1 Korintiërs - 1 Corinthians

Hoofstuk: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16


-Reset+

Hoofstuk 1

1 Paulus, ‘n geroepe apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Sósthenes,
2 aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:
3 Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!
4 Ek dank my God altyd oor julle vir die genade van God wat aan julle in Christus Jesus gegee is,
5 dat julle in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en alle kennis;
6 soos die getuienis aangaande Christus bevestig is onder julle,
7 sodat julle in geen enkele genadegawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus,
8 wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees.
9 God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.
10 Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.
11 Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is.
12 Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus.
13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?
14 Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus,
15 sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie.
16 Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie.
17 Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie.
18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
19 want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.
20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?
21 Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;
22 want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid,
23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;
24 maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.
25 Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.
26 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;
27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;
28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,
29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.
31 Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.




Hoofstuk 2

1 En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie,
2 want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.
3 Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing;
4 en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag,
5 sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.
6 Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie.
7 Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid,
8 wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie—
9 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.
10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.
11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.
12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.
13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.
16 Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.




Hoofstuk 3

1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,
3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?
4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie?
5 Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het.
6 Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.
7 So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.
8 Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang.
9 Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.
10 Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ‘n bekwame boumeester die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.
18 Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word;
19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang;
20 en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is.
21 Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;
22 of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;
23 maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.




Hoofstuk 4

1 So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God.
2 En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word.
3 Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie,
4 want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.
5 Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.
6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
7 Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?
8 Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!
9 Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het ‘n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense.
10 Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus. Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer.
11 Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond,
12 en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit;
13 word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.
14 Ek skrywe hierdie dinge nie om julle te beskaam nie, maar ek vermaan julle as my geliefde kinders.
15 Want al sou julle tien duisend tugmeesters in Christus hê, dan het julle tog nie baie vaders nie; want in Christus Jesus het ek julle vader geword deur die evangelie.
16 Ek vermaan julle dan, word my navolgers.
17 Daarom het ek Timótheüs, wat my geliefde en getroue seun in die Here is, na julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer.
18 Maar sommige het opgeblase geword, asof ek nie na julle sou kom nie;
19 tog sal ek gou na julle kom, as die Here wil, en dan sal ek te wete kom, nie die woorde van die wat opgeblase is nie, maar hulle krag;
20 want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.
21 Wat wil julle hê? Moet ek met die roede na julle kom of met liefde en in die gees van sagmoedigheid?




Hoofstuk 5

1 ‘n Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.
2 En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.
3 Want wat my betref, het ek, liggaamlik afwesig maar in die gees teenwoordig, alreeds besluit asof ek teenwoordig was, om hom wat so iets gedoen het,
4 in die Naam van onse Here Jesus Christus, as julle vergader het en my gees saam met die krag van onse Here Jesus Christus—
5 om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.
6 Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?
7 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.
8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.
9 Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie—
10 dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan—
11 maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.
12 Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie?
13 Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.




Hoofstuk 6

1 Durf iemand van julle wat ‘n saak teen ‘n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie?
2 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake?
3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
4 As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word.
5 Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie?
6 Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank, en dit voor ongelowiges?
7 Dan is dit al werklik ‘n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?
8 Maar julle doen onreg en pleeg roof, en dit aan broeders.
9 Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?
10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.
11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.
12 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.
13 Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam.
14 En God het ook die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag.
15 Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ‘n hoer maak? Nee, stellig nie!
16 Of weet julle nie dat hy wat ‘n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees.
17 Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom.
18 Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ‘n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf sondig teen sy eie liggaam.
19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?
20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.




