat hulle ‘n wederstrewige huis is.
10 Verder het Hy vir my gesê: Mensekind, neem al my woorde wat Ek vir jou sal sê, in jou hart op, en hoor hulle met jou ore;
11 en kom, gaan na die ballinge, na die kinders van jou volk, en spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE—of hulle al luister of nie.
12 Toe het die Gees my opgeneem, en ek het agter my die geluid van ‘n groot gedreun gehoor wat sê: Geloofd sy die heerlikheid van die HERE uit sy woonplek!
13 En ek het gehoor die geluid van die wesens se vlerke wat die een aan die ander verbind was, en die geluid van die wiele gelyktydig daarmee en die geluid van ‘n groot gedreun.
14 Toe het die Gees my opgehef en my weggeneem, en ek het gegaan, verbitterd in die grimmigheid van my gees; maar die hand van die HERE was sterk op my.
15 En ek het by die ballinge gekom in Tel-Abib, wat by die Kebarrivier gewoon het, en by die plek van hulle woning; en ek het daar sewe dae lank verstom in hulle midde gesit.
16 En aan die einde van sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
17 Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.
18 As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
19 Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.
20 En as ‘n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek ‘n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
21 Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.
22 En die hand van die HERE was daar op my, en Hy het vir my gesê: Staan op, gaan uit na die laagte, en Ek sal daar met jou spreek.
23 Ek staan toe op en gaan na die laagte uit; en kyk, die heerlikheid van die HERE het daar gestaan soos die heerlikheid wat ek by die Kebarrivier gesien het. En ek het op my aangesig geval.
24 Toe kom die Gees in my en laat my op my voete staan; en Hy het met my gespreek en vir my gesê: Gaan in, sluit jou toe in jou huis.
25 En jy, mensekind, kyk, hulle sit vir jou toue aan en bind jou daarmee, sodat jy nie onder hulle kan uitgaan nie.
26 En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klewe, sodat jy stom sal word en vir hulle geen bestraffer sal wees nie; want hulle is ‘n wederstrewige huis.
27 Maar as Ek met jou spreek, sal Ek jou mond open, en jy moet aan hulle sê: So spreek die Here HERE. Wie hoor, laat hom hoor; en wie dit nalaat, laat hom dit nalaat; want hulle is ‘n wederstrewige huis.




Hoofstuk 4

1 En jy, mensekind, neem vir jou ‘n baksteen en sit dit voor jou neer, en teken daarop ‘n stad, naamlik Jerusalem;
2 maak dan ‘n beleëring daarteen en bou forte daarteen en gooi ‘n wal daarteen op en stel laers daarteen op en lê stormramme daarteen aan rondom.
3 Verder, neem jy vir jou ‘n ysterpan en sit dit as ‘n ystermuur tussen jou en die stad; en rig jou aangesig daarop, en dit sal beleër wees, en jy moet dit beleër. ‘n Teken is dit vir die huis van Israel.
4 Gaan lê ook op jou linkerkant, en sit daarop die ongeregtigheid van die huis van Israel; volgens die getal dae dat jy daarop lê, moet jy hulle ongeregtigheid dra.
5 En Ék lê jou die jare van hulle ongeregtigheid op volgens die getal dae, drie honderd en negentig dae, dat jy die ongeregtigheid van die huis van Israel moet dra.
6 En as jy met hierdie dae klaar is, moet jy, vir die tweede keer, op jou regterkant gaan lê en die ongeregtigheid van die huis van Juda dra, veertig dae lank: vir elke jaar lê Ek jou een dag op.
7 En op die beleëring van Jerusalem moet jy jou aangesig rig terwyl jou arm ontbloot is; en jy moet daarteen profeteer.
8 En kyk, Ek sit vir jou toue aan, sodat jy jou nie kan omdraai van die een kant na die ander nie, totdat jy klaar is met die dae van jou beleëring.
9 En neem jy vir jou koring en gars en boontjies en lensies en broodmanna en spelt, en gooi dit in een skottel, en maak vir jou daarvan brood; volgens die getal dae dat jy op jou sy lê, drie honderd en negentig dae, moet jy daarvan eet.
10 En jou voedsel wat jy moet eet, sal in gewig wees twintig sikkels elke dag; van tyd tot tyd moet jy dit eet.
11 Jy moet ook water by die maat drink, die sesde deel van ‘n hin; van tyd tot tyd moet jy dit drink.
12 En as garskoeke moet jy dit eet en dit op die mis van mensedrek bak voor hulle oë.
13 Toe sê die HERE: So sal die kinders van Israel hulle brood onrein eet onder die nasies waarheen Ek hulle sal verdrywe.
14 En ek sê: Ag, Here HERE! Kyk, my siel is nooit verontreinig nie, en ek het van my jeug af tot nou toe geen aas of iets wat verskeur is, geëet nie, en daar het geen bedorwe vleis in my mond gekom nie.
15 Toe sê Hy vir my: Kyk, Ek het vir jou beesmis gegee in plaas van mensedrek; daarop moet jy jou brood klaarmaak.
16 Ook het Hy vir my gesê: Mensekind, kyk, Ek verbreek die staf van die brood in Jerusalem, en hulle sal brood by die gewig en met kommer eet en water by die maat en in stomme smart drink;
17 sodat hulle gebrek aan brood en water het, en die een met die ander verstom staan en in hulle ongeregtigheid wegkwyn.




Hoofstuk 5

1 En jy, mensekind, neem vir jou ‘n skerp swaard; as skeermes moet jy dit vir jou neem, en laat dit gaan oor jou hoof en oor jou baard; daarna moet jy vir jou ‘n weegskaal neem en die hare verdeel:
2 ‘n derde deel moet jy binne-in die stad met vuur verbrand as die dae van die beleëring verby is; dan moet jy ‘n derde deel neem en met die swaard stukkend kap rondom die stad, en ‘n derde deel moet jy in die wind strooi; en Ek sal ‘n swaard agter hulle uittrek.
3 Jy moet ook ‘n klein bietjie daarvan neem en dit in jou slippe bind;
4 en daarvan moet jy nog weer neem en dit binne-in die vuur gooi en dit met vuur verbrand; daar sal vuur van uitgaan in die hele huis van Israel.
5 So sê die Here HERE: Dit is Jerusalem. Ek het dit onder die nasies gestel, en lande is daar rondomheen.
6 Maar dit was wederstrewig teen my verordeninge, goddeloser as die nasies, en teen my insettinge meer as die lande daar rondomheen; want hulle het my verordeninge verwerp en in my insettinge nie gewandel nie.
7 Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle opstandiger is as die nasies wat rondom julle is, in my insettinge nie gewandel en my verordeninge nie betrag het nie—selfs na die verordeninge van die nasies wat rondom julle is, nie gehandel het nie;
8 daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, ja, Ek! En Ek sal strafgerigte in jou midde oefen, voor die oë van die nasies;
9 en om al jou gruwels ontwil sal Ek aan jou doen wat Ek nooit gedoen het nie, en wat Ek só nooit weer sal doen nie.
10 Daarom sal die vaders die kinders opeet in jou midde, en die kinders sal hulle vaders opeet; en Ek sal strafgerigte oefen in jou midde en sal al wat van jou oorbly, na al die windstreke verstrooi.
11 Daarom, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, omdat jy my heiligdom verontreinig het met al jou verfoeisels en met al jou gruwels, sal Ék My ook onttrek; my oog sal nie verskoon nie, en Ék sal ook nie spaar nie.
12 ‘n Derde deel van jou sal aan die pes sterwe en deur hongersnood in jou omkom; en ‘n derde deel sal deur die swaard rondom jou val; en ‘n derde deel sal Ek na al die windstreke verstrooi, en Ek sal ‘n swaard agter hulle uittrek.
13 So sal dan my toorn uitwoed, en Ek sal my grimmigheid tot rus bring teen hulle en aan My voldoening verskaf; en hulle sal weet dat Ek, die HERE, in my ywer gespreek het as Ek my grimmigheid teen hulle laat uitwoed.
14 En Ek sal jou ‘n puinhoop en ‘n voorwerp van smaad maak onder die nasies wat rondom jou is, voor die oë van almal wat verbygaan.
15 En dit sal ‘n voorwerp van smaad en skimp wees, ‘n waarskuwing en ‘n voorwerp van verbasing vir die nasies wat rondom jou is, as Ek strafgerigte in jou oefen in toorn en grimmigheid en in grimmige strawwe; Ek, die HERE, het dit gespreek.
16 As Ek die verderflike pyle van hongersnood teen hulle uitstuur wat tot verwoesting is, wat Ek uitstuur om julle te vernietig, dan sal Ek die hongersnood oor julle vermeerder, en julle staf van die brood sal Ek verbreek.
17 Ja, hongersnood en wilde diere wat jou kinderloos sal maak, sal Ek oor julle stuur; ook sal pes en bloedvergieting in jou rondgaan, en Ek sal ‘n swaard oor jou bring. Ek, die HERE, het dit gespreek.




Hoofstuk 6

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, rig jou aangesig teen die berge van Israel, en profeteer teen hulle
3 en sê: Berge van Israel, hoor die woord van die Here HERE! So sê die Here HERE vir die berge en vir die heuwels en vir die klowe en vir die dale: Kyk, Ek bring ‘n swaard oor julle, en Ek sal julle hoogtes vernietig;
4 en julle altare sal verwoes en julle sonpilare verbreek word; en Ek sal die wat uit julle verslaan is, neerwerp voor julle drekgode;
5 en Ek sal die lyke van die kinders van Israel voor hulle drekgode werp en julle beendere rondom julle altare strooi.
6 In al julle woonplekke sal die stede verwoes en die hoogtes ‘n wildernis word, sodat julle altare woes en eensaam sal wees, en julle drekgode verbreek sal word en verdwyn, en julle sonpilare omgekap en julle werke vernietig sal word.
7 En die wat verslaan is, sal onder julle lê, sodat julle kan weet dat Ek die HERE is.
8 Maar Ek sal ‘n oorblyfsel bewaar deurdat daar vir julle sommige sal wees wat onder die nasies die swaard ontvlug, as julle verstrooi is in die lande.
9 Dan sal die wat uit julle ontvlug het, aan My dink onder die nasies waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, as Ek hulle ontugtige hart wat van My afgewyk het, en hulle oë wat agter hulle drekgode aan hoereer, verbreek het; en hulle sal vir hulself walglik wees weens die slegte dinge wat hulle gedoen het volgens al hulle gruwels.
10 En hulle sal weet dat Ek die HERE is; Ek het nie tevergeefs gespreek dat Ek hulle hierdie onheil sal berokken nie.
11 So sê die Here HERE: Slaan in jou hand, en stamp met jou voet, en sê: Wee oor al die growwe gruweldade van die huis van Israel, omdat hulle deur die swaard, die honger en die pes moet val.
12 Hy wat ver is, sal deur die pes sterwe; en hy wat naby is, sal deur die swaard val; en hy wat oorgebly het en gespaar is, sal deur die hongersnood sterwe. So sal Ek dan my grimmigheid teen hulle laat uitwoed.
13 En julle sal weet dat Ek die HERE is, as die wat uit hulle verslaan is, onder hulle drekgode lê rondom hulle altare op elke hoë heuwel, op al die bergtoppe en onder elke groen boom en onder elke digte terpentynboom, die plek waar hulle aan al hulle drekgode ‘n lieflike offergeur gebring het.
14 En Ek sal my hand teen hulle uitstrek en sal die land ‘n wildernis maak en ‘n woesteny, van die Woestyn af tot by Ribla in al hulle woonplekke. En hulle sal weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 7

1 Daarna het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 En jy, mensekind, so spreek die Here HERE tot die land van Israel: Einde! Die einde het gekom oor die vier hoeke van die land.
3 Nou is die einde oor jou, en Ek sal my toorn teen jou uitstuur en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom;
4 en my oog sal jou nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie, maar Ek sal jou wandel op jou laat neerkom, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
5 So sê die Here HERE: Onheil op onheil, kyk, dit kom!
6 ‘n Einde kom, die einde kom, dit word wakker teen jou; kyk, dit kom!
7 Die lotsverandering kom teen jou, inwoner van die land! Die tyd kom, die dag is naby! Rumoer en geen vreugdegeroep op die berge nie!
8 Nou sal Ek binnekort my grimmigheid oor jou uitgiet en my toorn teen jou laat uitwoed en jou oordeel volgens jou weë en al jou gruwels op jou laat neerkom.
9 En my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal dit op jou laat neerkom volgens jou weë, en jou gruwels sal in jou midde wees; en julle sal weet dat Ek die HERE is wat slaan.
10 Kyk, die dag, kyk, hy kom! Die lotsverandering het uitgegaan, die roede het gebloei, die trotsheid het uitgespruit.
11 Die geweld het opgegroei tot ‘n roede van goddeloosheid; niks van hulle sal oorbly nie of van hulle menigte of van hulle gedruis, en niks heerliks sal aan hulle wees nie.
12 Die tyd het gekom, die dag is naby; laat die koper nie bly wees nie en die verkoper nie treur nie; want toorngloed is daar oor die hele menigte van die land.
13 Want die verkoper sal nie teruggaan na wat verkoop is nie—ook as hy nog in die lewe is; want die gesig aangaande die hele menigte van die land sal nie herroep word nie, en niemand sal homself deur sy ongeregtigheid in sy lewenskrag versterk nie.
14 Hulle blaas met die trompet en maak alles klaar, maar niemand trek na die oorlog toe nie; want my toorngloed is oor die hele menigte van die land.
15 Die swaard buite, en die pes en die hongersnood binne; hy wat in die veld is, sal deur die swaard sterwe; en hy wat in die stad is, hom sal die hongersnood en die pes verteer.
16 En die wat uit hulle ontvlug, sal ontvlug; maar hulle sal op die berge wees soos duiwe van die klowe wat almal klaag, elkeen vanweë sy ongeregtigheid.
17 Almal se hande sal slap word, en almal se knieë sal wegvloei soos water.
18 Ook sal hulle rouklere aangord, en angs sal hulle oordek; en oor al die aangesigte sal skaamte wees en op al hulle hoofde ‘n kaalte.
19 Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ‘n voorwerp van afsku wees; hul silwer en hul goud sal hulle nie kan red in die dag van die grimmigheid van die HERE nie; hul siel sal hulle daarmee nie versadig of hul ingewande daarmee vul nie, want dit was die struikelblok tot hulle ongeregtigheid.
20 En die pragtige sieraad daarvan het hulle as voorwerp van trots opgestel, en die beelde van hul gruwels, hul verfoeisels het hulle daarmee gemaak; daarom het Ek dit vir hulle tot ‘n voorwerp van afsku gemaak.
21 En Ek sal dit in die hand van vreemdes oorgee as roof en aan die goddelose van die aarde as buit, dat hulle dit ontheilig.
22 Ook sal Ek my aangesig van hulle afwend, en hulle sal my skat ontheilig: inbrekers sal daar inkom en dit ontheilig.
23 Maak ‘n ketting klaar, want die land is vol bloedgerigte en die stad is vol geweld.
24 Daarom sal Ek die kwaadaardigste nasies laat kom, wat hulle huise in besit sal neem, en Ek sal die trots van die sterkes laat ophou, en hulle heiligdomme sal ontheilig word.
25 Die angs kom; en hulle soek vrede, maar dit is nie daar nie.
26 Onheil op onheil kom, en gerug op gerug is daar; en hulle sal ‘n gesig verlang van die profeet, maar die wet sal verlore wees vir die priester en die raad vir die oudstes.
27 Die koning sal rou, en die vors sal hom beklee met verbasing, en die hande van die mense van die land sal deur skrik verlam wees. Ek sal met hulle handel volgens hulle weg, en volgens hulle verordeninge sal Ek hulle vonnis; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 8

1 En in die sesde jaar, in die sesde maand, op die vyfde van die maand, terwyl ek in my huis sit en die oudstes van Juda voor my sit, het die hand van die Here HERE daar op my geval.
2 Ek kyk toe—en daar was ‘n gestalte wat soos vuur gelyk het; van wat soos sy lendene gelyk het en ondertoe, was vuur, en van sy lendene af en boontoe iets net soos ‘n hemelglans wat soos blinkende metaal geskyn het.
3 Toe steek Hy iets uit wat die vorm van ‘n hand het, en vat my aan die kuifhare van my hoof; en die Gees het my opgehef tussen die aarde en die hemel en my in gesigte van God na Jerusalem gebring, by die ingang van die binneste poort wat na die noorde toe kyk, waar die plek was van die afgodsbeeld van ywer wat ywer verwek.
4 En kyk, die heerlikheid van die God van Israel was daar, ooreenkomstig die verskyning wat ek in die laagte gesien het.
5 En Hy sê vir my: Mensekind, slaan tog jou oë op in die rigting van die noorde; en ek het my oë opgeslaan in die rigting van die noorde—en daar was aan die noordekant van die altaarpoort daardie afgodsbeeld van ywer by die ingang!
6 En Hy sê vir my: Mensekind, sien jy wat hulle doen, die groot gruwels wat die huis van Israel hier aanrig, dat Ek ver van my heiligdom af moet weggaan? Maar jy sal nog ander groot gruwels sien.
7 Daarop bring Hy my by die ingang van die voorhof. Ek kyk toe—en daar was ‘n gat in die muur.
8 En Hy sê vir my: Mensekind, breek tog deur die muur heen. En ek het deur die muur heen gebreek, en kyk, daar was ‘n deur.
9 Daarop sê Hy vir my: Gaan in, en kyk na die growwe gruwels wat hulle hier doen.
10 Ek gaan toe in en kyk—en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere, en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was.
11 En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan, en Jaäsanja, die seun van Safan, onder hulle; en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad, en die geur van die wolk van reukwerk het opgegaan.
12 Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamers met beeldwerk? Want hulle dink: Die HERE sien ons nie; die HERE het die land verlaat.
13 En Hy sê vir my: Jy sal nog ander groot gruwels sien wat hulle doen.
14 Hy het my toe gebring na die noordelike ingang van die poort by die huis van die HERE, en kyk, daar het die vroue gesit wat Tammus beween.
15 En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien.
16 Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die huis van die HERE; en kyk, by die ingang van die tempel van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar, was omtrent vyf en twintig man, met hulle rug na die tempel van die HERE en hulle gesig na die ooste, en hulle het hul voor die son neergebuig na die ooste.
17 En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Is dit dan vir die huis van Juda te gering om die gruwels te doen wat hulle hier bedrywe, dat hulle die land met geweld gevul en My nog meer geterg het? En kyk hoe hulle die druiwetak by hulle neus hou!
18 Daarom sal Ék ook in grimmigheid handel; my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; en al roep hulle hardop voor my ore, nogtans sal Ek na hulle nie luister nie.




Hoofstuk 9

1 Daarna het Hy hardop voor my ore geroep en gesê: Kom nader, geregsdienaars van die stad, en elkeen met sy verwoestende wapen in sy hand.
2 En kyk, ses manne kom met die pad van die Boonste Poort wat na die noorde toe lê, en elkeen met sy wapen in sy hand om mee te verbrysel; en onder hulle een man wat met linne bekleed was, met ‘n skrywer se inkpot aan sy heupe; en hulle het gekom en vlak by die koperaltaar gaan staan.
3 En die heerlikheid van die God van Israel het opgestyg van die gérub waar dit op was, na die drumpel van die huis toe; en Hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het.
4 En die HERE sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ‘n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word.
5 Maar aan die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie;
6 slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom. En hulle het begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.
7 En Hy sê vir hulle: Verontreinig die huis en maak die voorhowe vol met mense wat verslaan word. Trek uit! En hulle het uitgetrek en geslaan in die stad.
8 En toe hulle besig was om neer te slaan en ek oorgebly het, het ek op my aangesig geval en uitgeroep en gesê: Ag, Here HERE, gaan U die hele oorblyfsel van Israel vernietig deurdat U u grimmigheid oor Jerusalem uitgiet?
9 Toe sê Hy vir my: Die ongeregtigheid van die huis van Israel en van Juda is buitengewoon groot, en die land is vol bloedskuld, en die stad is vol regsverbreking; want hulle sê: Die HERE het die land verlaat, en die HERE sien nie.
10 Daarom ook, wat My aangaan, my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal hulle wandel op hulle hoof laat neerkom.
11 En kyk, die man wat met linne bekleed was, aan wie se heupe die inkpot was, het berig gebring en gesê: Ek het gedoen soos U my beveel het.




Hoofstuk 10

1 Daarna het ek gekyk—en daar was op die uitspansel, oor die hoof van die gérubs, iets soos ‘n saffiersteen; iets wat soos die gestalte van ‘n troon gelyk het, het oor hulle sigbaar geword.
2 En Hy het die man aangespreek wat met linne bekleed was, en gesê: Gaan in tussen die ratwerk onder die gérub in, en vul jou twee hande met gloeiende kole tussen die gérubs vandaan, en strooi dit oor die stad. Toe gaan hy voor my oë daar in.
3 En die gérubs het aan die regterkant van die huis gestaan toe die man daar ingaan, en die wolk het die binneste voorhof gevul.
4 Toe het die heerlikheid van die HERE van die gérub af opgestyg oor die drumpel van die huis; en die huis is gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die glans van die HERE se heerlikheid.
5 En die geruis van die gérubs se vlerke is gehoor tot in die buitenste voorhof, soos die stem van die almagtige God as Hy spreek.
6 En toe Hy aan die man wat met linne bekleed was, bevel gegee het deur te sê: Neem vuur tussen die ratwerk, tussen die gérubs uit, het hy ingegaan en langs die wiel gaan staan.
7 Toe steek die gérub sy hand uit, tussen die gérubs uit, na die vuur wat tussen die gérubs was; en hy neem daarvan en gee dit in die twee hande van hom wat met linne bekleed was; dié het dit geneem en uitgegaan.
8 En daar is aan die gérubs gesien die vorm van ‘n mens se hand onder hulle vlerke.
9 Toe het ek gekyk—en daar was vier wiele langs die gérubs, telkens een wiel langs elke gérub; en die voorkoms van die wiele was soos dié van chrisoliet.
10 En aangaande hulle voorkoms, al vier het dieselfde voorkoms gehad, asof daar ‘n wiel binne-in ‘n wiel was:
11 as hulle gaan, het hulle na al vier kante gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie; maar daar waar die voorste heen draai, het hulle agter hom aan gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie.
12 En hulle hele liggaam en hulle rugge en hulle hande en hulle vlerke en die wiele was vol oë rondom, aan al die vier wiele van hulle.
13 Aangaande die wiele, hulle is voor my ore die ratwerk genoem.
14 En elkeen het vier aangesigte gehad: die eerste aangesig was die aangesig van ‘n gérub en die tweede aangesig die aangesig van ‘n mens en die derde die aangesig van ‘n leeu en die vierde die aangesig van ‘n arend.
15 En die gérubs het opgestyg. Dit was die wese wat ek by die Kebarrivier gesien het.
16 En as die gérubs gaan, gaan die wiele naasaan hulle; en as die gérubs hulle vlerke ophef om van die grond af op te styg, het die wiele ook nie weggedraai naasaan hulle nie.
17 As dié bly staan, staan hulle; en as dié opstyg, het hulle saam opgestyg; want die gees van die wese was in hulle.
18 En die heerlikheid van die HERE het van die drumpel van die huis af weggetrek en bo die gérubs gaan staan.
19 En die gérubs het hulle vlerke opgehef en voor my oë van die grond af opgestyg toe hulle weggetrek het, en die wiele gelyktydig met hulle saam; en hulle het gaan staan by die ingang van die Oostelike Poort van die huis van die HERE, terwyl die heerlikheid van die God van Israel bo-oor hulle was.
20 Dit is die wese wat ek onder die God van Israel by die Kebarrivier gesien het; ek merk toe dat dit gérubs was.
21 Elkeen het vier aangesigte en elkeen vier vlerke gehad; en iets in die vorm van mensehande was onder hulle vlerke.
22 En wat die vorm van hulle aangesigte betref, dit was die aangesigte wat ek by die Kebarrivier gesien het, hulle voorkoms en hulle self; hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan.




