Die handelinge van die apostels - Acts

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het
2 tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het;
3 aan wie Hy ook, ná sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het.
4 En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het.
5 Want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank ná hierdie dae nie.
6 Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?
7 En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;
8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.
9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
10 En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,
11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.
12 Daarop draai hulle om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg, wat naby Jerusalem is, ‘n sabbatsreis ver.
13 En toe hulle daar kom, gaan hulle na die bo-vertrek waar hulle gewoond was om te vertoef, naamlik: Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas, Filippus en Thomas, Bartholoméüs en Matthéüs, Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon, die Yweraar, en Judas, die seun van Jakobus.
14 Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ‘n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.
15 En in dié dae het Petrus in die midde van die dissipels opgestaan—die skare van persone daar bymekaar was omtrent honderd en twintig—en gesê:
16 Broeders, hierdie Skrif moes vervul word wat die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het;
17 want hy is saam met ons getal gereken en het die lot van hierdie bediening verkry.
18 Hy het dan ‘n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid en het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort;
19 en dit het bekend geword aan al die inwoners van Jerusalem, sodat daardie stuk grond in hulle eie taal Akeldáma genoem is, dit is Bloedgrond.
20 Want daar staan geskrywe in die boek van die Psalms: Laat sy woonplek woes word, en laat daar geen inwoner in wees nie! En: Laat ‘n ander een sy opsienersamp neem.
21 Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in— en uitgegaan het,
22 van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is—van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding.
23 En hulle het twee voorgestel: Josef wat genoem is Bársabas, met die bynaam van Justus, en Matthías.
24 En hulle het gebid en gesê: U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee die een aan wat U uitverkies het
25 om die lot van hierdie bediening en apostelskap te verkry, waarvan Judas afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek.
26 Toe werp hulle die lot, en die lot het op Matthías geval; en hy is gekies om saam met die elf apostels te wees.




Hoofstuk 2

1 En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.
2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.
3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.
4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.
5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.
6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek;
7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie?
8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?
9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië,
10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote,
11 Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.
12 En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees?
13 Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn.
14 Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde.
15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre.
16 Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is:
17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.
18 En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.
19 En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp.
20 Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.
21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
22 Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet—
23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;
24 Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word.
25 Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie.
26 Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop.
27 Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie.
28 U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig.
29 Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe.
30 Omdat hy dan ‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit,
31 het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie.
32 Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.
33 Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.
34 Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand
35 totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete.
36 Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.
37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
40 En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.
41 Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.
42 En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.
43 En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind.
44 En almal wat gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit.
45 En hulle eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel, volgens wat elkeen nodig gehad het.
46 En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet,
47 terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.




Hoofstuk 3

1 En Petrus en Johannes het saam na die tempel opgegaan op die uur van die gebed, die negende uur.
2 En daar is ‘n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om ‘n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan.
3 Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om ‘n aalmoes gevra.
4 En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons.
5 En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang.
6 Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!
7 Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword.
8 En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop en saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy rondloop en spring en God prys.
9 En die hele volk het gesien hoe hy daar loop en God prys.
10 En hulle het hom herken, dat dit hy was wat by die Skone Poort van die tempel gesit het om te bedel, en hulle is vervul met verwondering en verbasing oor wat met hom gebeur het.
11 En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang wat Salomo s’n genoem word.
12 En toe Petrus dit sien, sê hy vir die volk: Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop?
13 Die God van Abraham en Isak en Jakob, die God van ons vaders, het sy Kind Jesus verheerlik, Hom wat julle oorgelewer en voor Pilatus verloën het toe hy besluit het om Hom los te laat.
14 En julle het die Heilige en Regverdige verloën en gevra dat ‘n moordenaar aan julle geskenk sou word,
15 en die Leidsman tot die lewe het julle gedood. God het Hom uit die dode opgewek, waarvan ons getuies is.
16 En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.
17 En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes;
18 maar God het op dié manier vervul wat Hy tevore verkondig het deur die mond van al sy profete, dat die Christus sou ly.
19 Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,
20 en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus,
21 Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete.
22 Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek.
23 En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.
24 En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig.
25 En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word.
26 God het, nadat Hy sy Kind Jesus opgewek het, Hom eers vir julle gestuur om julle te seën deur elkeen van sy booshede te bekeer.




Hoofstuk 4

1 En terwyl hulle besig was om met die volk te spreek, het die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs op hulle afgekom,
2 baie ontevrede dat hulle die volk leer en in Jesus die opstanding uit die dode verkondig.
3 En hulle het die hande aan hulle geslaan en hulle in die gevangenis gesit tot die volgende môre toe, want dit was al aand.
4 En baie van die wat die woord gehoor het, het geglo; en die getal van die manne het omtrent vyf duisend geword.
5 Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaar,
6 ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was;
7 en toe hulle hul voorgebring het, vra hulle: Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?
8 Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel,
9 as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het,
10 laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.
11 Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het.
12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.
13 En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.
14 En omdat hulle die man wat genees was, by hulle sien staan, kon hulle niks daarteen sê nie.
15 Hulle het hul toe gelas om buitekant die Raad te gaan, en met mekaar beraadslaag
16 en gesê: Wat moet ons met hierdie manne doen? Want dat daar ‘n kenlike teken deur hulle plaasgevind het, is duidelik vir al die inwoners van Jerusalem; ons kan dit nie ontken nie.
17 Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam met enige mens te spreek nie.
18 En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.
19 Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;
20 want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.
21 En nadat hulle nog dreigemente bygevoeg het, aangesien hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie, het hulle ter wille van die volk hulle losgelaat, want almal het God verheerlik oor wat gebeur het.
22 Want die man aan wie hierdie teken van genesing plaasgevind het, was meer as veertig jaar oud.
23 En nadat hulle losgelaat was, het hulle na hul eie mense gegaan en alles vertel wat die owerpriesters en die ouderlinge aan hulle gesê het.
24 En toe hulle dit hoor, het hulle eendragtig die stem tot God verhef en gesê: Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het,
25 wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink?
26 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde.
27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het,
28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
29 En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek,
30 deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.
31 En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.
32 En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad.
33 En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.
34 Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
35 En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.
36 En Joses wie se bynaam onder die apostels Bárnabas was—wat, as dit vertaal word, beteken seun van vertroosting—’n Leviet, van geboorte uit Ciprus,
37 het ‘n stuk grond gehad en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.




Hoofstuk 5

1 Maar ‘n sekere man met die naam van Ananías het saam met sy vrou Saffíra ‘n eiendom verkoop,
2 en ook met die medewete van sy vrou van die prys agtergehou en ‘n sekere deel gebring en aan die voete van die apostels neergelê.
3 Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou?
4 As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.
5 En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.
6 Daarna het die jongmanne opgestaan en hom toegedraai en uitgedra en begrawe.
7 En ná verloop van omtrent drie uur kom sy vrou in sonder om te weet wat voorgeval het.
8 En Petrus het haar aangespreek: Sê vir my of julle die grond vir soveel verkoop het? En sy sê: Ja, vir soveel.
9 En Petrus sê vir haar: Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te versoek? Kyk, die voete van die wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra.
10 Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar dood gevind en haar uitgedra en by haar man begrawe.
11 En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het.
12 En deur die hande van die apostels het daar baie tekens en wonders onder die volk plaasgevind; en hulle was almal eendragtig saam in die pilaargang van Salomo.
13 En daar was niemand van die ander wat dit gewaag het om hom by hulle te voeg nie, maar die volk het hulle baie geëer.
14 En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,
15 sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val.
16 En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.
17 En die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was—dit is die party van die Sadduseërs—en hulle was met nydigheid vervul,
18 en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit.
19 Maar ‘n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê:
20 Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.
21 En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer. Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal.
22 Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê:
23 Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie.
24 En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word.
25 En daar kom een en bring aan hulle berig en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk.
26 Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word.
27 Hulle het hul dan gebring en voor die Raad gestel; en die hoëpriester het hulle gevra en gesê:
28 Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring.
29 En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.
30 Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ‘n kruishout te hang.
31 Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.
32 En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.
33 Toe hulle dit hoor, was hulle woedend en wou hulle om die lewe bring.
34 Maar ‘n Fariseër met die naam van Gamáliël, ‘n leraar van die wet wat by die hele volk hoog in aansien was, het in die Raad opgestaan en bevel gegee dat hulle die apostels ‘n bietjie buitentoe moes bring.
35 Toe sê hy vir hulle: Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne;
36 want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het ‘n aantal mense—omtrent vier honderd—aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword.
37 En ná hom het Judas, die Galileër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en ‘n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi.
38 En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word;
39 maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie.
40 En hulle het na hom geluister. En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan.
41 Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.
42 En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.




Hoofstuk 6

1 En in dié dae toe die dissipels vermeerder het, het daar ‘n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging oor die hoof gesien is.
2 En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie.
3 Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel;
4 maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.
5 En die woord het byval gevind by die hele menigte; en hulle het gekies: Stéfanus, ‘n man vol van geloof en van die Heilige Gees, en Filippus en Próchorus en Nikánor en Timon en Pármenas en Nikoláüs, ‘n Jodegenoot uit Antiochíë,
6 wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê.
7 En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.
8 En Stéfanus, vol van geloof en krag, het groot wonders en tekens onder die volk gedoen.
9 En daar het sommige van die sogenaamde sinagoge van die Libertyne opgestaan, en van die Cirenéërs en Alexandryne, en van die mense van Cilícië en Asië, en hulle het met Stéfanus geredetwis.
10 Maar hulle kon die wysheid en die Gees waardeur hy gespreek het, nie weerstaan nie.
11 Toe het hulle manne opgestook om te sê: Ons het hom lasterlike dinge hoor praat teen Moses en God.
12 En hulle het die volk en die ouderlinge en die skrifgeleerdes in beweging gebring en op hom afgekom en hom gegryp en voor die Raad gebring.
13 En hulle het valse getuies laat optree om te sê: Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie.
14 Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.
15 En terwyl almal wat in die Raad sit, hul oë stip op hom hou, sien hulle dat sy gesig soos die gesig van ‘n engel was.