Hoofstuk 7

1 Met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het—dit is goed vir ‘n man om ‘n vrou nie aan te raak nie.
2 Maar vanweë die hoererye moet elke man sy eie vrou hê, en elke vrou moet haar eie man hê.
3 Die man moet aan die vrou die verskuldigde welwillendheid bewys, en net so ook die vrou aan die man.
4 Die vrou het nie mag oor haar eie liggaam nie, maar die man; en net so ook het die man nie mag oor sy eie liggaam nie, maar die vrou.
5 Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ‘n tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.
6 Maar dit sê ek by wyse van toelating, nie by wyse van gebod nie.
7 Want ek wens dat alle mense soos ek was; maar elkeen het sy eie genadegawe van God, die een so en die ander weer anders.
8 Maar vir die ongetroudes en die weduwees sê ek, dit is vir hulle goed as hulle bly soos ek;
9 maar as hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.
10 En aan die getroudes beveel ek—nie ek nie, maar die Here—dat die vrou nie van die man moet skei nie;
11 en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie.
12 Maar vir die ander sê ek—nie die Here nie—as enige broeder ‘n ongelowige vrou het en sy dit goedvind om met hom saam te lewe, moet hy haar nie verstoot nie;
13 en as ‘n vrou ‘n ongelowige man het, en hy dit goedvind om met haar saam te lewe, moet sy hom nie verstoot nie.
14 Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.
15 Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.
16 Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?
17 Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes.
18 Is iemand as ‘n besnedene geroep—hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep—hy moet hom nie laat besny nie.
19 Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God.
20 Laat elkeen in die roeping bly waarin hy geroep is.
21 Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van.
22 Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus.
23 Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.
24 Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God.
25 In verband met die maagde het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my mening as iemand wat deur die barmhartigheid van die Here betroubaar is.
26 Ek meen dat dit goed is vanweë die aanstaande nood—dat dit goed is vir ‘n mens om so te bly.
27 Is jy aan ‘n vrou verbonde, moenie losmaking soek nie; is jy los van ‘n vrou, moenie ‘n vrou soek nie.
28 Maar as jy tog trou, sondig jy nie; en as ‘n maagd trou, sondig sy nie. Maar sulke mense sal verdrukking hê vir die vlees, en ek wil julle spaar.
29 Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie;
30 en die wat ween, asof hulle nie ween nie; en die wat bly is, asof hulle nie bly is nie; en die wat koop, asof hulle nie besit nie;
31 en die wat hierdie wêreld gebruik, asof hulle dit nie ten volle gebruik nie; want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby.
32 En ek wil hê dat julle onbesorg moet wees. Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here sal behaag,
33 maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy die vrou sal behaag.
34 Daar is ook onderskeid tussen ‘n vrou en ‘n maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy die man sal behaag.
35 Ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om julle van jul vryheid te beroof nie, maar met die oog op ‘n welvoeglike en onafgebroke toewyding aan die Here.
36 Maar as iemand meen dat hy onwelvoeglik met sy maagd handel as sy oor die jeugdige leeftyd is, en dit so moet wees, laat hom doen wat hy wil. Hy sondig nie. Laat hulle trou.
37 Maar hy wat in sy hart vasstaan en nie onder dwang verkeer nie, maar mag het oor sy eie wil en dit in sy eie hart besluit het om sy maagd te bewaar, hy doen goed.
38 Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter.
39 ‘n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here.
40 Sy is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.




Hoofstuk 8

1 En met betrekking tot die offervleis aan die afgode weet ons dat ons almal kennis het. Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig.
2 As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie.
3 Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.
4 Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.
5 Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—
6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
7 Die kennis is egter nie in almal nie; maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as ‘n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel.
8 Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie; want as ons eet, het ons geen oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie.
9 Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien ‘n struikelblok word vir die wat swak is nie.
10 Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in ‘n afgodstempel, sal sy gewete, as hy ‘n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie?
11 En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis?
12 Maar deur so teen die broeders te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te maak, sondig julle teen Christus.
13 Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.