Hoofstuk 11

1 En die Gees het my opgehef en my gebring na die Oostelike Poort van die huis van die HERE wat na die ooste kyk; en kyk, by die ingang van die poort was daar vyf en twintig man, en onder hulle het ek gesien Jaäsanja, die seun van Assur, en Pelatja, die seun van Benája, vorste van die volk.
2 Toe sê Hy vir my: Mensekind, dit is die manne wat ongeregtigheid bedink en slegte raad gee in hierdie stad,
3 wat sê: Nie so gou kom die tyd om huise te bou nie: hierdie stad is die pot, en ons die vleis.
4 Daarom, profeteer teen hulle, profeteer, mensekind!
5 Toe val die Gees van die HERE op my, en Hy sê vir my: Spreek, so sê die HERE: So het julle gespreek, o huis van Israel; en wat in julle gees opkom, weet Ék.
6 Julle het die wat deur julle verslaan is, in hierdie stad vermenigvuldig, en julle het sy strate vol gemaak met die wat verslaan is.
7 Daarom, so sê die Here HERE: Die wat deur julle verslaan is, wat julle daarin neergelê het, hulle is die vleis, en hierdie stad is die pot, maar júlle sal Ek daar uitbring.
8 Julle is bevrees vir die swaard, maar die swaard sal Ek oor julle bring, spreek die Here HERE.
9 En Ek sal julle daar uitbring en julle oorgee in die hand van vreemdes en strafgerigte onder julle oefen.
10 Julle sal deur die swaard val; by die grens van Israel sal Ek julle oordeel. En julle sal weet dat Ek die HERE is.
11 Hierdie stad sal vir julle nie die pot, en júlle sal daarin nie die vleis wees nie; by die grens van Israel sal Ek julle oordeel.
12 En julle sal weet dat Ek die HERE is, omdat julle nie in my insettinge gewandel en my verordeninge nie gehou het nie, maar gehandel het volgens verordeninge van die nasies wat rondom julle is.
13 En terwyl ek profeteer, het Pelatja, die seun van Benája, gesterwe. Toe het ek op my aangesig geval en hardop uitgeroep en gesê: Ag, Here HERE, wil U ‘n einde maak aan die oorblyfsel van Israel?
14 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
15 Mensekind, jou broers, jou broers, die manne wat aan jou verwant is, en die hele huis van Israel, almal saam, van wie die inwoners van Jerusalem sê: Bly ver van die HERE af, aan óns is dit, die land, as besitting gegee—
16 Daarom sê: So spreek die Here HERE: Omdat Ek hulle ver weggedryf het onder die nasies, en omdat Ek hulle verstrooi het in die lande en Ek vir hulle ‘n kort rukkie ‘n heiligdom geword het in die lande waar hulle gekom het—
17 daarom sê: So spreek die Here HERE: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee.
18 En hulle sal daarnatoe kom en al sy verfoeisels en al sy gruwels daaruit verwyder.
19 En Ek sal hulle een hart gee, en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee,
20 sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.
21 Maar hulle wie se hart agter die hart van hulle verfoeisels en hulle gruwels aan loop—hulle wandel laat Ek op hul hoof neerkom, spreek die Here HERE.
22 Toe het die gérubs hulle vlerke opgehef en die wiele gelyktydig met hulle saam, terwyl die heerlikheid van die God van Israel bo-oor hulle was.
23 En die heerlikheid van die HERE het opgestyg uit die stad uit weg en het gaan staan op die berg wat oos van die stad lê.
24 Daarna het die Gees my opgeneem en my, in ‘n gesig deur die Gees van God, gebring na Chaldéa, na die ballinge; en die gesig wat ek gesien het, het van my af opgetrek.
25 En ek het aan die ballinge verkondig al die woorde van die HERE wat Hy my laat sien het.




Hoofstuk 12

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, jy woon onder mense van die wederstrewige huis, wat oë het om te sien, maar nie sien nie; ore het om te hoor, maar nie hoor nie, want hulle is ‘n wederstrewige huis.
3 Maar jy, mensekind, maak vir jou toebereidsels om in ballingskap te gaan, en gaan oordag in ballingskap voor hulle oë; vertrek soos ‘n balling voor hulle oë, van jou woonplek af na ‘n ander plek toe—miskien sal hulle dit sien, want hulle is ‘n wederstrewige huis.
4 En jy moet jou goed oordag uitbring voor hulle oë soos die goed wat vir ‘n ballingskap nodig is; maar self moet jy in die aand uitgaan voor hulle oë soos die wat in ballingskap uitgaan.
5 Breek vir jou ‘n gat in die muur voor hulle oë, en bring dit daardeur uit.
6 Voor hulle oë moet jy dit op die skouer dra, in die pikdonker moet jy dit uitbring; jou aangesig moet jy bedek, sodat jy die land nie sien nie; want Ek maak jou tot ‘n sinnebeeld vir die huis van Israel.
7 Ek het toe gedoen soos my beveel is: ek het my goed oordag uitgebring soos die goed wat vir ‘n ballingskap nodig is; en in die aand het ek met my hand vir my ‘n gat in die muur gebreek; in die pikdonker het ek dit uitgebring, dit op die skouer voor hulle oë gedra.
8 Toe kom die woord van die HERE tot my in die môre en sê:
9 Mensekind, het die huis van Israel, die wederstrewige huis, nie vir jou gesê: Wat maak jy daar nie?
10 Sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Hierdie las sien op die vors in Jerusalem en die hele huis van Israel wat onder hulle woon.
11 Sê: Ek is julle sinnebeeld; soos ek gedoen het, so sal met hulle gedoen word: in ballingskap, in gevangenskap sal hulle gaan.
12 En die vors wat onder hulle is, sal die goed op die skouer dra, in die pikdonker, en hy sal uitgaan; hulle sal ‘n gat in die muur breek om daardeur uit te bring; hy sal sy aangesig bedek, omdat hy self die land met die oog nie sal sien nie.
13 En Ek sal my net oor hom uitsprei, en in my strik sal hy gevang word; en Ek sal hom na Babel, na die land van die Chaldeërs bring; maar hy sal dit nie sien nie, en daar sal hy sterwe.
14 En almal wat rondom hom is, sy hulp, en al sy leërs sal Ek na al die windstreke verstrooi en die swaard agter hulle uittrek.
15 Dan sal hulle weet dat Ek die HERE is, as Ek hulle onder die nasies versprei en hulle in die lande verstrooi;
16 maar Ek sal van hulle ‘n klein klompie laat oorbly van die swaard, die hongersnood en die pes, sodat hulle al húlle gruwels kan vertel onder die nasies waar hulle kom; en dié sal weet dat Ek die HERE is.
17 Daarna het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
18 Mensekind, jy moet jou brood met bewing eet en jou water met siddering en kommer drink.
19 En jy moet aan die mense van die land sê: So spreek die Here HERE aangaande die inwoners van Jerusalem, in die land Israel: Hulle sal hul brood met kommer eet en hul water in stomme smart drink, sodat hulle land, van sy volheid beroof, woes sal lê vanweë die geweldpleging van almal wat daarin woon.
20 En die stede wat bewoon is, sal woes word, en die land sal ‘n wildernis wees; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
21 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
22 Mensekind, wat is dit vir ‘n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie.
23 Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Ek maak ‘n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby, en die woord van elke gesig.
24 Want daar sal geen bedrieglike gesig of vleiende waarsêery in die huis van Israel meer wees nie.
25 Want Ek, die HERE, Ek sal spreek—wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur; dit sal nie meer uitgestel word nie. Want in julle dae, o wederstrewige huis, sal Ek ‘n woord spreek en dit uitvoer ook, spreek die Here HERE.
26 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
27 Mensekind, kyk, die huis van Israel sê: Die gesig wat hy sien, is vir baie dae, en hy profeteer van tye wat ver is.
28 Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Geeneen van my woorde sal meer uitgestel word nie; wat Ek as woord spreek, dit sal gebeur, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 13

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat profeteer, en sê aan die wat profete uit hulle eie hart is: Hoor die woord van die HERE!
3 So spreek die Here HERE: Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie.
4 Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope.
5 Julle het in die bresse nie opgegaan nie en die muur nie gebou om die huis van Israel, om in die stryd pal te staan in die dag van die HERE nie.
6 Hulle het nietigheid gesien en leuenagtige waarsêery, hulle wat daar sê: Die HERE het gespreek—terwyl die HERE hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op vervulling van die woord!
7 Het julle nie ‘n bedrieglike gesig gesien en leuenagtige waarsêery gespreek nie deurdat julle sê: Die HERE spreek, terwyl Ék nie gespreek het nie?
8 Daarom, so spreek die Here HERE: Omdat julle valsheid gespreek en leuenagtige gesigte gesien het, daarom kyk, Ek het dit teen julle, spreek die Here HERE.
9 En my hand sal wees teen die profete wat bedrieglike gesigte sien en leuens waarsê: hulle sal in die vergadering van my volk nie wees nie en in die boek van die huis van Israel nie opgeskryf word nie en in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die Here HERE is.
10 Omdat, ja, omdat hulle my volk verlei het deur te sê: Vrede! terwyl daar geen vrede is nie; en as die volk ‘n muur bou, kyk, dan bepleister hulle dit met los kalk;
11 sê vir hulle wat met los kalk pleister, dat dit sal afval; daar sal ‘n oorstromende stortreën kom; en julle, haelstene, sal val en ‘n stormwind sal losbreek.
12 En kyk, daar val die muur! Sal dan nie vir julle gesê word: Waar is die pleister waarmee julle gepleister het nie?
13 Daarom, so spreek die Here HERE: Ja, Ek sal ‘n stormwind in my grimmigheid laat losbreek, en daar sal ‘n oorstromende stortreën kom in my toorn en haelstene in grimmigheid tot vernietiging.
14 En Ek sal die muur afbreek wat julle met los kalk gepleister het, en dit op die grond gooi, sodat sy fondament blootgelê sal word; dan sal die stad val, en julle sal daarin omkom; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
15 En Ek sal my grimmigheid laat uitwoed teen die muur en teen hulle wat dit met los kalk gepleister het; en Ek sal vir julle sê: Weg is die muur! En weg is hulle wat dit gepleister het,
16 naamlik die profete van Israel wat profeteer aangaande Jerusalem en vir hom gesigte van vrede sien, terwyl daar geen vrede is nie, spreek die Here HERE.
17 En jy, mensekind, rig jou aangesig teen die dogters van jou volk wat as profetesse optree uit hulle eie hart, en profeteer teen hulle
18 en sê: So spreek die Here HERE: Wee die vroue wat bande vaswerk aan al die gewrigte van die hande en sluiers maak oor die hoof van allerhande mense, groot en klein, om siele te vang. Wil julle siele vang van my volk en siele vir julle voordeel in die lewe hou?
19 En julle ontheilig My by my volk vir ‘n paar hande vol gars en vir ‘n paar stukke brood om siele dood te maak wat nie moes gesterf het nie, en om siele in die lewe te hou wat nie moes geleef het nie, deurdat julle my volk belieg wat na leuens luister.
20 Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen julle bande waarmee julle die siele vang soos voëls, en Ek sal hulle van julle arms afskeur; en Ek sal die siele losmaak, die siele wat julle vang soos voëls.
21 Ek sal ook julle sluiers skeur en my volk uit julle hand red, sodat hulle nie meer ‘n buit in julle hand sal wees nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
22 Omdat julle met leuens die hart van die regverdige droewig gemaak het—terwyl Ek hom geen smart aangedoen het nie—en die hande van die goddelose versterk het, dat hy van sy slegte weg nie sou terugkeer, om hom in die lewe te hou nie;
23 daarom sal julle geen bedrieglike gesigte meer sien en geen waarsêery meer drywe nie; maar Ek sal my volk uit julle hand red, en julle sal weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 14

1 Daarop het manne uit die oudstes van Israel na my gekom en voor my gaan sit.
2 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
3 Mensekind, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit—sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg?
4 Daarom, spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom—Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee;
5 sodat Ek die huis van Israel in hulle hart kan gryp, omdat hulle almal deur hul drekgode hul van My afgewend het.
6 Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Bekeer julle en wend julle af van julle drekgode en wend julle aangesig af van al julle gruwels.
7 Want elke man uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat hom afsonder en My nie navolg nie en sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom, dat dié My vir hom kan raadpleeg—hom sal Ek, die HERE, self antwoord gee.
8 Ek sal my aangesig rig teen dié man en hom tot ‘n teken en ‘n voorwerp van spot maak, en Ek sal hom uitroei uit die midde van my volk; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
9 En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek—Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel.
10 En hulle moet hul ongeregtigheid dra: soos die ongeregtigheid van die vraer, so sal die ongeregtigheid van die profeet wees;
11 sodat die huis van Israel nie meer agter My wegdwaal nie en hulle nie meer verontreinig met al hul oortredinge nie. Dan sal hulle vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees, spreek die HERE.
12 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
13 Mensekind, as ‘n land teen My sondig deur troubreuk te begaan, en Ek my hand daarteen uitstrek en die staf van die brood daarvan verbreek en ‘n hongersnood daarin stuur, en Ek daaruit mens en dier uitroei—
14 al was hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin, dan sou hulle deur hul geregtigheid net hulle eie siel red, spreek die Here HERE.
15 As Ek wilde diere in die land laat rondswerf, dat hulle dit kinderloos maak en dit ‘n wildernis word, sodat niemand daar deurgaan vanweë die wilde diere nie—
16 al was hierdie drie manne daarin, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, hulle sou geen seuns of dogters red nie; net hulle sou gered word, maar die land sou ‘n wildernis wees.
17 Of as Ek die swaard bring oor daardie land en sê: Laat die swaard deur die land trek! en Ek daaruit mens en dier uitroei—
18 al was hierdie drie manne daarin, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, hulle sou geen seuns of dogters red nie, maar net hulle sou gered word.
19 Of as Ek pes in daardie land stuur en my grimmigheid daaroor uitgiet in bloed, om daaruit mens en dier uit te roei—
20 al was Noag, Daniël en Job daarin, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, hulle sou geen seun of dogter red nie; hulle sou net hulle eie siel deur hul geregtigheid red.
21 Want so sê die Here HERE: Hoeveel te meer as Ek my vier kwaai gerigte, swaard en hongersnood en wilde diere en pes, op Jerusalem afstuur om daaruit mens en dier uit te roei!
22 Maar kyk, daarin sal oorbly wat ontvlug, wat uitgebring word, seuns en dogters; kyk, hulle kom uit na julle toe, dat julle hulle weg en hulle handelinge kan sien, en julle getroos kan word oor die onheil wat Ek oor Jerusalem gebring het, oor alles wat Ek daaroor gebring het.
23 Ja hulle sal julle troos as julle hulle weg en hulle handelinge sien; en julle sal weet dat Ek nie tevergeefs alles gedoen het wat Ek daarin gedoen het nie, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 15

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, wat is die hout van die wingerdstok meer as al die hout—die wingerdrank wat onder die hout van die bos is?
3 Word daar hout van geneem om vir ‘n stuk werk te gebruik? Of neem ‘n mens daar ‘n pen van om allerhande goed aan op te hang?
4 Kyk, dit is aan die vuur oorgegee om verteer te word; as die vuur sy twee ente verteer het en sy middelste stuk geskroei is, sal dit deug vir ‘n stuk werk?
5 Kyk, toe dit heel was, kon daar niks van gemaak word nie; hoeveel minder, as die vuur dit verteer het en dit geskroei is, sal daar dan nog iets van gemaak kan word.
6 Daarom, so sê die Here HERE: Soos die hout van die wingerdstok is onder die hout van die bos, wat Ek aan die vuur oorgegee het om verteer te word, so het Ek die inwoners van Jerusalem oorgegee:
7 Ek sal my aangesig teen hulle rig: uit die vuur het hulle voortgekom, en die vuur sal hulle verteer; en julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek my aangesig teen hulle rig
8 en die land ‘n wildernis maak, omdat hulle troubreuk begaan het, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 16

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, maak aan Jerusalem sy gruwels bekend
3 en sê: So spreek die Here HERE tot Jerusalem: Jou afkoms en jou geboorte is uit die land van die Kanaäniete; jou vader was ‘n Amoriet en jou moeder ‘n Hetitiese vrou.
4 En wat jou geboorte aangaan—die dag toe jy gebore is, is jou nawelstring nie afgesny nie; en jy is nie met water gewas om jou te reinig nie; ook is jy nie met sout ingevrywe of in doeke toegedraai nie.
5 Geen oog het medelyde met jou gehad om vir jou een van hierdie dinge te doen, om vir jou jammer te wees nie; maar jy is op die oop veld gegooi uit afsku vir jou lewe, die dag toe jy gebore is.
6 En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!
7 Ontelbaar, soos die uitspruitsels van die veld, het Ek jou gemaak! En jy het gegroei en groot geword en die hoogste bloei bereik; jou borste het styf geword, en jou hare het gegroei, maar jy was naak en bloot.
8 En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou ‘n verbond aangegaan, spreek die Here HERE, en jy het myne geword.
9 Daarop het Ek jou met water gewas en jou bloed van jou afgespoel en jou met olie gesalf.
10 Ook het Ek jou beklee met veelkleurige klere en vir jou skoene van robbevel gemaak, en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy.
11 Verder het Ek jou met sierade versier en armbande aan jou hande gesit en ‘n ketting om jou hals.
12 En Ek het ‘n ring aan jou neus gesit en oorringe aan jou ore en ‘n pragtige kroon op jou hoof.
13 Ja, jy het jou versier met goud en silwer, en jou klere was fyn linne en sy en veelkleurige stowwe; jy het fynmeel en heuning en olie geëet, en jy was buitengewoon mooi en so voorspoedig dat jy koninklike waardigheid bereik het.
14 Daarby het daar ‘n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here HERE.
15 Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam; en jy het jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het, dat dit syne sou wees.
16 En jy het van jou klere geneem en vir jou kleurige hoogtes gemaak en op hulle gehoereer—dinge wat nie voorgekom het nie en nie moet wees nie.
17 Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer.
18 En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit.
19 En my brood wat Ek jou gegee het—fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gespysig het—dit het jy voor hulle neergesit as ‘n lieflike reuk; ja, so was dit, spreek die Here HERE.
20 Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dié aan hulle geoffer om verteer te word. Was dit nie genoeg met jou hoererye nie,
21 dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle vir hulle deur die vuur laat gaan het?
22 Ook het jy by al jou gruwels en jou hoererye nie gedink aan die dae van jou jeug nie, toe jy naak en bloot was en gelê en spartel het in jou bloed.
23 En ná al jou boosheid—wee, wee jou! spreek die Here HERE—
24 het jy vir jou ‘n verwulf gebou en vir jou ‘n hoogte gemaak op elke plein;
25 by elke uitdraaiplek het jy jou hoogte gebou en jou skoonheid geskend en jou sonder skaamte aangebied aan elkeen wat verbygaan, en jy het jou hoererye vermenigvuldig.
26 Jy het ook gehoereer met die kinders van Egipte, jou baie sinlike nabure; en jy het jou hoerery vermenigvuldig om My te terg.
27 En kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek en die vir jou bestemde deel verminder; en Ek het jou oorgegee aan die hebsug van die wat jou haat, die dogters van die Filistyne wat hulle geskaam het oor jou ontugtige wandel.
28 Verder het jy gehoereer met die kinders van Assur, omdat jy nie bevredig was nie; ja, jy het met hulle gehoereer en is tog nie bevredig nie.
29 En jy het jou hoerery vermenigvuldig na die koopmansland, na Chaldéa; en ook daarmee is jy nie bevredig nie.
30 Hoe smagtend is jou hart, spreek die Here HERE, dat jy al hierdie dinge gedoen het, die werk van ‘n onbeskaamde hoer;
31 dat jy jou verwulf by elke uitdraaiplek gebou en jou hoogte op elke plein gemaak het! Maar jy was nie eens soos ‘n hoer nie, deurdat jy hoereloon gering geag het.
32 o Die vrou wat owerspel bedrywe! Terwyl sy onder haar man staan, het sy vreemdes aangeneem.
33 Hulle gee geskenke aan al die hoere, maar jy het jou geskenke aan al jou minnaars gegee en hulle gifte aangebied om van alle kante na jou te kom in jou hoererye.
34 So was daar dan by jou in jou hoererye net die teendeel van die vroue, omdat hulle jou nie agternageloop het om te hoereer nie, en deurdat jy hoereloon gegee het terwyl aan jou geen hoereloon gegee is nie; daarom was jy die teendeel.
35 Daarom, o hoer, hoor die woord van die HERE.
36 So sê die Here HERE: Omdat jou koper uitgestort is en jou skaamte ontbloot is deur jou hoererye met jou minnaars en met al jou afskuwelike drekgode, en vanweë die bloed van jou kinders wat jy aan hulle gegee het,
37 daarom, kyk, Ek sal al jou minnaars versamel vir wie jy aangenaam was, en almal wat jy liefgehad het, saam met almal wat jy gehaat het; en Ek sal hulle van alle kante teen jou versamel en jou naaktheid vir hulle ontbloot, sodat hulle jou hele naaktheid kan sien.
38 En Ek sal jou oordeel volgens die verordeninge van vroue wat owerspel bedrywe en bloed vergiet, en sal jou oorgee aan die bloedige dood van grimmigheid en naywer.
39 En Ek sal jou in hulle hand oorgee, en hulle sal jou verwulf afbreek en jou hoogtes omgooi en jou jou klere uittrek en jou versiersels wegneem en jou naak en bloot laat staan.
40 Dan sal hulle teen jou ‘n menigte laat optrek en jou stenig en jou met hulle swaarde stukkend kap.
41 Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand en strafgerigte teen jou oefen voor die oë van baie vroue; en Ek sal ‘n einde aan jou hoerery maak, en jy sal ook nie meer hoereloon gee nie.
42 En Ek sal my grimmigheid tot rus bring teen jou—dan sal my ywer van jou afwyk, en Ek sal stil word en nie meer toornig wees nie.
43 Omdat jy nie gedink het aan die dae van jou jeug nie en my toorn opgewek het met al hierdie dinge—kyk, so sal Ek dan ook jou wandel op jou hoof laat neerkom, spreek die Here HERE; en het jy dan nie die skandelike daad gedoen bo al jou gruwels nie?
44 Kyk, elkeen wat spreekwoorde maak, sal ‘n spreuk op jou toepas, naamlik: Soos die moeder, so haar dogter.
45 Jy is die dogter van jou moeder, wat ‘n afsku gehad het van haar man en haar kinders; en jy is die suster van jou susters, wat ‘n afsku gehad het van hulle mans en hulle kinders: julle moeder was ‘n Hetitiese vrou, en julle vader ‘n Amoriet.
46 En jou groot suster is Samaría, sy met haar dogters wat woon aan jou linkerkant; maar jou suster wat kleiner as jy is, wat aan jou regterkant woon, is Sodom met haar dogters.
47 Maar jy het nie gewandel in hulle weë en nie gehandel volgens hulle gruwels nie; net ‘n kort rukkie—en jy het verderfliker gehandel as hulle in al jou weë.
48 So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, jou suster Sodom, sy met haar dogters, het nie gehandel soos jy gehandel het, jy met jou dogters nie.
49 Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie.
50 En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim.
51 Samaría het ook nie die helfte van jou sondes gedoen nie: jy het gruwels vermenigvuldig, meer as hulle, en jy het jou susters geregverdig deur al jou gruwels wat jy gedoen het.
52 Dra dan ook jou skande, jy wat vir jou susters ingetree het: deur jou sondes wat jy gruweliker gemaak het as hulle, is hulle regverdiger as jy. Skaam jou dan ook, en dra jou skande, omdat jy jou susters geregverdig het.
53 En Ek sal hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters, en die lot van Samaría en haar dogters; en Ek sal jou lot verander tussen dié twee in;
54 dat jy jou skande kan dra en jou kan skaam oor alles wat jy gedoen het deur hulle te troos.
55 En jou susters, Sodom met haar dogters, sal na hulle vorige toestand terugkeer; en Samaría met haar dogters sal na hulle vorige toestand terugkeer; en jy met jou dogters sal na julle vorige toestand terugkeer.
56 Ja, die naam van jou suster Sodom is in jou mond nie gehoor in die dag van jou trotsheid nie,
57 voordat jou boosheid geopenbaar is, soos in die tyd van versmading deur die dogters van Aram en deur almal wat daar rondom was—die dogters van die Filistyne—wat jou van alle kante verag het.
58 Jou skandelike daad en jou gruwels moet jy dra, spreek die Here HERE.
59 Want so sê die Here HERE: Ja, Ek doen aan jou soos jy gedoen het, wat die eedswering geminag het deur die verbond te verbreek.
60 Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug, en Ek sal met jou ‘n ewige verbond oprig.
61 Dan sal jy aan jou weë dink en skaam wees, as jy jou susters aanneem wat groter is as jy, by dié wat kleiner is as jy, en Ek hulle aan jou as dogters gee; al is dit nie kragtens die verbond met jou nie.
62 En Ek sal my verbond met jou oprig, en jy sal weet dat Ek die HERE is;
63 sodat jy kan nadink en beskaamd staan en jou mond nie meer oopmaak vanweë jou skande nie, as Ek vir jou versoening sal bewerk oor alles wat jy gedoen het, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 17