Hoofstuk 7

1 Toe sê die hoëpriester: Is hierdie dinge dan so?
2 En hy sê: Broeders en vaders, luister! Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotámië was, voordat hy in Haran gewoon het,
3 en vir hom gesê: Trek uit jou land en uit jou familie, en kom na die land wat Ek jou sal wys.
4 Toe het hy getrek uit die land van die Chaldéërs en in Haran gaan woon; en ná die dood van sy vader het Hy hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waarin julle nou woon.
5 En Hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie ‘n voetbreed nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as eiendom te gee, toe hy nog geen kind gehad het nie.
6 En God het aan hom dít gesê, dat sy nageslag bywoners in ‘n vreemde land sou wees en die mense hulle tot slawe sou maak en mishandel, vier honderd jaar lank.
7 En die nasie aan wie hulle diensbaar sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien.
8 En Hy het hom die verbond van die besnydenis gegee, en so het hy die vader van Isak geword en hom op die agtste dag besny; en Isak het die vader van Jakob geword, en Jakob van die twaalf aartsvaders.
9 En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom
10 en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis.
11 En ‘n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie.
12 En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur.
13 En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword.
14 Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf en sewentig siele.
15 En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders.
16 En hulle is oorgebring na Sigem en weggelê in die graf wat Abraham vir ‘n som geld gekoop het van die seuns van Hemor, die vader van Sigem.
17 En namate die tyd van die belofte wat God aan Abraham met ‘n eed beloof het, nader kom, het die volk toegeneem en vermeerder in Egipte,
18 totdat daar ‘n ander koning opgestaan het wat nie vir Josef geken het nie.
19 Hy het listig met ons geslag te werk gegaan en ons vaders mishandel deur hulle te verplig om hul kindertjies weg te gooi, sodat hulle nie in die lewe behou kon word nie.
20 In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg;
21 en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak.
22 En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.
23 En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek;
24 en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan.
25 En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie.
26 En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan?
27 Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as ‘n owerste en regter oor ons aangestel?
28 Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie?
29 En Moses het op hierdie woord gevlug en ‘n bywoner geword in die land Mídian, waar hy die vader van twee seuns geword het.
30 En toe veertig jaar verby was, het ‘n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van ‘n doringbos.
31 En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom:
32 Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie.
33 Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.
34 Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur.
35 Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as ‘n owerste en regter? —hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos.
36 Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en die woestyn gedoen, veertig jaar lank.
37 Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister.
38 Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.
39 Na hom wou ons vaders nie luister nie, maar hulle het hom verstoot en met hulle harte na Egipte teruggekeer
40 toe hulle vir Aäron gesê het: Maak vir ons gode wat voor ons uit sal trek; want hierdie Moses wat ons uit Egipteland uitgelei het, ons weet nie wat van hom geword het nie.
41 En hulle het in daardie dae ‘n kalf gemaak en aan die afgodsbeeld ‘n offer gebring en hulle in die werke van hulle hande verbly.
42 Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel?
43 Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer.
44 Die tent van die Getuienis was onder ons vaders in die woestyn, soos Hy wat met Moses gespreek het, hom bevel gegee het om dit te maak volgens die afbeelding wat hy gesien het.
45 En ons vaders het dit ontvang en met Josua ingebring in die besitting van die nasies wat God voor ons vaders uitgedryf het, tot op die dae van Dawid
46 wat genade gevind het voor God en gevra het om ‘n woonplek vir die God van Jakob te verkry.
47 En Salomo het ‘n huis vir Hom gebou.
48 Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê:
49 Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus?
50 Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?
51 Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.
52 Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het;
53 julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!
54 En toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hul harte en het teen hom op die tande gekners.
55 Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.
56 En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.
57 Maar hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm.
58 En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.
59 En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!
60 En hy het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.




Hoofstuk 8

1 En Saulus het ook sy vermoording goedgekeur. En daar het in dié tyd ‘n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judéa en Samaría, behalwe die apostels.
2 En godvresende manne het Stéfanus begrawe en ‘n groot rou oor hom bedrywe.
3 Maar Saulus het die gemeente verwoes en in die huise gegaan en manne en vroue uitgesleep en in die gevangenis oorgelewer.
4 En die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig.
5 En Filippus het afgekom in ‘n stad van Samaría en Christus aan hulle verkondig.
6 En die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen.
7 Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met ‘n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword.
8 En daar was groot blydskap in daardie stad.
9 En ‘n sekere man met die naam van Simon het vantevore in die stad met towery omgegaan en die bevolking van Samaría verbyster deur te sê dat hy iets besonders was.
10 En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: Hy is die groot krag van God.
11 En hulle het hom aangehang, omdat hy hulle ‘n geruime tyd deur sy towerye verbyster het.
12 Maar toe hulle Filippus geglo het, wat die evangelie aangaande die koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus verkondig het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue.
13 En Simon het ook self gelowig geword, en nadat hy gedoop was, gedurig by Filippus gebly; en hy was verbaas toe hy die tekens en groot kragte sien gebeur.
14 En toe die apostels in Jerusalem hoor dat Samaría die woord van God aangeneem het, het hulle Petrus en Johannes na hulle gestuur.
15 Húlle het afgekom en vir hulle gebid, dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,
16 want Hy het toe nog op niemand van hulle geval nie, maar hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.
17 Hulle het hul toe die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.
18 En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied
19 en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.
20 Maar Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry.
21 Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie.
22 Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word.
23 Want ek sien dat jy in ‘n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is.
24 Maar Simon het geantwoord en gesê: Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie.
25 Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle na Jerusalem teruggegaan en die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig.
26 En ‘n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ‘n eensame pad.
27 Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ‘n man van Ethiópië, ‘n hofdienaar, ‘n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid.
28 En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees.
29 Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa.
30 En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees?
31 En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit.
32 En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie.
33 In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.
34 En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders?
35 En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig.
36 En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?
37 Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.
38 En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.
39 En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis.
40 Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het.




Hoofstuk 9

1 Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan
2 en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.
3 En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af;
4 en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
5 En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.
6 En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.
7 En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie.
8 Toe staan Saulus van die grond af op, en alhoewel sy oë oop was, het hy niemand gesien nie; en hulle het hom aan die hand gelei en in Damaskus ingebring.
9 En drie dae lank het hy niks gesien nie, en niks geëet of gedrink nie.
10 En daar was ‘n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in ‘n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here.
11 Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid;
12 en hy het in ‘n gesig ‘n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien.
13 Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het;
14 en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep.
15 Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ‘n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.
16 Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly.
17 En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word.
18 En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.
19 En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was ‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus.
20 En hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.
21 En almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: Is hy nie die man wat in Jerusalem uitgeroei het die wat hierdie Naam aanroep, en hier gekom het met die doel om hulle geboeid na die owerpriesters te bring nie?
22 Maar Saulus het al meer krag ontvang en die Jode wat in Damaskus woon, in die war gebring deur te bewys dat Hy, Jesus, die Christus is.
23 En ná geruime tyd het die Jode beraadslaag om hom om te bring.
24 En hulle plan het aan Saulus bekend geword. En hulle het die poorte dag en nag bewaak, dat hulle hom kon ombring;
25 maar die dissipels het hom geneem en in die nag deur die muur neergelaat deur hom in ‘n mandjie te laat afsak.
26 En toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die dissipels aan te sluit; maar almal was vir hom bang, omdat hulle nie geglo het dat hy ‘n dissipel was nie.
27 Maar Bárnabas het hom geneem en na die apostels gebring en hulle vertel hoe hy op die pad die Here gesien het en dat Hy met hom gespreek het, en hoe hy in Damaskus vrymoediglik in die Naam van Jesus gespreek het.
28 En hy het saam met hulle in— en uitgegaan in Jerusalem
29 en vrymoediglik gespreek in die Naam van die Here Jesus, en ook met die Griekssprekende Jode gepraat en geredetwis, maar hulle het probeer om hom dood te maak.
30 En toe die broeders dit agterkom, het hulle hom na Cesaréa afgebring en hom na Tarsus weggestuur.
31 En die gemeentes deur die hele Judéa en Galiléa en Samaría het vrede gehad; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder.
32 En onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges wat in Lidda woon;
33 en hy het daar ‘n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was.
34 En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan.
35 En al die inwoners van Lidda en Saron het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.
36 En in Joppe was daar ‘n sekere dissipelin met die naam van Tabíta, wat, as dit vertaal word, beteken Dorkas. Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese wat sy gedoen het.
37 En in dié dae het sy siek geword en gesterwe, en hulle het haar gewas en in ‘n bovertrek neergelê.
38 En omdat Lidda naby Joppe was en die dissipels gehoor het dat Petrus daar was, het hulle twee manne na hom gestuur wat hom moes smeek dat hy sonder uitstel na hulle moet oorkom.
39 En Petrus het opgestaan en saam met hulle gegaan. En toe hy daar kom, bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder— en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was.
40 En Petrus het almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.
41 En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle.
42 En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo.
43 En hy het ‘n geruime tyd in Joppe gebly by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier.