Hoofstuk 9

1 Is ek nie ‘n apostel nie? Is ek nie vry nie? Het ek nie Jesus Christus, onse Here, gesien nie? Is julle nie my werk in die Here nie?
2 As ek vir ander geen apostel is nie, is ek dit tog seker vir julle, want julle is die seël op my apostelskap in die Here.
3 My verantwoording aan die wat my beskuldig, is dít:
4 Het ons dan geen vryheid om te eet en te drink nie?
5 Het ons dan geen reg om ‘n suster as vrou met ons rond te neem net soos die ander apostels en die broers van die Here en Céfas nie?
6 Of het net ek en Barnabas geen reg om die hande-arbeid na te laat nie?
7 Wie dien ooit as soldaat op eie koste? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrug nie? Of wie pas ‘n kudde op en geniet nie van die melk van die kudde nie?
8 Sê ek dit miskien menslikerwys, of sê die wet dit nie ook nie?
9 Want in die wet van Moses is geskrywe: ‘n Os wat graan dors, mag jy nie muilband nie. Is dit miskien oor die osse dat God Hom bekommer?
10 Of spreek Hy inderdaad om ons ontwil? Ja, want om ons ontwil is dit geskrywe, omdat hy wat ploeg, op hoop moet ploeg; en hy wat dors, op hoop om wat hy hoop, deelagtig te word.
11 As ons vir julle die geestelike gesaai het, is dit ‘n groot saak as ons julle stoflike goed maai?
12 As ander deel het aan die reg op julle diens, het ons nie nog meer nie? Ons het ewenwel nie gebruik gemaak van hierdie reg nie, maar ons verdra alles om geen hindernis vir die evangelie van Christus te veroorsaak nie.
13 Weet julle nie dat die wat met die heilige dinge werk, uit die heiligdom eet nie; en dat die wat by die altaar besig is, met die altaar deel nie?
14 So het die Here ook vir die wat die evangelie verkondig, bepaal dat hulle van die evangelie moet lewe.
15 Maar ék het van geeneen van hierdie dinge gebruik gemaak nie. En ek skryf dít nie met die bedoeling dat dit so met my moet wees nie, want dit sou vir my beter wees om te sterwe as dat iemand my roem sou verydel.
16 Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!
17 Want as ek dit vrywillig doen, het ek loon; maar as ek dit onwillig doen, is ‘n rentmeesterskap aan my toevertrou.
18 Watter loon het ek dan? Dat as ek die evangelie verkondig, ek die evangelie van Christus kosteloos bring, om nie van my reg in die evangelie ten volle gebruik te maak nie.
19 Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win.
20 Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win.
21 Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win;
22 vir die swakkes het ek soos ‘n swakke geword om die swakke te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red.
23 En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ‘n deelgenoot daarvan kan word.
24 Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.
25 En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike.
26 Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie.
27 Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.




Hoofstuk 10

1 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het,
2 en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see,
3 en almal dieselfde geestelike spys geëet het,
4 en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.
5 Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.
6 En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie.
7 En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel.
8 En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval.
9 En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom.
10 En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.
11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
12 Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
13 Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.
14 Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens.
15 Ek spreek soos met verstandige mense; oordeel self wat ek sê:
16 die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?
17 Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.
18 Let op Israel na die vlees: het die wat die offers eet, nie gemeenskap met die altaar nie?
19 Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is?
20 Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie.
21 Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.
22 Of wil ons die ywer van die Here opwek? Is ons miskien sterker as Hy?
23 Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar nie alles stig nie.
24 Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander.
25 Eet alles wat in die slaghuis verkoop word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete.
26 Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.
27 En as een van die ongelowiges julle nooi en julle is gewillig om te gaan, eet dan alles wat julle voorgesit word sonder om navraag te doen, ter wille van die gewete.
28 Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer—moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete—want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan—
29 ek bedoel die gewete, nie van jouself nie, maar van die ander; want waarom word my vryheid geoordeel deur ‘n ander se gewete?
30 En as ek iets met danksegging geniet, waarom word ek belaster oor iets waarvoor ek dank?
31 Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.
32 Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie;
33 net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word.