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, gee ‘n raaisel op aan die huis van Israel en dra ‘n gelykenis voor
3 en sê: So spreek die Here HERE: Die groot arend met groot vleuels, met lang vlerke, vol vere wat veelkleurig was, het na die Líbanon gekom en die top van die seder weggeneem.
4 Hy het die boonste van sy jong takkies afgepluk en dit na die koopmansland gebring; hy het dit neergesit in die stad van koopmans.
5 Hy het ook van die saad van die land geneem en dit in ‘n saailand geplant; hy het dit na baie waters weggeneem, dit as oewergewas geplant.
6 En dit het uitgespruit en ‘n breë wingerdstok geword, laag van groei, sodat sy ranke na die arend kon draai en sy wortels onder hóm kon wees. So het dit dan ‘n wingerdstok geword, en dit het lote gemaak en lootjies uitgeskiet.
7 En daar was nog ‘n groot arend met groot vleuels en baie vere; en kyk, hierdie wingerdstok het sy wortels na hóm toe gebuig en sy ranke na hom toe uitgeskiet uit die beddings waar dit geplant was, dat hy dit sou bevogtig.
8 Dit was in ‘n goeie land by baie waters geplant om ranke te maak en vrugte te dra, om ‘n pragtige wingerdstok te word.
9 Sê: So spreek die Here HERE: Sal dit voorspoedig wees? Sal hy nie die wortels daarvan uitruk en die vrugte daarvan afsny, sodat dit verdroog, ja, verdroog in al sy uitgespruite blaartjies nie? En dit nie deur ‘n magtige arm en baie mense om dit van sy wortels af uit te lig nie.
10 Ja, kyk, dit is geplant—sal dit voorspoedig wees? Sal dit nie heeltemal verdroog as die oostewind hom aanraak, verdroog op die beddings waar dit uitgespruit het nie?
11 Daarna het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
12 Spreek tog met die wederstrewige huis: Weet julle nie wat hierdie dinge beteken nie? Sê: Kyk, die koning van Babel het na Jerusalem gekom en sy koning en sy vorste weggeneem en hulle na hom toe, na Babel gebring.
13 Toe het hy een uit die koninklike geslag geneem en met hom ‘n verbond gesluit en hom ‘n eed opgelê, maar die magtiges van die land het hy weggeneem;
14 sodat die koninkryk van geringe betekenis sou wees en hom nie sou verhef nie, maar dat dit, deur sy verbond te onderhou, in stand kon bly.
15 Maar hy het teen hom in opstand gekom deur sy gesante na Egipte te stuur, dat hulle hom perde en baie manskappe sou gee. Sal hy voorspoedig wees? Sal hy ontvlug wat sulke dinge doen? Sal hy die verbond verbreek en tog ontvlug?
16 So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, in die plek waar die koning woon wat hom koning gemaak het, wie se eed hy geminag en wie se verbond hy verbreek het, by hom, binne-in Babel, sal hy sterwe.
17 Ook sal Farao nie met hom saamspan in die oorlog met ‘n groot leër en met baie mense nie, as hulle ‘n wal opwerp en forte bou om baie siele uit te roei.
18 Want hy het die eed geminag deur die verbond te verbreek; en kyk, hy het sy hand gegee en tog al hierdie dinge gedoen; hy sal nie ontvlug nie.
19 Daarom, so sê die Here HERE: So waar as Ek leef, Ek sal gewis my eed wat hy geminag het, en my verbond wat hy verbreek het, op sy hoof laat neerkom.
20 En Ek sal my net oor hom uitsprei, en in my strik sal hy gevang word; en Ek sal hom na Babel bring en daar met hom na die gereg gaan, weens die troubreuk wat hy teen My begaan het.
21 En al sy vlugtelinge in al sy leërs sal deur die swaard val, en die wat oorgebly het, sal na al die windstreke verstrooi word; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek het.
22 So sê die Here HERE: Dan sal Ek self van die verhewe top van die seder ‘n steggie neem en dit insit—van die boonste van sy lootjies sal Ek ‘n teer puntjie afpluk en self dit plant op ‘n hoë en verhewe berg.
23 Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal takke voortbring en vrugte dra en ‘n heerlike seder word, sodat al die voëls van allerhande vere daaronder kan woon; in die skaduwee van sy takke sal hulle woon.
24 En al die bome van die veld sal weet dat Ek, die HERE, die hoë boom verneder, die nederige boom verhoog het; die groen boom laat verdroog en die droë boom laat bloei het. Ek, die HERE, het dit gespreek en gedoen.




Hoofstuk 18

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik aangaande die land van Israel, naamlik: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword?
3 So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, dit sal julle nie meer in die gedagte kom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie.
4 Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.
5 Maar as iemand regverdig is en reg en geregtigheid doen;
6 nie eet op die berge en sy oë nie opslaan na die drekgode van die huis van Israel en die vrou van sy naaste nie verontreinig en nie naby ‘n vrou kom as sy onrein is nie,
7 en niemand verdruk nie; wat hy vir skuld as pand geneem het, teruggee; geen roof pleeg nie; aan die wat honger het, sy brood gee en die wat naak is, met ‘n kleed toedek;
8 nie leen op rente en geen woeker neem nie; sy hand terughou van onreg, eerlike regspraak oefen tussen man en man;
9 in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou om eerlik te handel—hy is regverdig, hy sal sekerlik lewe, spreek die Here HERE.
10 En het hy ‘n geweldenaar van ‘n seun verwek wat bloed vergiet en net maar een van hierdie dinge doen—
11 terwyl hy self dit alles nie gedoen het nie—as hy ook eet op die berge en die vrou van sy naaste verontreinig,
12 die ellendige en behoeftige verdruk, roof pleeg, die pand nie teruggee nie en sy oë opslaan na die drekgode, gruwelike dinge doen,
13 op rente leen en woeker neem—sal hy lewe? Hy sal nie lewe nie; al hierdie gruwels het hy gedoen; hy moet sekerlik gedood word; sy bloedskuld is op hom.
14 Maar kyk, as hy ‘n seun verwek wat al die sondes van sy vader sien wat hy gedoen het—dit sien en sulke dinge nie doen nie:
15 nie eet op die berge en sy oë nie opslaan na die drekgode van die huis van Israel nie, die vrou van sy naaste nie verontreinig
16 en niemand verdruk nie, geen pand neem en geen roof pleeg nie, sy brood gee aan die wat honger het, en met ‘n kleed toedek die wat naak is,
17 sy hand van die ellendige afhou, geen rente of woeker neem nie, my verordeninge volbring en in my insettinge wandel—hy sal nie sterwe weens die ongeregtigheid van sy vader nie, hy sal sekerlik lewe.
18 Sy vader sal, omdat hy aan verdrukking skuldig is, sy broer iets deur roof ontneem het en onder sy stamgenote gedoen het wat nie goed is nie—kyk, hy sal deur sy ongeregtigheid sterwe.
19 Maar julle sê: Waarom dra die seun nie saam die ongeregtigheid van die vader nie? Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring—hy sal sekerlik lewe!
20 Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.
21 Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.
22 Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe.
23 Het Ek dan miskien ‘n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?
24 Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen—sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe.
25 Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Hoor tog, o huis van Israel! Is my weg nie reg nie? Is júlle weë nie onreg nie?
26 As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sterf hy ten gevolge daarvan; deur sy onreg wat hy gedoen het, sterf hy.
27 En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid wat hy gedoen het, en reg en geregtigheid doen—hy sal sy siel in die lewe behou;
28 hy het dit ingesien en hom bekeer van al sy oortredinge wat hy begaan het; hy sal sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.
29 Tog sê die huis van Israel: Die weg van die Here is nie reg nie. Is my weë nie reg nie, o huis van Israel? Is júlle weë nie onreg nie?
30 Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here HERE. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ‘n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie.
31 Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?
32 Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.




Hoofstuk 19

1 Verder, hef jy ‘n klaaglied aan oor die vorste van Israel,
2 en sê: Wat was jou moeder? ‘n Leeuin: tussen die leeus het sy gelê, onder die jong leeus het sy haar kleintjies grootgemaak.
3 En sy het een van haar kleintjies opgekweek, ‘n jong leeu het hy geword; en hy het geleer om prooi te verskeur, hy het mense geëet.
4 En die nasies het van hom gehoor; in hulle vangkuil is hy gevang, en hulle het hom met hake na Egipteland gebring.
5 En toe sy sien dat sy teleurgestel is, haar hoop verlore, het sy ‘n ander een van haar kleintjies geneem, hom ‘n jong leeu gemaak.
6 En hy het rondgeloop onder die leeus, het ‘n jong leeu geword en geleer om prooi te verskeur; hy het mense geëet.
7 Hy het hulle weduwees beken en hulle stede verwoes; ja, die land en sy volheid was verskrik vanweë die geluid van sy gebrul.
8 Toe het die nasies rondom uit die lande hulle teen hom opgestel en hul net oor hom uitgesprei; in hulle vangkuil is hy gevang.
9 En hulle het hom in ‘n hok gesit aan hake en hom na die koning van Babel gebring; hulle het hom in vestings gebring, dat sy stem nie meer gehoor sou word op die berge van Israel nie.
10 Jou moeder was soos ‘n wingerdstok in jou rustige tyd; by waters was dit geplant; dit was vrugbaar en vol ranke vanweë die baie waters.
11 En dit het sterk takke gekry om as septers vir heersers te dien, en sy top was hoog tussen die digte takke in; en dit het hom vertoon in sy hoogte, in die menigte van sy ranke.
12 Maar dit is in grimmigheid uitgeruk, teen die grond gegooi, en die oostewind het sy vrugte laat verdroog; hulle is afgeruk en het verdroog; sy sterk tak—die vuur het dit verteer.
13 En nou is dit geplant in die woestyn, in ‘n dor en dorstige land.
14 En vuur het uitgegaan uit sy tak vol lote, dit het sy vrugte verteer; en geen sterk tak is daarin as septer om te heers nie. ‘n Klaaglied is dit, en ‘n klaaglied het dit geword.




Hoofstuk 20

1 En in die sewende jaar, in die vyfde maand, op die tiende van die maand, het daar manne uit die oudstes van Israel gekom om die HERE te raadpleeg; en hulle het voor my gaan sit.
2 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
3 Mensekind, spreek met die oudstes van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kom julle om My te raadpleeg? So waar as Ek leef, gewis, Ek laat my deur julle nie raadpleeg nie, spreek die Here HERE.
4 Wil jy hulle oordeel, wil jy oordeel, mensekind? Maak hulle dan die gruwels van hulle vaders bekend,
5 en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Die dag toe Ek Israel uitverkies het, het Ek my hand opgehef vir die geslag van die huis van Jakob en My aan hulle bekend gemaak in Egipteland; ja, Ek het my hand vir hulle opgehef en gesê: Ek is die HERE julle God.
6 Op dié dag het Ek my hand vir hulle opgehef, om hulle uit Egipteland uit te lei na ‘n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, wat oorloop van melk en heuning—’n sieraad is dit van al die lande.
7 En Ek het aan hulle gesê: Gooi weg, elkeen die verfoeisels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie: Ek is die HERE julle God.
8 Maar hulle was wederstrewig teen My en wou na My nie luister nie; niemand het die verfoeisels van sy oë weggegooi of die drekgode van Egipte laat staan nie. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in Egipteland.
9 Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle gewees het nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Egipteland uit te lei.
10 En Ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die woestyn gebring.
11 En Ek het hulle my insettinge gegee en my verordeninge aan hulle bekend gemaak, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe.
12 Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ‘n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat hulle heilig.
13 Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie en my verordeninge verwerp, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.
14 Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.
15 So het Ek dan ook my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek aan hulle gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning—’n sieraad is dit van al die lande;
16 omdat hulle my verordeninge verwerp het en in my insettinge nie gewandel het nie en my sabbatte ontheilig het; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop.
17 Maar my oog het hulle verskoon, sodat Ek hulle nie verdelg het nie en geen einde aan hulle gemaak het in die woestyn nie.
18 Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie en onderhou nie hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie.
19 Ek is die HERE julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit.
20 En heilig my sabbatte; en hulle sal ‘n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is.
21 Maar die kinders was wederstrewig teen My: hulle het nie gewandel in my insettinge en my verordeninge nie onderhou om dit te doen nie—wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; hulle het my sabbatte ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn te laat uitwoed teen hulle in die woestyn.
22 Maar Ek het my hand teruggetrek en gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.
23 Tog het Ék my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle sal versprei onder die nasies en hulle sal verstrooi in die lande;
24 omdat hulle my verordeninge nie gehou het nie, maar my insettinge verwerp het en my sabbatte ontheilig het en hulle oë agter die drekgode van hulle vaders aan was.
25 So het Ék dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie.
26 En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die HERE is.
27 Daarom, mensekind, spreek met die huis van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Verder het julle vaders My in hierdie saak smaadheid aangedoen, dat hulle troubreuk teen My begaan het:
28 toe Ek hulle in die land gebring het waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee, het hulle uitgekyk na al die hoë heuwels en al die digte bome, en hulle het daar hul offers geslag en daar hul aanstootlike offergawe gegee en daar hul lieflike offergeur gebring en daar hul drankoffers uitgegiet.
29 Toe het Ek aan hulle gesê: Wat is dit vir ‘n hoogte waarheen julle gaan? En hulle het dit Hoogte genoem tot vandag toe.
30 Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Wat? Julle is verontreinig in die weg van julle vaders, en julle hoereer agter hulle verfoeisels aan;
31 ja, deur die aanbieding van julle offergawes, deur julle seuns deur die vuur te laat gaan, is julle verontreinig met al jul drekgode tot vandag toe—en sou Ek My deur julle laat raadpleeg, o huis van Israel? So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek laat My deur julle nie raadpleeg nie!
32 En wat in julle gees opgeklim het, sal sekerlik nie gebeur nie—dat julle sê: Ons wil soos die nasies, soos die geslagte van die lande wees, deur hout en klip te dien.
33 So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal gewis met ‘n sterke hand en met ‘n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid oor julle regeer.
34 En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur ‘n sterke hand en deur ‘n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid.
35 En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig.
36 Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE.
37 En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond.
38 En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
39 Maar julle, o huis van Israel, so sê die Here HERE: Gaan weg en dien elkeen sy drekgode; maar hierná—sekerlik sal julle na My luister en my heilige Naam nie meer ontheilig met julle offergawes en julle drekgode nie.
40 Want op my heilige berg, op die verhewe berg van Israel, spreek die Here HERE, daar sal die hele huis van Israel, hulle almal, My dien in die land; daar sal Ek ‘n behae in hulle hê en daar sal Ek julle offergawes eis en die eerstelinge van julle aanbiedinge by al julle heilige gawes.
41 As ‘n lieflike geur sal Ek ‘n behae in julle hê wanneer Ek julle uit die volke uitlei en julle uit die lande versamel waarin julle verstrooi was, en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies.
42 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle in die land van Israel bring, in die land waar Ek my hand oor opgehef het om dit aan julle vaders te gee.
43 Daar sal julle dan dink aan julle weë en al julle handelinge waarmee julle jul verontreinig het, en julle sal vir julself walglik wees vanweë al jul slegte dinge wat julle gedoen het.
44 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek met julle handel ter wille van my Naam en nie volgens julle verkeerde weë of julle verdorwe handelinge nie, o huis van Israel, spreek die Here HERE.
45 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
46 Mensekind, rig jou aangesig na die suide en laat jou rede druppel teen die suide en profeteer teen die bosveld, die Suidland,
47 en sê aan die bos van die Suidland: Hoor die woord van die HERE: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek steek ‘n vuur in jou aan wat in jou elke groen boom en elke droë boom sal verteer; die uitslaande vlam sal nie uitgeblus word nie, maar daardeur sal alle aangesigte verbrand word van die Suidland af tot die noorde toe;
48 en alle vlees sal sien dat Ek, die HERE, dit aangesteek het; dit sal nie uitgeblus word nie.
49 Toe sê ek: Ag, Here HERE, hulle sê vir my: Spreek hy nie altyd in gelykenisse nie?




Hoofstuk 21

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, rig jou aangesig teen Jerusalem en laat jou rede druppel teen die heiligdomme en profeteer teen die land van Israel;
3 en sê aan die land van Israel: So spreek die HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, en Ek sal my swaard uit sy skede trek en uit jou uitroei die regverdige en die goddelose.
4 Omdat Ek uit jou uitroei die regverdige en die goddelose, daarom sal my swaard uit sy skede uitgaan teen alle vlees, van die suide tot die noorde.
5 En alle vlees sal weet dat Ek, die HERE, my swaard uit sy skede getrek het; dit sal nie meer daarin terugkeer nie.
6 Maar jy, o mensekind, sug; sug voor hulle oë met verbreking van lendene en bitterheid.
7 En as hulle vir jou sê: Waarom sug jy? dan moet jy antwoord: Oor die tyding, want dit kom; en elke hart sal versmelt, en al die hande sal slap word en elke gees sal verstomp en al die knieë sal wegvloei soos water. Kyk, dit kom, en dit sal gebeur, spreek die Here HERE.
8 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
9 Mensekind, profeteer en sê: So spreek die HERE. Sê: ‘n Swaard, ‘n swaard is skerpgemaak en ook geskuur;
10 om ‘n slagting aan te rig, is dit skerpgemaak, om soos weerlig te wees, is dit geskuur. (Of moet ons bly wees deur te sê: Die septer van my seun verag elke hout?)
11 En Hy het dit gegee om te skuur, dat hulle dit in die hand kan vat; dit is skerpgemaak, die swaard, en dit is geskuur om dit in die hand te gee van hom wat doodslaan.
12 Skreeu en huil, mensekind; want dit gaan teen my volk, dit gaan teen al die vorste van Israel: aan die swaard is hulle oorgelewer saam met my volk; daarom, slaan op die heup.
13 Want die proef is gemaak—en hoe dan as ook die septer wat verag, daar nie meer sal wees nie? spreek die Here HERE.
14 En jy, mensekind, profeteer en slaan hand teen hand, sodat die swaard verdubbel word, tot drievoudig toe, ‘n moordende swaard is dit, ‘n moorddadige swaard, die grote, wat hulle omsweef.
15 Ek het die slagbank van die swaard opgestel teen al hulle poorte, dat die hart kan smelt en die struikelblokke baie kan wees. Ag, dit is gemaak tot ‘n weerligstraal, dit is glad gemaak om te slag.
16 Bly aanmekaar, o swaard! Gaan regs, maak ‘n aanval, gaan links, waarheen jou snykant ook al gerig is.
17 So sal Ek dan ook my hand teen my hand slaan en my grimmigheid tot rus bring; Ek, die HERE, het dit gespreek.
18 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
19 En jy, mensekind, maak vir jou twee paaie waarlangs die swaard van die koning van Babel kan kom; uit een land moet altwee uitgaan; en sny ‘n wegwyser uit; sny dit uit by die begin van die pad na ‘n stad;
20 jy moet ‘n pad maak, dat die swaard kan kom na Rabba, van die kinders van Ammon, en na Juda, in die versterkte stad Jerusalem.
21 Want die koning van Babel gaan staan waar die paaie uitmekaarloop, by die begin van die twee paaie, om van waarsêery gebruik te maak: hy skud die pyle, raadpleeg die huisgode, bekyk die lewer.
22 In sy regterhand is die lot: Jerusalem, om stormramme op te stel, om die mond met geskreeu oop te maak, om die stem te verhef met krygsgeroep, om stormramme op te stel teen die poorte, om ‘n wal op te werp, om forte te bou.
23 Maar dit is vir hulle soos ‘n bedrieglike waarsêery in hul oë (die plegtigste eedsweringe tog is hulle s’n!); maar hy bring die ongeregtigheid in herinnering, dat hulle gegryp kan word.
24 Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle jul ongeregtigheid in herinnering bring deurdat julle oortredinge openbaar word, sodat julle sondes in al jul handelinge gesien word—omdat julle in herinnering gebring is, sal julle met die hand gegryp word.
25 En jy, onheilige, goddelose, vors van Israel, wie se dag gekom het in die tyd van die uiteindelike afrekening—
26 so sê die Here HERE: Die tulband moet weg, en die kroon moet af! Dit bly nie so nie: Na bo met wat nederig is! Na onder met wat hoog is!
27 Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook dit sal nie bly nie—totdat Hy kom wat daarop reg het, en aan Hom sal Ek dit gee.
28 En jy, mensekind, profeteer en sê: So spreek die Here HERE aangaande die kinders van Ammon en hulle smaadrede; en jy moet sê: ‘n Swaard, ‘n swaard is getrek om te slag; dit is geskuur tot die uiterste toe om soos ‘n weerligstraal te wees—
29 onderwyl hulle vir jou, o swaard, ‘n bedrieglike gesig sien, onderwyl hulle vir jou leuens voorspel—dat jy gesit sou word op die nekke van goddelose wat onheilig is, wie se dag gekom het in die tyd van uiteindelike afrekening!
30 Steek dit weer in die skede. In die plek waar jy geskape is, in die land van jou oorsprong, sal Ek jou oordeel.
31 En Ek sal oor jou my toorn uitgiet; Ek sal op jou blaas met die vuur van my grimmigheid en jou oorgee in die hand van barbare, mense wat verderf smee.
32 Voedsel sal jy wees vir die vuur; jou bloed sal binne-in die land wees; aan jou sal nie meer gedink word nie; want Ek, die HERE, het dit gespreek.