Hoofstuk 10

1 En daar was in Cesaréa ‘n man met die naam van Cornelius, ‘n hoofman oor honderd van die sogenaamde Italiaanse leërafdeling.
2 Hy met sy hele huis was vroom en godvresend en het baie aalmoese aan die volk gegee en was altyddeur in die gebed tot God.
3 Hy het duidelik in ‘n gesig omtrent die negende uur van die dag ‘n engel van God na hom sien inkom en vir hom sê: Cornelius!
4 En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.
5 Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word.
6 Hy is tuis by ‘n sekere Simon, ‘n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen.
7 En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en ‘n vroom soldaat van die wat altyd by hom was,
8 en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe.
9 En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid;
10 en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom:
11 hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word.
12 Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel.
13 Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet!
14 En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie.
15 En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.
16 En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.
17 En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon.
18 En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.
19 En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek.
20 Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.
21 En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?
22 En hulle sê: Cornelius, ‘n hoofman oor honderd, ‘n regverdige en godvresende man, wat ‘n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ‘n goddelike openbaring ontvang deur ‘n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê.
23 En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan.
24 Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep.
25 Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys.
26 Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ‘n mens.
27 En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het;
28 en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ‘n Joodse man om met iemand van ‘n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.
29 Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.
30 En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid,
31 en meteens staan daar ‘n man voor my in ‘n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring.
32 Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, ‘n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek.
33 Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is.
34 En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,
35 maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.
36 Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal.
37 Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het,
38 met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.
39 En ons is getuies van alles wat Hy gedoen het in die Joodse land en in Jerusalem. En hulle het Hom omgebring deur Hom aan ‘n kruishout op te hang.
40 Hom het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn
41 nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het.
42 En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode.
43 Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.
44 En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.
45 En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.
46 Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek:
47 Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?
48 En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog ‘n paar dae te bly.




Hoofstuk 11

1 En die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het.
2 En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis
3 en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.
4 En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê:
5 Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in ‘n verrukking van sinne het ek ‘n gesig gesien: ‘n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos ‘n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom.
6 En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel.
7 En ek hoor ‘n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet!
8 Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie.
9 En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.
10 En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel.
11 En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was.
12 En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan.
13 En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word;
14 hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word.
15 En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.
16 En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.
17 As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?
18 En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.
19 Die wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen.
20 En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het.
21 En die hand van die Here was met hulle, en ‘n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer.
22 En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë.
23 Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly;
24 want hy was ‘n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ‘n aansienlike skare is aan die Here toegebring.
25 Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring.
26 En hulle het ‘n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ‘n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.
27 En in dié dae het daar profete van Jerusalem na Antiochíë afgekom.
28 En een van hulle met die naam van Agabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ‘n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius.
29 En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon.
30 En dit het hulle ook gedoen en dit deur Bárnabas en Saulus aan die ouderlinge gestuur.




Hoofstuk 12

1 En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen.
2 En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring.
3 En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode.
4 Toe hy hom dan gegryp het, het hy hom in die gevangenis gesit en oorgegee aan vier wagte, elkeen van vier soldate, om hom te bewaak, met die bedoeling om hom ná die paasfees voor die volk te bring.
5 So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het ‘n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan.
6 En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak.
7 En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hom, en ‘n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval.
8 En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my!
9 En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy ‘n gesig sien.
10 En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat.
11 Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk.
12 En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was.
13 En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het ‘n diensmeisie met die naam van Rhodé gegaan om te hoor wie daar was.
14 En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan.
15 Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel.
16 En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas.
17 Maar hy het vir hulle met die hand gewink om stil te bly en aan hulle vertel hoe die Here hom uit die gevangenis uitgelei het. En hy sê: Vertel dit aan Jakobus en die broeders. En hy het uitgegaan en na ‘n ander plek vertrek.
18 En toe dit dag geword het, was daar onder die soldate geen kleine opskudding oor wat van Petrus geword het nie.
19 Daarop het Herodes hom gesoek en nie gekry nie, en die wagte onder verhoor geneem en bevel gegee dat hulle tereggestel moes word. En hy het van Judéa weggegaan na Cesaréa en daar gebly.
20 En Herodes was verbitterd teen die Tiriërs en Sidóniërs. En hulle het eenparig na hom gekom, en nadat hulle Blastus, die koning se hofdienaar, omgepraat het, vrede gevra, omdat hulle land onderhoud uit die koning s’n ontvang het.
21 En op ‘n bepaalde dag het Herodes ‘n koninklike kleed aangetrek en op die troon gaan sit en hulle toegespreek.
22 Daarop het die volk hom toegeroep: ‘n Stem van ‘n god en nie van ‘n mens nie!
23 En onmiddellik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe.
24 Maar die woord van God het gegroei en toegeneem.
25 En Bárnabas en Saulus het van Jerusalem teruggekeer, nadat hulle hul diens vervul het, en hulle het Johannes saamgeneem, wat ook Markus genoem word.




Hoofstuk 13

1 En daar was in die plaaslike gemeente in Antiochíë sekere profete en leraars, naamlik Bárnabas en Símeon wat Niger genoem word, en Lúcius, die Cirenéër, en Manáen, wat saam met Herodes, die viervors, grootgeword het, en Saulus.
2 En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.
3 En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan.
4 So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus.
5 En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig; en hulle het ook Johannes as helper gehad.
6 En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en ‘n towenaar gevind, ‘n valse profeet, ‘n Jood met die naam van Bar-Jesus.
7 Hy was by die goewerneur Sérgius Paulus, ‘n verstandige man. Dié het Bárnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor.
8 Maar Élimas die towenaar—want so word sy naam vertaal—het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof.
9 Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê:
10 Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?
11 En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son ‘n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei.
12 Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo.
13 En Paulus en sy metgeselle het afgevaar van Pafos en by Perge in Pamfílië gekom. En Johannes het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer.
14 Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit.
15 En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle ‘n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan!
16 Toe staan Paulus op, wink met die hand en sê: Israeliete en julle wat God vrees, luister!
17 Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle bywoners in Egipteland was, en met ‘n hoë arm hulle daaruit gelei.
18 En omtrent veertig jaar lank het Hy hulle in die woestyn verdra.
19 En sewe nasies het Hy in die land Kanaän uitgeroei en hulle land deur die lot aan hulle uitgedeel.
20 En daarna omtrent vier honderd en vyftig jaar lank het Hy rigters gegee tot op Samuel, die profeet.
21 En van toe af het hulle ‘n koning begeer, en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, ‘n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank.
22 En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ‘n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.
23 Uit die nageslag van hierdie man het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek,
24 nadat Johannes voor sy koms eers die doop van bekering aan die hele volk van Israel verkondig het.
25 En toe Johannes aan die einde van sy loopbaan gekom het, het hy gesê: Wie dink julle is ek? Ek is dit nie; maar kyk, Hy kom ná my, wie se skoen ek nie waardig is om van sy voete los te maak nie.
26 Broeders, kinders van die geslag van Abraham, en die onder julle wat God vrees, vir julle is hierdie woord van verlossing gestuur.
27 Want die inwoners van Jerusalem en hulle owerstes het Hom nie geken nie, en deur Hom te veroordeel, het hulle die woorde van die profete vervul wat elke sabbat gelees word.
28 En al het hulle niks gevind wat die dood verdien nie, tog het hulle van Pilatus gevra dat Hy omgebring moes word.
29 En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in ‘n graf neergelê.
30 Maar God het Hom uit die dode opgewek.
31 En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galiléa na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk.
32 En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek,
33 soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.
34 En dat Hy Hom opgewek het uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie, het Hy só gespreek: Ek sal aan julle gee die heilige weldade van Dawid wat betroubaar is.
35 Daarom sê Hy ook op ‘n ander plek: U sal u Heilige nie oorgee om verderwing te sien nie.
36 Want Dawid het ontslaap, nadat hy sy eie geslag volgens die raad van God gedien het, en is by sy vaders weggelê en het verderwing gesien,
37 maar Hy wat deur God opgewek is, het geen verderwing gesien nie.
38 Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word,
39 en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.
40 Pas dan op dat daar nie oor julle kom wat deur die profete gesê is nie:
41 Kyk dan, julle veragters, en wees verwonderd en verdwyn! Want Ek gaan iets in julle dae doen, iets wat julle sekerlik nie sal glo as iemand julle dit vertel nie.
42 En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word.
43 En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.
44 En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor.
45 Maar toe die Jode die skare sien, is hulle met nydigheid vervul en het met lasterlike woorde weerspreek wat deur Paulus gesê is.
46 Maar Paulus en Bárnabas het vry-uit gespreek en gesê: Dit was noodsaaklik dat die woord van God aan julle eers verkondig moes word. Aangesien julle dit egter verwerp en julleself die ewige lewe nie waardig ag nie—kyk, ons wend ons tot die heidene.
47 Want so het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ‘n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.
48 En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.
49 En die woord van die Here is deur die hele land verbrei.
50 Maar die Jode het die godsdienstige en aansienlike vroue en die vernaamste mense van die stad opgehits en teen Paulus en Bárnabas ‘n vervolging in die lewe geroep en hulle buite hul gebied verdryf.
51 Toe het hulle die stof van hul voete teen hulle afgeskud en na Ikónium gegaan.
52 En die dissipels is vervul met blydskap en met die Heilige Gees.




Hoofstuk 14

1 En op dieselfde wyse het hulle in Ikónium in die sinagoge van die Jode ingegaan en so gespreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het.
2 Maar die ongehoorsame Jode het die gemoedere van die heidene teen die broeders opgehits en verbitter.
3 Hulle het toe ‘n geruime tyd daar deurgebring en vrymoediglik gespreek in die Here, wat aan die woord van sy genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle hande plaasvind.
4 En die menigte van die stad was verdeeld, en sommige het met die Jode en ander met die apostels saamgegaan.
5 Maar toe daar onder die heidene en ook onder die Jode, saam met hulle owerstes, ‘n beweging ontstaan het om hulle te mishandel en te stenig,
6 het hulle dit gewaargeword en gevlug na die stede van Likaónië, Listre en Derbe en die omstreke.
7 En daar het hulle die evangelie verkondig.
8 En in Listre het daar ‘n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie.
9 Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word,
10 met ‘n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop.
11 En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.
12 En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was.
13 En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer.
14 Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep
15 en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.
16 Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel,
17 al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul.
18 Selfs met hierdie woorde het hulle met moeite die skare verhinder om aan hulle te offer.
19 Maar daar het Jode van Antiochíë en Ikónium aangekom, en hulle het, nadat hulle die skare omgepraat het, Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was.
20 Maar toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom en die volgende dag saam met Bárnabas na Derbe vertrek.
21 En nadat hulle aan daardie stad die evangelie verkondig en ‘n aantal dissipels gemaak het, het hulle teruggegaan na Listre en Ikónium en Antiochíë,
22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
23 En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.
24 Toe gaan hulle deur Pisídië en kom in Pamfílië;
25 en nadat hulle die woord in Perge verkondig het, het hulle afgegaan na Attálië.
26 En daarvandaan het hulle weggevaar na Antiochíë, waar hulle aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle volbring het.
27 En toe hulle daar kom en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het, en dat Hy ‘n deur van geloof vir die heidene geopen het.
28 En hulle het daar by die dissipels ‘n geruime tyd deurgebring.