Hoofstuk 11

1 Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.
2 En ek prys julle, broeders, dat julle in alles aan my dink en aan die leringe vashou soos ek dit aan julle oorgelewer het.
3 Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.
4 Elke man wat bid of profeteer met iets op sy hoof, doen sy hoof oneer aan;
5 maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan; want dit is een en dieselfde asof haar hoof geskeer is.
6 Want as ‘n vrou se hoof nie bedek is nie, laat sy dan ook haar hare afsny; maar as dit vir ‘n vrou lelik is om haar hare af te sny of te skeer, laat sy haar hoof bedek.
7 Want ‘n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man.
8 Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man.
9 Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.
10 Daarom moet die vrou ‘n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.
11 En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie.
12 Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God.
13 Oordeel self: Is dit betaamlik dat ‘n vrou met onbedekte hoof tot God bid?
14 Of leer ook die natuur self julle nie dat as ‘n man lang hare dra, dit vir hom ‘n oneer is nie;
15 maar as ‘n vrou lang hare dra, dit vir haar ‘n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ‘n bedekking?
16 Maar as iemand meen om twisgierig te wees, ons het nie so ‘n gewoonte nie, en ook die gemeentes van God nie.
17 Maar terwyl ek dit beveel, kan ek dit nie prys nie dat julle saamkom, nie ten goede nie maar ten kwade.
18 Want in die eerste plek hoor ek dat, as julle saamkom in die gemeente, daar skeuringe onder julle is, en gedeeltelik glo ek dit.
19 Want daar moet ook partyskappe onder julle wees, sodat die beproefdes onder julle openbaar kan word.
20 As julle dus saamkom, dan wil dit nie sê dat julle die nagmaal van die Here eet nie.
21 Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk.
22 Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.
23 Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het;
24 en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.
25 Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.
26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
27 Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.
28 Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.
29 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.
30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.
31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie.
32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.
33 Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar;
34 en as iemand honger het, laat hom by die huis eet, sodat julle nie tot ‘n oordeel saamkom nie. Die ander sake sal ek reël wanneer ek kom.




Hoofstuk 12

1 En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie.
2 Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is.
3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.
4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;
5 en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;
6 en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.
7 Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.
8 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
9 aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
10 aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale.
11 Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
12 Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus.
13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
14 Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie.
15 As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?
16 En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?
17 As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees?
18 Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het.
19 As almal een lid was, waar sou die liggaam wees?
20 Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.
21 En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.
22 Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk;
23 en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid,
24 terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee,
25 sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.
26 En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.
27 Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.
28 En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.
29 Almal is tog nie apostels nie, almal is tog nie profete nie, almal is tog nie leraars nie, almal is tog nie kragte nie?
30 Het almal genadegawes van gesondmaking, spreek almal in tale, kan almal dit uitlê?
31 Maar beywer julle met die oog op die beste gawes; en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg.




Hoofstuk 13

1 Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword.
2 En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.
3 En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.
4 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie,
5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie,
6 is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.
7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
8 Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.
9 Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.
10 Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.
11 Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê.
12 Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.
13 En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.




Hoofstuk 14

1 Jaag die liefde na, en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer.
2 Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.
3 Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging.
4 Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.
5 Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang.
6 Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur ‘n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie?
7 Net soos met lewelose dinge wat ‘n klank gee, ‘n fluit of ‘n siter, as hulle nie ‘n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal ‘n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word?
8 Want as die basuin ook ‘n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog?
9 Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ‘n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.
10 Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie.
11 As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ‘n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ‘n vreemdeling wees.
12 So moet julle ook, terwyl julle streef na geestelike gawes, probeer om uit te munt tot stigting van die gemeente.
13 Daarom moet hy wat in ‘n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê.
14 Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar.
15 Hoe staan die saak dan? Ek sal met die gees bid, maar ek sal ook met die verstand bid. Ek sal met die gees psalmsing, maar ek sal ook met die verstand psalmsing.
16 Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van ‘n onkundige inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie?
17 Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.
18 Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal;
19 maar in die gemeente wil ek liewer vyf woorde met my verstand spreek om ook ander te onderrig, as tien duisend woorde in ‘n taal.
20 Broeders, moenie kinders wees in die verstand nie, maar wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand.
21 In die wet is geskrywe: Ek sal deur mense van ander tale en deur ander lippe tot hierdie volk spreek, en ook so sal hulle na My nie luister nie, sê die Here.
22 Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges; die profesie egter is nie vir die ongelowiges nie, maar vir die gelowiges.
23 As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?
24 Maar as almal profeteer en daar ‘n ongelowige of ‘n onkundige binnekom, dan word hy deur almal oortuig, deur almal beoordeel;
25 en so kom die geheime van sy hart aan die lig. En so sal hy op sy aangesig val, God aanbid, en verkondig dat God werklik onder julle is.
26 Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ‘n psalm of ‘n lering of ‘n taal of ‘n openbaring of ‘n uitlegging—laat alles tot stigting geskied.
27 En as iemand in ‘n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê.
28 Maar as daar geen uitlêer is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.
29 Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.
30 Maar as daar iets geopenbaar is aan ‘n ander wat daar sit, laat die eerste swyg.
31 Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word.
32 En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe;
33 want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.
34 Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.
35 Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.
36 Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?
37 As iemand meen dat hy ‘n profeet of ‘n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is.
38 Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly.
39 Daarom, broeders, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie.
40 Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.