Hoofstuk 22

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 En jy, mensekind, wil jy oordeel, wil jy oordeel die bloedstad? Maak hom dan al sy gruwels bekend
3 en sê: So spreek die Here HERE: Stad wat daarbinne bloed vergiet, dat sy tyd kan kom, en drekgode teen homself maak, om hom te verontreinig!
4 Deur die bloed wat jy vergiet het, het jy skuldig geword; en deur jou drekgode wat jy gemaak het, is jy verontreinig; en jy het jou dae verhaas en tot by jou jare gekom. Daarom maak Ek jou tot ‘n smaad vir die nasies en ‘n spot vir al die lande.
5 Die wat naby en die wat ver van jou af is, sal jou bespot, o onreine van naam, vol van rumoer!
6 Kyk, die vorste van Israel was in jou, elkeen na sy krag, om bloed te vergiet.
7 Hulle het vader en moeder in jou verag, die vreemdeling in jou met geweld behandel, wees en weduwee in jou verdruk.
8 My heilige dinge het jy geminag en my sabbatte ontheilig.
9 Kwaadsprekers was daar in jou om bloed te vergiet, en by jou het hulle op die berge geëet en skandelikheid in jou gedoen.
10 Hulle het die skaamte van die vader in jou ontbloot; haar wat onrein was deur maandelikse onreinheid, het hulle in jou onteer.
11 Die een het ‘n gruwelike ding gedoen met die vrou van sy naaste, en die ander het sy skoondogter verontreinig deur ‘n skandelike daad, en ‘n derde het in jou sy suster, sy vader se dogter, onteer.
12 Hulle het omkoopgeskenke in jou aangeneem om bloed te vergiet; rente en woeker het jy geneem en jou naaste te veel laat betaal deur verdrukking, maar My het jy vergeet, spreek die Here HERE.
13 Kyk, so slaan Ek dan in my hand oor jou onregverdige wins wat jy gemaak het, en oor jou bloedskuld wat in jou is.
14 Sal jou hart standhou of jou hande sterk wees in die dae as Ek met jou handel? Ek, die HERE, het dit gespreek en sal dit doen.
15 En Ek sal jou verstrooi onder die nasies en jou versprei in die lande, en Ek sal jou onreinheid uit jou wegruim.
16 En jy sal deur jouself ontheilig wees voor die oë van die nasies; en jy sal weet dat Ek die HERE is.
17 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
18 Mensekind, die huis van Israel het vir My skuim geword; hulle is almal koper en tin en yster en lood binne die smeltoond; silwerskuim het hulle geword.
19 Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak.
20 Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt.
21 Ja, Ek sal julle versamel en met die vuur van my grimmigheid teen julle blaas, dat julle dáárin gesmelt kan word.
22 Soos silwer in die smeltoond gesmelt word, so sal julle dáárin gesmelt word; en julle sal weet dat Ek, die HERE, my grimmigheid oor julle uitgegiet het.
23 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
24 Mensekind, sê vir hom: Jy is ‘n land wat nie gereinig is nie, wat nie reën gekry het in die dag van grimmigheid nie.
25 ‘n Sameswering van sy profete is in hom, soos ‘n leeu wat brul, wat prooi verskeur; hulle eet die siele op; skatte en kosbare dinge neem hulle weg; die weduwees vermeerder hulle daarin.
26 Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge; tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie; daarby maak hulle hul oë toe vir my sabbatte; ja, Ek word onder hulle ontheilig.
27 Sy vorste is in hom soos wolwe wat prooi verskeur, om bloed te vergiet en siele om te bring, dat hulle onregverdige wins kan maak.
28 En sy profete pleister vir hulle met los kalk deur bedrieglike gesigte te sien en vir hulle leuens te voorspel met die woorde: So sê die Here HERE—terwyl die HERE nie gespreek het nie.
29 Die mense van die land pleeg geweld en eien hulle geroofde goed toe; ook verdruk hulle die ellendige en behoeftige, en teenoor die vreemdeling pleeg hulle geweld sonder reg.
30 En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.
31 Daarom het Ek my toorn oor hulle uitgegiet; deur die vuur van my grimmigheid het Ek hulle verteer; hulle wandel het Ek op hulle hoof laat neerkom, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 23

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, daar was twee vroue, dogters van een moeder.
3 En hulle het in Egipte gehoereer; in hul jeug het hulle gehoereer; daar is hul borste betas, en daar is hul maagdelike boesem gedruk.
4 En hulle name was: Ohóla, die grootste, en Ohóliba, haar suster; en hulle het myne geword en seuns en dogters gebaar. En wat hulle name betref: Samaría is Ohóla en Jerusalem Ohóliba.
5 En Ohóla het gehoereer terwyl sy my vrou was, en het gesmag na haar minnaars, na die Assiriërs, krygshaftige mense
6 wat pers aangetrek was, goewerneurs en owerstes, almal begeerlike jongmanne, ruiters te perd.
7 En sy het haar hoererye aan hulle weggegee, hulle almal, die beste uit die kinders van Assur; en met almal na wie sy gesmag het—met al hulle drekgode het sy haar verontreinig.
8 So het sy dan haar hoererye, uit Egipte afkomstig, nie laat staan nie; want hulle het in haar jeug met haar gemeenskap gehad en hulle het haar maagdelike boesem gedruk en hul hoerery oor haar uitgestort.
9 Daarom het Ek haar oorgegee in die hand van haar minnaars, in die hand van die kinders van Assur na wie sy gesmag het.
10 Hulle het haar skaamte ontbloot, haar seuns en haar dogters weggeneem; maar haar het hulle met die swaard gedood, sodat sy ‘n waarskuwende voorbeeld onder die vroue geword het, en hulle het strafgerigte aan haar voltrek.
11 Alhoewel haar suster Ohóliba dit gesien het, het sy dit tog met haar verliefdheid erger gemaak as sy, en met haar hoererye nog erger as haar suster.
12 Sy het gesmag na die seuns van Assur, goewerneurs en owerstes, krygshaftige mense, pragtig aangetrek, ruiters te perd, almal begeerlike jongmanne.
13 Toe het Ek gesien dat sy verontreinig was: altwee het dieselfde weg bewandel.
14 Ja, sy het nog meer gehoereer; toe sy manne sien wat op die muur afgeteken was, afbeeldinge van die Chaldeërs, geteken met rooiminie;
15 omgord met ‘n gordel aan hulle heupe, met oorhangende tulbande op hulle hoofde, in hulle voorkoms almal offisiere, in die gestalte van die seuns van Babel wie se geboorteland Chaldéa is—
16 net toe sy hulle sien, het sy na hulle gesmag en boodskappers na hulle gestuur, na Chaldéa toe.
17 Daarop kom die kinders van Babel by haar, na die bed van liefde, en verontreinig haar met hulle hoerery, en sy het onrein geword deur hulle; daarna het haar siel van hulle vervreemd geraak.
18 En toe sy haar hoererye geopenbaar en haar skaamte ontbloot het, het my siel van haar vervreemd geraak, soos my siel vervreemd geraak het van haar suster.
19 Ja, sy het haar hoererye baie gemaak deur te dink aan die dae van haar jeug toe sy ‘n hoer was in Egipteland.
20 En sy het gesmag na hulle wellustelinge, wat sinlik soos esels en onstuimig van drif was soos perde.
21 En jy het na die skandelike daad van jou jeug verlang, toe dié van Egipte jou boesem gedruk het om jou jeugdige borste ontwil.
22 Daarom, o Ohóliba, so sê die Here HERE: Kyk, Ek verwek jou minnaars, van wie jou siel vervreemd geraak het, teen jou, en Ek sal hulle van alle kante teen jou aanbring:
23 die kinders van Babel en al die Chaldeërs, Pekod en Soa en Koa, al die kinders van Assur saam met hulle, begeerlike jongmanne wat almal goewerneurs en owerstes is, offisiere en aansienlike mense wat almal te perd ry.
24 En hulle sal teen jou kom met ‘n hoop strydwaens en wiele en met ‘n menigte van volke; groot skild en klein skild en helm sal hulle rondom teen jou rig; en Ek sal die strafgerig aan hulle oorgee, en hulle sal jou vonnis volgens hulle reg.
25 En Ek sal my ywer teen jou rig, dat hulle in grimmigheid met jou handel: hulle sal jou neus en jou ore afsny, en die wat van jou oorbly, sal deur die swaard val; hulle sal jou seuns en jou dogters wegneem, en wat van jou oorbly, sal deur vuur verteer word.
26 Hulle sal jou ook jou klere uittrek en jou versiersels wegneem.
27 So sal Ek dan by jou ‘n einde maak aan jou skandelike dade en jou hoerery, uit Egipteland afkomstig; en jy sal jou oë nie na hulle opslaan en aan Egipte nie meer dink nie.
28 Want so sê die Here HERE: Kyk, Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat, in die hand van hulle van wie jou siel vervreemd geraak het.
29 En hulle sal jou as vyand behandel en al jou goed wegneem en jou naak en bloot laat staan, sodat jou ontugtige skaamte ontbloot kan word. Ja, jou skandelike dade en jou hoererye
30 het jou dit aangedoen deurdat jy agter nasies aan gehoereer het en omdat jy met hulle drekgode verontreinig is.
31 In die weg van jou suster het jy gewandel; daarom sal Ek haar beker in jou hand gee.
32 So sê die Here HERE: Jy sal die beker van jou suster drink wat diep en wyd is—jy sal tot ‘n belagging en ‘n spot word—die beker wat so baie bevat.
33 Van dronkenskap en kommer sal jy vol word; die beker van jou suster Samaría is ‘n beker van huiwering en ontsetting.
34 En jy sal dit drink en uitsuig en aan sy skerwe knaag en jou borste oopskeur; want Ek het dit gespreek, spreek die Here HERE.
35 Daarom, so sê die Here HERE: Omdat jy My vergeet het en My agter jou rug gewerp het, so dra jy dan ook nou jou skandelike dade en jou hoererye.
36 En die HERE het vir my gesê: Mensekind, wil jy Ohóla en Ohóliba oordeel? Maak hulle dan hul gruwels bekend.
37 Want hulle het owerspel begaan, en daar is bloed aan hulle hande: met hul drekgode het hulle owerspel begaan en ook hul seuns wat hulle vir My gebaar het, as spys vir hulle deur die vuur laat deurgaan.
38 Verder het hulle My dít aangedoen: hulle het my heiligdom op dieselfde dag verontreinig en my sabbatte ontheilig—
39 as hulle hul kinders vir hulle drekgode slag, kom hulle op dieselfde dag na my heiligdom om dit te ontheilig; en kyk, so het hulle gedoen binne-in my huis.
40 Ja, hulle het selfs na manne gestuur wat van ver gekom het—aan wie ‘n boodskapper gestuur is, en kyk, hulle het gekom! —vir wie jy jou gewas, jou oë geverf en sierade aangesit het.
41 En jy het gesit op ‘n pragtige bed waarvoor ‘n tafel reggemaak is en waar jy my reukwerk en my olie op neergesit het;
42 en daarbinne was die stem van ‘n sorgelose menigte. En by manne uit die menigte van mense is daar wynsuipers aangebring uit die woestyn; dié het armbande aan hulle hande gesit en ‘n pragtige kroon op hulle hoofde.
43 Toe sê Ek: Bedryf die verwelkte nog owerspel? Nou sal haar hoererye self hoerery gaan bedrywe.
44 En hulle het by haar ingegaan soos ‘n mens ingaan by ‘n hoer; só het hulle ingegaan by Ohóla en Ohóliba, die ontugtige vroue.
45 En regverdige manne, dié sal hulle vonnis volgens die reg van owerspeelsters en volgens die reg van vroue wat bloed vergiet; want hulle is owerspeelsters, en bloed is aan hulle hande.
46 Want so sê die Here HERE: Laat hulle teen hulle ‘n vergadering oproep en hulle tot ‘n skrikbeeld maak en ‘n plundering.
47 En die vergadering moet hulle stenig en hulle met hul swaarde stukkend kap; hulle seuns en dogters moet hulle doodmaak en hulle huise met vuur verbrand.
48 So sal Ek dan die skandelike dade uit die land laat ophou, dat al die vroue hulle kan laat waarsku om geen skandelikheid te begaan soos julle nie.
49 En hulle sal julle skandelike dade op julle laat neerkom, en julle sal die sondes van julle drekgode dra; en julle sal weet dat Ek die Here HERE is.




Hoofstuk 24

1 En in die negende jaar, in die tiende maand, op die tiende van die maand, het die woord van HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, skrywe vir jou die naam van die dag, van hierdie selfde dag, op. Die koning van Babel het hom hierdie selfde dag op Jerusalem gewerp.
3 En dra aan die wederstrewige huis ‘n gelykenis voor en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Sit die pot op, sit dit op, en gooi ook water daarin.
4 Sit sy stukke almal daarin, al die goeie stukke, die boud en die blad; maak dit vol met die beste bene.
5 Neem die beste van die kleinvee, en ook ‘n stapel hout daaronder; laat dit sterk opborrel; ook moet die bene daarin kook.
6 Daarom, so sê die Here HERE: Wee die bloedstad, die pot waar roes in is en waarvan die roes nie afgegaan het nie. Haal stuk vir stuk daaruit; geen lot is daaroor gewerp nie.
7 Want die stad se bloed is binne-in hom; op ‘n kaal rots het hy dit neergesit; hy het dit nie op die grond uitgegooi om dit met stof te bedek nie.
8 Om grimmigheid te verwek, om wraak te neem, het Ek sy bloed op ‘n kaal rots neergesit, dat dit nie toegemaak sou word nie.
9 Daarom, so sê die Here HERE: Wee die bloedstad! Ék sal ook die houtstapel groot maak.
10 Dra baie hout aan, steek die vuur aan, maak gaar die vleis en roer die sous en laat die bene braai.
11 En laat dit leeg op sy kole staan, dat dit warm kan word en sy koper kan gloei en sy onreinheid kan smelt in hom—sy roes verteer kan word.
12 Dit het My met moeite oorlaai, en sy baie roes gaan nie van hom af nie. Sy roes moet die vuur in!
13 Oor jou skandelike onreinheid, omdat Ek jou gereinig het en jy nie rein geword het van jou onreinheid nie, sal jy nie meer rein word totdat Ek my grimmigheid teen jou tot rus gebring het nie.
14 Ek, die HERE, het dit gespreek; dit kom, en Ek sal dit doen; Ek sal nie ophou nie en sal nie verskoon of berou hê nie; volgens jou wandel en jou handelinge sal hulle jou oordeel, spreek die Here HERE.
15 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
16 Mensekind, kyk, Ek neem die lus van jou oë van jou af weg deur ‘n sware slag; nogtans mag jy nie rouklaag of ween nie, en jou trane mag nie kom nie.
17 Sug in stilte; oor die dooies mag jy geen rou bedryf nie; bind jou hoofdoek vir jou om en trek jou skoene aan jou voete; jy mag ook die baard nie bedek nie en die brood wat die mense bring, nie eet nie.
18 Toe het ek die môre met die mense gespreek, en die aand het my vrou gesterwe; en ek het die volgende môre gedoen soos dit my beveel was.
19 En die mense het vir my gesê: Sal u ons nie te kenne gee wat dit vir ons beteken dat u so maak nie?
20 Toe het ek hulle geantwoord: Die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
21 Sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal my heiligdom ontheilig, die glorie van julle sterkte, die lus van julle oë, die medelyde van julle siel; en julle seuns en julle dogters wat julle laat agterbly het, sal deur die swaard val.
22 Dan sal julle doen soos ek gedoen het: die baard sal julle nie bedek nie en die brood wat die mense bring, nie eet nie.
23 En jul hoofdoek sal op julle hoofde wees en jul skoene aan julle voete; julle sal nie rouklaag of ween nie, maar wegteer in julle ongeregtighede en sug, die een teen die ander.
24 En Eségiël sal vir julle ‘n sinnebeeld wees; net soos hy gedoen het, sal julle doen; as dit kom, sal julle weet dat Ek die Here HERE is.
25 En wat jou aangaan, mensekind, sekerlik, die dag as Ek hulle vesting van hulle af wegneem, hulle heerlike vreugde, die lus van hulle oë en die verlange van hulle siel, hulle seuns en hulle dogters,
26 op dié dag sal ‘n vlugteling na jou toe kom om jou dit te verkondig.
27 Op dié dag sal jou mond geopen word tegelyk met dié van die vlugteling, en jy sal spreek en nie meer stom wees nie. So sal jy dan vir hulle ‘n sinnebeeld wees, en hulle sal weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 25

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, rig jou aangesig teen die kinders van Ammon, en profeteer teen hulle.
3 En sê aan die kinders van Ammon: Hoor die woord van die Here HERE. So spreek die Here HERE: Omdat jy ha, ha! geroep het oor my heiligdom, omdat dit ontheilig is, en oor die land van Israel, omdat dit verwoes is, en oor die huis van Juda, omdat hulle in ballingskap gegaan het—
4 daarom, kyk, Ek gee jou oor aan die kinders van die Ooste as ‘n besitting, dat hulle hul laers in jou opslaan en hul wonings in jou maak; hulle sal jou vrugte eet, en hulle sal jou melk drink.
5 En Ek sal Rabba ‘n weiveld maak vir kamele en die kinders van Ammon ‘n lêplek vir kleinvee, en julle sal weet dat Ek die HERE is.
6 Want so sê die Here HERE: Omdat jy in die hand geklap en met die voet gestamp het en bly was met volle veragting in die siel oor die land van Israel—
7 daarom, kyk, Ek strek my hand teen jou uit en gee jou as buit vir die nasies, en Ek sal jou uitroei uit die volke en jou uit die lande verdelg; Ek sal jou vernietig, en jy sal weet dat Ek die HERE is.
8 So spreek die Here HERE: Omdat Moab en Seïr sê: Kyk, die huis van Juda is soos al die nasies—
9 daarom, kyk, Ek maak die berghange van Moab oop, dat dit sonder stede is, sonder sy stede in sy hele gebied, die sieraad van die land: Bet-Jésimot, Baäl-Meon en tot Kirjatáim toe;
10 aan die kinders van die Ooste sal Ek dit, saam met die kinders van Ammon, as besitting gee, sodat die kinders van Ammon nie meer genoem sal word onder die nasies nie.
11 Ek sal ook in Moab strafgerigte voltrek; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
12 So sê die Here HERE: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het—
13 daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ‘n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val.
14 En Ek sal my wraak op Edom in die hand van my volk Israel gee, en hulle sal met Edom handel volgens my toorn en my grimmigheid; so sal hulle dan my wraak gewaar word, spreek die Here HERE.
15 So sê die Here HERE: Omdat die Filistyne wraaksugtig gehandel het en hulle erg gewreek het met veragting in die siel, om te verwoes met ewige vyandskap—
16 daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek strek my hand uit teen die Filistyne en sal die Kretiërs uitroei en die oorblyfsel van die seekus vernietig.
17 En Ek sal gedugte wraak aan hulle oefen met grimmige strawwe; en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek my wraak oor hulle bring.