Hoofstuk 15

1 En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie.
2 Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ‘n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk.
3 En hulle is deur die gemeente uitgelei en het Fenícië en Samaría deurgegaan en vertel van die bekering van die heidene, en aan al die broeders groot blydskap verskaf.
4 En by hulle aankoms in Jerusalem is hulle ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouderlinge; en hulle het verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het.
5 Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.
6 En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek.
7 En toe daar ‘n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word.
8 En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons.
9 En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof.
10 Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?
11 Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.
12 En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het.
13 En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my!
14 Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.
15 En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is:
16 Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel,
17 sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen.
18 Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.
19 Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie,
20 maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.
21 Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.
22 Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was.
23 En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete!
24 Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou,
25 het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus—
26 manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus.
27 Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring.
28 Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge:
29 dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!
30 So is hulle dan weggestuur en het in Antiochíë gekom, en hulle het die menigte bymekaargeroep en die brief afgelewer.
31 En toe hulle dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging.
32 En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk.
33 En nadat hulle ‘n tyd daar deurgebring het, het die broeders hulle met vrede na die apostels laat gaan.
34 Maar Silas het besluit om daar te bly.
35 En Paulus en Bárnabas het in Antiochíë gebly en, saam met nog baie ander, onderrig gegee en die blye boodskap van die woord van die Here verkondig.
36 En ‘n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan.
37 En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem.
38 Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie.
39 Daar het toe ‘n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil.
40 Maar Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was.
41 En hy het Sírië en Cilícië deurgegaan en die gemeentes versterk.




Hoofstuk 16

1 En hy het in Derbe en Listre aangekom; en daar was ‘n dissipel met die naam van Timótheüs, seun van ‘n gelowige Joodse vrou, maar van ‘n Griekse vader.
2 Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikónium.
3 Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader ‘n Griek was.
4 En op hulle reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou.
5 En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.
6 En hulle het deur die land Frígië en Galásië gegaan, omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig.
7 En toe hulle by Mísië kom, het hulle probeer om na Bithínië te gaan, maar die Gees het hulle dit nie toegelaat nie.
8 So het hulle dan Mísië verbygegaan en na Troas afgekom.
9 En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien—daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!
10 En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedónië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.
11 Ons het dan afgevaar van Troas en reguit koers gehou na Samothráce, en die volgende dag na Neápolis,
12 en daarvandaan na Filíppi, wat die eerste stad is van daardie deel van Macedónië, ‘n kolonie. En ons het in hierdie stad ‘n paar dae deurgebring.
13 En op die sabbatdag het ons uitgegaan buitekant die stad langs ‘n rivier waar die gebruiklike bidplek was, en ons het gaan sit en met die vroue gespreek wat daar bymekaargekom het.
14 En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.
15 En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing.
16 En terwyl ons op pad was na die bidplek, kom ‘n slavin met ‘n waarsêende gees ons teë, wat vir haar eienaars deur waarsêery groot wins ingebring het.
17 Sy het Paulus en ons gevolg en geskreeu en gesê: Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing.
18 En dit het sy baie dae lank gedoen; maar baie ontevrede daaroor, het Paulus hom omgedraai en vir die gees gesê: Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan. En hy het op dieselfde oomblik uitgegaan.
19 En toe haar eienaars sien dat die hoop van hulle wins weg was, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die mark voor die owerheid gesleep
20 en hulle voor die regters gebring en gesê: Hierdie manne bring ons stad in opskudding, omdat hulle Jode is,
21 en hulle verkondig sedes wat vir ons nie geoorloof is om aan te neem of na te volg nie, omdat ons Romeine is.
22 En die skare het saam teen hulle opgestaan, en die regters het hulle klere laat afskeur en bevel gegee om hulle met stokke te slaan.
23 En toe hulle hul baie slae gegee het, het hulle hul in die gevangenis gewerp en die tronkbewaarder bevel gegee om hulle sorgvuldig te bewaak.
24 Hy het toe, omdat hy so ‘n bevel ontvang het, hulle in die binneste gevangenis gewerp en hulle voete in die blok vasgemaak.
25 En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister.
26 En skielik kom daar ‘n groot aardbewing, sodat die fondamente van die gevangenis geskud het. En onmiddellik het al die deure oopgegaan en die boeie van almal het losgeraak.
27 En die tronkbewaarder het wakker geword; en toe hy sien dat die deure van die gevangenis oop was, het hy ‘n swaard getrek en wou homself om die lewe bring, in die mening dat die gevangenes ontvlug het.
28 Maar Paulus het met ‘n groot stem geroep en gesê: Moenie jouself kwaad aandoen nie, want ons is almal hier.
29 En toe hy lig gevra het, spring hy na binne en val bewende voor Paulus en Silas neer.
30 En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?
31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.
32 En hulle het aan hom die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was.
33 En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense.
34 Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ‘n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het.
35 En toe dit dag word, stuur die regters die geregsdienaars en sê: Laat daardie manne los.
36 En die tronkbewaarder het hierdie woorde aan Paulus oorgebring: Die regters het laat weet dat julle losgelaat moet word; gaan dan nou uit en reis in vrede!
37 Maar Paulus sê vir hulle: Hulle het ons in die openbaar onveroordeeld geslaan, ons wat Romeinse burgers is, en ons in die gevangenis gewerp, en wil hulle ons nou in die geheim uitwerp? Volstrek nie! Laat hulle self kom en ons uitlei.
38 En die geregsdienaars het hierdie woorde aan die regters oorgebring, en dié het bang geword toe hulle hoor dat hulle Romeine was.
39 Daarop het hulle gekom en hulle gesmeek en uitgelei met die versoek om uit die stad te vertrek.
40 En nadat hulle die gevangenis verlaat het, het hulle na die huis van Lídia gegaan; en hulle het die broeders gesien, hulle bemoedig en weggegaan.




Hoofstuk 17

1 Toe het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar ‘n sinagoge van die Jode was.
2 En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte
3 en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.
4 En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook ‘n groot menigte van die godsdienstige Grieke en ‘n groot aantal van die aansienlikste vroue.
5 Maar die ongelowige Jode was afgunstig en het slegte manne van die leeglopers saamgeneem en die stad in opskudding gebring deur ‘n volksoploop te bewerk. En hulle het die huis van Jason aangeval en probeer om hulle voor die volk te bring.
6 Maar toe hulle hul nie kry nie, het hulle Jason en ‘n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom,
7 en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ‘n ander koning is, naamlik Jesus.
8 En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het.
9 Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat.
10 Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.
11 En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.
12 Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.
13 Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep.
14 Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly.
15 En die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.
16 En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.
17 Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.
18 En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ‘n verkondiger is van vreemde gode—omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.
19 En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?
20 Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.
21 Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.
22 Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.
23 Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ‘n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.
24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.
25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.
26 En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,
27 sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;
28 want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.
29 As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.
30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,
31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.
32 Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.
33 En so het Paulus van hulle weggegaan.
34 Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en ‘n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle.




Hoofstuk 18

1 En daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom.
2 En hy het ‘n Jood gevind met die naam van Aquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek. Na hulle toe het hy gegaan;
3 en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag.
4 En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.
5 En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is.
6 Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan.
7 En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat ‘n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het.
8 En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.
9 En die Here het deur ‘n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie;
10 want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.
11 En hy het daar gebly ‘n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer.
12 En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring
13 en gesê: Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer.
14 En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode: As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode;
15 maar as dit ‘n geskil is oor ‘n woord en oor name en oor ‘n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie.
16 En hy het hulle van die regterstoel weggedryf.
17 En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie.
18 En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het, het hy van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Aquila. En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het ‘n gelofte gedoen.
19 En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek.
20 En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie,
21 maar van hulle afskeid geneem en gesê: Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil. En hy het van Éfese afgevaar.
22 En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë.
23 En nadat hy ‘n tyd lank vertoef het, het hy vertrek en agtereenvolgens die land Galásië en Frígië deurgereis en al die dissipels versterk.
24 En ‘n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, ‘n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte.
25 Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.
26 En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê.
27 En toe hy wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang. En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut;
28 want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.