Hoofstuk 15

1 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,
2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.
3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
5 en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf.
6 Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.
7 Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels;
8 en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.
9 Want ek is die geringste van die apostels, wat nie werd is om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het.
10 Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.
11 Of dit nou ek of hulle is, so preek ons en so het julle geglo.
12 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?
13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.
14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;
15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.
16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;
17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;
18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.
19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.
20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
21 Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens.
22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;
23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.
24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.
25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.
26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.
27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.
28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
29 Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop?
30 Waarom is ons ook elke uur in gevaar?
31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.
32 As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!
33 Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.
34 Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.
35 Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle?
36 Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie.
37 En wat jy saai—jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders.
38 Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam.
39 Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls.
40 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse.
41 Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster.
42 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid;
43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.
44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.
45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.
47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.
48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.
49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
51 Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word,
52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.
53 Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.
54 En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
55 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
56 Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.
57 Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.
58 Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.




Hoofstuk 16

1 Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.
2 Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.
3 En wanneer ek aangekom het, sal ek die persone wat julle goedkeur, met briewe stuur om julle gawe na Jerusalem te bring.
4 En as dit die moeite werd is dat ek ook gaan, kan hulle saam met my reis.
5 Maar ek sal na julle kom nadat ek deur Macedónië gereis het, want ek gaan deur Macedónië.
6 En moontlik sal ek by julle vertoef of ook oorwinter, sodat julle my kan voorthelp waarheen ek ook al mag reis.
7 Want ek wil julle nie nou net in die verbygaan sien nie, maar ek hoop om ‘n tyd lank by julle te bly as die Here dit toelaat.
8 Maar ek sal in Éfese bly tot pinkster toe.
9 Want ‘n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders.
10 En as Timótheüs kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek.
11 Laat niemand hom dan minag nie, maar help hom verder in vrede, dat hy na my toe kan kom; want ek wag vir hom saam met die broeders.
12 Met betrekking tot die broeder Apollos, by hom het ek sterk aangedring om saam met die broeders na julle te gaan; maar hy was heeltemal onwillig om nou te gaan; hy sal egter gaan wanneer die tyd vir hom geleë is.
13 Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.
14 Laat alles by julle in liefde geskied.
15 En ek versoek julle, broeders—julle weet dat die huisgesin van Stéfanas die eersteling van Acháje is en dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel het—
16 dat julle ook onderworpe moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saamwerk en arbei.
17 En ek verbly my oor die aankoms van Stéfanas en Fortunátus en Acháïcus, omdat hulle my gemis aan julle vergoed het.
18 Want hulle het my gees verkwik en julle s’n ook. Erken sulke manne dan.
19 Die gemeentes van Asië groet julle. Aquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here.
20 Al die broeders groet julle. Groet mekaar met ‘n heilige kus.
21 Die groete van Paulus, met my eie hand.
22 As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ‘n vervloeking wees! Maranáta!
23 Die genade van die Here Jesus Christus sy met julle!
24 My liefde met julle almal in Christus Jesus! Amen.