Hoofstuk 26

1 En in die elfde jaar, op die eerste van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, omdat Tirus oor Jerusalem geroep het: Ha, ha! die poort van die volke is gebreek, dit is na my toe gedraai; ék sal vol word, dit is verwoes—
3 daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Tirus! en Ek laat baie nasies teen jou optrek soos die see sy golwe laat optrek.
4 Húlle sal die mure van Tirus verwoes en sy torings afbreek; ja, Ek sal sy puin van hom af wegvee en hom ‘n kaal rots maak.
5 Hy sal binne-in die see ‘n droogmaakplek van nette wees; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE; en hy sal ‘n buit vir die nasies wees.
6 En sy dogters wat op die land is, sal met die swaard gedood word; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
7 Want so sê die Here HERE: Kyk, Ek laat Nebukadrésar, die koning van Babel, die koning van die konings, van die noorde af teen Tirus kom, met perde en strydwaens en ruiters en ‘n menigte en baie mense.
8 Hy sal jou dogters op die land met die swaard doodmaak en forte teen jou opstel en ‘n wal teen jou opwerp en die skilddak teen jou oprig.
9 En hy sal die stoot van sy stormram teen jou mure rig en jou torings met sy breekysters afbreek.
10 Vanweë die menigte van sy perde sal hulle stofwolk jou oordek; jou mure sal bewe vanweë die gedruis van ruiters en wiele en strydwaens as hy deur jou poorte intrek, soos ‘n mens indring in ‘n stad wat oopgebreek is.
11 Hy sal met die hoewe van sy perde al jou strate vertrap; jou mense sal hy met die swaard doodmaak, en jou trotse klippilare sal op die grond val.
12 En hulle sal jou rykdom buitmaak en jou koopware roof en jou mure afbreek en jou kosbare huise omgooi; en hulle sal jou klippe en jou houte en jou puin in die water slinger.
13 En Ek sal die geruis van jou liedere laat ophou, en die klank van jou siters sal nie meer gehoor word nie.
14 Ja, Ek sal jou ‘n kaal rots maak, ‘n droogmaakplek van nette sal jy wees en nooit herbou word nie; want Ek, die HERE, het dit gesê, spreek die Here HERE.
15 So sê die Here HERE aan Tirus: Sal die kuslande nie bewe van die geluid van jou val, as die gewondes kerm, as hulle ‘n moord in jou aanrig nie?
16 Dan sal al die vorste van die see van hulle trone afklim en hulle mantels afhaal en hulle veelkleurige klere uittrek; met siddering sal hulle beklee word, op die grond sal hulle sit en elke oomblik sidder en oor jou verbaas wees.
17 En hulle sal ‘n klaaglied oor jou aanhef en vir jou sê: Hoe het jy vergaan wat bewoon was uit die seë, hoog geroemde stad; wat sterk was deur die see, hy en sy inwoners, wat die skrik vir hulle ingeboesem het by al die kusbewoners.
18 Nou sal die kuslande sidder op die dag van jou val; en die kuslande wat aan die see is, sal verskrik word oor jou uiteinde.
19 Want so sê die Here HERE: As Ek jou ‘n verwoeste stad maak, soos die stede wat nie bewoon is nie; as Ek die watervloed oor jou laat opkom en die groot waters jou oordek;
20 dan sal Ek jou laat neerdaal saam met die wat in die kuil neerdaal, na die mense van die voortyd; en Ek sal jou laat woon in die onderste plekke van die aarde, in ewige woestenye, saam met die wat in die kuil neergedaal het, sodat jy nie bewoon word nie; en Ek sal heerlikheid gee in die land van die lewendes.
21 Maar jou sal Ek tot ‘n voorwerp van verskrikking maak, en jy sal daar nie wees nie; jy sal gesoek word, maar vir ewig nie meer gevind word nie, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 27

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Maar jy, mensekind, hef ‘n klaaglied oor Tirus aan,
3 en sê aan Tirus, wat woon by die ingange van die see, wat handel drywe met die volke na baie kuslande toe: So spreek die Here HERE: o Tirus, jy sê: Ek is volmaak in skoonheid.
4 In die hart van die seë is jou gebied; jou boumeesters het jou skoonheid volkome gemaak.
5 Van sipresse uit Senir het hulle vir jou al die plankwerk gebou; ‘n seder uit Líbanon het hulle geneem om op jou ‘n mas te maak.
6 Van eikebome uit Basan het hulle jou roeispane gemaak; jou dek het hulle gemaak uit ivoor, ingelê in dennehout uit die kuslande van die Kittiërs.
7 Veelkleurige fyn linne uit Egipte was jou seil, om vir jou as vlag te dien; pers en purper stowwe uit die kuslande van Elísa was jou hutbedekking.
8 Die inwoners van Sidon en Arwad was jou roeiers; jou wyse manne was in jou, o Tirus, hulle was jou stuurmanne.
9 Die oudstes van Gebal en sy wyse manne was in jou om jou lekplekke reg te maak; al die skepe van die see en hulle seevaarders was in jou om jou koopware te verhandel.
10 Perse en Ludiete en Putéërs was in jou leër, jou krygsmanne; skild en helm het hulle in jou opgehang; hulle het aan jou glans gegee.
11 Die kinders van Arwad en jou leër was op jou mure rondom, en die Gammadiete was op jou torings; hul skilde het hulle aan jou mure rondom gehang; hulle het jou skoonheid volkome gemaak.
12 Tarsis het handel gedrywe met jou weens die menigte van allerhande goed: silwer, yster, tin en lood het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.
13 Jawan, Tubal en Meseg, hulle was jou koopmans; slawe en kopergoed het hulle as koopware aan jou gelewer.
14 Uit die huis van Togarma het hulle perde en ryperde en muilesels as handelsware aan jou gelewer.
15 Die kinders van Dedan was jou koopmans, baie kuslande die handelsgebied wat tot jou beskikking gestaan het; olifantstande en ebbehout het hulle aan jou as betaling gebring.
16 Aram het met jou handel gedrywe weens die menigte van jou kunswerke: karbonkel, purper en veelkleurige stowwe en fyn linne en korale en robyne het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.
17 Juda en die land Israel, hulle was jou koopmans; koring van Minnit en meel en heuning en olie en balsem het hulle as koopware aan jou gelewer.
18 Damaskus het met jou handel gedrywe weens die menigte van jou kunswerke, weens die menigte van allerhande goed: wyn van Helbon en wit wol.
19 Wedan en Jawan het uit Usal aan jou smee-yster as handelsartikel gelewer; kassie en kalmoes was onder jou koopware.
20 Dedan het met jou handel gedrywe in saalkleedjies om op te ry.
21 Arabië en al die vorste van Kedar, hulle was die koopmans wat tot jou beskikking gestaan het; lammers en ramme en bokke—daarin het hulle met jou handel gedrywe.
22 Die koopmans van Skeba en Raëma, hulle was jou koopmans; die fynste van allerhande speserye en allerhande edelgesteentes en goud het hulle as handelsartikels aan jou gelewer.
23 Haran en Kanne en Eden, die koopmans van Skeba, Assur en Kilmad het met jou handel gedrywe.
24 Hulle was jou koopmans in pragtige klerasie, in mantels van pers stof en veelkleurige goed en in bont geweefde tapyte, in gevlegte en gedraaide toue, op jou mark.
25 Die skepe van Tarsis het jou koopware vir jou aangevoer, sodat jy vol en baie heerlik geword het in die hart van die seë.
26 Die wat jou geroei het, het jou op groot waters gebring; die Oostewind het jou verbreek in die hart van die seë.
27 Jou goed en jou handelsartikels, jou koopware, jou seevaarders en jou stuurmanne, die wat jou lekplekke reggemaak het en die wat jou koopware verhandel het, en al jou krygsmanne wat in jou is, saam met jou hele menigte wat in jou is—hulle sal val in die hart van die seë op die dag van jou val.
28 Van die harde geskreeu van jou stuurmanne sal die oop velde bewe.
29 En almal wat die roeispaan hanteer, sal van hulle skepe afklim; die seevaarders, al die stuurmanne van die see, sal op die land gaan staan.
30 En hulle sal hul stem oor jou laat hoor en bitterlik skreeu; en hulle sal stof op hul hoofde gooi, hulle wentel in die as.
31 En hulle sal om jou ontwil ‘n kaal plek skeer en rouklere aangord en oor jou ween met bitterheid van siel, in ‘n bitter rouklag.
32 En hulle sal in hul weeklag oor jou ‘n klaaglied aanhef en oor jou sing: Wie was soos Tirus, die doodstille daar in die see?
33 Toe jou handelsware uit die see voortgekom het, het jy baie volke versadig; met die menigte van jou goed en jou koopware het jy die konings van die aarde ryk gemaak.
34 Nou is jy verbreek van die see af in die dieptes van die waters; jou koopware en jou hele menigte het saam met jou weggesink.
35 Al die inwoners van die kuslande staan verbaas oor jou, en hulle konings huiwer van skrik, met donker aangesigte.
36 Die handelaars onder die volke spot oor jou; jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.




Hoofstuk 28

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, sê aan die vors van Tirus: So spreek die Here HERE: Omdat jou hart hoogmoedig was en jy gesê het: Ek is ‘n god, ek bewoon ‘n godewoning in die hart van die seë—terwyl jy tog ‘n mens is en geen god nie—en jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god;
3 kyk, jy is wyser as Daniël, alles wat verborge is, is vir jou nie te duister nie!
4 Deur jou wysheid en deur jou verstand het jy vir jou rykdom verkry, ja, jy het goud en silwer in jou skatkamers verwerf;
5 deur die grootheid van jou wysheid in jou koophandel het jy jou rykdom vermeerder, en jou hart het hoogmoedig geword deur jou rykdom;
6 daarom, so sê die Here HERE: Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god,
7 daarom, kyk, Ek bring vreemdes oor jou, die geweldigste nasies, en hulle sal hul swaarde trek teen die skoonheid wat jou wysheid verwerf het, en jou glans ontheilig.
8 In die kuil sal hulle jou laat neerdaal, en jy sal in die hart van die seë die bittere dood sterwe van een wat verslaan is.
9 Sal jy werklik sê, in die aangesig van hom wat jou doodmaak: Ek is ‘n god! —terwyl jy tog ‘n mens is in die hand van hulle wat jou deurboor, en geen god nie?
10 Jy sal die dood van onbesnedenes sterwe, deur die hand van vreemdes; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE.
11 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
12 Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here HERE: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid.
13 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei.
14 Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.
15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is.
16 Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut!
17 Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.
18 Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ‘n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het.
19 Al jou bekendes onder die volke is ontsteld oor jou; jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.
20 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
21 Mensekind, rig jou aangesig teen Sidon en profeteer teen hom
22 en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Sidon, en Ek sal My verheerlik in jou midde; en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek in hom strafgerigte voltrek en My in hom as die Heilige laat ken.
23 En Ek sal die pes in hom stuur en bloed op sy strate, en die gewondes sal in hom val deur die swaard wat teen hom is van alle kante, en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
24 En daar sal vir die huis van Israel geen steekdoring en smartlike distel meer wees onder almal wat rondom hulle is nie, wat hulle verag; en hulle sal weet dat Ek die Here HERE is.
25 So sê die Here HERE: As Ek die huis van Israel versamel uit die volke onder wie hulle verstrooi is, en Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies, dan sal hulle in hul land woon wat Ek aan my kneg Jakob gegee het.
26 En hulle sal daarin veilig woon en huise bou en wingerde plant; ja, hulle sal veilig woon as Ek strafgerigte voltrek teen almal wat hulle van alle kante verag; en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is.




Hoofstuk 29

1 In die tiende jaar, in die tiende maand, op die twaalfde van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, rig jou aangesig teen Farao, die koning van Egipte, en profeteer teen hom en teen die hele Egipte.
3 Spreek en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Farao, koning van Egipte, jou groot draak wat in jou strome lê, wat sê: My stroom is myne, en ek het dit vir my gemaak.
4 Maar Ek sal hake in jou kakebene slaan en die visse van jou strome aan jou skubbe laat klewe; en Ek sal jou uit jou strome optrek, saam met al die visse van jou strome wat aan jou skubbe klewe.
5 En Ek sal jou wegwerp in die woestyn, jou en al die visse van jou strome; op die oop veld sal jy val; jy sal nie bymekaargemaak of versamel word nie; aan die wilde diere van die aarde en aan die voëls van die hemel gee Ek jou as voedsel.
6 En al die inwoners van Egipte sal weet dat Ek die HERE is, omdat hulle vir die huis van Israel ‘n rietstok is—
7 as Israel jou met die hand aanvat, knak jy en skeur hulle hele skouer oop; en as hulle op jou leun, dan breek jy en laat al hulle lendene wankel.
8 Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek bring die swaard oor jou en sal mens en dier uit jou uitroei.
9 En Egipteland sal ‘n wildernis en puinhoop word, en hulle sal weet dat Ek die HERE is. Omdat hy sê: Die Nyl is myne, en ek het dit gemaak—
10 daarom, kyk, Ek het dit teen jou en teen jou strome; en Ek sal Egipteland ‘n volkome puinhoop maak, ‘n wildernis van Migdol af tot by Siëne, en tot by die grens van Kus.
11 Geen mens se voet sal daar deurgaan nie, en geen dier se poot sal daar deurgaan nie, en dit sal veertig jaar lank onbewoond wees.
12 En Ek sal Egipteland ‘n wildernis maak tussen verwoeste lande in, en sy stede sal ‘n wildernis wees tussen verwoeste stede in, veertig jaar lank; en Ek sal die Egiptenaars verstrooi onder die nasies en hulle versprei in die lande.
13 Want so sê die Here HERE: Aan die einde van veertig jaar sal Ek die Egiptenaars versamel uit die volke waarheen hulle verstrooi was.
14 En Ek sal die lot van die Egiptenaars verander en hulle laat teruggaan na die land Patros, na die land van hulle oorsprong; en daar sal hulle ‘n koninkryk van geringe betekenis wees.
15 En dit sal geringer wees as die ander koninkryke en hom nie meer bo die nasies verhef nie; en Ek sal hulle klein maak, sodat hulle nie heers oor die nasies nie.
16 En dit sal vir die huis van Israel geen voorwerp van vertroue meer wees, wat die ongeregtigheid in gedagtenis bring as Israel omdraai agter hulle aan nie; en hulle sal weet dat Ek die Here HERE is.
17 En in die sewe en twintigste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
18 Mensekind, Nebukadrésar, die koning van Babel, het sy leër ‘n swaar diens teen Tirus laat verrig: elke hoof het kaal geword en elke skouer is seer geskaaf. Maar hy en ook sy leër het van Tirus geen loon ontvang vir die krygsdiens wat hy daarteen verrig het nie.
19 Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek gee Egipteland aan Nebukadrésar, die koning van Babel, en hy sal die rykdom daarvan wegdra en die buit daarvan buitmaak en die roof daarvan rowe, en dit sal die loon vir sy leër wees.
20 As sy arbeidsloon waar hy voor gedien het, gee Ek hom Egipteland, omdat hulle vir My gewerk het, spreek die Here HERE.
21 In dié dag sal Ek vir die huis van Israel ‘n horing laat uitspruit, en Ek sal vir jou opening van die mond gee onder hulle; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 30

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, profeteer en sê: So spreek die Here HERE: Huil julle! Ag, die dag!
3 Want naby is ‘n dag, ja, naby is ‘n dag van die HERE, ‘n dag van wolke; die tyd van die nasies sal dit wees.
4 Dan sal ‘n swaard in Egipte kom, en daar sal angs in Kus wees as die wat verslaan is, val in Egipte, en as hulle sy rykdom wegneem en sy fondamente afgebreek word.
5 Kus en Putéërs en Ludiete en die hele gemengde bevolking en Kub en die kinders van die daarmee verbonde land sal saam met hulle val deur die swaard.
6 So sê die HERE: Ja, hulle sal val wat Egipte ondersteun, en sy trotse mag sal wegsink; van Migdol af tot by Siëne sal hulle daarin val deur die swaard, spreek die Here HERE.
7 En dit sal verwoes wees tussen die verwoeste lande in, en sy stede sal wees tussen die verwoeste stede in.
8 En hulle sal weet dat Ek die HERE is, as Ek ‘n vuur werp in Egipte en al sy helpers verbreek word.
9 In dié dag sal daar boodskappers voor My uit wegvaar in skepe om die sorgelose Kus te verskrik; en dan sal daar angs onder hulle wees soos in die dag van Egipte. Want kyk, dit kom!
10 So sê die Here HERE: Ja, Ek sal aan die menigte van Egipte ‘n einde maak deur die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel.
11 Hy en sy volk saam met hom, die geweldigste nasies, word aangevoer om die land te verwoes; en hulle sal hul swaarde teen Egipte uittrek en die land vul met gesneuweldes.
12 En Ek sal die strome droë grond maak en die land verkoop in die hand van kwaaddoeners en die land met sy volheid verwoes deur die hand van vreemdes. Ek, die HERE, het dit gespreek.
13 So sê die Here HERE: Ek sal ook die drekgode vernietig en die afgode laat verdwyn uit Nof, en daar sal geen vors meer wees uit Egipteland nie; en Ek sal vrees in Egipteland verwek.
14 En Ek sal Patros verwoes en ‘n vuur werp in Soan en strafgerigte voltrek in No.
15 En Ek sal my grimmigheid uitgiet oor Sin, die vesting van Egipte; en Ek sal die menigte van No uitroei.
16 En Ek sal ‘n vuur werp in Egipte: Sin sal bewe van angs, en No sal oopgebreek word, en Nof—vyande oordag!
17 Die jongmanne van On en Pi-Beset sal deur die swaard val, maar hulle self sal in gevangenskap gaan.
18 En in Tagpánhes word die dag duister as Ek daar die jukke van Egipte verbreek, en sy trotse mag daarin sal ophou; ‘n wolk sal dit oordek, en sy dogters sal in gevangenskap gaan.
19 So sal Ek dan strafgerigte voltrek in Egipte; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
20 En in die elfde jaar, in die eerste maand, op die sewende van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
21 Mensekind, Ek het die arm van Farao, die koning van Egipte, gebreek; en kyk, dit is nie verbind tot genesing of geswagtel tot verbinding, dat dit sterk kan word om die swaard te vat nie.
22 Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen Farao, die koning van Egipte! En Ek sal sy arms verbreek, die sterk een en die gebreekte een, en sal die swaard uit sy hand laat val.
23 En Ek sal die Egiptenaars verstrooi onder die nasies en hulle versprei in die lande.
24 En Ek sal die arms van die koning van Babel versterk en my swaard in sy hand gee, maar Farao se arms sal Ek breek, sodat hy voor hom sal kerm soos ‘n dodelike gewonde man kerm.
25 Ja, Ek sal die arms van die koning van Babel versterk, maar Farao se arms sal afval; en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek my swaard in die hand van die koning van Babel gee, dat hy dit kan uitstrek oor Egipteland.
26 En Ek sal die Egiptenaars verstrooi onder die nasies en hulle versprei in die lande. So sal hulle dan weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 31

1 En in die elfde jaar, in die derde maand, op die eerste van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, sê aan Farao, die koning van Egipte, en aan sy menigte: Na wie lyk jy in jou grootheid?
3 Kyk, Assur was ‘n seder op die Líbanon, skoon van takke en ‘n skaduryke bos en hoog van groei; en sy top was tussen die wolke.
4 Waters het hom grootgemaak; die watervloed het hom hoog laat groei, wat met sy strome gegaan het rondom die plek waar hy geplant was, en sy watervore uitgestuur het na al die bome van die veld.
5 Daarom het hy hoër gegroei as al die bome van die veld, en het sy takke baie geword en sy takkies lank, weens die groot waters toe hy uitgeskiet het.
6 Al die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke, en al die wilde diere van die veld het onder sy takkies aangeteel, en allerhande groot volke het onder sy skaduwee gaan sit.
7 En hy het skoon geword in sy grootheid, in die lengte van sy takke, omdat sy wortel by groot waters was.
8 Seders het nie naby hom gekom in die tuin van God nie, sipresse was nie soos sy takke nie, en platane het nie gehaal by sy takwerk nie: geen boom in die tuin van God was met hom te vergelyk in sy skoonheid nie.
9 Ek het hom mooi gemaak deur die menigte van sy takke, sodat al die bome van Eden wat in die tuin van God was, hom beny het.
10 Daarom, so het die Here HERE gesê: Omdat hy hoog uitgegroei het, en hy sy top tussen die wolke verhef het en hoogmoedig geword het oor sy hoogte,
11 sal Ek hom oorgee in die hand van die magtige onder die nasies; dié sal sekerlik met hom handel; vanweë sy goddeloosheid het Ek hom uitgedrywe.
12 Vreemdes, die geweldigste nasies, het hom afgekap en hom neergewerp; op die berge en in al die dale het sy takke geval, en sy takkies is stukkend gebreek in al die klowe van die land; en al die volke van die aarde het uit sy skaduwee weggegaan en hom so laat lê.
13 Al die voëls van die hemel het gaan sit op sy omgevalle stam, en al die wilde diere van die veld was op sy takkies;
14 sodat al die bome wat by water staan, nie hoog sou groei en hulle top nie sou verhef tussen die wolke nie, en hulle magtiges nie sou gaan staan in hulle hoogheid, almal wat water drink nie! Want hulle is almal oorgegee aan die dood om te gaan na die onderste van die aarde, onder die mensekinders, na die wat in die kuil neerdaal.
15 So sê die Here HERE: Op die dag toe hy na die doderyk neergedaal het, het Ek laat treur: Ek het om sy ontwil die watervloed oordek en die strome daarvan teruggehou, sodat die groot waters gestuit is; en Ek het om sy ontwil die Líbanon in swart gehul, en al die bome van die veld het gesmag om sy ontwil.
16 Deur die geluid van sy val het Ek die nasies laat bewe, toe Ek hom na die doderyk laat neerdaal het saam met die wat in die kuil neerdaal; en al die bome van Eden, die uitgesoektes en bestes van die Líbanon, almal waterdrinkers, het hulleself getroos in die onderste van die aarde.
17 Hulle het ook saam met hom neergedaal na die doderyk, na die wat verslaan is deur die swaard, ook sy helpers wat in sy skaduwee gesit het onder die nasies.
18 Na wie lyk jy so in heerlikheid en grootheid onder die bome van Eden? En tog sal jy neergewerp word saam met die bome van Eden na die onderste van die aarde; tussen die onbesnedenes sal jy lê, saam met die wat verslaan is deur die swaard. Dit is Farao en sy hele menigte, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 32