Hoofstuk 19

1 En terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Éfese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind
2 en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie.
3 En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes.
4 Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.
5 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.
6 En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.
7 En altesaam was hulle omtrent twaalf manne.
8 En hy het in die sinagoge ingegaan en vrymoediglik drie maande lank met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan.
9 Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van ‘n sekere Tiránnus samesprekinge gehou.
10 En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke.
11 En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen,
12 sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.
13 En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!
14 Dit was sekere sewe seuns van Skeva, ‘n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het.
15 Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?
16 Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het.
17 En dit het bekend geword aan al die Jode en Grieke wat in Éfese woon, en vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak.
18 En baie van die wat gelowig geword het, het belydenis kom doen en hulle dade bekend gemaak;
19 en verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand; en hulle het die waarde daarvan bereken en gevind dat dit vyftig duisend silwerstukke was.
20 So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword.
21 En toe hierdie dinge verby was, het Paulus hom voorgeneem om deur Macedónië en Acháje te gaan en na Jerusalem te reis. Hy het gesê: Nadat ek daar gewees het, moet ek Rome ook sien.
22 Daarop stuur hy twee van sy helpers, Timótheüs en Erástus, na Macedónië, terwyl hy self nog ‘n tyd lank in Asië gebly het.
23 En omtrent hierdie tyd het daar geen klein opskudding met betrekking tot die Weg ontstaan nie.
24 Want iemand met die naam van Demétrius, ‘n silwersmid, maker van silwertempeltjies van Diana, het ‘n aansienlike verdienste aan die ambagsmanne verskaf.
25 En toe hy hulle en die werkers in daardie soort bedrywe bymekaargeroep het, sê hy: Manne, julle weet dat ons welvaart uit hierdie verdienste is,
26 en julle sien en hoor dat nie alleen in Éfese nie, maar byna in die hele Asië, hierdie Paulus ‘n aansienlike skare oorgehaal en afvallig gemaak het deur te sê dat dit geen gode is wat met hande gemaak word nie.
27 Nou is daar nie alleen gevaar dat hierdie vak van ons in veragting kom nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Diana as niks gereken word, en dat haar majesteit wat die hele Asië, ja, die wêreld, vereer, ook tot niet sal gaan.
28 En toe hulle dit hoor, is hulle met woede vervul en het geskreeu en gesê: Groot is die Diana van die Efésiërs!
29 Daarop raak die hele stad heeltemal in verwarring, en hulle storm soos een man na die skouburg en sleep Gajus en Aristárchus saam, Macedóniërs wat reisgenote van Paulus was.
30 En toe Paulus onder die volk wou ingaan, het die dissipels hom dit nie toegelaat nie.
31 En sommige van die owerstes van Asië wat sy vriende was, het ook na hom gestuur en hom gesmeek dat hy hom nie in die skouburg moes begeef nie.
32 Hulle het dan aangehou skreeu, sommige dit en ander dat; want die vergadering was in die war, en die meeste het nie geweet waarvoor hulle bymekaargekom het nie.
33 En hulle het Alexander uit die skare vorentoe laat kom, omdat die Jode hom vorentoe gestoot het; en Alexander het met die hand gewink en wou hom by die volk verdedig.
34 Maar toe hulle verstaan dat hy ‘n Jood is, gaan daar een geroep van almal op terwyl hulle omtrent twee uur lank skreeu: Groot is die Diana van die Efésiërs!
35 Maar die stadsklerk het die skare tot bedaring gebring en gesê: Efésiërs, watter mens is daar tog wat nie weet dat die stad van die Efésiërs die tempelbewaarder is van die groot godin Diana en van die beeld wat uit die hemel geval het nie?
36 Terwyl dit dan nie weerspreek kan word nie, behoort julle rustig te wees en niks onbedags te doen nie.
37 Want julle het hierdie manne gebring, wat geen tempelrowers is nie en ook nie julle godin laster nie.
38 As Demétrius en sy ambagsmanne dan ‘n saak teen iemand het, die hofsittings word gehou, en daar is regters: laat hulle mekaar aanklaag.
39 Maar as julle nog iets anders verlang, dit sal in die wettige vergadering beslis word.
40 Want ons loop gevaar om oor die oproer van vandag aangeklaag te word, aangesien daar geen grond is waarop ons sal kan rekenskap gee van hierdie oploop nie.
41 (19:40) En met hierdie woorde het hy die vergadering ontbind.




Hoofstuk 20

1 En nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis.
2 En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom.
3 En daar het hy drie maande gebly; maar toe die Jode teen hom saamgespan het, terwyl hy juis na Sírië sou afvaar, het hy besluit om deur Macedónië terug te gaan.
4 En tot in Asië het Sópater van Beréa hom vergesel, en van die Thessalonicense, Aristárchus en Secúndus, en Gajus van Derbe en Timótheüs, en uit Asië Tíchikus en Trófimus.
5 Hulle het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag.
6 Maar ná die dae van die ongesuurde brode het ons van Filíppi uitgeseil en binne vyf dae by hulle in Troas gekom waar ons sewe dae deurgebring het.
7 En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek en hy het sy rede gerek tot middernag toe.
8 En daar was baie lampe in die bovertrek waar hulle vergader het.
9 En ‘n sekere jongman met die naam van Eútichus het in die venster gesit en weggesink in ‘n diepe slaap; en toe Paulus nog lank gespreek het, is hy oorweldig deur die slaap en het van die derde verdieping afgeval en is dood opgetel.
10 Toe gaan Paulus ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: Moenie so te kere gaan nie, want sy lewe is in hom.
11 En hy het boontoe gegaan en brood gebreek en geëet; en nadat hy nog ‘n geruime tyd gespreek het tot dagbreek toe, het hy vertrek.
12 En hulle het die seun lewendig huis toe weggebring en was uitermate getroos.
13 Maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assus, waar ons van plan was om Paulus aan boord te neem; want so het hy dit bestel, omdat hy self te voet wou gaan.
14 Toe hy ons dan in Assus ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitiléne gekom.
15 En daarvandaan het ons weggevaar en die volgende dag teenoor Chios gekom, en die ander dag na Samos oorgevaar en in Trogíllion oorgebly en die dag daarop by Miléte gekom.
16 Want Paulus het besluit om by Éfese verby te vaar, sodat hy nie in Asië tyd sou verloor nie; want hy het hom gehaas om, as dit vir hom moontlik was, op die pinksterdag in Jerusalem te wees.
17 En van Miléte het hy gestuur na Éfese en die ouderlinge van die gemeente laat roep.
18 En toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: Julle weet hoe ek, van die eerste dag af dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle gewees het
19 en die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge wat oor my gekom het deur die komplotte van die Jode;
20 hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise,
21 terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus.
22 En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie,
23 behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag.
24 Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.
25 En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie.
26 Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal.
27 Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.
28 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.
29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie.
30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.
31 Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie.
32 En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes.
33 Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie;
34 maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was.
35 Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.
36 En ná hierdie woorde het hy neergekniel en met hulle almal saam gebid.
37 En daar het ‘n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen,
38 veral bedroef oor die woord wat hy gesê het, dat hulle sy aangesig nie meer sou sien nie. En hulle het hom na die skip begelei.




Hoofstuk 21

1 En nadat ons ons van hulle losgeskeur het, het ons afgevaar en reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag by Rhodus en daarvandaan by Pátara.
2 En ons het ‘n skip gevind wat na Fenícië sou oorseil, en daarop gegaan en afgevaar.
3 En toe ons Ciprus in die gesig gekry het en dit aan die linkerhand laat lê het, het ons na Sírië gevaar en by Tirus aangekom, want daar sou die skip sy vrag aflaai.
4 En nadat ons die dissipels gevind het, het ons daar sewe dae gebly; en hulle het vir Paulus deur die Gees gesê om nie op te gaan na Jerusalem nie.
5 Maar toe ons die dae uitgebly het, het ons vertrek en op reis gegaan, terwyl almal, met vroue en kinders, ons tot buitekant die stad begelei; en ons het op die strand neergekniel en gebid.
6 En nadat ons mekaar gegroet het, het ons aan boord gegaan, en hulle het teruggegaan huis toe.
7 Maar ons het die seereis van Tirus af voltooi en by Ptolemáis gekom; en ons het die broeders gegroet en een dag by hulle gebly.
8 En die volgende dag het ons, die geselskap van Paulus, vertrek en in Cesaréa aangekom; en ons het ons intrek geneem in die huis van Filippus, die evangelis, wat een van die sewe diakens was, en by hom gebly.
9 En hy het vier ongetroude dogters gehad wat die profetiese gawe besit het.
10 En onderwyl ons baie dae daar oorgebly het, het ‘n sekere profeet met die naam van Agabus van Judéa afgekom.
11 En toe hy by ons kom, neem hy die gordel van Paulus en bind sy eie hande en voete en sê: Dít spreek die Heilige Gees: So sal die Jode die man wie se gordel dit is, in Jerusalem bind en in die hande van heidene oorlewer.
12 En toe ons dit hoor, het ons saam met die broeders van die plek hom gesmeek om nie op te gaan na Jerusalem nie.
13 Maar Paulus het geantwoord: Wat doen julle dat julle ween en my hart week maak? Want ek is bereid nie alleen om gebind te word nie, maar ook om in Jerusalem te sterwe vir die Naam van die Here Jesus.
14 Toe hy dan nie oor te haal was nie, was ons tevrede en het gesê: Laat die wil van die Here geskied!
15 En ná hierdie dae het ons vir die reis klaargemaak en na Jerusalem opgegaan.
16 En sommige van die dissipels van Cesaréa het ook saam met ons gegaan en ons by ‘n sekere Mnason van Ciprus gebring, ‘n ou dissipel, by wie ons sou tuis gaan.
17 En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang.
18 En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig.
19 En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het.
20 En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê: U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet.
21 En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie.
22 Wat staan ons dan te doen? Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het.
23 Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat ‘n gelofte gedoen het;
24 neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou.
25 Wat egter die gelowiges uit die heidene betref het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery.
26 Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.
27 Maar toe die sewe dae byna verby was, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en die hele skare oproerig gemaak en die hande aan hom geslaan
28 en geskreeu: Israeliete, help! Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek. Hy het ook nog Grieke in die tempel gebring en hierdie heilige plek ontheilig.
29 Want hulle het vantevore Trófimus, die Efésiër, in die stad by hom gesien en gedink dat Paulus hom in die tempel gebring het.
30 Toe kom die hele stad in beweging, en daar was ‘n oploop van die volk; en hulle het Paulus gegryp en hom buitekant die tempel gesleep; en dadelik is die deure gesluit.
31 En onderwyl hulle probeer om hom dood te maak, het ‘n berig die owerste oor duisend van die leërafdeling bereik dat die hele Jerusalem in oproer was.
32 En hy het meteens soldate en hoofmanne oor honderd geneem en afgehardloop na hulle; en toe hulle die owerste oor duisend en die soldate sien, het hulle opgehou om Paulus te slaan.
33 Daarop kom die owerste oor duisend nader en neem hom gevange en gee bevel dat hy met twee kettings geboei moet word; en hy het gevra wie hy was en wat hy gedoen het.
34 En onder die skare het sommige dit en sommige iets anders geskreeu. En omdat hy weens die rumoer geen sekerheid kon verkry nie, het hy bevel gegee dat hy na die kamp gebring moes word.
35 En toe hy op die trappe kom, moes hy deur die soldate gedra word weens die geweld van die skare.
36 Want die menigte van die volk het gevolg en geskreeu: Weg met hom!
37 En net toe hy in die kamp gebring sou word, vra Paulus die owerste oor duisend: Is dit my geoorloof om iets vir u te sê? En hy sê vir hom: Ken jy Grieks?
38 Is jy dan nie die Egiptenaar wat ‘n tyd gelede oproer gemaak het en die vier duisend rowers na die woestyn uitgelei het nie?
39 En Paulus antwoord: Ek is ‘n Joodse man van Tarsus, ‘n burger van geen onvermaarde stad in Cilícië nie; ek versoek u, laat my toe om die volk toe te spreek.
40 En toe hy dit toegelaat het, gaan Paulus op die trappe staan en wink met die hand vir die volk. En nadat daar ‘n groot stilte gekom het, het hy hulle in die Hebreeuse taal toegespreek en gesê:




Hoofstuk 22

1 Broeders en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle!
2 En toe hulle hoor dat hy hulle in die Hebreeuse taal toespreek, was hulle nog stiller. En hy sê:
3 Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.
4 Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee,
5 soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.
6 Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik ‘n groot lig uit die hemel my omstraal,
7 en ek het op die grond geval en ‘n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
8 En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg.
9 En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.
10 En ek het gesê: Wat moet ek doen, Here? En die Here het vir my gesê: Staan op en gaan na Damaskus, en daar sal jou vertel word alles wat aan jou opgedra is om te doen.
11 Toe ek dan weens die glans van daardie lig nie kon sien nie, is ek deur my metgeselle by die hand gelei en het in Damaskus gekom.
12 En ‘n sekere Ananías, ‘n vroom man volgens die wet, wat ‘n goeie naam gehad het by al die Jode wat daar woon,
13 het na my gekom en by my gaan staan en vir my gesê: Saul, broeder, word siende! En op dieselfde oomblik het ek hom aangekyk.
14 En hy het gesê: Die God van ons vaders het jou voorbeskik om sy wil te ken en die Regverdige te sien en die stem uit sy mond te hoor;
15 want jy sal vir Hom by al die mense ‘n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.
16 En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.
17 En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in ‘n verrukking van sinne gekom
18 en Hom gesien, en Hy het vir my gesê: Maak gou en gaan haastig uit Jerusalem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie.
19 En ek het gesê: Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan;
20 en toe die bloed van Stéfanus, u getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het.
21 En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die gewone heidene.
22 Tot by hierdie woord het hulle na hom geluister; toe verhef hulle hul stem en sê: Weg van die aarde met so ‘n mens, want hy behoort nie te lewe nie!
23 En terwyl hulle so skreeu en hulle klere afgooi en stof in die lug werp,
24 het die owerste oor duisend bevel gegee dat hy in die kamp gebring moes word, en gesê dat hulle hom met géselslae moes ondersoek, sodat hy kon weet om watter rede hulle so teen hom uitroep.
25 En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om ‘n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel?
26 Toe die hoofman oor honderd dit hoor, gaan hy dit aan die owerste oor duisend vertel en sê: Pas op wat u gaan doen, want hierdie man is ‘n Romein.
27 En die owerste oor duisend het gekom en hom gevra: Sê vir my of jy ‘n Romein is? En hy antwoord: Ja.
28 Toe sê die owerste oor duisend: Ek het hierdie burgerreg vir ‘n groot som verkry! En Paulus sê vir hom: Maar ek het dit deur geboorte.
29 Daarop het die wat hom sou ondersoek, hom dadelik laat staan; en die owerste oor duisend het ook gevrees, omdat hy nou wis dat hy ‘n Romein was en hy hom geboei het.
30 En die volgende dag wou hy met sekerheid weet waarvan hy deur die Jode beskuldig was; en hy het hom van sy boeie losgemaak en bevel gegee dat die owerpriesters en hulle hele Raad moes vergader; en hy het Paulus afgebring en voor hulle laat staan.




Hoofstuk 23

1 En Paulus het die oë op die Raad gehou en gesê: Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.
2 Maar die hoëpriester Ananías het bevel gegee aan die wat by hom staan, om hom op die mond te slaan.
3 Toe sê Paulus vir hom: God sal u slaan, gewitte muur! U sit tog om my volgens die wet te oordeel, en beveel u in stryd met die wet dat ek geslaan moet word?
4 En die wat daarby staan, sê: Skel jy die hoëpriester van God uit?
5 Daarop sê Paulus: Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van ‘n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie.
6 En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ‘n Fariseër, die seun van ‘n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg.
7 En toe hy dit sê, het daar twis ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, en die menigte het verdeeld geraak.
8 Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei.
9 Toe was daar ‘n groot geroep, en die skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs het opgestaan en heftig gestry en gesê: Ons vind geen kwaad in hierdie man nie; en as ‘n gees met hom gespreek het, of ‘n engel, laat ons nie teen God stry nie.
10 En toe daar ‘n groot twis ontstaan het en die owerste oor duisend gevrees het dat Paulus deur hulle verskeur sou word, het hy die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring.
11 En die volgende nag het die Here by hom gestaan en gesê: Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig.
12 En toe dit dag geword het, het sommige van die Jode saamgespan en hulleself vervloek deur te sê dat hulle nie sou eet of drink totdat hulle Paulus doodgemaak het nie.
13 En daar was meer as veertig wat hierdie sameswering gemaak het.
14 Hulle het na die owerpriesters en die ouderlinge gegaan en gesê: Ons het ons met vervloeking verwens om niks te gebruik totdat ons Paulus doodgemaak het nie.
15 Laat dan nou, saam met die Raad, aan die owerste oor duisend weet om hom môre af te bring na u toe, asof u oor sy saak noukeuriger ondersoek wil doen. En ons is gereed om hom uit die weg te ruim voordat hy by u kom.
16 Maar die seun van Paulus se suster het van die hinderlaag gehoor, en hy het gekom en in die kamp gegaan en dit aan Paulus vertel.
17 En Paulus het een van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Bring hierdie jongman by die owerste oor duisend, want hy het iets om aan hom te vertel.
18 Daarop neem hy hom saam en bring hom by die owerste oor duisend en sê: Die gevangene, Paulus, het my na hom geroep en versoek om hierdie jongman na u te bring, omdat hy iets het om aan u te sê.
19 Daarop vat die owerste oor duisend hom by die hand en gaan eenkant toe en vra: Wat het jy om aan my te vertel?
20 En hy sê: Die Jode het ooreengekom om u te versoek om Paulus môre af te bring na die Raad asof hulle iets noukeurigers omtrent hom wil verneem.
21 Laat u dan nie deur hulle oorhaal nie, want meer as veertig man van hulle lê hom voor wat hulleself vervloek het om nie te eet of te drink totdat hulle hom omgebring het nie. En nou is hulle gereed en wag op u toestemming.
22 En die owerste oor duisend het die jongman laat gaan en hom bevel gegee: Vertel aan niemand dat jy dit aan my bekend gemaak het nie.
23 En hy het twee van die hoofmanne oor honderd na hom geroep en gesê: Hou twee honderd soldate gereed om na Cesaréa te gaan, en sewentig ruiters en twee honderd lig gewapende manne, teen die derde uur van die nag.
24 En sorg vir pakdiere, dat hulle Paulus daarop kan sit en veilig na Felix, die goewerneur, oorbring.
25 En hy het ‘n brief geskrywe met ongeveer hierdie inhoud:
26 Claudius Lísias aan die hoogedele goewerneur Felix: Groete!
27 Toe hierdie man wat deur die Jode gevang is, op die punt gestaan het om deur hulle omgebring te word, het ek met die soldate bygekom en hom gered, omdat ek verneem het dat hy ‘n Romein is.
28 Maar omdat ek te wete wou kom wat die oorsaak was waarom hulle hom beskuldig, het ek hom na hulle Raad afgebring
29 en uitgevind dat hy beskuldig word oor twisvrae van hulle wet, maar dat hy nie aangeklaag word van iets wat die dood of boeie verdien nie.
30 En omdat aan my meegedeel is dat daar deur die Jode ‘n komplot teen die man sou gesmee word, het ek hom meteens na u gestuur en ook sy beskuldigers gelas om wat hulle teen hom het, voor u te sê. Vaarwel!
31 En die soldate het Paulus geneem soos hulle beveel is, en hom in die nag na Antípatris gebring.
32 En die volgende dag het hulle die ruiters met hom verder laat gaan en self na die kamp teruggekeer.
33 En dié het in Cesaréa gekom en die brief aan die goewerneur afgegee en ook Paulus voor hom gestel.
34 En die goewerneur het die brief gelees en gevra uit watter provinsie hy was; en toe hy verneem dat hy uit Cilícië was,
35 sê hy: Ek sal jou in verhoor neem wanneer jou beskuldigers ook aangekom het. Toe gee hy bevel dat hy in die paleis van Herodes bewaak moes word.




