Nahum

Hoofstuk: 1 2 3


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Godspraak oor Ninevé. Die boek van die gesig van Nahum, die Élkosiet.
2 ‘n Jaloerse God en ‘n wreker is die HERE, ‘n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; ‘n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande.
3 Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete.
4 Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog; Basan en Karmel kwyn weg, en die groenigheid van die Líbanon verwelk.
5 Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon.
6 Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.
7 Die HERE is goed, ‘n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil.
8 Maar met ‘n oorstromende vloed maak Hy ‘n einde aan die plek van die stad, en sy vyande vervolg Hy die duisternis in.
9 Wat wil julle beraam teen die HERE? Hy maak daar ‘n einde aan; die benoudheid sal nie twee maal opkom nie.
10 Want al is hulle saamgevleg soos dorings, en soos hulle drank so deur en deur nat—hulle sal soos droë stoppels volkome verteer word.
11 Van jou, o stad, het een uitgegaan wat kwaad teen die HERE beraam het, wat verderflike planne gemaak het.
12 So sê die HERE: Al is hulle ook in volle krag en só groot in getal, tog sal hulle net só afgemaai word en vergaan. (Ek het jou verneder, Ek sal jou nie meer verneder nie;
13 maar nou sal Ek sy juk van jou af verbreek en jou stroppe stukkend ruk.)
14 Maar die HERE sal dit oor jóu verorden: Van jou naam sal daar nie meer gesaai word nie; Ek sal uit die huis van jou god uitroei die gesnede en die gegote beelde; Ek sal vir jou ‘n graf maak, want jy is te lig bevind.
15 Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor: Vier jou feesdae, o Juda, betaal jou geloftes! Want die snoodaard sal nooit weer deur jou gebied trek nie; hy is heeltemal uitgeroei!




Hoofstuk 2

1 ‘n Verwoester trek teen jou op; bewaak die vesting, kyk uit langs die weg, versterk die lendene, versterk jou met alle mag!
2 Want die HERE herstel die heerlikheid van Jakob net soos die heerlikheid van Israel; want plunderaars het hulle geplunder en hulle wingerdlote verniel.
3 Die skild van sy helde is rooi geverf, die dapper manne in skarlaken gekleed, die strydwaens skitter met die glans van staal op die dag as hy hom gereedmaak, en die spiese word geswaai.
4 Langs die paaie raas die strydwaens, hulle jaag rond oor die vlaktes; hulle voorkoms is soos fakkels, soos bliksemstrale skiet hulle heen en weer.
5 Hy dink aan sy vername manne; hulle struikel in hul vaart, hulle hardloop na die muur waar die stormdak opgerig staan.
6 Die poorte van die riviere word oopgemaak, en die paleis smelt weg.
7 En dit is beslis: die stad word ontbloot, sy word weggevoer, en haar slavinne klae soos die stem van duiwe en slaan op hulle bors.
8 En Ninevé is soos ‘n vywer van waters, al die dae van haar bestaan. Maar hulle loop weg! Staan tog, staan! Maar daar is niemand wat omdraai nie.
9 Roof silwer, roof goud! En onuitputlik is die voorraad, ‘n rykdom van allerhande kosbare dinge!
10 Leegheid, ontlediging, vernieling! En die hart versmelt, en knieë wankel, en in al die lendene is krampe, en die aangesig van hulle almal word bleek.
11 Waar is die lêplek van die leeus, wat die voedingsplek was van die jong leeus? Waar die leeu, die leeuin, die klein leeutjie rondgeloop het sonder dat iemand hulle skrikmaak?
12 Die leeu wat vir sy kleintjies geroof en vir sy leeuinne gewurg het, wat sy gate met roof gevul het en sy lêplekke met buit.
13 Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die HERE van die leërskare, en Ek laat jou strydwaens in rook opgaan; en die swaard sal jou jong leeus verslind, en Ek sal jou roof van die aarde verdelg; en die stem van jou gesante sal nie meer gehoor word nie.




Hoofstuk 3

1 Wee die bloedstad wat louter bedrog, vol geweld is, terwyl rowery nie ophou nie!
2 Hoor, die sweep! En hoor, die gedreun van wiele! En perde wat jaag, en waens wat stamp!
3 Ruiters op ‘n galop en geglinster van swaarde en geblits van spiese! En ‘n menigte wat verslaan is, en hope dooies en geen einde aan die lyke nie—’n mens struikel oor hulle lyke!
4 Weens die veelheid van die hoererye van die hoer vol bevalligheid, ‘n meesteres in towerkunste, wat nasies met haar hoererye verkoop het en volkstamme met haar towerkunste.
5 Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal jou slippe optel oor jou aangesig en nasies jou naaktheid laat sien en koninkryke jou skande.
6 En Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou ‘n skouspel maak,
7 sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Ninevé! Wie sal met haar medelyde hê? Waar sal ek troosters vir jou gaan soek?
8 Is jy beter as No-Amon wat gelê het aan die Nylstrome, met waters rondom hom; wie se voorskans die groot water was, waters sy muur?
9 Kus was sy krag en Egiptenaars sonder getal, Putéërs en Líbiërs was jou tot hulp.
10 Nogtans het dit as gevangene in ballingskap gegaan; nogtans is sy kinders by al die straathoeke verpletter, en oor sy edeles is die lot gewerp, en al sy groot manne is met kettings geboei.
11 Ook jy sal dronk word, beneweld wees, ook jy sal ‘n toevlug soek teen die vyand.
12 Al jou vestings is vyebome met voorvye: as ‘n mens skud, val hulle in die mond van die eter.
13 Kyk, jou volk binne-in jou is soos vroue, die poorte van jou land is wyd oopgemaak vir jou vyande, die vuur het jou grendels verteer.
14 Skep vir jou water vir die beleëring, versterk jou vestings, gaan in die modder en trap klei, gryp die steenvorm.
15 Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei, jou verslind net soos voetgangersprinkane. Al vermenigvuldig jy soos voetgangers, al vermenigvuldig jy soos treksprinkane;
16 al het jy jou koopmans meer gemaak as die sterre aan die hemel—die voetgangers vervel en vlieg weg!
17 Jou wagters is soos treksprinkane, en jou amptenare is soos swerms sprinkane wat op ‘n koue dag op die heining sit—die son breek deur, en hulle vlieg weg, en niemand weet waar hulle beland het nie.
18 Jou herders sluimer, o koning van Assur, jou edeles lê daar, jou volk is op die berge verstrooi, en niemand versamel hulle nie.
19 Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik; almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?