1 En in die twaalfde jaar, in die twaalfde maand, op die eerste van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor Farao, die koning van Egipte, en sê vir hom: Jong leeu onder die volke, verlore is jy! En jy was soos ‘n draak in die groot water, en jy het uitgebreek in jou strome en die waters geroer met jou pote en die strome daarvan troebel gemaak.
3 So sê die Here HERE: So sal Ek dan my net oor jou uitsprei deur ‘n vergadering van baie volke, en hulle sal jou optrek in my vangnet.
4 Dan sal Ek jou neerwerp op die land, jou wegslinger op die oop veld; en Ek sal al die voëls van die hemel op jou laat sit en die wilde diere van die hele aarde aan jou versadig.
5 En Ek sal jou vlees weggee op die berge en die dale vol maak met jou hoogheid.
6 En Ek sal jou stroomland natmaak met jou bloed tot by die berge; en die klowe sal vol word van jou.
7 En as Ek jou uitblus, sal Ek die hemel oordek en sy sterre verdonker; Ek sal die son met wolke oordek, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie.
8 Al die skynende ligte aan die hemel, dié sal Ek om jou ontwil duister maak, en Ek sal duisternis gee oor jou land, spreek die Here HERE.
9 En Ek sal die hart van baie volke bekommerd maak as Ek jou verbreking onder die nasies uitbring, na lande wat jy nie geken het nie.
10 En Ek sal maak dat baie volke oor jou verstom staan en hulle konings sal oor jou gril van skrik as Ek my swaard voor hulle swaai; en hulle sal elke oomblik sidder, elkeen vir sy lewe, op die dag van jou val.
11 Want so sê die Here HERE: Die swaard van die koning van Babel sal oor jou kom.
12 Ek sal jou menigte laat val deur swaarde van helde—die geweldigste nasies, hulle almal; en hulle sal die prag van Egipte verwoes, en sy hele menigte sal verdelg word.
13 En Ek sal al sy vee laat omkom by die groot waters; en geen mensevoet sal dit weer laat roer nie en geen dier se kloue dit troebel maak nie.
14 Dan sal Ek hulle waters laat besink en hulle riviere laat vloei soos olie, spreek die Here HERE.
15 As Ek Egipteland ‘n wildernis maak en die land woes lê, van sy volheid beroof, as Ek almal wat daarin woon, verslaan het, dan sal hulle weet dat Ek die HERE is.
16 ‘n Klaaglied is dit, en hulle moet dit sing; die dogters van die nasies moet dit sing; hulle moet dit sing oor Egipte en oor sy hele menigte, spreek die Here HERE.
17 En in die twaalfde jaar, op die vyftiende van die maand, het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
18 Mensekind, weeklaag oor die menigte van Egipte, en laat hulle neerdaal (hy met die dogters van geweldige nasies) in die onderste plekke van die aarde, by die wat in die kuil neergedaal het.
19 Bo wie is jy skoon? Daal af, en laat jou neerlê by die onbesnedenes.
20 Onder die wat deur die swaard verslaan is, sal hulle val; die swaard is aangegee; trek hom weg saam met sy hele menigte.
21 Die magtigste helde sal hom, met sy helpers, toespreek uit die doderyk uit: Hulle het neergedaal, hulle lê daar—die onbesnedenes, verslaan deur die swaard.
22 Daar is Assur en sy hele menigte; hulle grafte is rondom hom; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard;
23 wie se grafte gemaak is in die uithoeke van die kuil, en sy menigte is rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat skrik versprei het in die land van die lewendes.
24 Daar is Elam en sy hele menigte rondom sy graf; hulle is almal verslaan, geval deur die swaard, hulle wat onbesnede neergedaal het in die onderste plekke van die aarde, wat skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes en nou hulle skande dra by die wat in die kuil neergedaal het.
25 Onder die wat verslaan is, het hulle vir hom ‘n bed gemaak saam met sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat skrik voor hulle versprei is in die land van die lewendes; en nou dra hulle hul skande by die wat in die kuil neergedaal het. Onder die wat verslaan is, is hy neergelê.
26 Daar is Meseg-Tubal en sy hele menigte; rondom hom is hulle grafte; hulle is almal onbesnede, verslaan deur die swaard, omdat hulle skrik voor hulle versprei het in die land van die lewendes.
27 Maar hulle lê nie by die helde wat geval het uit die onbesnedenes, wat na die doderyk neergedaal het saam met hulle oorlogswapens en wie se swaarde onder hulle hoofde gesit is nie; wie se ongeregtighede nogtans op hulle gebeente is, omdat die skrik vir die helde in die land van die lewendes was.
28 Jy sal ook verbreek word onder die onbesnedenes, en jy sal lê by die wat deur die swaard verslaan is.
29 Daar is Edom, sy konings en al sy vorste, wat ondanks hulle dapperheid neergelê is by die wat verslaan is deur die swaard; hulle lê by die onbesnedenes en by die wat in die kuil neergedaal het.
30 Daar is die vorste van die Noorde, hulle almal, en al die Sidoniërs wat neergedaal het saam met die wat verslaan is, en beskaamd staan ondanks die skrik deur hulle verwek vanweë hulle dapperheid; en nou lê hulle onbesnede by die wat verslaan is deur die swaard, en dra hulle skande by die wat in die kuil neergedaal het.
31 Farao sal hulle sien en hom troos oor sy hele menigte; deur die swaard verslaan is Farao en sy hele leër, spreek die Here HERE.
32 Want Ek het skrik vir hom versprei in die land van die lewendes; daarom sal hy neergelê word onder die onbesnedenes, by die wat verslaan is deur die swaard—Farao en sy hele menigte, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 33

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, spreek met die kinders van jou volk en sê vir hulle: As Ek die swaard oor ‘n land bring, en die mense van die land neem ‘n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan,
3 en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense—
4 as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof.
5 Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel.
6 As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ‘n siel uit hulle weg—dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis.
7 En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ‘n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku.
8 As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
9 Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.
10 En jy, mensekind, sê aan die huis van Israel: So het julle gesê: Gewis, ons oortredinge en ons sondes is op ons, en daardeur teer ons weg—hoe kan ons dan lewe?
11 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?
12 En jy, mensekind, sê aan die kinders van jou volk: Die geregtigheid van die regverdige sal hom nie red op die dag van sy oortreding nie; en aangaande die goddeloosheid van die goddelose, hy sal daardeur nie struikel op die dag as hy hom van sy goddeloosheid bekeer nie; en die regverdige sal deur sy geregtigheid nie kan lewe op die dag as hy sondig nie.
13 As Ek aan die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe, en hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg, dan sal aan al sy geregtighede nie gedink word nie, maar deur sy onreg wat hy doen, daardeur sal hy sterwe.
14 En as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen—
15 gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie—dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.
16 Al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy het reg en geregtigheid gedoen, hy sal sekerlik lewe.
17 Maar die kinders van jou volk sê: Die weg van die Here is nie reg nie, terwyl tog hulle eie weg nie reg is nie.
18 As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sal hy ten gevolge daarvan sterwe.
19 En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid en reg en geregtigheid doen, dan sal hy ten gevolge daarvan lewe.
20 Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Ek sal julle oordeel, elkeen volgens sy weë, o huis van Israel!
21 En in die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand op die vyfde van die maand, het ‘n vlugteling uit Jerusalem na my gekom met die woorde: Die stad is ingeneem!
22 En die hand van die HERE was op my in die aand, voordat die vlugteling gekom het; en Hy het my mond geopen teen die tyd dat hy in die môre na my gekom het. So is dan my mond geopen, en ek was nie meer stom nie.
23 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
24 Mensekind, die bewoners van daardie puinhope in die land van Israel spreek en sê: Abraham was ‘n eenling, en tog het hy die land as besitting ontvang; maar ons is baie; aan ons is die land as besitting gegee!
25 Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Julle eet vleis saam met die bloed en slaan julle oë op na jul drekgode en vergiet bloed—en sal julle die land as besitting ontvang?
26 Julle steun op jul swaard, julle doen gruwels en verontreinig elkeen die vrou van sy naaste—en sal julle die land as besitting ontvang?
27 So moet jy vir hulle sê: So spreek die Here HERE: So waar as Ek leef, die wat in die puinhope is, sal gewis deur die swaard val; en hom wat op die oop veld is, gee Ek aan die wilde diere oor om opgeëet te word; en die wat in die vestings en in die spelonke is, sal deur die pes sterwe.
28 En Ek sal die land ‘n wildernis en ‘n woesteny maak, en aan sy trotse mag sal ‘n einde kom; en die berge van Israel sal woes wees sonder dat iemand daar oorgaan.
29 Dan sal hulle weet dat Ek die HERE is, as Ek die land ‘n wildernis en ‘n woesteny maak oor al hul gruwels wat hulle bedryf het.
30 En jy, mensekind, die kinders van jou volk wat oor jou gesels langs die mure en in die deure van die huise—hulle spreek die een met die ander, elkeen met sy broer, en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van die HERE uitgaan.
31 En hulle kom na jou toe soos ‘n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan.
32 En kyk, jy is vir hulle soos ‘n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.
33 Maar as dit kom—kyk, dit kom! —dan sal hulle weet dat daar ‘n profeet onder hulle gewees het.




Hoofstuk 34

1 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here HERE: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie?
3 Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie;
4 julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid.
5 So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak.
6 My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek.
7 Daarom, o herders, hoor die woord van die HERE:
8 So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, omdat my skape’n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie—
9 daarom, o herders, hoor die woord van die HERE!
10 So sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie.
11 Want so sê die Here HERE: Kyk, hier is Ek, en Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg.
12 Soos ‘n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg; en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid.
13 En Ek sal hulle uitlei uit die volke en versamel uit die lande en hulle bring in hul land; en Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel, in die klowe en in al die bewoonbare plekke van die land.
14 Op ‘n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei, en op die hoë berge van Israel sal hulle weiplek wees. Daar sal hulle lê op ‘n goeie plek en wei in ‘n geil weiveld op die berge van Israel.
15 Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus, spreek die Here HERE.
16 Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek verdelg: Ek sal hulle oppas soos dit reg is.
17 En wat julle aangaan, my skape, so sê die Here HERE, kyk, Ek sal oordeel tussen skape en skape, die ramme en die bokramme.
18 Is dit vir julle nie genoeg dat julle die goeie weiveld afwei nie? En moet julle die orige van jul weiveld met jul pote vertrap? En moet julle die helder water drink, terwyl julle die wat oorbly, met jul pote troebel maak?
19 En moet my skape afwei wat met julle pote vertrap is, en drink wat met julle pote troebel gemaak is?
20 Daarom, so sê die Here HERE vir hulle: Kyk, hier is Ek, en Ek sal oordeel tussen die vet skape en die maer skape.
21 Omdat julle al die swakkes met skof en skouer wegdruk en met julle horings stoot, totdat julle hulle uitgejaag het,
22 daarom sal Ek my skape red, sodat hulle nie meer ‘n prooi sal wees nie; en Ek sal oordeel tussen skape en skape.
23 En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ‘n herder wees.
24 En Ek, die HERE, Ek sal vir hulle ‘n God wees, en my kneg Dawid ‘n vors in hulle midde. Ek, die HERE, het dit gespreek.
25 En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse.
26 En Ek sal hulle en die plekke rondom my heuwel tot ‘n seën maak en die stortreën laat val op sy tyd; stortreëns van seën sal dit wees.
27 En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land; en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek hulle jukskeie stukkend breek en hulle red uit die hand van die wat hulle diensbaar gemaak het.
28 En hulle sal nie meer ‘n prooi vir die nasies wees nie, en die wilde diere van die land sal hulle nie opeet nie; maar hulle sal veilig woon sonder dat iemand hulle verskrik.
29 En Ek sal vir hulle plante van naam verwek, sodat hulle nie meer deur hongersnood in die land weggeruk sal word nie en die smaad van die nasies nie meer sal dra nie.
30 Maar hulle sal weet dat Ek, die HERE hulle God, met hulle is, en dat hulle, die huis van Israel, my volk is, spreek die Here HERE.
31 En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 35

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, rig jou aangesig teen die berg Seïr en profeteer teen hom.
3 En sê vir hom: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o berg Seïr! En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou ‘n wildernis en ‘n woesteny maak.
4 Ek sal jou stede ‘n puinhoop maak, en jy self sal ‘n wildernis word; en jy sal weet dat Ek die HERE is.
5 Omdat jy ‘n ewige vyandskap koester en die kinders van Israel in die mag van die swaard oorgelewer het in die tyd van hulle onheil, in die tyd van uiteindelike afrekening,
6 daarom, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek sal jou tot bloed maak, en bloed sal jou vervolg; omdat jy bloed nie gehaat het nie, sal bloed jou vervolg.
7 En Ek sal die berg Seïr ‘n woesteny en wildernis maak, en uit hom uitroei die wat deurtrek en wat terugkom.
8 En Ek sal sy berge vol maak met die wat uit hom verslaan is; jou heuwels en jou dale en al jou klowe—die wat verslaan is deur die swaard, sal daarin val.
9 Ewige wildernisse sal Ek jou maak, en jou stede sal nie bewoon word nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
10 Omdat jy sê: Die twee nasies daar en die twee lande sal myne wees, en ons sal dit in besit neem—terwyl tog die HERE daar gewees het—
11 daarom, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal handel volgens jou toorn en jou naywer waarmee jy uit jou haat teen hulle gehandel het; en Ek sal onder hulle bekend word as Ek jou oordeel.
12 En jy sal weet dat Ek, die HERE, al jou lasterlike woorde gehoor het wat jy teen die berge van Israel gespreek het deur te sê: Hulle lê woes, hulle is aan ons gegee tot spys.
13 So het julle dan jul groot gehou teen My met julle mond en julle woorde teen My opgehoop; Ek het dit gehoor.
14 So sê die Here HERE: Tot vreugde van die hele aarde sal Ek jou ‘n wildernis maak.
15 Soos jy vrolik was oor die erfdeel van die huis van Israel, omdat dit verwoes is, so sal Ek met jou maak: jy sal ‘n wildernis word, o berg Seïr en die hele Edom, almal saam. En hulle sal weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 36

1 En jy, mensekind, profeteer tot die berge van Israel en sê: Berge van Israel, hoor die woord van die HERE!
2 So sê die Here HERE: Omdat die vyand ha, ha! oor julle roep; en: Die ewige hoogtes het vir ons ‘n besitting geword! —
3 daarom profeteer en sê: So spreek die Here HERE: Omdat, ja, omdat hulle julle van alle kante verwoes en vertrap het, sodat julle vir die oorblyfsel van die nasies ‘n besitting kan wees, en julle in opspraak gekom het en deur die mense beskinder is—
4 daarom, o berge van Israel, hoor die woord van die Here HERE. So spreek die Here HERE tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale, tot die verwoeste puinhope en die verlate stede wat ‘n buit en ‘n spot geword het vir die oorblyfsel van die nasies wat rondom is—
5 daarom, so sê die Here HERE: Waarlik, in die vuur van my ywer spreek Ek teen die oorblyfsel van die nasies en teen die hele Edom wat my land vir hulleself as besitting bestem het—in volle vreugde van die hart, met diepste veragting—sodat die weiveld daarvan ‘n buit sou wees.
6 Daarom, profeteer oor die land van Israel, en spreek tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek spreek in my ywer en in my grimmigheid, omdat julle die smaad van die nasies gedra het.
7 Daarom, so sê die Here HERE, hef Ek my hand op: Waarlik, die nasies wat rondom julle is—hulle sal hul smaad dra.
8 Maar julle, o berge van Israel, sal jul takke gee en jul vrugte dra vir my volk Israel; want hulle koms is naby.
9 Want kyk, Ek kom na julle en wend My na julle toe, en julle sal bewerk en besaai word.
10 En Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, almal saam; en die stede sal bewoon en die puinhope opgebou word.
11 Ja, Ek sal mense en diere op julle vermenigvuldig, en hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees; en Ek sal julle laat bewoon soos in jul voortyd en aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae, en julle sal weet dat Ek die HERE is.
12 En Ek sal mense op julle laat loop, my volk Israel; en hulle sal jou in besit neem, en jy sal vir hulle ‘n erfenis wees en hulle verder nie meer kinderloos maak nie.
13 So spreek die Here HERE: Omdat hulle vir julle sê: ‘n Menseter is jy en een wat sy eie nasie kinderloos maak—
14 daarom sal jy nie meer mense opeet en jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE.
15 En Ek sal nie meer teen jou laat hoor die skimp van die nasies nie, en die smaad van die volke sal jy nie meer dra nie; en jy sal jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE.
16 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
17 Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor my aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid.
18 Daarom het Ek my grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het.
19 En Ek het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande; Ek het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge.
20 En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle my heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van die HERE, en hulle moes uit sy land uittrek.
21 Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil wat die huis van Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het.
22 Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het.
23 En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken.
24 En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring.
25 Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.
26 En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.
27 En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
28 En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees.
29 En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede; en Ek sal roep na die koring en dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie.
30 En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig, sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies nie.
31 Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor jul gruwels.
32 Ek doen dit nie om julle ontwil nie, spreek die Here HERE; laat dit julle bekend wees! Skaam julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel.
33 So sê die Here HERE: In die dag as Ek julle reinig van al jul ongeregtighede, sal Ek die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word.
34 En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit ‘n wildernis is voor die oë van almal wat verbygaan.
35 En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk en bewoon.
36 Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die HERE, opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; Ek, die HERE, het dit gespreek en sal dit doen.
37 So sê die Here HERE: Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape.
38 Soos die geheiligde skape, soos die skape van Jerusalem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 37

1 Die hand van die HERE was op my, en Hy het my uitgebring deur die Gees van die HERE en my neergesit in die laagte; en dit was vol bene.
2 En Hy het my by hulle laat verbygaan na alle kante toe; en kyk, daar het ‘n groot menigte oor die laagte gelê, en kyk, hulle was baie dor.
3 Toe sê Hy vir my: Mensekind, kan hierdie bene lewendig word? En ek antwoord: Here HERE, U weet dit.
4 Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE!
5 So spreek die Here HERE tot hierdie bene: Kyk, Ek bring gees in julle in, sodat julle lewendig kan word.
6 En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en ‘n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
7 Toe het ek geprofeteer soos my beveel was. En sodra ek geprofeteer het, was daar ‘n geruis, en kyk—’n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been.
8 Toe kyk ek en—daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ‘n vel is bo-oor hulle getrek, maar daar was geen gees in hulle nie.
9 Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word.
10 En ek het geprofeteer soos Hy my beveel het. Toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan—’n ontsaglike groot leër!
11 Toe sê Hy vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!
12 Daarom, profeteer en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk! En Ek sal julle bring in die land van Israel.
13 En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle grafte oopmaak en julle uit jul grafte laat opkom, o my volk!
14 En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE.
15 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
16 En jy, mensekind, neem vir jou ‘n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem ‘n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote.
17 Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand.
18 En as die kinders van jou volk met jou spreek en sê: Sal u ons nie te kenne gee wat u met hierdie dinge bedoel nie?
19 sê dan vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem, wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand.
20 So moet dan die houte waar jy op skrywe, in jou hand wees voor hulle oë;
21 en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land.
22 En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie.
23 En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my ‘n volk wees, en Ek vir hulle ‘n God wees.
24 En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel.
25 En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig.
26 En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig.
27 En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle vir my ‘n volk wees.
28 En die nasies sal weet dat Ek die HERE is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees.




Hoofstuk 38

1 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
2 Mensekind, rig jou aangesig teen Gog, in die land Magog, die vors van Ros, Meseg en Tubal, en profeteer teen hom
3 en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal!
4 En Ek sal jou weglok en hake in jou kakebene sit en jou laat uittrek en jou hele leër, perde en ruiters, almal volkome toegerus, ‘n groot menigte met die groot en die klein skild, wat almal die swaard hanteer;
5 Perse, Kusiete en Putéërs saam met hulle, almal met skild en helm;
6 Gomer en al sy leërs, die huis van Togarma, in die uithoeke van die Noorde, en al sy leërs—baie volke saam met jou.
7 Hou jou reg en maak jou klaar, jy en al jou menigtes wat by jou vergader het; en wees vir hulle ‘n leidsman.
8 Ná baie dae sal jy bevel ontvang; aan die einde van die jare sal jy ‘n land intrek wat van die swaard weer reggekom het, wat versamel is uit baie volke, op die berge van Israel wat gedurigdeur as puinhoop daar gelê het—ja, dit is uit die volke uitgebring, en hulle woon almal in veiligheid.
9 Dan sal jy optrek soos ‘n onweer wat aankom, jy sal wees soos ‘n wolk om die land te oordek, jy en al jou leërs en baie volke saam met jou.
10 So sê die Here HERE: In dié dag sal daar gedagtes in jou hart opkom, en jy sal ‘n listige plan beraam
11 en sê: Ek sal optrek teen die land wat ooplê, ek sal kom by rustige mense wat in veiligheid woon; wat almal woon sonder muur en geen grendel of poorte het nie;
12 om buit te maak en roof te rowe, om jou hand uit te steek teen die puinhope wat weer bewoon is, en teen ‘n volk wat uit die nasies versamel is, wat vee en goed verwerf het, wat op die middelpunt van die aarde woon.
13 Skeba en Dedan en die koopmans van Tarsis en al sy jong leeus sal vir jou sê: Kom jy om buit te maak? Het jy jou menigte bymekaar laat kom om roof te rowe? Om silwer en goud weg te dra, om vee en goed weg te neem, om ‘n groot buit te maak?
14 Daarom, profeteer, o mensekind, en sê aan Gog: So spreek die Here HERE: Sal jy dit nie opmerk in dié dag as my volk Israel veilig woon nie?
15 Dan sal jy kom uit jou woonplek, uit die agterhoeke van die Noorde, jy en baie volke saam met jou wat almal op perde ry, ‘n groot menigte en ‘n magtige leër;
16 en jy sal optrek teen my volk Israel soos ‘n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees—dan sal Ek jou teen my land laat aankom, sodat die nasies My kan ken as Ek My in jou, o Gog, voor hulle oë as die Heilige laat ken.
17 So sê die Here HERE: Is jy dit van wie Ek in die voortyd gespreek het deur my knegte, die profete van Israel, wat in dié dae geprofeteer het, jare lank, dat Ek jou teen hulle sal laat aankom?
18 Maar in dié dag, die dag as Gog teen die land van Israel aankom, spreek die Here HERE, sal my grimmigheid in my neus opkom.
19 Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid: Waarlik, in dié dag sal daar ‘n groot aardbewing wees in die land van Israel,
20 sodat van my aangesig af weg sal bewe die visse van die see en die voëls van die hemel en die wilde diere van die veld en al die gedierte wat op die grond kruip, en al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaarstort en al die mure op die aarde val.
21 En Ek sal die swaard oproep teen hom na al my berge, spreek die Here HERE; die swaard van die een sal teen die ander wees.
22 En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is.
23 So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.