Hoofstuk 24

1 En vyf dae daarna het die hoëpriester Ananías met die ouderlinge en ‘n sekere advokaat Tertúllus afgekom en Paulus by die goewerneur aangeklaag.
2 En toe hy opgeroep is, begin Tertúllus hom beskuldig en sê:
3 Dat ‘n groot vrede deur u, hoogedele Felix, ons te beurt val, en dat daar hervorminge deur u voorsorg in elke opsig en oral vir hierdie nasie tot stand kom, neem ons met alle dankbaarheid aan.
4 Maar om u nie te lank op te hou nie, versoek ek u om ons in u vriendelikheid kortliks aan te hoor.
5 Want ons het gevind dat hierdie man ‘n pes is en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en ‘n voorman van die sekte van die Nasaréners,
6 wat selfs probeer het om die tempel te ontheilig. Ons het hom gevange geneem en wou hom volgens ons wet oordeel;
7 maar Lísias, die owerste oor duisend, het gekom en hom met groot geweld uit ons hande weggeneem
8 en bevel gegee dat sy beskuldigers voor u moet kom. Van hom sal u self, ná ondersoek, kennis kan verkry van al hierdie dinge waarvan ons hom beskuldig.
9 En die Jode het ook saamgestem en gesê dat dit so was.
10 En nadat die goewerneur vir hom gewink het om te praat, het Paulus geantwoord: Omdat ek weet dat u oor hierdie volk al baie jare lank regter is, verdedig ek my saak met goeie moed,
11 aangesien u te wete kan kom dat dit nie meer as twaalf dae is vandat ek opgegaan het om in Jerusalem te aanbid nie.
12 En hulle het my nie in die tempel gevind, besig om met iemand te praat of ‘n opstand van die volk te verwek nie, en ook nie in die sinagoges of in die stad nie.
13 En hulle kan ook die dinge waarvan hulle my nou beskuldig, nie bewys nie.
14 Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is,
15 en ‘n hoop op God het, ‘n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ‘n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.
16 Daarom oefen ek my ook om altyd voor God en die mense ‘n rein gewete te hê.
17 Maar ná baie jare het ek gekom om aan my volk aalmoese te bring en offers.
18 En terwyl ek hiermee besig was, het sekere Jode uit Asië my in die tempel gevind nadat ek geheilig was, nie met ‘n skare of met ‘n opskudding nie.
19 Hulle behoort hier voor u te wees om beskuldiging in te bring as hulle iets teen my het.
20 Of laat hierdie manne self sê of hulle enige onreg in my gevind het toe ek voor die Raad gestaan het,
21 behalwe oor hierdie een woord wat ek uitgeroep het terwyl ek onder hulle gestaan het, naamlik: Oor die opstanding van die dode staan ek vandag by u voor die gereg!
22 Toe Felix dit hoor, het hy hulle saak uitgestel, alhoewel hy noukeurig genoeg met die dinge van die Weg bekend was; en hy het gesê: Wanneer Lísias, die owerste oor duisend, afkom, sal ek julle saak ten volle ondersoek.
23 En hy het die hoofman oor honderd beveel om Paulus te bewaak, maar dat hy verligting moes hê, en dat hy niemand van sy eie mense moes verhinder om hom te bedien of te besoek nie.
24 En ‘n paar dae daarna het Felix gekom saam met Drusílla, sy vrou, wat ‘n Jodin was, en het Paulus laat haal en hom aangehoor oor die geloof in Christus.
25 Maar toe hy spreek oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel, het Felix baie bang geword en geantwoord: Gaan vir hierdie keer heen, en as ek ‘n geleentheid vind, sal ek jou laat roep.
26 En tegelykertyd het hy ook gehoop dat geld aan hom deur Paulus sou gegee word om hom los te laat. Daarom het hy hom ook dikwels laat haal en met hom gesprekke gehad.
27 Maar twee jaar het verbygegaan, en toe kry Felix vir Porcius Festus as opvolger; en omdat Felix aan die Jode ‘n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.




Hoofstuk 25

1 Festus het dan in die provinsie gekom en ná drie dae van Cesaréa opgegaan na Jerusalem.
2 En die hoëpriester en die vernaamstes van die Jode het Paulus by hom aangeklaag
3 en by hom aangedring en gevra, as ‘n guns teen Paulus, dat hy hom na Jerusalem moes laat haal; terwyl hulle intussen ‘n hinderlaag voorberei het om hom op die weg om te bring.
4 Maar Festus het geantwoord dat Paulus in Cesaréa bewaak word en dat hy self spoedig daarheen sou reis.
5 Laat dan dié onder julle, sê hy, wat bevoeg is, saamgaan, en as daar iets verkeerds in hierdie man is, hom beskuldig.
6 En nadat hy nie meer as tien dae onder hulle deurgebring het nie, het hy na Cesaréa afgegaan en die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee dat Paulus voorgebring moes word.
7 En toe hy verskyn, het die Jode wat van Jerusalem afgekom het, rondom hom gestaan en baie en swaar beskuldiginge teen Paulus ingebring wat hulle nie kon bewys nie,
8 terwyl hy tot sy verdediging gesê het: Ek het niks teen die wet van die Jode of teen die tempel of teen die keiser gesondig nie.
9 Maar omdat Festus aan die Jode ‘n guns wou bewys, het hy geantwoord en vir Paulus gesê: Wil jy na Jerusalem opgaan en daar voor my oor hierdie dinge teregstaan?
10 Toe sê Paulus: Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word. Aan die Jode het ek geen onreg gedoen nie, soos u ook baie goed weet.
11 Want as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie. Maar as daar niks is in die dinge waarvan hulle my beskuldig nie, dan kan niemand my aan hulle by wyse van guns oorlewer nie. Ek beroep my op die keiser!
12 Toe antwoord Festus, nadat hy met die Raad gespreek het: Op die keiser het jy jou beroep—na die keiser sal jy gaan!
13 En ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet.
14 En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is ‘n man deur Felix as gevangene agtergelaat,
15 teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, ‘n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het.
16 En ek het hulle geantwoord dat dit nie by die Romeine gewoonte is om enige mens by wyse van guns aan die dood prys te gee voordat die beskuldigde die beskuldigers voor hom gehad het en geleentheid tot verdediging in verband met die beskuldiging gekry het nie.
17 Toe hulle dan hier vergader het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regterstoel gaan sit en bevel gegee om die man voor te bring.
18 Die beskuldigers het teen hom opgetree en geen beskuldiging ingebring van dinge soos ek verwag het nie,
19 maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie godsdiens gehad en oor ‘n sekere Jesus wat dood is, van wie Paulus verklaar het dat Hy lewe.
20 En omdat ek met die ondersoek hiervan verleë was, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan;
21 maar toe Paulus in beroep gegaan het om in bewaring te bly vir die beslissing van die keiser, het ek bevel gegee dat hy in bewaring moes bly totdat ek hom na die keiser kon stuur.
22 En Agríppa sê vir Festus: Ek sou self ook graag die man wil hoor. Toe antwoord hy: Môre sal u hom hoor.
23 Op die volgende dag het Agríppa en Berníce toe met prag en praal gekom en die gehoorsaal binnegetree saam met die owerstes oor duisend en die aansienlikste manne van die stad; en op bevel van Festus is Paulus voorgebring.
24 Toe sê Festus: Koning Agríppa en manne wat almal hier saam met ons is, u sien hierdie man oor wie die hele menigte van die Jode my aangespreek het in Jerusalem en ook hier, en uitgeroep het dat hy nie langer behoort te lewe nie.
25 Maar omdat ek gevind het dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie, en hy self ook hom op die keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.
26 Maar ek kan niks sekers oor hom aan my heer skrywe nie; daarom het ek hom voor u gebring en veral voor u, koning Agríppa, sodat ek ná die ondersoek iets kan skrywe.
27 Want dit lyk vir my onredelik om ‘n gevangene te stuur en nie die beskuldiginge teen hom aan te dui nie.




Hoofstuk 26

1 En Agríppa sê vir Paulus: Dit is jou vergun om vir jouself te spreek. Toe steek Paulus sy hand uit en verdedig homself:
2 Ek ag my gelukkig, koning Agríppa, dat ek my voor u vandag gaan verdedig in verband met alles waarvan ek deur die Jode beskuldig word,
3 veral omdat u bekend is met al die sedes en vraagstukke onder die Jode. Daarom versoek ek u om my geduldig aan te hoor.
4 My lewe dan van my jeug af, wat van die begin af deurgebring is onder my nasie in Jerusalem, ken al die Jode,
5 omdat hulle my van dié tyd af geken het, as hulle dit wil betuig, hoe ek volgens die strengste party van ons godsdiens as Fariseër geleef het.
6 En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat aan die vaders deur God gedoen is,
7 waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig.
8 Wat? Word dit by u as ongelooflik beskou dat God die dode opwek?
9 Wat my betref, ek het gemeen dat ek baie vyandige dinge teen die Naam van Jesus die Nasaréner moes doen.
10 Dit het ek ook in Jerusalem gedoen; en ek het baie van die heiliges in gevangenisse opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag verkry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee.
11 En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.
12 Toe ek dan daarvoor na Damaskus op reis was, met volmag en opdrag van die owerpriesters,
13 het ek, o koning, in die middel van die dag op die pad ‘n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son, wat my en my reisgenote omstraal het.
14 En toe ons almal op die grond val, hoor ek ‘n stem met my spreek en in die Hebreeuse taal sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.
15 Toe sê ek: Wie is U, Here? En Hy sê: Ek is Jesus wat jy vervolg.
16 Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ‘n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn,
17 terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur,
18 om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.
19 Daarom, koning Agríppa, was ek aan die hemelse gesig nie ongehoorsaam nie,
20 maar ek het eers aan die mense in Damaskus en in Jerusalem en in die hele land van Judéa en aan die heidene verkondig dat hulle tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die bekering pas.
21 Om hierdie rede het die Jode my in die tempel gevang en my probeer ombring.
22 Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie:
23 dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode, en ‘n lig aan die volk en die heidene sou verkondig.
24 Maar terwyl hy hom so verdedig, sê Festus met ‘n groot stem: Jy is kranksinnig, Paulus; die groot geleerdheid bring jou tot kranksinnigheid.
25 Maar hy sê: Ek is nie kranksinnig nie, hoogedele Festus, maar ek spreek woorde van waarheid en gesonde verstand.
26 Want die koning, met wie ek ook vrymoediglik spreek, weet van hierdie dinge; want ek glo nie dat aan hom iets van hierdie dinge onbekend is nie, want dit het nie in ‘n hoek gebeur nie.
27 Glo u die profete, koning Agríppa? Ek weet dat u glo.
28 En Agríppa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om ‘n Christen te word.
29 En Paulus sê: Ek sou wel God wil bid dat sowel byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so mag word soos ek is, buiten hierdie boeie.
30 En nadat Paulus dit gesê het, staan die koning op en die goewerneur en Berníce en die wat saam met hulle gesit het.
31 En toe hulle weggaan, praat hulle met mekaar en sê: Hierdie man doen niks wat die dood of die boeie verdien nie.
32 En Agríppa sê vir Festus: Hierdie man kon losgelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.