Hoofstuk 39

1 En jy, mensekind, profeteer teen Gog en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal.
2 En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel.
3 Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val.
4 Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee.
5 Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE.
6 En Ek sal ‘n vuur slinger in Magog en onder hulle wat in die kuslande veilig woon; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
7 En Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, die Heilige in Israel.
8 Kyk, dit kom en gebeur, spreek die Here HERE. Dit is die dag waarvan Ek gespreek het.
9 En die inwoners van die stede van Israel sal uitgaan en vuur maak en stook met die wapens: klein en groot skilde, met boë en pyle en knopkieries en spiese; en hulle sal daarmee vuur maak sewe jaar lank;
10 sodat hulle geen hout uit die veld sal dra of in die bosse sal kap nie, maar met die wapens vuur sal maak; en hulle sal plunder die wat hulle geplunder het, en berowe die wat hulle beroof het, spreek die Here HERE.
11 En in dié dag sal Ek aan Gog ‘n plek gee waar ‘n graf sal wees in Israel, die dal van die trekkers aan die oostekant van die see, en dit sal vir die deurtrekkers die pad toemaak; en daar sal hulle Gog begrawe en sy hele menigte en dit noem: Die dal van Gog se menigte.
12 En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank.
13 En al die mense van die land sal begrawe, en dit sal hulle roem wees, die dag as Ek My verheerlik, spreek die Here HERE.
14 Ook sal hulle vaste manne afsonder wat die land deurgaan en die trekkers begrawe wat bo-op die grond oorgebly het, om dit te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle ‘n ondersoek instel,
15 en sien een van hulle wat deur die land trek, ‘n mensebeen, dan rig hy daarby ‘n merkteken op, totdat die begrawers dit begrawe het in die dal van Gog se menigte.
16 En ook sal die naam van ‘n stad wees Hamóna. So sal hulle dan die land reinig.
17 En jy, mensekind, so spreek die Here HERE: Sê vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, ‘n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed!
18 Vlees van die helde sal julle eet en bloed van die vorste van die aarde drink—ramme, lammers en bokke en stiere, vetgemaakte diere van Basan almal saam—
19 vet sal julle eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is, van my slagoffer wat Ek vir julle geslag het.
20 En julle sal aan my tafel versadig word van perde en ruiters, van helde en alle soorte krygsmanne, spreek die Here HERE.
21 En Ek sal my heerlikheid onder die nasies bring, en al die nasies sal my strafgerig sien wat Ek voltrek het, en my hand wat Ek op hulle gelê het.
22 En die huis van Israel sal weet dat Ek die HERE hulle God is, van dié dag af en verder.
23 En die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; omdat hulle teen My troubreuk begaan het, het Ek my aangesig vir hulle verberg en hulle in die hand van hul teëstanders oorgegee, sodat hulle almal deur die swaard geval het.
24 Volgens hulle onreinheid en hulle oortredinge het Ek met hulle gehandel en my aangesig vir hulle verberg.
25 Daarom, so sê die Here HERE: Nou sal Ek die lot van Jakob verander en My ontferm oor die hele huis van Israel en ywer vir my heilige Naam.
26 En hulle sal hul smaad vergeet en al hul ontrou wat hulle teen My begaan het, as hulle in hul land veilig woon en daar niemand is wat hulle verskrik nie.
27 As Ek hulle terugbring uit die volke en hulle versamel uit die lande van hulle vyande, sal Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van baie nasies.
28 En hulle sal weet dat Ek, die HERE, hulle God is, daaraan dat Ek hulle in ballingskap laat gaan het na die nasies, maar hulle weer versamel het in hulle land en dáár niemand meer uit hulle agter laat bly het nie.
29 En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Israel uitgegiet het, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 40

1 In die vyf en twintigste jaar van ons ballingskap, in die begin van die jaar, op die tiende van die eerste maand, in die veertiende jaar nadat die stad ingeneem is, op daardie selfde dag, was die hand van die HERE op my, en Hy het my daarheen gebring.
2 In gesigte van God het Hy my in die land van Israel gebring en my neergesit op ‘n baie hoë berg, en daarop iets wat soos ‘n stad gebou was, teen die suide.
3 En Hy het my daarheen gebring; en kyk, daar was ‘n man wat in sy voorkoms soos koper gelyk het; en in sy hand was ‘n linnetou en ‘n meetroede; en hy het by die poort gestaan.
4 En die man het met my gespreek: Mensekind, kyk met jou oë en hoor met jou ore en gee ag op alles wat ek jou sal laat sien; want om jou dit te laat sien, is jy hierheen gebring. Verkondig aan die huis van Israel alles wat jy sien.
5 En kyk, daar was ‘n muur aan die buitekant van die huis al rondom, en in die man se hand was die meetroede van ses el (elkeen was ‘n el en ‘n handbreedte); en hy het die dikte van die bouwerk gemeet: een roede, en die hoogte: een roede.
6 Toe het hy gekom by ‘n poort waarvan die voorkant na die ooste lê, en hy het met sy trappe opgegaan en die drumpel van die poort gemeet: een roede die breedte, en die ander drumpel: een roede die breedte.
7 En elke sykamer: een roede die lengte en een roede die breedte; en tussen die sykamers: vyf el; en die drumpel van die poort langs die voorportaal van die poort aan die binnekant: een roede.
8 Ook het hy die voorportaal van die poort aan die binnekant gemeet: een roede.
9 Toe het hy die voorportaal van die poort gemeet: agt el, en sy deurposte: twee el; die voorportaal van die poort was aan die binnekant.
10 En die sykamers van die poort na die ooste was drie aan die een en drie aan die ander kant; al drie het dieselfde afmeting gehad; ook het die deurposte aan weerskante dieselfde afmeting gehad.
11 Verder het hy die wydte van die poort-ingang gemeet: tien el; die lengte van die poort: dertien el.
12 En daar was ‘n afskorting voor die sykamers van een el aan die een kant, en ‘n afskorting van een el aan die ander kant; en elke kamer was ses el aan die een, en ses el aan die ander kant.
13 Toe het hy die poort gemeet van die dak van die een sykamer af na die dak van die ander toe: die breedte was vyf en twintig el, deur teenoor deur.
14 Ook het hy die deurposte gemaak; sestig el; en die voorhof, al rondom die poort, het gekom tot by die deurposte.
15 En van die voorkant van die ingangspoort af tot by die voorkant van die voorportaal van die binneste poort: vyftig el.
16 En daar was vensters van latwerk in die sykamers ingebou en in hulle deurposte, na binne toe in die poort al rondom; so ook in die voorportale; ja, vensters was al rondom na binne toe, en op die deurposte was palmbome.
17 Verder het hy my in die buitenste voorhof gebring, en kyk, daar was kamers, en rondom die voorhof was ‘n plaveisel gemaak; dertig kamers was op die plaveisel.
18 En die plaveisel was aan die sykant van die poorte, ooreenkomstig die lengte van die poorte; dit was die onderste plaveisel.
19 Toe het hy die breedte gemeet van die voorkant van die onderste poort af tot by die buitenste voorkant van die binneste voorhof: honderd el, aan die ooste— en aan die noordekant.
20 Aangaande die poort wat na die noorde lê, by die buitenste voorhof—hy het sy lengte en sy breedte gemeet.
21 En sy sykamers was drie aan die een en drie aan die ander kant; en sy deurposte en sy voorportaal het dieselfde afmeting gehad as by die eerste poort: vyftig el sy lengte en die breedte vyf en twintig el.
22 En sy vensters en sy voorportaal en sy palmbome het dieselfde afmeting gehad as by die poort waarvan die voorkant na die ooste lê: en ‘n mens kon daarin opklim met sewe trappe; en sy voorportaal was daarvoor.
23 En daar was ‘n poort na die binneste voorhof teenoor die poort na die noorde en na die ooste; en hy het gemeet van poort tot poort: honderd el.
24 Daarop het hy my na die suide laat gaan; en kyk, daar was ‘n poort na die suide; en hy het sy deurposte en sy voorportaal gemeet volgens die vorige afmetinge.
25 En dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom soos die vorige vensters; die lengte was vyftig el en die breedte vyf en twintig el.
26 En sy trap het sewe trappies gehad, en sy voorportaal was daarvoor; en dit het palmbome gehad, een aan die een en een aan die ander kant, op sy deurposte.
27 Ook was daar ‘n poort na die binneste voorhof na die suide; en hy het van poort tot poort gemeet, na die suide: honderd el.
28 Verder het hy my deur die suidpoort gebring na die binneste voorhof; en hy het die suidpoort gemeet: dit het dieselfde afmetinge gehad.
29 En sy sykamers en sy deurposte en sy voorportaal was volgens dié mate; en dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf en twintig el.
30 En daar was voorportale al rondom; die lengte was vyf en twintig el en die breedte vyf el.
31 En sy voorportaal het na die buitenste voorhof gelê; ook was daar palmbome op sy deurposte, en sy trap het agt trappies gehad.
32 Daarop het hy my na die binneste voorhof gebring, na die ooste; en hy het die poort gemeet: dit het dieselfde afmetinge gehad.
33 Ook sy sykamers en sy deurposte en sy voorportaal volgens die vorige afmetinge; en dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf en twintig el.
34 En sy voorportaal het na die buitenste voorhof gelê; ook was daar palmbome op sy deurposte aan weerskante; en sy trap het agt trappies gehad.
35 Daarop het hy my na die noordpoort gebring; en hy het gemeet volgens die vorige afmetinge:
36 sy sykamers, sy deurposte en sy voorportaal; ook het dit vensters gehad al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf en twintig el.
37 En sy voorportaal was na die buitenste voorhof toe; ook was daar palmbome op sy deurposte aan weerskante; en sy trap het agt trappies gehad.
38 En ‘n kamer met sy ingang was by die deurposte by die poorte; daar het hulle die brandoffer afgespoel.
39 En in die voorportaal van die poort was twee tafels aan die een en twee tafels aan die ander kant om daarop die brandoffer en die sondoffer en die skuldoffer te slag.
40 En aan die buitenste symuur, noord van wie na die ingang van die poort opgaan, was twee tafels; en aan die ander symuur wat by die voorportaal van die poort was, twee tafels:
41 vier tafels aan die een en vier tafels aan die ander kant, by die symuur van die poort: agt tafels waar hulle op geslag het.
42 En daar was vier tafels vir die brandoffer, van gekapte klippe, die lengte anderhalf el, en die breedte anderhalf el, en die hoogte een el—daarop het hulle die gereedskap neergesit waarmee hulle die brandoffer en die slagoffer geslag het.
43 En die gaffelvormige hake van ‘n handbreedte was aan die binnekant al rondom bevestig; en op die tafels was die offervleis.
44 En buitekant die binneste poort was twee kamers in die binneste voorhof, een aan die symuur van die noordpoort, met die voorkant na die suide toe; een was aan die symuur van die suidpoort, met die voorkant na die noorde toe.
45 En hy het vir my gesê: Hierdie kamer, waarvan die voorkant na die suide lê, is vir die priesters wat die diens van die huis waarneem.
46 En die kamer waarvan die voorkant na die noorde lê, is vir die priesters wat die diens van die altaar waarneem; dit is die seuns van Sadok wat uit die kinders van Levi na die HERE mag nader kom om Hom te dien.
47 En hy het die voorhof gemeet: die lengte honderd el en die breedte honderd el, ‘n vierkant; en die altaar was voor die huis.
48 Toe het hy my gebring in die voorportaal van die huis; en hy het elke deurpos van die voorportaal gemeet: vyf el aan die een en vyf el aan die ander kant; en die breedte van die poort: drie el aan die een, en drie el aan die ander kant.
49 Die lengte van die voorportaal was twintig el, en die breedte elf el, en dit by die trappe waarmee ‘n mens daarheen opgaan; ook was daar pilare by die deurposte, een aan die een en een aan die ander kant.




Hoofstuk 41

1 Verder het hy my in die hoofvertrek gebring; en hy het die deurposte gemeet: ses el die breedte aan die een en ses el die breedte aan die ander kant, die breedte van die tent.
2 En die breedte van die ingang: tien el, en die symure van die ingang: vyf el aan weerskante; ook het hy die lengte daarvan gemeet: veertig el, en die breedte: twintig el.
3 Daarop het hy ingegaan na die binneste, en hy het die deurpos van die ingang gemeet: twee el, en die ingang: ses el, en die breedte by die ingang: sewe el.
4 Ook het hy die lengte daarvan gemeet: twintig el, en die breedte: twintig el na die kant van die hoofvertrek. En hy het vir my gesê: Dit is die Allerheiligste.
5 En hy het die muur van die huis gemeet: ses el, en die breedte van die aanbousel: vier el, aan alle kante rondom die huis.
6 En die sykamers het in drie verdiepinge bo mekaar gelê, in rye van dertig; en daar was in die muur van die huis rondom inspringinge vir die sykamers, om daarop te dra; maar hulle het nie gedra op die muur van die huis nie;
7 en die omgewende sykamers het op elke verdieping breër geword; die ombou van die huis het steeds hoër opgerys rondom die huis; so het die huis ‘n verbreding na boontoe gekry; en so is uit die onderste na die boonste opgegaan deur die middelste.
8 En ek het gesien aan die huis rondom ‘n verhoging as onderbou van die sykamers; dit was ‘n volle roede hoog: ses el, tot aan die verbinding.
9 Die breedte van die muur wat die sykamers buitentoe gehad het, was vyf el, en so ook wat oopgelaat is, die ruimte vir die sykamers wat by die huis behoort het.
10 En tussen die kamers was ‘n breedte van twintig el, aan alle kante rondom die huis.
11 En die deuropening van die sykamers was na die plek toe wat oopgelaat is: een deur na die noorde en een deur na die suide; en die breedte van die plek wat oopgelaat is: vyf el al rondom.
12 En die bouwerk wat teenoor die afgeslote ruimte na die westekant toe lê, was sewentig el breed, en die muur van die bouwerk vyf el breed al rondom, en die lengte daarvan negentig el.
13 Verder het hy die huis gemeet: die lengte honderd el; ook die afgeslote ruimte en die gebou en die mure daarvan: die lengte honderd el.
14 En die breedte van die voorkant van die huis en van die afgeslote ruimte na die ooste toe: honderd el.
15 So het hy dan gemeet die lengte van die gebou teenoor die afgeslote ruimte, wat aan die agterkant daarvan lê, en die galerye daarvan aan weerskante: honderd el, en die binneste van die tempel en die voorportale van die voorhof;
16 die drumpels en die vensters van latwerk en die galerye rondom al drie—teenoor die drumpel was geskaafde hout al rondom—en die grond tot by die vensters (die vensters was bedek),
17 die plek bokant die deur tot in die binneste huis sowel as buitekant, en op die hele muur al rondom, binnekant en buitekant—oral was daar vaste mate.
18 En aangebring is gérubs en palmbome, en daar was ‘n palmboom tussen gérub en gérub; en elke gérub het twee aangesigte gehad:
19 die aangesig van ‘n mens na die palmboom toe aan die een, en die aangesig van ‘n jong leeu na die palmboom toe aan die ander kant; in die hele huis al rondom is dit aangebring;
20 van die grond af tot bokant die deur is die gérubs en die palmbome aangebring, en wel aan die muur van die hoofvertrek.
21 Die deurposte van die hoofvertrek was vierkantig; en die voorkant van die heiligdom het dieselfde voorkoms gehad.
22 Die altaar was van hout, drie el hoog, en sy lengte twee el, en dit het sy hoekstukke gehad; en sy voetstuk en sy sykante was van hout. En hy het vir my gesê: Dit is die tafel wat voor die aangesig van die HERE is.
23 En die hoofvertrek en die heiligdom het elkeen twee deure gehad.
24 En die deure het twee vleuels gehad, twee vleuels wat kon draai; twee vir die een deur en twee vleuels vir die ander een.
25 En daarop, op die deure van die hoofvertrek, is gérubs en palmbome aangebring soos daar op die mure aangebring is; en daar was ‘n afdak van hout vooraan die voorportaal buitekant.
26 En daar was vensters van latwerk en palmbome aan weerskante aan die symure van die voorportaal; en aan die sykamers van die huis en die afdakke.




Hoofstuk 42

1 Daarna het hy my uitgebring na die buitenste voorhof op die weg na die noorde toe; en hy het my gebring na die kamers wat teenoor die afgeslote ruimte en wat teenoor die bouwerk teen die noorde lê,
2 oor ‘n lengte van honderd el, langs die noordelike ingang, en ‘n breedte van vyftig el.
3 Teenoor die twintig el wat by die binneste voorhof behoort, en teenoor die plaveisel wat by die buitenste voorhof behoort, was galery teenoor galery in drie verdiepinge.
4 En voor die kamers was ‘n gang van tien el breedte, na binnetoe, honderd el lank; en hulle deure was teen die noorde.
5 En die boonste kamers was korter, want die galerye het ruimte van hulle weggeneem in vergelyking met die onderstes en die middelstes in die bouwerk;
6 want hulle het drie verdiepinge gehad, maar geen pilare soos die pilare van die voorhowe nie; daarom is daar ruimte weggeneem in vergelyking met die onderstes en die middelstes, van die grond af.
7 En daar was ‘n muur wat buitekant ewewydig met die kamers geloop het, na die buitenste voorhof toe, vooraan die kamers, vyftig el lank.
8 Want die lengte van die kamers wat na die buitenste voorhof lê, was vyftig el; en kyk, teenoor die tempel was honderd el.
9 En onder hierdie kamers was die ingang van die oostekant af as iemand na hulle toe ingaan uit die buitenste voorhof uit.
10 In die breedte van die muur van die voorhof, na die suide toe, vooraan die afgeslote ruimte en vooraan die bouwerk, was daar kamers,
11 met ‘n weg voor hulle, soos die voorkoms van die kamers wat na die noorde toe lê, net so lank en so breed as hulle, en al die uitgange en inrigtinge soos by hulle. En soos hulle ingange,
12 so was ook die ingange van die kamers wat na die suide lê: ‘n ingang by die begin van die weg, naamlik die weg voor die ooreenkomende muur, na die ooste toe, as ‘n mens na hulle toe aankom.
13 Toe het hy vir my gesê: Die noordelike kamers en die suidelike kamers wat teenoor die afgeslote ruimte lê, hulle is die heilige kamers waar die priesters wat na die HERE nader kom, die hoogheilige gawes moet eet; daar moet hulle die hoogheilige gawes neersit: die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer, want die plek is heilig.
14 As die priesters ingaan, dan mag hulle nie uit die heiligdom uitgaan na die buitenste voorhof nie, maar daar moet hulle hul klere neersit waarin hulle diens gedoen het; want dié is heilig; hulle moet ander klere aantrek en dan nader kom na die ruimte wat vir die volk bestem is.
15 En toe hy klaar was met die mate van die binneste huis, het hy my na die poort toe uitgebring waarvan die voorkant na die ooste lê, en dit gemeet al rondom.
16 Hy het die oostekant met die meetroede gemeet: vyf honderd roede, met die meetroede rondom.
17 Hy het die noordekant gemeet: vyf honderd roede, met die meetroede rondom.
18 Die suidekant het hy gemeet: vyf honderd roede, met die meetroede.
19 Hy het hom begewe na die westekant en gemeet: vyf honderd roede, met die meetroede.
20 Hy het dit aan vier kante gemeet; dit het ‘n muur gehad al rondom; die lengte was vyf honderd en die breedte vyf honderd, om skeiding te maak tussen wat heilig en onheilig is.




Hoofstuk 43

1 Toe het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk.
2 En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid.
3 En die gesig wat ek gesien het, het gelyk soos die gesig wat ek gesien het by my koms om die stad te verwoes; en dit was gesigte soos die gesig wat ek gesien het by die Kebarrivier; en ek het op my aangesig geval.
4 En die heerlikheid van die HERE het in die huis ingetrek deur die poort waarvan die voorkant na die ooste lê.
5 En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die HERE het die huis vervul.
6 En ek het Een gehoor wat met my spreek uit die huis, terwyl die man by my staan.
7 En Hy het vir my gesê: Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole waar Ek vir ewig sal woon onder die kinders van Israel; en die huis van Israel sal my heilige Naam nie meer verontreinig nie, hulle en hulle konings met hulle hoerery en met die lyke van hulle konings, by hulle dood;
8 deurdat hulle hul drumpel by my drumpel gemaak het en hul deurpos langs my deurpos, sodat net die muur tussen My en hulle was; en hulle het my heilige Naam verontreinig met hulle gruwels wat hulle bedryf het, sodat Ek hulle in my toorn verteer het.
9 Nou sal hulle hul hoerery en die lyke van hul konings ver van My af verwyder; en Ek sal vir ewig onder hulle woon.
10 Jy, o mensekind, vertel die huis van Israel van die huis, sodat hulle beskaamd kan staan vanweë hul ongeregtighede, en laat hulle die voorbeeld nameet.
11 En as hulle beskaamd staan oor alles wat hulle gedoen het, maak hulle dan bekend die vorm van die huis en sy inrigting en sy uitgange en sy ingange en al sy vorme en al sy verordeninge, ja, al sy vorme en al sy wette; en skrywe dit voor hulle oë op, sodat hulle sy hele vorm kan bewaar en al sy verordeninge en dié kan uitvoer.
12 Dit is die wet van die huis: Op die top van die berg sal sy hele gebied al rondom hoogheilig wees. Kyk, dit is die wet van die huis.
13 En dit is die afmetinge van die altaar in elle (die el is ‘n el en ‘n handbreedte): die voetlaag ‘n el hoog en ‘n el die breedte; en die opstaande rand daarvan aan die buitekant daarvan rondom: een span; en dit is die onderbou van die altaar.
14 En van die voetlaag op die grond tot by die onderste omlysting: twee el, en die breedte: een el; en van die kleinste omlysting tot by die grootste omlysting: vier el, en die breedte: een el.
15 En die vuurherd: vier el; en van die vuurherd af en boontoe die horings, vier in getal.
16 En die vuurherd: twaalf el lank by twaalf el breed, vierkantig na sy vier kante.
17 En die omlysting: veertien el lengte by veertien el breedte na sy vier kante toe; en die opstaande rand daar rondom: ‘n half-el; en die voetlaag daaraan: ‘n el rondom; en sy trappe het oos gekyk.
18 En hy het vir my gesê: Mensekind, so spreek die Here HERE: Dit is die verordeninge van die altaar: Op die dag as dit gemaak word om brandoffers daarop te bring en om bloed daarteen uit te gooi,
19 moet jy aan die Levitiese priesters wat uit die geslag van Sadok is, wat na My mag nader kom—spreek die Here HERE—om My te dien, ‘n jong bul gee as sondoffer.
20 En jy moet van sy bloed neem en dit stryk aan die vier horings daarvan en aan die vier hoeke van die omlysting en aan die opstaande rand rondom; so moet jy dit dan ontsondig en versoening daarvoor bewerk.
21 Dan moet jy die sondofferbul neem, en hulle moet hom verbrand in die daarvoor bestemde plek van die huis, buitekant die heiligdom.
22 En op die tweede dag moet jy ‘n bokram sonder gebrek as sondoffer bring; en hulle moet die altaar ontsondig soos hulle dit met die bul ontsondig het.
23 As jy klaar is met die ontsondiging, moet jy ‘n jong bul sonder gebrek en ‘n ram sonder gebrek uit die kleinvee bring.
24 En jy moet hulle bring voor die aangesig van die HERE; en die priesters moet sout daarop strooi en dit as brandoffer aan die HERE bring.
25 Sewe dae lank moet jy daagliks die sondofferbok gereedmaak; ook moet hulle ‘n jong bul en ‘n ram uit die kleinvee, altwee sonder gebrek, berei.
26 Sewe dae lank moet hulle vir die altaar versoening bewerk en dit reinig en dit inwy.
27 En hulle moet die dae voleindig; dan moet die priesters op die agtste dag en verder julle brandoffers en julle dankoffers op die altaar berei; en Ek sal ‘n behae in julle hê, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 44

1 Toe het hy my teruggebring na die buitenste poort van die heiligdom wat na die ooste kyk; en dit was gesluit.
2 En die HERE het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die HERE, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly.
3 Wat betref die vors, hy moet as vors daarin sit om brood te eet voor die aangesig van die HERE; van die voorportaal van die poort af moet hy ingaan en op dieselfde weg daar uitgaan.
4 Daarop het hy my gebring na die noordpoort, aan die voorkant van die huis; ek kyk toe en sien dat die heerlikheid van die HERE die huis van die HERE vervul; toe het ek op my aangesig geval.
5 En die HERE het vir my gesê: Mensekind, gee ag daarop en kyk met jou oë en hoor met jou ore alles wat Ek jou sal sê aangaande al die verordeninge van die huis van die HERE en al die wette daarvan; en gee ag op die ingang in die huis deur al die uitgange van die heiligdom.
6 En sê aan die wederstrewiges, aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Laat dit genoeg wees met al julle gruwels, o huis van Israel!
7 Omdat julle uitlanders ingebring het, onbesnedenes van hart en onbesnedenes van vlees, om in my heiligdom te wees, om dit, my huis, te ontheilig; toe julle my brood, vet en bloed gebring, en hulle my verbond verbreek het by al julle gruwels.
8 En julle het die diens van my heilige gawes nie waargeneem nie, maar het hulle aangestel om my diens in my heiligdom vir julle waar te neem.
9 So sê die Here HERE: Geen uitlander, onbesnede van hart en onbesnede van vlees, mag in my heiligdom ingaan, van al die uitlanders wat onder die kinders van Israel is nie.
10 Maar die Leviete wat ver van My afgewyk het by die afdwaling van Israel, wat van My af weggedwaal het agter hulle drekgode aan, hulle moet hul ongeregtigheid dra:
11 hulle moet dienaars wees in my heiligdom, as wagte by die poorte van die huis en bedienaars van die huis; hulle moet die brandoffer en die slagoffer vir die volk slag en voor hulle staan om hulle te dien.
12 Omdat hulle hul gedien het voor hulle drekgode en vir die huis van Israel ‘n struikelblok tot ongeregtigheid was, daarom het Ek my hand teen hulle opgehef, spreek die Here HERE, sodat hulle hul ongeregtigheid moet dra.
13 En hulle mag nie nader kom na My toe om die priesteramp vir My te bedien nie en om nader te kom na al my heilige gawes, na die hoogheilige gawes nie; maar hulle moet hul skande dra en hul gruwels wat hulle bedryf het.
14 Dus sal Ek hulle aanstel om die diens van die huis waar te neem, vir die hele bediening daarvan en vir alles wat daarin gedoen moet word.
15 Maar die Levitiese priesters, die kinders van Sadok, wat die diens van my heiligdom waargeneem het toe die kinders van Israel van My af weggedwaal het, hulle moet na My toe nader kom om My te dien en voor my aangesig staan om aan My die vet en die bloed te offer, spreek die Here HERE.
16 Hulle moet in my heiligdom ingaan, en hulle moet na my tafel toe nader kom om My te dien en my diens waarneem.
17 En as hulle na die poorte van die binneste voorhof ingaan, moet hulle linneklere aantrek; maar wol mag op hulle nie kom as hulle dien in die poorte van die binneste voorhof en daar binnekant nie.
18 Linne-hoofversiersels moet op hulle hoof wees en linnebroeke moet aan hulle heupe wees; hulle mag hul nie gord met iets wat laat sweet nie.
19 En as hulle uitgaan na die buitenste voorhof, na die buitenste voorhof na die volk toe, moet hulle hul klere uittrek waar hulle in gedien het, en dit neersit in die heilige kamers, en hulle moet ander klere aantrek, sodat hulle die volk nie heilig maak met hul klere nie.
20 En hulle moet hul hoof nie kaal skeer of die hare lank laat groei nie; behoorlik moet hulle hul hoofde skeer.
21 Ook mag geen priester wyn drink as hy in die binneste voorhof ingaan nie.
22 Ook mag hulle geen weduwee of een wat verstoot is, vir hulle as vrou neem nie; maar jongmeisies uit die geslag van die huis van Israel of ‘n weduwee wat deur ‘n priester as weduwee agtergelaat is, mag hulle neem.
23 En hulle moet my volk die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is, en hulle bekend maak die onderskeid tussen wat onrein en rein is.
24 En oor ‘n regsaak moet hulle optree om reg te spreek, volgens my verordeninge moet hulle dit uitoefen; en hulle moet my wette en my insettinge hou op al my feestye en my sabbatte heilig.
25 En hy mag by ‘n lyk nie kom, sodat hy onrein word nie; net maar aan ‘n vader of ‘n moeder of ‘n seun of ‘n dogter, aan ‘n broer of ‘n suster wat nie aan ‘n man toebehoort nie, mag hulle hul verontreinig.
26 En ná sy reiniging moet hulle vir hom sewe dae tel.
27 En op die dag as hy in die heiligdom ingaan, in die binneste voorhof, om in die heiligdom te dien, moet hy sy sondoffer bring, spreek die Here HERE.
28 En dit sal vir hulle ‘n erfdeel wees: Ek is hulle erfdeel; en julle mag aan hulle geen besitting in Israel gee nie: Ek is hulle besitting.
29 Die spysoffer en die sondoffer en die skuldoffer, dié moet hulle eet; en alles wat in Israel onder die ban is, moet vir hulle wees.
30 En die beste van al die eerstelinge van alles en elke offergawe van alles, van al julle offergawes, moet vir die priesters wees; ook moet julle die eerstelinge van julle growwe meel aan die priester gee, om ‘n seën op jou huis te laat rus.
31 Geen aas of iets wat verskeur is, van voëls of van vee, mag die priesters eet nie.




Hoofstuk 45

1 En as julle die land as erflike besitting verdeel, moet julle ‘n offergawe aan die HERE afgee, ‘n heilige plek uit die land; aangaande die lengte: vyf en twintig duisend el die lengte, en die breedte: twintig duisend; dit moet in sy hele omvang rondom heilig wees.
2 Hiervan moet vir die heiligdom wees vyf honderd by vyf honderd el, ‘n vierkant rondom; en dit moet ‘n oop veld hê van vyftig el rondom.
3 En van dié stuk wat afgemeet is, moet jy meet ‘n lengte van vyf en twintig duisend el, en ‘n breedte van tien duisend; en daarin moet die heiligdom, die Allerheiligste, lê.
4 Dit moet die heilige plek wees uit die land; dit moet wees vir die priesters wat die heiligdom bedien, wat nader kom om die HERE te dien; en dit moet vir hulle dien as ruimte vir huise en ‘n heiligdom vir die heiligdom.
5 En vyf en twintig duisend el in lengte en tien duisend in breedte moet die stuk vir die Leviete, die dienaars van die huis, wees—’n besitting vir hulle, as stede om in te woon.
6 En as besitting van die stad moet julle gee ‘n breedte van vyf duisend en ‘n lengte van vyf en twintig duisend el langs die heilige offergawe; vir die hele huis van Israel moet dit wees.
7 En vir die vors: aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die heilige offergawe en langs die stadsbesitting, aan die westekant na die weste en aan die oostekant na die ooste; en die lengte moet wees ooreenkomstig een van die stamgedeeltes, van die westelike grens na die oostelike grens.
8 Aangaande die grond, dit sal aan hom behoort as besitting in Israel, en my vorste sal my volk nie meer verdruk nie, maar aan die huis van Israel die land oorlaat volgens hulle stamme.
9 So sê die Here HERE: Dit is nou genoeg, o vorste van Israel! Verwyder geweld en verdrukking, en doen reg en geregtigheid; hou op om my volk uit hulle besittings te verdring, spreek die Here HERE.
10 Julle moet ‘n regte weegskaal hê en ‘n regte efa en ‘n regte bat.
11 ‘n Efa en ‘n bat moet ‘n vaste maat hê, sodat ‘n bat die tiende van ‘n homer bevat; ook ‘n efa die tiende van ‘n homer; die reëling daarvan moet wees volgens die homer.
12 En die sikkel moet twintig gera wees; twintig sikkels, vyf en twintig sikkels, vyftien sikkels moet vir julle ‘n mine wees.
13 Dit is die offergawe wat julle moet afgee: die sesde van ‘n efa van ‘n homer koring; ook die sesde van ‘n efa van ‘n homer gars.
14 En die bestemde deel van olie, van ‘n bat olie: die tiende van ‘n bat uit ‘n kor, dit is tien bat, ‘n homer; want tien bat is ‘n homer.
15 Verder van die kleinvee: een stuk uit twee honderd, uit die waterryke weiveld van Israel—as spysoffers en brandoffers en dankoffers om versoening vir hulle te doen, spreek die Here HERE.
16 Al die mense van die land moet deel hê aan hierdie offergawe vir die vors in Israel.
17 En op die vors rus die verpligting van die brandoffers en die spysoffer en die drankoffer op die feeste en op die nuwemane en op die sabbatte, op al die feestye van die huis van Israel; hy moet die sondoffer en die spysoffer en die brandoffer en die dankoffers berei, om versoening te doen vir die huis van Israel.
18 So sê die Here HERE: In die eerste maand, op die eerste van die maand, moet jy ‘n jong bul sonder gebrek neem en die heiligdom ontsondig.
19 En die priester moet van die bloed van die sondoffer neem en dit aan die deurposte van die huis stryk en aan die vier hoeke van die omlysting van die altaar en aan die deurposte van die poort van die binneste voorhof.
20 So moet jy ook doen op die sewende in die maand ter wille van die wat hulle uit swakheid of uit onwetendheid misgaan het; so moet julle dan vir die huis versoening doen.
21 In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, moet vir julle die pasga wees; op die sewedaagse fees moet ongesuurde brode geëet word.
22 En die vors moet op dié dag vir homself en vir die hele volk van die land ‘n sondofferbul berei.
23 En die sewe dae van die fees moet hy daagliks as brandoffer aan die HERE gereedmaak sewe bulle en sewe ramme sonder gebrek, gedurende die sewe dae, en daagliks ‘n bokram as sondoffer.
24 Ook moet hy as spysoffer berei ‘n efa vir ‘n bul en ‘n efa vir ‘n ram en ‘n hin olie vir ‘n efa.
25 In die sewende maand, op die vyftiende dag van die maand, moet hy op die fees dieselfde offers gereedmaak gedurende die sewe dae: dieselfde sondoffer, dieselfde brandoffer en dieselfde spysoffer en dieselfde olie.




Hoofstuk 46

1 So sê die Here HERE: Die poort van die binneste voorhof wat na die ooste kyk, moet gedurende die ses werkdae gesluit wees; maar op die sabbatdag moet dit oopgemaak word; ook moet dit op die dag van die nuwemaan oopgemaak word.
2 En die vors moet deur die voorportaal van die poort van buite af ingaan en by die deurpos van die poort gaan staan, en die priesters moet sy brandoffer en sy dankoffers berei; en hy moet aanbid by die drumpel van die poort en dan uitgaan; maar die poort moet nie gesluit word tot die aand toe nie.
3 Ook moet die volk van die land aanbid voor die ingang van dié poort, op die sabbatte en op die nuwemane, voor die aangesig van die HERE.
4 En die brandoffer wat die vors aan die HERE moet bring op die sabbatdag, is ses lammers sonder gebrek en ‘n ram sonder gebrek;
5 en die spysoffer: ‘n efa vir die ram; maar vir die lammers moet die spysoffer wees wat sy hand kan gee; en ‘n hin olie vir ‘n efa.
6 Maar op die dag van die nuwemaan: ‘n jong bul sonder gebrek en ses lammers en ‘n ram—sonder gebrek moet hulle wees;
7 en as spysoffer moet hy gereedmaak: ‘n efa vir die bul en ‘n efa vir die ram, maar vir die lammers volgens wat hy kan bekostig; en ‘n hin olie vir ‘n efa.
8 En as die vors ingaan, moet hy deur die voorportaal van die poort ingaan en met dieselfde weg weer uitgaan.
9 Maar as die volk van die land voor die aangesig van die HERE kom op die feestye, moet hy wat deur die noordpoort ingaan om te aanbid, deur die suidpoort uitgaan; en hy wat deur die suidpoort ingaan, moet deur die noordpoort uitgaan; hy mag nie teruggaan deur die poort waardeur hy ingegaan het nie, maar moet reguit vorentoe uitgaan.
10 En die vors moet tussen hulle ingaan as hulle ingaan; en as hulle uitgaan, moet hy saam uitgaan.
11 Verder moet op die feeste en op die feestye die spysoffer wees: ‘n efa vir ‘n bul en ‘n efa vir ‘n ram, maar vir die lammers, wat sy hand kan gee; en ‘n hin olie vir ‘n efa.
12 En as die vors ‘n vrywillige offer gereedmaak, ‘n brandoffer of dankoffers as vrywillige offer aan die HERE, dan moet hulle vir hom die poort oopmaak wat na die ooste kyk; en hy moet sy brandoffer en sy dankoffers berei soos hy op die sabbatdag doen; en as hy uitgaan, moet hulle die poort sluit nadat hy uitgegaan het.
13 Verder moet jy ‘n jaaroud lam sonder gebrek daagliks berei as brandoffer aan die HERE; elke môre moet jy dit berei.
14 En jy moet elke môre daarby as spysoffer gereedmaak: ‘n sesde van ‘n efa en ‘n derde van ‘n hin olie om die fynmeel te bevogtig, as spysoffer aan die HERE—ewige insettinge, altyddeur.
15 So moet hulle dan die lam en die spysoffer en die olie elke môre berei as ‘n voortdurende brandoffer.
16 So sê die Here HERE: As die vors aan een van sy seuns ‘n geskenk gee van sy erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis.
17 Maar as hy van sy erfdeel ‘n geskenk aan een van sy dienaars gee, dan sal dit syne wees tot by die jaar van vrylating; dan moet dit aan die vors terugval; net vir sy seuns moet sy erfdeel wees.
18 En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul besitting te verdring nie; van sy besitting moet hy aan sy seuns ‘n erfdeel gee, sodat my volk nie verstrooi word elkeen uit sy besitting nie.
19 Daarop het hy my gebring deur die ingang wat by die symuur van die poort was, na die heilige kamers vir die priesters wat na die noorde kyk; en kyk, daar was ‘n plek aan die agterkant, na die weste toe.
20 En hy het vir my gesê: Dit is die plek waar die priesters die skuldoffer en die sondoffer moet kook, waar hulle die spysoffer moet bak, dat hulle dit nie uitbring in die buitenste voorhof waardeur hulle die volk sou heilig nie.
21 Toe het hy my uitgebring in die buitenste voorhof en my verder gelei na die vier hoeke van die voorhof; en kyk, in elke hoek van die voorhof was daar nog ‘n voorhof.
22 In die vier hoeke van die voorhof was daar afgeslote voorhowe, veertig el die lengte en dertig die breedte; al vier die hoekruimtes het dieselfde afmeting gehad.
23 En daar was ‘n ringmuur in hulle rondom, om al vier, en daar is kookplekke gemaak onderaan die ringmure rondom.
24 En hy het vir my gesê: Dit is die kookhuis waar die dienaars van die huis die slagoffer van die volk moet kook.




Hoofstuk 47

1 Daarna het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar.
2 En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit.
3 Toe die man na die ooste uitgegaan het met ‘n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan—waters tot aan die enkels.
4 Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan—waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan—waters tot aan die heupe.
5 Verder het hy nog duisend gemeet—’n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys—waters om in te swem, ‘n stroom waar ‘n mens nie deur kan loop nie.
6 En hy het vir my gesê: Het jy dit gesien, mensekind? Toe het hy my weer terug laat loop aan die kant van die stroom.
7 Terwyl ek teruggaan, kyk, toe het ek aan die kant van die stroom ‘n menigte bome gesien, aan altwee kante.
8 En hy het vir my gesê: Hierdie waters vloei weg na die oostelike landstreek en loop in die Vlakte af en gaan na die see; in die see word dit uitgelei, sodat die waters daarvan gesond kan word.
9 En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal ‘n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom.
10 Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by en Eglaim: ‘n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, ‘n menigte.
11 Die moerasse en kuile daarvan—húlle sal nie gesond word nie: vir sout is hulle bestem.
12 En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan—uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.
13 So sê die Here HERE: Dit moet die grondgebied wees waarin julle die land as erfdeel sal verwerf volgens die twaalf stamme van Israel—vir Josef twee dele.
14 En julle moet dit erwe, die een soos die ander, omdat Ek my hand opgehef het om dit aan julle vaders te gee; en hierdie land moet julle as erfenis toeval.
15 En dit moet die grens van die land wees: aan die noordekant van die Groot See af, langs die weg van Hetlon, tot by die ingang na Sedad toe:
16 Hamat, Berota, Sibraim, wat tussen die gebied van Damaskus en die gebied van Hamat lê, die middelste Haser, wat op die grens van Hauran is.
17 So moet dan die grens van die See af wees tot by Hasar-Enon, die gebied van Damaskus, en wat die noorde betref noordwaarts, is Hamat die grens; dit is die noordekant.
18 En aan die oostekant: tussen Hauran en Damaskus en Gílead en die land van Israel uit—die Jordaan; van dié grens af tot by die Oostelike See moet julle dit meet; dit is die oostekant.
19 En aan die suidekant na die suide toe van Tamar af tot by die twiswaters van Kades, dan na die spruit van Egipte tot by die Groot See; dit is die suidekant na die suide toe.
20 En aan die westekant die Groot See, van die grens af tot reg teenoor die plek waar die ingang na Hamat is; dit is die westekant.
21 En julle moet hierdie land aan julle uitdeel volgens die stamme van Israel.
22 En julle moet dit as erfenis laat toeval aan julle en aan die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat kinders onder julle verwek het; en hulle sal vir julle wees soos ‘n kind van die land onder die kinders van Israel; saam met julle moet hulle ‘n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel.
23 En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.




Hoofstuk 48

1 En dit is die name van die stamme. Aan die noordekant langs die weg van Hetlon na die ingang van Hamat en Hasar-Enan aan die grens van Damaskus, na die noorde toe langs Hamat—hy moet die ooste en die westekant hê—Dan een deel.
2 En naas die gebied van Dan, van die oostekant af tot by die westekant: Aser een deel.
3 En naas die gebied van Aser, van die oostekant af tot by die westekant: Náftali, een.
4 En naas die gebied van Náftali, van die oostekant af tot by die westekant: Manasse, een.
5 En naas die gebied van Manasse, van die oostekant af tot by die westekant: Efraim, een.
6 En naas die gebied van Efraim, van die oostekant af tot by die westekant: Ruben, een.
7 En naas die gebied van Ruben, van die oostekant af tot by die westekant: Juda, een.
8 En naas die gebied van Juda, van die oostekant af tot by die westekant, moet die offergawe wees wat julle moet afgee: vyf en twintig duisend el breed en net so lank as een van die dele, van die oostekant af tot by die westekant; en die heiligdom moet in die middel daarvan wees.
9 Die offergawe wat julle aan die HERE moet afgee, moet vyf en twintig duisend el lank wees en tien duisend breed.
10 En aan hulle, aan die priesters, moet die heilige offergawe toebehoort: teen die noorde ‘n lengte van vyf en twintig duisend el en teen die weste ‘n breedte van tien duisend en teen die ooste ‘n breedte van tien duisend en teen die suide ‘n lengte van vyf en twintig duisend; en die heiligdom van die HERE moet in die middel daarvan wees.
11 Dit moet wees vir die priesters wat geheilig is, die seuns van Sadok, wat my verordening onderhou het, wat nie afgedwaal het by die afdwaling van die kinders van Israel soos die Leviete afgedwaal het nie.
12 So moet dit dan vir hulle ‘n offergawe wees uit die offergawe van die land, iets hoogheiligs, op die grens van die Leviete.
13 Verder moet die Leviete, ewewydig met die grens van die priesters, ontvang ‘n lengte van vyf en twintig duisend el en ‘n breedte van tien duisend; die hele lengte moet wees vyf en twintig duisend en die breedte tien duisend.
14 En hulle mag niks daarvan verkoop of verruil nie, en die beste van die land mag nie in ander hande oorgaan nie; want dit is heilig aan die HERE.
15 Maar die vyf duisend wat in die breedte oorgebly het, langs die vyf en twintig duisend—dit sal gewone land wees, bestem vir die stad as woonplek en oop veld; en die stad moet in die middel daarvan wees.
16 En dit is die afmetinge daarvan: die noordekant, vier duisend vyf honderd el; en die suidekant, vier duisend vyf honderd; en die oostekant, vier duisend vyf honderd; en die westekant, vier duisend vyf honderd.
17 En as oop veld moet by die stad behoort: Teen die noorde, twee honderd en vyftig el; en teen die suide, twee honderd en vyftig; en teen die ooste, twee honderd en vyftig; en teen die weste, twee honderd en vyftig.
18 En wat oorgebly het in die lengte, ewewydig met die heilige offergawe, tien duisend teen die ooste en tien duisend teen die weste—dit moet ewewydig wees met die heilige offergawe; en die opbrings daarvan sal as onderhoud dien vir die werksmense van die stad.
19 En wat die werksmense van die stad betref—uit al die stamme van Israel moet hulle dit bewerk.
20 Die hele offergawe moet wees vyf en twintig duisend el by vyf en twintig duisend—vierkantig moet julle die heilige offergawe afgee saam met die stadsbesitting.
21 En wat oorbly, behoort aan die vors, aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die vyf en twintig duisend, die offergawe, tot by die grens teen die ooste, en na die weste toe langs die vyf en twintig duisend tot by die grens teen die weste, net so lank as die stamgedeeltes—dit behoort aan die vors; en die heilige offergawe en die heiligdom van die huis moet in die middel daarvan wees.
22 En van die besitting van die Leviete en die besitting van die stad af, wat in die middel lê van wat die vors s’n is, tussen die grens van Juda en die grens van Benjamin, moet alles aan die vors behoort.
23 Verder die ander stamme. Van die oostekant af tot by die westekant: Benjamin een deel.
24 En naas die gebied van Benjamin, van die oostekant af tot by die westekant: Símeon, een.
25 En naas die gebied van Símeon, van die oostekant af tot by die westekant: Issaskar, een.
26 En naas die gebied van Issaskar, van die oostekant af tot by die westekant: Sébulon, een.
27 En naas die gebied van Sébulon, van die oostekant af tot by die westekant: Gad, een.
28 En naas die gebied van Gad, aan die suidekant na die suide toe, moet die grens wees van Tamar af na die twiswaters van Kades en na die spruit van Egipte tot by die Groot See.
29 Dit is die land wat julle as erfenis moet laat toekom aan die stamme van Israel, en dit is hulle gedeeltes, spreek die Here HERE.
30 En dit is die uitgange van die stad: aan die noordekant vier duisend vyf honderd el lengtemaat.
31 En die poorte van die stad moet wees volgens die name van die stamme van Israel; drie poorte teen die noorde: die poort van Ruben, een; die poort van Juda, een; die poort van Levi, een.
32 En na die oostekant vier duisend vyf honderd el; en drie poorte, naamlik: die poort van Josef, een; die poort van Benjamin, een; die poort van Dan, een.
33 En die suidekant vier duisend vyf honderd lengtemaat; en drie poorte: die poort van Símeon, een; die poort van Issaskar, een; die poort van Sébulon, een.
34 Die westekant vier duisend vyf honderd; hulle poorte drie: die poort van Gad, een; die poort van Aser, een; die poort van Náftali, een;
35 rondom agttien duisend el; en die naam van die stad sal van vandag af wees: Die HERE is daar!