Hoofstuk 27

1 En toe daar besluit is dat ons moes wegvaar na Italië, het hulle Paulus en sommige ander gevangenes oorgegee aan ‘n hoofman oor honderd van die keiserlike leërafdeling, met die naam van Július.
2 En nadat ons in ‘n skip van Adramíttium gegaan het met die doel om by die aanlegplekke in Asië aan te gaan, het ons afgevaar, en Aristárchus van Macedónië, ‘n man van Thessaloníka, was saam met ons.
3 En die volgende dag het ons by Sidon aangekom. En Július het Paulus mensliewend behandel en hom toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang.
4 En daarvandaan het ons afgevaar en onderkant Ciprus verbygeseil, omdat die winde teen ons was.
5 Ons het daarop die see langs Cilícië en Pamfílië deurgevaar en by Mira in Licië aangekom.
6 En daar het die hoofman oor honderd ‘n skip van Alexandríë gevind wat na Italië vaar, en ons daarop laat oorklim.
7 En verskeie dae het ons langsaam gevaar en met moeite teenoor Cnidus gekom; en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Kreta langs gevaar, teenoor Salmóne.
8 En toe ons met moeite dit verbygeseil het, kom ons by ‘n plek wat genoem word Mooi Hawens, in die nabyheid waarvan die stad Laséa is.
9 En omdat ‘n geruime tyd verloop en die skeepvaart al gevaarlik geword het en die vastyd ook al verby was, het Paulus hulle gewaarsku
10 en gesê: Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe.
11 Maar die hoofman oor honderd het meer aan die stuurman en die eienaar van die skip geglo as aan die woorde van Paulus;
12 en omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moontlik Fenix te bereik om te oorwinter, ‘n hawe in Kreta wat ooplê na die suidweste en na die noordweste.
13 En toe die suidewind saggies waai, het hulle gedink dat hulle hul voorneme kon uitvoer en die ankers gelig en langs Kreta verbygeseil.
14 Maar nie lank daarna nie het ‘n stormwind wat Euroklídon genoem word, daarvandaan neergeslaan.
15 En toe die skip meegesleep is en nie teen die wind op kon seil nie, het ons dit opgegee en weggedrywe.
16 En toe ons onderkant ‘n eilandjie kom wat Clauda genoem word, kon ons met moeite die sleepbootjie onder beheer hou.
17 En nadat hulle dit opgetrek het, het hulle gebruik gemaak van hulpmiddels deur die skip onderom te gord; en omdat hulle bang was om op die Sirtis te lande te kom, het hulle die seile neergehaal; en so het hulle dan weggedrywe.
18 En terwyl ons geweldig deur die storm geteister is, het hulle op die volgende dag van die vrag uitgegooi;
19 en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi.
20 En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en ‘n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem.
21 En nadat hulle lank sonder ete was, het Paulus in hul midde opgestaan en gesê: Manne, julle moes na my geluister en nie van Kreta afgevaar het nie en julle so hierdie ramp en skade bespaar het.
22 Maar nou vermaan ek julle om moed te hou, want daar sal hoegenaamd geen verlies van lewe onder julle wees nie, maar alleen van die skip.
23 Want daar het in hierdie nag by my gestaan ‘n engel van die God aan wie ek behoort, wat ek ook dien.
24 En hy het gesê: Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar.
25 Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is.
26 Maar ons moet op ‘n sekere eiland strand.
27 En toe die veertiende nag kom, terwyl ons nog in die Adriatiese See ronddrywe, het die matrose omtrent middernag vermoed dat hulle naby land kom.
28 Daarop gooi hulle die dieplood uit en kry twintig vaam; en nadat hulle ‘n bietjie verder gegaan het, gooi hulle die dieplood uit en kry vyftien vaam.
29 En omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle van die agterskip vier ankers uitgegooi en gewens dat dit dag word.
30 Maar die matrose het probeer om uit die skip te vlug en die sleepbootjie in die see laat sak onder die voorwendsel dat hulle ankers van die voorskip af wou uitgooi.
31 Toe sê Paulus vir die hoofman oor honderd en die soldate: As hierdie manne nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.
32 Daarop het die soldate die toue van die sleepbootjie afgekap en hom laat afval.
33 En teen die tyd dat dit dag sou word, het Paulus almal aangemoedig om voedsel te gebruik en gesê: Dit is vandag die veertiende dag dat julle in afwagting bly vas sonder om iets te gebruik.
34 Daarom raai ek julle aan om voedsel te neem, want dit dien tot julle behoud; want van niemand onder julle sal ‘n haar van sy hoof val nie.
35 Toe hy dit gesê het, neem hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet.
36 En hulle het almal moed geskep en self ook voedsel geneem.
37 En ons was in die skip altesaam twee honderd ses en sewentig siele.
38 En nadat hulle met voedsel versadig was, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi.
39 En toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie; maar hulle het ‘n inham met ‘n strand bemerk, waarop hulle van plan was om die skip te laat loop as hulle kon.
40 En hulle het die ankers afgekap en in die see laat lê en tegelykertyd die roertoue losgemaak. En hulle het die voorseil teen die wind opgetrek en op die strand aangestuur.
41 En hulle het op ‘n plek verval met die see aan weerskante en die skip laat strand; en die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit, maar die agterskip is deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan.
42 Nou was dit die plan van die soldate om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon uitswem en ontsnap nie.
43 Maar die hoofman oor honderd wou Paulus red en het hulle verhinder in hulle voorneme en bevel gegee dat die wat kon swem, eerste in die see moes spring om aan land te kom,
44 en die ander, sommige op planke en sommige op stukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.




Hoofstuk 28

1 En eers toe ons gered was, het ons te wete gekom dat die eiland Melíte genoem word.
2 En die inboorlinge het ons buitengewone mensliewendheid bewys, want hulle het ‘n groot vuur aangesteek en ons almal daarby gebring weens die reën wat gedreig het en weens die koue.
3 En Paulus het ‘n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en ‘n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt.
4 En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis ‘n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered.
5 Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie.
6 En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy ‘n god was.
7 Nou het die hoof van die eiland, wie se naam Públius was, in die omgewing van daardie plek ‘n stuk grond gehad, en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik geherberg.
8 En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.
9 En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees.
10 En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien.
11 En ná drie maande het ons afgevaar in ‘n skip van Alexandríë met die skeepsmerk Castor en Pollux, wat op die eiland oorwinter het.
12 En ons het by Sirakúse gekom en daar drie dae gebly.
13 Daarvandaan het ons omgeseil en by Régium aangekom en een dag later het die suidewind opgekom, en op die tweede het ons Putéoli bereik,
14 waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly; en so het ons na Rome gegaan.
15 En die broeders wat van ons lotgevalle gehoor het, het ons daarvandaan tegemoetgekom tot by die Appius-mark en die Drie Herberge; en toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed gevat.
16 En nadat ons in Rome gekom het, het die hoofman oor honderd die gevangenes oorgelewer aan die bevelhebber van die leër. Maar aan Paulus is dit vergun om op sy eie te woon met die soldaat wat hom moes oppas.
17 En ná drie dae het Paulus die vernaamste Jode saamgeroep en, nadat hulle vergader het, vir hulle gesê: Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine.
18 Hulle het my ondersoek en wou my loslaat, omdat daar in my niks was wat die dood verdien nie.
19 Maar toe die Jode daarteen opkom, was ek verplig om my op die keiser te beroep, nie asof ek iets het om my volk van te beskuldig nie.
20 Om hierdie rede dan het ek versoek om u te sien en toe te spreek, want dit is oor die hoop van Israel dat ek met hierdie ketting geboei is.
21 En hulle het vir hom gesê: Ons het geen briewe oor u van Judéa ontvang nie; ook het niemand van die broeders hier aangekom en iets slegs van u berig of gepraat nie.
22 Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.
23 En hulle het vir hom ‘n dag bepaal, en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in ‘n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus.
24 En sommige het geglo wat gesê is, maar ander het ongelowig gebly.
25 En toe hulle onder mekaar onenig was, het hulle uiteengegaan nadat Paulus hierdie woord gesê het, naamlik: Tereg het die Heilige Gees deur Jesaja, die profeet, tot ons vaders gespreek
26 en gesê: Gaan na hierdie volk en sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
27 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.
28 Laat dit dan aan julle bekend wees dat die heil van God aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister.
29 En toe hy dit gesê het, het die Jode, onder groot woordestryd met mekaar, weggegaan.
30 En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het,
31 terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het aangaande die Here Jesus Christus, met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering.